اصلی Hartklop - Omnibus 02

Hartklop - Omnibus 02

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟
کال:
2016
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780624076858
ISBN:
B01E7G20CI
فایل:
EPUB, 722 KB
کاپی کول (epub, 722 KB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie4814
haar4626
het3133
dit1986
van1790
wat1714
dat1540
vir1397
maar1207
kan1197
jou1148
gaan958
toe921
sal913
mila832
hom804
aan795
ons713
moet668
kom657
dis636
oor604
nou602
net580
wil520
daar511
uit490
sien479
weer469
hoe467
kyk462
nog453
soos445
voel433
weet428
dink428
dan419
wees406
deur393
laat385
maak385
ook371
hier322
kry308
lyk294
een279
baie252
asof242
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Hartklop - Omnibus 03

Năm:
2017
Ngôn ngữ:
afrikaans
File:
EPUB, 444 KB
0 / 0
2

Hartklop - Omnibus 01

Năm:
2015
Ngôn ngữ:
afrikaans
File:
EPUB, 499 KB
0 / 0
Hartklop

OMNIBUS 2

Droomdokter – Amelia Strydom • In jou hande – Malene

Breytenbach • Liefde op Jannasbaai – Vera Wolmarans

Hartklop

Droomdokter

1

Mila Mouton stroop die steriele handskoene af en gooi hulle sekuur in

die asblik. Met ’n gerusstellende glimlag vir die drie vroue in die kamer

stap sy uit na haar spreekkamer. Sy beter hierdie SMS blitsig stuur. Dis

Carlien se derde baba; die drukfase gaan nie lank duur nie. Gelukkig

bly Lise-Marie, Mila se regterhand, skaars twee kilometer van die

hospitaal af. Hierdie tyd van die nag kan sy binne vyf minute hier

wees. Mila het haar vroeër gevra om vannag op roep te wees.

Sy klap haar silwer foontjie so haastig oop dat dit uit haar hand glip.

Haar hart mis ’n slag, maar sy vang dit wraggies voordat dit op die

teëlvloer aan skerwe spat. Dit sal nie die eerste selfoon wees wat sy uit

pure gejaagdheid só afskryf nie! Dan is daar nog die peperduur ene

wat tydens ’n watergeboorte uit haar broeksak geval en in die bad

geplons het. Die tegnikus by die selfoonwinkel het net gelag toe sy vra

of dit reggemaak sal kan word. Ergerlik skud Mila haar kop vir haar

onhandigheid. Gelukkig het sy darem nog nooit ’n baba laat val nie!

Sy tik vinnig: 9 cm ontsluit. Kom asb. Op pad terug na Carlien, voor

die deur van die Aktiewe Geboorte-eenheid, staan sy vlugtig stil om die

ligte te demp. Pasgebore babas maak soveel meer oogkontak met hul

mammas as die kraamkamer donker is. Met hul pappas ook, natuurlik.

As ervare vroedvrou verstom dit Mila steeds hoe babas binne minute

ná geboorte hul koppies kan draai om hul pa’s herkennend te betrag.

’n Ongenooide vlaag weemoed spoel oor Mila. Haar pasiënt se

babadogtertjie sal nie vannag só na haar pa kan soek nie. Die dingetjie

ken die pa se stem nie eens nie, want hy het haar ma en twee boeties

verlaat kort nadat die nuwe baba verwek is. Die arme Carlien het

lankal vermoed dat daar iemand anders is, maar toe haar lewensmaat

van sewe jaar ’n egskeiding vra, was dit nogtans ’n geweldige skok. En

dít tydens swa; ngerskap!

Dat Carlien juis by Mila uitgekom het vir haar bevalling was ’n

bestiering. Mila moet eenvoudig glo dat hul paaie met ’n doel gekruis

het. Al het hierdie pasiënt se situasie ook ou wonde oopgekrap …

Tydens Carlien se voorgeboorte-ondersoeke het hulle diep gesprekke

gevoer, met ’n boks snesies tussen hulle op die spreekkamerrusbank.

Mila kon met Carlien se pyn identifiseer, want sy’s self agtergelaat met

’n babatjie. Ook sy moes tydens haar swangerskap, toe sy broser as

ooit gevoel het, uitvind dat haar man haar verkul. Stefan het haar nou

wel tydens die geboorte bygestaan, maar sy voorneme om hul huwelik

nog ’n kans te gee, was van korte duur. Melissa was skaars ’n maand

oud – nog in die greep van aandkoliek – toe Stefan se kar finaal by die

hek uitgery het. Mila wil nie eens dink aan daardie maande van hel nie.

Sy ril by die herinnering aan soveel slapelose nagte waarin die pyn van

verwerping haar verteer het, nagte waarin sy die pajamadril soos ’n

eensame zombie gedoen het … Tog het sy kop bo water gehou ter wille

van haar kind. Sy het sterker anderkant uitgekom, nes Carlien ook sal.

’n Vroedvrou kom daagliks die stille krag van vroue teë, en hierdie

innerlike staal sal Carlien deur haar krisis dra.

Mila gaan sit op die rand van die geboortebad. Amper negentig

persent van die babas in haar privaat praktyk word in hierdie

ovaalvormige bad gebore. Die water kalmeer ma’s én babas en bied

sulke effektiewe pynverligting dat Mila dit soms skalks “die vroedvrou

se epiduraal” noem. In hierdie stadium is Carlien se kontraksies egter

só intens en opmekaar dat nie eens die water regtig meer hond haaraf

kan maak nie. Met hortende asemstote klou Carlien aan die badrand

vas, haar blonde hare in natgeswete toutjies oor haar voorkop. Mila vee

haar gesig met ’n koel waslap af, sekondes voordat nog ’n kontraksie

soos ’n golf oor Carlien breek. Paniekerig gryp Carlien haar ma en

suster se hande vas en kerm:“Ek kán nie meer nie!”

“O ja, jy kán,” praat Mila haar rustig moed in. “Kom, haal saam met

my asem. In … en uit … Nou weer in … trek jou asem in tot waar dit

seer is … en blaas weg die pyn. Daar’s hy, Carlien, als gaan net reg!

Jou dogtertjie gaan nou-nou in jou arms wees.”

Maar Carlien is moeg geveg. “Jy móét my iets spuit! Asseblief, Mila!

Ek is nou óp met hierdie pyn!”

Mila se hart krimp ineen van simpatie. Die arme vrou, moet sy haar

nie maar iets gee nie? Dis erg genoeg dat sy sonder haar lewensmaat se

ondersteuning ’n baba moet kry, dis seker nie nodig dat sy so moet ly

ook nie? Die ma en suster lyk ook albei heeltemal paniekerig.Tog besef

Mila dadelik dat dit die verwerpte vrou in haar eie hart is wat praat, nie

die bekwame vroedvrou nie. Liggies vies vir haarself gooi sy haar

donker kop agteroor, asof sy die gedagte só fisies wil afskud. Sy mag

nie toelaat dat haar verlede haar professionele oordeel benewel nie, sy

moet objektief bly!

“Ek weet jy het ontsettend seer, skat,” paai Mila,“maar ek kan nie nou

vir jou iets gee nie. Die pethidine word in die kraamsaal toegesluit,

daar’s nie tyd om dit te gaan haal nie. As ek nou loop, vang jou ma-

hulle hierdie baba! Jy moet net ’n klein bietjie langer uithou. Lise-

Marie is op pad om te kom help, en sodra sy hier is, kan jy begin druk

nes jy die gevoel kry.”

Midde-in Carlien se volgende kontraksie swaai die deur oop. ’n Lang

brunet in haar middeldertigs loer in. Sy’s gemaklik aangetrek in ’n

sweetpakbroek en T-hemp. Woordeloos neem sy die toneel in die

kraamkamer in en gaan sit dan op die rand van die bad. Haar

simpatieke blik rus op die vrou in die water. Dan kyk sy op om Mila se

oog te vang. Dié snap dadelik wat sy dink. Hulle het al saam soveel

geboortes hanteer dat hulle mekaar se gedagtes gemaklik kan lees.

Intuïtief gly beide pare hande oor Carlien se rug om ferm drukking op

haar heupe te plaas. Lise-Marie verdiep haar eie asemhaling om die

toon vir Carlien aan te gee, en Mila merk dadelik hoe ’n verskil hierdie

eenvoudige tegnieke maak. Soos altyd dra Lise-Marie kalmte en nuwe

hoop saam met haar by die kraamkamer in.

Vir die soveelste keer dink Mila dat haar kollega ’n puik vroedvrou

sou gemaak het. Lise-Marie is egter ’n doula, nie ’n opgeleide

verpleegkundige nie. ’n Doula bied emosionele ondersteuning tydens

die kraamproses, maar verlos nie self babas nie. Gewoonlik leer sy die

ma en pa reeds in swangerskap goed ken en staan hulle dan van vroeg

in die bevalling af by. Vanaand is sy hier as backup: Mila het haar net

op nommer nege-en-negentig ontbied as ’n tweede paar hande. Dis

onprakties en onverantwoordelik vir ’n vroedvrou om ’n baba op haar

eie te probeer vang, en Mila waag nie kanse as dit by ma’s en hul

kosbare babas kom nie.

Toe die kontraksie skiet gee, stel Mila haar pasiënt aan die doula voor.

“En Lise-Marie, dis Carlien, soos jy weet. Sy hanteer als goed, maar

wil nou iets vir die pyn hê.”

“Ag ja, assebliéf!” smeek Carlien. “Ek kan regtig nie meer nie. Ek’s te

moeg.”

“Ag Mila, sy’s so op!” tree Carlien se ma ook tussenbeide. Die suster,

’n jong meisie, kou haar naels. Wat bring hulle ook nou eintlik ’n blote

tiener saam?

Mila en Lise-Marie glo albei dat daar ’n plek vir pynmedikasie is

tydens bevallings. Maar hulle deel ’n passie om natuurlike geboorte

moontlik te maak vir die handvol vroue wat dit nog wil hê. Carlien hét

dit met haar hele hart begeer – dít het sy Mila herhaaldelik op die hart

gedruk. Dis net die oorweldigende pyn wat haar voornemens nou laat

wankel.

“Dit ís vrek seer, Carlien,” simpatiseer Lise-Marie.

“Maar dis nou amper verby! Mila sê jy is vol ontsluit – jy moet nou

net druk!”

“Ek kan nie,” snik Carlien.“Dis te seer! Ek wil ’n epiduraal hê. Of ’n

keiser!”

Mila en Lise-Marie glimlag onderlangs vir mekaar. Hulle spot dikwels

dat hulle albei aansienlik ryker sou wees as hulle ’n rand kon kry vir

elke pasiënt wat hulle nét voor die geboorte só smeek vir ’n makliker

uitweg.

Lise-Marie leun oor die badrand en slaan haar arms om Carlien.

“Hierdie is die moeilikste deel, ek weet, so net voor die einde. Dis die

Polly Shorts van kraam, jong, die finale opdraande voor die eindstreep.

Onthou net, jy het al voorheen hierdie marathon voltooi, Carlien. Jy

gaan dit nou wéér doen – een treetjie op ’n slag.”

Carlien ontspan merkbaar in die doula se arms, maar haar verskrikte

oë soek haar vroedvrou se bevestiging. “Ek sal nie doodgaan nie?”

Mila glimlag vertroostend. “Jy sal nié doodgaan nie. Almal word bang

so net voor die einde, Carlien. Dis heeltemal normaal. Nou moet jy net

mooi vir my luister, dan is jou baba nou-nou hier.”

Tien minute later sit Mila die glibberige babalyfie in ’n oorstelpte

Carlien se arms. Lise-Marie staan reg met ’n warm handdoek om oor

die kleintjie te drapeer, want ma en baba bly nog minstens ’n kwartier

saam in die geboortepoel. Daar is nie ’n droë oog in die kamer toe

Carlien met haar vingerpunte oor die verrimpelde koppie streel nie.

Haar moeë gesig straal van verwondering.

Die ouma en tannie lyk so trots asof hulle die baba self uitgekraam

het.

Mila is die ene hoendervleis. Dit voel asof ’n heilige teenwoordigheid

vannag in die kerslig van die geboorte-eenheid huiwer. Maak nie saak

hoeveel babas sy vang nie, geboorte bly vir haar die allergrootste

wonderwerk. En klein Michaela s’n was werklik ekstra-spesiaal. In

haar pa se afwesigheid het die vier vroue ’n laer van liefdevolle

ondersteuning om haar en haar ma getrek – ’n herinnering wat Mila vir

die res van haar lewe sal koester. Sy glimlag bly toe Carlien opkyk en

sê: “Dankie, Mila! Dankie, julle almal! Ek sou dit glad nie sonder julle

kon doen nie.”

Dis sulke woorde, dink Mila, sulke oomblikke, wat dit die moeite

werd maak om ’n vroedvrou te wees. Al die ongerief en spanning van

haar werk – die vreemde werksure, die laatnag-oproepe, die

ontsettende verantwoordelikheid – vervaag wanneer sy só in ’n nuwe

ma se oë kyk en trotse ekstase daar sien.

Drie uur later is Carlien gereed om haar splinternuwe bondeltjie huis

toe te neem. Die meeste van Mila se pasiënte verkies om direk huis toe

te gaan in plaas daarvan om in die hospitaal opgeneem te word.

“Weer eens geluk, Carlien,” sê Mila terwyl sy die skraal vrou teen

haar vasdruk. “Ek sal vanmiddag ’n draai kom maak om te sien hoe dit

gaan, en môre sal Lise-Marie ’n tuisbesoek doen. Bel asseblief as jy

ons intussen nodig het.”

Tot almal se verbasing skuif Carlien self agter die stuur in. Mila maak

dadelik kapsie.

“Jy’s nie ernstig nie, Carlien! Jy’t nou net ’n baba gehad. Jy kan nie

bestuur nie, laat jou ma ry!”

“Ag Mila,” stry Carlien verleë,“net ek verstaan hierdie ou tjorra van

my. Ek’t self hiernatoe gery ook, en toe’t ek báie erger gevoel as nou!

Ek voel piekfyn, regtig. Ma en Sus moet in elk geval agterna ry.”

Mila sug. As sy geweet het Carlien beplan om self terug te bestuur,

sou sy haar beslis na die postnatale saal oorgeplaas het. Minstens vir ’n

nag. Maar sy weet dat geld skraps is en dat Carlien graag die onnodige

onkoste wil spaar. Sy kyk vraend na Lise-Marie, en dié knik effens.

“Nou maar goed,” gee sy teësinnig toe.“Belowe my jy sal stilhou as jy

nie lekker voel nie?”

“Maar natuurlik, en Ma is mos daar,” glimlag Carlien. Mila en Lise-

Marie staar in stilte die afgeleefde rooi Corsatjie agterna, albei

stomgeslaan deur Carlien se onafhanklikheid. Die vroeë oggendluggie

is verfrissend en nou en dan kwetter voëltjies in die groot peperboom

voor die eenheid. Net toe hulle omdraai om die kraamkamer te gaan

opruim, klink die muezzin se oggendgesang op vanuit die nabygeleë

moskee. Vanoggend klink sy stem vir Mila vol heimwee.

“Ek sou haar nie ontslaan het as ek geweet het sy wil self huis toe

bestuur nie,” sug Mila.

Maar Lise-Marie is nie bekommerd nie. “Relax, Mila, sy’s fine. Sy’s ’n

sterk vrou. En sy’s nie siek nie, sy het net ’n baba gehad. Haar ma sal

mos sien dat als reg gaan.”

“Tog …” mymer Mila, steeds nie oortuig dat sy die regte ding gedoen

het nie.

“Sy’t geen medikasie gehad nie en jy’t self gesê sy’t min bloed

verloor,” redeneer Lise-Marie. “Ék sou kon bestuur het ná my kinders

se geboortes.”

“Jy’s seker reg,” gee Mila toe, effe gerusgestel deur die stem van

eerstehandse ervaring. Want hoewel Mila al meer as vyf honderd babas

in die wêreld gehelp het, het sy self nog nooit die pyn of vreugde van

natuurlike geboorte geken nie. Lise-Marie het egter met al vier haar

kinders normaal gekraam. Een van die rouste seerplekke in Mila se

lewe bly die feit dat haar klein Melissa stuit gelê het. Hoe ironies dat

juis sý wat natuurlike geboorte vir soveel ander vroue moontlik maak,

daarvan ontneem moes word. Die ervaring wat sy so graag self wou hê

en wat haar nou waarskynlik nooit beskore sal wees nie …

Mila is vodde toe sy by haar meenthuiskompleks naby die hospitaal

indraai. Teen die tyd dat sy en Lise-Marie die geboorte-eenheid eksie-

perfeksie gehad het, was dit reeds so laat dat sy deur die

oggendverkeer huis toe moes ploeter. ’n Rit wat gewoonlik tien minute

neem, het vanoggend ontaard in ’n stop-ry-stop-nagmerrie van veertig

minute. Die ergste is dat dit haar so laat gemaak het dat haar ma en

Melissa reeds kleuterskool toe vertrek het. Mila het so gehoop om haar

dogtertjie te siene te kry, al kon sy haar net ’n vinnige soentjie gee.

Dalk is dit tog maar beter so, troos sy haarself, want minstens kan sy

haar moeë lyf nou dadelik in ’n warm bad gaan week, en daarna so

gou moontlik verlore slaap gaan inhaal. Sy sal maar môre iets lekkers

met Melissa doen …

Net toe Mila haar klere afstroop en haar linkervoet in die aanloklike

skuimbad steek, lui die deurklokkie. ’n Gloed van irritasie wel in haar

op. Wie op aarde is nou so ontydig? Haar vriende en bure weet almal

dat sy onvoorspelbare ure werk en dikwels bedags slaap; niemand sal

so onbedagsaam wees om sonder ’n afspraak op te daag nie. Haastig

spartel sy om weer aangetrek te kom. In die kamer struikel sy oor

Melissa se houtperdjie wat op die vloer vergete lê. Gelukkig herwin sy

haar balans deur so half bo-oor die speelding te spring, maar in die

proses stamp sy haar groottoon hard teen die deurkosyn. Haar

besoeker kies daardie presiese oomblik om die klokkie ’n tweede keer

te lui, en Mila uiter ’n gedempte kragwoord. Dis seker ’n astrante

besemverkoper of iemand wat ingeglip het toe ’n inwoner die hek oop-

of toegemaak het, dink sy beneuk.

Oorgehaal om vir die ontydige smous sy fortuin te vertel, pluk Mila

die voordeur oop. Haar woorde stol op haar lippe toe sy vaskyk in die

lieflikste man wat sy nog in haar nege-en-twintig jaar raakgeloop het.

Dis sy oë wat Mila eerste opval: blinkblou kykers wat perfek

beklemtoon word deur die netjiese ligblou strepieshemp wat hy aanhet.

Sonder skroom hou hierdie pragtige oë hare gevange, en Mila

verwonder haar aan die feit dat sulke ysblou irisse tog soveel warmte

kan uitstraal. Hy’s lank en lenig en om sy soenbare lippe speel ’n sexy

glimlag. Mila hou gewoonlik van skoongeskeerde mans met kort hare,

maar hierdie een lyk wraggies net aantrekliker met sy effense

stoppelbaard en donker hare wat wil-wil krul. Mila trek haar asem in.

Sy voel asof die man se oë haar soos ’n kragtige gety intrek en sy gee

haarself ’n oomblik lank geheel en al oor aan die sensasie. Gelukkig

bring haar gesonde verstand haar terug aarde toe sodat die gety haar

darem weer op die strand uitspoel. Sy word ongemaklik bewus van

dansende lagduiweltjies wat intussen in die onweerstaanbare oë hul

intrek geneem het. Vinnig kyk sy anderpad. Vervlaks, hierdie man weet

maar alte goed watter uitwerking hy op die vroulike geslag het. G’n

wonder hy gloei behoorlik van selfvertroue nie!

Die vreemdeling hou sy hand na Mila uit.Verbeel sy haar, of is daar

iets tergends in sy glimlag ook? Sy neem sy uitgestrekte hand en

verlustig haar in sy warm, ferm handdruk. Hmm, ouma Mart sou van

hierdie man gehou het, skiet dit haar te binne. Ouma het geglo dat ’n

man se handdruk ’n aanduiding van sy karakter is. Hierdie donkerkop-

hunk sou ongetwyfeld die toets geslaag het …

’n Rilling van lekkerkry gaan deur Mila se lyf toe die vreemdeling sy

linkerhand ’n oomblik lank liggies op haar pols laat rus. Sy voel hoe

die haartjies op haar arm van plesier rys. Genade, Mila, dink sy

vieserig, wat gaan met jou aan? Jy staan hier en kwyl soos ’n bakvissie!

Is dit nou die manier vir ’n enkelma en ’n hiperverantwoordelike

vroedvrou om haar te gedra? Ruk jouself reg, man!

Die man glimlag geamuseer vir Mila asof hy haar gedagtes soos ’n

grootdrukboek kan lees.

“So,” sê-vra hy,“dan is jy Mila? Jy’s nog mooier as wat ek gehoor

het!”

’n Verwarde frons huiwer tussen Mila se wenkbroue. Hoe sou hierdie

vreemdeling haar naam ken? En met wie op aarde het hy haar

voorkoms bespreek?

Derek merk op hoe Mila se bittersjokolade-oë gevaarlik begin smeul.

Haar linkerhand skiet uitdagend na haar parmantige heup. Haar hele

houding waarsku dat sy nie ’n katjie is wat ’n mens sonder handskoene

wil aanpak nie. Nie dat dít hom afskrik nie. Allermins! Hy was nog

altyd ’n ou vir ’n uitdaging, veral een wat deur so ’n mooi stukkie mens

gestel word.

“Ja, ek is Mila. Aangesien jy reeds my naam ken, mag ek seker vra

wat joune is?”

“Natuurlik, Mila-sonder-van,” terg hy. “Ek’s Derek. Jy wonder seker

wie my van jou ongeëwenaarde skoonheid vertel het?”

Skielik besef Mila dat haar hand nog in Derek s’n toegevou is. Vinnig

trek sy dit terug. Sy vee die effense klammigheid – die verdoemende

getuienis van hierdie man se onrusbarende effek op haar lyf – aan haar

broekspyp af.

Nou kan daar geen twyfel meer wees nie – hy lag inderdaad vir haar!

Die tergduiweltjies in sy oë dans nie meer net nie, hulle doen sommer

die twist.

“Ag nee wat,” antwoord Mila uit die hoogte. “Jy hoef nie te vertel met

wie jy soos ’n skoolseun my bates en laste bespreek het nie. Jy kan wel

so gaaf wees om my mee te deel waaraan ek die eer van hierdie besoek

te danke het.”

Haar sarkasme drup uit elke lettergreep soos stroop uit ’n sappige

koeksister.

Derek leun aan teen die deurkosyn. Dis duidelik dat Mila se venyn

soos water van ’n eend se rug af rol.

“Is dit wat jy ’n besoek noem?” grinnik hy. “Dan is julle Wilgeklowers

nie vreeslik gasvry nie. Waar ek vandaan kom, word besoekers darem

ingenooi en ’n koppie koffie aangebied. Meestal koekies ook, maar iets

laat my dink ek gaan nie vandag só gelukkig wees nie!”

“Jou raaiskoot is in die kol, meneer …?”

“Derek, noem my asseblief Derek, Mila-sonder-van!”

“Derek,” sug Mila, skielik werklik moeg.“Kan ons tot die punt kom?

Ek het heelnag gewerk – ek het nie krag vir ginnegaap nie. Dis seker

vir jou ’n nuwe ervaring om deur ’n vrou gevra te word om jou loop te

kry, maar ek sal dit waardeer as jy presies dít sal doen sodat ek kan

gaan slaap.Waarmee kan ek help?”

Die spottende trek op Derek se gesig verander eensklaps in simpatie.

“Voel jy sleg, Mila? Jy’s nogal bleek om die kiewe.” Sy besorgdheid

neem die wind uit Mila se seile.

“Ek makeer niks nie, dankie. Ek’s net moeg. Soos ek gesê het, ek was

heelnag by die werk besig.”

“Jy lyk gedaan, hoewel klein Melissa beslis nie oordryf het toe sy my

vertel het wat ’n mooie mamma sy het nie.”

Die blos stoot so vinnig teen Mila se wange op dat haar ore eintlik

daarvan suis. As die aarde haar maar wil insluk! Hoe verwaand en

pateties moet sy nie vir hierdie beeld van ’n man voorkom nie – dat sy

haar verbeel ouens loop en praat oor haar kastige skoonheid! Dit terwyl

sy maar te goed weet sy lyk vanoggend soos Jona ná die vis hom

uitgespoeg het.

Mila skraap elke greintjie waardigheid wat sy nog besit bymekaar. Sy

dwing haar om Derek waterpas in die oë te kyk. Doelbewus staal sy

haarself teen die spot wat sy verwag om daar te sien, maar tot haar

verbasing is sy blik nou die ene erns.

“Dit is juis oor Melissa wat ek met jou wil praat, Mila. Ek het

gisteraand vir ’n rukkie die voorreg van haar geselskap gehad. Ons

twee het te lekker gekuier. Terloops, ek is julle nuwe buurman.”

Hy beduie na die voordeur van die wooneenheid langs hare. Die twee

deure is bykans teen mekaar; nommer 25 en 26 deel ’n stel trappies.

Eindelik sit Mila twee en twee bymekaar. Ai, soms wens sy haar kind

was nie heeltemal so ’n sosiale vlindertjie nie!

“Ek is jammer as Melissa lastig was,” sê sy styf. “Ek sal sorg dat dit

nie weer gebeur nie. Melissa hou van mense – sy het nie ’n skaam haar

op daai blonde koppie nie. My ma moes haar gisteraand oppas omdat

ek by ’n bevalling was. Ongelukkig is Ouma se gesondheid nie van die

beste nie, en soms oorweldig Melissa se energie haar. Ek sal seker

maak dat sy haar in die toekoms weghou. En wanneer ek tuis is, sal

Melissa natuurlik nie ’n probleem wees nie.”

Maar Derek weer haar verskonings met ’n argelose handgebaar af.

“Jy verstaan verkeerd, Mila. Melissa was allesbehalwe lastig. Ek het

haar sprankelende geselskap geniet en sy’s enige tyd welkom om te

kom kuier. Dit is juis waaroor ek met jou wil praat.”

Mila lig haar wenkbroue onbegrypend.

“Jy sien, Mila, hoewel ek nie kinders het nie, maak my beroep my iets

van ’n kenner op daardie terrein. My hart het na Melissa uitgegaan toe

sy vertel dat sy nooit haar pappa sien nie.”

Nou sien Mila terstond rooi. Sy kan nie glo hierdie vreemdeling het die

vermetelheid om praatjies te maak oor haar persoonlike lewe nie!

“Stop nét daar, Meneer die Maatskaplike Werker, of wat jy ook al is,

met jou kastige insig in kindersielkunde. Jy’s nou besig om jou lang

Romeinse neus in te steek waar dit nie hoort nie!”

Nou’s dit Derek se beurt om sy ruie wenkbroue te lig, maar Mila is

nog glad nie klaar gepraat nie.

“My verhouding met Melissa se pa het boggherol met jou te doen.

Maar ingeval jy dink dat ek kleinlik genoeg is om my kind van haar pa

weg te hou, kan ek vir die rekord die situasie vir jou uitspel. Stefan, my

eks, is met sy skelmpie vort toe Melissa vier weke oud was. In die vier

jaar wat verby is, het hy nog nooit soveel as ’n verjaarsdagkaartjie

gestuur nie. So nee, Derek, Melissa sien nooit haar pa nie omdat die

enigste een wat sy het, nie ’n dooie duit omgee nie!”

Met haar drif uitgewoed kyk Mila stilswyend en uitdagend na Derek.

In sy oë is soveel meegevoel dat haar borskas eintlik daarvan begin

pyn. ’n Irrasionele begeerte om in sy arms toegevou en vertroos te word

oorrompel Mila byna. ’n Oomblik lank laat sy haarself toe om te

wonder hoe dit in die skuilte van sy omhelsing sal voel. Vir die tweede

keer in hul kort gesprek moet Mila elke krummeltjie selfbeheersing

bymekaarskraap om haarself reg te ruk.Toe sy eindelik weer praat, is

daar finaliteit in haar stem.

“Dankie vir jou besorgdheid oor Melissa, Derek. Ek glo jy’t dit goed

bedoel. Maar ek sal dit waardeer as jy jou opinies in die vervolg vir

jouself hou. As ek ’n volslae vreemdeling se raad wil hê oor hoe ek my

kind grootmaak, sal ek op Dr. Phil gaan.”

Sy vee ’n haarlok van haar voorkop weg en tree agteruit om die deur

toe te druk. Maar Derek is te gou vir haar en sit sy hand op hare.

“Lyk my ek en jy het vanoggend die een misverstand ná die ander,” sê

hy ernstig. “Ek is nie besig om jou te kritiseer oor hoe jy Melissa

grootmaak nie, Mila. Nie in die minste nie! Melissa sou nooit so ’n

selfversekerde klein patroon gewees het as jy jou nie uitstekend van jou

taak kwyt nie.”

Verlig merk hy hoe die frons op haar voorkop effens uitstryk.Toe haar

skouers merkbaar ontspan, gaan hy versigtig voort.

“Asseblief, ek wil ’n hand van vriendskap na jou en Melissa

uitreik.Wil jy my nie toelaat om ’n klein stukkie van daardie leemte in

haar lewe te vul nie? Ek sal met graagte tyd saam met haar deurbring

sodat daar ’n manlike rolmodel in haar verwysingsraamwerk is – en

sodat ek die plesier van haar geselskap het. Mag sy maar soms by my

kom kuier?”

Sy woorde – die jammerkry in sy stem – sny witwarm deur Mila se

binneste.

Dink

die

man

miskien

dat

Melissa

’n

soort

liefdadigheidsprojek is? Gemeenskapsdiens om hom nog beter te laat

voel oor homself? Of insinueer hy dat sy wat Mila is te onbegeerlik is

om self iemand te vind wat vir Melissa ’n plaasvervanger-pa kan wees?

Dalk bedoel hy dit opreg en is hy net jammer vir haar en haar

dogtertjie, maar Mila Mouton was nog nooit iemand wat simpatie kon

verdra nie. Al ken sy hom glad nie, het hierdie man haar vandag

seergemaak. Sy delf diep vir die regte woorde om hom terug te kwets.

“Vir iemand wat kinders kastig so goed verstaan, weet jy maar min

van ouers! Duidelik is jy self nie een nie. Weet jy nie dat ’n man wat in

vreemde klein dogtertjies belangstel al ’n ma se alarmklokkies gelyk

laat lui nie? Bly asseblief in die toekoms weg van Melissa en van my

af. Ek sal nie huiwer om ’n klag teen jou te lê nie. Totsiens.”

Driftig maak Mila die deur toe, net betyds om te sien hoe ’n trek van

teleurstelling oor Derek se gesig flits en die vonkel in sy oë uitdoof.

Lank nadat haar moeë kop op die kussing neergesak het, speel slaap

nog wegkruipertjie met Mila.Toe sy ure later onrustig insluimer, spook

die mooie man met sy omgeestem steeds by haar. In haar drome

verwonder Mila haar nog aan die kuiltjie in sy ken wat so aanloklik

tussen die sexy swart stoppels uitloer. Maar toe sy wakker word, is dit

’n enkele beeld wat haar bybly: die gewonde uitdrukking in sy skielik

weerlose oë die oomblik toe sy die deur in sy gesig toegeslaan het.

2

Skuins ná vier daardie middag gaan staan Derek Reynders voor sy

studeerkamervenster. Behaaglik strek hy sy stram spiere. Hy is al

heelmiddag doenig in sy nuwe studeerkamer, besig om bokse boeke uit

te pak.Van kleins af al is hy versot op lees. Selfs toe hy ’n oorwerkte,

altyd-moeë mediese student was, het hy tyd ingeruim vir sy

stokperdjie. Hy is heimlik trots daarop dat hy so wyd lees. Omtrent die

helfte van sy boeke is peperduur mediese handboeke, die res ’n

mengelmoes romans, speurverhale, wetenskapsfiksie, biografieë,

populêre sielkunde en ’n paar kookboeke.

Met ’n sug beskou hy die stapel onoopgemaakte bokse in die hoek. ’n

Minder perfeksionistiese ou sou lankal klaar gewees het, dink hy toe

hy kombuis toe stap om lafenis in ’n koppie koffie te soek. Maar hy is

nou eenmaal ’n pyn wanneer dit by die rangskikking van sy leesstof

kom. Hy hou daarvan om sy boeke van elke genre bymekaar te hou, en

orden die afdelings ook min of meer alfabeties.

Terwyl hy wag vir die ketel om te kook, kyk Derek by die

kombuisvenster uit. Hoewel elke tuintjie in die kompleks kwalik groter

as ’n vuurhoutjieboksie is, was ’n lappie grond van sy eie tog vir hom

’n voorvereiste toe hy blyplek gesoek het. Natuurlik sou hy meer

ruimte verwelkom het, maar toe die hospitaalbestuurder hom vertel hoe

naby hierdie kompleks aan sy nuwe werk is, het hy summier daarop

besluit. Blykbaar is goeie, veilige behuising in die omgewing skaars en

kan ’n mens nie te kieskeurig wees nie. Gelukkig het die feit dat dit ’n

ouerige kompleks is, hom nie gepla nie. Die plek se houtvloere gee

karakter, en Derek sien uit daarna om in die winter met ’n glas rooiwyn

en ’n goeie boek voor die kaggel te ontspan. Natuurlik sal hy die

Kaapse winterreën op sy ou huis se sinkdak mis, maar hopelik word

dit darem in Wilgekloof ook koud genoeg vir ’n gesellige vuurtjie.

Vandat hy kan onthou, het Derek gesmag na persoonlike ruimte. Hy

het grootgeword in ’n tweeslaapkamerwoonstel en moes ’n kamer met

sy jonger boetie deel. Aangesien hul woonstel op die tweede verdieping

was, het ’n balkonnetjie met ’n paar potplante noodgedwonge gedien

as tuin. Hy onthou maar te goed die gevoel dat die mure hom vasdruk:

dat die plekkie te klein is om ooit weg te kom van sy ouers se

aanhoudende argumente, van hul harde stemme en wrede verwyte. In

sy standerdsesjaar is sy pa weg. Tog het die woonstelletjie nie rustiger

geraak nie, want sy ma se ellende was ’n gedrog wat die hele plek

mistroostig vol gelê het.

Toe hy Kaapstad toe is om met ’n beurs medies te gaan swot, het

Derek homself belowe dat hy nooit weer in ’n koshuiskamer of

woonstel bo grondvlak ingehok sou word nie. Hy het ’n tuinwoonstel

’n entjie van die hospitaal af by ’n ou dame gehuur, en het ruiterlik aan

haar erken dat haar pragtuin die transaksie beklink het. Hy glimlag nou

oor sy koffiebeker toe hy terugdink aan hoe hy op die houtbankie

onder die groot eikebome gesit en studeer het, aan hoe die

gryskoptannie vir hom soetkoekies en gemmerbier aangedra het voor

menige rillervraestel …

Is dit dalk hierdie verwronge behoefte aan persoonlike spasie wat hom

’n swak kandidaat vir verhoudings maak, wonder Derek. Of is hy maar

die handboekresultaat van ’n gebroke huis: ’n siniese workaholic wat

te bang is om van homself te gee? Hy het nou nie juis rolmodelle gehad

wanneer dit by die huwelik kom nie, dis gewis! Tog het hy nog altyd

gevoel dat hy ’n toegewyde ouer sou wees, ten spyte – of dalk juis as

gevolg van – sy pa se onbetrokkenheid. Hy’s gemaklik met kinders,

kan nie genoeg kry van die lewe wat by hulle uitborrel nie. Dis sy een

groot berou: sy kinderloosheid. Natuurlik help sy werk om die leemte

te vul, maar dit sal nooit die verlange heeltemal wegneem nie. Ag,

miskien is hy onnodig swartgallig, berispe hy hom terwyl hy sy beker

koffie leegdrink.Veertig is darem nog nie só oud nie!

’n Pienk skopfietsie in die tuintjie langsaan vang sy oog. Melissa s’n,

dink hy wrang, die herinnering aan vanoggend se konfrontasie met

Mila nog onaangenaam vars in sy geheue. Hy weet nie hoekom die hele

besigheid hom so ontstel het nie; sy nuwe buurvrou het duidelik met

die verkeerde voet uit die bed opgestaan. Hy glimlag toe hy onthou dat

sy eintlik glad nie die oggend opgestaan het nie, maar heelnag by die

hospitaal was. Heleen, Melissa se ouma, het hom trots vertel dat haar

dogter ’n vroedvrou in privaat praktyk is. Sy’t hom ook vertel dat Mila

’n toegewyde enkelma is, maar dat die onvoorspelbaarheid van haar

werk die lewe vir haar en haar dogtertjie nogal moeilik maak.

“Kan sy nie maar eerder vaste ure in ’n kraamsaal werk nie?” het

Derek hardop gewonder.“Of sal haar inkomste te veel daal?”

Die ouer vrou het haar kop geskud en vertroulik vooroor geleun.

“Wat jy moet verstaan van Mila,” het sy verduidelik, “is dat haar werk

nie vir haar bloot ’n bron van inkomste is nie. Nou goed, sy verdien

amper dubbel die salaris van ’n gewone saalsuster, maar dis glad nie

haar oorweging nie. Sy is versot op wat sy doen. Haar werk is vir haar

’n roeping. Daardie Aktiewe Geboorte-eenheid is soos nog ’n kind van

haar, dis haar trots. Sy’t elke kussingsloop en elke kershouertjie met

oneindige liefde en sorg uitgesoek. Alles moet bydra tot ’n warm en

huislike atmosfeer vir mammas.”

Toe Derek begrypend knik, het Heleen voortgegaan. “Ek glo nie sy sal

ooit teruggaan na ’n gewone kraamsaal nie. Sy’s te onafhanklik. Van

kleins af wou sy haar eie kop volg. En om in ’n kraamsaal net die

dokters se bevele tot in die fynste besonderhede uit te voer … nee wat,

dit sal glad nie deug nie. Hoeveel keer het sy nie al vir my gesê dat sy

die saalsusters jammer kry nie. Al is hulle professionele kundiges, mag

hulle mos geen onafhanklike besluite neem nie. Elke keer as ’n pasiënt

sooibrand het, moet hulle eers die ginekoloog bel en toestemming vra

om ’n lekseltjie Gaviscon te gee!”

Derek moes lag vir die ouer vrou se komieklike gesigsuitdrukking.

Sy’t hartlik saamgelag, toe ernstiger voortgegaan.

“Ek wens Mila wou die regte man ontmoet. Iemand wat vir Melissa ’n

pa kan wees. Die kind is nog klein en sal vir ’n nuwe pappa kan lief

word, maar oor ’n paar jaar gaan dit nie so maklik wees nie. Ek

bekommer my oor die tweetjies. Ek is seker Mila moet ook hunker na

iemand spesiaals – sy het soveel liefde om te gee. Maar sy het nou

eenmaal besluit dat sy nie weer ’n kans op geluk sal kry nie.”

“Hoe dan so?” het Derek onwillekeurig gevra.

“Stefan se ontrouheid het haar verpletter. Om die een of ander

onverstaanbare rede voel sy dat sy daarvoor verantwoordelik was. Dat

die skurk nie groener weivelde sou gaan soek het as sy vir hom ’n beter

vrou was nie, as sy meer dikwels tuis was en huisvrou gespeel het. Sy’t

seergekry en nou glo sy dat geen regdenkende man ’n vrou met ’n

veeleisende praktyk – en ’n ander man se kind op die koop toe – sal

wil hê nie.”

“Hmmm,” het Derek gepeins. “Meeste vroue vandag het tog hul eie

beroepe? Waarom glo sy dan dat hare nie versoenbaar is met ’n

gesinslewe nie?”

“Soos Mila dit stel,” het Heleen gelag, “babas word gebore wanneer

hulle gemaak is: snags, oor naweke en op vakansiedae! Mila kan nooit

regtig iets beplan nie. Haar hele lewe moet op ys gesit word die

oomblik dat ’n pasiënt in kraam gaan.”

Derek het simpatiek geglimlag.

“Jou dogter is heeltemal reg, Heleen. Babas kom nie in kantoorure nie!

Ek’t voorwaar begrip vir die chaos wat so ’n onvoorspelbare bestaan in

verhoudings kan saai. Dis met my werk ook so en mens raak dit nooit

heeltemal gewoond nie. Dit bly ’n bron van frustrasie.”

Derek word uit sy koffiedrink-mymering geruk toe die wind ’n

sitkamervenster toeklap. Lyk of hier ’n storm aankom, dink hy toe hy

die kombuisvenster ook op knip trek. Swaar wolke kom uit die

suidweste aangerol. Sy aandag word getrek deur die wapperende

wasgoed in sy buurvrou se tuintjie. Hy weet sy is nie daar nie, hy het

haar en Melissa vroeër hoor ry. Gretig om die vrede met sy vurige

buurvrou te herstel, stap Derek met sy wasgoedmandjie buitentoe

voordat die eerste vet druppels aarde toe plof.

Mila moet teenoor haarself erken dat die voorgeboorteklas nou ’n

hoogtepunt in haar week is. Die eerste paar kere dat sy moes klas gee,

was haar senuwees aan flarde. Dit was ’n marteling om voor ’n klomp

wildvreemdes te praat – en dan nog oor sensitiewe onderwerpe soos

seks, swangerskap en geboorte! Tot haar verbasing het sy nie net

spoedig gewoond geraak aan hierdie deel van haar werk nie, maar

geniet sy dit nou terdeë. Dis uiters vervullend om ’n gehoor vol

verwagtende paartjies te hê wat aan haar lippe hang en elke brokkie

inligting wat sy opdis, toegewyd in hul notaboekies neerskryf.

Vanaand is die vyfde klas in die reeks: die lesing oor borsvoeding. Dis

Mila se gunstelingonderwerp, naas die praktiese sessie oor natuurlike

geboorte. Omdat sy versigtig moet wees om die ouers tydens hierdie

klas nie onder die inligting te begrawe nie, skop Mila altyd met ’n

ysbreker af. Elke paartjie moet ’n voorwerp uit ’n mandjie haal en dan

raai watter voordeel van borsvoeding hul voorwerp simboliseer. ’n

Monopoly-noot simboliseer byvoorbeeld die geld wat borsvoeding

spaar, en ’n pakkie snesies die beskerming wat dit teen allergieë bied.

Die groepe geniet hierdie aktiwiteit altyd. Teen hierdie tyd ken almal

mekaar en heers daar ’n gemoedelike luim.

Dis so ’n prettige klas dat die tyd vlieg. Almal skater toe Mila die

storie vertel van die eerste keer wat sy met haar nuwe baba gaan

inkopies doen het: “Soos elke nuwe mamma was ek doodbang dat my

borste in die openbaar sou lek. Net om dubbel seker te maak, het ek

sommer twee borsdoekies aan elke kant ingestop. Dit het gevoel of my

ergste nagmerrie waar word toe ’n ou tannie in die supermark na my

toe kom en sê: ‘Verskoon my, maar jou melk lek.’ Ek het gewens die

aarde sluk my in toe ek sien dat daar sommer so ’n streep melk op die

vloer lê.”

Simpatieke en geskokte uitroepe klink uit die gehoor voor Mila op. ’n

Paar vroue snak na hul asems. Sy bly ’n oomblik stil vir dramatiese

effek.

“Natuurlik het my hande onwillekeurig na my borste gevlieg. Die ou

tannie het my vreemd aangekyk. Toe het sy my ma met die baba gesien

en twee en twee bymekaargesit. ‘Nie daardie melk nie, skat,’ het sy

gesê, ‘die tweeliter in jou trollie!’”

Toe Mila vir die groep ’n kort DVD wys, besef sy dat dit buite begin

reën het. Sy weet ’n mens behoort dankbaar te wees oor reën, en sy ís

bly oor die lafenis, maar sy haat dit om snags in nat weer rond te ry.

Wilgeklowers is nie gewoond daaraan om op gladde paaie te bestuur

nie en ry dikwels heeltemal te vinnig. Erger nog: Al haar en Melissa se

wasgoed hang buite op die draad!

Halftien hardloop ’n kletsnat Mila die trappies voor haar meenthuis op.

Natuurlik was haar sambreel nie op sy gewone plek in die motor nie,

daarvoor het Melissatjie gesorg! Sy het dit seker weer vir die een of

ander speletjie “nodig gehad”, die stouterd! Skuldig en halfverlangend

wonder Mila of haar dogtertjie al slaap. Woensdagaande het hulle ’n

vaste reëling dat Melissa by haar ouma oorslaap omdat Mila se klas so

laat eers klaarmaak. Tydens geboortes kom pas Heleen die kleintjie

sommer by Mila se huis op, veral as Melissa reeds slaap wanneer Mila

uitgeroep word. Hoewel Mila haar woelwater vanaand mis, is dit tog

lekker om ’n bietjie op haar eie asem te skep. Sy het voorwaar ’n

uitputtende vier-en-twintig uur agter die rug, en sien uit na ’n bad en ’n

gesteelde tydjie met haar storieboek voor slaaptyd.

Gelukkig het Mila nog nie haar nat klere begin afskil toe Derek die

tweede keer daardie dag haar voordeurklokkie lui nie. Hierdie keer

wéét sy sommer wie op so ’n ongoddelike uur by haar kom aanklop.

Sy kan nie gló die man kan die saak nie net uitlos nie! Vat hy dan nie

nee vir ’n antwoord nie? Nog voordat sy kan oopmaak, is Mila klaar

die hoenders in.

Daar is egter geen teken van die lastige man toe die deur oopswaai

nie.Trouens, daar is geen teken van enigiemand nie. Onder die

afdakkie voor haar deur staan ’n wasgoedmandjie met haar en Melissa

se klere: kurkdroog en netjies opgevou! Sprakeloos skud sy haar kop.

Vir wat moes Derek die goed nou gaan staan en afhaal het? Dit sou

beslis nie die eerste keer wees dat die spulletjie natreën nie. Sy wil

wragtig nie in die skuld by hom wees nie, veral nie ná hul

woordewisseling nie. Sy bloos effens toe sy besef dat hy haar fyn

ondergoedjies met daardie vat-aan-my hande van hom opgevou het.

Suur raap sy die mandjie op en storm binnetoe. Sy voel deurmekaar,

skuldig en skaamkwaad. Natuurlik besef sy dat sy vanoggend sy

vriendelike aanbod heeltemal uit verband uit geruk het. En om hom

van pedofilie te beskuldig was werklikwaar gemeen. Maar deksels, sy

verpes sulke aantreklike mans wat haar in ’n stamelende skaap

verander! Sulke mans … soos Stefan. En Derek hét geïnsinueer dat

haar kind ongelukkig is, iets wat géén ma graag wil hoor nie, veral nie

uit die mond van ’n bemoeisieke vreemdeling nie. Al is die kuiltjie in

daardie vreemdeling se ken ook hoe bekoorlik … Nou moet die

vervlakste man haar wraggies nog meer soos ’n feeks laat voel met sy

vredeoffer. Sy het hom nie opgesom as iemand wat graag die minste is

nie. Buitendien, watter uitgegroeide man is so kinderagtig om

toktokkie te speel soos ’n skoolkind! Pleks hy die mandjie self vir haar

kom gee het. Dan kon sy ten minste sien of sy haar vanoggend verbeel

het en of hy regtig so asemrowend is …

Vererg klik Mila haar tong vir haar eie stuitigheid. Sy keer die skoon

wasgoed driftig op die eetkamertafel uit. Heel laaste val twee

sjokolades en ’n nota in netjiese lopende skrif uit.

Mila

Die Sweetie Pie is vir Melissa en die Bar-One vir jou. Hoop jou “25-

hour day” eindig rustiger as wat dit begin het! Jammer dat ons

buurmanskap op ’n verkeerde noot afgeskop het. Kan ons voor

begin?

Soet drome

Derek

3

Hoewel Woensdagaand se reënbui die wêreld afgekoel het, is die

verligting van korte duur. Donderdagoggend breek die dag helder oor

Wilgekloof en is die versengende vroegsomer met mening terug. Ten

spyte van die hitte hou Mila haar voordeur styf toe om ’n ontmoeting

met haar buurman te vermy. Tot haar verligting kry sy maar min van

hom te siene, al gun sy haarself so nou en dan ’n skelm kykie deur

haar kamervenster wanneer sy die voordeur langsaan hoor oopgaan. Sy

wasgoedmandjie sit sy Donderdagoggend op sy voorstoep terug, eers

toe sy doodseker is dat hy reeds gery het. Binne-in is ’n roomysbak vol

anysbeskuit. Nie dat so ’n arrogante man sulke smullekker tuisgebakte

beskuit verdien nie, brom sy onderlangs toe sy haar voordeur agter

haar toetrek. Bloot net omdat haar ma haar geleer het dat ’n goeie

buurvrou nooit ’n houer leeg terugstuur nie …

Natuurlik kan Mila se geluk nie vir ewig hou nie.Vrydagmiddag loop

sy en Melissa Derek op die trappies raak. Hy is klaarblyklik op pad

terug van die kompleks se swembad af. Die krul in sy nat hare is meer

gedefinieer as gewoonlik en ’n handdoek is argeloos om sy breë

skouers gedrapeer. Spytig merk Mila op dat sy gespierde boarms en

bruingebrande bolyf net so verdomp perfek soos die res van hom is.

Sy beantwoord sy vriendelike groet koel en kalm, maar tot haar

ergernis is Melissa skoon uit haar vel van vreugde om Derek te sien. Sy

omhels hom soos ’n langverlore vriend en plak selfs ’n klapsoen op sy

wang.

“Oe, oom Derek,” giggel sy, “jou baard kielie!”

Derek vryf die dogtertjie se hare deurmekaar en loer onderlangs half

ongemaklik na Mila. Duidelik is hy bekommerd oor haar reaksie op

Melissa se kinderlik-liefdevolle begroeting, en Mila voel van voor af

soos ’n simpel heks.

“Het jy geswem, oom Derek?” vra Melissa.

“Ek het, meisiekind. Kan jy al swem?”

“Jaaa, tannie Lizette van die swemlesse het my geleer! Sy laat ons ’n

sterretjie in die water maak én soos ’n padda skop.”

“Dis slim van jou!” prys Derek goedkeurend. Hy kyk na Mila. “As

meer ouers so proaktief soos jy is, sal daar nie soveel onnodige

tragedies in swembaddens afspeel nie.”

“Vir seker,” stem Mila saam.“Tussen swemlesse en karstoeltjies kan

soveel lewetjies gered word.”

“Wanneer kan ek en Ouma weer vir jou kom kuier?” vra Melissa

pront, ongeduldig met die grootmense se katvoetpraatjies.

“Melissa,” keer Mila. “Die oom is besig. Hy het nie tyd om met

dogtertjies te kuier nie.” Verleë kyk sy op, reguit in die blou kykers

vas.

“Dit kan sekerlik nie skade doen as sy sáám met jou ma vir my kom

kuier nie, Mila?” waag Derek versigtig.

Mila sluk. Sy kan aan geen manier dink om met haar waardigheid

intak uit hierdie situasie te ontsnap nie. Stem sy in tot ’n oor-en-weer-

gekuiery, erken sy dat Derek reg en sy verkeerd was, erken sy dat haar

kind behoefte aan ’n manlike rolmodel het …Tog is dit duidelik dat

Melissa versot op die man is, heeltemal betower deur sy sjarme. Soos

dosyne ander vroue seker al deur hom betower is, dink Mila sinies.

Dis Melissa se pleitende ogies wat Mila se hart laat verkrummel.

“Nou goed dan. Jy en Ouma kan partykeer vir die oom gaan kuier.”

Melissa begin op en af bons.

“Maar nét,” waarsku Mila, “as julle net gaan wanneer julle genooi is,

en dat julle dan nie te lank kuier nie. Ek wil nie hê julle moet ’n oorlas

word nie!”

“Ouma is nóóit lastig nie, Mamma,” verklaar Melissa plegtig.

Albei grootmense bars uit van die lag. Derek het so ’n wonderlike lag

dat Mila wens sy kan dit in ’n fles vang. Nie net die klank nie – hoewel

dit al lieflik genoeg is – maar ook die kraaispoortjies wat so bekoorlik

om sy oë plooi. Hierdie lag wil Mila in ’n bottel bêre en dit op

mistroostige dae uithaal om haar op te beur … Dalk kan sy dit selfs

patenteer en aan romantiese vrouesiele verkoop. Met die wins sal sy

sommer nog twéé geboorte-eenhede kan bou – en entoesiastiese

vroedvroue aanstel om daar te werk …

Met intense belangstelling hou Derek Mila dop terwyl hierdie

fantasieë deur haar kop flits. ’n Dromerige glimlag speel om haar lippe

en verhelder haar delikate gelaatstrekke. Haar oë is sag en blink, diep

bruin poele in haar fyn gesiggie. Die vingers van haar regterhand speel

ingedagte met haar swart hare, steek dit kort-kort onbewustelik agter

haar oor in. Sy dra haar hare in ’n korterige bob wat haar uitstekend

pas. Dit lei die oog verleidelik langs haar slanke nek af tot by die

kuiltjie bo haar borsbeen. Onwillekeurig wonder Derek hoe dit sou voel

om daardie kuiltjie met sy vingers na te trek, om sy hand effens laer te

laat gly …

Net asof sy hom uitgevang het, is Mila eensklaps weer die ene erns. Sy

vat Melissa se handjie ferm in hare en groet Derek byna kortaf. Hy voel

so half afgejak toe sy haastig by die trappies afstap met klein Melissa

wat sleepvoet agterna draal. ’n Onverklaarbare heimwee skop nes in sy

borskas toe hy die pragtige donkerkop agterna kyk. Hy wens hy kon

verstaan waarom sy soveel gemengde gevoelens in hom wakker maak.

Hy wens hy kon sy vinger sit op presies wát dit is wat hy vir haar voel,

hierdie begeerlike wese wat hy skaars ken, maar wat hom van hul

eerste ontmoeting af snags laat rondrol …

Vrydagnag skuins ná twee skrik Mila wakker. Sy is papnat gesweet,

maar haar tande klap op mekaar van kouekoors. Haar bene pyn tot in

die murg en haar kop voel asof dit gaan bars. Maar die ergste is haar

keel: Dit brand só dat sy skaars kan sluk. Sy staan op en trek eers

skoon pajamas aan. Die rooi satynjakkie wat sy aangehad het, is

deurdrenk van die sweet. Sy strompel kaalvoet na die medisynekabinet.

Sy is nie een wat sommer ’n pilletjie sluk vir enige skeet nie, maar

vannag voel sy darem net te vrot. Sy drink twee pynpille en stop ’n

suigtablet in haar kies om die vuur in haar keel te probeer blus. Dan

kruip sy weer in die bed, waar sy onrustig halfsluimer totdat Melissa

Saterdagoggend by haar in die bed klouter.

Die hele Saterdag voel Mila ellendig. Sy kan nie onthou wanneer griep

haar laas so platgetrek het nie. Sy hoop en bid net dat nie een van haar

swanger pasiënte besluit om vandag te kraam nie. Sy’t skaars die krag

om vir Melissa haar graanvlokkies te gee, daar is nie ’n manier dat sy

sal kan werk nie. Daar is wel ’n ander vroedvrou wat vir Mila kan

instaan in ’n noodgeval, maar dit is vir haar ondenkbaar om een van

die ma’s met wie sy reeds ’n pad geloop het, in die steek te laat

wanneer dié haar die nodigste het.

Gelukkig is Melissa nie veeleisend nie, so Mila kan heeldag so in en

uit die slaap lê en drywe. Dit is vir die vierjarige ’n heerlike vergunning

om die een DVD ná die ander te mag kyk. Gewoonlik is dit nie iets wat

haar ma toelaat nie. Sy kom maak Mila dus net wakker wanneer sy

honger of dors is, of wanneer haar DVD omgeruil moet word. Elke

keer wanneer Mila haar siek lyf uit die slaapkamer moet sleep, verwens

sy die feit dat kinderflieks so kort is, maar sy is dankbaar dat sy

Melissa darem nie hoef te vermaak nie. Sy oorweeg dit om haar ma te

bel om die kleintjie te kom haal, maar besluit daarteen. Sy moet so

dikwels vir nagtelike geboortes op Heleen se knoppie druk dat sy haar

nie vandag ook nog wil verontrief nie.

Laatmiddag begin die hoesery. Mila drink hoesstroop en skakel

Melissa se ou babakamerstomer in haar slaapkamer aan, maar niks

help nie. Haar hele bors trek inmekaar van pyn met elke hoes en dit

voel of haar kop aan ’n duisend skerwe gaan spat.

Gelukkig het sy bevrore macaroni-en-kaas wat sy net vir Melissa in

die mikrogolf kan warm maak. Sy self dink nie eens aan kos nie,

daarvoor voel sy te goor. Dit verg al haar wilskrag om vir Melissa

badwater te tap en haar aandroetine te begin. Haar siek lyf soebat

pateties dat Melissa nie vuil is nie, dat sy maar net hierdie één aand

kan bed toe gaan sonder om te bad. Maar Mila se gesonde verstand

wen die argument. Sy weet uit ervaring dat haar dogtertjie lekkerder

slaap ná ’n bad. Met ’n kloppende hoofpyn buk Mila langs die

dogtertjielyfie. Sy smeer seep aan haar Little Mermaid-waslap en begin

haar met ritmiese hale was. Melissa gesels eenstryk deur: oor haar

nuwe maatjie by die kleuterskool, oor alles wat sy vir Kersfees wil hê,

oor hoe sy oom Derek gaan vra om haar te neem om te swem … Mila

luister skaars. Haar kop voel so swaar dat sy wonder hoe haar nek

daarin slaag om dit regop te hou. As sy nou net vir Melissatjie in die

bed kan kry, kan sy self ook gaan inkruip.

“Mamma kan regtig nie vanaand vir jou lees nie, skapie,” protesteer

Mila toe Melissa oudergewoonte ’n storieboek uit haar pienk boekrak

kies.

“Ag asseblief, Mamma? Pleeeeease?”

“Mamma se keel is te seer, Lissatjie.”

Maar Melissa laat haar nie so maklik van stryk bring nie. Sy hoef net

’n oomblik te dink aan ’n plan.

“Mamma kan sággies lees. Mamma kan fluister. Dit sal nie Mamma se

keel seermaak nie.”

Mila gee die stryd met ’n sug gewonne. Sy’t nie die energie om met

hierdie hardkoppige meisiekind te stry nie; dis makliker om maar net te

lees en klaar te kry.

“Popsie, dit beter ’n kort boekie wees.”

Na uitgebreide onderhandelinge bereik hulle konsensus oor wat nou

eintlik ’n kort boekie is. Hulle besluit op een van die stories oor Otto

die hondjie. Melissa is seker al te groot vir sulke lig-en-loer-boeke,

maar elke nou en dan is dit vir haar lekker om haar vroeëre gunstelinge

weer te hoor. Ten minste is daar net een reël per bladsy, troos Mila

haarself, en Melissa ken amper al die woorde uit haar kop uit.

Nietemin veroorsaak die lesery nog ’n genadelose hoesbui. Mila voel

asof haar hele lugweg met skuurpapier uitgevoer is.Toe Melissa se

ogies uiteindelik toeval, gaan klim sy self in ’n warm bad. Miskien sal

die stoom haar geïrriteerde longe streel.

Teen middernag rol Mila nog rond. Maak nie saak hóé sy lê nie, op

haar sy, op haar maag, regop gestut teen ’n hoop kussings, die

ellendige hoes hou haar wakker. Sy probeer dit demp met ’n kussing

voor haar mond, doodbang om Melissa te steur. Die laaste ding

waarvoor sy nou kans sien, is ’n iesegrimmige kleuter wat nie weer aan

die slaap kan raak nie.

Mila probeer lees, maar skuif die boek gou eenkant. Haar kop voel te

dik om te konsentreer. Sy sluk ’n paar keer hoesgoed, sommer direk uit

die bottel. Maar sonder enige verligting, en haar ribbes is al so seer

gehoes.

Moedeloos met haar eie slapeloosheid en geblaf gaan sitlê Mila

eindelik op die rusbank voor die televisie. Sy’s net besig om lusteloos

deur die kanale te snuffel toe daar ’n baie sagte klop aan die voordeur

is. Mila wip van die skrik. Sy spring op en trek haar sagte japon stywer

om haar skouers. Behoedsaam loop sy voordeur toe en kyk deur die

loergaatjie.

Al wéér die lastige hunk van langsaan! Sou hy dalk kom kla oor haar

televisie hierdie tyd van die nag aan is? Sekerlik nie, die klank is skaars

hoorbaar. Dis natuurlik haar hoesery wat hom uit die slaap hou. Maar

wat is sy miskien veronderstel om daaraan te doen? Dis nie asof sy

daarvan hóú om so te hoes nie!

“Naand, Derek,” groet sy koel.

Selfs in die sagte lig in die deuropening kan sy sien dat die

tergduiweltjies in sy blou kykers nog nie slaap nie.

“Eintlik is dit al môre, Mila,” help hy haar galant reg. “Môre dan. En

waarmee kan ek jou vanmôre help?” Mila kan nie help om van voor af

te besef hoe onweerstaanbaar sy glimlag is nie.

“Vanmôre is dit ek wat jou kom help, Mila. Ek hoor jy’t ’n nare hoes.”

“Ja, ek het griep. Jammer dat ek jou met my gehoes steur, maar daar’s

nie veel wat ek daaraan kan doen nie,” maak Mila stywerig verskoning.

Sy waag dit om weer direk in sy oë te kyk en die deernisvolle

uitdrukking daarin ontwapen haar heeltemal.

“Natuurlik is daar niks wat jy daaromtrent kan doen nie,” verseker

Derek haar.“Maar ek het iets wat dalk kan help.”

“Ek hét al hoesstroop gedrink,” keer Mila. “Meer as die aanbevole

dosis! Dit het hoegenaamd geen verskil gemaak nie.”

“Dis nie nog hoesstroop nie. Dis ’n wonderlike brousel wat my ma

altyd gemaak het. Ek dink jy gaan aangenaam verras wees!”

Nou eers merk Mila op dat Derek ’n beker vashou. Dit lyk omtrent

kwartvol met ’n amberkleurige vloeistof.

“Lyk interessant.Wat is dit?”

“’n Boereraat,” antwoord hy. Hy steek sy hand uit en sit dit op Mila se

skouer. Sy kyk half verbaas af daarna. Dit voel asof sy tere aanraking

’n gat dwarsdeur die materiaal van haar japon brand.

“Dis koud buite, Mila,” merk hy besorg op. “Jy moenie so in die

buitelug staan nie. Maak toe die deur, dan vertel ek jou gou van die

moetie.”

Mila tree woordeloos terug sodat hy kan binnekom. Hy volg haar na

die gesellige kombuisie.

“Kersiehout?” vra hy en beduie na die kombuiskaste.

“Jip,” bevestig Mila met ’n tikkie trots. Dan verwens sy haarself dat sy

die aantreklike blikskottel nie liewer sitkamer toe geneem het nie. Haar

kombuisie is so klein dat hulle amper bo-op mekaar staan. Sy’s bang

hy hoor hoe haar hart soos ’n wegholperd galop. Natuurlik die kafeïen

in die hoesmengsel wat haar hartkloppings gee, besluit sy.

Derek hou die beker na haar toe uit. Sy loer skepties daarna en hy lag.

“Mens sou sweer jy’s bang ek gaan jou vergiftig, Mila,” terg hy.

“Wie sê jy wil nie dalk nie? Dit moet vrek irriterend wees om heelnag

wakker te lê van jou buurvrou se gehoes.”

“Ek sou aangebied het om ’n slukkie daarvan te neem om jou gerus te

stel, maar ongelukkig smaak dit so sleg dat ek dit net in noodgevalle

drink.”

Die tergende glimlag speel steeds om sy mondhoeke. Mila wonder of

sy al ooit sulke sensuele lippe gesien het. Sy bolip is byna net so vol

soos sy onderlip, ’n perfek gevormde kupidoboog. Mila voel vreemd

lus om die kontoere met haar vingerpunte na te trek. Sy wonder hoe dit

sou voel om die kontras tussen sy blink swart hare en sy growwe

stoppelbaard met haar hande te verken …

“Is jy dapper genoeg om dit te drink?” vra Derek met ’n uitdrukking

wat Mila laat voel asof hy elke verbode gedagte kon lees.

“Sê eers wat daarin is.”

“Heuning, suurlemoensap, gemmer en ’n vrygewige skeut brandewyn.

O, en my geheime bestanddeel! ’n Verbetering op my ma se resep. As

jy mooi vra, sal ek dalk die geheim met jou deel.”

“Kom ons kyk of ek kan proe wat dit is,” glimlag Mila.

“Aa, ’n bok vir sports! Ek moet jou net waarsku dat dit skop het.”

“Meer skop as die brandewyn?”

Hy lag. “Kom ons noem dit ’n ander soort skop.”

Mila trek haar asem diep in en neem ’n versigtige teugie van die

vloeistof. Derek se oë verlaat haar gesig nie ’n oomblik nie.

“Sjoe, dit brand!” protesteer sy ná die eerste slukkie. “Ek voel of ek

vuur sal kan blaas! Is jou geheime bestanddeel dalk Tabasco?”

“Ek’s beïndruk,” glimlag Derek, maar keer met sy hand toe hy Mila se

triomfantelike gesigsuitdrukking sien. “Amper maar nog nie stamper

nie, Mila! Wil jy nog ’n raaiskoot hê?”

“Ag, sê my maar, toe,” vra Mila.

“Doodseker jy wil nie weer probeer nie?”

“Doodseker!” Mila sluk vinnig, dapper, die res van die drankie weg.

Die suurlemoensap laat haar kiewe saamtrek en die kombinasie van die

brandewyn en Derek se geheime bestanddeel brand soos vloeibare

vlamme.

“Rooipeper. As jy mooi kyk, sal jy die rooi spikkeltjies sien.”

Mila trek haar oë op skrefies. Sowaar, onderin die beker is piepklein

deeltjies peper in die effense heuningdroesem vasgevang. Sy weet nie

of sy haar verbeel nie, maar dit voel sowaar asof haar keel reeds

minder rou en krapperig is. Derek hou haar takserend dop.

“Klaar beter, nè?” vra hy tevrede.

“Nog te vroeg om te sê,” stry Mila. “Ek sal jou later laat weet.”

“En ek sal môre vir jou nog ’n beker vol bring. Ek waarborg jou keel

en bors sal teen Maandag stukke beter wees.”

“Dankie, Derek, dis nie nodig nie. Ek het al die bestanddele, ek sal die

moetie sommer self aanmaak.”

Verbeel sy haar of lyk hy teleurgesteld? “As jy dit so verkies, Mila.”

“Is daar enige spesifieke verhouding waarin ek dit moet maak?”

“Nee wat. Ek gooi sommer so ’n bietjie van alles bymekaar, meng dit

goed en sprinkel dan so ’n titseltjie rooipeper by. Jy moet dit vinnig

drink, anders gaan lê al die heuning onderin die koppie.”

“Ek maak so. Nogmaals dankie. Hoop jy kry nou geslaap,” sê sy,

skielik skaam. Sy gaan maak die voordeur vir hom oop.

“O, maar dit was my plesier. Beter word, hoor!”

Dit gebeur so vinnig dat Mila ná die tyd wonder of sy gedroom het. In

die verbystap huiwer Derek ’n oomblik voor haar. Hy skulp albei

hande om haar gesig en plant die sagste, teerste soen op haar voorkop.

Voordat sy tot verhaal kan kom, is hy reeds by die deur uit. Mila hoor

hoe sy voordeurslot toeklik in die nagstilte. Soos in ’n droom sweef sy

slaapkamer toe. Sy gaan lê op die koel bed en raak versigtig aan haar

voorkop. Die plekkie waar Derek se lippe haar vel geraak het, brand

warmer as sy verkouedoepa. Sy lê lank so in die donker voordat ’n

salige slaap haar oorval. Toe die sonlig agter haar wit gordyne haar

wek, besef sy dat sy nie ’n enkele keer deur die nag gehoes het nie.

4

Teen Maandagmôre voel Mila piekfyn, nes Derek belowe het. Sy neem

Melissa kleuterskool toe en bring die res van die oggend tuis deur.

Maandae maak sy geen afsprake by die kliniek nie. Tensy ’n pasiënt in

kraam is, doen sy administratiewe werk op haar skootrekenaar. Toe

Mila haar Aktiewe Geboorte-eenheid geopen het, het sy besluit om by

’n gevestigde kraamhospitaal aan te sluit. Sy was nog nooit spyt

daaroor nie. Dis vir haar en haar pasiënte gerusstellend dat die

operasieteaters en die neonatale intensiewesorg-eenheid op dieselfde

perseel is. Só kry vroue werklik die beste van beide wêrelde. Hulle kan

hul babas verwelkom in ’n knus kraamkamer wat soos ’n luukse

gastehuis eerder as ’n hospitaal lyk, met die beste mediese sorg wat

geld kan koop in die gebou reg langsaan.

Tog het haar verbintenis met die hospitaal ook nadele. Mila moet haar

streng by die hospitaal se regulasies hou – onbuigsame bepalings wat

skrei teen die informele benadering wat sy doelbewus in haar eenheid

volg. Boonop gooi die kraamhospitaal haar toe onder papierwerk.

Natuurlik verstaan Mila dat sy gedetailleerde rekords van elke pasiënt

moet hou. Die wet vereis dat sy dit by tuisgeboortes ook doen. Maar

wat haar lam maak, is al die ander papierwerk wat die hospitaal vereis:

vorms vir linne, inventarisse van elke wattebolletjie en spuitnaald,

opname-en ontslagvorms …

Dis met hierdie lastige papierwerk wat Mila besig is toe haar selfoon

om elfuur skril. Soos gewoonlik wip sy soos sy skrik. Lise-Marie

karring gedurig aan haar om ontslae te raak van dié luitoon.

Aanvanklik klink dit soos ’n blikkerige baba wat mistroostig huil, dan

verander die gehuil geleidelik in ’n elektroniese wysie.

“Ag nee, Mila, man, kry vir jou ’n rustige ringtone! Ek skrik my elke

keer vrek as daai baby begin skreeu. Ek’s seker dit irriteer die pasiënte

ook.” Maar Mila het voet by stuk gehou: Dis die perfekte luitoon vir ’n

vroedvrou en dit gaan so bly. Elke keer as die foon haar so laat skrik,

wonder sy egter of sy nie maar moet skiet gee nie.

“Sunet,” kondig die selfoon blikkerig aan. Mila is nie mal oor die foon

se manier om die oproep-identiteit uit te basuin nie, maar dis nuttig

wanneer sy bestuur. Dit help haar besluit of sy in die ry moet antwoord

en of sy later kan terugbel – afhangend van hoe naby die beller aan

haar verwagte kraamdatum is!

Sunet Malan se datum is naby. Mila is bekommerd oor haar: nie oor

haar – of haar baba – se gesondheid nie, maar eerder oor haar

geestestoestand. Sunet ly aan bipolêre versteuring en moes regdeur

haar swangerskap op psigiatriese medikasie bly. Sy’s die afgelope paar

jaar herhaaldelik gehospitaliseer vir maniese episodes. Boonop is sy ’n

VBACkandidaat: ’n ma wat wil probeer om normaal te kraam ná ’n

vorige keisersnee. Sunet se eerste baba het, soos Melissa, enkele dae

voor haar datum stuit gedraai. Sunet was bitter teleurgesteld oor die

keiser, veral omdat sy ’n tuisbevalling met ’n vroedvrou beplan het.

Toe Sunet ’n paar weke vantevore by die Aktiewe Geboorte-eenheid

kom aanklop het, het Mila haar op een voorwaarde as pasiënt aanvaar:

Sy moes Lise-Marie as doula huur. Nie omdat dit ’n VBAC gaan wees

nie, maar weens Sunet se psigiatriese geskiedenis. Mila self is te besig

met geboortesake om Sunet die emosionele ondersteuning te gee wat sy

veral ná die geboorte gaan vereis. Iemand sal gereeld by haar moet

inloer om seker te maak dat sy emosioneel stabiel bly te midde van al

die hormonale skommelings van nuwe moederskap. Lise-Marie is die

ideale persoon hiervoor.

Ten spyte van hierdie voorsorgmaatreël voel Mila steeds kriewelrig oor

Sunet se geboorte. Sy kan nie haar vinger sit op die rede vir haar

kommer nie, sy’s net bewus van ’n vae onrus in haar binneste. Dis die

onrus wat sy al leer respekteer het as haar instink – haar gut feel.

“Hallo, Sunet, hoe gaan dit?” groet Mila terwyl sy regskuif vir ’n lang

gesprek. Sunet babbel soos ’n grammofoon en ’n vinnige

telefoongesprek met haar is ’n onmoontlikheid. Foeitog, dink Mila, dis

seker ook maar een van die simptome van haar siekte.

Toe sy eindelik aflui, suis Mila se ore behoorlik. Boonop moes sy

kophou vir al wat sy werd is – Sunet bons van die een onderwerp na

die volgende, nes ’n slingerapie van tak tot tak spring. Mila kon darem

uitmaak dat haar pasiënt heel waarskynlik in vroeë kraam is. Die

kontraksies kom so elke twintig minute en is nog nie intens nie. Haar

water het ook nog nie gebreek nie. Mila het dus aanbeveel dat Sunet vir

Lise-Marie laat weet en vir eers net rustig tuis bly. Met ’n ligte sug

skakel Mila haar rekenaar af. Lyk of dit later ’n lang nag gaan wees …

Derek Reynders haal ’n dokument uit sy aktetas en skuif dit oor die

lessenaar na Leon Swiegers, bestuurder van die Protea Moeder-en-

Kind Hospitaal. Dis Derek se eerste dag in sy nuwe pos as hoof van die

hospitaal se pediatriese afdeling. Hy is vol vertroue dat hierdie

dokument ’n uitstekende eerste indruk op die hospitaalbestuurder gaan

maak.

“Ek het die finansiële state wat u gestuur het, bestudeer en ’n

voorlopige sakeplan vir Protea opgestel. Soos ek reeds verduidelik het,

dink ek die beste sal wees om die kleiner, minder winsgewende

afdelings so gou moontlik te sluit. Ons kan die geld wat ons sodoende

spaar in ’n projek kanaliseer wat uniek aan die hospitaal is. Die projek

moet ’n diens lewer wat nêrens anders beskikbaar is nie, én dit moet

natuurlik winsgewend genoeg wees om ons beleggers tevrede te stel.”

Derek leun terug in sy stoel, sy oë op Leon Swiegers, wat sy sakeplan

belangstellend deurkyk. Ná sowat vyf minute lig Swiegers sy swart

borselkop en haal sy raamlose bril af.

“Lyk soos ’n knap stukkie werk, dokter Reynders. Al wat my

bekommer, is dat jy ’n bietjie te entoesiasties met die snoeiskêr te werk

gaan. Die afdelings wat jy hier teiken, breek immers almal gelyk.

Geeneen funksioneer teen ’n verlies nie. Ek moet jou waarsku dat jy

met hierdie sakeplan op heelparty tone gaan trap.”

Derek laat hom allermins van stryk bring deur die hospitaalbestuurder

se waarskuwings. Hy’s ’n man wat gewoond is daaraan om reg te

wees, en in hierdie geval wéét hy hy is reg.

“Ek was onder die indruk dat u my aanstel om die hospitaal uit sy

finansiële verknorsing te help kry, meneer Swiegers?”

“Inderdaad, dokter Reynders. Hoewel u kliniese ervaring as

pediatriese spesialis natuurlik vir ons van onskatbare waarde gaan

wees, hét ons u hoofsaaklik aangestel omdat u ook ’n MBA het. Die

kombinasie van geneeskunde en besigheidsbestuur is skaars, soos u

weet, en ons vertrou dat u vir die hospitaal goud werd gaan wees.”

“In daardie geval beveel ek ten sterkste aan dat u my voorstelle volg.

Ek was vir ’n oomblik bekommerd dat ek u verkeerd verstaan het en

eintlik hier is as bedryfsielkundige wat u hospitaalpersoneel gelukkig

moet hou.”

Leon Swiegers lag gemoedelik. Hy is beïndruk met die selfversekerde

manier waarop Derek Reynders leiding neem en hoe hy ’n potensiële

konfliksituasie so gemaklik met humor ontlont.

Ook Derek glimlag voordat hy voortgaan.“Maar aangesien ek my

misgis het, sal ek my liefs nie oor ’n toontrappery verknies nie en

eerder fokus op wat vir die hospitaal as geheel die beste is. Hierdie

afdelings is dalk nie in die rooi nie, maar enige belegger sien ’n

onderneming wat bloot gelyk breek as ’n meulsteen om die nek. Die

hulpbronne wat tans hierdie afdelings aan die gang hou, kan veel beter

aangewend word om nuwe mediese horisonne te verken.”

“Ek is nuuskierig om te hoor wat u voorstelle vir so ’n projek is,

dokter Reynders. U het sekerlik al iets in gedagte?”

“Inderdaad. Met die goedkeuring van die raad beoog ek om ’n

pediatriese trauma-eenheid hier by Protea te open. Te veel kinders sterf

onnodig omdat hulle in ’n noodgeval nie dadelik deur ’n pediater

behandel word nie. Algemene praktisyns het eenvoudig nie die

gespesialiseerde kennis wat nodig is om ernstige pediatriese traumas te

behandel nie. Dis nie goed genoeg om ’n pediater op roep te hê nie;

enkele minute kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”

Derek se entoesiasme is aansteeklik. Leon Swiegers leun

geïnteresseerd vorentoe om die dokument waarop die jonger man met

sy vingers tik, beter te kan sien. Derek gee die lêer vir sy nuwe

werkgewer aan sonder om sy geesdriftige verduideliking te onderbreek.

“Die trauma-eenheid wat ek beplan, sal vanaf opname vir

kinderpasiënte ’n kontinuum van gespesialiseerde sorg bied. Ons eerste

punt van kontak met die pasiënt is by die ongelukstoneel self. Die

hospitaal moet ’n ambulans-en helikopterdiens bedryf wat deur

pediatriese paramedici beman word. Aan hierdie kant sal dokters en

verpleegsters – almal spesialiste in pediatrie – reg staan met die nuutste

en beste mediese toerusting. Vanselfsprekend sal die eenheid die land

se top pediatriese chirurge sowel as puik pediatriese intensiewesorg

insluit. Ek voorsien dat noodgevalle vanuit die hele streek per

helikopter hierheen sal kom, en dat hospitale in ander provinsies ons

uiteindelik sal konsulteer in die proses om soortgelyke eenhede daar op

die been te bring.”

Leon Swiegers glimlag breed. Hy staan op en steek sy hand hartlik na

Derek uit. Onverbloemde goedkeuring en bewondering staan oor sy

hele gesig geskrywe.

“Dít, dokter Reynders, is die beste voorstel wat ek in jare gehoor het!

U

visie

en

briljante

vooruitsigte

vir

PMK

is

voorwaar

indrukwekkend.Welkom hier by ons! Ek het geen twyfel dat u ’n

onmisbare lid van die span gaan wees nie.”

Toe Mila daardie aand voor die geboorte-eenheid stilhou, wag Lise-

Marie haar grootoog by die deur in.

“En nou?” lag Mila. “Jy lyk of jy ’n spook gesien het! Moenie sê my

gunsteling-doula het haar moses teëgekom in ’n klein vroutjie soos

Sunet nie?”

“Klein botteltjies, groot gif,” kap Lise-Marie terug. “Jy’t geen idee hoe

erg die vorige paar uur was nie, Mila! Weet jy hoe sy hier gekom het?”

“Ai, Lise-Marie, het jou ma nooit hierdie gesprek met jou gehad nie?”

spot Mila. “Sy is eintlik die een wat vir jou moes verduidelik het

presies hoe en hoekom vroue by die kraameenheid uitkom!”

“Toemaar, jy sal nie lag sodra jy binne was nie,” hou Lise-Marie

ernstig vol. “Jy weet ek het al gesê ek dink bipolêre versteuring word

oordiagnoseer? Wel, ek dink die diagnose was in die kol in Sunet se

geval. Sy’s nié lekker nie, Mila.”

Mila respekteer haar kollega se opinie – en veral haar instink –

wanneer dit by hul pasiënte se gemoedstoestand kom. Sy weet dat

Lise-Marie ’n kleintjie dood het aan psigiatriese etikette wat soms

sonder behoorlike evaluering op mense afgedwing word. Die feit dat sy

nou self gereed is om een om Sunet se nek te hang, gee Mila ’n goeie

aanduiding van hoe ernstig die situasie moet wees.

“Wat gaan aan, Lise-Marie?”

“Ek is bekommerd. Daar is iets wilds omtrent haar vandag. Sy is

agitated. Sy wou nie eens in die kar tot hier ry nie. Gesê dit laat haar te

ingehok voel. Sy het die hele drie kilometer hierheen gestap!”

Mila se mond val onwillekeurig oop.“Waaaat?” giggel sy ongelowig.

“Ek sweer!” Lise-Marie rol haar oë dramaties. “Ek moes teen wil en

dank maar saamstap, en haar arme man het soos ’n swaap agterna

gery. En haar kontraksies is sterk en gereeld! Elke vier, vyf minute

moes ons eers gaan staan dat sy deur die pyn asemhaal. Natuurlik

moes die hele drama in spitsverkeer afspeel: ’n Paar nuuskierige agies

het omtrent hul karre omgegooi! Drié Samaritane het stilgehou om te

vra of hulle ons hospitaal toe kan neem, en elke keer moes ek

verduidelik dat Sunet met alle geweld wóú loop.”

Mila kan nie help om te lag nie. Sy kan haar net indink hoe vreemd

die optog vir verbygangers moes lyk. Selfs die kalm Lise-Marie se

verontwaardigde gesigsuitdrukking is skreeusnaaks.

Ten spyte van haar ontsteltenis gee Lise-Marie ook ’n flou glimlaggie.

“Nou loop sy op en af in die kraamkamer soos ’n briesende leeu in ’n

hok … Ek hoop sy is sterk genoeg hiervoor, Mila. Nie haar lyf nie, haar

kop.”

“Het jy haar al in die bad laat klim? Dit sal haar dalk kalmeer?”

“Ag, Mila, sy wou nie eens twee minute in die water bly nie. Gesê dit

maak haar claustrophobic en sy moet uit. Sy’t die stomme Marius se

hand amper afgebyt ook tydens ’n besonder sterk kontraksie.Toe prop

ons maar ’n waslap in haar mond. G’n wonder die arme man is so ’n

jandooi nie. Hy ly seker aan chronic exhaustion met dáái vrou!”

Mila giggel. “Kan jy jou voorstel hoe dit in hulle huis gaan tydens

volmaan? Hierdie geboorte is ’n hoofstuk vir jou memoires, Lisetjie,

troos jou daaraan! Maar dink jy ons moet haar liewer kraamsaal toe

vat? En miskien haar dokter laat kom? Dalk wil hy haar psigiater bel.”

“Kom kyk jy liewer eers self na haar, Mila.”

“Maar wat dink jy, Lise-Marie? Jy was nou heelmiddag by haar. Ek

vertrou jou opinie.Wat sê jou gut?”

“Persoonlik dink ek sy gaan nog meer ingehok en benoud voel in die

kraamsaal. Hier by ons kan sy darem nog rondloop. Anyway dink ek

sy is al ver. Kom ondersoek haar maar en dan besluit ons. Sy wil só

graag normaal geboorte gee, Mila. Sy wil regtig nie weer ’n keiser hê

nie.”

Mila is verstom toe sy Sunet ondersoek en vind dat sy reeds amper vol

ontsluit is. Dis moeilik om te glo dat die vrou so naby aan die geboorte

self al die pad hospitaal toe gestap het! Maar dalk is dit juis hierdie

aktiwiteit wat haar so vinnig laat vorder het. ’n Eerste kraam is

gewoonlik ’n uitgerekte proses, en ’n VBAC is maar eintlik nes ’n

eerste kraam.

Sunet besluit dat sy tog vir die geboorte self in die bad wil klim.

“Ek het gelees dat watergeboorte vir die baba ’n mooi rustige oorgang

van die baarmoeder na die buitewêreld verseker,” rammel sy af. Nadat

sy ’n rukkie in die bad gedruk het, laat Mila haar egter uitklim en op ’n

kraamstoeltjie sit.

“Daar is party vroue vir wie die water net nie werk nie, Sunet. Lyk my

jy is een van hulle.”

“Dis omdat julle die water kokend maak,” kla Sunet opgewerk.“Ek is

papnat gesweet, al my energie is getap!”

“Ons moet die water so warm maak om jou baba se ontwil, Sunet. Dis

die koue lug op haar vel wat ’n baba haar eerste asemteug laat neem.

Om te verseker dat sy nie onder die water al inasem nie, moet ons die

bad teen liggaamstemperatuur hou. Ek’s jammer dat ons jou moet laat

uitklim. Maar ons wil nie hê jy moet te lank druk nie. As jy op die

stoeltjie sit, is swaartekrag darem in jou guns.”

Die verandering van posisie help dadelik en ná net vier kontraksies

kroon die koppie. Mila vra Sunet om eers net asem te haal. Die

naelstring is styf om die baba se nekkie en Mila moet dit versigtig oor

die kop haak. Sunet werk mooi saam en Mila slaak ’n sug van

verligting toe sy die fris babadogtertjie vir haar ma aangee.

“Baie geluk, Sunet. Jy was ’n ster!” prys sy. “Leila is pragtig!”

Tot almal se stomme verbasing stoot Sunet die bondeltjie met mening

weg.

“Ek kan haar nie nou vashou nie! Ek’s gedaan. Gee haar vir haar pa!”

Marius staan gretig nader, sy wange nat van aandoening.

“Sunet, ek kan haar nie nou vir Pa gee nie. Die koord is korterig en

ons het dit nog nie geknip nie. Jy wou hê dit moet ophou klop voordat

Marius dit sny. Só kry Leila ’n bietjie ekstra suurstof terwyl sy op haar

eie leer asemhaal.” Mila hou haar stem so geduldig moontlik.

“Nee,” stry Sunet, haar oë skielik wild en glasig. “Vat haar! Ek soek

haar nie nou nie. Knip die koord en gee haar vir haar pa.”

“Marius,” begin Mila, maar Sunet val haar in die rede. “Nie Marius

nie! Jy! Knip dit net en kry hierdie kind van my lyf af.”

Mila loer verskonend na Marius, maar klamp en knip liewer self die

polsende blou naelstring. Sy draai die baba toe in ’n warm handdoek

wat Lise-Marie gereed hou en gee haar vir haar pa aan. Dan draai sy

na Sunet.

“Nou goed, nou wag ons net vir die nageboorte.” Sunet se oë verstar.

Sy gryp na die stukkie van die koord wat uithang en begin met mening

daaraan trek.

“Sunet, néé!” keer Mila en Lise-Marie tegelyk.

“Dit moet nou dadelik uit,” prewel Sunet.“My vriendin het ’n helse

probleem gehad oor die nageboorte vasgesit het. Dit gaan nie met my

gebeur nie. Gaan hierdie ding nóú uitkry …”

“Maar Sunet, jy kan dit nie uittrek nie! Dit sit nog vas binne!”

Mila gryp Sunet se hand en beduie vir Lise-Marie om die ander een te

kry. Dis duidelik dat hul pasiënt angsbevange is en alle rede verloor

het. Mila wonder nog of sy nie maar sedasie moet spuit nie toe Lise-

Marie praat.

“Klaar te laat, Mila,” sê sy saggies.

Met ’n skok besef Mila dat Sunet met haar geruk die naelstring

morsaf gebreek het. Die plasenta sit nog binne aan haar

baarmoederwand vas.

Onmiddellik skakel hulle na krisisbeheer oor. Met haar geoefende oog

takseer Mila Sunet se bloeding. Sy besluit dat dit nog nie te veel is nie

en dat hulle nog ’n bietjie tyd het. Saam beweeg hulle haar na die bed,

waar Mila ’n inspuiting gereed kry terwyl Lise-Marie Sunet se

baarmoeder ritmies begin masseer.

Toe Sunet die spuitnaald in Mila se hand sien, probeer sy keer.

“Nee, asseblief! Ek haat inspuitings! Ek het ’n naaldfobie! Jy’t belowe

jy sal my nie spuit nie!”

“Nee, Sunet, ek het nie belowe nie,” stry Mila.“Ek het gesê geen

naalde solank alles goed gaan nie. Alles gaan nou nie meer goed nie. Jy

het jou naelstring afgeruk en jou plasenta sit binne jou lyf vas. As

hierdie die enigste naald is wat jy vandag teëkom, is jy ’n gelukkige

vrou. Jy moet nou saamwerk. Ek gaan alles in my vermoë doen om te

keer dat jy in die operasieteater beland.”

Sonder ’n woord lê Marius die babatjie in die wiegie langs die

dubbelbed neer. Hy gaan sit op die bed langs Sunet en druk haar

regterarm met mening vas. Lise-Marie volg sy voorbeeld aan die

linkerkant. Binne sekondes het Mila die inspuiting in Sunet se bobeen

gedruk. Sy kan maar net hoop dat die medikasie sy werk doen en dat

die nageboorte vanself sal uitkom. Die héle nageboorte.

’n Halfuur later, toe niks nog gebeur het nie, weet Mila dat dit tyd is

om verdere aksie te neem. Teësinnig skakel sy Sunet se ginekoloog tuis

en verduidelik die situasie so bondig as moontlik. Sy stilswye verklap

dat hy stomgeslaan is; gewoonlik is hy ’n grapjas wat vir elke

geleentheid

’n

kwinkslag

het.

Vannag

waardeer

Mila

sy

professionaliteit. Sy het nie krag vir ’n geskertsery nie.

“Julle kan haar solank deurvat kraamsaal toe, suster Mouton. Ek sal

haar daar kom sien voor die prosedure. Intussen reël ek so gou

moontlik ’n teater en ’n narkotiseur. Ek sal sommer die psigiater ook

bel. Ek dink dit sal wys wees as sy haar môreoggend kom sien.”

“Dankie, dokter, dis ’n goeie plan. Sien dokter nou-nou.”

Dokter Peet de Wit kry dit reg om binne ’n uur ’n mediese span en ’n

teater gereed te kry en Mila slaak ’n sug van verligting toe haar pasiënt

ingestoot word. Sunet het in die laaste uur ál meer begin bloei en haar

geestestoestand het verder versleg. Die atmosfeer in die teater is

gespanne, heeltemal anders as die joviale luim wat gewoonlik tydens

keisersnitte heers. Die oomblik toe die narkose effek toon, draai dokter

Koos Myburgh, die narkotiseur, na Mila toe, ’n diep frons tussen sy

wenkbroue.

“Verduidelik nou asseblief vir my wat vanaand hier gebeur het, suster

Mouton?”

Mila vertel hom van Sunet se psigiatriese geskiedenis, haar vorige

keiser en die gebeure wat aanleiding gegee het tot die agtergeblewe

plasenta. Toe sy klaar is, skud dokter Myburgh sy grys kop.

“Neem julle nie onnodige risiko’s in daardie eenheid van jou nie,

suster Mouton?”

“Onnodige risiko’s, dokter?” Doelbewus hou Mila haar stem so kalm

moontlik.

“Hoekom nou ’n vrou wat vroeër ’n keiser gehad het, blootstel aan die

gevaar van ’n normale geboorte, suster? Dis mos veiliger om weer die

baba chirurgies te verlos. Die litteken op haar uterus kan immers skeur,

met tragiese gevolge.”

Terwyl Mila nog besig is om in haar stresbenewelde brein rond te tas

vir die mees diplomatiese antwoord, kom Peet de Wit tot haar

verdediging.

“In verloskundige kringe word dit nie as ’n onnodige risiko beskou

nie, Koos. Om die waarheid te sê, die meeste kenners beskou dit as net

so veilig soos ’n herhalingskeisersnit. Die kans op uterusruptuur is

maar omtrent ’n halfpersent. Mens moenie vergeet dat ’n snit ook maar

risiko’s inhou nie.”

Mila kyk dankbaar na die ginekoloog. Sy blou oë, ligter as gewoonlik

onder die akwamaryn teaterkappie, laat haar skielik aan Derek dink.

Sy wonder of haar buurman al rustig in die meenthuis langs hare lê en

slaap. Vir ’n oomblik verstout sy haar om te wonder hoe dit sou voel

om heelnag in sy arms te slaap … om wakker te word met sy lippe op

hare …

Dokter Myburgh ruk haar egter wreed terug na die werklikheid. Hy

het haar nog nie klaar oor die kole gehaal nie.

“Almiskie, Peet. Ek kan nou nie sê dat ek met jou en suster Mouton

saamstem hieroor nie, maar ek kan darem jul punt verstaan. Wat ek

egter glad nie begryp nie, suster Mouton, is wat op aarde u laat dink

het dat so ’n onstabiele pasiënt ’n goeie kandidaat vir die geboorte-

eenheid sou wees. Die reël is tog dat net laerisiko-gevalle daar mag

kraam, dan nie?”

“Versigtig, dokter Myburgh,” begin Peet de Wit, skielik nie meer op

voornaamterme met sy kollega nie. “Ek is die pasiënt se ginekoloog en

ék is die een wat besluit of sy ’n geskikte kandidaat vir die Aktiewe

Geboorte-eenheid is of nie. As jy vir suster Mouton van swak oordeel

wil beskuldig, beskuldig jy my ook.”

Mila is baie dankbaar dat Peet haar so verdedig. Tog wil sy haar eie sê

ook sê: Sy wil self hierdie beterweterige ou fossiel op sy plek sit.

“Die besluit, dokter Myburgh,” tjip sy in terwyl die twee mans oor ’n

roerlose Sunet na mekaar gluur,“is nie deur my óf deur dokter De Wit

geneem nie.”

Myburgh lig sy grys wenkbroue sinies. Onwillekeurig bal Mila haar

vuiste binne die steriele handskoene. Dit verg al haar selfbeheersing om

professioneel te bly in die teenwoordigheid van hierdie arts met sy

neerbuigende houding. Sy tel tot tien voordat sy verder praat.

“’n Multi-dissiplinêre span – waarvan ek en dokter De Wit lede was –

het koppe bymekaargesit om te besluit wat die beste vir die pasiënt sal

wees. Soos ons, het die pasiënt se psigiater, sowel as haar kliniese

sielkundige, gevoel dat ’n normale geboorte in die Aktiewe Geboorte-

eenheid die minste spanning sou veroorsaak. En hoewel Sunet

natuurlik tydens haar swangerskap steeds op medikasie was, was sy

allesbehalwe onstabiel. Niemand kon vanaand se skielike … um …

episode voorsien het nie.”

Maar hul meningsverskil word kortgeknip. Oomblikke nadat Peet de

Wit die halsstarrige plasenta in die silwer nierbakkie laat val het, begin

’n donker poel op die groen doek onder Sunet versprei. Haar

baarmoeder wil nie behoorlik saamtrek nie en haar bloeddruk val

gevaarlik. Bekommerd kyk Mila van haar pasiënt op die teaterbed na

die ginekoloog oorkant haar. Sy kan aan sy stem hoor dat hy ook

besorg is.

“Spuit nog 20 mg Synto, Koos, en stoot bietjie vog. Sy kan mos nou

nie só wil gaan staan en bloei nie.”

Vir ’n paar minute werk almal in die teater met opgehoue asems. Dan

vra Peet de Wit vir Mila ’n vraag wat sy gehoop het om nie vannag te

hoor nie.

“Weet jy of die pasiënt nog kinders beplan het, Mila? Die hemel weet,

ek wil nie, maar as sy so aanhou bloei het ek geen ander keuse nie …”

“Ek het haar nog nie só gevra nie, dokter. Sy is al agt-en-dertig en het

’n amnio met hierdie baba gehad om Downsindroom uit te skakel. Sy

het ook meer as een keer gesê hoe moeilik ’n swangerskap is as ’n

mens bipolêr is. So ek weet nie of sy nog kinders wil hê nie, maar ek

glo ook nie sy is heeltemal gereed om …”

“Die fabriek te sluit nie?” Die ginekoloog sug.“Ek sal doen wat ek

kan, Mila, ek sal doen wat ek kan.”

Wat ’n eenvoudige prosedure van omtrent ’n halfuur moes gewees het,

sit om in ’n uitgerekte chirurgiese nagmerrie. ’n Volle drie uur later

sluit Mila eindelik die deur van die geboorte-eenheid oop. Sy is so

moeg dat sy byna nie haar arms kan oplig nie. Sunet slaap eindelik

rustig in die postnatale saal. Sy sal ’n paar eenhede bloed moet kry,

maar ten minste is haar uterus nog waar dit hoort. Haar psigiater het ’n

sterk sedeermiddel voorgeskryf en sal haar deur die loop van die dag

kom sien. Baba Leila is pragtig en gesond, salig onbewus van al die

dramas rondom haar ma. Mila hoop maar net dat Sunet met haar baba

gaan bind. Sy’s bekommerd oor die manier waarop die vrou haar

vroeër weggestoot het.

Hoewel Mila nog nie oor haar ontsteltenis is nie, is sy dankbaar dat

alles goed afgeloop het. Nou moet sy net Sunet se kaart op datum kry

en die res van die papierwerk afhandel, dan kan sy huis toe gaan. Sy

sal haar ontvangsdame vra om al haar afsprake te skuif en om die

skoonmakers te bel vir die chaotiese kraamkamer.

5

Mila is net besig om Leila se naam in die geboorteregister te skryf toe

die spreekkamerfoon lui. Sy antwoord dadelik, bang dat dit slegte nuus

oor Sunet is. Maar dit is Sharleen Niewoudt, die hospitaalbestuurder se

persoonlike assistent.

“Aa, Mila, ek’s bly om jou in die hande te kry! Leon het gevra dat jy

vanoggend ’n draai kom maak indien enigsins moontlik. Dis redelik

dringend.”

Mila voel hoe haar maag op ’n knop trek. Sy kan nie onthou dat sy al

ooit só na die bestuurder se kantoor ontbied is nie. Kan dit wees dat

Leon Swiegers haar oor laasnag se dramas voor stok wil kry? Het

dokter Myburgh dalk sy kritiek verder gevat en haar van nalatigheid

aangekla? Sy probeer haar stem so normaal moontlik hou.

“Weet jy waarmee dit verband hou, Sharleen?”

“Nee, jong, ongelukkig nie. Hy’t my net vanoggend toe hy hier instap

gevra om jou so gou moontlik in die hande te kry. Jy klink moeg, Mila,

het julle laasnag ’n bevalling gehad?”

“Ons het,” sug Mila. “’n Moeilike geval. Ek voel soos ’n opgewarmde

lyk en lyk ook nie veel beter nie. Moet Leon my vandag sien? Kan ek

nie maar môreoggend eerste ding ’n draai kom maak nie? Minstens

gaan ek dan nie soos ’n voëlverskrikker lyk nie.”

“Jammer, man,” maak Sharleen simpatiek verskoning. “Maar jy weet

mos hoe dit is. Die baas het gepraat.”

“Nou maar goed. Ek maak net my papierwerk klaar, dan stap ek oor.

Sien jou nou-nou.”

Sharleen neem Mila sonder versuim deur na Leon Swiegers se kantoor.

Hy staan op uit sy swart leerstoel en beduie vir Mila om oorkant hom

te gaan sit.

“Môre, suster Mouton. Dankie dat u gekom het. Ek verneem by

Sharleen dat u heelnag besig was met ’n bevalling?”

Mila kyk verward na die hospitaalbestuurder. Soos gewoonlik kan ’n

mens hom deur ’n ring trek: van sy gejelde swart borselkop tot sy

noutoon-ontwerperskoene. Hoewel party vroue hom ongetwyfeld as

aantreklik beskou, vind Mila hom effens grillerig. Hy is vir haar net te

… glad. Miskien is sy bevooroordeeld, maar Mila het die man nog

nooit vertrou nie.Vanoggend maak hy haar ekstra senuweeagtig. As

Sharleen hom ingelig het dat sy laasnag by ’n bevalling was, beteken

dit dat hy haar nie oor Sunet se komplikasies oor die vingers wil tik

nie. Waarom is sy dan hier?

“Uhm, ja, ons was heelnag besig met ’n mamma.”

“Dan sal ek u nie lank hou nie, suster.”

Mila wonder of sy haar verbeel en of die man ongemaklik lyk. Hy

maak langsaam keel skoon.

“Ek neem aan dat u al in die gange gehoor het dat die hospitaal

finansiële probleme ondervind? Dat sekere veranderings in die pyplyn

is?”

Mila maak ’n ontwykende geluid wat sy hoop nie as ja óf nee

geïnterpreteer kan word nie. Natuurlik het sy van die probleme gehoor.

Wie het nie? Dit het begin toe twee ander hospitale in nabygeleë

voorstede in die afgelope jaar kraamsale geopen het. Protea Moeder-en-

Kind is ’n uitstekende hospitaal, maar dit is ongelukkig in ’n ouer deel

van die stad – naby die middestad – wat die meeste mense weens

misdaadvrese vermy. Veral snags, wanneer babas gewoonlik gebore

word.

Mila weet dat van haar kollegas vir hul poste vrees. Sy self was nog

nooit bekommerd nie. Die hospitaal betaal haar immers nie ’n salaris

nie. Sy huur die geboorte-eenheid se perseel en haar pasiënte betaal

haar direk. Sy verstaan dus glad nie waarop Leon Swiegers afstuur nie

en hou hom afwagtend dop.

“Om die hospitaal te help om hierdie finansiële uitdagings die hoof te

bied,” verduidelik hy, “het die raad besluit om ’n mediese spesialis aan

te stel wat ook ’n sake-agtergrond het.”

Swiegers kyk na Mila en sy knik om te wys dat sy volg.

“Hierdie spesialis, dokter Reynders, is ons nuwe hoof van pediatrie,

sowel as die persoon wie se leiding die raad gaan volg rakende

sakebesluite. Dokter Reynders het gister hier by ons begin en het reeds

’n omvattende sakeplan opgestel.Van die veranderings wat hy

daarvolgens wil maak is nogal taamlik … uhm … radikaal.”

As die man tog net tot ’n punt wil kom, dink Mila geïrriteerd. Sy’s

gedaan na liggaam en gees en kan nie dink wat hierdie onderwerp met

haar te make kan hê nie.

“Dit klink gewigtig, meneer Swiegers.”

“Daar’s nie ’n maklike manier om dit te sê nie, suster Mouton. Dokter

Reynders beplan om al die afdelings te sluit wat nie na wense presteer

nie, en om die fondse eerder in ’n pediatriese trauma-eenheid te

kanaliseer. Dit spyt my, maar die geboorte-eenheid is een van die

teikenafdelings vir hierdie afskaling.”

Mila voel asof iemand haar ’n vuishou in die maag gegee het. Haar

eenheid … sluit? Dit kan nie wees nie! “Meneer Swiegers,” begin sy

beslis, “ek weet nie wat u en hierdie dokter Reynders bedoel met ‘nie

na wense presteer nie’. Die Aktiewe Geboorte-eenheid is een van die

hospitaal se trekpleisters! Die fasiliteit is die enigste van sy soort in

Wilgekloof. Pasiënte kom van ver af om hier te kraam! Net verlede

week het ons ’n paartjie van Lephalale hier gehad. Desember kom ’n

vrou al die pad van Phalaborwa af. Dit maak absoluut geen sin om die

eenheid te sluit nie!”

“Suster Mouton, ek verstaan dat u ontsteld is oor dokter Reynders se

besluit. Dis waar dat pasiënte van feitlik oral kom om u fasiliteit te

gebruik. Maar die feit bly staan dat die eenheid net ses tot agt

bevallings per maand hanteer. Die klein hoeveelheid kontantvloei wat u

eenheid inbring, regverdig nie die spasie wat dit beslaan nie. Ek

verstaan dat u geheg is aan u kliniek, maar ’n hospitaal is ’n besigheid

soos enige ander. Op die ou end gaan dit oor rand en sent.”

“Hoe kan u dit so stel, meneer Swiegers? Ek verstaan dat die hospitaal

’n wins moet maak, maar u kan tog nie dink dat die geboortes wat hier

plaasvind net besigheid is nie? Ons werk met mense – met gesinne wat

in ’n kwesbare maar vreugdevolle lewenstadium is. U kan tog nie

ontken dat ons besigheid ’n groot emosionele komponent het nie?

Babas word hier gebore! Die oomblik as ons nie meer omgee oor

gesinne se emosionele ervaring nie, het ons klaar verloor. Die eenheid

maak ’n verskil in mense se lewens. Dit kán nie sluit nie!”

Swiegers se stem is simpatiek. “Ek is werklik jammer, suster Mouton.

U het baie energie en geesdrif in die geboorte-eenheid belê. U moet

asseblief nie dink dat PMK Hospitaal u net so opsy wil stoot nie. Ons

is bewus van u voortreflike kwalifikasies en ervaring. Ons wil graag vir

u ’n pos aanbied as eenheidsbestuurder van die kraamsaal.”

Mila kan nie gló dat hulle haar met so ’n simpel aanbod wil probeer

omkoop nie. Eenheidsbestuurder! Sy lewe vir persoonlike kontak met

haar pasiënte. Die dag as sy op admin moet fokus, kan hulle haar maar

begrawe!

“Dankie, meneer Swiegers, maar ek is seker dit sal nie nodig wees nie.

Ek vermoed dokter Reynders verstaan maar net nie watter uitstekende

publisiteit die geboorte-eenheid vir PMK bring nie. Verskeie artikels

oor die eenheid het al in die voorste babatydskrifte verskyn. As u my sê

waar ek hom te siene kan kry, verduidelik ek graag die situasie aan

hom.”

Leon Swiegers voel nie gelukkig oor hoe hierdie onderhoud verloop

het nie. Hy was geensins voorbereid op die moontlikheid dat Mila

Mouton teen die besluit gaan veg nie. Natuurlik het hy verwag dat sy

ontsteld sou wees. Hy het geglo dat sy dalk selfs ’n paar trane sou

stort. Tog het hy gedink dat sy rede sou insien en gevlei sou voel oor

hul aanbod. Sekerlik is eenheidsbestuurder ’n statusverhoging bó

privaat vroedvrou, wat alle ure van die dag en nag op roep is? Nou ja,

hy het Reynders gewaarsku dat sy besluite ’n paar personeellede lelik

gaan omkrap. Hy wat Leon Swiegers is, gaan hom beslis nie teen

hierdie rissiepit se toorn beskerm nie. Laat die man haar maar sélf

probeer paai. Hy is immers die een wat besluit het om haar eenheid te

sluit.

“Dokter Reynders se spreekkamer is nog nie gereed nie. Hy sien

vandag pasiënte in die sessiekamers, suster Mouton.”

Woedend storm Mila by die hospitaalbestuurder se kantoor uit. Sy

drafstap in die gang af en spring twee-twee by die trappe op in haar

drif om by die man te kom wat haar droom so genadeloos wil

verpletter. Haar droom en die geboortedrome van soveel vroue! Wie

dink hy is hy om sulke besluite te neem oor ’n geboorte-eenheid wat hy

nog nie eens met ’n oog gesien het nie?

Op die derde verdieping pluk Mila die deur van die sessiekamers oop.

Haar hart mis ’n slag. Derek! Haar buurman staan aan die oorkant van

die kamer, so dropdead gorgeous soos gewoonlik. Hy leun nonchalant

teen die toonbank tussen hom en die blonde jong dingetjie wat as

ontvangsdame in die sessiekamers werk en wat nou met onverbloemde

bewondering na hom staar. Hy lyk só onweerstaanbaar – so

gesofistikeerd – in sy wit doktersjas dat Mila maar te goed verstaan

hoekom die ontvangsdame lyk of sy enige oomblik gaan begin kwyl.

Derek se gesig verhelder toe hy Mila sien. Sy glimlag is warm en ’n

oomblik lank is Mila verheug om hom te sien. Sy gee nie eens om dat

sy uitgeput en verwaarloos voel ná die lang nag nie, sy is net so

dankbaar om ná die laaste stresvolle paar uur in sy omgee-oë te kyk.

Weer wens sy dat sy in sy gespierde arms kon gaan skuil, dat hy haar

teen sy breë bors wou vashou en troos en dat hy alles weer sou

regmaak.

“Derek! Dat ons mekaar nou hier moet raakloop! Wat maak jy hier,

buurman?”

Die ontvangsdametjie lyk asof sy lus het om Mila se oë een vir een

met haar lang rooi naels uit te krap. Sy is duidelik nie gretig om hierdie

aantreklike vangs met enigiemand te deel nie. Sy probeer gou haar

posisie konsolideer deur haar nuutgevonde kennis oor Derek ten toon

te stel.

“Dis dokter Derek Reynders, suster Mouton,” sê sy stroperig. “Ons

nuwe hoof van pediatrie.”

Dokter Derek Reynders? Die mure van die sessiekamer begin om Mila

draai en die tapyt swem onder haar voete. Dokter Reynders is haar

buurman? Derek wil haar geboorte-eenheid toemaak?

Derek merk dadelik haar ontsteltenis op. Hy kry haar aan die elmboog

beet en stuur haar na die naaste spreekkamer. Dan maak hy die deur

agter hulle toe.

“Mila?” Sy stem is besorg en ’n bekommerde frons huiwer op sy

voorkop. “Is daar fout?”

“Ek kom nou net van Leon Swiegers af, dokter Reynders,” sê Mila

met ongebreidelde sarkasme. “Hy het my meegedeel dat jy beplan om

my eenheid toe te maak. Dat dit nie genoeg geld na jou sin maak nie?”

Derek verbleek merkbaar toe begrip soos giftige motreën oor hom

neersak. Mila se Aktiewe Geboorte-eenheid? Hy het nie besef … Sy

staan so weerloos en verslae hier voor hom dat hy wens hy kon haar in

sy arms neem en haar belowe dat alles gaan uitwerk. Wens hy kon die

tyd terugdraai en daardie deel van sy sakeplan ongedaan maak … Dan

neem sy gesonde verstand die leisels ferm by sy hart terug.

“Ek is jammer, Mila. Dis niks persoonliks nie – dis besigheid. Ek is

gehuur om te help bepaal wat die beste pad vorentoe vir die hospitaal

is. En jou eenheid beset waardevolle spasie sonder om werklik ’n wins

te maak.”

“Niks persoonliks nie? Miskien nie vir jou nie, Derek Reynders! Vir

my is dit so persoonlik as wat maar kan kom! Dis my eenheid daardie,

ek het my hart en siel daarin gestort. Tussen daardie vier mure is die

herinneringe van dosyne natuurlike geboortes – veilige en

bemagtigende geboortes wat vroue nêrens anders in Wilgekloof sou

kon beleef nie. Nie net my herinneringe nie, dokter, die herinneringe

van al die ma’s en pa’s wie se babas daar gebore is. Die eenheid

behoort nie net aan my nie – dit behoort aan al daardie pasiënte.Weet

jy hoe uniek die diens is wat ons daar lewer? Privaat hospitale in

Wilgekloof het ’n keisersnitsyfer van tagtig tot negentig persent! Tagtig

tot negentig persent, in vergelyking met my eenheid se veertien persent!

Dis ’n veilige hawe vir vroue wat graag hul babas so natuurlik as

moontlik in die lewe wil bring.Waarheen moet hulle gaan as jy die

eenheid sluit?”

“Dis seker tog nie die enigste eenheid van hierdie soort in Wilgekloof

nie?”

“Die énigste, dokter Reynders. Daar is wel ’n paar in Pretoria en

Johannesburg, maar watter vrou wat moet kraam het nou lus om ’n uur

of twee in ’n kar te sit om soontoe te ry – veral met die verkeer? Met ’n

eerste baba is dit miskien nog haalbaar, maar wat van volgende

geboortes, wat vinnig is? Dis tog elke vrou se reg om haar baba te kry

in ’n atmosfeer wat rustig en veilig is!”

“Mila, ek is jammer, regtig, ek is. Maar jy moet besef dat dit nie vir

my gaan om waarheen ’n handjie vol vroue gaan om geboorte te skenk

nie. Dit gaan nie vir my om die bevordering van vroueregte nie, maar

om wat die beste vir die hospitaal as geheel is. En die beste is om die

eenheid te sluit sodat die spasie benut kan word vir meer produktiewe

doeleindes.”

Nou kook Mila se bloed behoorlik.

“Jy bedoel vir meer geld, Derek Reynders! Dis al waaroor dit gaan,

nè! Onse aarde, maar was ek verkeerd oor jou! Dankie dat jy my oë

vandag vir my oopgemaak het. Ek het jou opgesom as iemand wat

omgee – jy’t my ’n rat voor die oë gedraai met jou kastige kommer oor

Melissa. Nou besef ek wat dit was. Jy het my probeer sag maak sodat

ek sonder baklei my eenheid moes opgee! Eintlik is jy net so harteloos

soos Leon Swiegers. Hy’s net eerliker as jy – mens weet darem waar jy

met hom staan.”

“Mila, asseblief, ek het eerlikwaar nie geweet dis jóú eenheid nie. Ek

…”

“Ag, spaar jou leuens vir die pops met die bokkie-oë by ontvangs,

Derek. Ek gaan nie daarvoor val nie. Ek wil net hê jy moet weet dat ek

nie sommerso gaan opgee nie. Iemand moet opstaan vir vroue se reg

om ’n keuse te maak oor hoe en waar hulle geboorte gee – opstaan teen

bullebakke soos jy wat net aan geld kan dink, vir wie niks heilig is nie!

Sien jy kans vir ’n oorlog, dokter Reynders? Want dis presies wat jy

gaan kry!”

Skielik is Derek net so kwaad soos Mila. Sy ysblou oë vat vlam en ’n

spiertjie spring gevaarlik in sy wang. Hy tree vorentoe en kyk

meewarig af na haar.

“Lyk my jy is nie die enigste een wie se eerste indruk foutief was nie,

suster Mouton. Ek het jou beslis nie as ’n aartsfeminis opgesom nie.

Dom van my, ek moes geweet het dat enige vroedvrou in privaat

praktyk ’n feministiese streep sou hê. Dis jóú oorlog. Dis jy wat kies

om emosies hierby in te sleep. Vir my is dit nie persoonlik nie – dis net

besigheid. Baklei gerus as jy lus het, maar moenie by my kom huil as

jy seerkry nie. Ek waarsku jou: Hospitaalbestuur is harde realiteit, ver

verwyder van jou touchy-feely wêreld. Jy is nie opgewasse vir hierdie

oorlog nie!”

Vir ’n oomblik staar Mila die arrogante man woordeloos aan. Dan tol

sy op haar hak om en storm by die deur uit. Sy skiet ’n giftige blik na

die ontvangsdame wat haar agterna gaap soos ’n sterwende goudvis.

Eers toe sy by haar motor kom, besef sy dat trane agter haar ooglede

brand.Vies vee sy hulle weg met die agterkant van ’n bewende hand.

Dit maak haar so woedend dat sy altyd wil tjank nes sy kwaad is vir ’n

gesagsfiguur! Dis die verdomde onregverdigheid wat haar laat huil –

nie regtig ontsteltenis nie. Sy sit haar kar in trurat en ry versigtig by die

parkeerplek uit. Die laaste ding wat sy nou nodig het, is om ’n ander

kar te stamp.

Teen die tyd dat Mila by die hospitaalhek uitry, het ’n plan reeds in

haar kop begin gestalte aanneem. Sy’t Derek gewaarsku dat sy nie

sonder teenstand haar eenheid gaan opgee nie – en teenstand gaan hy

kry! So hy wil haar ’n aartsfeminis noem? Sy sal hom wys hoe een lyk!

Hy gaan nog die dag berou toe hy sy gierige oë op haar eenheid gerig

het, daarvoor sal sy sorg!

Een van die vele voordele van haar werk, dink Mila selfvoldaan toe sy

haar tuis voor die rekenaar gaan neerplak, is dat sy met soveel mense

uit soveel verskillende velde in kontak kom. Maak nie saak wát sy

nodig het nie, sy ken altyd iemand wat kan help. Boonop is haar

pasiënte en hul lewensmaats gewoonlik so dankbaar oor haar

bekwame bystand dat hulle maar te bly is om vir haar iets in ruil te

doen.

Mila blaai deur haar telefoonboekie tot by Liesel Basson se nommer.

Liesel is ’n suksesvolle vryskutjoernalis met talle bekroonde artikels op

haar kerfstok. Mila het haar eerste baba so twee jaar gelede by haar

huis net buite Wilgekloof gevang. Wat Liesel se sukses in so ’n

mededingende bedryf uitsonderlik maak, is die feit dat sy amper

heeltemal blind is en met ’n gidshond oor die weg kom. Sy tik haar

stories op ’n braille-sleutelbord en het ’n rekenaarprogram wat tekste

vir haar lees. Dis juis weens haar swak sig dat Liesel tuis wou kraam,

in die omgewing wat vir haar die bekendste is. Ná klein Dylan se

geboorte het Liesel verskeie artikels vir babatydskrifte geskryf. Mila

twyfel geensins dat Liesel sal belangstel in wat sy te vertel het nie.

Derek kan die hele Dinsdag lank die konfrontasie met Mila nie uit sy

gedagtes kry nie. Haar fynbesnede gesiggie doem kort-kort voor hom

op. Sy gedagtes tower haar donker kykers op, smeulend van woede en

verontregting. Hy kon nie help om haar te bewonder nie: Hy het nog

altyd gehou van sterk vroue wat presies weet wat hulle wil hê. Haar

passie vir haar werk stook die vuur van sy begeerte vir haar – die

begeerte wat in hom gebrand het vanaf hul heel eerste ontmoeting. Tog

is hy net so bewus van die weerlose trek wat tydens hul gesprek om

haar mond gespeel het, ’n kwesbaarheid wat haar net nog meer

onweerstaanbaar gemaak het. Sy is vir hom ’n enigma, hierdie vrou

van kontraste. Hoe wens hy nie dat hulle onder ander omstandighede

ontmoet het nie …

6

Dit voel soos ’n nare droom toe Mila se selfoon Dinsdagnag skuins ná

drie lui. ’n Oproep daardie tyd van die nag kan net een ding beteken:

nóg ’n geboorte. Nóg ’n onderbroke nag. En sy ís so verskriklik moeg!

Sy probeer die slaap afskud in die sekondes voordat sy die foon

antwoord. Sy weet hoe sleg pasiënte voel as hulle haar wakker bel. Toe

sy haarself hoor hallo sê, weet sy egter dat sy dit vannag nie kon

regkry nie.

“Mila, dis Renier. Renier van Jenna.”

“Haai, Renier,” mompel sy met ’n mond wat voel asof dit vol watte

gestop is.

“Ek’s so jammer om jou wakker te maak. Jenna wou eintlik nie hê ek

moet jou nou al bel nie, maar ek was te bekommerd om langer te wag.

Die kontraksies het so tienuur begin. Ons het eers gedink dis dalk ’n

vals alarm, toe gaan klim Jenna maar in die bad soos jy gesê het sy

moet maak as sy vermoed dinge begin gebeur. Maar die pyne het nie

weggegaan nie, net erger geword.”

Mila dwing haarself om opgeruimd te klink. Renier klink na ’n

senuwrak en sy wil hom graag gerusstel.

“Dis wonderlike nuus, Renier! Hoe gereeld kom die kontraksies en

hoe lank hou hulle aan?”

“Hulle was van die begin af gereeld. Hulle kom so elke drie minute en

hou vir amper ’n minuut aan. Hulle is seer ook, as een begin, kan

Jenna nie praat nie. Dis hoekom ek maar bel.”

Mila sug innerlik. Sy’t gehoop Jenna is in vroeë kraam, dat sy nog ’n

paar uur kan slaap voordat sy hospitaal toe moet ry. Maar rus is haar

duidelik nie vannag beskore nie.

“Nou maar goed, Renier, ek dink dis tyd dat ons mekaar by die

geboorte-eenheid kry. Ek sal binne ’n driekwartier daar wees.”

Mila bel haastig haar ma om by Melissa te kom bly. Sy voel skuldig

toe Heleen vakerig antwoord. Die laaste paar dae was seker vir haar ma

ewe uitputtend. Sy stort blitsig en trek haar donkerblou uniform aan.

Die strate is verlate toe Mila uit haar woonbuurt draai, amper

spookagtig. ’n Mistigheid slaan wasig op vanaf die teer. Mila wonder

hoeveel keer sy hierdie paadjie al laatnag gery het op pad na ’n

geboorte toe – en hoeveel keer sy dit nog gaan ry. Wrewel kom lê vlak

in haar keel toe sy dink aan die man wat haar droom wil wegvat. Haar

hande klem die stuurwiel stywer vas.

Toe sy haar ma verbitterd vertel het wat Derek met haar eenheid

beoog, het dié op haar gematigde manier geantwoord: “My kind, ek glo

dat die lewe altyd ’n venster iewers oopmaak as ’n deur in jou gesig

toegeklap het. Soek jy maar daardie venster.”

Maar Mila is geensins van plan om sommerso handdoek in te gooi en

deur vensters te begin klouter nie. Sy glo die deur is nog op ’n skreef

oop: Solank haar eenheid bestaan, sal sy aanhou baklei. Sy haal ’n

paar keer diep asem en probeer doelbewus om alle kommer oor die

toekoms – en gedagtes van wraaksug teenoor haar blouoog-buurman –

opsy te skuif. Wanneer sy by die kraamkamer instap, mag niks haar

aandag aftrek nie.

Toe Mila voor die geboorte-eenheid stilhou, is sy verlig om te sien dat

Renier en Jenna nog nie daar is nie. Sy hou nie van die idee dat ’n

pasiënt in sterk kraam buite in die motor vir haar moet sit en wag nie.

Haastig sluit sy die geboutjie oop. Sy skakel die dowwe ligte aan en

begin die bad vol tap, steek kerse aan en kies strelende musiek. In die

kombuisie draai sy handdoeke om ’n warmwatersak vir die baba, later.

Sy maak ’n plastiekdrinkglas vol yskoue water en sit dit op die

badrand neer vir Jenna.

Toe motorligte voor die venster verbyswiep, stap Mila buitentoe om

die Odendaals te ontmoet. Renier maak die motordeur vir Jenna oop en

help haar uit. Mila lei haar pasiënt binnetoe terwyl Renier hul sakke uit

die kattebak haal. Hulle haal nie die kraamkamer voordat nog ’n

kontraksie Jenna beetpak nie. Die rooikopvrou gryp haar buik met een

hand vas en klou krampagtig met die ander aan die sekuriteitshek om

regop te bly. Mila glip agter haar in en begin haar rug met

sirkelbewegings masseer.

“Pragtig, Jenna,” prys sy.“Jy’s so sterk! Ek