اصلی Ultrasatyn 2 (Afrikaans Edition)

Ultrasatyn 2 (Afrikaans Edition)

, ,
0 / 0
How much do you like this book?
What’s the quality of the file?
Download the book for quality assessment
What’s the quality of the downloaded files?
کال:
2016
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780624079903
ISBN:
ed57edf7-b27f-46df-8d74-ce225f65449b
فایل:
کاپی کول (pdf, 131 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Hartklop - Omnibus 01

साल:
2015
भाषा:
afrikaans
फ़ाइल:
EPUB, 499 KB
0 / 0
2

Abby Green

साल:
2012
भाषा:
english
फ़ाइल:
EPUB, 1.19 MB
0 / 0
Ultrasatyn 2
Ridderspoor en rose – Elsa Winckler
Alfaman in Armani – Amelia Strydom
Ultrasatyn

Ridderspoor en rose

1

Vandag is ’n dag vir lelies. En Jack Johnson. Corinne skuif haar dun, goue
armbande op teen haar arm en druk die Convallaria majalis se stingel spierwit
klokkies tussen die loof wat sy reeds in die groot glaspot gerangskik het. Die
terugkeer van geluk – dis wat die lelie-der-dale sê.
“Môre, môre!” Ella, Corinne se winkelassistent, kom in een van die
gangetjies tussen die hoë rakke vol potte en blomme afgestap. “Ons sal ’n
klokkie vir die deur moet kry. Jy is so ingedagte dat iemand op jou kan afsluip
as daar nie ’n geklingel of iets is nie.”
“Haai, ja, nie ’n slegte idee nie. Ek het jou nie eens hoor inkom nie.”
Ella kantel haar kop en beduie na die ruiker. “Dis mooi. Is dit vir Rita?”
Corinne glimlag. Ella weet al dat Rita elke Vrydag vir haarself ’n bos
blomme by Corinne se winkel kom koop. Dit moet by haar bui van die dag pas,
maar daar moet altyd ’n takkie roosmaryn in wees – vir die onthou.
“Ja, maar vandag wil ek dit vir haar as ’n geskenk gee, om dankie te sê vir al
haar ondersteuning deur die jare.” Rita word sestig, haar man is vroeër vanjaar
dood, haar kinders almal oor die water. Sy verdien ’n bos lelies vanoggend.
Lelies vir geluk.
Ella knik. “Dis gaaf van jou.”
Corinne bekyk die blompot van alle kante terwyl Jack agter haar sing oor die
liefde.
Nog ’n rooi Inkalelie is nodig. Die Alstroemeria is simbolies van rykdom,
vooruitgang en voorspoed – alles wat sy vir Rita toewens.
Ella hou haar skewekop dop. “So, ek hoor dis ’n Jack Johnson-dag.”
“Dis ’n pragtige dag. Het jy gesien die jakarandas begin blom? Ek is mal oor
dié tyd van die jaar op Stellenbosch.” Corinne druk versigtig ’n paar stele
bloedrooi rose in haar rangskikking. Rose is vir liefde en Rita verdien baie
liefde.
Ella stap deur na die stoorkamer wat sommer ook as kombuisie aan die
agterkant van die winkel dien. “Hm, die dag is mooi, ja, en die jakarandas ook,
maar as Jack sing, beteken dit net een ding. Jy vergee; t, ek is al langer as ’n jaar
jou assistent,” roep sy oor haar skouer.
Corinne staan terug en bekyk die rangskikking voor haar. Sy moet nog die

takkie roosmaryn byvoeg, maar daar kort iets. Sy kyk rond en haar blik val op
die emmer vol primula. Opgewonde druk sy ’n takkie in die bos. Dit sal Rita
herinner hoe belangrik sy in hul lewe is. Tevrede draai sy die blompot in die
rondte. Sy kan nie wag om Rita se gesig te sien nie.
“Ek het die ketel aangesit,” onderbreek Ella haar gedagtes. “Ek sien jy het
nog nie eens vir jou koffie gemaak nie.” Sy trek aan Corinne se arm. “Die
stomme Tobie het toe ook nie uitgewerk nie?”
Corinne sug. “Hy’s nice, oulik, ordentlik –”
“Ja … en vervelig, heeltemal te vervelig vir jou,” knip Ella haar kort.
“Ek wou sê hy’s te ernstig vir my. Hy’s so nice …”
“Die lewe is heeltemal te kort vir net nice. ’n Mens het ’n man nodig wat jou
sal laat dink aan swart satynlakens en soel nagte, een wat jou laat swymel.
Lank, sexy, gespierd – dís die ware jakob.”
Corinne lag terwyl sy agtertoe na die kombuisie stap. “En dan? Wat gebeur
dan?” As sy nie nou koffie kry nie, val sy om.
“Dan wag jy vir die sparks om hul werk te doen. En wie weet, as die vonke
reg is, sal jy dalk van plan verander en dit selfs oorweeg om dalk te trou,” roep
Ella agter haar aan.
“Wel, ek is amper dertig en kan in alle eerlikheid sê geen man – en onthou,
ek gaan baie uit – het nog my hart laat bons, my hande klam gemaak, my mond
laat uitdroog, sterre laat verskiet of enigiets bowêrelds laat gebeur nie.”
“Uhm, Corinne –”
O nee, Ella gaan haar nie nou onderbreek nie. Sy het ’n punt om te bewys.
“Liefdesverhale en flieks wil ons laat glo daar is ’n soulmate vir ons elkeen
daar buite, maar my stomme ma het pas van haar sesde kamstige ‘soulmate’
ontslae geraak. Ek kon dit natuurlik lankal vir haar gesê het en haar op die koop
toe baie hartseer gespaar het.”
Corinne tel die bekers op en stap uit die kombuisie terug na die toonbank, waar
sy staan en blomme insteek. Haar oë bly op die koffiebekers, sy wil nie hier
mors nie. “Trou is nie vir ’n vrye gees soos ek nie. En die man wat my liggies
aanskakel, moet nog …”
“Ja? Dit wil ek baie graag hoor,” sê ’n diep manstem van iewers voor haar
net toe sy by die toonbank aankom.
Sy kyk vinnig op, die verdekselse koffie mors oor haar vingers. Met ’n
gedempte uitroep sit sy die bekers vinnig op die toonbank neer en vou haar
hande oor mekaar. Haar vingers brand soos vuur.
Sy knip haar oë, maar daar staan hulle nog: vyf mans. Vyf dodelik
aantreklike mans. Vyf baie lang, gespierde, sexy mans. In haar blommewinkel.

Almal het ligte rooi hare met blou oë wat ’n mens herinner aan landerye
boordensvol laventel. Seker broers, of dan ten minste neefs. Die
testosteroonvlakke in die winkel skiet die hoogte in, al die haartjies op haar
arms rys en die aarde kantel ’n paar oomblikke gevaarlik om haar.
Vier adonisse glimlag, vier paar kuiltjies verskyn en verdwyn, maar een
staan so ’n ent agter die ander, hande in die broeksakke. Hoewel hy ook na haar
kyk, is daar geen teken van ’n glimlag op sy gesig nie.
Sy kyk vinnig na Ella wat grootoog na haar terugstaar. Kon sy nie ’n beter
poging aangewend het om ’n mens te waarsku dat daar iemand – vyf sexy
iemande – in die winkel is nie? Maar sies tog, Ella lyk kompleet asof sy met ’n
voorhamer teen die kop geslaan is. Dis min of meer soos Corinne ook voel,
maar dis háár winkel. Hierdie manne is moontlike kliënte, maak nie saak hoe
aantreklik hulle is nie. Sy sal iets moet probeer sê.
“Menere,” kry sy uiteindelik met ’n swaar tong uit, “kan ek help?”
Langs haar kry Ella ook uiteindelik lewe en beweeg nader. Sy gooi haar
lang, donker hare oor haar skouer. “Ons het die mooiste blomme in die hele
Stellenbosch, julle is op die regte plek,” koer sy en fladder haar wimpers.
Vier paar blou oë verskuif na Ella, maar die een paar brand op Corinne. O,
liewe aarde. Haar knieë wil-wil knak, haar hart slaan bollemakiesie, haar
handpalms word klam, haar asem jaag asof sy kilometers ver gedraf het.
“Ek … my hande …” beduie sy en draai in haar spore om, terug na die
kombuisie. Sy moet net eers haar deurmekaar geskommelde breinselle regkry
voor sy besigheid met enigiemand kan doen, wat nog te sê vyf sexy mans wat
haar winkel toestaan.
Sy draai die kraan oop en druk haar brandende vingers onder die koue
lopende water in. Dalk help dit haar hele lyf om ook af te koel. Wat op aarde
gaan met haar aan? Dis nie asof sy nog nooit ’n aantreklike man gesien het nie.
En daar is nie net een van die spesie in haar blommewinkel nie, maar vyf.
Almal is ewe aanskoulik, hoekom sal net een van hulle …?
“Laat ek sien,” sê ’n stem en haar kop ruk in daardie rigting van die stem.
Dis hy. Die een sonder ’n glimlag wat haar soos ’n outydse heldin voor ’n
ridder wil laat swymel. Dit was mos Ella se woord. Nie dat sy weet presies hoe
’n mens swymel nie, maar sy begin ’n idee kry. Vlinders op die maag,
knakkende knieë, droë mond – om net ’n paar dinge te noem. Swart
satynlakens en soel nagte – Ella se beskrywing van netnou flits deur haar
wankelende gedagtes. Help. My. Tog. Asseblief.
Haar asem ruk in en saam daarmee asem sy hom in – ’n mengsel van hout,
woud, kruisement en man. Haar knieë dreig weer om te knak en sy loer vinnig
af na haar hande.
“Ek is oukei,” keer sy. Hoekom op aarde klink sy so hees?

“Laat ek sien,” sê hy weer en vat haar hande onder die lopende kraan uit.
Willoos staar sy na sy bruingebrande hande wat haar nat vingers een vir een
optel en deurkyk.
“Ek …” begin sy en maak die fout om weer op te kyk na hom.
Hy is sentimeters weg van haar en dis asof sy oë tot in haar siel peil, asof hy
alles van haar raaksien in hierdie een, enkele oomblik.
Sy moet iets sê, iets doen, maar nie een boodskap van haar brein kom by die
res van haar lyf uit nie. Haar sintuie het oorgeneem en dis waarop haar liggaam
reageer – op sy groot, gespierde lyf reg voor haar, sy geur, sy aanraking, sy
asemhaling, sy alles.
Haar borste voel swaar en sy trek haar hande vinnig uit syne. Sy kruis haar
arms in ’n poging om te keer dat hy agterkom hoe haar liggaam op hom
reageer, maar sy blik skuif af, ’n spiertjie spring in sy wang en toe hy weer na
haar kyk, is sy blou oë donker poele begeerte.
Dié keer is sy nie in staat om haar knieë se knak te keer nie en moet sy teen
die toonbank agter haar leun om regop te bly.
Om die een of ander waansinnige rede het Alan gedink dis ’n goeie idee om
agter hierdie vroumens aan te stap, aan haar hand te vat.
Hy moes nie eens hier gewees het nie, hy wou nie saamkom nie. Dis Doug
wat gaan trou. Dis sý verloofde wat histeries is oor ’n bloemis wat nie op
oproepe reageer nie, wat huil oor die Skotse heide wat skynbaar moeilik is om
in die hande te kry. Maar dis Doug se probleem.
Alan was egter nog nooit teen sy ma se pleidooie bestand nie. Hy moes maar
ingee en saamry. Die opdrag was kort en kragtig: Soek ’n bloemis op wie Doug
se bruid kan staatmaak. Daar is net drie weke oor voor die troue. En bewaar jul
siel as … Die blomme is die bruidegom se verantwoordelikheid, het sy ma
vingerswaaiend beduie, en ’n foto en ’n lys van blomme in Doug se hande
gedruk.
Hy was so de duiwel in. Doug was die afgelope ruk min by die werk en hy
en sy drie ander broers moes benewens hul eie take ook nog die agbare
bruidegom se werk doen. ’n Sagtevrugte-uitvoeronderneming kan nie vanself
funksioneer nie. Hulle het eindelose probleme met sommige produsente en die
stakings deur die werkers in die Ceresvallei maak dinge nie makliker nie. En
die laaste ding waarvoor hy vandag tyd het, is om agter blomme aan te ry.
En toe, in die tweede blommewinkel wat hulle binnestap, kom hierdie
vroumens met haar koringblonde hare en blouselblou oë in die gang afgesweef,
’n rits armbande vrolik klingelend aan haar arm. Hy’t haar gehoor nog voor hy
haar gesien het. Nietemin was die vuishou van begeerte totaal onverwags, die

onmiddellike intense behoefte om aan haar te raak vir seker ’n nuutjie.
Maar hier is hy nou, by haar. Of dit die blomme is waarmee sy werk of haar
parfuum, weet hy nie, maar die sagte blomgeure wat om haar hang, sypel deur
sy vel tot diep in sy wese en krap sy gewone logiese denke heeltemal
deurmekaar.
Haar lyf reageer duidelik op hom net soos syne op hare. En al waaraan hy
kan dink, is om haar so gou moontlik êrens alleen te kry sodat hy haar styf teen
hom kan vastrek, sy arms om haar kan vou en daardie aanloklike lippe kan soen
totdat sy teen hom smelt. Hel, watter man sal ooit moeg word daarvoor! Dalk is
sy vanaand beskikbaar en kan hulle uitgaan, wie weet …
Hy knip sy oë. Wat de hel? Hy staan en maak planne soos ’n verliefde
skoolseun. Dis ’n wildvreemde vroumens, glad nie die tipe wat hom
normaalweg aantrek nie en al wat hy van haar weet, is … Hoe het sy nou weer
gesê? Sy is te veel van ’n vrye gees om te trou en die man wat haar liggies
aanskakel … Sy het nie haar sin voltooi nie, maar hy kon darem aflei dis nie
iets wat al gebeur het nie.
Tot nou toe. Obviously.
Sy kruis haar arms, skynbaar sodat hy nie kan sien hoe sy op hom reageer
nie. Maar haar beweging het die teenoorgestelde uitwerking en die glimp van
die bolyn van haar borste laat die bloed verder suid van sy middel sak.
Bliksem. Hy besef twee dinge tegelyk – hy moet vinnig van haar af wegkom
en hy sal eers sy liggaam in beheer moet kry voordat sy broers hom sien.
En asof sy presies weet wat in sy gedagtes aangaan, sak haar blik af. Die
sagte kreun oor haar lippe por sy lyf verder aan. Toe sy weer opkyk, is daar ’n
blos op haar wange, verwondering in haar oë en ’n geamuseerde glimlag om
haar mond.
Sy maak keel skoon en gooi ’n sliert lang hare oor haar skouer. Haar
armbande lok klingelend. “Ek … ek dink jy moet eers ’n rukkie hier wag,” kry
sy dit uit, maar sukkel duidelik om haar lag in te hou.
“O, jy dink dis snaaks?” brom hy vies. “Jy moet dalk ook ’n paar oomblikke
wag voordat jy voor mense verskyn,” sê hy en beduie na die twee puntjies wat
styf teen haar toppie beur.
Sy kyk vinnig af en trek haar asem skerp in. “Dis … dis koud,” stamel sy en
kies koers deur se kant toe. Teen die een muur hang ’n dunnerige los trui wat sy
gryp en aantrek net voor sy, armbande en al, om die hoek verdwyn.
Ha, so dit is toe nie so snaaks as dit met haar ook gebeur nie.
Hy leun teen die wasbak en tel tot by tien, toe twintig. Sy liggaam kom
uiteindelik tot bedaring. Haar klokhelder lag en die geklingel om haar arm trek
oor die luggolwe teen die gang af en bereik hom op dieselfde oomblik. En
dadelik is die sukses van sy tellery tot niet.

Swetsend draai hy die kraan oop en druk sy hande onder die koue lopende
water. Hy spoel die water oor sy gesig en gryp ’n papierhanddoek wat daar
naby lê om sy gesig mee af te vee.
Met lang treë stap hy terug na waar sy broers ewe vrypostig oor die toonbank
hul flikkers vir die twee vroumense gooi.
“Corinne, dit is Doug Sutherland,” stel die donkerkop sy ouboet aan die
godin met die armbande voor. Doug steek sy hand na haar toe uit.
“En hierdie spulletjie is sy jonger broers … uhm … wat het julle nou weer
gesê is jul name?” Die donkerkop giggel soos ’n bakvissie.
Doug beduie na hul drie broers wat agter hom staan. “Edward, Finlay en
Quinn – en daar agter jou staan Alan.”
Mejuffrou Armband glimlag. “Aangenaam. Ek is Corinne en dit lyk my julle
het reeds deeglik met Ella kennis gemaak.”
Sy broers grinnik. Hulle het natuurlik skaamteloos met dié poppie geflankeer
terwyl hy saam met Corinne in die kombuis was. Hel, en wat het hý nogal
gedoen?
“Sutherland? Dit klink Skots?” sê-vra die blondekop.
Corinne. Die naam pas by haar. So effens anders as die gewone. Dit klink
soos ’n soort blom, met fluweelsagte blare en geurig.
“Ja, en dis hoekom ons hier is, om blomme vir my Skotse troue te reël,” sê
Doug. “Ek trou oor drie weke. Kan jy dalk help? Moet asseblief tog nie nee sê
nie! Die bloemis wat Annabel … dis my verloofde, gereël het, het in die niet
verdwyn en reageer nie op oproepe nie. Ons sukkel nou al dae lank om ’n ander
bloemis te kry. Ons wil albei graag ’n tipies Skotse troue hê en Annabel se
ruiker en dié van haar strooimeisies moet daarby aanpas.”
Terwyl hy praat, blaai sy in ’n groot dagboek wat op die toonbank lê. “Jy
praat van die eerste naweek in Desember?” Sy tik besluiteloos met haar pen in
die dagboek. “Ons moet blomme verskaf vir ’n funksie die vorige aand, ek dink
nie …”
“Ons sal almal help – aandra, optel, wat ook al, maar asseblief, kan jy nie ’n
plan maak nie?”
Ella gryp in. “Ons kan jou tannie Lisa vra om die Vrydagaand se blomme te
doen?” stel sy opgewonde voor.
Corinne kou haar onderlip besluiteloos en Alan sluk ’n kreun. Wat de hel?
Sy lyf ervaar alles wat die vroumens doen as ’n soort geheime sein.
“Wat het julle in gedagte?” vra Corinne toe sy uiteindelik opkyk.
Doug haal die vel papier wat hul ma hom in die hand gestop het uit en
oorhandig dit plegtig aan haar. “En o ja, hier is ook ’n foto van ’n tipies Skotse
ruiker,” beduie hy. “Dis presies so een wat Annabel wil hê.”
“Dankie,” sug sy gelate en gaan sit op ’n hoë stoeltjie terwyl sy deur die

lysie kyk. “Ek het al iets soortgelyks gedoen. Skotse troues is baie gewild.”
“Waar was jy?” vra Edward, een van die ander broers, vir Alan.
“Ek … het my hande gewas,” sê hy kortaf en ignoreer sy broers se
opgetrekte wenkbroue. Sy oë dwaal terug na die vroumens op die stoel.
Terwyl sy deur die lysie lees, swaai sy haar bene heen en weer en vir ’n
oomblik flits iets aan die onderkant van haar lang romp in sy oë. Met die
volgende skopslag sien hy dit raak – ’n ragfyn goue kettinkie om haar enkel.
Let wel, haar dun, sexy enkel. Met nog ’n onderdrukte kreun draai hy sy rug op
almal en loop ’n ent weg. Bliksem. As hy soos ’n agtiende-eeuse ridder begin
dink ’n vrou se enkels is sexy, is sy broers seker reg – dis tyd dat hy weer ’n
slag uitkom, ’n vrou uitneem, saam met haar in die bed spring. Hy is duidelik
sekshonger. Dis belaglik om so te reageer op ’n wildvreemde vrou met lang, los
hare en wasige klere, net omdat haar armbande klingel.
Agter hom treiter die einste armbande weer ewe parmantig saam met
Corinne se stem. “Goed, as julle almal sal help aandra, kan dit werk. Die kleure
is nie ’n probleem nie, maar ek sal moet vasstel of ons Skotse heide kan kry.”
“Ons kan die heide invoer,” bied Doug gretig aan. “Alan, wat dink jy? Ons
het mos kontakagente in Skotland?”
Alan draai vinnig terug en stap tot by die toonbank. “Is jy nou heeltemal
bedo-,” begin hy, maar Corinne spring op en sit haar hand kalmerend op sy
arm. Sy woorde droog summier op. Haar aanraking steel sy asem, sy
gedagtevloei, die werking van sy brein.
“Ek het ’n voorstel,” sê sy sag maar ferm. “Hier om die hoek is ’n gesellige
koffieplek. Gaan bestel vir julle koffie, eet ontbyt, ontspan. Blomme is my
besigheid. Ek en Ella gaan gou kyk wat ons kan kry by ons eie verskaffers.
Sodra ek ’n plan het, kom gesels ek met julle. Gee ons so ’n halfuur?”
Doug se glimlag is breed. “Dankie, Corinne!” Hy buig oor die toonbank, trek
haar kop nader en soen haar op die wang.
Laggend druk sy hom weg. “Ja, toe nou. Uit is julle, ek kan nie dink met so
baie mense in my winkel nie.”
Met ’n vinnige knik in die algemene rigting van die vroumense, is Alan uit
by die deur terwyl sy broers nog groet. Sy vuiste is gebal en met ’n swetswoord
druk hy sy hande in sy broeksakke.
Doug het net ’n grap gemaak toe hy vir Corinne soen, hy weet dit. Maar hy
is gereed om sy vuis in sy broer se gesig te druk. Hard. Wat de hel het dit met
hom uit te waai? Sy kan soen wie sy wil – hy ken die vroumens van geen kant
af nie.

2

“Sjoe,” giggel Ella en gryp die naaste vel papier om haar koel te waai. “Ek het
lanklaas soveel manlike manne bymekaar gesien. Dis die ene …”
“Testosteroon?” skerts Corinne half uitasem, lig haar hare op met haar een
hand en trek haar notaboek nader met die ander. Ook sy is die ene gloede. “Dié
dat ek hulle uitgestuur het,” lag sy en begin kyk deur die telefoonnommers van
haar verskaffers op haar foon. “Dis onmoontlik om te werk met daardie spul in
die omtrek.”
“Die een wat agter jou aan in die gang af is …”
“Alan,” prewel Corinne, terwyl haar wysvinger oor die name op die lysie
gly.
“So, jy het darem sy naam gehoor,” sê Ella. “Wat het in die kombuis gebeur?
Jou wange was rooi en jy het ’n trui aangehad toe jy terugkom.” Haar oë rek.
“Hy’t jou gesoen!” roep sy opgewonde uit.
“Ella!” raas Corinne ontsteld. Doug se piksoen was soos dié van ’n broer,
maar net die gedagte aan Alan se lippe op hare, laat haar die trui weer styf om
haar lyf draai. Goeiste aarde tog. Hulle was sentimeters van mekaar af, dit sou
so maklik gewees het om op haar tone te staan en met haar lippe aan syne te
raak.
Help! Ontsteld soek sy rond op die toonbank. “Niemand het niemand gesoen
nie. Hierso,” sê sy en gee ’n boek met telefoonnommers van nog verskaffers
aan Ella. “Begin bel jy hierdie name, ek bel dié op my selfoon. Ons het ’n
bestelling om aan te werk. Daar is g’n tyd om oor ’n soenery te staan en praat
nie.”
Ella trek die boek nader. “Jou wange gloei al weer,” terg sy voordat sy aan
die werk spring.
Corinne druk ’n hand teen haar warm gesig. Sy het dalk iets onder lede.
Seker ’n vreemde virus. Hierdie waansinnige geklop van haar hart is ’n heel
ongewone ervaring. Sy moet iets makeer, haar hele lyf kan tog nie so vreemd
koorsig reageer en dit net omdat sy naby ’n aantreklike man gestaan het nie.
Sy gryp ’n stuk papier en begin haar ook koel waai. Net die gedagte aan die
man se geur, sy nabyheid, maak haar van voor af warm. Hy het die mooiste
blou oë en ag aarde, daai kuiltjie in sy wang is genoeg om elke vrou se bene

lam te maak.
“Wel, as ek so na jou kyk, is daar net een afleiding. Jy het ten einde laaste ’n
man raakgeloop wat jou liggies aanskakel!” giggel Ella.
Corinne laat val haar papierwaaier en kyk verdwaas na Ella. “Waarvan praat
jy tog?”
“Kyk na jou, jou oë blink, jy kan nie op jou werk fokus nie – en dit het alles
begin vandat die Sutherland-broers in die winkel was.”
Corinne waai Ella se aanmerking weg. “Ek weet nie van watter liggies jy
praat nie. Ek was nogal uit die veld geslaan oor die vyf mans in die winkel,
maar selfs jy was ’n paar minute sprakeloos. Hulle is … ’n fees vir die oog,
maar ek dink ek het iets onder lede.”
Ella stik in ’n giggel.
“Ek voel effens koorsig, maar dit het niks met die mans te doen nie,” kap
Corinne vieserig terug.
Nou lag Ella kliphard. “Niemand het van mans in die meervoud gepraat nie,
my liewe Corinne. Uhm … ek dink die koorsigheid is te wyte aan een baie
spesifieke man. Die een wat netnou agter jou aangeloop het kombuis toe.”
Corinne trek haar asem verstom in. “Maar dis tog nie moontlik nie, is dit?
Hy is ’n beeld van ’n man, ja, hulle almal is – en dis nie asof ek nog nooit mooi
mans gesien het nie! ’n Mens kan nie so vinnig … kan ’n mens? Dis seker net
…”
“… omdat hy jou liggies aanskakel. Is dit nie wonderlik nie? Net vanoggend
het jy nie gedink daar is ’n man wat dit sal regkry nie, en kyk nou vir jou!”
Corinne druk haar hand teen haar hart. Sy het nog altyd geglo in haar instink,
in haar eerste reaksies op situasies en op mense. Maar hierdie keer is sy
onwillig … nee, bang is die woord as sy nou baie eerlik is, om na instink te
luister. Want wat daardie stemmetjie vir haar sê, doen geen ordentlike vrou
vroeg in die oggend nie! Die gevoelens wat deur haar bruis, is oorweldigend,
intens, allesoorheersend en … en sjoe, stomend.
En sy wil nie so voel nie. Sy wil nooit, ooit soos haar ma alles los, haar kind
inkluis, haarself elke keer probeer verander om te wees wat die nuwe man in
haar lewe wil hê sy moet wees nie. ’n Mens kan mos darem jou gesonde
verstand gebruik en goeie besluite neem.
Hoewel dit lyk asof haar gesonde verstand nie meer heeltemal so gesond is
nie.
’n Blos dreig om weer teen haar nek op te kruip en sy kam haar hare agteroor
met bewerige vingers. “Oukei, jy is dalk reg. Die man het my … die vent ís
aantreklik. Maar ons het werk om te doen! Ons moet kyk of ons op kort
kennisgewing verskaffers kan kry wat Skotse heide en distels betyds kan
aflewer, ’n kwotasie uitwerk. Daar is nie nou tyd,” kreun sy en druk haar hand

op haar maag, “om aan die vlinders hier binne te dink nie!”
Ella glimlag meewarig. “Gelukkig is ek nog oukei, al het die manne my ’n
rukkie van stryk gebring. Ek sal heel eerste met ons gewone verskaffer praat en
vra of hulle dalk ’n plan kan maak om Skotse heide in die hande te kry. Watter
kleur moet dit wees? Wit of pers?”
“Wit,” sê Corinne en kyk na die foto wat Doug vir haar gegee het. “Wit
heide beteken beskerming, en bring geluk vir bruide wat dit dra. Jy ken die
mooi storie wat vertel word oor wit heide.”
“So, só romanties.” Ella sug en druk haar hand teen haar hart.
“Dit is spesiaal.” Corinne kyk vinnig deur die lysie. “Die Skotse distel
behoort nie ’n probleem te wees nie, dis maklik om in die hande te kry. ”
Ella bel dadelik. Die verskaffer kan wit Skotse heide kry. Teen ’n prys,
natuurlik, maar die bruidegom moet maar besluit of hy bereid is om dit te
betaal. Corinne kan alternatiewe aanbeveel.
Uiteindelik het sy al die pryse. Daar is nog tien minute oor voor sy weer die
Sutherland-broers sien, maar gelukkig werk sy vinnig kwotasies uit. Die
fladdering op haar maag begin weer en sy voel die heerlike gloed van
afwagting en opwinding teen haar nek opkruip. Sy gaan binne enkele
oomblikke weer vir Alan sien.
Help! Die stemmetjie in haar binneste is al hees geskree.
Alan sou vinnig sy koppie koffie sluk en waai. Dis nie nodig om langer te sit en
wag om te hoor van Doug en Annabel se blomme nie. Dit het op die aarde niks
met hom uit te waai nie. Hy het sy ondersteuning gewys deur saam te kom,
hulle het ’n bloemis gekry, sy plig as strooijonker en broer is afgehandel.
So, die rede hoekom hy nog hier in afwagting sit, beteken net een ding – hy
wil weer die godin met die armbande sien. Corinne. In die paar oomblikke wat
hy sentimeters van haar af was, het hy alles van haar raakgesien: haar
helderblou oë, die vyf sproete op haar neus, die sysagtheid van haar
koringblonde hare, die glimlag om haar lippe en, help hom, die klipharde
puntjies van haar borste wat teen haar T-hemp druk. En toe kom die doodskoot
– daai dun goue enkelkettinkie. Dat hy nie iets onbesonne aangevang het nie,
soos om haar oor sy skouer te gooi en iewers heen te neem waar hulle alleen
kan wees, waar hy kan voel …
Ongemaklik skuif hy op sy stoel rond. Hy wat skaars ’n girl se naam kan
onthou na ’n date, het feitlik oombliklik elke detail van die vroumens
opgeslurp. Net die gedagte aan haar stuur sy libido weer op ’n wilde weghol.
En wat hy glad nie verstaan nie … sy lyk nie naastenby soos sy idee van die
ideale vrou nie.

Magtig, hy is besig om dit te verloor, hy hoor die treiterende geklingel van
daardie armbande al is sy nie eens naby nie.
“Hier is Corinne!” roep Doug uit.
Verlig staan hy saam met sy broers op. So, sy spook nie regtig by hom nie.
Hy het reg gehoor; hy is darem nog nie heeltemal van sy trollie af nie.
Corinne beduie vir hulle om te sit. “Jul ma het julle mooi grootgemaak.” Sy
skuif haar reg op die leë stoel langs hom en toe hulle inskuif, rus haar been ’n
oomblik styf teen syne.
Hy voel die siddering wat deur haar lyf trek, maar voordat hy iets simpels
kan doen soos sy hand op haar been sit, skuif sy haar stoel agtertoe.
Sy begin klik die pen wat sy in haar hand het en maak keel skoon. “Ek kan
vir jou die Skotse heide kry; die wittes kom teen ’n prys, natuurlik. Daar is
goedkoper alternatiewe.” Sy knipoog na Doug se kant, haar glimlag wyd.
“Maar jy weet seker hoe spesiaal wit heide is. Dit dra so ’n besonderse
boodskap oor en daar is ’n spesiale legende wat daaroor vertel word.”
Doug skud sy kop. “Nee, ek weet niks van blomme nie. Ek weet net Annabel
soek ’n Skotse ruiker en ek sal oor warm kole loop om seker te maak sy kry
wat sy wil hê.”
“Wow, jy’s ’n droombruidegom! Hier is die pryse.” Corinne oorhandig ’n
vel papier aan Doug. “Blomme het hul eie taal. Die wit heide sê vir haar jy wil
haar beskerm en hoop uit jou hart al haar wense sal waar word.”
Doug glimlag breed. “Ek hou daarvan. Maar ek het nie geweet blomme dra
betekenis oor nie. Oukei, ek weet ’n rooi roos is liefde, maar jy leer my iets.”
“Ek het feitlik in my ouma se blommewinkel grootgeword en by haar geleer
blomme ‘praat’ met jou. Elke blom het ’n betekenis, elke blom sê iets. Dis
wonderlik om die uitwerking van die regte bos blomme op iemand te sien. Glo
my, jou bruid sal mal wees oor haar ruiker.”
“Corinne, jy red my. Ek gaan hierdie lys vir Annabel gee, sy sal verder met
jou onderhandel. Die prys maak nie saak nie, enigiets wat haar gelukkig maak.”
“Volgens die lysie wat jy my vanoggend gegee het, wil julle ook blomme in
die onthaallokaal hê?”
Doug struikel effens oor die naam van ’n spogwynplaas buite Stellenbosch
waar die onthaal gehou gaan word.
Corinne knik. “O ja, Plaisir d’Amour! Ek het al ’n slag die blomme vir ’n
troue daar gedoen en weet presies hoe dit lyk. Pragtige plek. Goed, ek wag vir
Annabel om my te bel.”
Sy begin opstaan en Alan sit vinnig sy hand op haar arm. Haar arm ruk onder
sy vingers en hy laat sak sy hand.
“Die legende van die wit heide?” vra hy.
Sy kyk vinnig na sy broers voordat sy begin praat. “Volgens oorlewering

was Malvina, die dogter van die Skotse digter Ossian, in die derde eeu verloof
aan die Keltiese soldaat Oscar. Oscar is egter dood tydens ’n geveg en toe
Malvina die nuus kry, het sy bitterlik gehuil. Daar word vertel die boodskapper
wat die nuus gebring het, het ’n takkie pers heide aan haar oorhandig wat Oscar
vir haar as ’n laaste teken van sy ewigdurende liefde gestuur het. Toe haar trane
op die pers heide val, het dit wit geword. Sy het die wens uitgespreek dat die
wit heide, hoewel die simbool van haar hartseer, geluk aan elke ontvanger
daarvan sal bring.”
Sy skuif haar stoel agteruit en staan op. “Mooi, nè?”
Alan kyk vinnig na sy broers. Almal het dieselfde verdwaasde uitdrukking
op die gesig, wat seker ook op syne is. Die girl kan ’n storie vertel.
Hulle spring weer almal op. “Dankie, Corinne,” sê Doug duidelik beïndruk.
“Kom ek stap saam met jou terug,” sê Edward en vat haar hand.
Voordat Alan kan dink oor wat hy aanvang, het hy haar ander hand in syne.
“Ek sal saam met haar stap,” sê hy kortaf en druk Edward eenkant toe.
Sy broers se skaterlag agtervolg hom tot om die hoek.
“Jy hoef nie saam te stap nie, ek …”
Hy swaai haar om sodat sy voor hom staan. “Ek wil jou sien. Vanaand. Of
… enige ander aand.”
Sy kantel haar kop, ’n frons op haar voorkop. “Ek dog Annabel gaan my bel
oor die blomme?”
Iemand stamp agter teen hom en met ’n swets trek hy haar by die naaste deur
in. Dis die een of ander kantoor, maar hy kyk nie rond nie.
“Ek wil jou sien,” sê hy weer, maar sy bly frons, so asof sy geen benul het
waarvan hy praat nie. Magtig, het hy so lanklaas ’n vroumens uitgeneem? Hy
moet sy slag verloor het. “Ek wil jou uitneem. Vir ete of … iets.”
Hy sien die presiese oomblik toe sy verstaan wat hy nou eintlik vra. Haar
wenkbroue skiet die hoogte in en haar mond vorm ’n koeëlronde “o”.
“Vanaand?” vra hy.
Verdwaas knik Corinne.
“Sewe-uur?”
Sy knik weer.
En toe kan hy met die beste wil ter wêreld nie meer die donderende
boodskap van sy brein of sy lyf, of albei, ignoreer nie. Hy vou haar gesig toe in
sy hande. Haar mond val oop in ’n snak en hy duik af vir ’n soen.
’n Man soen nie ’n girl wat hy van g’n kant af ken nie. Dis sy laaste
intelligente gedagte. Want toe sy lippe aan hare raak, kom sy hele lyf in
opstand teen hierdie verlangse stemmetjie wat hom wil kapittel.
Haar lippe is sag, warm en nooi hom uit om te proe. Hy drink haar in, maar
die dors in sy binneste raak nie geles nie, inteendeel.

Iemand maak hard keel skoon agter hulle.
“Kan ons help?” vra ’n geamuseerde stem.
Vervaard ruk hy sy kop op. Corinne knip-knip haar oë. Hy kyk om na waar
die stemme vandaan kom. Agter die ontvangstoonbank staan twee vroue met
breë glimlagte na hulle en kyk, maar dit duur ’n paar oomblikke voordat hy
besef wat so pas gebeur het. Hy het wragtig ’n wildvreemde vrou by die eerste
die beste deur ingetrek en haar gesoen sonder om een oomblik te dink wat hy
doen en waar nogal.
Corinne lag, haar armbande klingel uitgelate.
“Hallo, julle!” groet sy die twee vroue vrolik. “Ek kan hom beslis aanbeveel
– die man kan soen!”
En voordat hy iets kan sê, is sy uit by die deur.
“Wel, meneer, as jy soene aan die uitdeel is …” giggel die een vrou, maar
Alan luister nie verder nie en stap met lang treë by die deur uit agter Corinne
aan.
Binne die bestek van ’n uur is hy uitgedop en omgedop deur die vroumens.
Hy soen vroue, maar darem eers na ’n paar dates, nie sommer enkele minute
nadat hy een ontmoet het nie. Sy instink – en libido – het sy normaalweg
analitiese linkerbrein heeltemal oorgeneem – dis al verklaring vir sy bisarre
optrede.
Gewoonlik kyk hy ook die spreekwoordelike kat eers baie goed uit die boom
voordat hy eens daaraan dink om ’n vrou uit te neem. Hy stel baie vinnig vas in
watter kategorie ’n vroumens val – is sy ’n geldjagter, dalk loopbaangerig, of
op soek na ’n trouman? Van laasgenoemde bly hy vir eers so ver moontlik weg.
Die loopbaangerigtes werk vir hom, hulle is altyd te vinde vir sy no-stringsbeleid. En gewoonlik is sy nommerpas-date ’n aantreklike, lang donkerkop met
’n netjiese kapsel wat tuis is in snyerspakkies, ’n dame wat stemmige
juweliersware soos pêreloorbelle verkies. Dalk sal hy wel eendag met só ene
trou – ’n vrou wat ’n bate vir sy beeld in die sakewêreld sal wees – maar
daarvoor is hy nog glad nie gereed nie.
Hierdie girl wat hy vanoggend ontmoet het, die een met die koringblonde
hare, pas in geen boksie nie. Haar lang, amper deurskynende romp is
allesbehalwe stemmig. En hy kan sy oë nie van haar ritselende en beslis
onstemmige armbande afhou nie. Hel, as hy eerlik is, alles aan haar fassineer
hom.
En verdomp, ’n paar verskietende oomblikke het sy hom teruggesoen. Maar
sy kon ewe koeltjies wegstap met ’n breë glimlag terwyl die vuur in sy lyf dreig
om hom te verteer.
Hy druk die deur oop en stap ’n tweede keer die dag haar blommewinkel in.
Dié keer is sy lyf tot in sy tone gepantser teen die tornado wat wag, dié keer sal

hy nie weer …
En toe sien hy haar. Sy gesels glimlaggend met ’n netjies geklede ouer vrou
aan wie sy ’n ruiker oorhandig.
“Dankie, kind,” sê die vrou, haar stem sag en vol emosie. “Dis pragtig. Wat
skuld ek jou?”
“Dis ’n geskenk van my en Ella, Rita. Baie geluk met jou verjaardag, ons
wens jou net geluk toe. Dis wat hierdie lelies-van-die-dale vir jou sê,” sê
Corinne en raak aan die wit blomme in die ruiker.
Die ouer vrou snuif. “Dankie, Corinne. Ek is so dankbaar vir iemand soos jy
in my lewe,” sê sy en ruik waarderend aan die bos blomme. “Jy helder altyd my
dag op.”
En nee, besef hy, al was hy dié keer voorbereid daarop om haar te sien, sy
kry dit weereens reg om sy hart vinniger te laat klop. Sy ís presies so beautiful
soos wat hy onthou. En sy het ’n hart vir ander – die vrou voor haar is amper in
trane oor die ruiker.
Hy staan nog half oorbluf by die deur toe die vrou aangestap kom, haar
kosbare blomme in albei hande vasgehou. Hy maak die deur vir haar oop en sy
glimlag vir hom.
“Corinne,” roep sy en loer oor haar skouer terug. “Kyk net hierdie beeld van
’n man! En dan het hy nog maniere ook.” Met ’n wuif van haar hand is sy uit
by die deur.
Corinne het werktuiglik opgekyk toe Rita na haar roep. Hy hou haar blik vas
totdat hy reg voor haar tot stilstand kom.
“Alan, was daar nog iets?”
“Jou adres?”
Sy skud haar kop en kam haar vingers deur haar lang hare. “Ek … het weer
gedink en …” Sy maak ongemaklik keel skoon. “Ek dink nie dis ’n goeie idee
as ons tyd saam deurbring nie.”
“Hoekom nie?” vra hy en gee nog ’n tree nader sodat hul gesigte sentimeters
van mekaar is.
’n Effens verbouereerde uitdrukking kruip in haar oë voordat sy wil-wil
wegdraai. “Jou broer is ’n kliënt van my …” begin sy, maar hy gryp haar hand
voordat sy kan wegstap.
“Twak,” sê hy. “Dis nie ’n verskoning nie.”
Haar een wenkbrou lig en haar armbande tart hom toe sy haar ander hand op
haar heup sit. Heeltemal onbepland raak sy vingers met hare verstrengel.
Sy trek haar asem in. “Alan,” sê sy, die kenmerkende glimlag meteens weg,
“dis te … veel, te vinnig, jy’t my sommer gesoen!”
“Hoe de hel dink jy voel ek? Ek stap hier in om my broer te help en daar is jy
– blond, sensueel, jou hare los, jou armbande al klingelend en jy laat my

vergeet wat my bleddie naam is!”
“Presies, ek weet!” Sy trek haar asem vinnig in en gluur hom verontwaardig
aan. “Ek het ’n doodgewone dag gehad totdat jy hier ingestap het – groot, sexy,
aantreklik. En binne ’n uur soen jy my en ek wou nie hê jy moes ophou nie!
Dis belaglik. Ek ken jou glad nie en doen nooit so iets nie. Wel, natuurlik soen
ek mans, maar nie binne die bestek van ’n uur nie!”
’n Rooi blos kruip teen haar nek op. Sy kreun hardop, ruk haar hand uit syne
en druk haar gesig in haar hande. “En ek kan nie glo ek het dit hardop gesê
nie,” fluister sy terwyl sy deur haar vingers na hom loer.
Haar woorde het ’n onmiddellike uitwerking op sy lyf en met ’n swetswoord
trek hy sy broek reg. Sy laat sak haar hande en beweeg vinnig tot agter die
toonbank.
“Soos ek gesê het, dis nie ’n goeie idee nie. Ek …”
Die foon lui. “Ek moet antwoord,” pleit sy. “Gaan asseblief … weg? Ek …
jy … moenie so vir my kyk nie!” fluister sy half desperaat en tel die gehoorbuis
op.
Soos die spreekwoordelike skim verskyn Doug meteens van agter ’n rak.
Hel, wanneer het hy ingeglip? Dis die allerlaaste mens wat Alan nou wil sien.
“O, hier is jy! Ons het gewonder wat van jou geword het. Ons is op pad. Wat
maak jy nog hier?”
Voordat sy broer verder kan praat, is Alan reeds by die deur uit. Die laaste
ding wat hy nou nodig het, is aanmerkings van sy broers. As hulle moet
agterkom hoe die girl met hom toor, sal hy nooit die einde daarvan hoor nie.
Toe hy voor in die motor klim, slaan Quinn hom van agter op die skouer.
“Het jy sowaar die hots vir die vroumens? Al wat ek kan sê, is sy is ’n groot
verbetering op die kantoorjuffers wat jy gewoonlik uitneem. Sy lag maklik en
lyk nie of sy honger ly nie.”
“Ja, seriously. Ek het al baie gewonder hoekom hou jy so van vroumense wat
so teringmaer is en sulke vreeslike formele klere dra,” sê Edward. “Dis
onnatuurlik!”
“En dan praat ek liewer nie van die stywe bollas wat hulle dra nie. Kry jy
ooit kans om hul hare darem bietjie deurmekaar te krap?” terg Finlay.
Alan brom net onderlangs.
“Julle mos gesê,” skaterlag Finlay. “Watch this space – ons het wragtig nog
’n troue voor Krismis.”
“Is jy nou heeltemal besimpeld?” snou Alan sy broer oor sy skouer toe.
Doug skakel die motor aan. “Jy het nie die uitgeboulde uitdrukking op jou
gesig gesien toe jy agter die girl aangeloop het nie – ons het.”
Alan vryf gelate oor sy gesig. “Sy’s ’n oulike girl en ja, ek het probeer om
haar weer te sien, maar sy wil nie, einde van storie. Soos julle so pas opgemerk

het, sy is in elk geval glad nie my tipe nie. Julle weet van al die moeilikheid by
die werk – kan ons asseblief eerder daaroor praat?”
“Dalk dié dat jy nie so ver kom om te trou nie – jy moet dalk ’n ander tipe
girl probeer uitneem,” raas Doug gemoedelik voordat hy oor die probleme met
hul verskaffers begin praat.
Alan kyk by die venster uit en probeer sy lyf, sy hartklop, sy libido in beheer
kry. Die hele situasie is so onwerklik. Die vroumens is reg – hulle twee saam is
beslis nie ’n goeie idee nie.

3

“… en toe kom sy hier uitgestap, haar wange bloedrooi en haar oë
skitterblink!” voeg Ella handeswaaiend by.
Tannie Lisa lag en klap haar hande. “Nou wat het in die kombuis gebeur?”
vra sy opgewonde vir Corinne.
Corinne konsentreer op die rangskikking voor haar en maak asof sy nie hoor
wat gesê word nie. Die anemone lyk mooi hierby en … sy kyk na die emmers
wat om haar staan. Natuurlik, die delphiniums. Ridderspoor, soos dit algemeen
bekend staan. Sy druk ’n delphiniumtak in die bos blomme. Haar hand vries.
Wat doen sy? Onthuts staar sy na die ruiker waarmee sy besig is. Soos altyd,
spoel haar emosies oor in die blomme wat sy rangskik, maar goeiste, anemone
en ridderspoor?
“Kyk na die blomme wat sy vandag gebruik,” fluister Ella hard genoeg sodat
Corinne dit kan hoor. “Van Dinsdag af ignoreer sy al die ander blomme, tot die
pragtige gerberas wat ons ingekry het – dis net tulpe wat liefde verklaar,
anemone wat op afwagting dui en die delphiniums!”
“Vurige verbintenisse,” mompel tannie Lisa onderlangs.
Corinne hoor Ella se woorde. Haar asem raak weg en verbouereerd bekyk sy
die rangskikking. Haar hand huiwer bokant die delphinium, maar sy kan dit nie
regkry om dit uit die ruiker te haal nie. Dit hoort daar. Net soos die anemone.
Sy draai weg en gryp die groot dagboek wat op die toonbank lê.
“Die afspraak met Doug Sutherland se bruid, Annabel, is Vrydagoggend as
ek dit nie mis het nie, Ella. Tannie Lisa, is jy seker jy kan ons die Vrydagaand
help?” vra sy en probeer haar gedagtes terug by haar werk kry, maar hier duik
die Sutherland-van al weer op.
Tant Lisa neem uitasem plaas op die hoë stoel aan die ander kant van die
toonbank. “Natuurlik, hartjie, maar ek kan die Saterdag ook vir julle help,”
beduie sy opgewonde. “’n Skotse troue! Mans in kort rompies. Ek wonder nog
altyd wat hulle onderaan aantrek!”
“Tannie Lisa!” lag Corinne en voel hoe ’n blos teen haar nek opstoot.
Dis presies waaroor sy ook die afgelope paar dae wonder en waaroor sy die
een stomender droom as die ander het. Sy het nog altyd gedink sy is maar net
nie ’n vreeslik passievolle vrou nie. Die een keer wat sy as student besluit het

om vas te stel waaroor al die bohaai nou eintlik is, het haar leeg en hartseer laat
wegstap. Van tromme en verskietende sterre was daar nie sprake nie; dit was ’n
vroetelende, swetende, vernederende ondervinding. Maar die eksplisiete drome
en onnoembare fantasieë van die afgelope paar dae laat haar opnuut wonder oor
tromme wat slaan en sterre wat verskiet.
Sy wil mal word – sy kan nie ophou dink aan Alan Sutherland nie. Genade
tog, sy het die man seker altesaam tien minute gesien, maar dis asof elke
sekonde van daardie paar minute vir ewig in haar brein vasgesement is. Sy
onthou alles van hom, maar dis veral sy geur wat haar agtervolg, wat haar op
die onmoontlikste tye in die verte laat staan en tuur, en haar gewone rustige
bestaan totaal omverwerp.
“Ek is oud, my kind, maar ek waardeer nog ’n mooi man. En ’n mooi man in
’n kort …”
Ella se histeriese lagbui laat tant Lisa genadiglik ophou praat, want sy begin
ook giggel.
“Tannie Lisa, hoekom is jy nooit getroud nie?” vra Ella en gee haar ’n
drukkie. “Jy sal enige man gelukkig kan maak!”
’n Oomblik kruip die bekende hartseer trek in tant Lisa se oë wanneer
iemand haar dié vraag vra, maar toe glimlag sy.
“Daar was iemand, lank, lank gelede. Maar ag, kind, ek was jonk en dom,
my voete het gejeuk. Ek wou die wêreld sien. En nou ja, ek het nie geweet hy
sal die laaste man wees wat my vra om te trou nie. Wat my terugbring by jou,
Corinne.”
Daar is ’n dringendheid in haar oë. Sy gryp Corinne se hande vas. “’n Mens
dink daar is tyd, maar as jy gelukkig is om ’n man raak te loop wat jou hartklop
opjaag, jou oë laat blink – hou styf aan hom vas, hartjie, dit gebeur net een keer
in ’n leeftyd.”
Corinne rol haar oë. “Het jy al vir my ma gesê? Sy is al deur ses mans en
elke keer sweer sy dis ‘die een’,” beduie sy en krom die aanhalingstekens met
haar vingers.
“Het jy al ooit jou ma gevra hoekom sy kort-kort ’n ander man soek?”
“Dis tog duidelik, is dit nie? Sy wil nie alleen wees nie en is verslaaf aan
mans se bewondering. En sy hou daarvan om haarself vir elkeen te re-invent,
dit maak my so moedeloos!”
Tannie Lisa skud haar kop. “Jou pa was haar soulmate, kind, en sy soek elke
keer na wat sy by hom gehad het.”
“Pa was skaars in sy graf, toe trou sy met die volgende man!” roep Corinne
uit.
“Ek weet, maar elke mens hanteer hartseer op ’n ander manier, hartjie, en my
suster se manier is om seker te maak sy is nooit alleen nie.”

“Jy is seker reg,” sug Corinne. “Ek is baie lief vir my ma, maar ai, sy hol
agter al wat man is aan! Noudat ek groot is, verstaan ek hoekom sy dit doen,
maar as kind …” Sy skud haar kop. “Ek het gelukkig altyd vir jou en ouma
gehad.”
“Óns was die gelukkiges omdat ons vir jou gehad het,” glimlag tannie Lisa.
“Maar vertel my nou van die man wat jou oë so laat blink het – dis die eerste
keer dat ek hoor ’n man lok enige reaksie by jou uit. Gewoonlik is jy net
jammer vir hulle.”
Corinne sug. “Ek het hom net ’n paar minute gesien, tant Lisa. En daar was
vyf van hulle – enige vrou se bloeddruk sou opgejaag word. Selfs Ella was ook
’n paar minute lank sonder woorde en dit gebeur nie sommer nie.”
Tannie Lisa kantel haar kop en pen Corinne vas met haar skerp blik. “Hm,
maar …”
Die splinternuwe klokkie by die deur klingel en Corinne kyk op. Haar asem
raak weg. In die deur, groot en sexy, staan niemand anders nie as die man wat
haar oë skynbaar so laat blink.
Hy stap doelgerig nader deur die rye rakke. Tannie Lisa draai haar kop en
snak hoorbaar na haar asem.
“Is dit hy?” fluister sy met ontsag.
“Jip,” giggel Ella.
“Alan,” sê Corinne toe sy haar stem terugkry.
“Corinne.”
“Uhm … dit is my tante, Lisa Greeff. Sy gaan ook help met die blomme by
jou broer se troue. Tannie Lisa, Alan Sutherland. Dis sy broer wat die Skotse
troue gaan hê.”
Hy glimlag vir tant Lisa en steek sy hand uit om haar te groet. Haar een hand
fladder op tot teen haar ken voordat sy sy hand neem.
“Aangenaam, Alan. Kom sit hier by my.”
“Ek is seker daarvan Alan is haastig,” keer Corinne, maar Alan gaan sit ewe
bedees langs tant Lisa.
“Van watter Sutherlands is jy?” Dis tannie Lisa se gunstelingvraag. Corinne
sluk haar lag.
Sy weet nie wat Alan hier soek nie, maar die stomme man het geen benul
waarvoor hy hom inlaat nie. Haar foon lui en sy moet haar aandag aan die
kliënt gee. Sy hoor darem hoe Alan geduldig haar gunstelingtante se vrae
beantwoord. Hy’s nice! Dit sou soveel makliker gewees het om hom te ignoreer
as hy geïrriteerd was met tannie Lisa. Toe sy die foon neersit, skuif Alan sy
stoel met ’n glimlag agteruit.
“Tannie Lisa, ek hoop ons sien mekaar weer.” Hy staan op en kyk na
Corinne. “Kan ons iewers gesels?”

Corinne is nie in staat om een woord uit te kry nie. Sy kan net in die rigting
van die kombuis beduie. Oorbewus van tannie Lisa en Ella se oë vol
vraagtekens op haar en Alan, stap sy vinnig die kort gangetjie af tot in die
kombuis. Toe sy omdraai, druk Alan die deur agter hom toe.
“Wat …?” begin sy, maar hy raak vlugtig aan haar gesig met sy vingerpunte
en haar woorde raak weg.
“Jy’s verkeerd,” sê hy en die kuiltjie in sy wang flits en verdwyn.
Sy hoor sy woorde asof dit oor ’n afstand na haar toe aankom, maar haar oë
is vasgenael op daardie kuiltjie.
“Corinne?” En asof sy stem nie genoeg is om heerlike rillings langs haar
ruggraat te laat afgly nie, vou sy hand ’n oomblik oor haar boarm.
Sy registreer uiteindelik wat hy netnou gesê het. “Verkeerd? Waaroor?”
“Oor ons.” Hy stap ’n entjie weg, raak aan die bekers wat op die wasbak
staan voor hy weer na haar toe draai. Hy kruis sy arms en frons. “Goed, ek stem
saam wat tussen ons is, het vinnig gebeur, en ja, dis vreemd, selfs bisar, maar
ek probeer van Maandag af om van jou te vergeet en ek kry dit nie reg nie!”
eindig hy half vieserig.
Sy kan die glimlag om haar mond met die beste wil ter wêreld nie keer nie.
Haar hart slaan bollemakiesie.
Die frons verdwyn tussen sy oë en hy gee ’n paar treë sodat hy weer teenaan
haar staan. Sy blou oë is donker van begeerte. Hy raak nie aan haar nie, maar sy
geur sypel by die porieë van haar vel in en elke liewe sel in haar lyf reageer op
sy nabyheid. O. Liewe. Aarde.
“Ek wil jou graag sien,” sê hy. “Vanaand, sewe-uur? Ons gaan eet iewers.”
Sy knik. Praat is heeltemal buite die kwessie.
“Adres?”
Sy sluk en beduie met haar hand na die woonstel aan die bokant van haar
blommewinkel.
Sy glimlag is skitterwit, haar asem haak agter in haar keel vas en die wêreld
spin ’n paar oomblikke om haar. Voordat sy ’n woord uitkry, is hy weer uit by
die deur.
Haar bene weier om haar een oomblik langer regop te hou en sy sak neer op
die enigste stoel.
“Hartjie?” hoor sy tannnie Lisa se stem voordat haar tante vervaard in die
kombuis storm met Ella ’n kortkop agter haar.
“En nou?” vra Ella. “Wat het gebeur? Dit lyk asof iemand jou wind
uitgeslaan het!”
Corinne skep ’n diep asemteug. “Dis presies wat gebeur het. Ek weet dis
waansin, maar ek het ’n date vanaand. Met Alan Sutherland.”

Alan frons en kyk deur die lysie name. Hy het geen benul wat Corinne se van is
nie! Hoe de hel is dit moontlik? Hy blaf ’n lag uit. Dis beslis ’n nuutjie vir hom.
Gewoonlik weet hy wie die vroumens is wat hy uitneem, sou hy haar ’n ruk
lank ken voordat hy haar uitvra. Die voorletters is ook nie van veel hulp nie,
daar is meer as een C. Sy het nooit haar van genoem nie. Hy sou onthou het.
Hy onthou alles van dag een af.
Besluiteloos staan hy rond. Hy kan vir Doug bel. As hy reg onthou, het sy
broer ’n kaartjie met Corinne se besonderhede geneem. Dis net, as Doug weet
hy is hier, weet sy ander broers dit binne minute en vir hul alewige
beentrekkery is hy nie lus nie. Hulle sukkel nou al die afgelope paar dae met
hom omdat hy nog nie ’n date met Corinne het nie.
Dit was deels hul gekoggel wat hom laat besluit het om weer die girl te
probeer uitneem. Dis eintlik heel logies – neem haar uit, gesels met haar, hy
kom heel waarskynlik binne die eerste vyf minute agter hulle het niks gemeen
nie en dan is hy oor hierdie waansin.
Buitendien, soos selfs sy broers genoem het, sy is glad nie die tipe girl na
wie hy gewoonlik kyk nie. Haar los hare en ritse armbande dui klaar op haar
vrye gees – haar eie woorde, as hy reg onthou. Nie juis troumateriaal nie. Sy
lyk nie soos iemand wat haar sal steur aan konvensies soos die huwelik nie.
Trou? Waar de hel kom die gedagte vandaan? Van skone ontsteltenis stap hy
om die gebou tot aan die voorkant van haar winkel. Die vroumens wat by haar
werk, is net mooi besig om die deur te sluit. Sy sal weet.
Sy kyk om toe sy voetstappe hoor. “Alan – ek dog …” Sy kyk op haar
horlosie.
“Hallo …”
Sy glimlag skeef. “Ella.”
“Ella,” sê hy en beduie na die ingang van die woonstelle. “Die nommer van
Corinne se woonstel?”
Ella se een wenkbrou lig. “Sy is Corinne Hansen en woon in woonstel
nommer sewe.”
“Dankie … ek …”
“… het nie geweet wat haar van is nie?”
Hy vee verleë oor sy nek.
“Toemaar. Jy’s vergewe, want jy het teruggekom om haar weer uit te vra.”
Sy stap tot voor hom. “Wat wys jy is nie stupid nie. Sy is baie spesiaal. As jy
nie ernstig is oor haar nie, moenie met haar mors nie, oukei?” beveel sy met ’n
vinger onder sy neus voordat sy omdraai en met ’n wuif van haar hand om die
hoek verdwyn.
Wel, hel. Ernstig? Niemand het van ernstig gepraat nie. Half geïrriteerd stap
hy terug en druk op die nommer sewe. Die hek klik oop. Aan die linkerkant is

’n stel trappe wat na die boonste verdieping lei. Nommer sewe is die laaste
woonstel af in die gang.
Hy lig sy hand en klop. Vroumense kan so gou trouklokkies hoor. Dis glad
nie wat hy in gedagte het nie, hy het net gedink …
Die deur vlieg oop, die nou reeds bekende klingeldeuntjie van die armbande
soos musiek in sy ore, en elke bietjie suurstof verlaat sy lyf. Al sy
vooropgestelde planne en idees verdwyn. Sy blik neem alles van haar in – die
los sysagte krulle om haar gesig, die kort ligblou romp van lae en lae net wat
bokant haar knie eindig, die wit toppie met dun bandjies wat styf om haar bolyf
pas en elke kurwe beklemtoon. En, bliksem, iemand help hom tog net, aan haar
voete pryk ragfyn ligblou sandale met hemelhoë hakke. Die enkelkettinkie flits
tergend vir hom.
Hy is dood. Morsdood. Wie trek sulke klere aan vir ’n gewone ete op ’n
weeksaand? Sy lyk soos niemand anders nie. ’n Netjiese langbroek en bloes of
’n rok, dis wat die meeste girls aantrek wanneer hy hulle uitneem. Maar hierdie
wese voor hom …
Haar mond beweeg, maar hy hoor nie ’n woord wat sy sê nie, daar is net ’n
groot gesuis in sy ore.

4

“Wil jy inkom?” vra Corinne weer.
Alan staar na haar asof sy ’n ekstra oog of iets vreemds aan haar het. Sy het
al gegroet, hom ingenooi, maar hy hou verbete vas aan die deurkosyn, so asof
hy hom wil keer om in te stap.
“Alan?” probeer sy weer. “Wil jy dalk –”
Voordat sy haar sin kan klaarmaak, het hy haar teen die muur langs die
voordeur vasgedruk, en rus sy hande teen die muur langs haar gesig. Sy lippe is
sentimeters van hare af, sy asem jaag soos een wat ver gehardloop het en sy oë
is donker poele kokende hartstog.
Haar lyf reageer onmiddellik op die begeerte in sy oë. Haar hart bons al die
hele dag laf rond, maar nou tol dit freneties in haar binneste en haar bloed
verhit tot ver anderkant kookpunt.
“Jy,” sug hy, sy stem hees, “laat my dinge doen wat ek nooit doen nie.” Daar
is ’n frons op sy voorkop en hy klink half vies, maar voordat sy verder daaroor
kan wonder, kantel hy sy kop en soen haar. Sy mond pas perfek oor hare.
Sterre verskiet, tromme slaan en elke senuweepunt in haar lyf word
aangeskakel. Diep binne haar is ’n sug. So, dís hoe dit voel. Sy mond is warm,
honger, sy tong dring aan op toegang. Êrens skree ’n stemmetjie half
moedeloos vir haar ’n mens soen nie ’n ou op ’n eerste date nie, maar die
stemmetjie is baie ver weg en buitendien, sy wil nie daarna luister nie. En hy
het haar al gesoen. ’n Uur nadat sy hom ontmoet het.
Suurstof raak ’n probleem en sy snak na asem. Sy tong glip tussen haar tande
deur tot in die dieptes van haar mond waar haar tong eers versigtig hallo sê
voordat dit skaamteloos met syne begin flerrie.
Sy soek vashouplek en haar hande beland teen sy borskas. Onder haar
vingers dawer sy hart. ’n Magtige stroom passie tel haar op en sy word
meedoënloos saamgevoer.
Uiteindelik beweeg sy hande teen haar arms af, haar vel gloei waar hy haar
aanraak en die kole van passie wat tot nou toe net gesmeul het, vat vlam. Haar
lyf buig blatant, uitnodigend vorentoe, na hom toe, op soek na nog liefkosing,
nog passie.
Sy hande gly teen haar sye af, swiep terug tot bo teen haar armholtes, haar

lyf span styf in afwagting, haar borste beur smagtend na sy aanraking teen haar
toppie.
Met ’n swetswoord lig hy sy kop. Hy vee haar hare agter haar ore in, sy hand
bewend, sy oë halfmas van begeerte.
Hy draai vinnig weg en stap tot by die voordeur. Sy leun uitasem teen die
muur agter haar.
“Die restaurant waar ek plek bespreek het,” sê Alan, sy asem hortend, “is net
om die draai van hier. Ons kan stap.” Hy vee oor sy nek voordat hy omkyk na
haar toe. “Is jy gereed?”
Die blik in sy oë droog elke druppel spoeg in haar mond op. Haar bene voel
soos jellie en Corinne druk haarself huiwerig weg van die muur. Great, sy kan
tog regop bly.
“Ek … kry net my handsak,” kry sy uit en vlug in die gang af na haar kamer
toe.
Sy druk haar hande teen haar vuurwarm wange en loer skuins na haar beeld
in die spieël. Goeiste, is dit sy? Die girl met die blink oë en rooi wange en
opgeswelde lippe?
Met ’n kreun gryp sy na haar lipstiffie en smeer dit oor haar lippe terwyl sy
uitstap. Netnou besluit hy om te kom kyk waar sy is en … Sy kyk vinnig om na
haar bed. Sy sluk wind en storm by die kamerdeur uit. Beelde van
ineengestrengelde lywe op die bed is heeltemal te maklik om op te tower.
Swart satynlakens en soel nagte. Help!
Alan wag vir haar in die gang buite haar woonstel. Hier waar mense loop, waar
hy hom moet gedra, hier word hy gedwing om soos ’n beskaafde mens op te
tree en hom nie onmiddellik oor te gee aan sy oerdrange nie.
Haar armbande lok en tart nog voor sy by hom is. Hy draai om, betyds om te
sien hoe sy aangestap kom. Die vlamme wat hy net-net in bedwang het, kry
weer lewe. Wat de hel is dit met hom en die girl? Haar oë is donker, tekens van
die passie van netnou nog duidelik sigbaar. Woordeloos neem hy die sleutel by
haar en sluit die voordeur agter hulle.
Hulle stap teen die stel trappe af. En asof hy dit dikwels doen, neem hy haar
hand. ’n Oomblik fladder dit in syne voordat haar vingers ontspan.
Hy maak keel skoon. Iets moet hy sê oor sy gedrag van netnou.
“Wat doen jy en jou broers vir ’n lewe?” vra sy egter doodluiters toe hulle by
die gebou uitstap. “Ek het afgelei julle voer iets in of uit?”
“Sagte vrugte,” sê hy, dankbaar vir die verposing. “Ons het op ’n plaas in die
Ceresvallei grootgeword, maar nie een van ons wou gaan boer nie. My ouers
woon nog op die plaas, maar ons het deesdae ’n bestuurder. My pa het altyd

gesukkel met die uitvoerders van ons vrugte en dit was sy idee dat ons dit self
doen. Ek en Doug het die onderneming begin nadat ons klaar gestudeer het en
die ander drie het later by ons aangesluit.”
“So julle bly in die Paarl?”
“Ja, ons deel ’n huis. Doug trek natuurlik nou uit. Hy en Annabel het ’n huis
gekoop. Hier is ons,” voeg hy by toe hulle by die restaurant kom.
“Oe, lekker!” lag Corinne en klap haar hande opgewonde. “Ek is absoluut
gaande oor hul nagereg. Hulle maak ’n crème brûlée wat my laat smelt.” Haar
oë val ’n oomblik toe in ekstase. Sy vat aan sy arm. “Ek moet jou waarsku – ek
het ’n gesonde eetlus. ’n Baie gesonde een.”
En voordat hy ’n woord kan uitkry, trippel sy die trappies op. Haar armbande
klingel, die kettinkie om haar enkel glim en hy loop soos een wat gehipnotiseer
is agter haar aan.
“Hallo, Corinne!” Die man by ontvangs se groet is gul. Hy stap agter die
toonbank uit en gee haar ’n drukkie.
Doelgerig stap Alan tot by haar en neem haar hand weer in syne. “Tafel vir
Sutherland,” sê hy kil.
Die man knipoog vir Corinne voordat hy terugstap na die besprekingsboek
en vinnig daarin loer. “Jul tafel is buite in die klein binnehof.”
Hulle stap tussen tafels deur agter die man aan. Drie keer word Corinne
voorgekeer deur die een of ander javel wat van ’n tafel af opspring en haar druk
of soen of albei doen. Teen die tyd dat hulle uiteindelik by hul tafel uitkom, is
Alan gereed om yster te breek.
Voordat hy haar stoel kan wegtrek, is ’n kelner by. Hy groet Corinne vrolik
en leun glimlaggend oor haar. Alan gryp die wynlys wat op die tafel lê, maar
die letters spring gevaarlik op en af.
“Wat drink jy?” Hy moet weer na haar kyk en … bliksem. Hy skuif
ongemaklik op die stoel.
Sy glimlag en beduie klingelend na die wynlys. “Ek sal enigiets drink wat jy
bestel, maar as ek kan kies – vonkelwyn. Altyd, altyd vonkelwyn. Daar is iets
onweerstaanbaars aan borrels op jou tong, dink jy nie so nie?”
“Ons het Corinne se gunsteling op ys.” Die kelner se glimlag is trots.
“Goed, bring dit, asseblief.” Alan weet hy is kortaf, maar hy kan niks
daaraan doen nie. Corinne se onskuldige woorde het sy bloeddruk verder
opgejaag en as die man nog ’n enkele oomblik leepoog na haar staar, kan hy
nie verantwoordelik gehou word vir sy dade nie.
Hy gryp die spyskaart en probeer sin maak van die dansende letters voor
hom.
“Hmm,” kreun Corinne en hy kyk vinnig op.
Haar tong glip oor haar bolip terwyl sy na die spyskaart staar.

“Hierdie dis,” sy leun oor en beduie op sy spyskaart waarvan sy praat, “is
hemels, absoluut hemels.”
Vir ’n vlietende oomblik is die rondings van haar borste opgedruk deur haar
arm. Hy hoor haar woorde oor ’n afstand, maar ’n rooierige waas het voor sy oë
ingeskuif. Hy onthou elke oomblik van sy lippe teen hare, van haar sagte
kurwes teen sy lyf, van …
“Alan?”
Hy knip sy oë, dwing ’n glimlag om sy mond en maak sy spyskaart toe.
Enige besluit is nou onmoontlik. Daar is ’n vuur in sy lyf wat hom geleidelik
verteer, ’n vlammedans wat sy brein oorgeneem het.
“Dit klink goed. Bestel jy vir ons.” Hy het geen benul waarna sy gewys het
nie.
Die kelner bring die vonkelwyn. Hy skiet die prop met groot fanfare en
Corinne lag vrolik. Sy beduie vir hom wat hulle wil eet.
Uiteindelik gee die kelner pad en sy lig haar glas. “Op ’n –”
“Op jou,” val hy haar in die rede en klink haar glas.
Haar oë glimlag vir hom oor die glas se rand voordat sy ’n slukkie neem en
behaaglik terugsit. “Perfek. Absoluut perfek,” sug sy en lek oor haar lippe.
Alan neem ’n groot sluk van sy glas vonkelwyn. As hy hierdie aand oorleef
sonder om iets onbesonne aan te vang, sal dit ’n wonderwerk wees.
Corinne is oorbewus van die groot man langs haar terwyl hulle terugstap na
haar woonstel. Anders as vroeër vanaand, vat hy nie weer haar hand nie. Haar
keel is droog gepraat. As hy drie woorde in die loop van die aand gesê het, is
dit baie.
Hoekom hy daarop aangedring het om haar uit te neem, sal net hy weet. Die
soen van vroeër vanaand het hom heel waarskynlik onder die indruk gelaat dat
die aanvanklike vonke tussen hulle vinnig uitgebrand het. Tog snaaks, want sý
het tydens die einste soen vuurwerk op vuurwerk beleef.
Hulle is gelukkig amper by die woonstelgebou. Sy het haar toegangskaart in
haar hand en gaan vinnig ontsnap. Hy kan seker ook nie wag om hom uit die
voete te maak nie. Wel, sy het hom nie gevra nie, hy is die een wat nie nee vir
’n antwoord wou vat nie. Sy het gesels en stories vertel en probeer grappies
maak, maar die vent het nie ’n spier vertrek nie, net die een vuil kyk na die
ander vir die stomme kelner gegee. Nou is sy moeg en keelvol vir die beneukte
Skot.
“Dankie vir ’n heerlike aand, Alan …” begin sy saaklik toe hulle voor die
deur kom, maar hy neem die toegangskaart by haar en glip dit deur die gleuf.
“Dis nie nodig nie,” keer sy vinnig. Maar hy steur hom nie aan haar nie, vat

haar hand en stap tot by die trappe. Sy moet trippel om by te hou en die blou
sandale is nie juis gemaak vir trippel nie.
“Alan, wat op aarde …? Ek kan nie so vinnig …”
Die volgende oomblik tel hy haar in sy arms op en klim die laaste paar
trappies met lang treë tot bo.
Sy kake is styf opmekaar en ’n spiertjie spring-spring in sy wang. Haar een
hand is op sy skouer. Spiere rimpel onder haar vingers en sy staar gefassineer
na sy mond. Die einste een wat haar vroeër vanaand gesoen het. En wat haar
Maandag gesoen en vir drie slapelose nagte gesorg het.
Hy laat gly haar teen sy lyf af voor haar woonsteldeur en hou sy hand uit.
“Jou sleutel.” Sy stem is skor.
Om hulle styg die temperatuur aanvoelbaar en sy sukkel om die sleutel in
haar handsak raak te vat. Wat het nou gebeur? Met ’n swetswoord vat hy die
handsak by haar en grawe die sleutel uit.
Wat is dit met die man? Sy handbewegings is rukkerig, sy asem jaag.
Met een beweging sluit en maak hy die deur oop, trek haar in die woonstel in
en skop die deur agter hom toe. En voordat sy haar asem terughet, is sy weer
teen die muur vasgepen.
“Alan, wat …?”
Hy vou sy rukkerige hande om haar gesig. “Jy maak my heeltemal mal!” Hy
skep ’n diep teug asem. “Wie de hel is al die mans wat jou groet en druk en
soen? Dis ’n wonderwerk ek het nie my vuis in elkeen se gesig geplant nie.”
Verstom staar sy na hom.
Sy hande gly teen haar arms af. “Ek … moenie aan jou raak nie, want soos
ek nou voel …” Hy stap mompelend ’n ent weg.
En toe is sy sommer vies. Sy druk haarself weg van die muur. “Ek het jou
gesê ek en jy is nie ’n goeie idee nie,” kry sy uit en stap voordeur toe. “Ek het
vriende. Ons groet mekaar, ek weet nie wat jou probleem is nie …”
Hy draai vinnig om, sy oë middernagblou poele. Haar asem raak weg en sy
gee ’n tree agtertoe. Hy kom nader, sy wil verder agteruit beweeg, maar die
deur is agter haar.
“My probleem, Corinne Hansen, is jy.” Hy stap tot reg voor haar. “Jy is glad
nie die tipe girl wat ek normaalweg uitneem nie. Maar,” asof onwillig vou sy
hande om haar boarms, “ek loop nou al dae lank rond met jou op my brein, in
my lyf, in my bloed en ek …” Hy buk af en soen haar. “Ek kan nie meer
daarteen baklei nie.”
Sy lig haar arms, met die o so bekende klingeldeuntjie, en hy kreun teen haar
nek. “En jou armbande …”
Sy woorde bons teen die dak. Iets wat hy gesê het, pla haar, maar hy trek die
een bandjie van haar toppie af, druk sy lippe teen haar kaal skouer en toe maak

niks meer saak nie.
Haar asem slaan agter in haar keel vas, haar kop val willoos agteroor. Sy
ander hand glip onder haar kort rompie in, gly op teen haar been. Klein
vuurtjies vat vlam onder haar vel. Hy lig haar been op langs sy lyf. Sy begeerte
klop teen haar.
Alles rondom hulle het vervaag. Al wat hy inasem, al waarvan elke sel in sy lyf
bewus is, is die vrou voor hom. Sy lippe beweeg af teen haar hals, soek en
ontdek elke sentimeter van haar lyf. Uiteindelik gly sy tong oor die boonste
rondings van haar vol borste terwyl sy vingers onder haar romp gekeer word
deur kant en satyn. Die hitte van haar kern nooi hom uit, terg hom. Sy bene is
lam, sy hart klop teen ’n frenetiese spoed.
Met haar lang, lenige ledemate, vroulike kurwes, sysagte vel, vrygewige
mond, is sy elke man se fantasie. Sý fantasie. Sy is suiwer lyflike plesier en
soos een wat reeds verslaaf is, kry hy nie genoeg van haar nie.
“Corinne.” Haar naam glip uit terwyl sy mond opgly teen haar nek. Tot waar
haar pols onder sy lippe hamer. Haar vel word warm totdat haar geur deel word
van elke asemteug. Om haar te proe, aan haar te raak, is ’n sensoriese
belewenis, een wat elke sintuig oorstimuleer.
Sy lippe soek weer na hare sodat hy hom kan verloor in haar wese. Sy ander
hand glip voor by haar toppie in, vou oor haar bors. Die skerp puntjie terg sy
hand en hy moet troetel en liefkoos. Die diep kreun uit sy binneste is
onwillekeurig.
Iewers kry rede tog ’n gaping. Sy mond beweeg tot by haar oor. “Ek kan nou
nog wegstap as jy nee sê …”
Passie bruis deur haar lyf, sny alle waarskuwende boodskappe van haar brein
summier af totdat sy net voel. Die een duidelike boodskap van haar lyf?
Moenie ophou nie. Asseblief.
“Corinne.” Sy stem is hees in haar oor.
“Hmm,” is al wat sy uitkry terwyl haar hande jubelend sy breë skouers
verken.
“Ja of nee?”
Uiteindelik dring die gillende stemmetjie van netnou tot haar deur. Die een
wat haar wil herinner aan iets wat Alan gesê het. En toe onthou sy sy woorde.
Sy sluk verstom. Het hy dit regtig gesê? Sy lig die bandjie van haar toppie in
plek en druk teen sy borskas. Hy retireer effens.
“Jy sê ek is nie jou tipe nie. Wat presies beteken dit?”

Hy glimlag skeef. “Jy’s beautiful. Wanneer ek by jou is, werk my brein nie.
Al waaraan ek kan dink, is om jou uit jou klere te kry.”
O, so sy is nie sy tipe nie, maar … Sy probeer kalm bly en hou ’n glimlag op
haar gesig. “Oukei. Laat ek kyk of ek jou reg verstaan. Jy,” en sy beduie met
haar hande, “wil by my wees, wil my soen, wil my, hoe het jy dit gestel? O ja,
uit my klere kry, maar ek is nie die ‘tipe’ meisie oor wie jy wil ernstig raak
nie?” Sy boots die aanhalingstekens met haar vingers na. “Het ek jou reg
verstaan?”
“Ek probeer eerlik wees. Ek kan nie ernstig raak oor iemand wat …”
Haar oë vernou.
“Die punt is, ons werk met vooraanstaande kliënte en wanneer ek eendag
vrou vat, moet dit iemand wees wat, wel, ek weet nie, stemmig is. Nie … ek
bedoel, jy’s anders.” Hy beduie vaag na haar romp. “Wie trek so iets aan?”
Sy is seker daarvan sy het nie mooi gehoor nie.
“Jy bedoel –”
“Dis duidelik jy stel ook nie belang in ’n langtermyn-verhouding nie en –”
val hy haar in die rede.
“O, en hoekom sê jy so?”
“Kyk net al die mans wat jou vanaand voorgekeer het!” roep hy half
gefrustreer uit. “Ek het jou uitgeneem, maar ’n klomp ander javels reken hulle
het die reg om aan jou te vat!”
Haar mond val oop en sy draai haar rug op hom sodat hy nie haar reaksie kan
sien nie. So, dis hoekom hy die hele aand so stil was. Iewers in sy kop het hy
hom wysgemaak die mans wat haar gegroet het, is meer as net vriende. En hy is
vies daaroor, want hy het die rekening betaal. Wow.
“Die punt is …” begin hy weer, maar sy weet presies wat hy wil sê.
Sy lig haar op haar tone en draai in die rondte sodat haar romp wyd om haar
lyf uitklok. Uitasem kom sy voor hom tot stilstand.
“…’n tulleromp-girl wat blomme doen, is nie die ‘tipe’ vrou wat jy in
gedagte het om jou kliënte te onthaal nie?”
Verlig knik Alan en gryp haar hande. “Maar daar is niks wat sê ons kan nie
tyd saam deurbring nie. Ek moet hierdie … ding tussen ons uit my sisteem kry.
Ek kry nie gewerk nie, ek slaap nie, ek kan nie eet nie!”
Corinne kners op haar tande, maar hou haar glimlag stewig in plek. Sy is
eintlik lus en keer ’n emmer baie taai stroop oor sy kop om, maar dis tyd dat
iemand hierdie arrogante Skot op sy plek sit. Ha, sy is juis nie “stemmig” nie –
dus presies die “tipe” girl wat hom ’n les sal kan leer.
Sy laat glip weer die een bandjie van haar top van haar skouer af en toe sy oë
op haar skouer vashaak, lig sy haar op haar tone en vou haar hande om sy nek.
“So, hoe lank?”

Sy kop het al begin afsak, maar hy stop. “Hoe lank wat?”
“Hoe lank gaan dit jou neem om my uit jou sisteem te kry?” vra sy en begin
druk soentjies op sy gesig.
“Ek … ek … weet nie,” stamel hy en probeer haar mond met syne vang.
“Ek moet weet vir hoe lank. Jy verstaan mos. My tipe girl se dagboek is
vol.” Sy laat gly haar tong oor sy onderlip.
“Ek … oukei, tot Doug se troue?” kreun hy uit en gryp haar kop in albei
hande vas.
Sy glimlag. “Deal,” sê sy en soen hom met al die ingehoue woede en
ontsteltenis in haar binneste. Haar tong glip blitsig in sy mond. Sy lig haar been
teen sy heup en druk vir ’n oomblik haar onderlyf styf teen syne.
’n Snak glip deur sy lippe, maar voordat hy kan asemskep, maak sy die
voordeur oop en druk hom by die deur uit. “Maar nou moet ek my slaap inkry.
Saterdagaand sewe-uur?”
Terwyl hy hygend na haar staar, gee sy ’n tree tot teenaan hom en laat gly
haar hand stadig voor teen sy hemp af, vanaf die holte in sy nek tot net-net
onderkant die gespe van sy gordel.
Sy oë word donker en hy gryp na haar hand, maar sy dans weg. “Mooi ry!”
roep sy vrolik en druk die deur toe. Toe leun sy verontwaardig teen die deur
totdat sy sy voetstappe hoor wegstap.
Nie sy “tipe” nie! En dit omdat sy ’n tulleromp dra. Vies begin stap sy heen
en weer. Wie dink hy is hy? Wel, een ding is seker. Hy gaan nie weet wat hom
getref het nie.

5

Die klokkie by die blommewinkel se deur klingel. “Vertel, vertel, vertel!” Ella
se opgewonde stem bereik Corinne nog voordat sy haar sien. “Hoe was jou date
met die sexy Alan Sutherland? Ek kan nie wag om alles te hoor nie!”
Corninne glimlag terwyl sy fokus op die rangskikking voor haar. “Dit was …
interessant.”
Ella kom voor haar tot stilstand. “Interessant? Ag, toe nou. Jy het niks
gedoen gekry gister nadat die man hier uit is nie.”
Corinne gooi haar hare agteroor, haar armbande rinkel. “Het jy geweet,” sê
sy en druk ’n steel magrietjies in die rangskikking, “ek is skynbaar nie die tipe
girl wat ’n man aan sy kliënte wil voorstel nie, maar …” Sy druk ’n rooi
angelier aan die agterkant in. “Wel, net wil vry. Dís skynbaar die tipe girl wat
ek is.”
“Wat?” Ella loer fronsend na die rangskikking waarmee Corinne besig is.
“O.”
’n Paar oomlikke is sy doodstil terwyl haar oë tussen Corinne en die blomme
beweeg. Toe beduie sy na die CD-speler. “Sara Bareilles sing ‘Breathe again’
en …” Sy tel die stele van die blomme waarmee Corinne werk een vir een op.
“Rooi angeliere vir ’n hart wat breek, magrietjies vir hartseer, duisendblad ook
vir ’n gebroke hart.” Haar oë is op skrefies toe sy opkyk. “Hy het jou
seergemaak.”
Corinne trek haar asem skerp in en kyk onthuts na die rangskikking voor
haar. Sy skud haar kop heftig. “Nee! Hoekom sal hy my ontstel? Die … die
blomme is heel toevallig. Ek is vies, ja. Maar my hart is fine. Ons het werk om
te doen, Annabel is nou-nou hier. Sal jy asseblief solank vir ons die ketel
aansit?”
Corinne verbeel haar sy hoor die voordeurklokkie lui en draai om om die
klank sagter te sit. Sara Bareilles sing so hard, dis moeilik om te hoor. Sy kyk
tussen die hoë rakke, maar dit lyk tog nie asof iemand ingekom het nie. Die
paadjies tussen die rakke is leeg. Sy het haar seker maar verbeel.
“Wat is fout met die man?” roep Ella ontsteld uit en slaan haar arms om
Corinne. “Simpel vent. Watse tipe girl soek hy nogal?”
“‘Stemmig’ is die woord wat hy gebruik het, as ek reg onthou. Ek het ’n

tulleromp aangehad.”
Ella kyk haar ’n oomblik oorbluf aan voordat sy uitbars van die lag. Uitasem
leun sy teen die toonbank. “Stemmig? Regtig? Wel, ek hoop jy het hom in sy
peetjie gestuur.”
“Nooit,” glimlag Corinne. “Ons gaan sommer nog ’n hele paar keer uitgaan.
Iemand moet hom ’n les leer. En daarna gaan dit hom beslis ’n rukkie neem om
weer aan ’n stemmige girl gewoond te raak.”
“Dit klink of jou kop reg op jou skouers geskroef is,” sê ’n laggende
vrouestem en Corinne kyk om.
’n Pragtige, slanke blondine en ’n ouer vrou staan met breë glimlagte voor
haar. Sy kan in die grond wegsink. Hulle moes die hele gesprek gehoor het.
Wat help ’n splinternuwe klokkie as Corinne dit nie hoor nie? Die ouer vrou se
oë vonkel van pret.
“Kind, wat ’n simpel vent. En jy moet my asseblief vertel hoe jy hom ’n les
gaan leer!”
Corinne stap agter die toonbank uit. “Ek is jammer, ek het julle nie hoor
inkom nie. Jy moet Annabel wees, Doug se bruid?”
“Dis reg, en dit is Doug se ma dié.” Sy trek die ouer vrou nader.
Agter haar snak Ella na asem en Corinne sluk verbete om die histeriese
giggelbui wat wil-wil uitbars, in te hou. “Mevrou Sutherland, aangename
kennis,” kry sy heel ordentlik uit. “Ek is Corinne Hansen en dis Ella du Toit,
my assistent.” Sy trek Ella aan die hand nader en probeer haar ongemerk ’n
stewige druk gee. Hopelik kry sy die boodskap om nie verder oor Alan te praat
nie. Sy beduie na die langwerpige tafel wat aan die een kant van die winkel
staan.
“Kom ons sit hier, dan kan ons gesels.”
Ella trek ’n stoel uit vir die ouer vrou. “Ons is so opgewonde oor die Skotse
troue! En sjoe, mevrou Sutherland, jou vyf seuns het die temperatuur in ons
winkel omtrent die hoogte laat inskiet.”
Corinne sit haar boek hard neer. Ella gee haar ’n onskuldige kyk en Corinne
pers haar lippe opmekaar. As die tante moet weet wat haar plan met haar seun
is!
Die ouer vrou rol haar oë. “Moenie dat hulle dit hoor nie; soos dit is, is hulle
heeltemal te vol selfvertroue.”
“Koffie of tee?” vra Corinne. Sy wil regtig nie verder oor die Sutherlandbroers praat nie.
Ella neem die bestelling en gee genadiglik pad. Corinne vertrou glad nie die
lig in haar oë nie.
Corinne maak haar boek saaklik oop. “Goed, vertel my wat jy in gedagte
het.”

“Ek moet net eers vir jou dankie sê dat jy bereid is om die blomme op sulke
kort kennisgewing te doen. En Doug het my belowe hulle al vyf sal help met
die aandra en skoonmaak.”
“’n Tannie van my gaan ons help …”
“Is sy die een by wie jy jou liefde vir blomme geërf het?” vra mevrou
Sutherland.
“Sy en my ouma,” glimlag Corinne.
“Interessant dat dié soort belangstelling dikwels eerder na die kleindogter
oorgedra word as na die dogter.”
“My ma kan pragtige rangskikkings doen, maar sy was altyd … sy is al ses
keer getroud en …” Corinne sluk. Sy kan nie glo wat sy uitblaker teenoor
vreemdes nie, dis nie iets wat sy gewoonlik doen nie. Maar die gawe vrou het
’n manier om ’n mens sommer te laat praat – baie, baie gevaarlik, gegewe die
huidige situasie met haar seun.
“Wanneer het jy met jou winkel begin?” vra mevrou Sutherland sonder om
aan te dring dat Corinne haar sin klaarmaak.
“Ek het na skool eers gaan swot. Ek was altyd lief vir tale en het gedink ek
sal dalk onderwys wil gee. Na universiteit het ek ’n ruk lank oorsee rondgeloop
en skoolgehou en besef dis nie iets wat ek die res van my lewe wil doen nie.
My ouma is oorlede – en haar erfgeld en al die kennis wat ek by haar gekry het,
het hierdie blommewinkel moontlik gemaak.”
“Dis ’n pragtige plek,” sê Annabel.
Corinne glimlag vir Annabel. “Baie dankie. Ek wil nie hê jy moet jou verder
oor die blomme bekommer nie. Ons sal sorg dat alles betyds is en presies wat
jy wil hê. Doug sê julle beplan ’n Skotse troue.”
“Ja!” roep Annabel uit, haar oë blink. “Skotse rompe vir al die manne met
sporrans, dolke, lang sokkies, the works. Ek het ’n spierwit rok, dis so mooi, ek
kan nie wag …”
Annabel babbel en beduie met blink oë, maar Corinne sukkel om te volg wat
sy sê. Sy het vasgehaak op Skotse rompe en al waaraan sy kan dink, is die
stomende drome van Alan in juis so ’n nommertjie. En wat dra hulle onder die
rompie? En …
“… het vir ons die mooi storie van die wit Skotse heide vertel wat hy by jou
gehoor het. En dat blomme boodskappe oordra?”
Corinne knip haar oë. Alan in ’n Skotse romp – definitief nie iets waaraan sy
moet dink wanneer sy ma voor haar sit nie.
Ella kom gelukkig ingestap met die skinkbord vol koppies. Corinne skep ’n
diep asemteug. Sy moet nou fokus op wat Annabel sê.
“Ja, blomme het hul eie taal. Die wit heide sê jou bruidegom wil jou beskerm
en hy wil graag hê al jou wense moet waar word.”

Annabel druk haar hand teen haar hart en haar oë blink. Sy snuif. “Dis so
spesiaal, ek wil sommer huil,” snuif sy en soek in haar handsak rond.
Ella skuif die houer snesies wat op die tafel staan, voor Annabel. Hulle het
lankal agtergekom bruide is maar tranerig.
“Volgens Doug wil jy graag ’n tradisionele Skotse ruiker hê vir jou en die
strooimeisies?” vra Corinne.
“Ja,” knik Annabel en druk die snesie teen haar oë. “Wat jy voorgestel het,
klink perfek. Ek is so bly jy kan die heide in die hande kry.”
Corinne skuif ongemaklik rond. Mevrou Sutherland se oë het nog nie ’n
oomblik van haar wegbeweeg nie. “Ons het gelukkig ’n wonderlike verskaffer
wat baie moeite doen. Wat het jy in gedagte vir die onthaal?”
“Wit. Alles wit met hier en daar ’n tikkie blou. Blomme met ’n boodskap
van liefde, van vriendskap, van hoop en … en liefde,” sug Annabel.
“Daar is so baie waaruit ons kan kies. Ella het die tablet, sy sal vir jou wys
hoe lyk die blomme. Gypsophila, die mooi bosse gipskruid met die wit
blommetjies, is vir ewigdurende liefde, wit rose vir onskuld, japonikas vir jou
skoonheid, seringbloeisels ook vir jeugdige onskuld, tulpe is ’n verklaring van
liefde, die distel dui op pyn, maar ook op beskerming, op trots …”
“Wel,” lag Annabel, “my kop draai behoorlik. Alles lyk so mooi. Tannie
Phoebe, wat dink jy?”
“Ek hou daarvan. Ek weet net nie van al die onskuld nie. As Doug na sy pa
aard, kan jy daai blommetjies maar weglaat.”
“Tannie Phoebe!” giggel Annabel en druk haar hande teen haar bloedrooi
wange.
“Die Sutherlands is warmbloedig, wat kan ek sê?” lag die ouer vrou met ’n
vonkel in haar oë.
Corinne buk laag oor die boek voor haar terwyl sy vir dood skryf. O. Liewe.
Aarde. As die tante moet weet sy weet presies hoe warmbloedig een van haar
seuns is!
Ella bring nog ’n keer tee voordat Corinne tevrede is Annabel is gelukkig
met al haar voorstelle. Die twee vroue staan op en Corinne stap saam met hulle
tot by die deur.
Annabel sit haar hand op Corinne se arm. “Ek sal so bly wees as jy en Ella
ook ons troue bywoon.”
“Dankie, maar dis regtig nie nodig nie, ek doen –”
“Asseblief?” val Annabel haar in die rede. “Jy voel al klaar soos ’n vriendin.
En,” fluister sy en loer verby Corinne, “Quinn kon nie uitgepraat raak oor die
sexy donkerkop van die blommewinkel nie. Hy het ons mooi gevra om hom ’n
verskoning te gee om Ella weer te sien.”
Corinne se oë rek. “Ja?”

Annabel grinnik en knik. “Die Sutherlands laat nie gras onder hul voete groei
nie. Ek en Doug ken mekaar net agt maande.”
“Ek en sy pa het mekaar net vier maande geken,” knipoog Alan se ma.
Annabel lag. “Sien? Nou toe, ons moet wikkel, ek het nog ’n laaste
aanpassessie vir my rok.” Sy buk vorentoe en gee vir Corinne ’n drukkie asof
hulle jare lank al vriendinne is.
En toe Annabel terugstaan, is Phoebe Sutherland ook by vir ’n drukkie.
Corinne kyk die twee vroue agterna. Sy sluk-sluk teen die vreemde knop in
haar keel.
“Ek dink sy’s happy, of hoe?” vra Ella agter haar.
Corinne draai terug. “Ek sou so sê – ons is al twee uitgenooi na die troue.”
Ella sug. “Oe, wonderlik. Ek is mal oor troues!”
“Hm, skynbaar kon Quinn nie ophou praat oor jou nie.”
Corinne stap tot by die toonbank voordat Ella ’n geluid uitkry.
“Regtig?”
Corinne lag. “Regtig.”
“Maar wat van jou en Alan …?”
“Daar is nie ’n ek en Alan nie. Ek wil net die man ’n les leer. Dis al.”
Corinne gaan sit weer by die tafel. Sy wil die bestelling rustig deurgaan
voordat sy dit deurstuur na die verskaffer. Die wilde galop van haar hart is
maar net omdat sy opgewonde is vir Annabel se onthalwe.

6

“Ek het goeie nuus vir jou, Quinn,” sê Annabel. “Ons was vandag by die
blommewinkel wat julle opgespoor het en …”
Sy praat verder, maar Alan kyk nie eens op nie. Doug en Annabel het hulle
almal vir ’n braai genooi om die laaste reëlings van die troue te bespreek. Hy
wil so gou moontlik klaar eet sodat hy hom kan gaan toesluit in sy kamer.
Hy het presies gekry wat hy wou hê – die belofte van ’n no-stringsverhouding met Corinne, die girl met die ketting om haar enkel en klingelende
armbande wat hom uit sy slaap, uit sy werk en van sy verstand af hou. Hy
behoort in sy skik te wees met homself. Maar hy is nie.
Tot by Doug se troue. Hy sal haar sien tot sy broer trou. Dis al waaraan hy
kan dink. En wat dan? Sê nou dis nie lank genoeg nie? Na een aand saam met
haar weet hy reeds hulle het meer gemeen as wat hy ooit kon dink.
“Alan!” roep Annabel en hy kyk op. “Ek praat met jou.”
“Jammer. My kop is by … by die werk.”
“Ek het vir Corinne en Ella van die blommewinkel ook na die troue genooi.
Hulle bewys ons ’n groot guns en ek weet van minstens een van my aanstaande
swaers wat baie opgewonde is daaroor.”
’n Hand vou om sy lugpyp. “Wie nogal?”
“Quinn.”
“Is jy nou simpel?” vra hy vies en gluur na Quinn. “Jy’s hopeloos te jonk vir
haar.”
“Wat bedoel jy? Sy’s vir seker jonger as ek.”
“Van wie praat ons?” vra sy ma.
“Van Ella,” sê Quinn.
“Van Corinne,” sê Alan terselfdertyd.
Dis ’n oomblik doodstil om die tafel. Toe slaan Finlay met sy hand op die
tafel en lag. “So, jy is nog nie oor die girl nie.” Hy beduie vir sy ma en
Annabel. “Hy het haar sommer dadelik uitgevra, maar sy het skynbaar
verstand, sy het nie ingestem nie.”
“Nie dat dit iets met jou te doen het nie, maar ek het haar gisteraand
uitgeneem,” kners Alan uit. Eers toe die woorde uit sy mond is, besef hy wat hy
gesê het.

Annabel en sy ma trek hoorbaar asem in.
Sy ma leun vorentoe. “Het ek reg gehoor? Het jy gisteraand vir Corinne
uitgeneem?”
Hy skuif sy stoel agteruit en staan op. Vir dié sirkus is hy nie verder lus nie.
“Ons het gaan uiteet. Sy is oulik, maar nie die tipe girl oor wie ek ernstig kan
raak nie, ons …”
“O?” vra sy ma, haar wenkbrou opgetrek tot bo teen haar haarlyn. “En
hoekom nogal nie?”
“Sy … ek …” Hoe de hel beantwoord hy die vraag?
Edward lag. “Ma weet mos. Hy hou van vroumense wat sulke formele klere
dra en wie se hare so styf om hul koppe gedraai is, hul oë trek behoorlik
skrefies. Corinne is heeltemal te sexy vir ons Alan.”
“Dis nie stywe vroumense nie, hulle is net … stemmig,” sê hy vies. “En
Corinne … ek …”
“Stemmig?” vra sy ma. “Sê asseblief vir my jy het dit nie vir die pragtige
kind ook gesê nie?”
Alan vryf oor sy gesig. Hoe de hel het hy in die situasie beland? “Ek stel nie
belang in ’n mooi pop met ’n leë kop nie.”
“Corinne is nie ’n pop met ’n leë kop nie – waar kom jy daaraan? Weet jy
dat sy op universiteit was en ’n graad het? Nie dat dit iets sê nie. Jy het ook ’n
graad en kyk hoe onnosel is jy!” Sy ma gee hom ’n vernietigende kyk.
Alan staar stomgeslaan na haar. Hy was ’n aand saam met die vroumens uit
en sy ma weet meer van haar af as hy.
Hy hap in die lug. “Wat ek doen op ’n date, het niks …”
Sy ma gooi haar hand in die lug. “Hy het. Hy’t sowaar vir haar gesê sy’s nie
stemmig genoeg nie. Kan jy dit glo? Alistair, wat het jy jou seuns geleer?” vra
sy ontsteld vir sy pa.
“As hy onnosel is, is dit nie my skuld nie.” Sy pa gee hom ’n geamuseerde
kyk. “Jy kan doen met ’n … minder stywe meisie.”
“Ek het oop kaarte met haar gespeel, soos wat ek altyd doen met iemand wat
ek uitneem. Sy is heeltemal te vinde daarvoor dat ons uitgaan sonder enige
verwagtinge. Wanneer ek trou, moet dit iemand wees …” Hy kyk hoopvol na
Doug. “Jy weet waarvan ek praat. Dit moet tog iemand wees wat jou kan
ondersteun en wat met ons kliënte kan gesels … nie iemand in ’n romp met lae
en lae net nie!”
Sy ma trek haar asem skerp in. “Wel,” sê sy en kyk na Finlay en Edward.
“Ek dink sy’s ’n pragtige kind en as jul broer te onnosel is om dit raak te sien,
hoop ek een van julle maak ’n plan.”
“Boeta,” lag Doug en staan ook op. “Ek kan maar net vir jou sê, die kliënte is
die laaste ding waaraan ek dink wanneer ek by Annabel is.” Hy gaan staan

agter die stoel van sy aanstaande bruid en vou sy arms van agter om haar. “Ek
weet nie waar jy aan jou idees kom nie, maar as ’n stemmige girl jou gelukkig
maak – go for it. Die lewe is kort.” Hy buk af en soen Annabel teer.
Alan kyk weg. Die intieme oomblik tussen sy broer en sy aanstaande ontstel
hom. Al waaraan hy kan dink, is Corinne.
“Wat is dit met jou en vroumense met stywe hare en stywe klere?” vra
Quinn. “Ek skrik my morsdood vir sulke girls en kon nog nooit verstaan wat jy
in hulle sien nie.”
“Ek dink net in ons bedryf is dit nodig om ’n vrou te kry wat jou kan
ondersteun in wat jy doen. Een wat self ’n beroep het en nie vir jou sit en wag
by die huis nie. En een wat jy nie skaam is om aan kliënte voor te stel nie.”
Alan vryf vies oor sy nek.
Sy ma klap haar tong. “Jy kan jou ou skoene agter ’n vrou soos Corinne
aangooi …”
“Ma, jy het haar nie gisteraand gesien nie. Sy het hierdie romp aangehad –”
“’n Tulleromp,” val Annabel hom in die rede. “Wat is so vreemd daaraan?
Netsy is hoogmode en sy het die bene daarvoor.”
“Wie lyk so?” Hoekom verstaan niemand wat hy probeer sê nie?
Annabel grinnik. “’n Girl wat weet wie sy is en wat nie issues het nie.
Presies die soort wat jy soek, klink dit my. Behalwe dat daar niks styfs aan
Corinne is nie. Sy is warm en …” Annabel waai haar hande soos sy probeer
beduie. “Real. Dis die woord. Wat jy sien, is wat jy kry. Dis natuurlik nie elke
man wat so ’n vrou kan hanteer nie.”
Edward staan op en sit sy hand op Alan se skouer. “Daar het jy dit. Kry vir
jou ’n stemmige girl. Los vir Corinne – sy verdien ’n volbloedman. Soos ek.”
Vies ruk Alan hom los. “Ek sien haar op die oomblik. Bly weg,” brom hy
voordat hy hom met ’n wuif van sy hand uit die voete maak.
Beelde van Edward en Corinne flits voor hom en sy hande bal in vuiste.
Magtig. By sy motor kyk hy ’n oomblik op na die hemelruim, bespikkel met
sterre. Vandat Corinne in sy lewe gestap het, is alles ’n warboel en dis presies
wat hy nog altyd probeer vermy het.
Maar die hemele help hom, hy moet by haar wees. Hy spring in sy motor en
trap die petrolpedaal diep in. Môreaand is hopeloos te ver in die toekoms.
“Wel, ek is baie trots op julle,” glimlag Corinne vir die groepie
hoërskoolmeisies in haar blommewinkel. “Julle het goed gedoen.” Sy beduie na
die potte vol blomme voor elkeen. “Volgende Vrydag gaan ons ’n posie maak
vir ’n goeie vriendin – blomme wat die een of ander emosie oordra. Iets soos
swaardlelies wat dui op iemand se sterk karakter of laventel wat bewondering

aandui – ek sal sorg dat hier genoeg blomme is. Nou toe, sien julle weer
volgende week!”
Die tieners haal die blomme versigtig uit die houers waarin dit was. Al die
afvaltakke is al weggegooi en hulle vat die potjies terug kombuis toe waar
elkeen verantwoordelik is om haar potjie skoon te maak.
Uiteindelik is almal klaar. “Dankie, Corinne!” roep die groepie en sy stap
saam tot by die deur om hulle uit te laat. Dis al na nege, sien sy, maar die
klomp het vanaand so gebabbel. Sy kyk hulle glimlaggend agterna en wuif toe
die laaste een nog ’n keer omkyk om te groet.
“Hoekom is jy nog by die winkel?” vra ’n stem wat baie soos Alan s’n klink
agter haar.
Sy draai vinnig om. Sowaar, dit ís hy.
“Alan! Ek het gesê môreaand, dan nie?” vra sy terwyl haar hart laf in haar
binneste begin klop.
Hy knik, sy hande in sy broeksakke. “Jy het. Maar ek … môreaand is te ver
weg.”
Sy sluk. Sjoe. “Ek was besig.” Sy beduie in die rigting waar die meisies om
die hoek verdwyn het. “Vrydagaande is vir die groepie tieners. Een van hulle
het op ’n dag hier ingestap en gevra of ek hulle sal help met blomme vir ’n
funksie by hul skool en wel, dit het ’n weeklikse instelling geword om oor
blomme te gesels.”
Sy babbel, maar kan nie anders nie. Hy sê niks nie, staar net na haar.
“Ek moet net die ligte afsit binne.”
“Ek sal jou help,” sê hy en hou die deur oop sodat sy kan instap.
“Dis nie nodig nie, ek sien jou mos môreaand.”
“Ek is nou hier.”
Help! Sy is nie voorbereid daarop om hom vanaand te sien nie. Sy sou nog
’n nag en ’n dag wou hê om haar te staal teen sy nabyheid, sy sexy, wilde reuk,
sy …
“Ek … die kombuislig,” beduie sy en vlug die kort gangetjie af.
Alan skep ’n diep teug asem en staar Corinne agterna. Bliksem. Die vroumens
steel elke druppel suurstof uit sy lyf en elke moontlike rasionele gedagte.
Vanaand het sy ’n kort, wye rompie aan met ’n langmoubloes met klein
knopies. Die moue is halfpad opgerol, haar armbande klingel vrolik soos sy
wegstap. Sy vingers jeuk – hy kan nie wag om elke knopie los te maak nie.
Net die gedagte aan haar sagte vel onder sy vingers laat sy voete beweeg. Hy
is by die voordeur voordat enige boodskap van sy brein by sy lyf uitkom. Met
een draai sluit hy die voordeur van haar winkel en stap met lang treë tot by die

kombuis.
Sy staan met haar rug na hom, op haar tone, besig om die laaste potjie hoog
op een van die rakke te pak. Haar hemp lig op, hy kry ’n glimp van haar
sysagte vel, die kettinkie aan haar enkel flits en toe kan hy hom nie meer keer
nie.
Hy draai haar om en sy is in sy arms. Diep binne hom raak hy die eerste keer
vandag werklik rustig. Sy is beautiful, sexy, haar armbande maak hom mal –
dis die enigste rede hoekom hy nie sy hande van haar kan afhou nie.
Haar arms vou om sy nek en gewillig val haar kop agteroor. Aanbiddend,
soekend, gly sy lippe oor haar gesig, af teen haar nek tot waar haar pols
dawerend onder sy mond klop. Hy begeer, sy bloed kook vir haar. Hy verstaan
sulke gevoelens, maar hierdie … Hy soen haar, voel hoe sy smelt teen hom.
Hierdie allesoorweldigende passie, dís ’n ontembare drif wat hy nie ken nie.
Trane dam op agter haar ooglede. Niemand het haar nog ooit presies so gesoen
nie. Weg is die dringende intensiteit van gisteraand. Sy aanraking is teer, so
anders as voorheen. Passie kan sy hanteer, verwelkom, maar hierdie sagte,
troetelende liefkosings – dit kan haar vernietig.
Haar arms gly om sy nek, hy lig haar op die kombuisrak en stap tussen haar
bene in. Haar hart sug, breek oop en ’n traan ontsnap onderdeur een ooglid.
Sonder om sy mond van hare af te haal, maak hy die knopies van haar hemp
los. Hy lig sy kop op en kyk.
“Jy’s beautiful,” prewel hy en laat gly sy hande oor haar borste.
Haar asem raak weg. Tydsaam, asof hy al die tyd in die wêreld het, gly sy
een vinger oor die ronding van haar kurwes. Heen en weer, heen en weer, totdat
sy bang is sy slaan aan die brand.
Daar is pyn waar sy vingers aan haar raak, ’n pyn wat saam met die ritme
van haar hart klop. Nog nooit het sy so begeer nie, nog nooit was die behoefte
aan iemand so skerp, so fel nie. Toe sy mond uiteindelik hare weer vind, wil sy
huil van verligting.
Hy trek haar styf teen hom terwyl sy een hand rusteloos op en af teen haar
bobeen gly. Diep binne haar span iets styf, wag haar lyf met oorgawe op wat
gaan gebeur. Sy hand vou oor haar bobeen, die hitte raak ondraaglik,
onuithoudbaar en haar lyf beweeg rusteloos teen hom. En toe vind sy hand haar
kern, iets ontplof agter haar oë, daai sterre waaroor sy so gewonder het,
verskiet weer en sy word saam weggeslinger tot op ’n plek ver anderkant die
hemelruim.

Toe sy onder hom sidder, lig hy sy mond van hare af en kan net staar. Haar
hemp hang oop, haar borste bult teen ’n pienk kant-en-satyn-bra. Hy het nog
nooit in sy lewe iets so mooi, so onweerstaanbaar gesien nie.
Sy hart ruk tot stilstand en hy kry glad nie asem nie. Uiteindelik begin sy
hart weer onreëlmatig klop en paniekerig gee hy ’n tree agtertoe. Hier moet hy
vinnig wegkom. Hy moet beheer kry oor sy lyf, oor die orkaan wat binne hom
woed.
“Ek … jy’s moeg. Dit was ’n lang dag. Ek sien jou môreaand.” Sonder om te
wag dat sy iets sê, vlug hy in die gang af.
Corinne staar hygend na die kombuisdeur waar Alan oomblikke gelede nog
was. Sy is stadig besig om weer aarde toe te kom. Sy pluk haar hemp heeltemal
uit. Dis so warm, sy wil uitbrand. Dis amper asof sy koorsig is.
Haar vingers druk teen haar kloppende lippe. Sy kan hom nog proe, nog
voel. Ontsteld druk sy haar hemp styf teen haar bolyf en staar met groot oë na
die wasbak.
Met ’n snik-lag laat sak sy haar kop teen haar bors. Bleddie hel. Dis hoekom
sy die ruiker gemaak het van magrietjies, rooi angeliere en yarrows – haar hart
ís gebreek. Want, en sy kan dit nie glo nie, sy het sowaar haar hart op die Skot
verloor.
Binne die bestek van vyf dae het sy verlief geraak op die sterk, sexy man.
Maar toe breek hy haar hart, want hy dink sy is nie “stemmig” genoeg nie. Sy
is veronderstel om hom ’n les te leer en kyk nou! Dis hoekom sy hom toegelaat
het om haar te soen ’n uur nadat sy hom ontmoet het.
Seer gaan sy kry. Pyn gaan daar wees. Maar sy moet nou probeer fokus op
die les wat sy vir hom moet leer. So, hy wil ’n stemmige girl hê? Ha. Sy kyk af
na haar lyf waar sy met net ’n bra aan op die kas sit. Maar hy kan sy hande nie
van hierdie baie “onstemmige” girl afhou nie.
Sy glimlag. Hy het tog iets om te leer.
Teen die tyd dat hy die Paarl inry, sing sy lyf nog steeds en het die paniekerige
gevoel van vroeër nog nie heeltemal verdwyn nie.
Wat vanaand met hom gebeur het, het nog nooit vantevore gebeur nie. Hy is
altyd in beheer wanneer hy by ’n vrou is. Hy kan al die tekens lees en weet
wanneer ’n date hom saam huis toe gaan nooi. En alles wat daarna volg, is ’n
netjies uitgewerkte choreografie.
Elke aanraking is vooraf beplan, hy weet wat werk, weet waarvan vroue hou.
En wanneer alles verby is, trek hy aan, groet en ry huis toe, sy gedagtes lankal
weer by die volgende dag.
Maar vanaand … Geeneen van sy vooraf uitgewerkte moves het eens by

hom opgekom nie. Hy het op iets baie meer primitief gereageer. Instink het sy
hande gelei, sy lyf het by sy brein oorgeneem. En beheer? Gmf. Daar was nie
sprake van so iets nie.
Gelukkig het hy uiteindelik op die paniek in sy binneste gereageer en
weggestap. Hy is veronderstel om op hete kole te sit oor ’n verskeping pruime
wat op pad is na Londen. Hy ontspan nooit regtig voordat hulle gehoor het hul
kliënte is tevrede met die toestand van die vrugte wanneer dit daar aankom nie.
Maar met die vroumens op sy brein is daar nie plek vir enigiets anders nie.
En dis belaglik. Hy het ’n hele dag om hom voor te berei voor hy haar weer
môreaand sien. Die belangrikste is dat hy nie weer soos ’n verdomde skoolseun
op sy eerste date reageer nie. Magtag, hy is darem al dertig.

7

Die grasperk om die huis wat die Sutherland-broers deel, is gesny, die bome is
gesnoei, die hele huis is gestofsuig en al Alan se klere is die eerste keer in weke
gewas. Almal se motors blink.
Sy broers se geterg het hy geïgnoreer. Toe daar niks meer was om te doen
nie, het hy ook gaan draf. Daar was geen boodskappe op sy foon van
paniekerige kliënte nie, maar hy is nietemin kantoor toe en het deur ’n klomp eposse gewerk.
Maar bleddie hel, ondanks sy talle aktiwiteite was Corinne nie een oomblik
uit sy gedagtes nie. Selfs in die tydgleuwe tussen sekondes dink hy aan haar.
Hoor hy die geklingel van haar armbande, ruik hy blomme, sien hy haar oë lag.
Sy is ’n omgeemens. Hy onthou die ruiker wat sy in die winkel aan die vrou
oorhandig het, die tieners wat sy op ’n Vrydagaand van blomme leer. Hy kan
nie aan ’n enkele girl dink wat haar Vrydagaand vir so iets sal opoffer nie.
En nou is hy uiteindelik voor haar deur en die afwagting, die opwinding, die
begeerte is ’n onrustige dier in sy binneste. Hy lig sy hand en klop. Dis asof hy
haar al kan proe. Wat het geword van al sy planne om in beheer te bly? Hy het
haar nog nie eens gesien nie en sy lyf is reeds gereed vir haar.
Die deur vlieg oop. Dis nie Corinne wat daar staan nie, maar ’n ander man.
Binne klink laggende stemme op. Wat de hel?
“Hallo!” groet die man en steek sy hand uit. “Jy’s Alan, dink ek het Corinne
gesê? Kom in, ek is Chris.”
Hy hoor Corinne se armbande nog voordat hy haar sien. Sy is in die
kombuis, omring deur vier ander vroue.
“Corinne, hy’s hier!” roep Chris en sy kyk op.
’n Vlietende oomblik sien hy ’n nuwe lig in haar oë, maar toe glimlag sy en
waai ewe vrolik vir hom. “Hallo, Alan. Kom in, kom in. Laat ek jou voorstel
aan my vrinne. Ek het begin kos maak en op die ou end was daar so baie, ek
moes nog mense nooi om te kom saameet.”
Hy oorhandig die bottel wyn wat hy gebring het aan haar en buk af om haar
te soen. Maar sy draai haar kop en hy maak slegs kontak met haar wang
voordat sy wegdans.
Sy is kaalvoet en het weer ’n romp aan met lae en lae netsy – hierdie keer is

dit ’n sagte pienke. ’n Donkerder pienk sagte toppie span liefderik om haar
bolyf, maar dis toe sy omdraai dat hy sy laaste bietjie asem verloor. Aan die
agterkant hang die toppie in sagte voue laag sodat feitlik haar hele rug kaal is.
Daar is ’n groot gedruis in sy ore, maar hy knik sy kop, skud hand met al die
mense en maak skynbaar die regte geluide, want niemand kyk hom snaaks aan
nie.
Na ’n geskarrel en Corinne wat bevele uitroep, sit hulle uiteindelik almal om
die tafel. Sy neem plaas aan die kop en beduie ewe nonchalant vir hom om
regoor haar aan die ander kop te sit. Haar oë vermy syne.
Daar is agt ander mense, sien hy toe almal sit, vier vroue en vier mans. Dis
duidelik hulle kuier gereeld saam. Die gesprek vloei maklik en na ’n ruk
ontspan hy.
“Man, jy is in vir ’n treat,” sê die een vrou. “Corinne kook soos ’n engel.”
“Proe maar eers voor jy besluit,” lag Corinne en staan weer op. “Chris, sal jy
asseblief kyk of almal nog wyn het, ek skep op.”
Om hom begin almal weer gesels, maar sy oë bly op die gasvrou. Haar
bewegings is grasieus, rustig en heeltyd deur klingel haar armbande vrolik
saam. Heerlike geure kom oor die lug aangesweef. Hy’t nie regtig vandag iets
geëet nie en is nou vrek honger.
Hy weet nie wat hy verwag het nie, maar hy het aanvaar hulle gaan kos
bestel, ’n pizza of so iets. Dis wat gewoonlik gebeur. Hy kan nie onthou dat ’n
vrou al ooit self vir hom ’n maaltyd voorberei het nie.
Corinne begin die borde een vir een tafel toe dra.
“Kan ek help?” vra hy.
“Sy doen dit graag self,” beduie een van die vroue. “Dis kunswerke, kyk,” sê
sy en beduie na die bord wat Corinne voor haar neesit.
Alan staar verstom na die borde kos. Dit ís kunswerke. Skywe vleis rus boop dungesnyde murgpampoentjies en ’n sous is in ’n ingewikkelde patroon
rondom die gereg gedrup.
Uiteindelik gaan sit sy en lig haar glas. “Op ou en nuwe vriende,” glimlag sy
oor die rand van haar glas vir hom.
Die vuishou begeerte laat hom ’n lang ruk heeltemal sonder asem.
Corinne se hand bewe toe sy die voordeur agter die laaste gaste toedruk. Alan
het die skottelgoed begin was en dit baie duidelik gemaak dat hy nie van plan is
om ook nou al te loop nie.
Na gisteraand het sy net geweet sy kan hom nie die hele aand alleen sien nie.
Nie so gou nie. Sy liefkosings het haar weggevoer na ’n plek waar sy nooit
vantevore was nie, ’n plek wat haar bang maak, maar wat haar ook laat smag na

nog meer lyflike genot – die soort wat sy weet sy net by hom kan kry.
Sy het eintlik gedink hy sal hom vinnig uit die voete maak wanneer hy sien
hier is ook ander mense en besef hy gaan nie dadelik in haar bed kan spring nie.
Maar na ’n aanvanklike stywerigheid het hy begin saamgesels. Anders as baie
van haar vorige dates, praat hy nie sommer oor homself nie, maar het eerder die
ander gaste uitgevra en belangstellend na elkeen se storie geluister. Wanneer hy
wel oor sy werk praat, doen hy dit met entoesiasme en kundigheid. Dit is
duidelik dat sy beroep sy trots is: veeleisend, maar iets wat hy ook geniet. Sy
kan nie help om dit te bewonder nie. Wanneer sy die geesdrif op sy gesig sien,
wil sy glimlag. Hy is ’n goeie man – soms ’n bietjie ernstig, maar goed. Wat
haar voorneme om hom op ’n afstand te hou nie juis help nie. En sy kan nou
erken, ten minste aan haarself, wat sy vir hom voel, is baie meer as wat die
woord “verlief” beskryf. Dis dieper, intenser, omvattender – dis liefde.
Helaas, sy is nie die “tipe girl” wat hy aan sy kliënte kan voorstel nie! Haar
hart krimp ineen, maar sy sluk en trek haar skouers terug. Sy kan nie, soos haar
ma, verander om die man in haar lewe te pas nie. Dis ’n besluit wat sy lankal
geneem het.
Sy praat maklik oor haar gevoelens, dit was nog nooit nodig om wat sy voel
te onderdruk nie. Maar nou het sy lief geraak vir iemand wat geen doekies
omdraai nie: Wat ook al tussen hulle is, is tydelik en oor twee weke verby.
Hy was baie duidelik oor wat hy wil hê – sy is nie sy “tipe” nie. Hy wil
natuurlik in beheer bly, dis hoekom hy hom gisteraand so vinnig uit die voete
gemaak het. Sy het ’n nag lank tyd gehad om daaroor te dink.
Of haar arme hart twee weke gaan oorleef, is nog ’n vraag. Maar terwyl sy
by hom is, gaan sy vir hom wys wat dit is wat hy die res van sy lewe gaan
misloop. Hy gaan besef wat ’n girl kan doen wat nie “stemmig” is nie. Sy glip
haar romp uit nog voor sy by die kombuis kom. Alan staan voor die wasbak, sy
hempsmoue opgerol, en dit lyk asof die meeste skottelgoed reeds gewas is.
Hy is onbewus van haar agter hom en sy stap tot teenaan hom. Toe vou sy
haar arms van agter om sy lyf en druk haar gesig in sy rug. Sy hande word stil.
“Corinne,” kners hy uit. “As jy weet wat goed is vir jou …”
Sy trek sy hemp uit sy broek en glip haar hande onder sy hemp in. Sy vel is
vuurwarm onder haar vingers.
Hy’s ’n dooie man. Dis al gedagte waarvoor hy tyd het voordat begeerte sy
bloed binne sekondes tot ver anderkant kookpunt verhit.
Hy dink nie eens daaraan om sy nat hande af te droog nie, hy draai om en
vang haar teen hom vas. En sien sy het nie meer haar romp aan nie.
“Corinne!” Sy amper wanhopige kreet kom uit ’n baie diep plek.

Sy hande gly oor haar kaal rug, die einste een wat hom al heelaand mal
maak.
“Kom saam,” nooi sy en met sy hand in hare stap sy voor hom uit, in die
gang af.
Dié prentjie sal hy nooit in sy lewe vergeet nie. Aan die onderkant van haar
toppie steek ’n stukkie kant en satyn uit. Hy kwyl. En haar bene – lank, slank,
gevorm vir sy hande – lok hom uit. ’n Groot gesuis sny alle ander geluide uit.
Sy was voorbereid op spoed, op angstige hande oor haar lyf, maar toe hy haar
op die bed neerlê, sit hy die bedliggie aan, druk sy hande aan weerskante van
haar lyf op die bed en laat net sy oë oor haar gly. Elke sel in haar lyf reageer op
die koorsigheid in sy blik.
“Beautiful.” Sy hande vou om haar enkels, gly stadig, amper lui teen haar
bene op. “Hierdie is …” Hy lig haar been sodat sy lippe die pad van sy hande
kan volg. “Wel … die paradys.” Sy stem is onherkenbaar skor. “Ek het
gedroom oor jou bene, gewonder presies hoe lank hulle is, en nou …” Met ’n
swiep gly sy hande verkennend van haar enkel tot bo teen die kern van haar
vrouwees.
Nog ’n wyle talm hulle daar, hou sy oë hare vas en dobber sy lomerig in soel
water rond. Sy hande glip verby die satynhindernis, haar lyf sug in
verwondering. Sy vingers beweeg, liefkoos, troetel, hitte bou op, om haar begin
die water kolk, warmer word en magteloos word sy saamgesleep. Dis nog te
gou, nie nou al nie … Desperaat probeer sy fokus op sy gesig, rol rusteloos
rond, maar word dieper ingetrek. Die passie is hopeloos te sterk en met ’n snik
gee sy haar oor en bly lê op haar sy.
Sagte lippe teen haar rug bring haar terug aarde toe.
“Alan?”
“Ek is hier, ek het jou.” Sy asem blaas oor haar verhitte vel. “Ek is mal oor
hierdie toppie van jou,” fluister hy en laat gly sy lippe oor haar kaal rug, “maar
ek dink dis tyd …”
Sy pluk die toppie oor haar kop voordat sy langs hom terugsak. Elke porie
van haar lyf is oorverhit, die vlamme van ’n volgende vuur lek-lek teen haar
vel.
Sonder enige boodskappe van haar brein, begin haar vingers die knope van
sy hemp losmaak. Die pante val weg, onthul sy gespierde bolyf. Uiteindelik
kan haar hande oor hom gly, elke spier, elke sentimeter ontdek.
Sy buk af en met haar hande, haar mond, haar hele wese wys sy hoe lief sy
hom het. Eers toe sy hart onder haar vingers struikel, sy lyf onder haar mond
sidder, maak sy sy gordel los.

Lyflike genot het oorgeneem by logiese denke. Sy sintuie is oorgestimuleer
deur die geur van blomme wat om haar hang, die ferweeltekstuur van haar vel,
die rukkerigheid van haar asem, die passie wat hy proe op haar tong. Sy is sag
en lenig, kurwes en lyne – vrou. En sy is hier, by hom.
Hy help haar soekende hande en skop sy broek uit, glip sy arms uit sy hemp.
Daar is nog slegs ’n klein stukkie pienk kant en satyn tussen hulle. Sy hand gly
oor die driehoekie, hy verlustig hom in die tekstuur van satyn en sagte