اصلی Liewe Heksie se groot omnibus (Afrikaans Edition)

Liewe Heksie se groot omnibus (Afrikaans Edition)

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟
کال:
2016
خپرندویه اداره:
Human & Rousseau
ژبه:
afrikaans
ISBN:
B01IDJUFSQ
فایل:
کاپی کول (epub, 334 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie2705
het1419
haar1078
ons1062
hulle1049
vir1035
maar1019
wat919
toe904
van726
gaan722
dit705
kan679
sal624
nou604
kom598
moet575
dis556
vra508
jou482
wil452
net432
lag426
weet398
sien384
baie344
dan333
kyk329
daar323
maak318
weer313
aan308
ook294
hom289
haai258
dat255
nog250
wees244
dink243
uit234
hoe234
hier232
bly217
soos216
voor207
kry205
hou193
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Doctor Faustus

کال:
1948
ژبه:
english
فایل:
0 / 0
2

A Lady's Formula for Love

کال:
2021
ژبه:
english
فایل:
0 / 0
Liewe Heksie se groot omnibus



Verna Vels



Geïllustreer deur

Vian Oelofsen



Human & Rousseau





Voorwoord




Dit kan van min mense gesê word dat hulle vir meer as veertig jaar ’n vormende invloed gehad het op ’n taal se lesers. Verna Vels (1933-2014) het Afrikaanssprekende kinders deur haar radioprogramme, boeke en televisiewerk bekoor en die wonderlike wêreld van die verbeelding leer ontgin. Dit is veral die Liewe Heksie-boeke, wat die eerste keer in 1965 met illustrasies deur Dorothy Hill verskyn het, wat gehelp het om baie kinders die genot van lees en boeke te laat ontdek.

Verna Barbara Robertson Vels is op 13 Junie 1933 op Reitz in die Vrystaat gebore as die oudste kind van Vernon en Minnie Vels. Haar broer is elf jaar jonger as sy en sy glo dat haar klein boetie dalk die latere inspirasie agter haar kinderprogramme en ook Liewe Heksie was. Sy het as kind reeds “grootmensboeke” in Afrikaans en Engels gelees en was toe al gefassineer deur die radio. Haar loopbaan begin as joernalis en programassistent-plateprogram-opsteller. Op 1 Desember 1954 begin sy werk by die SAUK in Durban en sy het van die begin af geweet: dit is waar sy hoort. En as aanbieder van kinderprogramme het sy as boorling van Reitz in die voetspore van ander Reitz-vroue soos Una Fischer en Monica Breed gevolg.

In 1973 word sy aangestel as organiseerder van die Afrikaanse Programdiens in Natal – die eerste vrou wat so ’n pos beklee het. In 1974 is Verna terug in Johannesburg en begin sy help om voor te berei vir die koms van televisie na Suid-Afrika – as organiseerder van Afrikaanse joernaalprogramme met inbegrip van kinder- en jeugprogramme. In Februarie 1983 word sy die Programdirekteur: TV1 (Afrikaans), die hoogste pos wat ’n vrou tot in daardie jare beklee het. In 1993 tree sy uit na ’n loopbaan van amper 39 jaar in die uitsaaidiens.

Programme soos Kraaines en Liewe Heksie was haar breinkinders en sy was ook die stem van Bennie Boekwurm in die kinderprogram Wielie Walie waaraan sy saam met Louise Smit gewerk het. Ver; na was baie trots op die kwaliteit van die kinder- en jeugprogramme wat hulle destyds aangebied het.

Verna se bekendste skepping, Liewe Heksie, het haar debuut in 1961 gemaak in die Siembamba-programme van die SAUK wat in daardie jare deur Bessie Mentz uit Grahamstad aangebied is. In die stories wat toe uitgesaai is, was Blommie Kabouter die hoofkarakter en Heksie die een wat hom telkens van die wal in die sloot gehelp het. Die eerste verhaal was dan ook “Blommie Kabouter en die heks wat vergeet het”.

Verna was as kind baie bang vir Sneeuwitjie se heks en sy het toe sy ouer was, gewonder oor so ’n dierbare, dommerige, sagte heksie en so is Liewe Heksie gebore. Richard Strauss se opera Der Rosenkavalier was die inspirasie vir Blommeland en die Silwer Roos.

Ná die radio is die eerste Liewe Heksie-boeke in 1965 gepubliseer en daarna was sy ook in omnibusse, langspeelplate en CD’s, totdat die karakter in 1978 op televisie verskyn het. Om tred te hou met die tegnologiese era waarin ons lewe, is Liewe Heksie en die rekenaar in 1999 uitgegee met illustrasies deur Piet Grobler. Sy het ook op groot verhoë opgetree in dramas wat Verna spesiaal vir die verhoog geskryf het. In 2015, kort na Verna se dood, is die Liewe Heksie-stories vir die eerste keer in volkleur uitgegee in die Liewe Heksie Leesboek-reeks. Vian Oelofsen se moderne interpretasie van Heksie en al die karakters van Blommeland sorg dat hierdie klassieke verhale ook ’n nuwe generasie kinders bekoor.

Verna het verskeie toekennings gedurende haar loopbaan ontvang: Liewe Heksie het aan haar ’n literatuurprys van die Rapportryers en van die ATKV-Dames besorg. Kultuurtoekennings van Dames Aktueel en die FAK het gevolg en in 1994 het sy ’n Artes van die SAUK, asook ’n oorkonde van die ATKV gekry. Van haar alma mater, UP, ontvang sy in 2000 die Laureata-toekenning van Tuksalumni. Die Tienie Holloway-medalje vir kleuterlektuur het in 2000 na Verna se kant toe gekom en in 2002 ook die C. P. Hoogenhout-toekenning vir kinderliteratuur van Unisa. In 2005 ontvang sy ’n Afrikoon-toekenning van die ATKV. In 2011 is Verna by die kykNET Fiëstas vereer vir haar lewenslange bydrae tot die woordkuns. By 2013 se Woordfees op Stellenbosch is haar oeuvre in oënskou geneem.

Die stories vir die eerste Liewe Heksie-omnibus wat in 2002 vrygestel is, is bymekaargebring uit die hele reeks: naamlik, Liewe Heksie; Liewe Heksie kom weer; Liewe Heksie en Matewis; Liewe Heksie in die pekel; Liewe Heksie vang vis en Liewe Heksie gaan maan toe, wat almal in die sestiger- en sewentigerjare gepubliseer is en in 1983 gebundel is in Die groot Liewe Heksie-storieboek en Lekker Liewe Heksie-stories. Dan was daar nog die “laatlammetjies” Liewe Heksie en die rugbywedstryd wat in 1988 verskyn het en deur Nikki Jones geïllustreer is, en Liewe Heksie en die rekenaar wat in 1999 verskyn het en deur Piet Grobler geïllustreer is. Laasgenoemde is nie in die eerste omnibus opgeneem nie, maar word ook nou hier saam met die res in die nuwe groot versameling saamgevoeg.

Liewe Heksie se groot omnibus sluit dus al 41 oorspronklike Liewe Heksie-verhale in, met pragtige illustrasies deur Vian Oelofsen. Afgesien van ’n paar woord- en kronologie-aanpassings, is die stories inhoudelik onveranderd, soos hulle bykans veertig en vyftig jaar gelede daar uitgesien het.

Dit sal beslis vir die kleintjies, vir wie Verna Vels dit oorspronklik bedoel het, en vir die ouers wat daarmee grootgeword het, groot plesier verskaf.

Verna se strewe was altyd om leeslus by kinders aan te wakker en hierdie volledige omnibus beloof om haar wonderlike verhaalskat nog vir baie jare behoue te laat bly.


Met erkenning aan: Erika Terblanche





Liewe Heksie kry ’n verjaardag




Dis Blommie Kabouter se verjaardag. Al die kabouters van Blommeland is by sy partytjie. Daar is glase vol koeldrank, bakkies roomys, koekies en ander lekker eetgoed. Toe die kabouters klaar geëet het, kry elkeen ’n groot ballon om mee te speel. Daar is groen en geel en rooi en blou en oranje ballonne.

Blommie kyk hoe lekker sy maats met die ballonne speel, maar daar sien hy iemand wat nie saamspeel nie.

Dis Heksie, Blommeland se eie en enigste heksie.

Sy sit onder ’n groot boom met haar swart punthoed oor haar oë getrek, en haar ballon op haar skoot. Blommie weet Heksie is nie baie slim nie en sy vergeet maklik dinge. Hy wonder of sy dalk vergeet het om te speel.

Hy loop na haar toe en sê saggies: “Heksie.”

Heksie sê niks. Sy bly net so sit. Blommie dink sy slaap en lig haar hoed van haar gesig af. Hy kyk … en kyk weer. Ja, sowaar, daar is ’n traan op Heksie se wang.

“Heksie, wat makeer?” vra Blommie.

“Ek makeer niks, maar my hart is seer, Blommie,” sê Heksie en vee haar oë met haar jas se punt af.

“Maar hoekom is jy hartseer, Heksie? ’n Mens huil mos nie op ’n partytjie nie. Almal moet gelukkig wees.”

“Ek weet, maar ek is nie gelukkig nie,” sê Heksie en begin weer huil.





“Sal jy nie maar vir my sê wat makeer nie?” vra Blommie.

“Ja, Blommie, ek sal vir jou sê. Ek is hartseer omdat ek nog nooit eens ’n partytjie gehad het nie. Jy en al die kabouters hou partytjie wanneer julle verjaar. Net ek nie.”

“Maar Heksie, jy kan mos ook partytjie hou wanneer jy verjaar,” sê Blommie.

“O,” sê Heksie en krap haar kop.

Blommie dink so ’n bietjie en sê: “Maar weet jy, jy het nog nooit vir ons gesê wanneer jy verjaar nie.”

“Ja, ek wou nou net vir jou vra wanneer ek verjaar. Hè, Blommie, wanneer verjaar ek?” vra Heksie.

“Jý moet dit mos weet, Heksie. Ék kan nie vir jou sê wanneer jy verjaar nie.”

“O,” sê Heksie en dink so ’n bietjie. Naderhand sê sy: “Miskien verjaar ek nie, Blommie.”

“Natuurlik verjaar jy. Almal verjaar!” sê Blommie.

“Wanneer?” vra Heksie.

“Man, ’n mens verjaar wanneer … wanneer jy verjaar.”

“O,” sê Heksie en knik met haar kop asof sy alles van verjaardae weet. “Nou maar ek dink ek verjaar op die twee-en-veertigste dag van Aprilmaand.”

Blommie skater van die lag. “Heksie, jy kan nie dan verjaar nie, want daar is nie so ’n dag nie.”

Heksie begin weer huil toe Blommie vir haar lag. “Sien jy nou, daar is nie eens ’n dag vir my om op te verjaar nie.”

Blommie is dadelik jammer hy het vir Heksie gelag. “Toemaar, Heksie, moenie huil nie. Ek is seker daar is ’n dag vir jou om op te verjaar.”

“Daar is nie,” sê Heksie hartseer. “Niemand het nog ooit vir my gesê wanneer ek verjaar nie. As my ouma Levinia Heks dalk vir my gesê het, het ek dit al weer vergeet.”

Nou huil Heksie dat die trane loop. Blommie wil haar so graag beter laat voel en sê: “Heksie, kom ons soek vir jou ’n dag waarop jy kan verjaar!”

“Haai, Blommie, kan ons?” Heksie glimlag dat haar voortand, die enigste een wat sy het, uitsteek.

“Ja,” sê Blommie. “Ons kan seker. Elkeen moet tog ’n verjaardag hê. Kom ons sê jy verjaar op die 24ste dag van April!”

“Jipiee! Jipiee!” skreeu Heksie en waai haar ballon rond. “Ek het ook ’n verjaardag gekry! Ek gaan partytjie hou! Kom ons sê vir al die kabouters hulle moet na my partytjie toe kom!”

Voor Blommie nog iets kan sê, roep Heksie: “Kabouters, ek verjaar op die twee-en-veertigste, ag, die vier-en-dertigste, ag, die …”

“Vier-en-twintigste,” fluister Blommie.

“Die vier-en-twintigste dag van April. Julle moet dan almal na my partytjie toe kom!”

Die kabouters klap hande en belowe hulle sal kom.

“Sal hulle vir my ook presente bring soos vir jou, Blommie, of moet ek vir hulle vra?” fluister Heksie.

“Nee man, hulle sal bring! ’n Mens vra nie!” sê Blommie kwaai.

“O,” sê Heksie en steek haar vinger in haar mond omdat sy skaam is. “Ons sal vir Karel Kat ’n brief skryf en sê hy moet ook kom, nè, Blommie?”

“O ja!” sê Blommie, en net daardie aand skryf hulle vir Karel Kat, wat in die stad woon, ’n brief en sê hy moet na Heksie se verjaardagpartytjie toe kom.

Die tyd gaan gou verby en uiteindelik is dit Heksie se verjaardag. Heksie en Blommie gaan vroeg stad toe om vir Karel te gaan haal. Karel het ’n spoggerige hoed op sy kop en ’n strikdas om sy nek. Heksie en Blommie is baie bly om hulle ou vriend weer te sien.

Hulle sit nou almal op Heksie se stoep en wag dat die kabouters moet kom vir die partytjie. Blommie het sy splinternuwe groen klere aan en Heksie het haar toutjieshare, wat altyd so onder haar hoed uithang, in twee dun vlegsels gevleg en hulle met rooi strikkies vasgebind.

Sy voel of die strikkies nog vas is en vra vir Karel en Blommie: “Hou julle van my hare so, of moes ek dit liewer gekrul het?”

Karel wil net lag as hy dink hoe Heksie met krulhare sal lyk, maar hy sê: “Nee, my liewe Levinia, die vlegsels is baie mooi.”

“E … ja, pragtig,” sê Blommie.

“Ja, nou het jy én ek strikkies aan, nè, Karel?” En Heksie vat weer aan die vlegsel.

“Het jy die eetgoed gereed, Levinia?” vra Karel.

“Ja, alles is onder die boom op die tafel en ek deps die rooi koeldrank!” sê Heksie.

“Hm,” sê Karel en maak sy stem kwaai. “As iemand by jou kom kuier, moet hulle eerste kry en dan jy.”

“O,” sê Heksie. “En dié wat nie vir my ’n present bring nie? Hulle kan nie koeldrank kry nie, nè?”

“Heksie,” sê Blommie, “jy nooi mos nie iemand na jou partytjie net om presente te kry nie!”

“Hoekom vra ’n mens hulle dan?” vra Heksie.

“Wel … e … omdat jy hulle graag op jou partytjie wil hê,” sê Blommie.

“O,” sê Heksie. “Ek dink nie dis so lekker om partytjie te hou nie.”

“Kyk, Heksie,” sê Blommie skielik, “daar kom die kabouters al.”

“Haai, ja,” sê Heksie en spring op en hardloop na hulle toe.

Heksie was verniet bang sy kry nie presente nie. Elkeen het vir haar iets gebring; sakdoeke en kouse en lekker seep en ’n borsspeld en allerhande mooi goed.

Heksie is so opgewonde, sy maak sommer dadelik die presente oop. En as ’n kabouter dalk te skaam is om sy present vir haar te gee, vat sy dit by hom en sê: “Toemaar wat, ek vat dit sommer.”

Die kabouters kuier lekker en speel allerhande speletjies. Toe dit amper tyd is om huis toe te gaan, gaan staan Heksie op ’n klip en sê: “Kom julle, kom sit almal onder die boom dan drink ons roomys!”

“Jy bedoel, dan éét ons roomys, nè, Heksie?” lag Blommie.

“Nee, Blommie,” sê Heksie skaam. “Ek het vergeet om die roomys in die yskas te sit en toe smelt dit en nou moet ons dit maar drink.”

Die kabouters het nog nooit roomys gedrink nie en hulle wil dit proe.

Dadelik is Heksie nie meer skaam nie en sy gaan haal die koppies vol roomys. Hulle sit heerlik onder die boom en roomys drink, en toe sê Heksie: “Julle moet Saterdag weer kom, want ek verjaar dan weer.”

“Ha, ha,” lag Kwaaitjie die kwaai kabouter. “Jy kan nie so baie verjaar nie.”

“Is,” sê Heksie kwaai. “Ek kán weer verjaar as ek wil. Blommie, jy het mos self gesê ons kan vir my ’n verjaardag uitsoek en toe soek ons vandag uit. Maar nou is ek moeg vir vandag, nou soek ek weer Saterdag uit.”

“E … nee, Heksie, Kwaaitjie is reg,” sê Blommie. “Jy kan net een maal in ’n jaar verjaar, en elke jaar is driehonderd-vyf-en-sestig dae lank.”

“O,” sê Heksie, “nou op watter dag moet ek volgende jaar verjaar, hè, Blommie?”

“Weer op die vier-en-twintigste April, Heksie,” sê Blommie.

“Jy verjaar altyd op dieselfde dag,” sê Kwaaitjie.

“Nie ek nie,” sê Heksie en steek haar neus in die lug. “Ek weet nie wanneer ek verjaar nie, nou kan ek enige dag uitsoek!”

“Wat!” sê Kwaaitjie. “Wil jy sê jy verjaar nie vandag nie!”

“Nee,” sê Heksie en skud haar kop. “Ek en Blommie …”

Maar voor sy kan klaar praat, staan Kwaaitjie op. “Kabouters,” sê hy, “Heksie het vir ons gejok. Sy verjaar nie eens vandag nie en ons het almal vir haar presente gebring. Vat julle presente terug. Ons gaan huis toe.”

Party van die kabouters hardloop by Heksie se huis in om hulle presente te gaan haal.

“Ag nee, julle kan dit nie doen nie!” huil Heksie. “Ek het vandag gekies omdat ek nie weet wanneer ek verjaar nie.”

“Ja, en nou wil jy sommer elke week verjaar,” sê Kwaaitjie. “En waar het jy gesien jy weet nie wanneer jy verjaar nie? Jy’s ’n domkop.”

Die kabouters staan al klaar met hulle presente reg om huis toe te gaan. Heksie huil dat die trane rol, want sy weet nie wat om te doen nie. “Sien jy, Blommie, ek het vir jou gesê ek verjaar die twee-en-veertigste April. Maar jy wou nie luister nie.”

“Ag, Heksie,” sug Blommie, want hy weet ook nie wat om te sê nie.

Skielik sê Karel Kat met sy harde stem: “Kwaaitjie, jy sê Heksie is ’n domkop, maar ek kan sien jý is een, want jy weet niks van hekse nie. Het jy nie geweet hekse kan kies op watter dag hulle wil verjaar nie?”

“E … nee,” sê Kwaaitjie verleë.

“Haai!” sê Heksie.

“Ja, dit is so,” sê Karel. “As Heksie nie alles so maklik vergeet nie, sou sy onthou het haar ouma Levinia Heks het dit lankal vir haar vertel.”

“Haai, ja,” sê Heksie. “Ek kan nou onthou. Sy het vir my gesê: ‘My kind, hekse kies hulle eie verjaardae’. En nou het ek myne gekies.”

“Ja, maar net een,” sê Kwaaitjie.

“Nou goed dan, Kwaaitjie,” sê Heksie. “Ek sal net een maal in ’n jaar verjaar. Maar dan moet julle my presente teruggee.” Heksie boor met haar groottoon in die grond. Sy doen dit as sy skaam kry.

Die kabouters is nie regtig kwaad vir Heksie nie en hulle gee hulle presente terug.

Daardie aand toe almal weg is, en net Heksie en Blommie en Karel onder die groot boom sit, sug Heksie en sê: “Haai, Blommie, ek is darem bly ek het ’n verjaardag gekry, weet jy?”





Liewe Heksie en Blommie sing in die straat




Koning Rosekrans, die koning van Blommeland, het al sy kabouters bymekaargeroep. Almal sit op die groot grasperk voor sy paleis en wonder wat koning Rosekrans vir hulle wil sê. Hy laat hulle net roep as hy iets belangriks wil sê. Blommie en Heksie is ook daar. Hulle sit eenkant onder ’n groot ou wilgerboom.

“Blommie, wat dink jy wil koning Rosebaard vir ons sê? Dink jy hy is kwaad oor iets?” vra Heksie.

“Ag, waaroor sal hy kwaad wees?” vra Blommie. “Maar … e … hy sal kwaad wees as jy vir hom Rosebaard sê, Heksie. Onthou, sy naam is Rosekrans.”

“Haai, ja, Blommie, ek het ’n bietjie vergeet. Jy weet, ek weet nie altyd van name nie.”

Blommie wil nog iets sê, maar die koning staan al klaar op die grasperk tussen die kabouters. “Stilte!” roep hy. “Weet julle waarom ek julle hierheen laat kom het?”

“Haai, nee, koning Rosedoring, hoe sal ons weet as jy … e … Koning nie sê nie!” sê Heksie.

“Sjjt, Heksie,” maak Blommie haar stil.

“Ja, maar die koning sê dan …”

“Ja, ek wil sê waarom ek julle laat roep het,” sê die koning voor Heksie verder kan praat. “Blommeland moet ’n hospitaal kry.”

“Haai, koning Roseboom, wat’s dit? Wat is ’n hos … hostipaal?” vra Heksie.

Die kabouters lag en die koning ook. Maar hy sien Heksie trek haar hoed oor haar oë omdat sy skaam is en sê: “Heksie, dis ’n plek waarheen siek kabouters gaan om gesond te word.”

“Ag, ek word sommer vanself by my eie huis gesond,” sê Heksie. “Ek drink net ’n bietjie kosteralie … e … kasterboomolie … oliekasterb …”

“KASTEROLIE,” fluister Blommie en sy ore word bloedrooi toe die kabouters weer lag.

“Stilte!” sê koning Rosekrans met ’n kwaai stem. “Ja, Heksie, maar kasterolie kan nie ál die siektes gesond maak nie. Partykeer is die kabouters baie siek en dan moet hulle ’n plek hê waar hulle in ’n mooi wit bed kan lê en waar verpleegsters en dokters na hulle kan kyk.”

“Ek wil ’n verpleegster word!” sê Heksie opgewonde. “Dan lê ek in ’n mooi wit bed en dan …”

“LEVINIA HEKS, SAL JY NOU STILBLY? EK WIL KLAAR PRAAT!” raas die koning. Hy is nou baie kwaad.

“Ekskuus, koning Roseboom,” sê Heksie en laat haar kop sak.

“Toemaar, moenie huil nie,” sê die koning. “Jy kan ’n verpleegster word as jy wil, maar ons het nog nie eens ’n hospitaal nie. En Heksie, dis die siek kabouters wat in die beddens lê, nie die verpleegsters nie. Hulle moet die siek kabouters oppas.”

“O,” sê Heksie.

“Nou ja, om so ’n hospitaal te bou, moet ons geld hê en julle, die kabouters van Blommeland, moet help om die geld bymekaar te maak.”

“Haai, maar dit sal darem moeilik wees, Koning,” sê Blommie. “Waar gaan ons die geld kry?”

“Daaraan moet julle self dink,” sê koning Rosekrans. “Maar elkeen moet geld bring vir die hospitaal en die een wat die meeste bring, kry ’n prys. Ons sal later sê wat dit is. Oor veertien dae moet julle weer hier na my paleis toe kom en dan wil ek sien hoeveel geld ons bymekaargemaak het vir die hospitaal.”

Die koning gee niemand kans om verder te praat nie. Hy loop terug by sy paleis in en maak die deur toe.

Dié aand sit Blommie en Heksie op haar stoep en wonder wat hulle kan doen om geld te kry.

“Wat dink jy gaan die ander kabouters maak, hè, Blommie?” vra Heksie.

“Ek weet nie,” sug Blommie. “Party het gesê hulle gaan blomme verkoop en ander gaan in die mense se tuine bossies uittrek en ek weet nie wat nog nie. Ek wens ek het geweet wat ons gaan doen.” Blommie gee weer ’n lang sug.

“Ek weet!” skreeu Heksie skielik so hard dat Blommie byna van sy stoel afval.

“Wat, Heksie?” vra hy toe hy klaar geskrik het.

“Kom ons vat ’n blikkie en gaan staan op ’n straathoek in die stad en dan hou ons die blikkie dat mense geld daarin gooi. En dan sê ons: GELD VIR BLOMMELAND SE KABOUTERHOSPITAAL! GELD VIR BLOMMELAND SE KABOUTERHOSPITAAL! Toe, Blommie, laas toe ons by Karel Kat in die stad gekuier het, het ek gesien mense doen dit.”

“Haai, dis nogal ’n goeie plan, Heksie,” sê Blommie en klap hande, so bly is hy. “Jy’s darem maar slim, weet jy?”

“Ag, nie eintlik nie,” sê Heksie skaam, maar sy dink ook sy is slim.

Sommer die volgende oggend vat Heksie en Blommie ’n blikkie en gaan stad toe. Op ’n straathoek, waar baie mense verbyloop, gaan hulle staan. Heksie gooi vyf sent in die blikkie en begin dit rondskud sodat dit ’n lekker harde geraas maak. Sy en Blommie roep saam: “GELD VIR BLOMMELAND SE KABOUTERHOSPITAAL!”

’n Vrou gaan staan by hulle en gooi vyf rand in.

“Dankie, mevrou Antie,” sê Heksie.

“Hoekom sê jy so, Heksie?” vra Blommie. “Jy moet sê: ‘Dankie, Mevrou’, of ‘Dankie, Tannie’, nie al twee nie.”

“Party mense hou daarvan as jy Mevrou sê en ander hou daarvan as jy Antie sê, nou sê ek maar al twee,” sê Heksie. Nog iemand gooi vyf rand in, maar toe staan hulle lank sonder dat iemand geld in die blikkie gooi.

Blommie is naderhand moedeloos. “Ons sal nooit genoeg geld kry nie, Heksie. Die koning sal baie kwaad wees as ons net vyf rand bring. Jy kan nie eens ’n baksteen daarmee koop nie.”

“Wat wil ons met ’n baksteen maak?” vra Heksie.

“Jy bou mos huise en goed met bakstene.”

“Wat wil ons bou?” vra Heksie.

“Ons wil ’n hospitaal bou, Heksie. Hoe kan jy nog vra?”

“O ja, ek het nou net gewonder waarom ons hier staan,” sê Heksie. “Ek het ’n bietjie vergeet van die hospitaal. Maar ons het te min geld, hè, Blommie?”

“Ja,” sug Blommie.

Heksie krap haar kop en sê skielik hard, soos sy altyd maak as sy ’n plan kry. “Ek weet, Blommie, kom ons sing! Dan gooi die mense geld in ons blikkie omdat dit vir hulle mooi is.”

“Ons kan mos nie mooi sing nie, Heksie,” sê Blommie.

“Sies, jy weet ek kan mooi sing. Jy hou jou nou net snaaks. As jy skaam is om te sing, kan jy net so mmm … mmm … maak en ek sal die woorde sing. Toe, Blommie. Of dink jy dalk ek sing lelik?”

Blommie wil Heksie nie hartseer maak nie en sê: “Nou goed dan, kom ons sing. Maar wat?”

“Die liedjie van ‘My Liewe Kokkeheksietjie’,” sê Heksie.

“Dis eintlik ‘My Liewe Kokkenennetjie’,” sê Blommie.

“O,” sê Heksie. “Nou kom ons sing dit.”

“Goed,” sê Blommie en hy begin sing:


“Daar was eenmaal ’n wewenaar, so by die veertig jaar …”




“Nee, man, Blommie, jy moenie daar begin nie, jy moet begin by My liewe Kokkeheksietjie, my liewe Kokkeheksietjie, my liewe Kokkeheksietjie …”

“Dis Kokkenennetjie, Heksie, en jy moet ’n wysie sing,” sê Blommie.

“Maar ek sing mos ’n wysie,” sê Heksie en begin sing:


“My liewe Kokkenennetjie,



my liewe klein dingetjie,



almal het maats, net ekke nie.”




Maar sy sing alles op een noot. En toe Heksie klaar gesing het, begin die mense hande klap. Blommie en Heksie het nooit gesien ’n klomp mense het by hulle kom staan toe hulle so gestry het oor die lied nie.

Toe Heksie die mense hoor klap, buig sy ver vooroor, soos sy mense al by konserte sien doen het. Toe sy regop kom, skud sy die blikkie en sê: “Geld vir Blommeland se hospitaal!”

Dié keer gooi die mense meer geld in die blikkie. Party gooi glad twintig rand of meer in.

“Sien jy, Blommie, ek het mos gesê hulle sal geld gee as ons sing,” sê Heksie terwyl sy die blikkie aanhou skud.

“Toe, sing nog iets!” roep iemand.

“Goed, wat wil julle hoor?” vra Heksie.

“Heksie, jy kan dit nie vra nie, ons ken mos nie alles nie,” sê Blommie benoud.

“Kom ons sing dan gou ‘Oom Bossie van die Bosveld’,” fluister Heksie, en Blommie begin sommer sing:


“Oom Bossie van die Bosveld, Bosveld, Bosveld.



Oom Bossie van die Bosveld, met sy stokkiesbaard!”




Die mense klap hande en roep: “Nou is dit Heksie se beurt!”

Heksie gaan staan mooi regop, skuif haar swart punthoed reg, vou haar hande oor haar maag, maak haar keel skoon en wag tot almal doodstil is. Toe sing sy ook “Oom Bossie van die Bosveld”, maar sy sing weer alles so op een noot, soos altyd.

Toe sy klaar is, klap die mense hande en gooi so vinnig geld dat Heksie en Blommie moet spring om die geld op te tel wat die blikkie mis val.

Daardie aand het Heksie en Blommie sommer al baie geld vir Blommeland se hospitaal. Die volgende dag en die volgende dag en elke dag vir veertien dae sing hulle daar op die straathoek. En elke dag gee die mense vir hulle geld vir die hospitaal.





Toe kom die dag waarop al die kabouters weer by koning Rosekrans se paleis bymekaar moet kom om vir die koning die geld te gee wat hulle bymekaargemaak het. Elkeen gee sy sak geld. Heksie en Blommie s’n is so swaar, hulle moet dit saam dra.

Die koning tel die geld en Blommie en Heksie s’n is die heel meeste.

“Die prys gaan aan Heksie en Blommie,” sê die koning. “Baie dankie, kabouters en Heksie, ons het nou genoeg geld om die hospitaal mee te bou. En Blommie en Heksie kry elk tien rand as prys.”

“Hoera!” skreeu die kabouters.

“Dankie, Koning, dis wonderlik!” sê Blommie.

“Haai,” sê Heksie, “ek weet nie wat ek met so baie geld gaan maak nie.”





Liewe Heksie en die bikini




Blommie en Heksie sit op Heksie se stoep. Hulle wonder wat hulle met die tien rand, wat elkeen by koning Rosekrans gekry het, gaan maak.

“Weet jy, Blommie, ek is seker die rykste heks wat ek ken,” sê Heksie. “Die hekse van die bome en die see is nie so ryk soos ek nie.”

“Nee, seker nie,” sê Blommie. “Maar ek wens ek het geweet wat ons met al ons geld gaan maak. Jy weet, ek is darem ook ryk, want ek het net soveel soos jy.”

“Ja, ons is al twee ryk en dis baie moeilik. Ons weet nie wat om met die geld te maak nie,” sug Heksie en wieg heen en weer in haar rystoel.

“Heksie, ek dink ek het ’n plan,” sê Blommie opgewonde. “Kom ons gaan hou vakansie met die geld. Kom ons gaan see toe!”

“Haai, oe, dit sal lekker wees,” lag Heksie. “Ja toe, Blommie, kom ons gaan see toe. Sommer al môre met die trein.”

“Goed, Heksie,” lag Blommie, “maar dan moet ek nou huis toe gaan om my klere te gaan inpak.”

“Ja, ek moet ook inpak,” sê Heksie. “Ek moet my ander hoed en jas inpak en my bikikini.”

“Dis nie ’n bikikini nie, Heksie, dis ’n bikini.”

“Nou ja, ek moet my bikini inpak,” sê Heksie en fladder haar ooglede.

“Swem jy dan met ’n bikini?” vra Blommie saggies.

“Ja, dis mos waarmee jy swem. Hoe is jy dan so dom?” vra Heksie en trek haar oë op skrefies toe sy na Blommie kyk.

“Ek weet ’n bikini is ’n soort swembroek, maar is dit nie ’n bietjie klein nie?” vra Blommie.

Heksie skud haar kop dat haar hoed amper afval. “O nee, nie myne nie. Ek het dit by my ouma Levinia present gekry. Dit was hare gewees. Dis ’n baie mooi bikini.”

“O,” sê Blommie en nou wonder hy éérs hoe Heksie se swemklere lyk. “Nou ja, Heksie, dan loop ek maar. Ek kry jou môreoggend op die stasie. Die trein wat see toe gaan, kom agtuur hier verby. Jy moenie laat wees nie.”

“Ek is nie die soort heks wat altyd laat is nie,” sê Heksie vies. “Agtuur spring ek op my besem en ek vlieg stasie toe.”

“Agtuur moet jy al daar wees, Heksie. Jy kan nie dan eers wegspring nie.”

“Nou goed, kwart voor agt spring ek op my besem en vlieg stasie toe,” sê Heksie.

Blommie sug maar net en stap huis toe om te gaan inpak.

Die volgende oggend is Heksie darem betyds op die stasie en die twee klim op die trein wat hulle see toe neem. By die see gaan bêre hulle hulle tasse by die losieshuis waar hulle tuisgaan en stap dadelik strand toe.

“Ons gaan eers so ’n bietjie op die sand rus voor ons ons swemklere aantrek, nè, Heksie?” sê Blommie.

“Ja, want ons is moeg van treinry,” sê Heksie en gaan sit net daar op die sand. Sy trek haar swart punthoed ver oor haar kop.

“Hoekom trek jy jou hoed so ver oor jou gesig, Heksie. Jy sal mos warm kry,” sê Blommie.

“Ek doen dit sodat my gesig nie te veel in die son is nie, Blommie. My ouma Levinia het altyd gesê meisiekinders se gesigte moenie so brand in die son nie.”

“O,” sê Blommie en doen sy bes om nie te lag nie.

Die strand is vol mense. Dis vir Heksie en Blommie lekker om na hulle te kyk. Eenkant op die strand is daar ’n verhoog gebou, soos dié waarop mense staan as hulle sing of versies opsê, en rondom die verhoog sit baie mense. Op die verhoog staan ’n man wat allerhande grappies maak en snaakse goed sê. Skielik roep hy hard: “Dames en here, ek het ’n baie belangrike afkondiging om te doen!”

“Wat beteken dit, hè, Blommie?” vra Heksie.

“Dit beteken maar net hy wil iets sê en ons moet luister, Heksie.”

Die man praat weer. “Ons gaan vandag ’n Mejuffrou Seesand kies!” Die mense skreeu en klap hande.

“Wat is Mejuffrou Seesand, hè, Blommie?” vra Heksie.

“Sjjt, Heksie, ons wil hoor wat die man sê,” sê Blommie.

“Uit al die mense hier op die strand gaan ons die meisie kies wat vir ons die oulikste lyk, en sy sal Mejuffrou Seesand wees. Die prys wat Mejuffrou Seesand sal ontvang, is tien rand.”

“Haai, hoor jy daar, Blommie,” sê Heksie. “Sê nou ek kan die tien rand wen, dan kan ons nog ’n paar dae hier by die see kuier.”

“Al die meisies wat aan die wedstryd wil deelneem, moet hier na die verhoog toe kom,” praat die man verder. “Julle het ’n halfuur tyd om reg te maak.”

“Ek gaan gou my bikini aantrek en dan gaan ek ook,” sê Heksie.

Blommie is heeltemal verskrik. “H … Heksie, jy gaan tog nie deelneem aan die kompetisie nie?”

“Wat’s dít?” vra Heksie.

“Ag man, die kompetisie om Mejuffrou Seesand te wees. As ’n klomp mense bymekaarkom en hulle soek die mooiste een uit, dan is dit ’n kompetisie,” vertel Blommie vir Heksie.

“O,” sê Heksie. “Ja, ek gaan ook sê hulle moet my kies vir Mejuffrou Seesand. Ek gaan net eers gou my bikini aantrek. Jy moet hier vir my wag, hoor, Blommie.” En Heksie spring op en stap na die kleedkamers om haar swemklere te gaan aantrek.

Die man op die verhoog sê hulle moet gou maak, want die kompetisie gaan begin. Blommie wens Heksie is laat, want hy weet sy sal hartseer wees as sy nie wen nie.

Net toe die man by die verhoog wil praat, hoor Blommie iemand roep: “Joehoe, Blommie!”

Blommie hoor dis Heksie en kyk rond. Naderhand sien hy haar. Sy kom oor die sand aangestap. Of liewer, hy dink dis Heksie! Hy kyk mooi … Ja, sowaar, dit is Heksie, maar Blommie herken haar skaars.

Sy het die snaaksste swemklere aan wat hy nog ooit gesien het. Dis ’n lang swempak wat tot by haar knieë kom en dit het lang moue en sulke wit en swart strepe. Op haar kop het Heksie ’n groot swart swempet wat soos ’n ballon op haar kop sit.





Blommie is lus om sommer daar op die sand te rol van die lag, maar Heksie roep weer: “Joehoe, Blommie, hier’s ek! Hoe lyk my ouma se bikini vir jou, hè?”





Toe sy die tweede keer roep, kyk al die mense by die verhoog om. Eers is hulle doodstil, maar dan begin hulle skater van die lag. Tot die man op die verhoog kan sy lag nie hou nie.

Heksie sien almal kyk vir haar en gaan doodstil staan. Blommie sien hoe skaam kry sy. Sy steek haar vinger in haar mond en trek die groot swempet oor haar oë. Toe lag die mense éérs.

Arme Heksie weet nie wat om te doen nie en Blommie sien sy gaan begin huil. Hy staan op, maar skielik roep ’n vrou naby hom: “Help! Dief! ’n Dief het my horlosie gesteel! Daar gaan hy!”

Blommie sien die dief met die horlosie in sy hand. Hy sien ook die dief gaan naby Heksie verbyhardloop. Blommie se beentjies is te kort om vinnig te hardloop. Hy kan nie die dief vang nie, maar hy skreeu hard: “Heksie, die dief hardloop daar na jou toe! Keer hom!”

Heksie staan nog steeds met haar swempet oor haar oë en haar vinger in haar mond. Maar skielik steek sy haar lang, maer been uit en daar pootjie sy die dief! Hy val dat hy sommerso skuif in die sand.

“Sy het hom gekeer! Sy het hom gekeer!” skreeu die mense.

“Ag, dankie tog!” sê die vrou. “Nou kan ek my horlosie terugkry.”

’n Polisieman is gou daar om te keer dat die dief weghardloop en hy gee vir die vrou haar horlosie.

“Baie dankie, Juffrou. As jy nie gekeer het nie, sou die dief met my horlosie weggekom het,” sê die vrou.

“Haai, hoor jy, Blommie, sy sê vir my Juffrou,” sê Heksie en lag te lekker.

“Wat is jou naam?” vra die vrou.

“My naam is mejuffrou Levinia Liewe Heksie. Dis mos reg, hè, Blommie?” fluister Heksie.

“E … ja, min of meer,” sê Blommie.

“Ek dink ons moet vir mejuffrou Levinia Liewe Heksie Mejuffrou Seesand maak,” sê die vrou.

“Ja! Ja!” skreeu die mense by die verhoog.

“Ja, kom hier na die verhoog toe, Juffrou,” sê die man.

“Kom saam, Blommie,” sê Heksie en gryp Blommie se hand en trek hom saam.

Heksie en Blommie klim op die verhoog en almal klap hande.

Die man maak hulle stil en sê: “Ons maak jou Mejuffrou Seesand, en jy wen die prys van tien rand!” Toe klap die mense éérs.

“Dink jy ek moet vir hulle ’n stukkie sing, Blommie?” vra Heksie saggies.

“E … nee, Heksie,” sê Blommie vinnig. “Miskien ’n ander dag.” Hy is bang die mense lag dalk weer.

Die man gee vir Heksie die tien rand en sy buig vir die mense, wat nog steeds hande klap. Toe alles verby is, swem Heksie en Blommie vir ’n rukkie en toe gaan hulle na hulle blyplek.

Daardie aand na ete sê Heksie: “Blommie, weet jy, daar is net een ding wat my pla. Hoekom dink jy het die mense so vir my gelag toe ek met my bikini uitgekom het?”

“Ag, Heksie, dis … e … seker omdat jy vir hulle so oulik was,” sê Blommie.

“Haai, ja, weet jy, ek het self gedink ek lyk oulik,” sê Heksie.





Liewe Heksie en die motor




Heksie en Blommie sit op Heksie se stoep. Heksie sit in haar lekker rystoel en Blommie op die stoeptrap.

Heksie sit met haar toe oë asof sy slaap en Blommie rus met sy kop op sy knieë. Skielik gee Blommie so ’n lang gaap.

“Wat makeer, hè, Blommie?” vra Heksie.

“Ag, ek is sommer verveeld,” sê Blommie.

“Wat’s dit?” vra Heksie.

“Ag, Heksie, as ’n mens nie weet wat om te doen nie, dan is jy verveeld,” sug Blommie.

“O, dan is ek ook ver … verveeld,” sukkel Heksie met die moeilike woord. “Want ek weet ook nie wat om te doen nie. Wat kan ons doen, hè, Blommie?”

“Ek weet tog nie, Heksie. Dis te warm om wegkruipertjie te speel of om in die tuin te werk. Ek weet nie wat ons kan doen nie.” En Blommie sit weer sy kop op sy knieë.

“Ek wens iets wil gebeur. Niks gebeur ooit met ons nie. Dis net heeldag sit en sit en sit, weet jy, Blommie.” Heksie krap haar kop en dink so ’n bietjie. “Ek weet!” skreeu sy soos sy altyd maak en Blommie skrik hom byna dood.

“Wat weet jy nou weer, Heksie?”

“Ek weet wat ons kan doen. Kom ons sing!” sê Heksie.

“E … nee, liewer nie … e … my kop is seer,” sê Blommie.

“Nou ja, dan sing ek vir jou ’n liedjie wat goed is vir ’n seer kop. ’n Wiegeliedjie!”

Heksie wil ook sommer begin sing, maar Blommie sê: “Kyk daar, Heksie, die posman is by die hek.”

“Wat dink jy wil hy hê, Blommie?” vra Heksie.

“Hy bring seker vir jou ’n brief,” sê Blommie.

“O ja, dis mos wat posmanne doen. Ek het ’n bietjie vergeet van hulle,” sê Heksie en staan op om die brief te gaan haal. Blommie sug net, want hy weet hoe Heksie dinge kan vergeet.

“Haai, Blommie, dis ’n brief vir jou en vir my!” roep Heksie van die hek af. “Kyk,” sê sy toe sy nader kom. “Hier op die brief staan Blommie Kabouter en Levinia Heks, Blommeland.”

“Wat sê die brief, Heksie?” vra Blommie en sit regop. Heksie skeur die brief oop en begin lees: “Lie … Liewe …” maar sy hou skielik op en trek haar punthoed oor haar oë soos sy altyd maak as sy skaam kry.

“Wat makeer nou, Heksie?” vra Blommie.

“Ek kan nie verder lees nie, Blommie, ek het ’n bietjie vergeet van lees,” sê Heksie onder haar hoed uit.

“Maar jy het dan ons name op die brief gelees.”

“Ja, maar ek weet van ons name. Hierdie letters in die brief is te snaaks,” sê Heksie skaam.

“Toemaar, ek sal lees.” Blommie vat die brief en lees: “Liewe Heksie en Blommie, julle sal verheug wees om te hoor ek kom Vrydag vir julle kuier. Ek het vir julle ’n groot verrassing. Julle vriend, Karel Kat.”

“Heksie, Karel kom kuier,” lag Blommie van pure blydskap.

“Wat beteken ver … verheug, hè, Blommie?” vra Heksie.

“Dit beteken ons sal bly wees, Heksie.”

“En ons is bly, nè?” sê Heksie.

“Ek wonder watse verrassing het hy vir ons,” sê Blommie.

“Wat is ’n verrassing?” vra Heksie weer.

“Ag man, Heksie, dit beteken hy gaan iets saambring waaroor ons bly gaan wees.”

“O,” sê Heksie. “Wanneer kom hy nou weer?”

“Hy sê Vrydag,” sê Blommie. En skielik sê hy: “Maar Heksie, dis vandag al Vrydag! Karel kom vandag!”

“Haai, oe,” sê Heksie. “Dan moet ons dadelik op my besem spring en stasie toe ry.”

“Ja,” sê Blommie. “En dit sal darem baie lelik wees as ons nie op die stasie is om Karel te groet nie. Kom, Heksie!”

Hulle spring op Heksie se besem en vlieg vinnig stasie toe en is net betyds om te sien hoe die trein aankom. Een na die ander wa ry verby, maar hulle sien nie vir Karel Kat nie. Toe die trein stilstaan, begin die mense afklim. Naderhand is al die mense van die trein af en die trein ry weg.

Toe begin Heksie huil. “Karel Kat het nooit gekom nie. Sien jy, ek het vir jou gesê niks gebeur ooit met ons nie.”

“Toemaar, Heksie, kom ons gaan huis toe,” sê Blommie en sy hart is ook baie seer. “Miskien kom Karel op ’n ander Vrydag.”

Blommie en Heksie is so hartseer, hulle klim nie eens op die besem nie.

Hulle loop sommer huis toe en Heksie sleep die besem agter haar aan.

Toe hulle naby Heksie se huis kom, gaan Heksie skielik staan. “Wat is dit nou, Heksie?” vra Blommie.

“Bl … o … Blommie,” fluister Heksie bang. “Watse snaakse ding staan daar voor my huis? Ek dink dis ’n … ’n … gogga.”

Blommie begin lag dat hy eintlik sy maag moet vashou.

“En wat is miskien so snaaks?” vra Heksie vies. “Jy sal nie lag as daardie monster jou tone afbyt nie.”

“Dis nie ’n monster nie, Heksie, dis ’n motor,” sê Blommie. “Jy weet mos hoe lyk ’n motor. Jy het baie gesien toe ons by die see was.”

“Haai, ja,” sê Heksie en boor met haar toon in die grond omdat sy skaam is. “Ek het net ’n bietjie vergeet van ’n motor.”

“Ek wonder wie se motor is dit, Heksie?”

“Miskien het die koning besluit om vir my te kom kuier,” sê Heksie en trek haar swart jas mooi reg en steek haar neus in die lug.

“Die koning se motor is baie groter,” sê Blommie. “Maar kom ons gaan kyk wie s’n dit is.”

Hulle stap huis toe, en wie dink julle sit daar op die stoep vir hulle en wag? Karel Kat!

“Karel!” sê Blommie.

“Haai, Karel,” sê Heksie. “Hoe kan jy hier wees? Jy was dan nie op die stasie nie.”

“Natuurlik was ek nie op die stasie nie,” lag Karel en gee sy snor ’n draai. “Maar gaan julle my dan nie groet nie?”

“Hallo, Karel, ek is so bly om jou te sien,” sê Blommie.

“Hallo, Karel, jy was nie op die stasie nie,” sê Heksie.

“Nee, want ek het met my eie motor gekom,” sê Karel en trek sy rooi strikdassie reg.

“Jóú motor?” vra Heksie en Blommie gelyk.

“A ja a!” sê Karel. “Ek het mos gesê ek het ’n verrassing vir julle.”

“Ek is baie verras, Karel,” sê Heksie. “Wanneer kan ons ’n bietjie in jou motorkar gaan ry, hè?”

“Heksie, ’n mens vra nie sommerso nie,” sê Blommie vies.

“Natuurlik kan sy vra,” sê Karel. “Ons gaan sommer nou ’n bietjie ry.”

“Oe, wonderlik,” sê Blommie en klap hande.

“Dan moet ek net eers gou my hare gaan kam,” sê Heksie en hardloop by die huis in. Na ’n lang ruk kom sy terug en haar hare hang nog net sulke toutjies onder haar hoed uit, maar aan die een toutjie het sy ’n strikkie vasgemaak. “Lyk ek darem goed so?” vra sy en rol haar oë.

“Levinia, jy lyk pragtig,” sê Karel en hou sy poot uit om Heksie in die motor in te help.

Toe almal in die motor sit, trek Karel weg dat die stof so staan.

“Jy moet mooi stadig ry, hoor, Karel, sodat almal ons kan sien,” sê Heksie.

“Goed, Levinia,” lag Karel en hy ry ’n bietjie stadiger.

“Haai, maar die motor ry lekker, Karel,” sê Blommie.

“A ja a,” sê Karel.

Elke nou en dan roep Heksie “Joehoe!” en dan waai sy vir ’n kabouter wat in sy tuin werk of sommer net in die straat loop.

So ry die drie al Blommeland se strate deur en toe terug na Heksie se huis. By die huis sê Karel: “Levinia, ek is darem nou dors. Ek het ver gery vandag, weet jy.”

“Haai, ja, ek gaan nou dadelik vir ons tee maak. Kom sit julle twee hier by my in die kombuis.”

Heksie maak vir hulle tee en Karel vertel hulle van sy motor. Toe hulle klaar tee gedrink het, sê Karel: “Ek is nou so vaak, ek gaan eers ’n bietjie rus. Vanaand kan ons weer in die motor ry.”

“Ja, ek gaan ook rus,” sê Blommie.

“Ek sal maar op die stoep gaan sit en kyk dat niemand die motor steel nie,” sê Heksie toe Blommie en Karel gaan rus.

Dis al amper donker toe die twee eers wakker word. “Haai, die arme Levinia sit seker nog altyd op die stoep,” sê Karel en hy en Blommie gaan stoep toe. Maar wat sal hulle daar sien! Die motor én Heksie is weg.

“Karel,” sê Blommie benoud, “dink jy ’n dief het die motor gesteel en vir Heksie ook?”

“Ek weet nie, Blommie, maar ons moet hulle gaan soek. Nou dadelik!” Karel en Blommie begin soek. In elke straat in Blommeland soek hulle, maar hulle kry nie vir Heksie of die motor nie. Naderhand is dit so donker, hulle kan niks meer sien nie.

Karel sug. “Ons moet maar huis toe gaan, Blommie. Ons kan môre verder soek.”

“Sê nou Heksie het dalk seergekry?” huil Blommie.

“Moenie daaraan dink nie, Blommie. Ons kan tog nou niks doen nie. Kom, môre sal ons weer begin soek.”

Die volgende oggend vroeg is hulle op om na Heksie en die motor te gaan soek. Net toe hulle by die hekkie kom, hoor hulle iemand in die verte sing: “Swaar dra, al aan die een kant …”

“Dis Heksie!” sê Blommie.

“Ja, dit is!” Karel begin lag. “Kyk daar, Blommie!”

En daar onder in die straat kom Heksie aangestap. Sy trek baie swaar aan ’n tou wat aan die motor vasgemaak is en agter die motor loop Trompetter Olifant. Hy stoot die motor.





“Joehoe, julle twee!” roep Heksie toe sy vir Blommie en Karel sien. Sy en die olifant stoot en trek die motor tot by die hek en toe sê sy: “So ja, Trompetter, hier is ons.”

“Levinia,” sê Karel kwaai, “waar kom jy vandaan en waar was my motor?”

Heksie kry skaam en trek haar hoed oor haar oë. “Ek is jammer, Karel. Maar gistermiddag toe julle slaap, was ek lus om in die motorkar te sit. En toe trek ek sommer ’n bietjie aan so ’n armpie tussen die voorste twee sitplekke en toe loop die ou motortjie die bos in.”

“Jy het aan die handrem getrek!” sê Karel kwaai.

“Ja, dis wat Trompetter se pa gesê het. Dit was die handebriek. Die motor het met sy neus teen ’n boom gaan staan, maar Trompetter se pa het sommer die duik met sy slurp uitgeslaan. Toe help Trompetter my om die motor terug te stoot, want ek kan nie bestuur nie. Sal jy my leer, hè, Karel?”

Karel is so kwaad, hy kan amper nie praat nie. “Levinia, jy kon dood gewees het! Weet jy nie jy moenie met die remme en goed lol as jy in ’n motor sit nie?”

“Ek weet nou, Karel, en ek is baie jammer,” sê Heksie huilerig. “Ek sal nooit weer nie. Ek het so geskrik.”

“Nou ja toe dan maar,” sê Karel. “Ons moet seker bly wees jy het lewend teruggekom.”

“Ons het gedink jy het seergekry of iets, Heksie,” sê Blommie. “Ons is baie bly jy’s weer terug.”

“Haai, dankie, Blommie,” sê Heksie. “Nou kan ek darem nie sê daar gebeur nooit iets met my nie, nè?”





Liewe Heksie maak die koning gesond




Die kabouters van Blommeland is hartseer, want koning Rosekrans is baie siek. Hulle is bang as die koning doodgaan, sal die nare Gifappeltjies Blommeland kom afvat en die koning van Gifappeltjieland sal hulle koning word. En hy is nie ’n goeie koning nie.

Blommeland se kabouters weet nie meer wat om te doen nie. Koning Rosekrans lê in Blommeland se mooi nuwe hospitaal, maar die medisyne wat hulle hom gee, maak hom nie gesond nie.

Die dokter van Blommeland het gevra dat al die kabouters en Heksie na die hospitaal toe moet kom, want hy wil vir hulle iets sê.

“Ek hoop nie die dokter wil vir ons medisyne gee om te drink nie, Blommie,” sê Heksie toe hulle by die hospitaal kom.

“Nee, Heksie, hy’t mos gesê hy wil met ons praat,” sê Blommie.

“O ja, ek het ’n bietjie vergeet daarvan,” sê Heksie, “want jy weet, ek is nie lief vir medisyne nie. Net as ek siek is, is ek lief daarvoor.”

“Ja, Heksie, ’n mens drink dit ook net as jy siek is, nie as jy gesond is nie,” sug Blommie.

Die dokter kom in en sê: “Kabouters, soos julle weet, is koning Rosekrans baie siek en ons het iemand nodig om by hom te bly. Omdat Blommeland se hospitaal nog so nuut is, het ons nie genoeg verpleegsters nie, daarom moet ons almal beurte maak om na hom te kyk. Van vanaand af sal al die kabouters ’n beurt kry om hom op te pas.”

“O ja, dokter, ons wil julle graag help,” sê Blommie.

“Nou toe, Blommie, jy kan die eerste beurt kry,” sê die dokter. “En môreaand ’n ander kabouter en die aand daarna ’n ander een en so aan.”

“En wanneer is dit my beurt, hè, dokter?” vra Heksie.

“E … nee, net die kabouters, Heksie,” sê die dokter. Hy weet Heksie is ’n bietjie dom en vergeet dinge te maklik, daarom wil hy nie hê sy moet by die koning bly nie.

“Maar ek is tog Blommeland se enigste en beste en mooiste Heksie; ek moet ook mos help,” sê Heksie.

“Ek sê nee!” sê die dokter kwaai.

“Niemand wil ooit hê ek moet iets doen nie, en ek wil maar net help,” huil Heksie. “Ek is seker koning Rosedoring sal baie bly wees as hy een aand sy oë oopmaak en sien ek het hom kom oppas.”

“Rosekrans, Heksie,” sê Blommie. “Die koning se naam is Rosekrans.”

“Ag ja, Rosekrans,” sê Heksie. “Ag toe, dokter, laat ek ook help. Ek wil ook ’n verpleegster wees.”

“Nou goed,” sug die dokter. “Maar jy gaan nie die koning oppas nie. Jy sal vir hom die verkeerde medisyne gee of jy sal vergeet om dit vir hom te gee. Jy kan in die hospitaal se kombuis werk. Daar is altyd baie skottelgoed om te was.”

“Nou goed dan,” sê Heksie hartseer. “Maar dan wil ek ook wit klere hê soos die verpleegsters.”

“O tog!” lag ’n kabouter. “Waar het jy nou ’n heks gesien wat soos ’n verpleegster aantrek!”

Heksie wil net weer huil, maar Blommie sê: “Dis waar, Heksie, het jou ouma Levinia nie altyd gesê hekse moet net hulle hekseklere dra nie?”

“Ja, sy het,” sê Heksie, “maar dan wil ek darem net ’n wit voorskoot hê. Anders word my jas vuil.”

“Nou goed dan,” sê die dokter.

Daardie aand werk Heksie in die hospitaal se kombuis en Blommie is by koning Rosekrans. Die volgende dag is koning Rosekrans nog net so siek. Hy word niks beter nie. Eintlik word hy net sieker.

Die dae gaan verby en elke aand pas ’n ander kabouter die koning op. Heksie werk steeds elke aand in die kombuis.

Een aand is dit weer Blommie se beurt om by die koning te bly. Die koning slaap en Blommie sit doodstil langs sy bed. Skielik hoor hy ’n verskriklike geraas in die kombuis. Dit klink soos ’n klomp glasgoed wat breek en toe hoor hy Heksie huil. Blommie loop saggies by die koning se kamer uit en hardloop kombuis toe.

Daar sien hy vir Heksie op die vloer. Om haar lê koppies en borde en glase. Heksie sit tussen al die stukkende goed en huil, en eenkant staan ’n verpleegster en raas. “Jy is die domste heks wat ek nog ooit gesien het,” sê sy. “Jy het omtrent ál die hospitaal se koppies en borde gebreek.”

“Is nie, jy jok,” sê Heksie. “Ek het nog net … e … laat ek bietjie dink … ek het nog net twaalf koppies en tien borde gebreek. Jy wil net altyd met my raas.”

“Wat gaan hier aan?” vra Blommie. “Julle sal die koning wakker maak as julle so lawaai.”

“Hierdie heks breek elke aand van ons goed,” sê die verpleegster. “Kyk die skinkbord vol goed wat sy vanaand laat val het.”

“Wat het gebeur, Heksie?” vra Blommie.

“Ek het maar net vergeet om die skinkbord vas te hou, Blommie, dis al,” sê Heksie en laat sak haar kop.

“Dis wat sy elke keer sê as sy iets breek,” sê die verpleegster. “Ek gaan vir die dokter sê sy kan glad nie meer in die kombuis werk nie. Sy moet in die tuin gaan werk. Daar sal sy niks kan breek nie.”

“Sien jy, Blommie, niemand wil hê ek moet help nie,” sê Heksie en huil dat die trane op die stukkende borde drup.

“Miskien sal dit beter wees as jy in die tuin werk, Heksie,” sê Blommie.

En so het dit gekom dat Heksie eerder in die hospitaal se tuin gaan werk het.

Baie dae gaan verby, maar die koning bly siek. Die kabouters wat in die aand by hom moet bly, is naderhand so moeg, hulle kan nie meer wakker bly nie.

Eendag sê die dokter vir Blommie: “Blommie, ons moet nog iemand kry om ons te help. Dit beteken niks as julle in die koning se kamer sit en slaap nie.”

“Ja, dis waar, Dokter,” sê Blommie en gee so ’n lang gaap, want hy is regtig baie vaak.

“Ek weet nie wie ons kan kry om te help nie,” sê die dokter.

“Dokter,” sê Blommie, “miskien kan ons vir Heksie vra om hom een aand op te pas, net …”

“Wat!” skreeu die dokter voor Blommie kan klaar praat. “Daardie dom Heks? Eers breek sy al die goed in die kombuis en toe plant sy die nuwe plantjies onderstebo in die tuin. Wat sal van die koning word as sy hom oppas?”

“E … ek het maar net gedink sy sal darem kan wakker bly en iemand roep as die koning dalk sieker word. Verder hoef sy niks te doen nie. Sy moet ons net roep as die koning dalk medisyne wil hê, Dokter.”

“Mmm … ja,” sê die dokter en dink so ’n bietjie. “Mmm … ja, dalk is dit tog ’n goeie plan. Gaan roep vir Heksie, Blommie.”





Toe Heksie hoor sy gaan die koning oppas, is sy baie bly. “Sien jy nou, Blommie, ek is nie so dom soos ek gedink het nie. Die dokter sê ek moet by koning Rose … Rose …”

“Rosekrans,” sê Blommie.

“Rosekrans gaan bly. Ek sal vir hom medisyne gee en sy voorkop afvee met ’n nat lappie en …”

“Jy moet net wakker bly en iemand roep as die koning dalk iets wil hê, Heksie. Jy hoef niks anders te doen nie.”

“Ag ja, dis al wat ek moet doen,” sug Heksie. “Maar jy sal sien, môre is die koning sommer baie beter.”

Daardie aand sit Heksie in koning Rosekrans se kamer. Alles is doodstil en die koning slaap vas. Naderhand begin Heksie rondskuif op die stoel; sy word moeg van die lang stilsit.

“O tog,” sug sy, “ek wens dis al môre. Ek word moeg om so stil te sit. Is daar nie iets wat ek kan doen nie. Laat ek ’n bietjie dink. Mmm … ja, ek sal ’n bietjie sing. Ek sal ’n wiegeliedjie sing, dan sal die koning nie wakker word nie. Slaap, my kindjie, slaap sag. Slaap, my kindjie, slaap sag, slaap …” sing Heksie op een noot.

“Watse geraas is dit?” vra die koning skielik.





Heksie hou op met sing. “Wie … wie’t gepraat?” vra sy bang.

“Ek het gepraat,” sê die koning. “Ek vra wie raas so?”

“Haai, Koning, jy … e … u … e … Koning is wakker,” sê Heksie.

“Ja, ek is wakker en ek vra wie raas so? Dit het geklink soos iemand wat sing.”

“O dít,” sê Heksie skaam. “Dit was sommer ek wat gesing het. Was dit vir Koning mooi? Ek kan nog sing as koning Rosebaard wil.”

“E … nee dankie,” sê die koning baie vinnig. “En my naam is Rosekrans, en wat maak jy hier, Levinia?”

“Ek pas vir Koning op. Die kabouters het vaak geword omdat hulle elke nag hier moes wakker bly. Nou help ek ’n bietjie.”

“Ag, die arme kabouters,” sug die koning. “Hulle werk so hard en ek word nie gesond nie.”

“Ja,” sug Heksie net so hard soos die koning. “Dit lyk my ook koning Rosedoring word nie gesond nie. Die kabouters sê as Koning nie gesond word nie, gaan die koning van die Gifappeltjies ons koning word.”

“Gmf, dit wil ek nog sien!” sê koning Rosekrans vies.

“Ja, dis wat ek ook sê,” sê Heksie. “Ek sal hom nie laat koning word nie, hoor, Koning?”

“Wat sal jy tog doen, Levinia?” vra die koning.

“Wel, ék sal liewer koningin word,” sê Heksie trots.

“Wat!” sê die koning.

“Ja, ek is Blommeland se enigste en mooiste en beste Heksie, ek sal koningin word. En dan gaan bly ek in die paleis en ek ry in die mooi motorkar. Koning weet, ek is baie lief vir motorkarre, ek …”

“Levinia Heks,” sê die koning, “weet jy miskien met wie jy praat?”

“Ek praat met jou … u … Koning,” sê Heksie en lag. “Hoe sal ek nou nie weet met wie ek praat nie. Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar Koning is ook maar dom.”

“Ja, jy praat met Blommeland se koning en ek gaan Blommeland se koning bly.” Die koning is nou verskriklik kwaad.

“Jy kan nie koning bly as jy siek is nie, Koning,” sê Heksie.

“Ek is g’n meer siek nie, gaan haal vir my kos.”

“Maar Koning …” sê Heksie.

“Gaan haal vir my kos!” skreeu die koning en Heksie hardloop by die kamer uit.

“Die koning wil kos hê!” roep sy, en die dokter en verpleegsters en kabouters kom aangehardloop.

“Levinia Heks, jok jy al weer?” vra die dokter.

“Ek’s nie die soort heks wat jok nie,” sê Heksie.

“Dis nie nou tyd vir grappies nie, Heksie,” sê Blommie benoud.

“Nou ja, gaan kyk self,” sê Heksie. “Die koning wil kos hê.”

Hulle gaan kyk en dit is ook so. Die volgende dag is die koning sommer al baie beter en kan ’n paar dae later teruggaan na sy paleis toe. Die kabouters is baie bly, want nou sal koning Rosekrans hulle koning bly.

’n Paar dae later sit Blommie, Heksie en die dokter in die koning se paleis en die dokter sê: “Koning, maar hoe het u so gou gesond geword?”

“Dis Heksie wat my gesond gemaak het, want sy’t vir my gesing,” sê die koning.

“Levinia Heks?” vra die dokter.

“Ja, en sy het gesê sy sal koningin word as ek doodgaan en toe wonder ek wat sal dán van Blommeland word. En ek het gedink as ek nie gesond word nie, kom sing sy dalk elke aand vir my en … bederf net haar stem.”

“Toemaar, Koning, ek sal nie my stem bederf nie, ek sal eendag vir u kom konsert hou, hoor,” sê Heksie.

“E … dankie, Levinia,” sê die koning en Blommie hou sy hand voor sy gesig sodat Heksie nie moet sien hoe hy lag nie.





Liewe Heksie en die toorwoorde




Karel Kat kuier by Heksie en Blommie met sy splinternuwe motor. Elke middag gaan ry hulle ’n entjie en dan waai Heksie vir al die kabouters langs die strate. Eendag sê Karel vir hulle: “Kom ons gaan hou môre piekniek.”

“Oe, Karel, dit sal wonderlik wees,” sê Blommie. “Ek weet van ’n lekker plek waar ons kan piekniek hou. Daar is blomme en groen gras en ’n stroompie water en hoë bome wat sommerso toegegooi is met boomvarings.”

“Mmm, dit klink vir my na net die regte plek vir ’n piekniek. Maar hoekom is jy so stil, Levinia? Jy sê niks,” vra Karel.

“Ek dink, Karel. Ek dink aan die kos wat ek vir ons gaan inpak. Vanaand sal ek vir ons ’n broodjie bak en dikkefrelletjies maak. My dikkefrelletjies is die lekkerste in Blommeland.” Heksie rol haar oë en lek haar lippe af.

“Wat is dikkefrelletjies, Levinia?” vra Karel.

“Ag ja,” sug Heksie. “Ek kan sien jy weet nie van kos nie. Ek wil nou nie snaaks wees nie, Karel, maar almal ken ’n dikkefrelletjie. Jy vat gemaalde vleis en dan maak jy dit in sulke ronde bolletjies en …”

“Heksie bedoel frikkadelletjies, Karel,” lag Blommie.

Nou is Heksie sommer vies. “Wat het ek dan anders gesê, hè? Ek sê mos d-i-k-k-e-f-r-e-l-l-e-t-j-i-e-s!”

“Hm, ja,” sê Karel. “Kom, Blommie, ons gaan gooi petrol in die motor, dan kan Levinia met die kos begin. Môreoggend voor dit lig word, kom ons jou haal, Heksie.”

“Goed, ek sal reg wees, ek sal op die stoep vir julle wag,” sê Heksie en loop kombuis toe om te gaan brood knie.

Baie vroeg die volgende oggend hou Karel en Blommie voor Heksie se huis stil, maar Heksie is nie op die stoep nie.

“Druk die toeter, Karel, miskien het sy vergeet van ons,” sê Blommie.

“Blommie Kabouter, jy druk g’n ’n toeter vir ’n dame nie. Jy klim uit die motor en klop aan haar deur.” En Karel trek sy snor en strikdas reg en gaan klop aan Heksie se voordeur.

Heksie maak oop. “Ag, dis julle ou tweetjies. Ek is amper klaar vir die piekniek, ek sukkel net ’n bietjie met die toebroodjies, want ek kry nie die brood gesny nie.”

“Kan ek jou help, Heksie?” vra Blommie.

“As jy my dalk kan help met ’n saag, sal ek verheug wees, Blommie. Sien, ek onthou nog die mooi woord wat ‘bly’ beteken.”

“Wat wil jy met ’n saag maak, Heksie?” vra Karel.

“Ek wil sommer die ou broodjie saag, Karel. Hy’s ’n bietjie hard. Die oond was seker te warm. Kyk, hier is hy.” Heksie hou die broodjie vir Karel en Blommie en hulle begin sommer lag. So ’n brood het hulle nog nooit gesien nie. Dit lyk soos ’n stuk plank en net so hard ook.

Heksie trek net haar swart punthoed oor haar oë en Karel en Blommie sien ’n traan onder die hoed uitloop. “Julle lag vir my broodjie,” huil sy.

“Toemaar, Heksie, ons kan by my huis aanry en ’n brood oplaai. Ek het gisteraand een gekoop. Ek is seker jou frikkadelletjies sal baie lekker wees,” sê Blommie.

“Watter dikkefrelletjies?” vra Heksie.

“Maar Levinia, jy sou mos vir ons gemaak het,” sê Karel.

Nou huil Heksie éérs. “Ek het vergeet.”

“Toemaar, Levinia, ons sal by die kafee kos koop. Kom, hou nou op huil, ons moet ry,” sê Karel en stap motor toe.

Hulle gaan koop gou kos by die kafee en een, twee, drie, is hulle op pad na die piekniekplek waarvan Blommie gepraat het.

Heksie het al klaar van haar hartseer vergeet en die drie lag en sing te lekker.

“Maar Blommie, hoe lyk dit vir my ons ry na Gifappeltjieland toe?” vra Karel na ’n rukkie.

“Ja, dis hier naby, Karel, maar ons gaan darem nie tot daar nie. Die piekniekplek is nog in Blommeland.”

“Aag, wie’s nou bang vir ’n ou Gifappeltjie?” vra Heksie.

“Jy weet hulle hou niks van ons nie, Heksie. Hulle sal baie bly wees as hulle sommer drie van ons kan vang en Karel se motor ook kry,” sê Blommie.

Heksie wil net begin bang word, maar Karel sê: “Toe, vergeet nou van die Gifappeltjies. Ons gaan lekker piekniek hou. Hmm, die pad is nogal nat hier. Lyk my dit het gereën.”

Voor Karel nog iets kan sê, gee die motor so ’n harde stamp en gaan doodstil staan. Karel druk die aansitter, die enjin dreun soos ’n vliegtuig, maar die motor bly net daar staan.

“Druk weer daardie knoppie dat hy raas, Karel, dis vir my mooi,” lag Heksie.

Maar Karel sê: “Dis niks om oor te lag nie, Levinia. Daar’s iets fout. Ek dink ons sit vas in die modder.”





Hy kyk deur die venster en sien hulle is in ’n moddergat. Die motor is so diep in die modder, hulle kan nie eens die wiele sien nie. “Ja, nes ek gedink het. Ons sal maar moet stoot.”

Die drie trek hulle skoene en kouse uit en klim uit om die motor te stoot. Hulle stoot en stoot, maar die motor roer nie.

“Ek weet nie wat ons gaan doen nie,” sê Karel. “As ons ’n graaf gehad het, kon ons die wiele uitgegrawe het, maar nou weet ek nie.”

“Ons sal maar moet wag tot die modder eers droog is,” sê Blommie. “Maar dit sal dalk baie lank neem, nè, Karel?”

“En wat sal ons maak as ’n Gifappeltjie kom?” vra Heksie bang.

“En toe, Levinia, ek dog jy’s nie bang vir die Gifappeltjies nie,” terg Karel.

“Dis jammer ons het nie daardie brood van jou hier nie, Heksie, dan kon ons die Gifappeltjies daarmee geslaan het,” sê Blommie.

“Sies, jy dink jy’s snaaks,” sê Heksie en gaan sit langs die pad op die gras, met haar hoed oor haar oë.

Karel sien sy gaan weer huil. “Levinia,” sê hy gou. “Kom ons hou sommer hier piekniek, die gras is mos lekker groen. Pak ons kos uit, dan eet ons.”

Heksie pak die kos uit die mandjie en hulle eet heerlik. Maar sommer gou is die kos op en daar sit hulle weer.

“Hoe gaan ons ooit die motor uit die modder kry, hè, Karel?” vra Blommie.

“Ek weet tog nie, Blommie. Levinia,” sê Karel na ’n rukkie, “jy’s mos ’n heks, kan jy nie ’n paar toorwoorde sê om die motor uit die modder te kry nie?”

Heksie skuif haar hoed op haar kop rond soos sy dink. “Haai, Karel, my ouma Levinia het vir my van ’n paar toorwoorde gesê, maar ek het hulle vergeet. Jy weet ek is nie eintlik ’n heks vir toorwoorde nie.”

“Nee, seker nie,” sug Karel.

“Maar my óúma het van toorwoorde geweet. Ek dink dit was sy wat Aspoestertjie in ’n pampoen na die dans toe laat ry het.”

“Aspoestertjie het in ’n koets gery, Heksie, maar toemaar,” sug Blommie. “Ons moet aan iets dink voor daardie Gifappeltjies dalk hier opdaag.”

“O Griet, wat sal ons dán maak?” vra Heksie verskrik.

“Ja, wie roep my?” sê ’n diep stem by Heksie se oor.

“Haai, wie praat so in my ore?” vra Heksie, en Karel en Blommie rol op die gras soos hulle lag.

“Ek is ’n toorperd en my naam is Griet,” sê die stem.

Agter Heksie staan die snaaksste perd wat Karel en Blommie nog ooit gesien het. Hy is baie groot en hy het sulke deurmekaar, wollerige hare, ’n hol rug, groot pote en ore wat langs sy oë afhang. As hy nie so groot was nie, sou Karel en Blommie gedink het hy is ’n donkie.

“Haai, oe, ek het ’n perd getoor,” sê Heksie en klap hande. “Is hy nie pragtig nie?”

“Hm, ja,” sê Karel, maar Blommie lê op sy maag en steek sy gesig in die gras weg dat Heksie nie moet sien hoe hy lag nie.

“Dis baie lanklaas dat iemand my opgetoor het,” sê Griet. “Vandag se hekse toor net vliegtuie en treine en bote as hulle iewers heen wil gaan. Hulle sê ek is outyds. Wat kan ek vir jou doen, Liewe Heksie?”

“Kan jy asseblief vir ons daardie motor uit die modder haal?” vra Heksie.

“Maklik,” sê die perd. “Ek is bly om iemand weer ’n slag te kan help.”

Griet gaan staan agter Karel se motor en met sy groot sterk kop gee hy net een stoot en daar is die motor uit die moddergat!

“Baie dankie, Griet, ou kêrel,” sê Karel. “Jy’s ’n bielie van ’n perd.”

“Hoekom het jy dan ’n meisienaam, hè, Griet?” vra Heksie.

“Toe ek by die toorperde gekom het, was daar nie meer seunsname oor nie, toe noem hulle my maar Griet,” sê Griet.

Skielik sien hulle ’n klomp Gifappeltjies wat deur die bome aangehardloop kom. “Ons gaan julle vang!” skreeu die Gifappeltjies.

“Toe, julle, spring in die motor!” sê Karel.

“Maar wat van Griet? Hy is te groot vir die motor,” sê Heksie.

“Toemaar, Heksie, sê net jou toorwoorde, dan verdwyn ek.”

“W … watter toorwoorde?” vra Heksie benoud.

“Jy moet mos weet,” sê Griet, maar Heksie staan net haar ken en vryf.

“Sê: ‘Totsiens, Griet’,” sê die perd en Heksie sê dit, maar niks gebeur nie.

“Maak gou, Heksie, die Gifappeltjies kom al hoe nader!” skreeu Blommie.

“O, Griet, dis klaar met ons!” huil Heksie, en daar is Griet skielik weg!

“Griet het verdwyn! Sien julle, Blommie?” lag Heksie. “Ek het weer getoor.”

“Levinia, kom klim nou in die motor, of wil jy hê die Gifappeltjies moet jou vang?”

Heksie sien Karel word nou kwaad en klim gou in die motor. Net toe die eerste Gifappeltjie by die motor kom, jaag Karel weg.

“Whê, julle kan ons nie vang nie!” skreeu Blommie vir die Gifappeltjie.

Toe hulle so ’n ent gery het, sê Heksie: “Haai, oe, ek is darem goed met toorwoorde, weet julle?”





Liewe Heksie en die donkie




Elke somer hou die kabouters van Blommeland ’n sportdag. Dan kom almal bymekaar en hardloop resies, kyk wie die hoogste en die verste kan spring, en daar’s glad ’n donkieresies ook.

Die oggend van die sportdag word Blommie Kabouter vroeg wakker. Hy spring uit die bed en was sy gesig. Toe trek hy sy groen klere aan en sit sy rooi mus op. Hy hardloop na Heksie se huis, want hulle gaan saam resies toe.

Heksie staan al op die stoep vir Blommie en wag. Sy het haar swart punthoed op en haar lang swart jas aan, maar in plaas van haar swart skoene, het sy ’n paar spierwit tekkies aan. “Kyk my nuwe tekkies, Blommie,” sê sy toe Blommie nader kom.

“Hoekom het jy sulke skoene aan, hè, Heksie?” vra Blommie.

“Dis om my vinniger te laat hardloop. Vandag wil ek ook een van die pryse wen. Ek wen nooit nie.” En Heksie skud haar kop só heen en weer dat haar hoed amper afval.

“Dis nie eintlik die skoene wat jou laat vinnig hardloop nie, Heksie. Jy kán vinnig hardloop of jy kan nié vinnig hardloop nie.”

Heksie skud weer haar kop. “Is nie, Blommie, jy sal sien ek sal vandag vinnig hardloop omdat ek my nuwe tekkies aanhet. Kyk hoe vinnig hardloop Karel Kat as hy tennis speel met sy tekkies aan.”

“Maar tennis is nie soos resies hardloop nie, Heksie,” sê Blommie moedeloos. “As jy vinnig wil hardloop, moet jy regte hardloopskoene hê. Dis daardie soort met die spykers in die sole. Die spykers maak dat jy goed vastrap in die grond.”

“O nee, jong, ek weet van daardie spykerskoene. Ek het met ons laaste resies sulkes gehad en toe ek wou hardloop, steek die spykers so diep in die grond, ek kon nie wegkom nie. Nee, ek sal maar met my tekkies hardloop. Die spykerskoene gebruik ek om my blombeddings mee te hark.”

Blommie wil nie meer stry nie, want dis al laat. En koning Rosekrans het gesê hulle moet vroeg op die oop stuk grond voor sy paleis wees.

Toe Blommie en Heksie by die sportveld aankom, is die meeste kabouters al daar. Dié wat gaan hardloop en hoogspring, staan in die middel van die veld, en dié wat kom kyk het, sit op bankies om die veld. Op die hoogste bank sit die koning.

Voor die resies begin, staan koning Rosekrans op. “Kabouters van Blommeland, voor ons begin met die verrigtinge, wil ek …”

“Wat’s dít, koning Roseboom!” vra Heksie skielik.

“Rosekrans, Heksie, sy naam is Rosekrans!” fluister Blommie bang.

“Ag … e … ek bedoel … Wat’s dít, koning Rosekrans?” vra Heksie weer.

“Wat is wat, Levinia?” Die koning noem altyd vir Heksie “Levinia” as hy kwaad is.

“Wat’s … ver … ver … daardie groot woord wat Koning gesê het.”

“O, jy bedoel verrigtinge?” vra die koning.

“Ja, Koning, ek weet nie van verrigtinge nie,” sê Heksie en trek haar hoed oor haar oë toe sy sien die ander lag vir haar.

“Verrigtinge, Levinia, is al die dinge wat vandag gaan gebeur. Ons gaan resies hardloop en hoogspring en donkies ry, dit alles is die verrigtinge,” sê die koning met sy slim stem.

“Haai, koning Rosedoring, agge ek bedoel Roseboom, ag ek bedoel Rose … Koning is darem slim,” sê Heksie vinnig.

“Ja, Levinia, en nou wil ek ook ’n kans hê om te praat, asseblief. Kabouters, voor ons begin met die verrigtinge, my diamantring het gisteraand uit my paleis verdwyn. Die kabouter wat dit vir my terugbring, kry ’n groot present. Nou toe, julle moet maar kyk of julle dit nie iewers kry nie.”

“Sê nou ’n Gifappeltjie het dit gesteel?” vra Heksie met groot oë.

“Ag, Heksie, jy en jou ewige Gifappeltjies. Hoe sal ’n Gifappeltjie nou in die paleis inkom?” vra Blommie. “Hulle kan nie eens in Blommeland inkom nie, ons wagte is te slim.”

Heksie wil nog stry, maar die groot kabouter wat die teken moet gee vir die resies om te begin, blaas sy fluitjie en roep: “Dié wat in die honderdtreeresies wil hardloop, moet nou kom!”

“Dis ons, Blommie, ons hardloop ook mos in die honderdvoetresies,” sê Heksie en trek Blommie aan sy mou na die plek waar hulle bymekaar moet kom.

Uiteindelik is almal by die wegspringplek.

Toe al die kabouters wat om die veld sit vir Heksie met haar nuwe tekkies sien, skreeu hulle: “Jy moet vinnig hardloop, Heksie, jy moet wen!”

Heksie kry so skaam, sy steek haar vinger in haar mond en skop met haar nuwe tekkie teen ’n graspol.

“Toe, Heksie, staan reg, julle moet nou hardloop,” sê die groot kabouter.

Toe hulle mooi in ’n ry staan, sê die kabouter: “Ek sal tot drie tel, so: Een, twee, drie! En as ek sê drie, moet julle wegspring. Goed dan, EEN, TWEE …”





Maar voor hy DRIE kan sê, spring Heksie weg en hardloop dat jy net tekkiesole sien. Die groot kabouter blaas hard op sy fluitjie. “Heksie, kom terug! Jy het te gou weggespring!”

Heksie gaan staan eers en kom dan stadig terug, met haar hoed oor haar oë, want sy is skaam.

“Jy moet wag tot ek DRIE tel,” sê die kabouter kwaai.

“Ja, maar jy tel te stadig,” sê Heksie en gaan staan weer in die ry.

Die kabouter tel weer en dié keer spring almal mooi gelyk weg. Heksie hardloop dat haar jas so waai en almal skreeu: “Heksie! Heksie gaan wen!”

Maar skielik gaan sy staan. Of liewer, sy gaan sit so skielik dat twee kabouters agter haar bo-oor haar val.

“Haai, julle moet darem kyk waar julle hardloop,” sê Heksie kwaai en toe skreeu sy vir dié wat nog hardloop: “Haai, julle moet vir my wag! My tekkie het losgekom! Ek maak dit net gou vas.” Maar hulle luister nie en hardloop tot by die wenpaal. Blommie is eerste daar!

Die kabouters klap hande vir Blommie, maar Heksie is sommer baie vies. “Dis nie reg nie, julle het nie eens vir my gewag nie.”

“Maar Heksie,” sê Blommie, “jy hou mos nie sommerso in die middel van ’n resies op met hardloop nie. En kyk hoe het jy die ander kabouters laat val.”

“Dis omdat hulle nie gekyk het nie. En kan ek miskien hardloop as my tekkierieme los is, hè?” vra Heksie.

Maar die kabouters wat gehardloop het, is kwaad vir Heksie en hulle sê: “Sy kan nie weer saam met ons hardloop nie. Laas keer het haar hoed weggewaai en toe het sy ook ’n klomp van ons laat val. Sy hardloop nie weer saam met ons nie!”

Arme Heksie. Haar hart is so seer, maar hulle wil haar nie weer laat hardloop nie. Sy sit nou maar eenkant onder ’n boom met haar hoed oor haar oë.

Naderhand is dit tyd vir die donkieresies. Blommie is baie jammer vir Heksie en hy gaan haal haar om ook op ’n donkie te ry. “Hulle sal nie vir my ’n donkie gee nie,” huil Heksie. “Hulle is kwaad vir my.”

Maar Blommie praat mooi en naderhand sê die kabouters Heksie kan maar aan die resies deelneem. Dáár sal sy tog nie weer kabouters kan laat val nie.

Heksie is baie bly en spring sommerso woeps! op die donkie. Maar toe sy op die donkie sit, begin sy weer huil. Die ander kyk hoekom sy huil en toe lag hulle dat hulle byna van hulle donkies afval.





“Ja, toe, lag maar,” huil Heksie. “Julle hou julle al heeldag snaaks en nou gee julle vir my ’n donkie sonder ’n kop!”

“Heksie!” lag Blommie. “Jy sit agterstevoor op jou donkie, dis dié dat jy dink hy’t nie ’n kop nie!”

“O,” sê Heksie verleë en draai stadig om tot sy die donkie se kop sien.

Toe almal mooi op hulle donkies sit, tel die groot kabouter weer tot by drie en daar trek hulle. Die donkies hardloop vinnig en Heksie klou vas aan hare se maanhare. Die kabouters wat om die veld sit klap hande en skreeu vir Heksie. Maar skielik waai Heksie se punthoed af!

“Haai, daar trek my hoed!” skreeu sy. Toe sy so skreeu, skrik die donkie en begin nóg vinniger hardloop. “Keer! Keer! My donkie hardloop met my weg!” skreeu Heksie, maar niemand keer nie.

Die donkie hardloop onder ’n groot boom deur en Heksie gryp een van die takke en daar hang sy! Sy klim toe maar op die tak en roep: “Bring ’n leer!”

Terwyl sy so roep, sien Heksie sy sit langs ’n kraaines. Daar is eiertjies in die nes, maar die mammakraai het so geskrik toe Heksie op die tak beland dat sy weggevlieg het. Heksie kyk in die nes en daar langs die eiertjies sien sy iets blink. Die koning se ring!

“Ek het die koning se ring gekry!” roep Heksie vir die kabouters wat aankom met die leer. Die kabouters help Heksie om uit die boom te klim en sy gaan gee vir die koning sy diamantring.

“My aarde, nè,” sê die koning. “Die kraai het natuurlik my ring gesteel. Hulle is mos baie lief vir blink goed. Nou ja, Heksie, omdat jy my ring gekry het, moet ek vir jou ’n prys gee. Ek dink jy is ’n baie … ’n … slim Heksie.”

“Aag, koning Roseboom,” sê Heksie en boor met haar toon in die grond.

“Rosekrans,” fluister Blommie.

Die koning lag net. “Hier is jou present, Heksie. ’n Splinternuwe paar hardloopskoene. Van dié met die spykers in die sole.”

Die kabouters klap hande, want hulle is nie meer kwaad vir Heksie nie.

“Haai, dankie, Koning,” sê Heksie. “My ou hardloopskoene se spykertjies het juis uitgeval omdat ek my blombeddings met hulle gehark het. Nou is ek bly oor die nuwes.”

“WAT! Jy gaan tog nie jou tuin met die skoene hark nie!” sê die koning kwaai.

“Ja, Koning sien, die spykertjies …”

Maar voor Heksie verder kan praat, sê Blommie: “Heksie maak sommer ’n grap, Koning. Kom ons loop nou, Heksie.”

Daardie aand toe hulle op Heksie se stoep sit en melk drink, sê Heksie: “Blommie, dit was darem snaaks toe daardie bondel kabouters so oor my val, weet jy!”





Liewe Heksie word babawagter




Heksie werk in haar tuin. Sy sit plat op die grond en met ’n tuinvurk maak sy gate in die grond. In die gate plant sy sulke klein plantjies.

Terwyl sy besig is met plant, sê sy: “Viooltjies in die voorhuis, viooltjies blou en rooi.”

Skielik sê ’n stem agter haar: “Hallo, Heksie!”

“Haai, oe, hoe laat jy my amper skrik, Kwaaitjie,” sê Heksie.

“Wat maak jy, Heksie?” vra Kwaaitjie.

“Ek sê op,” sê Heksie. “Viooltjies in die voorhuis …”

“Nee man, nie dit nie, ek wil weet wat maak jy hier in die tuin.”

“Haai, Kwaaitjie, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar vir ’n kabouter wat in Blommeland bly, is jy darem baie dom. Kan jy nie sien ek plant viooltjies nie?” vra Heksie vies.

Kwaaitjie sê niks. Hy begin net lag. Hy lag so, hy kan nie ophou nie.

Nou is Heksie nog vieser. “Hm, vir ’n kabouter wat kastig kwaai is, kan jy danig baie lag ook.”

“Ek’s jammer, Heksie,” sê Kwaaitjie terwyl hy die lagtrane afvee. “Ek lag maar net omdat jy die plante onderstebo plant!”

“O,” sê Heksie en trek haar hoed oor haar oë.

Kwaaitjie sien Heksie kry skaam en hy’s jammer hy’t vir haar gelag. “Toemaar, Heksie, ek sal jou help, dan plant ons hulle gou reg, hoor?”

“Dankie, Kwaaitjie,” sê Heksie. “Weet jy, dis die eerste keer dat ek viooltjies plant. En ek weet nog nie mooi van hulle nie.”

Terwyl hulle plant, sê Kwaaitjie: “Ek het eintlik vir jou ’n groot guns kom vra.”

“Wat is dít vir ’n ding?” vra Heksie en skuif haar hoed op haar kop rond soos sy dink.

“Ag, Heksie, dit beteken maar net ek wil jou vra om iets vir my te doen.”

“O,” sê Heksie. “Nou hoekom sê jy nie so nie, hè, Kwaaitjie? Weet jy, ek weet nie van groot woorde nie. Wat gaan jy my vra om vir jou te doen?”

“Ek wil vra of jy asseblief vanmiddag my bababoetie sal kom oppas. Ek moet dorp toe gaan en ek kan hom nie alleen by die huis los nie.”

“Haai, Kwaaitjie, dis wonderlik dat jy aan my gedink het,” sê Heksie skamerig. “Ek sal graag jou boetie wil oppas, maar sê nou hy huil?”

“Hy sal nie, Heksie. Hy slaap omtrent die hele middag.”

“Goed, Kwaaitjie, ek sal kom,” sê Heksie. “Ek plant net gou die papawers klaar.”

“Het jy nie gesê dis viooltjies nie?” vra Kwaaitjie en wil net weer lag.

“Ja, ek het net ’n bietjie vergeet van die viooltjies,” sê Heksie en laat haar kop sak.

“Goed, Heksie, dan sien ek jou vanmiddag,” sê Kwaaitjie en stap huis toe.

Heksie plant gou die viooltjies klaar, was die grond van haar hande af, bind ’n strikkie in die toutjieshare wat onder haar hoed uitsteek en spring op haar besem en vlieg na Kwaaitjie Kabouter se huis toe.

Kwaaitjie wag al vir haar op die stoep. “Kom, Heksie, ek gaan wys jou waar my boetie se kamer is.”

Heksie loop saam met Kwaaitjie kamer toe, en daar in ’n bedjie lê die pragtigste kaboutertjie wat Heksie nog ooit gesien het. Hy kyk met groot oë na haar.

“Ag, is hy nie oulik nie!” sê Heksie. “Kyk net sy mooi rooi ogies.”

“E … hulle is eintlik blou,” sê Kwaaitjie en wil net weer lag.

Die kaboutertjie skater van die lag. Sy mond is so groot oop, sy ondertand steek uit. Dis al tand wat hy het, want hy is mos nog klein en kabouters kry nie gou tande nie.

“Kyk, hy het ook net een tand soos ek,” sê Heksie. “Maar sy tand sit onder en myne bo.”

“Nou ja, totsiens, Heksie, ek loop nou. Sit maar net ’n rukkie hier by hom, hy sal nou-nou slaap,” sê Kwaaitjie en stap dorp toe.

Toe Kwaaitjie weg is, gee die kaboutertjie so ’n lang gaap. “Siestog, is jy vaak?” vra Heksie.

“Ja, tannie Liewe Heksie,” sê die kleintjie.

“Haai, jy kan praat,” sê Heksie verstom.

“Ja, so ’n bietjie, want ek is al drie jaar oud,” sê die kaboutertjie en gaap weer.

“Wat is jou naam?” vra Heksie.

“Kleinkwaaitjie Kabouter,” sê hy.

“O,” sê Heksie. “Nou toe, Kwaaikleintjie, agge ek bedoel Kleinkabouter agge … toe, babatjie, slaap nou. Moet ek vir jou sing?”





“Asseblief, tannie Liewe Heksie.”

“Goed, en wanneer jy slaap moet jy vir my sê dan hou ek op, hoor?” sê Heksie en begin sing: “Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie …” alles eentonig op een noot.

Heksie sing net ’n kort rukkie, toe sê Kleinkwaaitjie: “Dankie, tannie Liewe Heksie, jy kan maar ophou, want ek slaap.”

“O,” sê Heksie en hou op met sing. Die kleintjie lê met sy ogies toe. “Ek sal nou maar ’n bietjie op die stoep gaan sit,” fluister Heksie en stap stoep toe.

Heksie sit net vir ’n rukkie op die stoep, toe klim sy op haar besem en vlieg na Blommie se huis. Sy kom met ’n draai op sy stoep te lande en Blommie, wat in sy rystoel sit en slaap, skrik so dat hy amper van die stoel af val.

“Heksie!” sê hy. “Waar kom jy nou vandaan?”

“Ek het vir jou kom kuier, Blommie,” sê Heksie skaam en draai die strik in haar hare om haar vinger. “Maar jy moet net sê as jy nie wil hê ek moet vir jou kom kuier nie.”

“Ek is baie bly jy het, Heksie,” sê Blommie. “Maar ek het gedink jy moet vanmiddag Kwaaitjie se boetie oppas. Hy het vir my gesê hy gaan jou vra.”

“Haai, oe!” sê Heksie.

“Wat is dit, Heksie, wat makeer?” vra Blommie.

“Ek moet by Kwaaitjie se huis wees!”

“Ag, Heksie,” sug Blommie. “Jy het al weer vergeet. Kwaaitjie wag seker al vir jou.”

“Nee hy wag nie, want ek wás by sy huis.”

“Nou praat jy deurmekaar,” sê Blommie.

“Ek was by sy huis en toe die kleintjie slaap, het ek op die stoep gaan sit. Maar ek het vergeet ek is op Kwaaitjie se stoep. Ek het gedink dis my eie stoep en toe dink ek ek wil vir jou kom kuier en toe klim ek op my besem . . .” Heksie trek haar hoed sommer ver oor haar oë.

“Ai tog, Heksie! Maar kom ons gaan nou dadelik terug na Kwaaitjie se huis toe. Sê nou Kleinkwaaitjie word wakker? Hy sal mos huil,” sê Blommie.

“Haai, ja!” sê Heksie en hulle spring op haar besem en gaan terug na Kwaaitjie se huis.

By die huis is alles baie stil. “Foeitog, hy slaap seker nog. Kom ons gaan loer net,” sê Heksie en loop op haar tone kamer toe, met Blommie agterna. In die kamer gaan staan Heksie stil en sê net: “Haai, oe!”

“Wat makeer nou, Heksie?” vra Blommie.

“Kleinkwaaitjie is weg!” huil Heksie. “Kyk, die bed is leeg!”

Blommie kyk, en ja, sowaar, die bed is leeg. “Ons moet hom gaan soek, Heksie. Hy kan seker nie ver wees nie.”

“Sê nou ’n Gifappeltjie het hom gesteel?” sê Heksie.

“’n Gifappeltjie sal nie in die dag hierheen kom nie, Heksie,” sê Blommie, maar hy is ook maar bang. “Kom ons soek maar eers hier rond.”

“Wat sal Kwaaitjie sê?” huil Heksie. “Jy weet hy is baie kwaai.”

“Ja, Heksie, ek weet. Maar jy praat te veel. Soek jy nou daar na die paleis se kant toe en ek sal in die bos gaan soek. Die een wat hom kry, moet net hard fluit, dan sal die ander een weet. Jy kan mos fluit?” vra Blommie.

“Ja, Blommie, hoor net.” En Heksie sit haar twee pinkies in haar mond en fluit dat Blommie eintlik sy ore moet toedruk. “Ek kan mooi hard fluit, nè?” sê Heksie skaam.

“Ja, pragtig,” sê Blommie. “Maar ons moet nou soek, voor Kwaaitjie huis toe kom.”

Blommie en Heksie begin oral soek na Kwaaitjie se boetie. Heksie is naderhand al by koning Rosekrans se paleis, maar sy kry nie vir Kleinkwaaitjie nie. Heksie huil nou aanmekaar. By die koning se paleis sê sy vir een van die kabouters wat by die deur waghou: “Ek moet vir koning Rose … Rose … ek moet die koning sien.”

Die kabouter wil nog stry, maar Heksie huil so dat hy haar liewer maar na die koning toe neem.

“Wat makeer, Levinia?” vra koning Rosekrans vriendelik.

“Koning Rosebaard, jy moet my in die tronk sit,” snik Heksie.

“Jou in die tronk sit? Maar hoekom?” vra die koning.

“Ek het Kwaaitjie se boetie laat wegraak!”

“WAT!” skreeu die koning, en Heksie vertel vir hom die hele storie.

Toe sy klaar is, is die koning sommer baie kwaad. “Levinia, jy’s die domste heks wat ek ken. Ek gáán jou in die tronk sit! Waar het jy gesien iemand laat ’n kaboutertjie wegraak. En my naam is ROSEKRANS, nie ROSEBAARD nie! Wagte, vat hierdie heks en gooi haar in die tronk.”

Arme Heksie sit daar op die harde bed en huil, maar nie lank nie of ’n wag maak die deur oop en sê die koning wil haar sien.

Heksie loop huil-huil na die koning toe. Sy wonder wat hy nou met haar gaan maak. Miskien gaan hy haar wegjaag uit Blommeland.

Sy kom in die groot saal waar koning Rosekrans op sy troon sit, maar die koning is nie alleen nie. By hom is Blommie en Kwaaitjie en … Kleinkwaaitjie!

“Haai, waar kom hy vandaan?” vra Heksie en vee die trane met haar jas se punt af.

“Hy was nooit weg nie!” lag Kwaaitjie.

“Is nie, hy was!” stry Heksie. “Ek het self gesien die bed is leeg.”

“Ja, Heksie,” lag Blommie, “maar dit was die verkeerde bed. Ons het in Kwaaitjie se kamer gekyk, nie in Kleinkwaaitjie se kamer nie!”

“O,” sê Heksie en trek haar hoed oor haar oë en boor met haar toon in die vloer.

“Maar ek dink jy het ’n goeie les geleer, Levinia,” sê die koning. “Jy sal seker nie weer vergeet as jy ’n baba moet oppas nie.”

“Nee, koning Rosedoring,” sê Heksie skaam.

“Rosekrans,” fluister Blommie. Maar die koning lag net.

Toe hulle huis toe loop, sê Kleinkwaaitjie: “Jy moet weer vir my kom kuier, tannie Liewe Heksie, hoor jy?”

“Goed ek sal, Kleinkaboutertjie … e … Kwaaibabatjie … e …”

“Kleinkwaaitjie,” sug Blommie en die kleintjie lag te lekker.

Daardie aand toe hulle op Heksie se stoep sit, sê Heksie: “Jy weet, Blommie, ek is seker die snaaksste babawagter wat ek ken.”





Liewe Heksie in Gifappeltjieland




Eendag is Heksie besig om haar stoep te vee. Sy vee dat die stof so staan en elke keer nies sy: “Atiesjoe!”

Skielik hoor sy iemand roep, maar sy kan nie mooi sien wie dit is nie.

Al wat sy deur die stof sien, is ’n kabouter met geel klere wat na haar toe aankom.

“Dis ’n Gifappeltjie! Hulle dra mos sulke geel klere!” sê Heksie verskrik en kruip vinnig agter die stoepmuur weg.

Sy is baie bang, want die Gifappeltjies is slegte kabouters wat naby Blommeland woon.

“Heksie! Heksie, waar is jy!” roep die kabouter.

“Haai, dit klink soos Blommie,” sê Heksie saggies vir haarself. “Maar dis seker ’n Gifappeltjie wat maak of hy Blommie is en nou kom hy my vang.”

Die kabouter kom nader. “Sjoe, maar hier is darem baie stof,” sê hy.

Heksie sit doodstil, maar toe wil sy nies. Sy druk haar neus toe, maar dit help nie. “Atiesjoe!” nies sy.

Die kabouter lag. “Kom maar uit daar agter die muur, Heksie. Ek het jou gehoor en ek kan jou hoed se punt sien uitsteek!”

Heksie spring op en hou haar besem reg om die kabouter te slaan. “Wat soek jy hier, jou stoute Gifappeltjie?”

Nou lag die kabouter eers. “Ek is nie ’n Gifappeltjie nie, Heksie, ek is Blommie Kabouter!” sê hy.

Heksie laat sak haar besem en kyk mooi. Ja, sowaar, dit is Blommie. “Ek wil nou nie snaaks wees nie, Blommie, maar hoekom het jy Gifappeltjieklere aan?”

Blommie lag te lekker, maar dan hou hy skielik op. “Ek moet eintlik nie lag nie, Heksie. ’n Vreeslike ding het gebeur.”

“Wat het gebeur, hè, Blommie?” vra Heksie.

“Koning Rosekrans is weg,” sê Blommie.

“Het ons hom verloor?” vra Heksie.

“Ja,” sê Blommie.

“Haai, oe,” sê Heksie met groot oë. “Waar is hy?”

“Ek sê mos hy’s weg. Niemand weet waar hy is nie. Gistermiddag het hy in die bos gaan stap en nie weer teruggekom nie.”

“Ek dink die Gifappeltjies het hom gesteel,” sê Heksie.

“Ek dink ook so,” sê Blommie.

“Haai, regtig, Blommie?” vra Heksie. “Ander kere wanneer ek sê van die Gifappeltjies, sê jy ek is sommer snaaks.”

“Nee, dié keer is jy reg, Heksie. Die Gifappeltjies wil lankal Blommeland vir hulle vat. En as hulle ons koning het, sal hulle ons land ook kry. Ek gaan nou Gifappeltjieland toe om te kyk of die koning daar is.”

“Jy’s darem slim, Blommie,” sê Heksie. “Dis waarom jy daardie geel klere aanhet, nè? Nou lyk jy nes ’n Gifappeltjie.”

“Ja,” sê Blommie, “en ek het kom vra of jy my op jou besem tot naby Gifappeltjieland sal neem om te kyk of die koning daar is. As hy daar is, kom haal ons gou die ander kabouters om ons te help.”

“Ek sal jou op my besem vat, Blommie, maar dan moet ek gou vir my ’n geel rok maak. Dan lyk ek soos ’n Gifappeltjie-heks.”

“Toemaar, Heksie,” sê Blommie, “jy hoef nie soos ’n Gifappeltjie te lyk nie, want jy gaan mos nie by hulle land in nie. En buitendien, hulle het nie heksies daar nie. Hulle sal sommer weet jy’s nie ’n Gifappeltjie nie. Kom, ons moet nou dadelik ry, want ons weet nie wat hulle met die koning gaan maak nie.”

Heksie en Blommie spring op Heksie se besem en vlieg tot naby Gifappeltjieland. Hulle hou onder ’n groot boom stil.

“Jy moet nou hier wag tot ek terugkom, Heksie,” sê Blommie. “En as daar dalk ’n Gifappeltjie kom, spring jy op jou besem en vlieg weg.”

“Aag, wie’s nou bang vir ’n Gifappeltjie,” sê Heksie kwaai. “Ek sal hulle sommer met my besem slaan.” Heksie swaai die besem sodat sy amper Blommie se geel mus afslaan.

“Totsiens, Heksie,” sê Blommie en loop Gifappeltjieland toe.

“Totsiens, Blommie,” sê Heksie en gaan sit onder die boom met haar rug teen die stam. Sy gee ’n lang gaap en sê: “Haai, ek is nou so vaak ek dink ek sal vir myself ’n wiegeliedjie sing.” Heksie trek haar hoed oor haar oë en sing een van die twee wiegeliedjies wat sy ken: “Lamtietie, damtietie, doedoe my liefstetjie”, en sommer gou snork sy soos sy slaap.

Skielik sê ’n stem: “A, nou het ons jou!”

Heksie skrik wakker en probeer regop spring, maar sy kan nie. Om haar staan ’n klomp Gifappeltjies en hulle lag te lekker. “Ons het jou gevang soos ’n vis in ’n net,” sê hulle en klap hande.

Toe sien Heksie hulle het sowaar ’n net oor haar gegooi. “Julle stoute goed, laat my uitkom, laat my uitkom, ek’s g’n vis nie!” gil Heksie.

Maar die Gifappeltjies lag net. “O nee, jy gaan saam met ons. Nou het ons al twéé van Blommeland gevang.”





Hulle steek ’n stok deur die punte van die net en tel dit op hulle skouers, en daar hang Heksie in die middel van die net. Hulle begin Gifappeltjieland toe loop. Eers skreeu en skop Heksie, maar later word dit vir haar lekker om so in die net te hang.

“Ek hou daarvan om so te swaai. Maak my wakker as ons in julle land kom, hoor?” sê Heksie vir die Gifappeltjies, en raak weer aan die slaap.

Heksie word eers wakker toe ’n harde stem sê: “Gaan gooi haar in die tronk saam met die ander een!”

Heksie sien sy’s in ’n groot saal. Die Gifappeltjies het die net afgehaal en sy staan voor ’n groot stoel. Op die stoel sit ’n lelike kabouter met ’n geel baard.

Heksie kyk rond in die saal. Alles lyk baie vuil en stowwerig. “Is dit nou eintlik julle paleis?” vra sy.

“Ja, dis ons paleis en wat daarvan?” vra die kabouter met die baard.

“Ek wou maar net sê dis maar vuil hier by julle. As julle vir my my besem gee, sal ek ’n bietjie uitvee.”

“Ho, ho, ho!” lag die kabouter. “Jy dink ons is dom, nè? Jy wil net jou besem hê sodat jy kan wegvlieg.”

Heksie krap haar kop. “Haai, dis nogal ’n goeie plan. Ek het nie daaraan gedink nie. Jy’s ’n ou slimme!” sê sy vir die kabouter.

“Natuurlik is ek slim, want ek is die koning van Gifappeltjieland.” Die kabouter slaan met sy vuis op sy bors.

“Vir ’n koning is jy maar lelik. Ons koning in Blommeland is baie mooier,” sê Heksie neus in die lug.

“Vat haar hier uit! Gooi haar in die tronk!” skreeu die kabouter.

Die Gifappeltjies gryp vir Heksie en gooi haar in die tronk. Sy beland op ’n groot hoop strooi en lê sommer net daar en huil.

“Moenie huil nie, Levinia,” sê iemand.

Heksie hou op met huil en sit regop. “Wie’s dit wat met my praat? Ek kan niks sien nie, dis pikdonker.”

“Levinia, jou hoed is oor jou oë, dis hoekom jy nie kan sien nie,” sê die stem kwaai.

Heksie haal haar hoed van haar oë af. “Haai, koning Rosebaard, dis sowaar jy … u … Waar kom Koning vandaan?”

“Die Gifappeltjies het my gevang,” sê die koning.

“O ja, nou onthou ek, ek en Blommie het nog na koning Rosebaard …”

“Rosekrans!” sê die koning kwaai.

“… Rosekrans kom soek. Ek wonder waar Blommie is?”

“Ag, hulle het hom seker ook al gevang,” sê die koning hartseer. “So sal hulle al ons kabouters vang en dan vat hulle ons land vir hulle.”

“Koning moenie so hartseer wees nie,” sê Heksie. “Ek sal aan ’n plan dink om ons hier uit te kry.”

Die koning sê maar liewer niks. Hy weet Heksie is ’n bietjie dom en wil haar nie seermaak nie.

Skielik gaan die tronkdeur oop en twee Gifappeltjies kom in met kos vir die koning en Heksie. Heksie kyk na die een Gifappeltjie en sê: “Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar jy lyk soos iemand wat ek ken.”

“Stil jy!” sê die Gifappeltjie kwaai en toe sien die koning en Heksie dis Blommie Kabouter!

“Haai …” sê Heksie, maar voor sy verder kan praat, druk die koning ’n stuk brood in haar mond.

“E … luister,” sê Blommie vir die Gifappeltjie. “Gaan hou jy buite wag, dan bly ek hier tot die twee klaar geëet het.”

“Goed, ek sal die deur sluit. Roep my net as jy wil uitkom,” sê die Gifappeltjie en gaan staan buite.





Toe hy uit is, sê die koning: “Levinia, party dae is jy die domste heks wat ek ken. Jy het amper vir die Gifappeltjie laat weet Blommie is nie ’n Gifappeltjie nie.”

Heksie trek haar hoed oor haar oë omdat sy skaam is. “Ek is jammer, koning Rosedoring, maar ek was so bly om Blommie te sien, ek het skoon vergeet van die ander Gifappel.”

“Nou ja, toemaar,” sê die koning. “Ek is darem bly om te sien hulle het toe nie vir Blommie gevang nie.”

“Hulle weet glad nie ek’s nie ’n Gifappeltjie nie,” lag Blommie. “Maar ons moet nou ’n plan maak om weg te kom.”

“As hulle nie my besem gevat het nie, kon ons daarmee weggevlieg het,” sê Heksie.

“En jy kan seker nie aan toorwoorde dink om nog ’n besem te toor nie, nè, Heksie?” vra Blommie.

“Nee, ek kan nie,” sê Heksie en wil begin huil. Die koning sug net.

“Heksie,” sê Blommie, “onthou jy die dag toe jy die perd getoor het? Die dag toe Karel se motor vasgesit het, het die perd ons mos gehelp. Onthou jy?”





“Ja, maar ek het daardie perd se naam vergeet,” sê Heksie.

“Maar Levinia, watter soort heks is jy dan?” sê die koning kwaai.

“Ek sê altyd ek is nie soos ander heksies nie, koning Rosebaard,” sê Heksie.

Blommie is bang die koning word weer kwaad. “Kom ons dink, Heksie, miskien onthou ons die perd se naam.”

Heksie skuif haar hoed op haar kop rond. “Ek dink sy naam was … was Hendrik.”

“Ag, is nie, man,” sê Blommie en hy dink. “Nou weet ek, sy naam is Griet!”

“Haai dis ’n snaakse naam vir ’n perd,” lag Heksie. “Dink jy regtig sy naam is Griet?”

“Ja, wat kan ek vir julle doen?” vra ’n stem.

“Haai, Griet, dis jy!” lag Heksie.

“Natuurlik is dit ek, jy het my dan nou net getoor,” sê Griet.

“Griet, jy moet ons asseblief terugneem Blommeland toe,” sê Blommie.

“Ja, maar hoe gaan ons uitkom?” vra die koning. “Die Gifappeltjie het die deur gesluit.”

“Ek sal hom roep om oop te maak en dan jaag ons uit,” sê Blommie.

Die koning kyk na Griet met sy groot pote en wollerige hare en hol rug en sê: “Dié perd lyk nie of hy baie vinnig kan hardloop nie.”

“O nee, Koning, daar maak jy ’n fout,” sê Griet. “Ek is ’n toorperd, al is dit nou Heksie se toorperd. En ek kan baie vinniger hardloop as enige Gifappeltjie.”

“Nou goed, kom ons probeer maar,” sug die koning.

Heksie en Blommie en die koning klim op Griet se rug. Toe almal mooi sit, roep Blommie: “Gifappeltjie, maak oop die deur, asseblief!”

Die Gifappeltjie maak die tronkdeur oop en daar hardloop Griet soos blits by hom verby.

“Keer! Keer! Die koning van Blommeland kom weg!” skreeu die Gifappeltjie. Die Gifappeltjies probeer keer, maar Griet is te vinnig.

Griet hardloop en hardloop tot by koning Rosekrans se paleis. Toe die koning weer veilig in sy paleis is, sê hy: “Griet, Heksie en Blommie, ek wil vir julle iets doen omdat julle my gered het. Blommie, jy kry ’n nuwe pak klere, want daardie Gifappeltjieklere is darem te lelik, en Heksie, jy kry ’n nuwe besem, en Griet kan kies wat hy wil hê.”

“Dankie, Koning,” sê Griet, “ek sal bly wees om ’n bietjie suiker te kry voor Heksie my terugtoor Towerland toe.” En die koning gee vir Griet ’n hele bord suiker.

Daardie aand toe Heksie en Blommie op die stoep sit, sê Heksie: “Jy weet, Blommie, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek is seker die slimste Heksie wat ek ken.”





Liewe Heksie en die dief




Heksie en Blommie kuier by Karel Kat in die stad. Hulle bly in die blomhuisie in Karel se meneer en mevrou se groot tuin. Die tuin is vir Blommie baie mooi. Hy is mos ’n kabouter van Blommeland en is baie lief vir blomme.

Eendag sit Karel en Heksie en Blommie onder ’n roosboom toe Karel se meneer en mevrou daar verbyloop.

Die vrou sê vir haar man: “Ons blomme is vir my mooier as ooit.”

“Ja,” sê die man, “dalk is dit omdat Karel so baie by die blomme is. Dis nou al drie dae dat hy so in die tuin rondloop. Miskien vang hy die wurms en goggas wat ons blomme so eet. Kyk, daar sit hy al weer onder ’n roosboom.”

“Haai, hulle sien jou, Karel, maar nie vir ons nie,” lag Blommie. Karel se meneer en mevrou hoor dit nie eens nie. Hulle stap verby na die ander blomme toe.

“Hm,” sê Karel vies, “ek wonder wat vir ’n kat dink hulle is ek. Ek eet g’n wurms en goggas nie. Dis omdat julle hier is dat die blomme so mooi is.”

“Ja, maar hulle weet dit nie,” sê Heksie. “Hoekom kan hulle ons nie sien nie, hè, Karel? Eendag op die strand het die mense ons gesien. Onthou jy, Blommie?”

“Ja, maar toe was almal met vakansie, Heksie,” sê Blommie.

“Blommie is reg,” sê Karel en vryf oor sy snorbaard soos hy altyd maak as hy iets slims wil sê. “Dis net wanneer mense rus en mooi gedagtes dink dat hulle julle sal sien. Wanneer hulle so besig is soos hier in die stad, of as hulle nie mooi gedagtes het nie, sien hulle nie kabouters en heksies of feetjies nie.”

“O Karel, jy is slim,” sê Heksie, “maar wat is g … g … gedagtes? Dis ’n baie groot woord en ek weet nie van groot woorde nie.”

“Gedagtes, Levinia, is goeters waaraan ’n mens dink. As ’n mens aan mooi dinge dink, het jy mooi gedagtes en as jy aan slegte dinge dink, het jy slegte gedagtes.”

“O,” sê Heksie. “Ek dink ek is honger.”

“Nou kom,” lag Karel, “hulle sit mos altyd my kos by die blomhuisie neer, dis seker nou al daar.”

Die drie stap blomhuisie toe en daar staan Karel se kos al klaar en wag.

“Eet julle maar die kos, ek gaan eetkamer toe, waar my meneer en mevrou eet,” sê Karel.

“Ons kan nie elke dag jou kos opeet nie, Karel,” sê Blommie. “Bly hier, dan deel ons dit.”

“Nee, Blommie, eet julle dit maar. Meneer gee altyd vir my heerlike stukkies vleis onder die tafel. En buitendien,” Karel gee sy snor ’n draai en trek sy strikdas reg, “hou ek daarvan om onder ’n mooi gedekte tafel te eet.”

“Sal jy ons vanmiddag wys hoe lyk dit binne-in die huis, hè, Karel?” vra Heksie.

“Ja, wanneer my meneer en mevrou vanmiddag ’n bietjie slaap, sal ek julle gaan wys,” sê Karel en stap huis toe om te gaan eet.

Heksie en Blommie eet klaar. Hulle wag en na ’n lang ruk kom Karel eers terug blomhuisie toe. “Hoekom het jy so lank weggebly, hè, Karel?” vra Heksie.

“Sjjt, Heksie,” fluister Blommie, “kan jy nie sien Karel is omgekrap nie?”

“Is jy omgekrap, Karel?” vra Heksie.

“Ja, Levinia, ek is baie omgekrap,” sug Karel.

“Hoe is jy nou weer as jy omgekrap is?” vra Heksie. “Dis ’n groot woord wat ek al van vergeet het.”

“As jy omgekrap is, Heksie, voel jy hartseer en kwaad en alles deurmekaar,” sê Karel.

“Hoekom voel jy hartseer en kwaad en alles deurmekaar, hè, Karel?”

“Heksie, ’n mens vra nie so baie nie,” raas Blommie.

“Nee, sy kan maar vra,” sê Karel. “Ek het vanmiddag aan tafel baie slegte nuus gehoor. Meneer het vir mevrou gesê hulle moet ’n waghond kry, want katte kan nie waghou nie!”

“’n Waghond!” sê Blommie verskrik. “Maar katte en waghonde is mos nie maats nie!”

“Presies,” sê Karel. “’n Hond sal my heeldag in die bome opjaag en ek sal nooit rus hê nie. En buitendien, ons familie is nie die soort katte wat van honde hou nie.”

“Ons familie ook nie. Ons hou meer van katte,” sê Heksie.

“Wat gaan jy doen, Karel?” vra Blommie.

“Ek weet nie, Blommie.” Karel lyk sommer baie hartseer. “Ek sal maar vir my ’n ander woonplek moet gaan soek, maar ek wil nie graag weggaan nie, want ek bly lekker hier. En buitendien, dis moeilik om woonplek te kry, die meeste mense het al katte. Ek moet maar kyk wat gebeur.”

“Ek is baie jammer, Karel,” sê Blommie hartseer. “Ek wens ons kan jou help.”

“Ag, hoe sal julle my kan help, Blommie,” sug Karel. “Maar kom, ek het mos belowe om vanmiddag vir julle te gaan wys hoe dit binne-in die huis lyk.”

Die drie stap huis toe.

Op die stoep is daar ’n groot deur wat na die sitkamer toe gaan. Die sitkamer is vol pragtige stoele en banke en tapyte en teen die mure hang die mooiste prente.

“O, ek wens my huis het so gelyk,” sê Heksie.

“So ’n huis kos baie geld,” sê Karel trots, “en my meneer en mevrou het baie geld.”

Toe Karel nog so praat, hoor hulle: “Koekoek! Koekoek!”

“Wat maak so?” vra Heksie en spring op die rusbank. Karel en Blommie lag te lekker. “Jy kan maar afkom, Heksie, dis net mevrou se horlosie. Kyk, daar hang hy teen die muur.”

Heksie sien die horlosie teen die muur, maar sy kan nie glo die horlosie maak so ’n snaakse geluid nie.

“Jy jok vir my, Karel, ek het nog nooit van ’n horlosie gehoor wat koekoek maak nie,” sê sy.

“Is, Heksie,” sê Blommie, “dis ’n koekoekhorlosie.”

“Wat’s dít?” vra Heksie.

“Ag, Levinia, ek kan sien jy ken nie die wêreld nie,” sê Karel, en Heksie trek skaam haar swart punthoed oor haar oë.

“Ek weet mos nie van koekoekhorlosies nie.” En Heksie wil net begin huil.

“Toemaar, ek sal jou vertel,” sê Karel vriendeliker. “Sien jy daardie deurtjie in die horlosie?”

Heksie haal haar hoed van haar oë af en kyk. “Ja, ek sien hom, wie woon daar?”

“Dis die koekoek wat daar woon,” sê Karel.

“Wat’s dit?” vra Heksie weer.

“Heksie, die koekoek is die voëltjie wat uitkom en sê hoe laat dit is,” sê Blommie. “Elke keer as vyftien minute verby is, gaan die deurtjie oop en die voëltjie kom uit en sê: ‘Koekoek!’”

“Haai,” sê Heksie, “wanneer gaan hy weer uitkom?”

“Hy sal netnou uitkom, ons moet net ’n rukkie wag,” sê Karel.

Hulle wag ’n hele rukkie en daar gaan die deurtjie in die horlosie oop en die voëltjie kom uit en sê: “Koekoek! Koekoek!”

“Haai, dis mooi, hy moet wéér,” sê Heksie en klap hande.

“Nee, nou sal dit eers weer ’n rukkie wees voor hy uitkom, en ons moet liewer loop. As my meneer en mevrou wakker word, sal hulle wonder waarom ek in die sitkamer is,” sê Karel.

“Ag, Karel, kan ek nie maar hier bly tot die aasvoël weer uitkom nie?” vra Heksie. “Jou mevrou-hulle kan my tog nie sien nie.”

“Nou goed dan, Levinia, en dis ’n koekoek, nie ’n aasvoël nie,” sê Karel.

“O,” sê Heksie.

“Ek en Blommie stap solank na die blomhuisie toe. Jy moet kom as jy klaar is, hoor?” sê Karel.

Heksie gaan sit op ’n stoel waar sy die horlosie mooi kan sien, vir wanneer die koekoek uitkom. Naderhand word sy ’n bietjie moeg. “Ek sal maar sing totdat die gediertetjie uitkom,” sê sy en begin sing. Sommerso “la-la-la”, alles op een noot. Terwyl Heksie nog so sing, hoor sy iets wikkel aan die venster. Sy bly stil en luister. Iemand is besig om die venster oop te skuif. Dis ’n man met ’n kwaai gesig. Hy stoot die venster groot oop en klim deur. Toe hy in die sitkamer staan, sien Heksie hy het ’n sak op sy rug.





“Haai, oe!” sê Heksie en toe skrik sy. Sê nou hy het haar gehoor? Maar die man hoor niks nie. Hy loop tot by die stoel waar Heksie sit en sien haar nie eens raak nie.

“Hy het seker slegte gedagtes, daarom kan hy my nie sien nie,” sê Heksie. “Ek wonder of hy kom kuier het. Maar dis darem snaaks om deur ’n venster te klim as ’n mens kom kuier. Ek wonder wat hy kom maak.” Heksie skuif haar hoed op haar kop rond soos sy wonder.

Die man maak suutjies een van die mooi kaste oop en begin lepels en messe en vurke in die sak gooi. Toe hy daarmee klaar is, loop hy na die koekoekhorlosie. Hy haal dit van die muur af en sit dit in die sak.

“Haai, oe,” sê Heksie weer, “ek wonder waarom hy al die goeters inpak. En die stouterd het die horlosie gevat voor die koekoek uitgekom het. Ek dink ek sal vir Karel gaan sê, dan kan hy vir die man sê om dit weer op te hang. As die koekoek klaar gesing het, kan hy dit maar weer kry.”

Heksie loop blomhuisie toe. “En toe, het jy weer die voëltjie gesien, Levinia?” vra Karel.

“Nee, Karel, daardie stoute man het hom in ’n sak gesit en nou sal ek hom nie sien nie. Jy moet vir hom sê om dit terug te sit.”

“Waarvan praat jy tog, Heksie?” vra Blommie.

“Van die man met die sak, Blommie. Hy het messe en vurke ingepak en …”

Voor Heksie verder kan praat, skreeu Karel: “WAT?” en hardloop huis toe. Blommie en Heksie hardloop agterna. Toe hulle by die sitkamer kom, sien hulle net hoe Karel met ’n harde “Miaau!” op die man se rug spring en vasklou met sy sterk naels. Die man skreeu, maar Karel klou vas. Naderhand word Karel se meneer wakker van al die lawaai. Toe hy in die sitkamer kom en die man sien, roep hy: “Dief! Dief!” Die mense in die huis langsaan hoor dit en kom help om die dief te vang.

Naderhand kom die polisie ook en hulle vat die dief tronk toe.

Toe alles verby is, hoor Karel, Heksie en Blommie hoe Karel se meneer sê: “Weet jy, my vrou, ek is jammer ek het gesê ek wil ’n waghond kry. Ons het nie een nodig nie, want Karel kan baie goed waghou.”

“Hoor jy, Karel, hulle gaan nie meer ’n waghond kry nie,” lag Blommie.

“Ja, ek hoor,” sê Karel bly, “maar ek moet vir Levinia dankie sê. Dis sy wat my kom vertel het van die dief.”

“Ag, is nie, Karel,” sê Heksie en steek haar vinger in haar mond omdat sy skaam is. “Ek wou maar net hê jy moet vir die man sê hy moet die horlosie uit die sak haal. Ek het nie eintlik geweet hy is ’n dief nie. Ek het ’n bietjie vergeet van diewe.”

“Toemaar, Levinia, jy het gemaak dat Meneer nie meer ’n waghond gaan kry nie,” sê Karel vriendelik.

“Ja, Karel, jy is nou ’n wagkat en ek is ’n wagheksie, nè?” sê Heksie.





Liewe Heksie en die Koekoek




Een oggend vroeg kom Blommie by Heksie se huis aan en oor sy skouer dra hy ’n visstok. Heksie sit op die stoep en om haar lê ’n paar planke, spykers, ’n hamer en ’n saag.

“Haai, Heksie, wat maak jy met al daardie gereedskap?” vra Blommie.

“Wat’s dít?” vra Heksie.

“Wat’s wat?” vra Blommie.

“Daardie groot woord wat jy gesê het. Ek weet nie van groot woorde nie.”

“O, jy bedoel gereedskap?” sê Blommie.

“Ja, wat is dit, hè, Blommie?”

“Ag, Heksie, gereedskap is hamers en sae en sulke goed. Sê nou vir my, wat maak jy met al die gereedskap?”

“Ek wil vir my ’n koekoekhorlosie maak,” sê Heksie.

“’n Koekoekhorlosie!” lag Blommie.

“En wat is miskien so snaaks?” vra Heksie vies.

“Jy kan nie van planke en spykers ’n horlosie maak nie, Heksie. ’n Horlosie is vol wieletjies en allerhande goed. Dis net slim mense wat horlosies kan maak.”

“O,” sê Heksie en trek haar hoed oor haar oë.

Blommie is dadelik jammer hy het gelag. “Ek’s jammer, Heksie, ek wou nie snaaks wees nie, maar jy sal regtig nie ’n horlosie kan maak nie.”

Nou huil arme Heksie sommer kliphard. “Ek wil so graag ’n koekoekhorlosie hê. Vandat ek Karel se mevrou se horlosie gesien het, wil ek ook een hê om in my huis op te hang. Nou sal ek nooit een hê nie.”

“Ja, hulle kos baie geld,” sug Blommie.

“En ons het nie geld nie, nè?” huil Heksie.

Blommie skud sy kop. “Nee, ons het nie.”

Arme Heksie huil nou aanmekaar. Blommie wil graag iets doen om haar van die horlosie te laat vergeet. “Weet jy waarom ek eintlik hierheen gekom het, Heksie?” vra hy.

“Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar hoe sal ek weet as jy my nie sê nie?” sê Heksie.

“Ek het kom vra of jy saam met my wil gaan visvang. Kyk, ek het my visstok saamgebring.”

“Haai, oe, ek wil vreeslik graag saamgaan. Maar dan moet jy vir my ’n stukkie vislyn en ’n hoek gee, hoor, Blommie, want ek het nie vis … ge … gereedskap nie. Haai, hoor jy, Blommie, ek onthou van daardie groot woord. Party dae is ek ’n bietjie slim, nè?” sê Heksie skaam.

“E … ja, Heksie, party dae is jy slim,” sê Blommie. “Net, dis nie visgereedskap nie, dis visgerei. Maar ons moet nou loop, anders vang ons nie ’n vis nie.”

Heksie sit haar swart punthoed op en die twee loop rivier toe. Blommeland se riviere is pragtig helder en skoon en op die walle groei mooi groen gras en bome.

Blommie en Heksie gaan sit op die wal van die rivier en Blommie gee vir Heksie ’n stuk vislyn en ’n hoek. “Hier’s ’n stukkie pap ook, Heksie,” sê hy.

“Dankie, Blommie, jy’s baie gaaf,” sê Heksie en sit die pap in haar mond.

“Heksie!” raas Blommie. “Dis nie vir jou om te eet nie, dis vir die visse!”

“O,” sê Heksie. “Hoekom is dit vir die visse?”

“Man, jy sit mos pap of wurmpies aan die hoek en wanne