اصلی Ikarus

Ikarus

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟

Op 17 Desember spoel die lyk van Ernst Richter oop in die duine anderkant Parklands – dié Ernst Richter, berugte internet-entrepreneur, baas van die omstrede webwerf Alibi.co.za, wat ’n maand gelede so onverklaarbaar en sensasioneel verdwyn het. Selfs in normale omstandighede sou die Valke Bennie Griessel en Vaughn Cupido gesukkel het – by Alibi.co.za lieg almal soos tannetrekkers. Maar die omstandighede is nie normaal nie. Want Griessel het weer aan die suip gegaan. En Cupido is verlief. Op een van die verdagtes. En op 24 Desember begin ’n jong wynboer bieg voor ’n advokaat in Kaapstad,
wat die hele saak op sy kop keer. Kersfees sal nooit weer dieselfde wees nie.

درجه (قاطیغوری(:
کال:
2015
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780798169783
ISBN:
B00U03B8A8
فایل:
کاپی کول (pdf, 142 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie2349
het2062
van1514
dit1223
wat1132
vir1073
toe730
gaan588
hom574
haar552
maar546
kan484
ons457
dis443
net442
jou415
daar380
moet367
weet350
aan328
nou326
oor323
dat311
kom288
dan283
een281
sal279
uit269
hoe265
wil252
nog251
dink248
maak245
vra236
baie231
sien227
twee216
kyk211
deur200
voor199
soos194
hier188
weer186
kry186
werk173
ook162
wees161
daai158
laat157
doen157
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Karoonag en ander verhale

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
فایل:
PDF, 800 KB
0 / 0
2

13 UUR

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
فایل:
0 / 0
DEON MEYER

IKARUS
Human & Rousseau

Les ennemis du vin sont ceux qui ne le connaissent pas.
(“Die vyande van wyn is hulle wat dit nie ken nie.”)
– Aanhaling toegeskryf aan beide “prof. Dr. Sellier, Journal de Mèdicine”,
volgens Boland, wynland (Vlok Delport, Nasionale Boekhandel, 1955),
en “Professeur Portman” (http://www.alpes-flaveurs.com),
vermoedelik prof. Michel Portmann, ’n medikus van Bordeaux.

____________
In clinical settings, some depressed people demonstrate a high proneness
to survivor guilt, that is, guilt over surviving the death of a loved one,
or guilt about being better off than others.
– “Guilt, fear, submission, and empathy in depression”.
Lynn E. O’Connor, Jack W. Berry, Joseph Weiss, Paul Gilbert
in Journal of Affective Disorders 71 (2002) 19–27.

1

Dit is ’n komplot tussen hemel en aarde wat Ernst Richter se lyk ontbloot.
Asof die heelal saamsweer om geregtigheid ’n hupstoot te gee.
Eers is daar die storm van 17 Desember, net ná agt die oggend. Dit is
seldsaam, maar nie hoogs uitsonderlik nie, gebaar deur ’n verstote
afsnylaagdruk: ’n blouswart, kolkende monster wat indonder van oor die
Atlantiese Oseaan net noord van Robbeneiland.
Die wolkmassa slaan skouspelagtige wit vurktonge af na see en land. Dit
sleep ’n digte reëngordyn saam, wat in minder as ’n halfuur 71 mm oor
Bloubergstrand en Parklands, Killarney Gardens en Zeezicht uitstort.
Daar is vloedskade en verkeerschaos. Die hoofstroom- en sosiale media sal
die groot A-woord ademloos ophaal. Aardverwarming.
Maar met die oopspoel van die liggaam is die aarde se bydrae meer beskeie;
bloot die kontoere van die veld anderkant Blouberg, waar die suidooster soos
’n blinde beeldhouer die duine gevorm het om die stortvloed so toevallig te
kanaliseer. Dit kalwe Ernst Richter se voete oop, die een kaal en tragies, aan
die ander ’n swart sokkie, halfmas en komies.
Die laaste skakel in die kousale ketting is die noodlot, wat die nege-entwintigjarige kameraman Craig Bannister teen 11:17 daar naby laat stilhou,
langs Otto du Plessis-ry; laan, die kuspad tussen Blouberg en Melkbosstrand.
Hy klim uit sy voertuig en meet die weer. Die winde het grootliks gaan lê, die
wolke is aan’t verbrokkel. Hy wil sy nuwe radiobeheerde robotvliegtuig
toets, die DJI Phantom 2 Vision+ met ’n gestabiliseerde hoëresolusievideokamera. Die Phantom, ’n sogenaamde kwadkopter, is ’n tegnologie-

wonderwerk in die kleine. Dit is toegerus met GPS en ’n wifi-verbinding wat
Bannister toelaat om sy iPhone aan die kamera te koppel. Hy kan die video
op sy foon se skerm sien, net millisekondes nadat sy Phantom dit daar bo uit
die lug uit opgeneem het.
Hier net ná 11:31 frons Bannister vir die vreemde beeld en hy manipuleer
die Phantom om laer en nader te vlieg. Hy laat dit hang, net ’n meter bo die
verskynsel, tot hy seker is.
Sand, swart plastiek, en voete. Duidelik.
Hy kyk op van die iPhone om te bepaal presies waar die Phantom sweef en
begin haastig daarheen stap. Asof die videobeeld ’n fiktiewe maaksel is, soos
’n TV-drama. Hy volg ’n kronkelroete tussen plantegroei deur, op en af oor
die sanddeinings. Eers toe hy oor die laaste helling kom, sien hy dit
eerstehands. Hy stap nader, maak ’n eensame ry spore in die reëngestrykte
sand.
Die voete steek uit onder die dik swart plastiek waarin daar klaarblyklik ’n
liggaam opgerol is. Die res is nog onder die sand.
“Shit,” sê Craig Bannister.
Hy reik na sy foon, wat aan die beheerradio vasgeklem is. Dan besef hy die
Phantom hang steeds ’n meter bo die grond, besig om alles op video vas te lê.
Hy laat die kwadkopter land en sit alles af. Dan maak hy die oproep.
***
Om 13:14, in die Ocean Basket in Kloofstraat, lui speurder-kaptein Bennie
Griessel se foon. Hy kyk na die skerm en sien dit is majoor Mbali Kaleni wat
bel. Sy nuwe bevelvoerder by die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke – ook bekend as die Valke – se Geweldsmisdaadgroep. Dit is vir
hom ’n potensiële uitkoms. Daarom antwoord hy haastig, met vae hoop.
“Bennie, I am sorry to interrupt your lunch …”

“It’s not a problem,” sê hy.
“I need you in Edgemead. Farmersfield Road. Vaughn is on his way too.”
“I’ll be there in twenty minutes.”
“Please apologise to your family,” sê sy, want sy weet van die “spesiale ete”
wat Alexa Barnard, die liefde in Griessel se lewe, gereël het.
“I will.”
Hy lui af. Alexa, Carla en die Van Eck-kêreltjie het die gesprek gehoor.
Hulle kyk na hom. Sy seun Fritz se neus is steeds teen sy selfoon.
“Ai, Pappa,” sê Carla met begrip én teleurstelling.
Alexa neem sy hand en druk dit simpatiek.
“Ek is jammer,” sê Bennie en staan op. Hy voel die vae pyn in sy buik en
arm. Nie meer so erg soos vanoggend nie. “Ek moet Edgemead toe.”
“Groot moord?” vra die Van Eck-kêreltjie. Hy is Carla se nuwe “vriend”.
Hy lyk soos Liewe Jesus met sy skouerlengte hare en yl baard.
Griessel ignoreer hom. Hy haal sy beursie uit, dan sy kredietkaart. Hy gee
die kaart vir Alexa. Hy is verlig toe sy knik en dit vat. “Gee my net ’n soen,”
sê sy. “My baasspeurder.”
***
In die duineveld oos van Otto du Plessis-rylaan grawe hulle die lyk van Ernst
Richter versigtig uit, terwyl die wind vir ’n paar minute ruk en stoot en weer
gaan lê en die son agter die vet wolke uitkom, meteens warm en verblindend
helder in die weerkaatsing van die duineveld en die nog onstuimige
Atlantiese Oseaan.
Die SAPD se video-eenheid het teen 13:32 hulle opnames gedoen en
Forensies is besig om die sand om die liggaam versigtig op te skep en in
gemerkte plastieksakke te plaas.
Speurder-adjudant Jamie Keyter van Table View is die man in bevel. Hy het

die area binne tien meter om die vonds met geel misdaadband laat afkamp.
Hy het twee uniforms aangesê om die verkeer in Otto du Plessis-rylaan te
beheer en nuuskieriges weg te hou. Met die agterdogtige, vaag-beskuldigende
stemtoon wat hy vir sulke geleenthede reserveer, het hy vir Craig Bannister
deeglik ondervra.
“Why did you come and test your little aeroplane here, hey?”
“There’s no law against it.”
“I know that. But why didn’t you go to the place up there by the Vlei, where
they fly the little aeroplanes?”
“That’s for the radio control hobbyists.”
“So?”
“Look, I just got this thing. I’m a professional DOP. This is a …”
“What is a DOP?”
“Director of photography. I work on TV and film productions. This is the
latest technology in camera movement. A drone with an HD camera. I need
to practise with it without dodging a hundred little aeroplanes.”
“Do you have a licence for it?”
“A licence? Nobody needs a licence for a little drone.”
“So you just stopped here?”
“That’s right.”
“Big coincidence.” Jamie Keyter op sy ironiese beste.
“What are you saying?”
“I’m not saying anything, I’m asking.”
“Look, I drove until I found a spot with a nice view,” sê Bannister met groot
geduld. “The road, the sea, the mountain, just take a look. That’s pretty
spectacular. I needed to practise flying the thing, but I wanted to test the
camera too. On something worthwhile. Like this scenery.”
Jamie Keyter het sy Ferrari-sonbril van sy neus afgelig om vir Bannister die
ek-sien-deur-jou-kyk te gee.

Die man het net ongemaklik gestaan en wag.
“So you have everything on video?” het Keyter eindelik gevra.
“Yes.”
“Show me.”
Toe kyk hulle saam op die selfoon na die video. Twee keer. “Okay,” het
Keyter gesê, en vir Bannister beveel om by sy kar te gaan wag. Die adjudant
het sy Ferrari-sonbril weer op sy neus geplaas.
In die swart Polo-gholfhemp wat sy bollende biseps ten beste vertoon, en sy
swart Edgars-chino met die swart leergordel, hande op die heupe, kyk hy nou
na die twee voete wat onder die plastiek uitsteek.
Hy is ingenome met homself. Die voete, ondanks die nadoodse verkleuring,
is duidelik dié van ’n witte. Dit beteken media-aandag.
Jamie Keyter hou van media-aandag.
***
Bennie Griessel, ses-en-veertig jaar oud, rehabiliterende alkoholis,
seshonderd-en-twee dae op die waterkar, sit en staar deur die voorruit van sy
motor, vasgevang in die verkeer van Buitengracht.
Gewoonlik haat hy Desembers.
Gewoonlik sal hy met ’n geprewelde “jissis” dié malhuis van
vakansiegangers verwens, veral die fokken Gautengers wat met hul vet
beursies in blinknuwe BMW’s so vinnig moontlik afjaag Kaap toe om die
Krismis-bonus hier te kom blaas. Met ’n houding van ons-sal-Slaapstadwakker-skud. En die totale bevolking van die Kaap se noordelike voorstede
wat hul inhibisies by die huis los en strande toe stroom. Saam met die
Europeërs wat vlug vir die koue.
Gewoonlik sal hy die gevolge van hierdie oorname wrewelrig oordink: Jy
kry nie parkering nie, die verkeer stink, alles se pryse styg en die

misdaadsyfer klim met minstens twaalf persent, want almal suip soos visse en
dan kom al die verkeerde goed los.
Gewoonlik. Maar nie hierdie jaar nie. Want die benouing is in hom en oor
hom en om hom. Soos ’n mistroostige wolk. Al weer. Nog steeds.
Die verligting van sy ontsnapping uit die Ocean Basket het verdamp. Op
pad kar toe het die swaarmoed in Mbali se stem tot hom deurgedring. Die
gedemptheid, die ontsteltenis, versterk deur haar poging om dit te verbloem.
In skrille kontras met die positiwiteit wat sy die afgelope twee maande as
groepbevelvoerder probeer uitstraal het.
I need you in Edgemead. Farmersfield Road. Vaughn is on his way too.
Daar wag dus onheil. En hy sien nie meer kans vir onheil nie.
Daarom is die Desember-malhuis en die trae verkeer nie vandag ’n doring in
sy vlees nie, maar ’n seën.
***
Die forensiese span het die lengte van Ernst Richter se lyk ontbloot.
Adjudant Jamie Keyter laat die videospan weer nader kom sodat hulle dit
kan vaslê: die dik swart plastiek wat om die liggaam gerol is, net nie lank
genoeg om die voete te kon bedek nie. En die bloedrooi koord waarmee dit
deeglik vasgewoel is – bo by die kop, om die middel en om die enkels.
Keyter het die koerantfotograaf gesien wat met sy lang lens van Otto du
Plessis-rylaan af foto’s probeer neem. Daarom staan hy nou wydsbeen, hande
op die heupe: die toonbeeld van ’n speurder in beheer van sy misdaadtoneel.
Hy hou die videospan dop tot hy tevrede is dat die opname al die toepaslike
hoeke dek.
“Okay,” sê hy. “Kom julle uit.” En dan vir Forensies, met ’n gebiedende
handgebaar: “Sny hom oop.”
Die twee forensiese analiste kies die regte instrumente uit hul

toerustingkaste, lig die misdaadband en gaan kniel by die slagoffer. Die een
sny die rooi koord versigtig los. Die ander neem die koord en plaas dit in ’n
bewysstuksakkie.
Jamie Keyter klim nou self onder die geel band deur en stap tot by die
liggaam. “Kom ons rol hom oop.”
Dit neem amper tien minute, want hulle moet versigtig werk en die enkele
stuk swart plastiek is eindeloos lank. Die forensiese mense vou elke twee
meter van die plastiek weer versigtig op om kontaminasie te probeer beperk.
Die uniforms, die video-eenheid, die twee speurder-konstabels en die
ambulansmense staan nuuskierig nader.
En dan is die liggaam ontbloot.
“Hy lê nog nie lank nie,” sê die een forensiese analis, want daar is relatief
min tekens van ontbinding, net algemene verdonkering van die vel, die
bloupers netwerk van livor mortis sigbaar aan die voete en onderkant van die
nek, en die sandkorrels wat van kop tot tone aan die lyk kleef.
Dit is ’n skraal man van gemiddelde lengte met dik, donkerbruin hare,
geklee in ’n blou denim en ’n swart T-hemp met die woorde I refuse to
engage in a battle of wits with an unarmed person in groot wit letters daarop.
“Dalk ’n week of so,” sê die ander een, en dink die slagoffer se gesig lyk
vaagweg bekend, maar hy kan dit nie op die oomblik plaas nie. Hy onderdruk
die impuls om iets daaroor te sê.
Dit is die naaste wat iemand daaraan kom om op die misdaadtoneel vir
Ernst Richter te herken.
“Hy’s met iets verwurg,” sê die ander forensiese analis, en wys na die diep
verkleuring wat soos ’n ring om die keel loop.
“Obviously,” sê Jamie Keyter.

2

Farmersfieldstraat is stil op dié Woensdagmiddag, middelklas, rye wit en
roomkleurige drieslaapkamer-ontwikkelaarshuise met teëldakke en netjiese
grasperke. Die oggend se storm het ’n spoor van takke en blare in die straat
gelaat.
Griessel hoef nie te soek na die adres nie. Hy sien die bure in klein, verslae
groepies oorkant staan, ’n klomp polisievoertuie op ’n bondel. Hy parkeer op
die sypaadjie, vyftig meter weg. Hy bly sit met sy hande op die stuurwiel, sy
oë neergeslaan.
Hy is nie lus om uit te klim nie.
Iets het gebeur om die normaliteit van voorstedelike Edgemead te versteur.
En hy weet dit gaan die benouing van die afgelope maande vererger. PCSI,
die elite Provinsiale Misdaadtoneel-ondersoekeenheid, se bussie staan ook
daar. Wat maak hulle hier? En hoekom is hy en Vaughn van die Valke af
ingeroep?
Hy haal diep asem en laat die stuurwiel stadig los, klim traag uit. Hy loop.
’n Wit muur versper sy uitsig, sodat hy eers moet omstap na die oprit waar
’n konstabel toegang beheer.
Die huis lyk soos die meeste van die ander in die straat. Daar is nog SAPDmense in uniform voor die deur, in ’n kring, koppe omlaag.
Die konstabel keer hom met ’n verbiedende handpalm. Hy wys sy
eieningskaart.
Die oë meteens groot: “O, kaptein Griessel. Kaptein Cupido het gevra dat jy
net hier wag. Ek laat hom gou roep …”

“Vir wat?” vra Bennie, en stap om die man.
“Nee, kaptein, asseblief.” Benoud. “Hy’t my beveel. Ek moet hom laat
roep.”
“Nou roep hom.” Hy het nie lus vir Vaughn se streke nie.
Die konstabel vra luidkeels vir die uniforms voor die deur om “die Valkekaptein” te laat kom. Een van hulle draf haastig na binne.
Griessel wag ongeduldig.
Cupido kom uit, haastig in sy Hawk-in-Protest-uitrusting – denim, geel Themp, blou baadjie, en die skril stelling van die geel-en-oranje drafskoene,
wat hy gisteroggend met groot geesdrif verduidelik het: “Nike Air Pegasus
Plus, pappie, almost a thousand bucks regular price, ma’ Tekkie Town het ’n
sale gehad. Cool comfort in technicolour, it’s like walking on air in a wet
dream. Haal die ‘werk’ uit ‘voetwerk’, every time. Ma’ die eintlike bonus is
lat dié sneakers vir major Mbali heavy gaan afpis.”
Vaughn betoog die afgelope week of wat teen “major Mbali” (die nuwe
rang elke keer ironies beklemtoon) se edik van netheid. Kaleni het die vorige
Maandagoggend tydens ’n groepvergadering plegtig gesê: “If you want to be
professional, you have to look professional. We have a responsibility to the
DPMO and to the public.” En het hulle toe gevra om das en baadjie en
“formal shoes” aan te trek. Of dan minstens ’n hemp met ’n kraag en ’n
baadjie. Wat die laaste strooi was vir Cupido, want hy het al klaar baie swaar
gesluk aan haar aanstelling as groephoof: “Jy dink dis ’n coincidence, so ná
die laaste election? I don’t think so. Oorlat sy ’n Zoeloe is, ethnic affirmative
action, dis Zuma time all the time, Benna. Ek én jy het meer experience, meer
jare diens, meer savvy. En sý kry die promotion?”
Griessel het geweet die probleem is eintlik Cupido se diepe bekommernis
dat die nuwe bevelvoerder nie sy streke gaan duld nie. Mbali is nougeset en
konserwatief; Vaughn is nié. Toe sê hy sy is die regte mens vir die pos, in die
omstandighede.

Dit het nie ’n verskil gemaak nie.
Ondanks sy haas en die vrolike uitrusting is Cupido se gesig somber terwyl
hy aangestap kom.
“Benna, dis nie nodig dat jy ingaan nie. Our work here is done.”
Griessel kan die toon in sy kollega se stem hoor, die aangeplakte
saaklikheid wat ontsteltenis wegsteek.
“Ek het nie al die pad gery om … Wat gaan aan, Vaughn? Wat het hier
gebeur?”
“Trust my, Benna, asseblief. Dis ’n open and shut, kom ons loop.” Cupido
plaas sy hand paaiend op Griessel se skouer.
Bennie voel die humeur in hom opstoot. Wat gaan aan met Cupido? Hy trek
sy skouer weg. “Gaan jy my sê wat aangaan, of moet ek gaan kyk?”
“Benna, for once in your life, trust me,” sê hy met ’n desperaatheid wat
Griessel se agterdog net verder aanblaas.
“Jissis,” sê Griessel en begin voordeur toe stap.
“Dis Vollie,” sê Cupido.
Griessel steek vas. “Vollie?”
“Ja. Onse Vollie. Vollie Vis. En sy family.”
Adjudant Tertius van Vollenhoven, wat saam met hulle al twee gewerk het,
destyds toe die Provinsiale Speurtak nog bestaan het. Vollie, wat sy Weskussêgoed spaarsamig en droog in sy Namakwaland-aksent opgedis het wanneer
die nag te lank en die moreel te laag was. Vollie Vis, die boorling van
Lambertsbaai wat naweke teruggegaan het en Maandae vir die hele span
seekos gebring het. Met presiese instruksies vir die gaarmaak, want “om ’n
krefie op te fok is heiligskennis, kollega”. Die man wat in die bestek van vier
jaar twee reeksmoordenaars op die Kaapse Vlakte vasgetrek het. Met
eindelose geduld en toewyding. En toe loop hy, Bothasigstasie toe. Hy het
gesê hy het sy deel gedoen en hy soek ’n rustiger lewe – hy wil sy huwelik
red, sy kinders sien grootword. Maar almal het geweet dit was die trauma van

die ondersoeke, die maand ná maand by nog ’n verminkte slagoffer se lyk
staan, wetend dat net ’n bietjie geluk die monsters kan keer, al doen jy wat.
Die ou onreg ontwaak in Griessel, die wrewel vir hulle wat verantwoordelik
was.
“Huisroof?”
“Nee, Benna …”
“Wat het gebeur, Vaughn?”
Cupido se stem is amper onhoorbaar. Hy kan nie vir Griessel in die oë kyk
nie. “Vollie het hulle geskiet, laas nag, en toe vir homself.”
“Vollie?”
“Ja, Benna.”
Hy onthou die twee oulike dogters, vroeë tienerjare, en Vollie se vrou,
mollig, sterk, ondersteunend. Mercia of Tersia … Hy wil keer, hy wil dit nie
in sy kop sien nie – Vollie met sy dienspistool by ’n kind se bed.
“Here, Vaughn,” sê hy en voel hoe die engte terugkom, versmorend.
“Ek weet.”
Griessel wil aanhou praat, hy wil van die drukking ontsnap. “Maar hoekom?
Wat het gebeur?”
Cupido beduie na die uniforms voor die deur. “Bothasig-stasie het gister ’n
meisie gekry, in die veld onderkant Richwood. Die tweede een. Selfde M.O.
as ’n moord ’n maand gelede. Dis ’n serial. Bad stuff, Benna, very sick
fucker. Vollie was daar.”
Griessel sit alles bymekaar, sy hand op sy agterkop. Hy probeer verstaan
wat gebeur het. Al die demone wat teruggekom het om vir Vollie van binne
af op te vreet.
“Kom, Benna. Kom ons loop.”
Griessel staan versteen.
Cupido sien sy kollega is wasbleek. “Benna, dis regtig beter as ons …”
“Wag …” Griessel kyk skerp na Cupido. “Hoekom het Mbali ons laat

kom?”
“Bothasig se S.C. het haar gevra dat ons moet kom kyk. Hy sê hy wou net
seker maak hulle mis nie iets nie, want die media …”
“O.” En dan: “Vir wat wil jy my daar uithou, Vaughn?”
Cupido kyk hom in die oë en tik met ’n wysvinger teen sy slaap. “Want jy’s
nog nie reg nie, Benna. Ek weet dit.”
***
Jamie Keyter en die twee forensiese analiste het elke sak van die slagoffer se
denim noukeurig deursoek. Daar was niks in nie.
Hulle het die liggaam in die groot swart lyfsak geplaas, dit toegerits en die
draagbaar laat kom. Die liggaam is na die ambulans gedra. Forensies het die
swart plastiek en die rooi koord sorgvuldig gemerk en verpak. Die een analis
het die metaalverklikker gaan haal en is nou besig om in konsentriese sirkels
om die misdaadtoneel te stap, oorfone op die kop.
Die ander een staan by Jamie Keyter. Niemand anders is binne hoorafstand
nie. “Ek sweer hy lyk vir my bekend,” sê die analis.
“Obviously. Hy werk saam met jou,” sê Keyter en frons agter die
donkerbril.
“Nie hy nie, die slagoffer.”
“Soos in jy ken hom?”
“Nee, nie kén nie. Net weet van …”
“Soos in ’n celebrity?”
“Ek weet net ek het hom al gesien.”
“Dit help fokkol as jy nie weet wáár nie … Dink jy hy’s ’n poliesman?”
Die analis is nou spyt hy het sy mond oopgemaak. “Nee, ek … Miskien is
ek verkeerd. Miskien lyk hy net soos iemand wat …”
Die een met die metaalverklikker gaan staan. “Hier’s iets,” sê hy. Dis

omtrent drie meter van waar die slagoffer gevind is.
Die ander een vat ’n grafie en klim onderdeur die geel misdaadband. Hy
gebruik sy hande om die sand onder die sensor van die verklikker los te maak
en versigtig weg te skep. Hy kry eers niks.
“Is jy seker?” vra hy vir sy kollega.
“Daar is definitief iets.”
Veertig sentimeter onder die oppervlak voel hy die metaal. Hy werk met sy
vingers om die sand weg te kry. Dan lê dit daar.
“Jis, dis ’n selfoon.”
Hy staan op, gaan haal ’n kwassie uit sy toerustingkas, en kom vee die sand
weg, terwyl Jamie Keyter weer die kameraspan nader roep.
“iPhone five, lyk dit my …” sê die ou van Forensies. Hy druk aan ’n
knoppie op die foon, maar niks gebeur nie. “Dood soos ’n drol.”

3

Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr.
Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin
Victoriastraat 40, Kaapstad
Klanklêer 1
Adv. Susan Peires (SP): … natuurlik kan jy weier. Dan maak ek net
aantekeninge. Maar die opname is ’n veel getrouer rekord, en dit word
met presies dieselfde diskresie gehanteer. Ek laat dit transkribeer, wat
in elk geval dan dien as notas. Die reëls van privilegie geld in alle
gevalle.
Francois du Toit (FdT): Al vat jy nie my saak nie?
SP: Dis reg.
FdT: Wie transkribeer dit?
SP: My sekretaresse, wat ook onderhewig is aan die privilegie.
FdT: Nou goed, neem maar op.
SP: Dankie, meneer Du Toit. Kan jy jou volle name, jou
geboortedatum en jou beroep vir die rekord gee?
FdT: Ek is Francois du Toit, gebore op 20 April 1987. Ek is ’n wynboer
van die plaas Klein Zegen by Stellenbosch … Uit op die
Blaauwklippen-pad.
SP: Jy is nou … sewe-en-twintig?

FdT: Dis reg.
SP: Getroud?
FdT: Ja. Met San … Susanne … Ons het ’n seun van ses weke.
Guillaume.
SP: Dankie. Ek verstaan van jou prokureur dat die polisie op die
oomblik vir jou wag? Op die plaas?
FdT: Ja …
SP: En jy soek advies oor hoe om die saak te hanteer?
FdT: Ja.
SP: Waarmee hou die polisie se ondersoek verband?
FdT: Gustav … my prokureur … Het hy nie vir jou gesê nie?
SP: Ek het afgelei dit is ernstig, maar ek het vir meneer Kemp gevra
om nie detail te gee nie. Ek verkies om dit van die kliënt self te hoor.
FdT: Dit is … dit hou verband met die moord op Ernst Richter.
SP: Die ou wat vermis was? Die Alibi-man?
FdT: Dis reg.
SP: En jy is betrokke daarby?
FdT: Die polisie sou seker nie … Ek is jammer. Dit … Dis ’n lang
storie … Ek moet die hele ding vir jou … Asseblief.
SP: Ek sien … Meneer Du Toit, voor ons verder gaan, kom ek gee jou
die toespraak wat ek vir alle kliënte gee. Ek is nou al agt-en-twintig
jaar lank ’n advokaat, en in dié tyd het ek meer as tweehonderd
mense in kriminele sake verteenwoordig. Moord, manslag,
verkragting, bedrog, noem maar op. My advies is altyd dieselfde, en
die ervaring het oor en oor gewys dis goeie advies: Jy hoef nie met
my eerlik te wees nie, maar dit maak uiteindelik my taak heelwat
makliker. Ek oordeel …
FdT: Ek is van plan om eerlik …
SP: Laat ek net eers klaarmaak, asseblief. Ek is nie hier om jou te

oordeel nie, ek is hier om te verseker dat jy die beste
regsverteenwoordiging kry wat ek kan bied. Ek glo onwrikbaar in ’n
regstelsel waar ’n beskuldigde onskuldig is tot die teendeel bo redelike
twyfel bewys is deur die staat. Een van my grootste
verantwoordelikhede is om die standaard vir redelike twyfel so hoog
moontlik te stel. Ek het al sake aanvaar waar die kliënt vir my gesê het
hy is skuldig, en ek het net so hard vir hom geveg as dié wat hul
onskuld bepleit. Want die stelsel kan net werk as ons almal gelyk is
voor die wet. En ek glo in die stelsel. Dus, ek gee nie om of jy skuldig
is nie …
FdT: (Onhoorbaar.)
SP: Asseblief, meneer Du Toit …
FdT: Noem my Francois …
SP: Nee, ek gaan jou meneer Du Toit noem. Ons is nie vriende nie,
ons is advokaat en kliënt. Dit is ’n amptelike, professionele
verhouding, waarvoor jy baie geld gaan betaal. En waar ek my afstand
en objektiwiteit moet behou. Ek wou sê, ek gee nie om of jy onskuldig
is nie. Dit sal geen verskil maak aan my toewyding of die gehalte van
my werk nie. Ek doen my absolute bes, want dit is waarvoor jy betaal.
Ek kan jou nie dwing om met my eerlik te wees nie, maar ek wil graag
vir jou die implikasies uitstippel. Versweë inligting het ’n manier om uit
te kom. Nie altyd nie, maar dikwels. En wanneer dit op ’n
onsimpatieke tydstip uitkom, kan dit jou verdediging onberekenbare
skade aandoen. Ek kan net in terme van my rol verantwoordelikheid
neem vir dit wat ek weet. Ek kan net jou saak bou en jou verdediging
hanteer op grond van wat jy met my deel. As dit jou keuse is om ’n
fiktiewe weergawe aan my voor te lê, het ek nie ’n keuse nie, ek moet
daarmee werk. Maar na my mening, en gegrond op my ervaring, het
dit feitlik nooit ’n positiewe invloed nie. In kort, meneer Du Toit, hoe

eerliker jy met my is, hoe beter is ons kans om jou uit die tronk te hou.
Verstaan jy dit?
FdT: Ja.
SP: Wil jy eers gaan dink?
FdT: Nee. Ek gaan vir jou alles vertel. Alles.
SP: Nou goed. Waar wil jy begin?

4

Om 15:48 loop Bennie Griessel by die Fireman’s Arms in, volgens legende
die tweede oudste drinkplek in die Kaap, naas die Perseverance Tavern in
Buitenkantstraat.
Die Fireman’s bedien alkoholiste en ander ernstige drinkers al sedert 1864,
wat dit op dié Woensdag van 17 Desember sowat ’n honderd-en-vyftig jaar
oud maak. Griessel gee nie ’n dooie duit om vir die Kaapse suipgeskiedenis
nie. Dit was die beskikbare parkering in Mechaustraat wat hom hier laat
stilhou het.
Hy stap doelgerig tussen die donker houttafels en -sitbanke deur tot by die
lang toonbank, gaan sit en wag om bedien te word. Hy adem die reuke van
die taverne in. Dit maak ’n duisend herinneringe los. Elkeen aangenaam.
Sy arms is op die blad, hy sien die fyn bewing van sy hande. Hy vou hulle
saam, sodat die naderende kroegman dit nie sal opmerk nie.
“Dubbel Jack,” sê hy.
“Rocks?”
“Nee, dankie.”
Die kroegman knik en gaan skink. Kom aan met die bonkige glas, twee
vingers se amber, meganies en geoefend, onbewus van die gewydheid van die
oomblik.
Griessel huiwer nie. Hy dink nie aan die seshonderd-en-twee dae sonder
alkohol wat agter hom lê nie. Hy neem die drankie en hy teug, diep.
Die smaak is ’n lang verlore vriend, die reünie ’n vreugde.
Maar dit doen nog niks aan sy binneste nie.

Hy weet die troos is nie in die eerste sluk nie. Dít, en die verdowing en die
kalmte en die sin en die heling en die versagting en die balans en die orde en
daardie eenwording met die heelal, kom eers later, hier teen die einde van die
tweede goddelike glas.
***
Die Suid-Afrikaanse Polisie se forensiese wetenskaplaboratorium is sedert
2011 in Silwerboomlaan, Plattekloof, gesetel, meer as 17 000 vierkante meter
van indrukwekkende staal en glas. Die ruggraat van die gebou is ’n massiewe
hoofletter C, vier verdiepings hoog, met vyf bonkige arms wat daaruit vloei –
een elk vir die afdelings Ballistiek, DNS-analise, Wetenskaplike Analise,
Dokument-analise, en Chemiese Analise.
Dit is in die kombuis van die Afdeling vir Wetenskaplike Analise, terwyl hy
besig is om koffie in ’n beker te skink, dat die forensiese analis meteens besef
aan wie die sandbespikkelde gesig van die lyk uit die duine anderkant
Bloubergstrand hom herinner.
Kan dit wees?
Hy sê niks vir sy kollega nie, stap net haastig na sy werkstasie, plaas die
koffie langs die toetsbord neer en google ’n naam.
Hy klik op ’n skakel, sien die foto wat laai. Hy weet hy het nie ’n fout
gemaak nie. Hy soek in sy aantekeninge van die dag na adjudant Keyter se
selnommer en skakel dit.
“Jamie,” antwoord die speurder, asof hy nie daarvan hou om gepla te word
nie. Hy spreek sy naam “Jaa-mie” uit, nie die Engelse “Djy-mie” nie. Die
analis vind dit vaagweg aansitterig en irriterend, soos die man self.
Hy identifiseer homself en sê: “Ek dink … Ek is redelik seker die slagoffer
is Ernst Richter.”
“Wie’s Ernst Richter?” wil Jamie Keyter weet.

“Die ou van Alibi wat vermis was.”
Keyter is ’n oomblik lank stil, antwoord dan met groot irritasie: “Ek het nie
’n clue van wie jy praat nie, pêl.”
“Dan beter jy Stellenbosch-stasie bel.”
***
Griessel sit met albei hande om sy tweede dop.
Dit is sy vakansie dié, dink hy. Hy’t niks meer nodig nie. Nou kan Mbali
haar nonsens los.
Sy het Maandag sy personeellêer onder oë gehad: “You haven’t had a
holiday in three years, Bennie,” het sy besorgd gesê.
“I had more than three months of sick leave after …” Hulle het al twee
geweet hy verwys na die skietvoorval waarin haar voorganger dood is, en
Griessel gewond is.
“That doesn’t count. I want you to take a break between Christmas and New
Year. You need to have a real holiday …”
’n “Real holiday”? Al waarvoor hy geld het, is om by die huis te gaan sit, en
dit gaan hom binne ’n dag van sy sinne af dryf.
“… and spend time with your loved ones.”
Dit was Kaleni se troefkaart.
Sy loved ones.
Voor Mbali hom vanmiddag gebel het, het hy twintig minute lank daar in
die Ocean Basket by sy loved ones gesit. Sy dogter Carla en sy vriendin en
houvrou Alexa het onophoudelik gesels oor kunste-goed wat hy niks van
weet nie. Sy seun Fritz het met sy selfoon gesit, vingers wat dans, en kortkort ’n geheimsinnige laggie gegee as ’n nuwe SMS of WhatsApp of
Facebook of Twitter of BBM, of wat dit ook al is wat nou ín is, die foon se
klokkies laat lui. Asof sy pa nie bestaan nie. Asof dié nie ’n spesiale ete is

wat Alexa met groot moeite gekoördineer het nie. Fritz, vir wie hy ’n fortuin
moet betaal sodat hy aanstaande jaar filmskool toe kan gaan. Nie ’n
figuurlike fortuin nie, ’n letterlike een, want AFDA vra R5 950 net vir
registrasie. En R10 000 se inskrywingsgeld. En R55 995 se kursusgelde. Vir
één jaar. Hy ken die bedrae, hy kan hulle in die middel van die fokken nag
opsê, want hy moes dit vir sy bankbestuurder gaan voorlê. En toe dink die
bank amper ’n maand lank voor hulle die lening toestaan.
En Fritz het geen waardering daarvoor nie, hy lê op sy selfoon tydens die
spesiale ete, en Griessel weet nie wat om te doen nie.
Al twee sy kinders het ’n baie beter verhouding met Anna. Hy hoor hulle
soms met sy eks oor die telefoon praat. Gesprekke vol lag en gedeelde
ervarings en binne-inligting.
En hy? Wat moet hý doen? Sy lewe is sy werk, en hy kan nie daaroor praat
nie. Oor sy altruïsme en sy depressie, volgens die shrink.
En die Van Eck-kêreltjie. Carla se nuwe vriend, wat saam met haar drama
studeer op Stellenbosch (teen R29 145 per jaar, wat hy met groot moeite en
spaarsamigheid sonder ’n lening kon hanteer, tot nou toe). Griessel kan Van
Eck nie verdra nie. Hy het al begin wonder of sy dogter se vorige liefde, die
Etzebeth-rugbyspeler, nie ’n beter proposisie was nie. Want Etzebeth het
minstens geweet wanneer om sy bek te hou.
Van Eck is vol praatjies en menings en vrae wat Griessel nie wil
beantwoord nie. “Wat was jou interessantste case? Wat dink jy van die Oscar
verdict? Hoekom is ons crime rate so hoog?”
Nie “oom” nie, dis “jy” en “jou”, want sy haartjies is lank en sy ogies is
skelm en Alexa sê hy’s ’n mooi seun en hy’s “sweet”, en Griessel wil nie
snaaks wees nie, dis Carla se vriend, maar hy het ’n sterk vermoede Van Eck
is ’n bedorwe klein doos.
Vincent van Eck. Hy kan al Vaughn Cupido se reaksie hoor: Watse fokken
naam is dit? Wie noem sy kind Vincent? Met só ’n van?

***
Adjudant Jamie Keyter sit om 16:28 oorkant die swaarbelade lessenaar van
die bevelvoerder van die SAPD se Table View-stasie en vertel vir hom die ou
wat hulle vanmiddag so sorgsaam uit die sand anderkant Blouberg
opgegrawe het, is bes moontlik ’n man met die naam Ernst Richter.
“Dié Ernst Richter?” vra die kolonel met kommer in sy stem.
Keyter wonder hoekom almal behalwe hy al van dié man gehoor het –
miskien moet hy ook die koerante lees selfs wanneer daar nie nuus oor een
van sy eie sake in is nie.
Hy beaam dit, en hy sê Richter is net meer as drie weke gelede as vermis
aangemeld op Stellenbosch. Die haarkleur en gelaatstrekke van die slagoffer
toon ’n baie sterk ooreenkoms met die twee kop-en-skouers-foto’s wat
Stellenbosch-stasie tien minute gelede per e-pos aangestuur het. En boonop
dra die lyk dieselfde klere as wat Richter net voor sy verdwyning aangehad
het.
“Goeie werk,” sê die stasiebevelvoerder ingedagte.
“Dankie, kolonel. Maar nou praat Stellenbosch van jurisdiksie. Ek meen, dis
ons saak, finish en klaar. Is dit nie?”
“Het ons al ’n positiewe identifikasie?”
“Ek gaan nou sy ma bel om te hoor of sy hom kan gaan uitken, kolonel.
Maar hy’s hier in ons gebied gekry. So al wat Stellenbosch nodig het, is ’n
ninety-two om hulle dossier af te sluit …” Keyter se hoopvolle verwysing is
na die SAPD-vorm 92, wat ingevul word nadat ’n vermiste persoon gevind is.
Die bevelvoerder krap die agterkant van sy nek terwyl hy nadink. Hy ken
Jamie Keyter se sterk- en swakpunte. Hy weet die adjudant is dalk nie die
mees verblindende lampie in Table View se speurkandelaar nie, maar hy is
toegewyd, metodies en betroubaar, met ’n paar suksesvolle ondersoeke van
ongekompliseerde moorde op sy kerfstok.

Die groot vraag is: As dit dié Ernst Richter is, sal hy die saak aan Keyter
kan toevertrou?
Die een probleem is Keyter se ambisie. Ná die positiewe publisiteit van ’n
oopgevlekte motordiefstalsindikaat ’n jaar of drie gelede, oorskat Jamie
dikwels sy eie vermoë en potensiaal. En in die Table View-stasie word daar
dikwels geskinder oor sy voorliefde vir die mediakollig (en sy gewoonte om
voor die spieël te talm).
Die ander probleem is werklading. Table View is een van die
snelgroeiendste metropolitaanse gebiede in die Skiereiland. En dié groei is in
die laer middelklas, onder andere duisende immigrante van Nigerië, Somalië,
Malawi en Zimbabwe in die Parklands-gebied, waar amper sestig persent van
die misdaad wat sy stasie moet hanteer, nou gepleeg word. As dit definitief
dié Ernst Richter is, sal hy heelwat mannekrag moet afstaan, want die druk
van die provinsiale kommissaris gaan baie groot wees wanneer die media
kom uitkamp.
Dis mannekrag wat hy nie het nie. En media-aandag wat net Keyter wil hê.
“Jamie, kom ek bel Stellenbosch en hoor wat ek kan doen,” lieg hy.
***
Aan die einde van die derde glas begin Griessel se fisieke pyn wegsyfer. Die
pyn in sy arm en sy buik – die dowwe pyn van die koeëlwonde, ses maande
oud. Toe hulle vir kolonel Zola Nyathi doodgeskiet het, en nie vir Bennie nie.
Vanoggend, aangestook deur die swaar weer, het die pyn weer opgevlam tot
’n kloppende herinnering van alles.
En nou sit hy hier en hy begin die vierde dubbel drink.
Hy’t geweet die suip is naby. Dok Barkhuizen, sy jare lange borg by
Alkoholiste Anoniem, het dit ook sien kom. “Ek ken daai glasige oë, Bennie.
Konfronteer die lus. Wanneer laas was jy by ’n AA-vergadering? Gaan praat

weer met die shrink. Kry jou kop reg.”
En hy wou glad nie terug na die shrink toe nie, want in die eerste plek het
hulle hom gedwing om die berading te vat ná die skietery. In die tweede plek,
hy het die proses voltooi, teen wil en dank. In die derde plek weet
sielkundiges niks, want hulle sit net in hulle kantoortjies wat so irriterend
uitgedos is om verskrikte, onstabiele mense tuis en lekker te laat voel. Met
die boks tissues byderhand, soos ’n belediging, en die teddiebeer teen die
venster.
’n Teddiebeer. By ’n shrink wat polisiemense moet beraad.
En dan is hulle vol groot woorde en boekkennis, maar het hulle al keer op
keer langs ’n verminkte lyk gestaan? Of gelê en kyk hoe die bloed uit jou
spuit en drup en vloei, en jy weet jy gaan vrek, saam met jou kollega? En
daar’s niks wat jy kan doen om hom te red nie.
Sy is ’n aantreklike vrou, die shrink wat hom berading gegee het. Middel
veertigs, nes hy self. Hy’t eers gedink dit gaan okay wees, ondanks die
tissues en die teddie, maar toe begin sy met daardie fokken strelende stem,
asof hy ’n besetene is wat kalm gehou moet word. Sy vra haar vrae, oor sy
hele lewe, sy geskiedenis as speurder. En sy luister aandagtig, haar fokus is
so volkome, en sy beaam alles so mensliewend en sê sy verstaan. En ná vier
weke sê sy vir hom hy het posttraumatiese stres. En oorlewingskuld. En dis
sy altruïsme en depressie wat hom laat suip.
Hy was nie heeltemal seker wat “altruïsme” beteken nie.
“Dit is omgee vir ander,” het sy gesê. “In só ’n mate dat jy iets opoffer vir
hulle, sonder enige verwagting van beloning of voordeel.”
“Dís hoekom ek drink?”
“Dis ’n stukkie van die legkaart, kaptein. Die gewilde interpretasie van
depressie, in ’n neutedop natuurlik, was dat mense by wie dit manifesteer,
geen sinvolle toekoms kan sien nie. Dit is die depressie van selfbelang en
kommer oor status. Maar die meer onlangse navorsing wys daar is ook ’n

ander soort depressie – dié waar mense verskriklik skuldig voel en ’n baie
hoë mate van empatie het vir die noodlot van ander. Hul altruïsme is só sterk
dat hulle patogeniese gewaarwordings ervaar, waarin hulle hulself as ’n
gevaar vir die mense naby aan hulself beskou. Ek vermoed dit is waarop ons
moet fokus.”
Griessel het nie daarvan gehou nie. Depressielyers is mense wat soos
zombies rondloop, kop omlaag, en diep en donker dinge dink, soos om hulle
polse te sny. En dis nie iets wat hy al oorweeg het nie. Toe verwerp hy die
twak wat sy praat, maar uit ordentlikheid het hy sy kop net ligweg geskud.
Toe sê sy met daardie paaiende stem: “Alles wat jy my vertel het, dui
daarop. Nie net die voorval waarin jou kolonel geskiet is nie. Elke keer as jy
op ’n moordtoneel kom, is daar ’n gevoel van aandadigheid, dat jy dit moes
voorkom het. Dit is nie uitsonderlik in jou beroep nie. Maar die groot faktor
is die feit dat jy begin verantwoordelik voel vir al jou geliefdes, jy ontwikkel
’n onnatuurlike drang om hulle te beskerm teen die euwels wat jy op ’n
daaglikse basis ervaar. Op ’n sekere vlak besef jy dit is onmoontlik. Ons moet
gaan verken of dit nie die depressie en drinkgewoontes veroorsaak nie.”
Gaan verken. Fok. Asof hy ’n wildernis is.
Hy sit by die kroeg en onthou. En hy drink, in die hoop dat hy sal vergeet.
Want Vollie Vis se demone het in Edgemead in sy kop ingevaar.

5

Advokaat Susan Peires se kantoor in Hugenote Kamers het ’n
perfekte uitsig oor die groen uitgestrektheid van die Kompanjiestuin.
Dit is op dié snikwarm dag voor Kersfees ’n drukgang van besoekers.
Soms, wanneer sy ’n saak moet oordink, sal sy die blindings ooptrek
en uitkyk. Dit help haar om haar gedagtes te orden. Maar nou is haar
volle aandag by die jong wynboer Francois du Toit.
Sy sit oorkant hom aan die konferensietafel. Sy luister na elke woord
wat hy sê, sy notuleer in haar kop sy stemtoon, spraakgewoontes en ritmes. Hy sukkel geweldig om aan die praat te kom, maar dit verwag
sy. Sy vergelyk soms haar werk met dié van ’n geneesheer in die
ongevalle-afdeling: As hulle hiér inkom, is die trauma ’n gegewe.
Sy weeg Du Toit se liggaamstaal, die gesigsuitdrukkings, die oë wat
nou na haar kyk, dan weer starend na iets teen die muur.
Sy weet sy moet versigtig interpreteer.
Want Peires het as jong advokaat ’n waardevolle professionele les
geleer. Dit was ’n pro Deo-saak, in die laaste, onstuimige jare van
apartheid. ’n Wit munisipale dieselwerktuigkundige wat tereg gestaan
het op aanklag van moord op sy vrou. Die omstandigheidsgetuienis
was sterk – hy is ’n dag voor die moord deur ’n kennis vertel van sy
eggenoot se ontrouheid, daar was bure wat die luide konfrontasierusie gehoor het in die engte van Goodwood se opmekaar-huisies. Hy
het vingernaelmerke op sy wang gehad, en ’n opgeskorte vonnis vir ’n
sewe jaar oue aanrandingsaak. En toe sy hom die eerste keer sien in

die ondervragingskamer van die polisiestasie, het Peires geweet hy is
skuldig. Want die man se gesig was ru, primitief. Onder swaar
wenkbroue het sy oë haar blik leuenagtig ontwyk. Hy was lank en
sterk, met voorhamer-hande. En sy manier was stug, hy was verbaal
lomp en vaag. Peires het saam met die ondersoekende speurders
geglo dat sy alibi – hy’t volgehou hy was by sy ma se huis in Parow
gedurende die moordnag – ’n sameswering tussen moeder en seun
was.
Sy het die ma gaan ondervra. Sy was ’n senuagtige kettingroker wat
geen goeie indruk op die hof sou maak nie. Eers toe Peires vir die
vrou sê daar is ’n baie goeie kans dat haar seun lewenslank tronk toe
sal gaan, het sy huilend en bang beken: Hulle was nie alleen in haar
huis nie. Haar minnaar, ’n offisier van die Suid-Afrikaanse Weermag
se Kaapse Kleurlingkorps, kan ook die alibi bevestig.
En hy het, ’n waardige, welsprekende bruin man met ’n sagte,
besliste stem.
Toe die saak teen die werktuigkundige teruggetrek is en die polisie
se aandag na die slagoffer se getroude skelmpie verskuif het, het sy
haar kliënt gevra of hy só skaam was oor die ras van sy ma se
minnaar dat hy bereid was om tronk toe te gaan.
“Nee,” het hy geantwoord.
“Wou jy jou ma beskerm? Was jy bang die mense praat?”
Hy het sy kop geskud.
“Nou waarom het jy my dan nie gesê nie?”
“Want jy het so ’n kwaai gesig.”
Dit het Susan Peires ontstel. Dat sy, wat haarself as professioneel
maar deernisvol gesien het, as ’n “kwaai vrou” ervaar kan word. Dat
hierdie oënskynlik harde, groot man vir haar bang kon wees oor hoe
sy lyk. Dat die wederkerende invloed van voorkoms hulle al twee se

persepsies van karakter so kon verwring het.
Sy het dit alles lank oordink. Sy het te veel tyd voor die spieël
deurgebring, en stelselmatig en onwillig vrede gemaak met haar
spaarsame gelaatstrekke wat klaarblyklik, kop in een mus met haar
beroep, die rede was waarom sy nog nie ernstige belangstelling van
die manlike geslag geniet het nie. Sy het haar voorkoms met
grimering en klere en ’n rustiger aanslag probeer versag.
Sy het gefilosofeer oor die mens se geneigdheid tot kategorisering
en etikettering op grond van voorkoms, sy het gewonder en
gespekuleer oor die invloed van gelaatstrekke op die vorming van
persoonlikheid, maar bowenal het sy haar voorgeneem om nooit weer
dieselfde fout te maak nie.
Daarom laat sy haar nie beïnvloed deur die feit dat Francois du Toit
’n aantreklike, bruingebrande, welsprekende man is nie. Sy luister en
sy neem waar.
Sy wil haar uitsprake oor eerlikheid of bedrog heeltemal voorbehou.

6

Woensdag 17 Desember. Agt dae voor Kersfees.
Om 17:03 skakel die SAPD-stasiebevelvoerder van Table View-stasie die
Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke se kantoor in Bellville en vra
om met die bevelvoerder te praat.
“Brigadier Manie is nie op die oomblik op kantoor nie, kolonel,” sê sy
sekretaresse.
Die stasiebevelvoerder sug, want dit is daardie tyd van die jaar.
Kerspartytjies en Kersinkopies en Kersetes vir personeel … “Wie is nou hoof
by Geweldsmisdade?”
“Majoor Mbali Kaleni, kolonel.”
Van haar het hy al baie gehoor. Hy onderdruk nog ’n sug. “Kan ek met haar
praat?”
“Hou aan …”
***
Bennie Griessel is in ’n kokon. Hy is onbewus van die mense agter sy rug,
die kroeg wat stelselmatig voller begin word in die laatmiddag. Hy sien nie
die sokkerwedstryde op die groot platskerm-TV’s nie, hoor nie die
geroesemoes van stemme van mededrinkers wat in groepies gesels en lag nie.
Dis net hy en die sesde dubbel Jack, en die dapperheid en wysheid van
dronkenskap.
Hy laat sy kop hang, hy probeer sy dansende gedagtes orden.

Hy het daar by Vaughn Cupido voor die huis in Edgemead gestaan en die
gewaarwording het hom stadig in die hart gesteek, met die mes van insig: Die
shrink was reg.
Adjudant Tertius van Vollenhoven het die verskriklikste, ondenkbaarste,
hartverskeurendste daad gepleeg omdat hy sy geliefdes wou beskerm teen die
hond van onheil wat met sy kwylende bek en sy bloedbelope oë deur die
wêreld loop. Want niemand kan daardie hond keer nie, sy honger word net
groter.
Die shrink was reg – hy wat Bennie Griessel is, suip omdat dit die hond van
sy deur en sy geliefdes af weghou. Die drank is sy skans, die muur wat keer
dat hy nie soos Vollie …
Hy is nog nie dronk genoeg om na daardie plekke toe te gaan nie.
Maar hy sal daar kom. Vanaand nog.
Twee das-en-baadjie-mans in hul dertigs kom skuif langs Griessel in, aan
die lang kroegtoonbank van die Fireman’s Arms. Hulle kyk na hom waar hy
buig oor sy glas. Hulle grinnik smalend.
Hy hou nie daarvan nie.
Sy selfoon lui voor hy vir hulle iets kan sê. Dis Mbali Kaleni, sien hy.
Fok dit. Hy’s op ’n real vacation. Hy en sy vriend Jack.
Hy sluk sy glas leeg en wink vir die kroegman.
***
Majoor Mbali Kaleni sit in haar kantoor en sy bel Bennie Griessel se
selnommer.
Cupido staan anderkant haar lessenaar. Hy moet die blomkool-dampe
inadem en hy dink dis ’n disgrace. Sy’s nou ’n groephoof en haar quarters
ruik só?
Dis oor haar diet. Waarmee sy al glo elf kilo’s verloor het, maar hy kan dit

nie sien nie, sy lyk vir hom nog net so kort en dik soos altyd.
Twee weke terug, toe weet hy nog niks daarvan nie. Hy’t in die gang
afgestap gekom, smullend aan ’n pakkie Speckled Eggs, en Mbali loop verby
en sy sê vir hom met daardie irriterende beterweterigheid: “Prof Tim says
sugar is poison, you know.”
Hy’t dit net laat verbygaan, want ’n argument met Kaleni is soos ’n sumo
wrestling match – jy kry nooit ’n decent grip nie, and afterwards it leaves you
all sweaty and unsatisfied. Maar ’n dag later, toe hy ’n bakkie jogurt vir
ontbyt by sy lessenaar eet, toe’s dit: “Prof Tim says the whole low fat thing is
a fraud.” Hy het dít ook laat slide. Tot die volgende oggend, toe hy met ’n
pakkie Simba-sout-en-asyn by die oggendparade uitloop, en Mbali sê: “Prof
Tim says it’s the carbs that make you fat, you know.” Hy kon dit nie meer
hou nie. Hy maak toe die groot fout en vra hoogs geïrriteerd: “Prof Tim
who?”
En sy vertel vir hom. Alles. Van dié professor Tim Noakes wat eers vir die
hele fokken wêreld laat pasta vreet het, en toe spring hy om en hy sê, nooit,
carbs is wat almal obese maak, en hy skryf ’n boek vol reseppies, en nou’s hy
Mbali se groot hero, “because it takes a great man to admit that he was
wrong”, en sy het al soveel gewig verloor en sy het soveel meer energie, en
dis glad nie so moeilik nie, sy mis nie die carbs nie, want sy eet nou
cauliflower rice en cauliflower mash en flaxseed-brood.
Flaxseed-brood, for fuck’s sake.
Mbali, with the passion of the newly converted, asof hý ook dik is.
Sy koop elke lunchtyd twee koppe blomkool wat in haar kantoor staan en
reuke afgee, en hy mis die dae toe dit hier na KFC geruik het.
Ná ’n ewigheid sê Kaleni: “Bennie isn’t answering.”
Cupido staan oorkant haar lessenaar en hy moet homself inhou. Want hy
weet Griessel antwoord altyd sy foon. En as major Mbali minder bekommerd
was oor haar nuwe diet, en meer gekonsentreer het op haar mense, sou hy nie

nou diep hoef te geworry het oor Bennie nie. Vanmiddag in Edgemead kon
hy die skok en verslaentheid op Griessel se gesig sien. En toe sy kollega daar
weg is, het hy gewonder of hier nie moeilikheid kom nie.
Major Mbali moes nooit vir Bennie soontoe gestuur het nie.
Hy onderdruk sy frustrasie, kyk net na haar.
“I’ve left him a message,” sê sy. “Will you please get started? As soon as he
calls back, I’ll ask him to join you.”
“Yes, major.” Vandat sy groepbevelvoerder is, is sy so vreeslik nice met
hom. Dit ná sy hom in die ou dae nie kon verdra nie. What’s with that? Maar
hy draai net om en hy loop.
“Captain, I have a feeling they are dumping this one on us,” sê sy voor hy
by die deur is. “When you are sure the deceased is definitely the Alibi man,
please involve captain Cloete.”
John Cloete is die Valke se mediaskakelman.
“Okay,” sê Cupido.
“I want you to take JOC.”
Dit vang hom heeltemal onkant, hy’t nooit gedink sy sal hom in beheer
plaas van ’n gesamentlike operasionele bevelvoering nie. “Okay,” sê hy weer,
en hy wonder of hy JOC-leier gekry het net omdat Griessel nie sy selfoon
antwoord nie.
***
Die een das-en-baadjie vertel vir die ander een ’n storie, hier langs Griessel.
Hard genoeg dat hy alles kan hoor. En hy luister, want dit is ’n ontsnapping
van sy eie morbiede gedagtes.
“Noleen sê dis ’n vriendin van ’n vriendin. Nice girl, heel mooi en so …”
“As ’n girl sê ’n ander chick is mooi, is sy gewoonlik nié …”
“Jy weet dan. Dis weird. Anyway, Noleen sê die mooi girl het opgebreek

met haar ou ses maande terug, sy werk by ’n klein besigheidjie, so sy
ontmoet nie baie ouens nie, toe besluit sy sy try internet dating …”
“Bad move …”
“Jy weet dan. Anyway, so laat sy ’n paar foudies neem by ’n pro, check al
die dating sites uit en zoom in op een. Maak ’n profile met die nuwe, nice
foudies, skryf haar likes en dislikes, go live, en die ouens begin haar chaff.
Gaan deur die hele ding, skei die koring van die kaf en begin ná ’n paar weke
met hierdie handsome dude op die site chat. En hoe meer hulle chat, hoe
meer kom sy agter hy’s eintlik cool. So besluit sy, okay, sy sal saam met hom
op ’n date gaan. Baie veilig, ry met haar eie kar, kry hom in ’n restaurant.
Dude kom daar aan en hy’s moerse charming en intelligent, hulle chat ’n
hond uit ’n bos uit, eet lekker, drink ’n wyntjie, sy raak so half verlief. Long
story short, dude loop saam met haar kar toe, en sy gee vir hom die regte
signs en hy soen vir haar. Niks serious nie, net so ’n semi-romantic soen, van
daai wat sê ‘I respect your boundaries on a first date’. En sy scheme, wie’t
gesê internet dating kan nie werk nie? Twee dae later begin sy sulke klein wit
seertjies op haar lippe kry …”
“Fok, broe’ …”
“Jy weet dan. Anyway, sy gaan dokter toe. Dokter sê sy moet nou baie
eerlik met hom wees: Het jy kontak met dooie mense. Jy weet, lyke.”
“Fok!”
“Ek sê jou. Girl sê, glad nie, dokter. Hy vra haar, watse kontak het sy
gehad? Sy dink mooi, en sy vertel hom van die handsome dude. Hy sê,
enigste manier wat jy daai seertjies kan kry, of vir ander mense kan aansteek,
is wanneer jy self kontak het met lyke. Soos in lyke soen …”
“Fokkit, broe’.”
“Jy weet dan. Die dokter sê vir haar, hy sal die polisie moet bel. Sy sê dis
reg. Polisie kom en hulle vra vir haar, sal sy weer saam met die ou op ’n date
gaan, dat hulle die ou kan vang. Sy sê dis reg, en dié keer laat sy die ou vir

haar na sy huis toe vat, met die polisie wat hulle agtervolg. Toe hulle instap,
toe’s dit net SWAT team, en hulle deursoek die plek, en hulle kry drie lyke,
broe’, met die etikette nog so om die tone …”
“Kan jy fokken glo?”
“Dude werk by die lykshuis …”
“Kak,” sê Bennie Griessel. In sy beneweldheid kom dit harder uit as wat hy
bedoel het.
“Wat?” vra die storieverteller.
“Dis ’n kak storie,” sê Griessel. Sy tong sleep met die “s”.
“Hoe sal jý weet?”
“Ek’s ’n poliesman,” kry hy met moeite uit.
“Jy’s fokken dronk,” sê die ander das-en-baadjie.
“Nie dronk genoeg nie. Maar dis ’n kak storie.”
Dan begin sy selfoon lui. Bennie haal dit uit, kyk na die skerm. Vaughn
Cupido. Hy sit die selfoon terug in sy sak.
“Hoekom is dit ’n kak storie?” vra die verteller.
“Artikel vyf-en-twintig van die Stafpos … Strafposes …” Hy sukkel om die
woord te vorm, sê dit afgemete en stadig: “Straf- … proses- … wet. En ons
sal nooit ’n Haas … ’n burgerlisse … bur- … ger- … like …”
“Pêl, jy’s paralytic.”
“Waar’s jou polisie-badge?”
Griessel druk sy hand in sy sak, haal sy beursie uit. Dit neem ’n rukkie. Die
twee das-en-baadjies kyk met groot afkeer na hom. Hy vroetel deur sy
beursie, haal sy SAPD-eieningskaart uit, klap dit op die tafel neer.
Hulle kyk daarna, dan na hom.
“Geen wonder ons crime rate is die hoogste in die fokken wêreld nie,” sê
die verteller.
“Fok jou,” sê Bennie Griessel, “dis nie waar nie.”
“Fok jóú, dronkgat. As jy nie ’n poliesman was nie, het ek jou gemoer.”

“Jy kan nie ’n duik in ’n drol moer nie,” sê Griessel en staan wankelrig op.
Hy slinger, baie onvas op sy voete, tot teen das-en-baadjie.
Die man slaan hom teen sy wang met die vuis. Griessel val.
Die verteller sê vir sy vriend: “Jy’s my getuie – hy’t eerste gestamp.”

7

Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr.
Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin
Victoriastraat 40, Kaapstad
FdT: Ek het vir Richter … Miskien moet ek … Hel, ek het dit nie sien
kom nie. Twee jaar gelede het ek nog oorsee gewerk, ek het nooit
gedink … Mens doen sulke stupid goed en dan dink jy daar’s nie ’n
ander keuse nie. Stres is ’n bliksem … En paniek. Dit was meer
paniek, dink ek, maar as jy in die ding is, as jy nie weet hoe nie, en ’n
ou kom na jou toe …
Hierdie storie … Hoe kan ek …? Dit kom nie van gister af nie, nie
van laas jaar af nie. Hierdie storie … Ek het gedink, nou anderdag, toe
die koerante so vol was van Richter se verdwyning, toe dink ek,
hierdie storie kom van ver af. Van my oupa se tyd af. Hy was Jean du
Toit, die WP-skrumskakel, ek weet nie of jy … Hy’t in 1949 en 1950 …
Maak nie saak nie. Daar’s so baie … Klein Zegen is sewe geslagte
lank in ons familie. Voor ons was dit die Vissers. Die plaas is meer as
driehonderd-en-dertig jaar oud, dis in 1682 geproklameer.
Driehonderd-en-dertig jaar, so baie geskiedenis en swaarkry en harde
werk … Peste … Die wingerdluis van die agttien-negentigs, my
oupagrootjie se pa moes alles uitruk, elke wingerdstok, al ses-ennegentig hektaar … Verlede jaar, toe dink ek, die plaas het ’n soort

vloek op hom, as jy kyk na die geskiedenis …
Ekskuus, gee my net kans, dis op die ou end alles relevant …
SP: Neem jou tyd …
FdT: Ek is regtig jammer. Dis Kerstyd, ek is seker jy wil liewer … jy
weet, by jou familie …
SP: Ek verseker jou, dit is nie ’n probleem nie. Neem jou tyd, gee alles
wat jy dink nuttig kan wees.
FdT: Ek wil net hê jy moet verstaan … Ek soek seker na versagtende
omstandighede. Is dit die regte term?
SP: Dit is.
FdT: Ek wil … Ek bedoel, die storie het gebeur in ’n sekere konteks …
Ek … Dis al wat ek het. My storie. En die hof, ek bedoel, die
regsproses, dit werk op feite. Dié een het dit gedoen, en dáárdie een
het dat gedoen, en dis die hof se eindelike beslissing. Ek dink nie die
reg luister na stories nie. Maar ons stories is belangrik. Ons stories
definieer ons. Ons is die stories, en die produk van ons stories.
Ekskuus … ek weet ek maak nie sin nie. Ek is die leser van die
familie. Ek en my ouma Hettie. En my ma … Ek het ’n verhouding met
stories, ek dink dit het … As mens so baie lees, van kleins af, dan wil
jy hê jou lewe moet soos ’n boek wees, ’n sekere struktuur van stryd
en oorwinning, van chaos tot orde. ’n Einde wat van alles sin maak.
Dis hoekom ek praat van die storie se konteks, want die konteks gee
eindelik die insig. Deel van my konteks is … daardie ding van die
sonde van die vaders … En die eersgebore seun, dis so half Bybels,
die hele …
Daar is twee goed wat jy moet verstaan: Die eerste is die tradisie van
die eersgebore seun wat die plaas erf. Dis seker hoe die meeste plase
in hierdie land werk, dit kom al sewe geslagte lank vir die Du Toits,
van 1776 af. Dit is net hoe dit is. My agter-agter-oupagrootjie het ses

dogters gehad voor daar ’n seun was, hy was al in die veertig voor hy
kon ophou kinders maak, dis ’n tradisie met implikasies, maar wat kan
jy doen?
Ek was die tweedegebore seun …
My oupa Jean het net een seun gehad – my pa, Guillaume … Wag,
miskien moet ek … Het jy … Kan ek daardie pen en ’n vel papier kry?
SP: Natuurlik.
FdT: Ek wil net vir jou ’n stamboom … Nou nie van al die
voorgeslagte nie. Net … ses, maar dan kan jy darem sien … Dis oupa
Jean en ouma Hettie … Dan my pa, Guillaume, en my ma, Helena …
en my broer, Paul … en ek … Hier. Nou kan jy sien …

SP: Dankie …
FdT: My pa was nie die enigste kind nie. Hy het twee jonger susters.
Maar hy was oupa Jean se enigste seun …
My oupa Jean … Dis waar dit begin het. Oupa Jean was ’n enigste
seun. Hy het die plaas geërf. En hy het lank … hy moes homself eers

dooddrink voor my pa kon gaan boer, en toe … Dis die tweede ding
wat jy moet verstaan: Die invloed van my oupa Jean. Geneties en
sielkundig en … kom ons sê, finansieel. Ek … ’n mens kan nie na
hierdie hele … na my storie kyk sonder om by oupa Jean te begin nie.
Sy skaduwee strek ver. Tot by Ernst Richter.
So laat ek by oupa Jean begin.

8

Vaughn Cupido hou nie van die staatslykshuis in Durhamstraat, Soutrivier,
nie. Dit is ’n onaansienlike plek van buite: ’n versameling plat bruinbaksteenen-rooidakgeboue agter die verweerde heining van betonpaaltjies. Binne is
dit nog meer spartaans en neerdrukkend; die nou gange, die reuke, die
herinneringe aan makabere lykskouings wat hy soms moes bywoon. Maar
bowenal het hy ’n renons in die uitkenning van die dooies. Want dit gaan
altyd gepaard met groot ongemak en baie emosie vir die naasbestaandes.
Die uitkenningskamertjie is klein en kaal – net die eenvoudige sitbankie
teen die muur en die stowwerige blou gordyn voor die besigtigingsvenster.
En nou moet hy dié engte deel met adjudant Jamie Keyter van Table Viewstasie en mevrou Bernadette Richter, moeder van die verdwene Ernst.
Hy hou nie van Keyter nie.
Mevrou Richter is in haar sestigs. Sy kleur haar hare donkerbruin, dra ’n
klein silwerraambril, sy is so lank soos Cupido, en baie gespanne. Haar gesig
is gebou vir vrolikheid, met ronde mosbolletjie-wangbene en ’n uitsonderlik
lang neus. Dit dra nou swaar aan die somberheid van dié oomblik.
In die klein vertrek ruik sy sterk na parfuum.
“Hulle sal die gordyn wegtrek, dan sal jy die liggaam sien,” sê Jamie Keyter
vir haar.
Sy knik net. Cupido sien sy bewe.
“Is jy reg?” vra Keyter.
Jissis, dink Cupido, watse bedside manner is dít? “Mevrou,” sê hy, “is u
ingelig dat u dit nie hoef te doen nie?”

“Nee.”
Hy onderdruk die drang om vir Keyter ’n baie vuil kyk te gee. Hy sê: “As
daar iemand anders is … ’n familielid, iemand wat saam met hom werk …”
“Ek is sy ma.”
“Ek verstaan, mevrou, maar ons weet hoe moeilik dit is. As u …”
“Nee. Ek is al wat hy het. Laat ek dit doen.”
“U kan soveel tyd neem as wat u wil.”
Sy knik.
“Is hier iemand wat u kan ondersteun …?”
“Ja. My vriendinne is hier buite.”
“Dankie, mevrou.”
“Ek is reg.”
Keyter klop ongeduldig aan die venster. Die gordyn beweeg stadig.
Mevrou Richter staan doodstil. Hulle al drie staar na die lyk. Cupido sien
die liggaam is nog nie voorberei nie. Daar sit nog sandkorrels aan die gesig
vas.
Dit is doodstil in die klein vertrek. Van buite, iewers in die gang, kom die
geluid van ’n trollie wat gestoot word, een skewe wiel wat irriterend raas.
Sy staan so lank bewegingloos dat Cupido begin dink dit gaan nie ’n
positiewe identifikasie wees nie.
“Dis Ernst,” sê sy byna onhoorbaar. En dan swik sy, en hy help haar, een
hand aan haar arm, een hand agter haar rug.
***
Sy huil eers met die uitstap na die parkeerterrein, geflank deur haar twee
vriendinne. By ’n wit Honda Jazz moet hulle ongemaklik staan en wag terwyl
die vroue haar in ’n omhelsing vertroos. Wanneer sy bedaar het, sê Cupido hy
sal graag met haar wil praat.

“Net nie vandag nie,” antwoord sy en begin weer troosteloos huil. Die
vriendinne kyk verwytend na Vaughn, asof hy alles veroorsaak het.
Hy vra vir haar kontaknommers en adres. Sy snik dit uit. Hy maak notas op
sy selfoon.
Dit is al ná halfagt in die aand toe die Honda by die hek van die lykshuis
uitry. Die son is nog nie onder nie.
“Is jy suur oorlat ons die saak vat, of is jy altyd so unsympathetic met
victims se relatives?” vra Cupido vir Jamie Keyter.
“Wat het ek gedoen?”
“Ek is genuine nie die most tactful cop in die service nie, maar fokkit,
Jamie, dis ’n painful situation as ’n ma vir haar kind kom identify. Al is hy
groot. Any fool can work that one out. Dit vat ’n bietjie finesse. Jy kan mos
sien die antie vat stres, ma’ dis net ‘Is jy reg?’ Watse bedside manner is
daai?”
“Dis hoekom ek haar gevra het of sy reg is.”
“Daar’s maniere, Jamie, fuck knows … Het jy die docket gebring?”
“Daar is nog nie ’n docket nie, ek het nog nie tyd gehad vir niks nie, want
niemand weet wie se saak dit is nie en ek moes eers die slagoffer laat uitken
…” sê hy gekwets.
“Dis nou ons saak. So ek expect jou om die docket te gaan kick-start. Ek
soek vanaand nog jou Part A, en ek soek ’n comprehensive SAPS5 teen
môreoggend …”
“Ek het net een ou ondervra, die een wat die lyk gekry het …”
“Dan gaan sit jy dit in jou Part A, Jamie. Of wil jy hê ons moet van voor af
begin …”
Cupido se selfoon lui. Hy haal dit uit, sien dis Bennie wat bel. Die verligting
spoel oor hom.
“Benna!”
“Nee, Vaughn, dis Arrie September van Cape Town Central.” ’n

Oudkollega, nou bevelvoerder van die SAPD-stasie wat vroeër as
Caledonplein bekend gestaan het. “Ek bel van Bennie se foon af – dis waar
ek jou nommer gekry het.”
“Waar’s Bennie?”
“Ek het hom hier in die selle. Hulle’t hom ingebring op ’n drunk and
disorderly, en ek wil nie sy C.O. bel nie, jy weet watse moeilikheid dit gaan
maak.”
“Jissis, Arrie, baie dankie. Hou hom net daar, moet hom nie boek nie,
asseblief. He’s had a very bad day. I’m on my way, give me ten.”
“Hy’t ’n ou glo assault, Vaughn.”
“Assault? Bennie?”
“Ek sal die details uitvind, ma’ jy moet maar aankom,” sê September en lui
af.
Cupido draai om na Keyter toe en hy kan sien die adjudant het met groot
aandag geluister.
***
Op pad Buitenkantstraat toe bel Cupido vir majoor Mbali Kaleni. Hy hoor die
TV op die agtergrond toe sy antwoord. Seker al by die huis, met blomkool op
die stoof.
Hy sê vir haar hulle het ’n positiewe uitkenning van Ernst Richter, hy wag
nou vir die dossiere van Table View en Stellenbosch. “… and I’ve just
spoken to Bennie, he’s having cellphone issues. We’re meeting in town in
fifteen minutes.”
“Thank you, captain. Have you called Cloete?”
“It’s the next thing on my list.” Wat waar is, want hy het die Ernst Richterklok destyds hoor lui, maar hy is nie doodseker waar die bel hang nie. Hy wil
nie nou hê Kaleni moet dit weet nie.

Vir wat het sy vir hom JOC-leier gemaak?
Hy ken vir Kaleni. Daai Zoeloe is slim. Stadig en anal, by the book,
verskriklik irriterend en konserwatief. Maar slim. Sy is aan die scheme.
Altyd. Wat is haar scheme nou, met hom?
Maak vir Vaughn JOC-leier lat hy kan wys hoe useless hy is? Lat hy kan
sien sy moes die senior jop gekry het, en nie hý nie?
Fuck that, pappie. Hy sal vir haar wys.
Hy skakel kaptein Cloete se nommer so in die ry.
“Vaughn?” antwoord die mediaskakeloffisier met die geduldige stem, al
moet hy weet dit beteken dié tyd van die aand moeilikheid.
“John, jy weet van daai Ernst Richter wat missing gegaan het so ’n paar
weke terug?”
“Ja,” antwoord hy met ’n sekere gelatenheid.
“Hy is nou net ge-ID as die ou wat Table View uit die sand uit opgegrawe
het vanmiddag.”
’n Lang stilte.
“John, is jy daar?”
“Ek het net gou gebid.”
“That bad?”
“Ek neem aan hy is nie aan natuurlike oorsake dood nie.”
“Definitief foul play, ma’ ons moet mooi trap, John, die docket is nog in
limbo. Ons het die case eers ’n paar uur terug gevang, en ek is in transit.”
“Net ’n oomblik … Okay, gee my wat jy het.”
“Body of a man recovered from the dunes north of Blouberg this afternoon
was positively identified as that of Ernst Richter, who went missing … en
dan moet jy die regte datum insit. Directorate of Priority Crimes’ Serious and
Violent Crimes Group are investigating, more info as soon as blah, blah,
blah. Dis genuine al wat ek het.”
Die lyn is stil terwyl Cloete aantekeninge maak. Dan vra hy: “Wie’s die

JOC-leier?”
“Daai’s ek.”
“Vaughn, dis nie genoeg nie.”
“Hoe meen jy?
“Dié ding gaan ontplof, Vaughn. Dis die grootste storie sedert Pistorius. En
Dewani. Die media gaan mal word. Ek sal hulle moet voer.”
Cupido se hart sink. “Toe Richter missing gegaan het, was ek en uncle
Frankie Fillander op die Somerset-West hijackings, so ek het die hype gemis.
Kan jy vir my die clippings laat kry?”
Dit neem ’n oomblik voor Cloete snap: “Jy weet nie wie Richter is nie.”
“Ek sê jou mos, ek het nog nie eens die missing person report gesien nie.
I’ve been on this case for two hours. Ek weet Richter was notorious vir iets
op die internet. Porn …?”
“As dit maar pornografie was. Hy’s die ou wat Alibi … Luister, die
vinnigste en die maklikste is as ek vir jou ’n klomp links stuur. Voor ek die
verklaring uitreik. Want as dié aap uit die mou is, gaan dit chaos wees. Vir
my en vir jou.”
***
Brigadier Arrie September sluit die sel vir Cupido oop. Hulle stap in en sien
Bennie Griessel waar hy op sy rug lê, sy mond oop, sy oë toe. Hy snork lank
en luid.
“Ai, fok, Benna,” sê Cupido.
“Ons sal hom hier moet uitkry, Vaughn,” sê September. “Voor ek tjaila.”
“Wie weet almal?” vra Cupido terwyl hy langs Griessel op die kaal
betonbankie gaan sit. Hy sien daar is ’n bloupers kneusmerk aan sy kollega se
wangbeen.
“Net ek en die twee uniforms wat hom ingebring het. Maar hulle sal

stilbly.”
“He’s had a really bad day. Ek weet nie of jy van Vollie Vis gehoor het nie
…”
“Ek het. Daai’s tragies, my broe’. Ma’ Bennie het gaan staan en slaan aan
twee Hase. En die Fireman’s Arms se mense is ook baie unhappy oor die
moleste. Hulle praat van aankla.”
“Benna moes nooit na Vollie Vis gestuur gewees het nie. Sy kop was nog
nie reg ná die Giraffe se dood nie.”
“Our lips are sealed, maar as daar ’n formal complaint kom …”
“Ek sal gaan praat.”
“Kan ek jou kar ombring na die courtyard toe?”
“Asseblief.”
September gaan uit.
Cupido sit sy hand op Griessel se arm en skud hom liggies. “Benna …”
Griessel se snork hou skielik op. “Fok julle,” sê hy. “Fok julle almal.”

9

Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr.
Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin
Victoriastraat 40, Kaapstad
FdT: Daar is ’n geraamde knipsel uit die Huisgenoot van 1950 oor my
oupa Jean. Dit het al die jare in die voorhuis gehang … San het dit
nou onlangs afgehaal. Dit is so half, ek weet nie, daar is iets tragies
daarin. Hoe die artikel en die werklikheid … Die opskrif sê Groot
oesjaar wag vir jong Jean du Toit. Daar is ’n foto van hom. Hy staan
so in die wingerd, in sy WP-rugbytrui, met ’n rugbybal in sy hande.
Toe San dit die eerste keer sien, toe vra sy: “Wat het van daardie
gene geword?” Sy sê as hy vandag geleef het, sou hy ’n paparazzidroom gewees het. Hy was blond en baie aantreklik, met hierdie
potblou oë, hy was ’n fantastiese rugbyspeler, maar op daardie foto
kan jy die ander ding ook sien. Dis … ’n soort selfvertroue wat grens
aan vermetelheid, ’n houding wat sê hy gaan maak net wat hy wil, die
wêreld behoort aan hom. San sê daar’s ’n soort gevaar aan daardie
look, ’n onweerstaanbaarheid, daar’s vrouens wat daarvoor gaan, al
weet hulle dis net moeilikheid.
Die foto is geneem twee jaar ná my grootjie se dood. Oupa Jean het
op twee-en-twintig die plaas geërf. In daardie jare was dit niks snaaks
nie, daar’s ouens wat op agttien al die plaas oorgevat het, dis anders

vandag … Die probleem was, Klein Zegen was ’n wynplaas. Met alles
wat daarmee saam kom. Die mistiek van wyn, die prestige, die
geskiedenis, die kultuur … My ouma Hettie het gesê daardie jare, die
vroeë vyftigs, was wynboere regtig iémand gewees. Daar was die
persepsie dat hulle almal skatryk was. En hulle was nie … Maar jy kan
dink, twee-en-twintig, handsome, sportster, en ’n wynboer van ’n plaas
waar die opstal tweehonderd-en-twintig jaar oud was. Dis soos om
vandag ’n rock star te wees. En die een of ander tyd moet dit na jou
kop toe gaan …
Oupa Jean was nie net die enigste seun nie, hy was die enigste kind.
Hy was van kleins af daarvan bewus dat alles syne sou word. En hy
was ook maar lekker bederf, dink ek. Die goue seun, die talentvolle,
mooi kind wat ’n toekoms gehad het sonder om eens te probeer.
Nou moet jy ook verstaan, dié tyd toe oupa Jean die plaas
oorgeneem het, was die goue jare van die KWV. Die Koöperatieve
Wijnbouwers Vereniging Beperkt, wat eintlik maar die staat was wat
beheer gehad het oor die hele wynbedryf. Tot in 1956 het die KWV in
elk geval sy hele oes gekoop. In 1957 het die KWV die kwotastelsel
ingevoer, en met oupa Jean se rugbykontakte het hy seker gemaak
Klein Zegen kry ’n groot kwota. Sy enigste doelwit was om elke jaar
daardie kwota te vul, want Big Brother KWV sou alles koop. Baie min
van die boere van daardie tyd het geworry oor gehalte. Daar was nie
baie wat hulle eie wyn op die plaas gemaak het nie, dit was nie eintlik
finansieel lonend nie … So dan kan jy deeltyds boer, jy moet net met
oestyd en snoeityd so ’n bietjie fokus. Wat vir oupa Jean tyd gegee
het vir rugby en vroumense en drank. Nie noodwendig in daardie
volgorde nie.
En dis wat hy gedoen het. Almal het gedink hy gaan Springbok word,
maar toe gebeur daar twee goed. Oupa Jean het die volgende jaar vir

ouma Hettie swanger gemaak, en hy’t sy been gebreek, net voor die
Springbokke se toer Engeland en Frankryk toe …

10

In die kar sê Cupido: “Benna, ek het jou nodig op dié een. Asseblief,
partner.”
Griessel sit koponderstebo en wieg saam met die beweging van die voertuig.
Hy maak ’n geluid wat soos ’n humorlose lag klink.
Cupido voel die beklemming in sy maag. Hy moet die Richter-saak baie
vinnig aan die gang kry. Môreoggend sal Cloete die mediamonster weer moet
voer, en hy sal verslag moet doen aan Kaleni oor wat hy én Bennie vermag
het. Maar hy sal eers by die Fireman’s moet gaan mooipraat. Want die groot
probleem is, die Valke sal nog nou en dan ’n dronk lid duld, maar as jy in jou
dronkenskap aan ’n Haas gaan staan en slaan, is skorsing onafwendbaar.
En Griessel sal nie nou dit óók nog kan hanteer nie.
Cupido hou stil voor Alexa Barnard se groot Victoriaanse huis in
Brownlowstraat, Tamboerskloof, stap om en gaan help vir Bennie uit. Hulle
sukkel deur die tuinhekkie, tot by die voordeur. Cupido klop dringend.
Alexa kom maak oop, sien vir Bennie wat so aan Vaughn Cupido hang, en
sy snak na haar asem.
“Hy’s fine, hy’s net dronk,” sê Cupido.
“’n Dronk altruïs,” sê Griessel. Hy het groot moeite om die sibilant
uitgespreek te kry.
“Ai, Here,” sê Alexa en begin huil.
“Ek dink ons moet liewer inkom, if you don’t mind,” sê Cupido.
Alexa knik en sy staan weg. Cupido stuur vir Griessel na binne. Sy maak
die deur agter hulle toe.

“’n Dronk altruïs is beter,” sê Griessel. “Baie beter.”
Cupido help vir Bennie tot by die rusbank en laat hom sit. Griessel lê terug
en maak sy oë toe.
“Kan ons iewers praat?” vra Cupido sag vir haar.
Sy staar na Bennie, die trane wat loop.
“Vaughn, ek het ’n snaakse storie gehoor,” sê Griessel. “Dis fokken snaaks
…”
“Okay, Benna.”
Griessel maak weer sy oë toe.
“Kom,” sê Alexa, en stap voor hom uit, kombuis toe.
“Hy’t ’n baie bad day gehad,” sê Cupido en vertel vir haar van Vollie Vis en
die gesinsmoord. “Hulle sê Benna het ’n ou getimmer in die bar …”
“Geslaan? Bennie?”
“Ek weet nie mooi wat gebeur het nie, maar die probleem is, as daar ’n klag
kom, gaan hulle vir Benna skors. And you and I know that’s not going to be
good for him. Ek sal try regmaak by die bar, maar asseblief, jy moet vir hom
try sober kry. En sober hóú. Major Mbali dink hy’s saam met my op ’n case.
Ek kan vir hom cover tot môreoggend, ma’ kyk lat hy betyds by die kantoor
is.”
Alexa staan hulpeloos en verslae in die middel van die vertrek. “Ek weet nie
of ek kan nie …”
Cupido kan sien sy is baie verward. Dan onthou hy: Sy is ook ’n alkoholis.
“Gee vir hom koffie …”
“Koffie help nie, Vaughn.”
“Jy sal iets moet try. Bel sy AA sponsor. Ek kan regtig nie bly nie, ons het
hierdie helse case gevang, ek moet gaan werk. Moenie dat hy sy foon
antwoord nie, no matter who calls. As daar groot moeilikheid is, bel vir my.”
Sy bly net verwese staan.
“Gaan jy okay wees?” vra hy.

“Ek weet nie.”
***
Cupido ry na die Fireman’s Arms en vra om met die bestuurder te praat. Hy
sê vir die man: “He’s a great detective and a good man. He hasn’t had a drink
in almost two years, but one of his colleagues shot himself today, so please
man, give the guy a break.”
“He assaulted one of my customers.”
“I get that, and on behalf of the police, I apologise. But please. You could
ruin the man’s career …”
“Okay. But I don’t want him back.”
“I promise, thank you very much,” sê hy voor hy verlig in die donker
uitdraf.
Hy klim in die kar, sit die sirene en die blou lig aan. Dan jaag hy Bellville
toe om te gaan lees wat John Cloete vir hom gestuur het.
***
Dit neem ’n halfuur voor Alexa Barnard die moed het om vir Dok
Barkhuizen te bel.
Sy trek eers Bennie se skoene uit en help hom om gemaklik op die bank te
lê. Hy kyk na haar, ’n surrealistiese oomblik waarin hy haar glad nie herken
nie, en dan laat hy sy kop terugval en maak hy sy oë toe.
“Ag Here, Bennie,” sê sy en gaan sit in die gemakstoel langs die bank sodat
sy ’n wakende oog kan hou. Sy dink: Sy is die swak een, sy is die drinkrisiko, Bennie was so sterk. Waarom het sy dit nie sien kom nie? Hy was die
afgelope tyd dalk stil, maar nie soveel meer as gewoonlik nie, hy was nog

nooit ’n vreeslike prater nie. En ná alles wat hy deur is, en die werk wat hy
doen … Daar was net geen teken nie.
Sy moet Dok Barkhuizen bel, Bennie se borg by Alkoholiste Anoniem, die
seningrige, eksentrieke mediese dokter met lang grys hare in ’n poniestert.
Soms dra hy ’n oorring. Hy het ’n dik bril, wilde wenkbroue en ’n ondeunde
gesig. Maar sy is lugtig vir hom, want hy is streng met Bennie, en hy hou nie
van haar nie, ook nie van hulle verhouding nie. Hy het al dikwels vir Bennie
gesê dis ’n resep vir moeilikheid, twee alkoholiste bymekaar, en die een ’n
emosionele, wispelturige, middeljarige sangeres. En Dok is reg, want kyk hoe
hulpeloos is sy nou. Sy moet sterk wees, soos Bennie was toe sý geglip het.
Al waaraan sy nou kan dink, is om ook te drink.
Sy staan eindelik op, soek versigtig na Griessel se foon, haal dit uit en soek
Dok se nommer. Sy sien dit is die laaste een onder sy iPhone se Favourites.
Sy is eerste. Dan Carla en Fritz, en ’n paar kollegas.
Sy is Bennie se nommereen-favourite. Sy het dit nooit geweet nie. Sy wil
weer huil, maar sy veg daarteen, en sy bel.
“Bennie?” antwoord Dok Barkhuizen. “Dié tyd van die aand is nooit goeie
nuus nie.”
“Dis Alexa,” sê sy, die snik in haar stem, ondanks haar beste poging.
“O, magtig,” sê hy.
“Dokter, Bennie het …” Sy huil.
“Hoeveel,” vra Barkhuizen kalm.
“Baie.”
“Daar is nie veel wat ek vanaand vir hom kan doen nie, maar dit klink vir
my jy het hulp nodig.”
“Ja.”
En dan, tot haar eindelose verligting: “Waar is jy? Ek kom dadelik.”
***

Vaughn Cupido klik op die eerste skakel in kaptein John Cloete se e-pos. Dis
’n nuusberig op Netwerk24 se webwerf:
App help jou om kat in die donker te knyp
STELLENBOSCH – “Haal die stres uit stout wees” is die leuse én belofte
van ’n nuwe slimfoon-app en webwerf wat Suid-Afrikaners gaan help om die
kat in die donker te knyp – en daarmee weg te kom.
Vryers wat ’n rotsvaste alibi nodig het vir ’n wegbreek-naweek met ’n
skelmpie, of net ’n waterdigte verskoning soek vir ’n vinnige vuurwarm uur,
kan voortaan op Alibi.co.za staatmaak om hulle te help lieg. Maar natuurlik
teen ’n prys.
Met lidmaatskap van R62.50 per maand sal voornemende verneukers
toegang kry tot ’n hele spyskaart van oneerlike opsies: ’n SMS wat jou “na ’n
vergadering ontbied”, gaan jou byvoorbeeld R25 uit die sak jaag, ’n
telefoonoproep van jou “kantoor” is R125, terwyl kammaregistrasiedokumente en ’n fiktiewe hotelrekening vir die naweek se
“werkskonferensie” tot R1 800 kan kos.
“Kliënte kan self besluit hoe volledig hulle alibi moet wees,” het die stigter
en besturende direkteur van Alibi.co.za, mnr. Ernst Richter, gister tydens ’n
mediakonferensie in die Eikestad gesê. “Ons taak is om dit geloofwaardig en
betyds te lewer.”
“Slaan my met ’n snotsnoek,” prewel Vaughn Cupido, en hy dink dis geen
wonder Cloete sê dié ding gaan ontplof nie. Hy lees verder.
Op ’n vraag of dit nie huweliksontrouheid gaan aanmoedig nie, het Richter
gesê webwerwe soos AshleyMadison.com en Maritalaffair.co.za skep reeds
die geleentheid vir Suid-Afrikaners om verhoudings buite die huwelik te hê.
“Statistieke toon dat honderde duisende reeds by dié webwerwe geregistreer
het. Alibi.co.za wil hulle net uit die moeilikheid en die egskeidingshof probeer
hou.”

Dit was juis die plaaslike sukses van AshleyMadison wat aan hom die idee
gegee het vir sy nuwe maatskappy. Soortgelyke alibi-dienste bestaan reeds
etlike jare in die buiteland, maar Suid-Afrika was tot nou toe agter daarmee.
“Jy het plaaslike kennis nodig om ’n suksesvolle alibi vir kliënte te bou.
Boonop is dit weens die wisselkoers baie duur vir Suid-Afrikaners om oorsese
alibi-dienste te gebruik. Ons pryse maak dit nou vir Jan en alleman moontlik
om hul liefdeslewe stresloos en bekostigbaar te kan uitleef.
“Ons nooi mense uit om soveel moontlik inligting te verskaf wanneer hulle
op die webwerf of deur die slimfoon-app registreer, sodat ’n alibi die
maksimum geloofwaardigheid kan dra. As jy byvoorbeeld aandui dat jy ’n
bestuurspos in die bankwese beklee, verseker ons gesofistikeerde stelsels dat
jy nooit ’n kamma-oproep van die kantoor buite werksure sal ontvang nie.”
Richter sê Alibi.co.za se sekuriteitstelsels is uiters gesofistikeerd, en daar is
geen kans dat gebruikers se inligting in die verkeerde hande kan beland nie.
“Diskresie is ons dryfveer. Nie eens ons werknemers het toegang tot ’n kliënt
se volledige profiel nie. Ons bied ook die alternatief van ’n skuilnaam, so ons
weet in die meeste gevalle nie eens wie ons kliënte regtig is nie.”
Bo en behalwe die uitgebreide reeks moontlike opsies waaruit kliënte kan
kies, sal gebruikers ook hul eie alibi kan opstel. “Ons stuur dan dadelik ’n
kwotasie vir die uitvoering daarvan,” sê Richter.
Die maatskappy verwag dat sy gebruikersprofiel soortgelyk gaan wees aan
dié van flankeer-webwerwe – sowat 48% vroue en 52% mans. “Ons aanvaar
dat ons kliënte weens sosio-ekonomiese redes meestal bo 35 gaan wees. Die
gemiddelde ouderdom vir vroue wat begin dink aan ’n buite-egtelike
verhouding, is 39. Vir mans is dit 42.”
***
Cupido tik Alibi se webadres in sy Google Chrome-soekbalkie.

Die Valke se internet is dié tyd van die aand vinniger as gewoonlik en die
blad laai gou.
Daar is ’n groot foto van ’n mooi paartjie in blougroen tropiese waters.
Hulle gesigte is naby mekaar, liefderik en tevrede. Agter hulle is ’n
sandstrand met palmbome. In die blou lug staan die legende:
Alibi.co.za
All pleasure. No stress.
Die logo van die maatskappy is ’n wit duif in vlug, met ’n romantiese hartikoon in sy bek. Onder die foto: Register now, and take the “dangerous” out
of dangerous liaisons, the “ex” out of sex. Put the “fair” back into affair.
Satisfaction guaranteed, or your money back!
Met balkies waarin jy jou naam en e-pos kan intik.

11

Daar is foto’s van advokaat Susan Peires teen haar kantoormuur.
Francois du Toit het dit met die inkomslag gesien. Een van hulle is by
haar gradeplegtigheid geneem, ’n paar dekades gelede. En Du Toit
het gedink sy is een van daardie vroue wat aantrekliker geword het
met die ouderdom, die jare het haar voorkoms versag, sodat sy nou in
haar middeljare aantreklik is. Sterk en statig.
Terwyl hy sy storie vertel, is hy vaagweg daarvan bewus dat iets aan
haar vir hom ’n sekere gemoedsrus gee. Sy lýk na ’n instrument van
geregtigheid. Dalk is dit haar kalmte, die innerlike krag wat sy uitstraal.
Dalk is dit die feit dat sy nie haar hare kleur nie, die sout-en-peper van
grys en donker wat aan haar ’n sofistikasie gee, ’n wysheid. Of haar
gesig; daar is ’n forsheid in die suinige lyne, die haak van die neus,
die mond wat iewers tussen dun en vol in die perfek neutrale,
objektiewe teelaarde geval het, sodat dit nie oordeel óf goedkeur nie.
Hy praat met al hoe meer gemak. Hy raak meegevoer deur die
geskiedenis, sy geesdrif vergroot vir die moontlikheid dat dit wél as
versagting vir sy sondes kan dien. Dit maak hom vry genoeg om al
vertellende op te kom uit die stoel – eers daaragter, met sy hande op
die leer van die leuning, en dan stadigaan te begin rondbeweeg in die
groot kantoor.
Hy vertel haar van die vrou wat deur sy oupa Jean swanger gemaak
is.
Sy ouma Hettie was ’n Malherbe van Calitzdorp. Haar ouers was

nederige mense. “Haar pa het ’n winkeltjie gehad, hy’t maar gesukkel,
hy moes raap en skraap om haar universiteit toe te stuur. Sy het vertel
dat die swangerskap vir haar ouers ’n verskriklike ding was, ’n baie
groot skande, want sy was hulle paspoort tot respektabelheid, sy was
die simbool van hulle vordering uit agterlikheid en armoede. Daardie
tyd moes dit baie erg gewees het, negentien-een-en-vyftig … Maar
sy’t altyd gesê die een ‘klein zegen’ was dat sy in September van haar
finale jaar swanger geword het. Sy kon nog graad vang, sy’t onderwys
geswot. En natuurlik die feit dat dit ’n wynboer was wat haar swanger
gemaak het, ’n WP-skrumskakel. Dit het ’n bietjie gehelp.
“Ouma was ’n ongelooflike vrou. Ek dink dit was haar sin vir humor
wat haar … en die plaas, en my pa gered het. Die humor en die
aardsheid …
“Oupa Jean … Ouma het vertel dat hy soos ’n magneet was. Daardie
oë, daardie glimlag, daardie kyk wat sê die hele wêreld behoort aan
hom. Sy het altyd gesê sy was baie ordentlik, sy was konserwatief,
sy’t nog skaars ’n man gesoen voor oupa Jean, maar toe hy daardie
aand vir haar vra om te dans, en hy kón dans, hy het haar so goed op
die dansvloer laat lyk, en sy ruik hom en sy gesig is hier teen haar en
hy sê: ‘Jy is die mooiste nooi op die hele Stellenbosch,’ toe verloor sy
al haar opvoeding.
“Sy wás mooi. Baie mooi. Oupa Jean het baie foute gehad, maar
smaak in vrouens was nie een van hulle nie …
“My pa is daardie aand gemaak, in die opstal. Dit was omtrent die
laaste goeie ding wat oupa Jean gedoen het, behalwe om natuurlik
met Ouma te trou, maar hy’t nie regtig ’n keuse gehad in daardie jare
nie.”

12

Cupido sukkel om stil te sit. Hy wil beweeg, maar die vaalgeel lêer wat
Stellenbosch in sy afwesigheid afgelewer het, is effens dikker as die tipiese
verdwyningsdossier.
Daarom bly hy sit, trek dit nader, maak dit oop. Daar is ’n foto heel voor
binne-in vasgekram, drie verklarings in Deel A en twee forensiese verslae in
Deel B. Die volledigheid van die ondersoekdagboek in Deel C beïndruk hom,
maar hy weet die media-aandag wat Stellenbosch gekry het, moes groot druk
op die SB en sy speurders geplaas het om deeglike werk te doen.
Heel agter is ’n ondertekende SAPS 55(A) – die vorm wat die polisie
vrywaar van bedrieglike aanmeldings en hulle die reg gee om die verdwene
persoon se foto en beskrywing te sirkuleer en te publiseer.
Hy kyk na die foto. Dit stem ooreen met die gesig wat hy by die lykshuis
gesien het. Dit wys Ernst Richter in ’n denim en blou T-hemp waarop staan
HTML, en daaronder (expert in) How To Meet Ladies. Hy lyk jonk: dalk
vroeë dertigs, hy lag, sy hande besig om iets te beduie toe die kamera hom
vasgevang het. Skoongeskeer, dik, donker hare wat amper op die skouers
hang, die lyf skraal. Hy het sy ma Bernadette se lang neus, maar sy wangbene
is skerper en sy mond meer prominent.
Dis nie hoe hy ’n ou sou voorstel wat ’n alibi-webwerf operate nie, dink
Cupido. Richter lyk decent. Normaal. The guy next door, soort van, as jy in
’n middle-class whitey suburb bly. Maar hy het deur die jare geleer: Met
whiteys moet jy nie op looks gaan nie. Very deceiving.
Hy ontsyfer die eerste verklaring, deur ’n aanklagkantoor-konstabel met ’n

byna onleesbare handskrif geboekstaaf. Dit is op 27 November afgelê deur
ene Cindy Senekal, aangedui as “a friend of the missing person”.
Volgens haar het sy op Woensdag 26 November verskeie kere met Richter
oor die telefoon gesels. Hy was opgeruimd en “normal”. Die laaste oproep
was teen 16:00. Hulle het om 19:00 ’n afspraak vir aandete gehad by die
Dorpstraat Deli op Stellenbosch. Toe hy vyftien minute laat was, het sy hom
probeer skakel, maar net sy stempos bereik. Senekal het nog verskeie kere
gebel, en twee stemboodskappe gelaat. Sy het tot 19:45 by die restaurant
gewag, toe na haar meenthuis op die dorp teruggekeer. Sy het deur die loop
van die aand hom weer telefonies probeer kontak, maar sonder sukses.
Senekal sê Richter se selfoon het van ongeveer 20:30 direk na stempos
gegaan en nie meer gelui nie. Haar laaste oproep na hom was om 00:24. “I
called again this morning at approximately 06:50. At that time, I was still just
getting his voicemail. So I drove to his house. The doors were locked.
Nobody answered the door. Ernst was sometimes a little late for
appointments, but he’s never disappeared like this,” lees die verklaring.
Sy selfoonnommer en ’n beskrywing van sy motor, ’n grys Audi TT, is ook
neergeskryf.
Net ná agt het Senekal na die kantore van Alibi.co.za op Stellenbosch gery.
Richter se motor was nie op sy gewone parkeerplek nie. Sy het by die kantore
ingegaan en navraag gedoen. Die personeel het nie geweet waar Richter is
nie. Ná ’n gesprek met die operasionele bestuurder van Alibi, ene Desiree
Coetzee, is sy terug na haar eie werk. Senekal en Coetzee het verskeie kere
gedurende die dag van Donderdag 27 November gekommunikeer, en nie een
van hulle kon met Richter kontak maak nie. Hulle het ooreengekom dat
Senekal polisie toe sou gaan as daar teen 17:00 nog geen nuus is nie, wat sy
dan ook gedoen het.
Die tweede verklaring is op Vrydag 28 November deur ’n speurder van die
Stellenbosch-stasie afgeneem by Alibi se kantore, in ’n onderhoud met die

operasionele bestuurder, Desiree Coetzee. Dit voeg net enkele nuwe stukkies
inligting by: Richter is twee dae tevore laas, om ongeveer 17:15 op 26
November, gesien toe hy Alibi se kantore verlaat het. Hy was geklee in ’n
denim, swart T-hemp met die woorde I refuse to engage in a battle of wits
with an unarmed person in wit letters daarop, en “white sports shoes”. Hy
was, soos gewoonlik, in ’n goeie luim. Daar was geen dagboekinskrywings
op sy rekenaar vir die res van die dag nie. Sy grys Audi TT is sy enigste
motor. Sy kollegas weet van geen werklike vyande nie, maar die maatskappy
kry voortdurend dreigemente van veral godsdiensfanatici. Dit het al
doodsdreigemente ingesluit, direk gerig aan Ernst Richter, maar dit was
sonder uitsondering naamloos en gestuur van tydelike of gemaskeerde eposbedieners.
Cupido sug. Dis waarvoor hy bang was. Elke dreigement sal nou opgevolg
moet word.
Die Coetzee-verklaring sê ook dat Richter geen noemenswaardige rekord
van afwesigheid gehad het nie, hoewel hy soms laat was vir afsprake, “maar
nooit meer as ’n uur nie”.
Die derde verklaring is van Bernadette Richter, die slagoffer se ma, maar
Cupido huiwer voor hy dit lees. Daar’s iets wat nie wil pas nie. Hy skuif die
dossier ’n entjie terug op die lessenaar.
Iets wat Senekal of Coetzee in hul verklarings gesê het?
Nee, die fout lê nie daar nie.
Cupido staan op. Hy haat die gesit, hy kan nie só dink nie. Hy loop uit by sy
kantoor, gangaf, sonder bestemming.
Fokken Benna wat gaan staan en suip het, waar’s sy partner noudat hy hom
nodig het?
Want hy wil nou met Griessel praat oor dié saak. Hulle is ’n team, die yin en
die yang van die Hawks, Batman en Robin. Hy dink dikwels hulle operate so
goed, want hy wat Cupido is, is die danser: twinkle toes, pappie, lightning

mental footwork, hy’s die investigative artist, with everything that goes with
it – creative, eccentric, a little touchy at times. En Benna is die philosopher,
the thinker, daai dude is methodical. And grounded, except for the drinking
problem of course, ma’ dis oorlat Benna te veel dink. En te diep. In dié jop is
daai dangerous.
So what usually happens, hy wat Cupido is, gooi die idees, duisend myl ’n
minuut, en Benna is die screen, die filter, die gate guard. Sy sounding board.
En nou’s sy sounding board domdronk en hy sal eers self moet regkom.
So, something doesn’t make sense.
Dis nie in die verklarings nie.
Dis iets van vanmiddag, by die lykshuis.
Hy staan ’n oomblik stil in die halfdonker gang.
Dis die datums.
Hy draai om, draf geluidloos op sy Nike Air Pegasus Plus-tekkies terug na
sy kantoor toe. Hy klik op sy rekenaarskerm om die Outlook-dagboek oop te
maak en tel die dae vanaf 26 November, toe Richter verdwyn het.
Een-en-twintig tot vanoggend, toe Richter in Blouberg se duine gevind is.
Die probleem is, die liggaam wat hy vanmiddag in die lykshuis gesien het,
was definitief nie twintig dae lank begrawe nie. Not enough decomposition.
Hy’s maybe a week of so al dood.
So where was Ernst Richter for the first fourteen days after he went
missing?
The plot thickens.
Hy wil vir dié Cindy Senekal bel en met haar gaan praat, nóú.
Hy onderdruk die impuls en trek die dossier weer nader. Hy skuif sy stoel,
plaas sy tekkies op die blad en lê gemaklik terug. Hy balanseer die lêer op sy
maag en hy lees.
Die derde verklaring is deur dieselfde speurder opgestel, tydens ’n
onderhoud met Bernadette Richter. Dit lewer geen nuwe inligting op nie,

behalwe dat sy haar diepe kommer uitspreek, want haar seun “het nog nooit
weggeloop nie”.
Cupido blaai na die ondersoekdagboek in Deel C.
Dit wys dat twee speurders van Stellenbosch op die oggend van 28
November om 11:25 die deur van Richter se huis in Mont Blanc,
Paradyskloof, oopgedwing en die plek deursoek het. Daar was geen teken van
’n struweling nie, geen leidrade wat kon aandui wat van die verdwene man
geword het nie.
Navrae is by bure gedoen, maar het niks opgelewer nie.
Richter se grys Audi TT is op dieselfde dag om 16:42 in Stoffel Smitstraat,
Plankenbrug, op Stellenbosch gevind, waar dit gesluit en geparkeer gestaan
het.
Die kantore van die ligte industrieë in die omgewing is besoek. Niemand het
vir Ernst Richter geken nie.
Audi Centre in Somerset-Wes se hulp is ingeroep om die voertuig oop te
sluit. Daarna is die kar geprosesseer. Die speurder het ook op dieselfde datum
’n forensiese verslag oor Richter se selfoonnommer aangevra en ’n amptelike
vermistepersoon-bulletin uitgereik, wat ’n verklaring aan die media ingesluit
het.
In die daaropvolgende week is daar inskrywings oor vrugtelose pogings om
die dreigemente wat Richter en Alibi ontvang het, na te spoor. Ook die
nommers wat uit Richter se selfoonrekords verkry is, is nagegaan en het niks
opgelewer nie.
Vaughn lees die twee verslae wat die dossier se Deel B oplewer. Die eerste
is ’n forensiese verslag van die Audi TT Coupé. Net Richter se
vingerafdrukke, soos herwin in sy kantoor, en dié van Cindy Senekal is
geïdentifiseer. Twee ander vingerafdrukke is gevind, maar die SAPD se
databasis het niks opgelewer nie. Dit beteken dié mens of mense het nie
misdaadrekords nie. Semen is op die passasiersitplek gevind. Die verslag sê

dit was bes moontlik nie ouer as veertien dae nie. Geen bloedspatsels is
opgemerk nie. Richter se leerbeursie is in die paneelkissie gevind. Daarin was
drie Premier-bankkaarte, sy bestuurslisensie, ’n herlaaibare Gautrein-kaartjie,
’n Makro-kaart, sy mediesefonds-kaart, negentien van sy eie visitekaartjies,
R786.75 kontant, en sewe kontantstrokies van algemene inkope. Ook in die
paneelkissie was een daggasigaret en ’n klein plastieksakkie met sowat
negentig gram dagga, ’n pakkie sigaretpapiere, twee dosies vuurhoutjies, ’n
balpuntpen, ’n driekwart pakkie kougom en dokumentasie van die motor.
Die ander verslag is oor Richter se selfoon. Dit was op die aand van sy
verdwyning in verbinding met sowel die Papegaaiberg- as die
Gholfbaanseltorings op Stellenbosch tot 20:17, waarna alle kontak verbreek
is. Die lys van oproepe wat gemaak en ontvang is, wys dat Richter die laaste
keer om 16:08 met Cindy Senekal gepraat het.
Hy het ook op dié dag vir twee kollegas en sy ma gebel, of oproepe van
hulle ontvang.
Cupido swaai sy voete van die lessenaar af, plaas die dossier op die blad.
Hy kry Cindy Senekal se nommer en bel.
“Haai, dis Cindy. Jy weet wat om te doen ná die biep.”
Hy los ’n boodskap, net sy naam en nommer, want hy weet nie of Richter se
ma dalk al vir haar laat weet het nie. Hy soek na die nommer van Alibi.co.za
se operasionele bestuurder, Desiree Coetzee.
Dis nie in die dossier nie.
Hy swets sag, al weet hy dit gebeur: Die speurder het die nommer seker in
sy sakboekie of op sy selfoon. Hy’t nie gedink die docket gaan aangepass
word Hawks toe nie.
Hy draai na sy rekenaar en klik op die skakel van Alibi.co.za wat sê Contact
Us. Hy kry ’n lys van skakels na gereelde vrae, medianavrae, en “Client
Service”. Laasgenoemde lewer drie e-posadresse en ’n tolvrye nommer op.
Daar is geen fisieke adres nie.

Hy bel die tolvrye nommer. Dit lui lank.
“Alibi dot co dot za, Ashley speaking, I’d love to craft your alibi.”
’n Vrou se stem, ewe verleidelik.
Hy identifiseer homself, gebruik die Valke se amptelike benaming, want hy
het nie lus om vir ’n jong girltjie te moet verduidelik nie, en hy sê: “I’m
working on an investigation concerning one of your staff members. I need a
physical address for your premises.”
“I am not at liberty to give you that information, sir.”
“I am a Hawks detective.”
“I understand that, sir,” sê sy vreeslik hoflik. “But we get a number of
similar calls from people who say they are from the police. I am under
instructions not to give out our address.”
“You can call me back. Just go to the website of the Directorate and call the
number you see there, for the Cape Town office …”
“Sir, I’m sorry, but you will have to call our office number tomorrow, after
eight-thirty.”
“What is your office number?”
Sy gee dit, ’n 880-landlyn op Stellenbosch. Cupido skryf dit neer.
“Now, is there anything else I can help you with?”
“I want to speak to your operations manager, Desiree Coetzee. Could you
call her and ask her to contact me?”
“I don’t have her number, sir.”
“Do you have a supervisor or a manager or something?”
“I’ll see what I can do, sir.” Hy kan hoor sy is nie lus nie. “Anything else?”
Hy sê nee, dankie, en hy lui af.

13

Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr.
Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin
Victoriastraat 40, Kaapstad
FdT: Ek dink oupa Jean het vir Shakespeare verkeerd bewys. The
fault was in his stars, and in himself …
SP: Shakespeare het met ’n voet in elke kamp gestaan. In King Lear
sê Kent: “The stars above us, govern our conditions.” En wat van
“giddy Fortune’s furious fickle wheel” …
FdT: Jou Shakespeare is beter as myne.
SP: ’n Wynboer wat Shakespeare kan aanhaal, is ’n aangename
verrassing.
FdT: Ouma Hettie het my Shakespeare laat lees. Ek en sy was die
lesers in die familie … En my ma … Ek dink ek het dit al vir jou gesê.
Ekskuus, dis die stres … Ouma Hettie was slim, sy het sulke stukkies
uit Shakespeare aangehaal, sulke interessante stukkies, en as ek vra,
dan het sy die boek gebring en gesê, lees, Shakespeare is beter
lewensoriëntering as die lewe self. En toe lees ek. Julius Caesar was
my gunsteling, dis hoekom ek dit beter onthou. En omdat daardie
aanhaling my altyd aan oupa Jean laat dink. Want hy het nie
heeltemal beheer gehad nie. As die beenbreuk nie gebeur het nie, of
as dit later gebeur het … Almal sê hy sou Springbok geword het, selfs

mense wat nie mal was oor hom nie. Drie maande voor die troue …
As jy mooi kyk, kan jy die een kruk sien uitsteek op van hulle
troufoto’s. En die gips aan sy onderbeen. En dalk sou dit nog orraait
gewees het as hy betyds herstel het. Maar toe hulle die span kies vir
die einde van die jaar se toer na Engeland in 1951, was hy nog nie
reg nie. Toe kies hulle vir Fonnie du Toit, wat al amper dertig was, en
Hansie Oelofse as die jonger skrumskakel …
As hy ’n ander soort mens was … As hy die terugslag kon verwerk
het. Miskien was dit ’n kombinasie van goed, want dit was ’n groot
klomp veranderinge. Skielik is hy getroud, daar’s ’n broodjie in die
oond, hy word nie gekies vir die Bokke nie, hy is vasgekeer op die
plaas met die gebreekte been, hy, wat so altyd aan die beweeg was
… En vier maande ná die troue, toe kom my pa aan, en hy was ’n
koliekbaba. Oupa Jean het glo al kwaai gekuier vóór al die teenspoed,
dit was maar deel van die rugbykultuur in daardie dae. Maar toe slaan
hy die bottel hard, en Ouma het vertel hy was nie ’n aangename ou in
daardie tyd nie.
Hy was nooit weer regtig dieselfde speler nie. Daar’s mense wat sê
die been het hom maar altyd gepla, dit het nie heeltemal reg
aangegroei nie. Maar ouma Hettie sê dit was hoogmoed. En die feit
dat alles so maklik vir hom gekom het, so baie natuurlike talent. Hy’t
geglo hy’s baie beter as enigiemand anders, hy wou nie in daardie
jare al die harde werk insit om sy plek weer van voor af oop te speel
nie. En toe hy hier teen 1955 wakker skrik en ernstig begin oefen, was
dit te laat. Want ’n outjie wat omtrent net halfpad so groot soos Oupa
was, maar met twee keer die hart, het die WP- en die Bokspan
gehaal. Tommy Gentles …

14

Vaughn Cupido volg die skakel wat John Cloete vir hom gestuur het na die
webwerf van Netwerk24.
Dis ’n storie wat in Rapport was. Die opskrif sê: Isabeau gesels met: Ernst
Richter. Baas van Alibi wil nooit sy eie produk gebruik nie.
Hy begin lees:
Op sy swart T-hemp staan: “I went outside once. The graphics weren’t that
great.”
En nou is hy weer buite, op die stoep van die Häzz-koffiewinkel in
Stellenbosch se Ryneveldstraat (“want daar is wifi,” sê hy toe ons die
afspraak maak). Ek vra of die “graphics” al beter is. Hy kyk na my. “Baie
beter, noudat jý hier is …”
Ernst Richter (30) lag dan aansteeklik, hou sy hande verdedigend voor
hom: “Dis te smooth, netnou skryf jy ek is ’n pick-up artist …”
“Ís jy?”
“Nee! Maar ek het ’n sin vir humor. En jy het my die gap gegee.”
“Vat jy altyd die gap?”
“Darem nie altyd nie.”
Een gap hét hy gevat – die een wat ontstaan het toe Suid-Afrikaners in hul
massas begin aansluit het by webwerwe vir egbrekers: Richter het die
afgelope week landwyd die voorblaaie gehaal met Alibi.co.za, ’n webwerf en
slimfoon-app wat ontrouheid-leuens teen ’n prys verkoop.
“Sjoe, as jy dit só stel, klink dit vir my ook uncool,” sê hy, maar die groot
glimlag wankel nie ’n oomblik nie. Dalk omdat vyftienduisend mense al sy

app afgelaai het?
“Die publiek se steun is ’n groot verligting,” sê hy glad en vinnig, asof ’n
mediakonsultant hom voorgesê het. “Ons het nie geweet wat om te verwag
nie. En dis net weer ’n bewys: Daar is nie iets soos slegte publisiteit nie.”
Dít het hy in oormaat gekry, uit alle oorde: dominees, Christelike en
gesinsorganisasies, selfs die Minister vir Vroue in die Presidensie. En ’n
woordvoerder van die Departement van Justisie wat geskimp het dat die
maatskappy se produkte “dalk nie wettig” is nie.
“Ons het ons huiswerk gedoen. Daar is nie ’n enkele aspek van Alibi (hy sê
die woord op Engels) wat nie absoluut wettig is nie. Hulle kan maar kom
kyk.”
Hy lyk nie na die baas van ’n liegplaas nie, hierdie oopgesig-klong, die
enkelkind uit die Kaap se noordelike voorstede wat eens drome van
kunstenaar wees gekoester het. Hoe op aarde het hy tot hiér gekom?
“Aag, jong, die lewe is mos maar wonderlik …”
Cupido se lesery word onderbreek toe sy selfoon lui. ’n Onbekende
nommer. Hy kyk na die tydsaanduiding op sy selfoon – dis al amper tienuur.
“Cupido.”
“Dis Cindy Senekal.” Haar stem is versigtig en ’n bietjie bang.
Hy haat die oordra van die doodstyding. En die probleem is, hy weet nie
regtig hoe naby Senekal aan Ernst Richter was nie. Die dossier sê net “a
friend of the missing person”, maar uit die verklaring lyk dit baie na
girlfriend. Dis hier waar hy vir Benna nodig het, met sy groter takt.
“Dankie vir die terugbel. Ek is baie jammer, maar ek het nie goeie nuus nie
…”
Volkome stilte aan die ander kant.
“As jy dalk iemand by jou het wat jou kan ondersteun?”
Geen reaksie nie, tot hy vra: “Is jy daar?”
“Is Ernst dood?”

“Ek is baie jammer. Sy liggaam is vanoggend gevind.”
Sy uiter ’n enkele geluid van pyn. Cupido weet nie wat om te sê nie.
“Ek het so gedink,” sê sy eindelik.
***
Bietjie weird, in Cindy Senekal se sitkamer.
Sy is ’n blonde poppie: lang, reguit hare, slanke lyf, groot heuningbruin oë.
Middel twintigs, baie mooi.
Tien voor elf, in ’n wit meenthuis met ’n groen dak in Kleingeluk,
Stellenbosch, sit sy oorkant Cupido. Haar twee vroulike huismaats is
boekstutte weerskant, elkeen hou een van Cindy se hande vas. Al drie het
gehuil, al drie is nou in beheer.
Cindy, die sexy een, dan die dikketjie links, en regs is die wannabe wat nie
so mooi soos Cindy is nie, maar baie try-hard – selfde blonde hairstyle, the
works. Cupido weet, jy kan maar kyk: Mooi girls kom altyd met daai
entourage, or a close facsimile thereof.
Die “bietjie weird” is die drie whitey girls se houding. Nie die eerste keer
dat hy dit sien nie. Jy kry dit by die jonges wat nie die oorledene baie goed
geken het nie. Hulle het nog nie regtig personal loss ervaar nie, hulle dink
hulle weet hoe dit moet voel en lyk, nou fake hulle so bietjie. Dis asof hulle
’n reaksie na-aap wat hulle in ’n cop show op TV gesien het. Not quite
convincing, maar dis omdat hulle nie heeltemal emotionally invested was in
die victim nie. Hy was eintlik net ’n kennis.
“Dit het net so begin ernstig raak,” sê Senekal, onbewus van die
woordspeling. “Ons het nie meer ander mense gedate nie.”
“Hoe lank was julle saam?”
“Ons het in Oktober vir mekaar op Tinder gekry. Maar ons het eers hier teen
begin November regtig … jy weet …”

Dikketjie en Wannabe knik ernstig en vroom.
Hy weet nie. Hy’t al gehoor van Tinder, ’n dating app vir smartphones. Dis
glo redelik brutal, die manier hoe jy iemand kan reject. Of blok.
“Julle het eers begin November begin date?”
“Ja. Jy weet … Ons het eers op Tinder gechat vir ’n ruk. Jy moet so
versigtig wees, daar’s so baie weirdos daar buite …”
Dikketjie en Wannabe knik beamend.
“Het jy geweet wie hy was?”
“Obviously. Jy sign in op Tinder met jou Facebook profile.”
“En sy Facebook profile sê hy’s die baas van Alibi?”
“Obviously.”
“Wanneer het julle net vir mekaar begin date?”
“Twintig November,” kom dit vinnig en seker, asof dit ’n bakendatum is.
“’n Week voor hy verdwyn het?”
“Ja.”
Hulle het mekaar skaars geken, dink hy. But it’s a brave new world.
“Okay, vat my nou net deur julle relationship. Julle het op Tinder gechat tot
einde Oktober. En toe begin julle mekaar sien vroeg November.”
“Ja. Ons eerste date was lunch by Liza’s. Jy weet, in Dorpstraat. Hulle
peanut butter cheesecake is divine. Ek het vir hom gesê dis my favourite, toe
surprise hy my. Ernst was mal oor surprises. Hy’t my in ’n helikopter om
Tafelberg geneem.Van die Waterfront af. Hy’t net gesê, bring jou shades,
Cin, toe gaan vlieg ons …”
“Hy’s ’n pilot?”
“Nee, nee, hy’t ’n helikopter gehúúr.”
“Hoe gereeld het julle mekaar gesien, ná die eerste date?”
“Die laaste twee weke voor hy … weg is …” Haar mooi gesig vertrek weer,
en die twee vriendinne druk haar hande en vryf haar arms. “Sorry, ek kan nie
glo hy’s dood nie, hy was só, soos in, alive. Die laaste twee weke, omtrent

elke dag. Ek is ’n Wine Club Ambassador by Mooigelegen, so ek werk baie
in die aand, as ons wine club events host, maar Ernst was so … Hy’t
verstáán, hy’t altyd gesê, moenie worry nie, Cin, ek’s my eie baas …” Dit is
so ver as wat sy kom voor die huil haar kop laat sak en haar lyf laat sidder.
Dikketjie en die Wannabe troos en huil so ’n bietjie saam.
Wannabe gee ’n sneesdoekie aan. Cindy Senekal snuit.
“Hy’t gesê, ek’s my eie baas, ek plug by jou skedule in …”
“Het hy oor sy werk gepraat?”
Sy knik, snuit en sê dan: “Obviously. Sy werk, sy start-up was sy lewe. Dis
letterlik ál waaroor hy gepraat het.”
“Het hy ooit iets gesê oor moeilikheid? Iemand wat vir hom kwaad is?”
“Jy’t hom nie geken nie …”
Obviously, dink Cupido.
“Almal was mal oor hom. Álmal. Hy was nooit in ’n slegte mood nie, hy
was hyper, die hele tyd. Hy’t gesê, Cin, ek is op ’n permanent high, life’s an
adventure, kyk net waar het dit my gevat.”
“Maar ek hoor da