اصلی Speurder Kwaaikofski 1

Speurder Kwaaikofski 1

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟
کال:
2013
خپرندویه اداره:
Human & Rousseau
ژبه:
afrikaans
صفحه:
26
ISBN 13:
9780798163583
فایل:
کاپی کول (epub, 458 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Speurder Kwaaikofski 2

Year:
2013
Language:
afrikaans
File:
EPUB, 4.01 MB
0 / 0
2

Spes,ultima dea

Year:
2001
Language:
french
File:
EPUB, 376 KB
0 / 0
Jürgen Banscherus

Speurder Kwaaikofski

Die kougomstrik



Vertaal deur Kobus Geldenhuys

Met illustrasies deur Ralf Butschkow


Human & Rousseau





Hoofstuk 1




My naam is Kwaaikofski en ek is ’n privaatspeurder. Ek het sopas besluit om op te staan. Ek gaan ’n glas melk uit die yskas kry, my gunsteling-kep opsit (die een met ’n ‘K’ op, vir ‘Kwaaikofski’; die enigste hoed wat my kop nie te warm óf te koud laat kry nie en sorg dat my brein altyd op sy beste kan werk) en my eerste kougom van die dag in my mond steek. Dis natuurlik nie sommer enige kougom nie. Ek hou net van een soort: Carpenters. Al die ander smaak soos voos skoensole.



Ek is al van ek kan onthou ’n privaatspeurder. Selfs as baba het ek elke boublokkie weer gekry, en ook elke lekker wat iewers in my sandput verdwyn het. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het nog altyd ’n slag gehad daarmee.

Ek is seker hierdie somervakansie gaan my speurvernuf weer ernstig beproef word. Ek sit maar hier in my kamer by my lessenaar en wag dat iets moet gebeur. Hier voor my staan ’n glas melk en langsaan is daar ’n nota:



Ek druk nog ’n stuk kougom in my kies en kyk om my rond. My kamer is nie juis netjies nie, maar ek kan nog maklik by my persoonlike yskas met die melkvoorraad uitkom, en ook by die ou platespeler. So dit is nie eintlik nodig om op te ruim nie.

Nadat ek die melk opgedrink het, maak ek my kamervenster oop. Ons straat is doodstil. Ook g’n wonder nie, want almal is op vakansie by die see.

Somervakansies is die slegste tye vir ’n speurder. Niemand se marmotjie loop weg nie en niemand se pak weggooidoeke word gesteel nie.

My kougom smaak sommer skielik na niks. Ek spoeg dit in die snippermandjie uit en kry ’n nuwe een. Maar die pakkie is leeg. Lui of nie, ek moet vir my nog kougom by Olga gaan kry. Sy is die enigste een wat my gunsteling-kougom aanhou. Ek is een van haar beste klante.



“Hallo, Kwaaikofski!” roep Olga toe ek by haar kiosk aankom.

“Hallo, Olga,” groet ek. “Gee asseblief vir my ’n pakkie Carpenters. En ’n glas koeldran; k.”

Olga snuif. “Jy kan koeldrank kry, maar . . .”

Ek skrik my half simpel. “Het jy nie meer Carpenters oor nie?” vra ek.

“Dit verdwyn die laaste tyd,” antwoord sy. “Sommer net so.”



“Hoesê?” Ek sluk swaar. “Hulle verdwyn? Van wanneer af?”

“So die laaste twee, drie dae. En net die Carpenters. Is dit nie vreemd nie? Dit het nou al vyf keer gebeur. Ek bestel elke keer nuwes, maar wanneer iemand dit wil koop, is die goed skoonveld.”

“Miskien het jy net vergeet waar jy dit gesit het,” sê ek.

“Ek is nie so verstrooid nie,” antwoord Olga. “En in elk geval, ek het oral gesoek.”

Ek drink my koeldrank op. “Het jy ten minste nog bestel?”

Olga knik.

“Wonderlik!” sê ek. “Wanneer word dit hier afgelewer?”

“Môre vroeg,” antwoord sy.

Toe sy sien hoe diep ek frons, stel sy voor: “Hoekom probeer jy nie tot dan ’n ander soort kougom nie?”

Ek skud vasberade my kop. Nee, dis óf Carpenters óf niks nie.

Olga lag, buig vorentoe en leun oor die toonbank.

“Jy’s oulik, Kwaaikofski,” spin sy soos ’n kat en probeer my wang knyp. Ek spring dadelik twee tree terug. Ek hou van Olga, rêrig, maar ek laat nie aan my vat nie. Deur niemand nie! Boonop het ek skielik aan iets gedink . . . ’n Plan het sommer so vanself in my kop in gespring.

“Ek gaan môre ’n bietjie waghou,” sê ek vir Olga.

“Jy gaan wat doen?” vra sy.

“Ek wil uitvind wie laat die kougom verdwyn,” sê ek. “Die goed word gesteel. Dis die enigste verduideliking. Dis professionele diewe. Hulle sal jou onderklere van jou lyf af steel sonder dat jy dit agterkom.”



Olga wys speels vir my vinger. “Wat weet jy van vrouens se onderklere?” Dan word sy ernstig. “As jy reg is oor die stelery moet ek polisie toe gaan,” sê sy.

Ek het dit verwag.

Daarom sê ek vinnig: “Dink jy rêrig die polisie sal hulle aan ’n paar pakkies gesteelde kougom steur? Nee, los dit vir my. As ek niks regkry nie kan jy na hulle toe gaan.”

“Reg so,” antwoord Olga.

Dit lyk of sy my ’n drukkie wil gee en ek gee vir veiligheid vinnig nog ’n tree terug.

“Maar ek werk natuurlik nie verniet nie,” sê ek.

“Hoe nou?”

“As ek die diewe vang, wil ek vyf pakkies Carpenters hê,” sê ek ewe koel. “Afgespreek?”

Olga knik verlig. “Afgespreek, Kwaaikofski.”





Hoofstuk 2




Die hele nag slaap ek onrustig. Ek droom van reusagtige kougomme wat polisiehelms dra. Wanneer een van die ongediertes dreigend met ’n knuppel op my afstorm, word ek natgesweet wakker.



Ek kyk op die wekker. Dis nou eers vyfuur. Ek hoor die eerste voëls buite en die ou wat koerante aflewer se motorfiets brom deur ons buurt.

Nou sal ’n Carpenters darem baie lekker wees. Maar een of ander skurk het my vars voorraad gesteel.

Ai, die lewe is allesbehalwe ’n lied sonder my kougom!

Ek trek saggies aan, kry ’n glas melk uit die yskas en sluip by die huis uit. My ma slaap nog, ek wil haar nie wakker maak nie. Sy gaan nie daarvan hou dat sy alleen ontbyt moet eet nie, maar sy weet ’n privaatspeurder se lewe is moeilik.



Dis nie ver na Olga se kiosk nie. Toe ek daar kom, is die ystertralies nog op en die dag se koerante is buite die deur neergesit.

Ek gaan kruip daar naby agter ’n struik weg. Van hier af kan ek veilig sit en kyk wat by die kiosk aangaan. Ek sit die glas melk langs my neer. Ek weet mos wag maak my altyd dors.



Net voor ses daag Olga op, skuif die tralies voor die venster en deur weg en sleep die stapel koerante by die kiosk in. Ek bly doodstil waar ek is. Olga moenie weet sy word dopgehou nie. Dan gedra sy haar nes altyd en niemand sal agterdogtig word nie. Ek wag verder . . .

Teen agtuur hou daar ’n blou afleweringswa stil. Die bestuurder laai al die koeldranke, lekkergoed en skyfies af – en ja, daar dra hy ook die Carpenters kougom na die kiosk toe! Ek sal my kougom in die donkerste nag en digste mis en van enige afstand af herken!



Ek wil dadelik agter die struik uitspring en ’n ordentlike voorraad van my geliefkoosde kougom gaan koop. Maar ek het ’n saak om op te los, so ek bly wegkruip, al kan ek die smaak van Carpenters in my mond proe!



Ek het ook net mooi die laaste bietjie melk gedrink toe daar drie kinders na die kiosk aangedrentel kom. Dis twee ouens en ’n meisie. Die drie gedra hulle só onverdag dat hulle dadelik vir my baie verdag lyk. Ek leun vorentoe, want ek gaan niks mis nie.

Die twee ouens kom staan by die toonbank en praat met Olga. Dit lyk of hulle iets vreemds wil hê, want Olga frons en vra aanhoudend vrae. Uiteindelik verdwyn sy by die kiosk in.

Die oomblik toe Olga verdwyn, leun die meisie by die toonbank in en gooi vinnig al die Carpenters in haar skouersak.

Toe hardloop sy weg, die straat af. Die seuns verdwyn in ’n ander rigting, terwyl Olga nog steeds in die kiosk rondsoek.

Sulke vermetelheid! Om my kougom te steel!

Ek spring uit my wegkruipplek en sit die meisie agterna.

Ek haal haar vinnig in en stap op my hoede agter haar aan.

Sy hardloop nie meer nie en loop en kyk na die winkelvensters. Haar poniestert wip heen en weer.

Ek wag tot sy by ’n verkeerslig moet stop en kom staan langs haar.

“Het jy vir my ’n kougom?” vra ek.

Die meisie kyk my verskrik aan. Toe spring sy skielik weg, en hardloop sommer tussen die karre in!



Ek kry haar net betyds aan die arm beet en ruk haar terug tot op die sypaadjie waar dit veilig is.



“Is jy mal?” brul ek.

Pleks van dankie sê dat ek haar gered het, sis sy: “Los my uit!”

Daarvan kan sy maar vergeet.

Ek pluk haar sak van haar skouer af. En daar val ten minste vyftig pakkies Carpenters op die sypaadjie. Vyftig pakkies – dis maklik genoeg vir twee maande!

“Hoekom het jy dit gesteel?” vra ek.

Die meisie antwoord nie. Sy buk en tel die pakkies kougom haastig op.

“Hoekom het jy dit gesteel?” herhaal ek.

Sy kom regop en blaas ’n haartjie uit haar gesig. Dit lyk of sy haar nou weer reggeruk het.

“Waar kom jy daaraan dat ek die kougom gesteel het?” vra sy skerp.

“Ek het jou by die kiosk dopgehou,” sê ek. “Vir jou en jou pêls. Die ouens het Olga se aandag afgelei en toe het jy die goed in jou sak gesteek.”

Die meisie trek haar skouers op. “So? Gaan jy nou die polisie roep?”

Ek skud my kop. “Dis glad nie waaroor dit gaan nie. Carpenters is mý gunsteling-kougom. Julle het my heel, heel beste kougom gesteel! Ek gaan julle nie daarmee laat wegkom nie, dit moet jy weet.”

Die meisie sê vir ’n rukkie niks nie, sy kou net aan haar vingernaels.

Dan vra sy skielik: “Sal ons dit deel?”

Haar oë flits.

Die vraag vang my onkant. “D . . . deel?” stotter ek.

“Ja, deel,” antwoord sy. “Jy kry die helfte en vergeet van alles.”



Vergeet! Vergeet dat sy my Carpenters gesteel het? Nooit nie!

“Die kougom behoort aan Olga,” sê ek kwaai. “Jy gaan dit vir haar terugvat. Kom.”

Maar die meisie bly staan. Haar gesig verander skielik, en haar mondhoeke trek skeef. “Jy kan dit nie van my vra nie,” sê sy sag.

Weer staan ons stil en kyk na mekaar. Ek kan duidelik sien hoe skaam sy is.

Uiteindelik sê ek: “Oukei dan, ek sal die goed vir Olga terugvat.”

Sy straal. “Sjoe, as jy dit vir my doen, sal ek . . . ”

Ek laat haar nie klaar praat nie. “Ek doen dit net op een voorwaarde: jy sê nou dadelik vir my hoekom jy die Carpenters gesteel het. Olga het tog baie ander soorte kougom.”

Sy huiwer eers, dan mompel sy: “Carpenters is ook my gunsteling.”

Dink sy nou ek is onnosel? Ek gryp haar weer aan die arm.

“Reg, dan gaan ons saam na Olga toe,” beveel ek.



Sy laat my toe om haar ’n entjie saam met my te sleep.

Dan sê sy skielik: “As jy rêrig moet weet – daar is iemand vir wie ons die kougom moet steel. Net die Carpenters, niks anders nie. Ek weet nie hoekom hy dit wil hê nie.”

“Wie is hierdie Iemand?” vra ek vies.

Die meisie bly stil.

“Praat!” sê ek dreigend.

“Ek weet nie wat is sy regte naam nie,” mompel sy. “Maar almal noem hom Slang.”

Slaan my dood!

Dieter Schlang, ook bekend as die Slang, sit agter hierdie storie!

Ek moet dadelik huis toe gaan. Ek moet in my bed gaan klim en diep dink.

As die Slang betrokke is, gaan dit ’n ingewikkelde saak wees . . .

“Gee my jou sak,” sê ek vir die meisie. “Ek sal die kougom vir Olga terugvat.”



“Wie is jy?” vra die meisie. “Ek wil my sak weer terughê.”

“Kwaaikofski. Speurder Kwaaikofski. Ek bly in Ahornweg 15, nie ver van die kiosk af nie. En wat is jou naam?”

“Colette,” antwoord sy en blaas haar hare weer uit haar oë.





Hoofstuk 3




Olga sluk amper haar tong in toe ek haar gesteelte Carpenters op die toonbank neersit. Sy het hierdie keer nog nie eens agtergekom dit het weer verdwyn nie.

“Jy is ’n genie, Kwaaikofski,” sê sy uiteindelik. En dan dadelik: “Waar het jy die goed gekry? Wie is die dief?”

“Ek vertel jou later,” sê ek. “Ek het nie nou tyd nie. Gee asseblief vir my twee pakkies.”

Olga gee vir my die Carpenters. Ek sit die geld daarvoor op die toonbank neer en mik huis toe.

“Wag!” roep sy agter my aan. “Ons het mos gesê jy kry vyf pakkies as beloning! Jy hoef my nie te betaal nie.”

“Hou die geld!” roep ek terug. “Jy kan my betaal wanneer die saak opgelos is.”



Die bed is die enigste plek waar ek ordentlik kan dink. Mý bed. Vandag is dit ook so.

Ek sit die ou Rolling Stones-plaat op wat ek by my ma geërf het, stop twee stukke kougom saam in my mond en lê terug.

Eers slaan my gedagtes deurmekaar bollemakiesie. Maar hoe langer ek kou, hoe meer bedaar hulle. Ek trek my kep laer oor my oë. Dis nie lank nie of my kop is koel en kalm, soos dit hoort wanneer ’n speurder diep dink.

Hoekom laat die Slang die Carpenters steel? Hoekom net die Carpenters? Dis die belangrikste vraag. Dieter Schlang beplan beslis iets skelms daarmee. Maar wat?

En hoekom is daardie Colette betrokke?



Die Slang is geslepe, dit weet ek. Hy laat hom nie maklik vang nie.

Ek het ses maande gelede die eerste keer met hom te doen gekry. Dit was toe hy motbolle verkoop het en gemaak het of dit towerballe is.

Dit het my lank geneem om die skurk vas te trek.

Nadat ek hom aan die kaak gestel het, het Dieter Schlang my met ’n grynslag aangekyk en gesê: “Nie sleg nie, Kwaaikofski. Maar ons sien mekaar weer, dis seker.”

En hy was reg. Behalwe dat hy nie weet ek is weer op sy spoor nie . . . Ek hoef my nie oor Colette te bekommer nie. Sy het my vertel wat hy nou weer aanvang en hom verraai. So sy sal dit nie waag om hom van my te sê nie.

Op hierdie oomblik val dit my by dat ek vergeet het om Colette se adres te vra. Dis nou dom! Ek sal moet wag met my ondersoek tot sy by my uitslaan – of ek moet na die Slang begin soek en maar net hoop ek vind uit waar hy deesdae is.

Toe ek laas met Dieter Schlang slaags geraak het, het ek agtergekom hy en sy trawante hang by die slagpale rond. Daar is ’n paar opslaanhuise wat niemand meer gebruik nie. Een daarvan was die Slang se wegkruipplek. So dit kan nie skade doen om weer daar te gaan rondkyk nie.

My ma het intussen opgestaan. Ek sê vir haar hallo en tot siens, en ry met die bus na die slagpale toe. (Ek het genoeg agter Colette aan geloop en gehardloop. Ek is nie lus om soos die meeste speurders jonk al platvoet te kry nie.)



Toe ek by die slagpale aankom, wag daar ’n verrassing vir my: die opslaanhuise is leeg. Ek vra ’n bietjie rond by die mense wat daar werk, maar dis verniet – hulle het die Slang en sy ouens weke laas gesien.

Maar iets bly my pla.

Op pad terug na die bushalte kry ek die gevoel iemand agtervolg my. Maar elke keer as ek omdraai, is daar niemand verdag agter my nie.

Ek voel eers weer beter toe ek uiteindelik in die bus sit.



By die waterwerke kom sit ’n man met ’n hoed en aktetas langs my.

Hy haal dadelik ’n pakkie kougom uit sy baadjiesak. Een keer se loer is genoeg: dis Carpenters kougom.

Ek hou sommer dadelik van die man.

Ek haal my eie pakkie uit my broeksak. “Hulle is lekker, nè?” sê ek vir die man.

Hy knik vriendelik. “Ja-nee, baie lekker.”

“Dis die enigste soort waarvan ek hou,” sê ek.

“Sowaar?” sê die man.

“Dis vreemd, ek het hierdie eers twee dae gelede leer ken.”

“Het Olga dit vir Meneer aanbeveel?” wil ek weet.

Die man frons. “Wie is Olga?”

“Olga is Olga,” probeer ek verduidelik. “Ek dink sy is al een hier rond wat Carpenters verkoop.”

Die man skud sy kop.



“Sy is beslis nie. Ek het dié by ’n seun gekry.”

Amper sluk ek my kougom in! Ek trek aan die man se hempsmou. “By ’n seun? Waar was dit? Asseblief, ek moet weet!”

Op daardie oomblik hou die bus stil en die man moet uitklim.

“Waar?” roep ek agter hom aan.



Net voordat die bus se deure toegaan, antwoord die man oor sy skouer: “By die kindervlooimark.”

Ek dink blitsvinnig: die kindervlooimark word elke eerste naweek van die maand by die kerk gehou. Daar kan ’n mens enigiets koop, van badeendjies tot elektriese karretjies. En nou is daar blykbaar ook Carpenters kougom . . .

So, Dieter Schlang laat die kougom steel om dit vir geld te verkoop. Dit weet ek nou. Maar is dit regtig die oplossing? Het Olga en die Slang dalk stry gekry, en toe laat steel hy die kougom om wraak te neem? Ek moet dadelik by die kiosk gaan uitvind.

Olga drink net mooi koffie toe ek daar opdaag. Sy maak die sydeur oop en laat my in.

“Sit op die bierkissies,” nooi sy my. “Hier is nie plek vir ’n stoel nie.” Sy grinnik. “Of wil jy op my skoot sit?”

Natuurlik kies ek toe om op die ongemaklike bierkissies te sit.

“Ken jy dalk ’n ou met die naam Dieter Schlang?” vra ek.

“Dieter Schlang? Nee, nog nooit van hom gehoor nie,” antwoord sy.

“Mense noem hom ook die Slang,” probeer ek weer.

“Nee, Kwaaikofski. Ek ken nie so iemand nie,” sê Olga. “Hoekom vra jy?”



“Dieter Schlang stuur sy trawante om jou Carpenters te steel. Hy verkoop dit op die kindervlooimark,” vertel ek.

Olga sit haar koffiebeker só hard neer dat van die donkerbruin vloeistof op die toonbank uitstort.

“Deksels, Kwaaikofski! Dan gaan ek daai adder-vent se ouers nou dadelik voor stok kry!”

“Slang, nie adder nie,” help ek haar reg.



Maar daar is nie keer aan Olga nie.

“Slang of adder – hy is ’n vermetele skurk, skaamteloos vermetel!”

Ek sit my hand op haar arm. “Bedaar,” sê ek. “Ek kan nie bewys die Slang sit agter die diefstal nie. Nog nie,” voeg ek vinnig by.

Olga steek ’n sigaret aan. “So wat nou?”

“Ek gaan môre weer hier kom wagstaan,” sê ek. “Ingeval die Slang dalk weer iemand stuur om die Carpenters te kom steel. Dan sal ek die dief volg. Miskien lei hy my na die Slang se wegkruipplek toe.”

Olga streel oor my kop. “Jy is ’n speurder duisend, Kwaaikofski.”

“Moenie soveel rook nie,” sê ek en staan op. “Kou liewer kougom.”

“Dis vir my senuwees,” sug sy. “Ek is die slagoffer van ’n misdaad, jy weet.”





Hoofstuk 4




Die res van die dag wag ek by die huis vir Colette, maar sy kom nie. Daardie aand is my hele pakkie Carpenters op en ek gaan teleurgesteld bed toe. Ek slaap diep en droomloos tot die volgende oggend. Maar toe ek wakker word, sien ek dit het begin reën. Vet druppels slaan teen die venster.



Dis al wat ek nou nodig het! Vies trek ek my anorak en waterdigte stapskoene aan en kies koers na die kiosk. Dis nie lank nie of my broek klou aan my bene vas. Nie eens ’n hond gaan in sulke weer uit nie – net ’n speurder. En diewe dalk ook.

Ek staan vir vier ure nat en bibberend agter die struik, dan gee ek moed op.

In hierdie tyd was daar omtrent niemand by die kiosk nie, in elk geval nie een enkele kind nie.

By die huis klim ek in ’n warm bad. Ek maak my oë toe en probeer aan niks dink nie. Om in die bad te lê en aan niks te dink nie help teen verkoue en ’n slegte bui. Ná die bad voel ek baie beter.



Ek het my skaars afgedroog of ek hoor die voordeurklokkie lui. Miskien is dit die posbode, of dalk is dit Colette.

Ek spring soos blits in my hemp en broek en druk die knoppie om die deur oop te maak.

’n Oomblik later staan Colette op die trap. Dit is toe wraggies sy!

“Hallo,” groet ek haar so koel as moontlik, al is ek eintlik baie bly om haar uiteindelik weer te sien.

“Haai,” sê sy vrolik. Dan kom sy in en kyk nuuskierig rond, veral toe sy in my kamer kom.

“Hou jy daarvan?” vra ek. Ek kan myself skop. Watter speurder vra so ’n simpel vraag? Kalle Blomkwist sal hom dood skaam vir my!

“Ek weet nie,” sê sy. “Dis vir my ’n bietjie te . . .”

“. . . te deurmekaar,” maak ek haar sin klaar.

“Nonsens,” sê sy. “My kamer is ook deurmekaar. Maar joune is te vol. Hoe kan jy soveel goed in een vertrek stop?”

“Jy dink dis te vol?” vra ek verbaas.

“Hm.”

Daarmee droog ons gesprek op. Ons staan ongemaklik rond en kyk gate in die mure.

“Waar is my sak?” vra Colette uiteindelik.

Dit hang oor my gemakstoel se rugleuning en ek gee dit vir haar. Sy sê dankie en mik deur toe.

“Wag ’n bietjie!” keer ek. “Nie so haastig nie. Weet jy dalk waar kan ek die Slang in die hande kry?”

“Nee,” antwoord sy kortaf.

Maar ek gaan haar nie so maklik laat wegkom nie.



“Jy skuld my,” sê ek.

Sy hou haar verbaas. “Ek skuld jou?”

Ek knik. “Ek kon jou by Olga gaan verklik het.”

“Oukei dan,” sug sy. “Ek sal jou sê waar ons die Carpenters vir hom los. Maar belowe eers jy sal nie vir die Slang vertel ek het jou gesê nie.”

Ek belowe hand en mond en vind uit sy en haar twee helpers het die kougom tot nou toe na ’n baie spesifieke bankie in die begraafplaas gevat. Hulle moes die pakkies in die vullisblik langs die bankie sit en dan spore maak.

“En dis al,” sê Colette. Sy mik-mik weer na my kamerdeur.

Maar ek het nog ’n vraag. “Sê my, hoekom laat jy jou by so ’n kroekspul insleep? En waar bly jy?”

Sy gryns. “Dit traak jou nie, Kraaikofski.”

“My naam is Kwaaikofski,” brom ek vies.

“Dis mos wat ek sê!” lag sy en verdwyn.

Gewoonlik laat ek nie so met my praat nie. En van wanneer af laat meisiekinders my bloos?

Maar nou moet ek by die begraafplaas uitkom. Dit is in ’n ander deel van die stad, so dit vat ’n hele ruk voor ek daar kom.



Dis net voor middagete en daar is nie baie mense hier nie.

’n Paar werkers maak die grafte skoon, hark die gruispaadjies en gooi verlepte blomme in ’n groot vullishouer.

Colette het vir my gesê hoe om die bankie te kry:



Met die eerste probeerslag sien ek die engel met die afgebreekte vinger nêrens nie. Die tweede keer verdwaal ek tussen die soldate se grafte. Maar die derde keer kry ek die bankie uiteindelik.

Dis ’n houtbank waarvan die verf effens afdop. Bokant my ritsel die bome se blare en iewers tjirp ’n kriek.

Eintlik weet ek nie presies wat ek hier soek nie. Maar ’n speurder moet sy werk doen en dit beteken soek, soek, soek. So, ek haal die vullisblik van sy staander af en gooi alles daarin op die paadjie uit. Daar is nie veel nie – tremkaartjies, ’n gekreukelde koerant, ’n stuk draad, vrot blombolle en ’n leë pakkie sigarette. Niks hiervan gaan my help nie.

Ek sit die vullisblik terug en gooi die gemors weer daarin. Maar toe ek die koerant in my hand hou, vang iets my oog. Langs ’n foto van ’n pantserwa het iemand iets geskryf. Ek herken net die eerste letter van die eerste deel van die woord – dis ’n S. Die tweede deel van die woord is sonder twyfel FABRIEK.



Is dit ’n leidraad na die Slang toe? Miskien – maar miskien ook nie. Enigiemand wat hier in die begraafplaas was, kon die woord op die koerant geskryf het. Maar ek skeur die bladsy nogtans uit en steek dit in my broeksak.

Wat kan die S . . . FABRIEK beteken? wonder ek terwyl ek na die uitgang toe loop.

SKOENFABRIEK? STEENFABRIEK? SEEPFABRIEK? SELFOONFABRIEK? Hoeveel fabrieke is daar in ons stad?

Ek kom moeg by die huis aan. Op pad het ek heeltyd gewonder oor die deel van die woord wat kort. Maar al waaraan ek kon dink, was simpel goed soos SJIMPANSEEFABRIEK en SJOKOLADEFABRIEK.

Op my bed lê daar ’n brief van my ma. Indien iemand wonder hoekom ek nooit van my pa praat nie – hy het jare gelede uitgetrek. Van toe af werk my ma weer as ’n verpleegster. Wanneer sy soggens vroeg of tot saans laat aan diens is, skryf sy dikwels vir my. En ek skryf baie keer vir haar terug.



Terwyl ek die brief nog lees, begin my maag al grom. Pannekoek! My ma weet presies waarvan ek hou.

Ek gaan haal die ou pan uit die kombuiskas, sit dit op die stoof en smelt margarien daarin. Toe dit begin sis, sit ek die eerste pannekoek in die pan.

En presies op daardie oomblik maak iets duidelik hoorbaar in my kop “Kliek!”

Ek staar na die pan. Dis van staal.

Staal . . .

Dit herinner my aan iets.

STAAL . . . Natuurlik, dis

die antwoord: STAALFABRIEK!



“Staalfabriek!” brul ek en dans opgewonde deur die kombuis.

Ek pluk die koerant-bladsy uit my broeksak en vul die ontbrekende letters met my ma se potlood in. Dit pas!

Hoekom het ek nie vroeër al daaraan gedink nie?

Daar is ’n ou staalfabriek naby my skool. Dit staan nou al vir ’n paar jaar leeg. Die ruite is almal gebreek en die dak is gaar, so dit reën oral in.

My ma wil nie hê ek moet alleen soontoe gaan nie, sy dink dis gevaarlik.

Die gedagtes maal wild deur my kop. Is die woord op die koerant dalk ’n boodskap vir die Slang? Of het hy dit dalk self daarop geskryf? Hoekom nie? Die ou fabriek is die perfekte wegkruipplek vir iemand soos hy. Miskien kry ek daar iewers die sleutel tot hierdie saak?

Ek dwing myself om my twee pannekoeke rustig te eet. Miskien gaan ek die res van die middag uit wees. Daarvoor het ’n man krag nodig, en met twee pannekoeke in my maag is ek so sterk soos ’n beer.





Hoofstuk 5




Die fabriek is net ’n katspoegie van ons huis af. Toe ek daar kom, waai die wind leë bokse teen die gebou vas en stukkies van die vervalle plek weerkaats in die waterpoele.



Ek wil by die pakkamer inkom, maar die houtdeur is toegespyker. Ek kyk rond en klim deur ’n syvenster waarvan ’n hele paar ruite uit is.

Sorgvuldig begin ek rondkyk in die groot vertrek waar ek beland het. Maar ek kry nie die gesteelde Carpenters soos ek gehoop het nie, en ook nêrens enige spoor van die Slang nie. Hier was eeue laas iemand, dis duidelik; die stof lê sentimeters dik.

Op pad na die volgende vertrek sien ek ’n opgefrommelde stukkie papier in die ghries lê. Ek buk en vou dit oop – ha! Dis sowaar as vet ’n leë pakkie Carpenters kougom! Dit kan net een ding beteken: die Slang was hier, my speurneus het my nie mislei nie.

Nou kry die jagkoors my beet. En wraggies, vyftig meter verder, voor die volgende deur, is daar ’n tweede leë pakkie. Ek stop dit in my broeksak en druk die deur se verroeste handvatsel af. Die deur swaai piepend oop. Binnekant is dit baie ligter as in die vorige vertrekke, en die vloer is besaai met glasskerwe en klippe. Elke voetstap wat ek gee, maak ’n harde knarsgeluid.



Ek begin dadelik rondkyk. Eers kry ek niks nie, maar in ’n volgende vertrek wat sonder vensters is en baie kleiner as die voriges, ontdek ek in een hoek ’n verseëlde kartonboks. Ek gaan vinnig nader en maak dit oop: die boks is tot bo toe vol van my gunsteling-Carpenters!

In my verbeelding slaan ek sewe-en-twintig keer bollemakiese en klop myself trots op die skouer. Niemand kan nou meer daaraan twyfel nie – ek is ’n waardige opvolger van Sherlock Holmes en Kalle Blomkwist.

Op daardie oomblik klap die deur agter my met ’n harde slag toe. Dan sê ’n té bekende stem: “Hallo, Kwaaikofski. Ek het jou hier verwag.”

Ek swaai om. Daar staan Dieter Schlang, beter bekend as die Slang.

En hy is nie alleen nie; hy het vier van sy gemene bendelede saamgebring. Hulle gaan staan agter die Slang en gluur my aan.



Ek kyk vinnig rond: die deur is die enigste pad uit. Ek is vas.

Met ’n slinkse glimlag seil die Slang op my af. “Help jouself,” sê hy en wys na die boks. “Daar is genoeg kougom. As ek reg onthou, is dit jou gunsteling.”

Voor ek kan antwoord, sê hy: “Wat sê jy van die manier waarop ek jou hierheen gelok het?”

“Jy . . . jy het my hierheen gelok?” vra ek verstom.

“Natuurlik, jou idioot!” sis hy. “Het jy nog nie twee en twee bymekaar gesit nie? ’n Mens moet net jou voorraad Carpenters afsny en jy kan nie meer helder dink nie. Die diefstal by die kiosk, die vullisblik by die begraafplaas, die koerant, die leë pakkies hier in die fabriek – ek het dit alles gereël. Nie sleg nie, hè?”

“Maar as jy die kougom net gesteel het om my hierheen te lok . . . Hoekom het jy dit dan op die vlooimark verkoop?” vra ek.

Dieter Schlang klap sy hande. “Bravo, Kwaaikofski!” spot hy. “Ten minste het jy dít uitgevind. Nee, dit was maar net om ’n bietjie ekstra geld te maak.”

Deksels, hy het my elke enkele tree beheer! Is ek so onnosel of is hy so slinks?

“En hoekom het jy dit alles gedoen?” wil ek weet.

Die Slang glimlag nog breër. “Eerstens was dit pret,” sê hy. “En tweedens het ek jou mos laas belowe ons sal mekaar weer sien, onthou jy? Jy het jou neus in my sake gesteek en ek vergeet so iets nooit nie.”

Dieter Schlang haal skielik ’n vreeslike dik, yslike lang sigaar uit sy hempsak. “Jy gaan dit nou rook, totdat jy naar word,” sê hy. “Sodat jy nooit weer sal lus wees om my te verpes nie.”

“En wat as ek dit nie doen nie?” vra ek.

Hy wys na sy trawante. “Dan proe jy my manne se vuiste.”

’n Sigaar rook? Dis beslis beter as om pap geslaan te word, maar ek is nogtans nie lus daarvoor nie. My kop begin uiteindelik weer werk.



“Wag ’n bietjie, ek het ’n plan,” sê ek.

“Jy het ’n plan?” spot die Slang.

“Ja. Wat van ’n kompetisie?”

Die Slang lag. “Jy het in mý strik getrap en jy wil my uitdaag? Baie snaaks. Maar oukei, wat het jy in gedagte?”

Goeie vraag, wat het ek in gedagte? My kop spoeg koorsagtig voorstelle uit, maar nie een van hulle is iets werd nie.

Gespanne steek ek my hand in my broeksak. Gelukkig. Want ek voel die leë pakkies kougom wat ek opgetel het. En toe skiet die idee my te binne.



“Kom ons kyk wie van ons twee kan die grootste kougomborrel blaas,” sê ek.

Die Slang trek skewebek. “Ek gaan nie daarvoor val nie. Jy is te goed daarmee.”

“Dan vat jy twee stukke kougom en ek net een,” sê ek.

Die Slang skud sy kop.

“Goed dan,” sê ek. “Drie. Reg so?”

“Drie?” Die Slang draai tevrede na sy trawante, seker hy gaan wen. “Oukei dan! Maar ons vat mý kougom.”

Ek knik. Wat anders kan ek doen?



“As ek wen,” sê die Slang, “rook jy die sigaar. Hier en nou en tot die laaste trek.”

“En as ek wen,” sê ek, “drink jy ’n bottel worcestersous op. Hier en nou en tot die laaste druppel.”

Dieter Schlang stuur een van sy ouens om in die supermark langsaan worcestersous te gaan koop.

Dan haal hy ’n pakkie Hammets uit sy broeksak, gee vir my net een stuk kougom en druk drie in sy mond. Hammets – dis al wat ek nog kortkom. Die goed is die walglikste kougom in die hele wêreld!

Toe sy trawant die worcestersous bring, sê die Slang: “Een, twee, drie – begin!”

En ons val weg.

Ek weet dis so te sê onmoontlik dat ek met een stukkie kougom teen drie sal wen. Maar ek gaan nogtans probeer.

Sorgvuldig bewerk ek die kougom met my tong en maak seker dis eweredig en dun.

Dan druk ek dit teen my lippe, maak my mond net-net oop en begin versigtig blaas. Stadig vorm daar ’n borrel.

Die Slang s’n is al dubbeld so groot. Sy ouens por hom opgewonde aan en hy blaas harder.

My borrel word groter en groter.

En dan gebeur die ongelooflikste ding: die Slang se borrel word nie meer groter nie – sy asem is op!

Toe my borrel so groot soos ’n sokkerbal is, bars dit, en byna gelyktydig ook die Slang s’n.

Ek het sowaar gewen! En dit met ’n Hammets!

Ek trek die stukkies kougom van my wange en neus af, rol dit in ’n bolletjie en gooi dit weg.

“Geluk, Kwaaikofski,” mompel die Slang terwyl ek tevrede ’n ordentlike Carpenters van my eie voorraad in die mond steek. “Jy moet daai truuk in die sirkus gaan doen.”



Ek sê liewer niks nie, ek tel net die bottel worcestersous op en hou dit na Dieter Schlang toe uit.

Halfhartig lig hy dit na sy mond. Sy gesig vertrek lelik toe hy begin drink. Ná twee slukke snak hy na asem en skud sy kop.

“Komaan, Slang,” sê ek. “Tot die laaste druppel!”

Hy drink gewalg verder. Uiteindelik is die bottel leeg. Die Slang vee sy mond af en sê: “Gee pad, Kwaaikofski!”



“Met plesier,” sê ek. “Ek vat die gesteelde Carpenters sommer saam.”

Die Slang trek sy skouers op.

Maar ek is nog nie klaar nie. “En wat van die geld wat jy by die vlooimark gemaak het?”

“Jy speel seker!” roep die Slang uit.

“As jy wil, kan ek vir Olga alles vertel,” sê ek rustig. “Dan sal sy tien teen een polisie toe gaan.”

Rooi van woede stop die Slang ’n tienrandnoot in my hand. “Dè, jou mislike klein . . .”



Ek wag om te hoor waarvoor hy my gaan uitskel, maar die Slang gryp skielik met sy een hand na sy mond en die ander na sy agterstewe en hardloop uit. Sy trawante volg hom vinnig. Die worcestersous doen duidelik sy werk!

Ek tel die boks kougom op en stap by die fabriek uit. Die son het intussen weer uitgekom. Ek is moeg en trots tegelyk. Die Slang en sy ouens is skoonveld.

Maar buite die fabriek wag daar ’n verrassing op my. Dis niemand anders as Colette nie. Colette, die meisie wat my in die eerste plek in hierdie strik laat trap het. Sy staar ongelowig van my na die boks.

“Het . . . het hulle die kougom uit vrye wil vir jou gegee?” vra sy.

“Nie heeltemal nie,” antwoord ek. “Maar amper.”

Nou kyk sy my stip aan. Haar oë is groen. “Ek wil niks meer met hulle te doen hê nie,” sê sy.

“Rêrig?”

“Ek het gedink die Slang se bende is nes ander bendes. Ek wou vir hulle wys wat ’n meisie kan doen.” Sy laat sak haar kop. “Maar toe moes ek die hele tyd steel. Om te bewys ek’s nie bang nie . . . Jy glo my nie,” sê sy sag toe ek stilbly.

“Is jy verbaas?” vra ek.

Ek kyk na Colette wat hangkop voor my staan en skielik kry ek haar jammer.

Daarom vra ek: “Hou jy van melk?”

“Melk?” vra sy. Sy klink nie baie lus nie.

“Ek sal vir jou gaan koop,” sê ek. “By Olga.”

Colette huiwer. “Weet sy nie ek het haar kougom gesteel nie?”

Ek skud my kop. “Selfs al weet sy ook – Olga vergewe maklik.”

“Hei, Kwaaikofski.”

“Mm?”

“Het Olga koeldrank ook?”

“Natuurlik,” antwoord ek.

“Weg is ons dan!” roep Colette en verdwyn reeds agter die eerste blok huise.

So dit was dan die kougomstrik. Olga het die gesteelde kougom nie by die polisie gaan aanmeld nie. En Dieter Schlang? Ek het lanklaas van hom gehoor. Miskien het die bottel worcestersous hom ’n les geleer en los hy nou sy skelmstreke. Maar as hy dit nie doen nie, sal ons paaie weer kruis. Wat is ’n privaatspeurder tog sonder ouens soos die Slang . . .



DIE EINDE





Kwaaikofski is al vandat hy kan onthou ’n privaatspeurder. Selfs as ’n baba het hy elke boublokkie weer gekry, en ook elke lekker wat iewers in die sandput verdwyn het. Hy het nou eenmaal ’n talent daarvoor. Gee hom ’n glas melk, Carpenters kougom en sy spesiale kep – wat sorg dat sy brein altyd teen die optimale temperatuur funksioneer – en hy is gereed vir enigiets!

Hierdie somervakansie word sy vernuf weer ernstig beproef. Waarom op aarde verdwyn sy gunsteling-kougom uit Olga se winkel? Die spoor lei na ’n ou geswore vyand, Dieter Schlang . . . Maar waarom sou die Slang iets daarmee te doen hê? Een ding is seker: Speurder Kwaaikofski gaan uitvind!





Jürgen Banscherus is gebore in 1949 en het gewerk as ’n joernalis, ’n uitgewer en ’n onderwyser, voordat hy homself as vryskutskrywer gevestig het in 1989. Intussen het hy bekend geword as een van Duitsland se mees geliefde skrywers vir kinders en jongmense. Sy boeke is al met vele toekennings bekroon en is reeds in meer as 12 tale vertaal.





Speurder Kwaaikofski: Die pienk skoolspook

Speurder Kwaaikofski: Die geheim van die vlieënde koei





Oorspronklike titel: Ein Fall für Kwiatkowski – De Kaugummiverschwörung

Eerste Afrikaanse uitgawe in 2012 deur Human & Rousseau,

’n druknaam van NB-Uitgewers,

’n afdeling van Media24 Boeke (Edms.) Bpk.,

Heerengracht 40, Kaapstad 8001

www.humanrousseau.com

Kopiereg © 1995 Arena Verlag GmbH, Würzburg, Duitsland

Alle regte voorbehou.

Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting.

E-boekontwerp: Trace Digital Services



Eerste gedrukte uitgawe in Afrikaans: 2012

ISBN: 978-0-7981-5751-3



Epub-uitgawe:

Eerste uitgawe 2013



ISBN: 978-0-7981-5594-6 (epub)

Mobi-uitgawe:

Eerste uitgawe 2013

ISBN: 978-0-7981-6358-3 (mobi)