اصلی Onsigbaar

Onsigbaar

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟

Lemmer se Eerste Algemene Wet: Moenie betrokke raak nie. Hy pas dit veral toe in sy werk as vryskut-lyfwag by Body Armour, waar hy laag af is op die pryslys, want hy’s die een met die kriminele rekord, die gebrekkige sosiale vaardighede en die baie kort humeur. Wanneer die mooi, ryk Emma le Roux hom huur en begin vertel van onwaarskynlike bedreigings en ’n broer wat sy vas glo ná twintig jaar soos ’n Lasarus uit die dood uit opgestaan het, stof hy ook ’n ander ou Wet af: Moenie klein vroue vertrou nie. Maar wat, welvarende mense lieg en as dit ál gevaar is wat hy moet hanteer, dan vat hy die geld, baie dankie. Daarom vlieg hy op 26 Desember saam met haar Laeveld toe – en só begin ’n koorsagtige tog deur ’n wêreld van gierigheid en korrupsie, ekologiese stryde en sameswerings . . . en moord. In ’n lokval skiet hulle boonop vir Emma. Lemmer het nog nooit as ’n lyfwag gefaal nie, en om sy vyande te identifiseer gaan lewensgevaarlik wees, want hul ontmaskering gaan internasionale implikasies hê. Maar Lemmer is siek en sat daarvoor om onsigbaar te wees. Iemand moet betaal – en hy gaan nie rus voor dié rekening nie vereffen is nie.

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780798161831
ISBN:
B00BW7AT92
فایل:
کاپی کول (pdf, 182 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie3124
het2237
dit1618
van1528
wat1404
vir1243
haar1091
toe759
ons752
maar692
daar627
gaan595
kan571
net518
emma499
jou459
sal454
kom452
dan447
hom444
moet414
aan405
uit375
oor375
een354
weet345
wil345
kyk314
sien296
maak291
hoe285
nou280
dis274
twee265
deur263
hier257
dat247
voor245
teen237
soos233
waar230
nog229
weer225
doen206
hou198
iets193
wees190
vra178
dink176
kry174
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Orion

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
فایل:
0 / 0
2

Kobra

کال:
2013
ژبه:
afrikaans
فایل:
0 / 0
Deon Meyer

Onsigbaar
Human & Rousseau

Vir Anita

DEEL I

1

Op Dinsdag 25 Desember, net ná twaalfuur in die middag, swaai ek die swaar
voorhamer met ’n langsame ritme. Die muur is dik en hard. Dit breek
teësinnig in splinters van sement en steen wat met elke dowwe slag soos
skrapnel oor die houtvloer skiet. Ek voel die sweet wat in lang strepe oor die
stof op my gesig en bolyf loop; dit is ’n bakoond hier binne, ondanks die oop
vensters.
Tussen hamerhoue deur hoor ek die selfoon lui. Ek is onwillig om die
reëlmaat te verbreek – dit is ’n masjien wat in dié hitte traag gaan wees om
weer aan die gang te kom. Ek sit die langsteel stadig neer en loop sitkamer
toe, die brokstukke skerp onder my kaal voete. Op die foon se skermpie staan
JEANETTE. Ek vee my vuil hand aan my kortbroek af en tel die instrument
op.
“Jis.”
“Geseënde Kersfees.” Jeanette Louw se rasperstem, soos altyd gelaai met
’n onverklaarbare ironie.
“Dankie. Vir jou ook.”
“Seker lekker warm daar …”
“Agt-en-dertig buite.”
In die winter sê sy: “Seker lekker koud daar …” Haar onversluierde verwyt
oor my keuse van tuisdorp. “Loxton,” sê sy nou, asof dit ’n faux pas is. “Dan
moet jy maar sweet. Wat doen julle vir Kersfees in daardie geweste?”
“Breek die muur tussen die kombuis en die badkamer.”
“Die kombuis en die badkamer?”
“Dis hoe hulle gebou het in die ou dae.”
“En dis hoe jy Krismis hou? Ou plattelandse tradisie?” Sy blaf haar lag in
’n enkele, harde “ha”.
Ek weet sy het nie gebel omdat dit Kersfees is nie. “Jy’t werk vir my.”
“Ek het.”

“Toeris?”
“Nee. Kaapse vrou, nogal. Sê sy is gister aangeval. Sy soek jou vir ’n week
of wat, die deposito klaar betaal.”
Ek dink aan die geld wat ek nodig het. “O.”
“Sy’s op Hermanus. Ek SMS vir jou die adres en die selfoonnommer. Ek
sal haar sê jy’s op pad. Bel my as jy moeilikheid het.”
***
Ek ontmoet Emma le Roux vir die eerste keer in ’n strandhuis wat uitkyk op
die Ou Hawe van Hermanus. Die woning is indrukwekkend: drie nuwe
Toskaanse verdiepings van rykmanspeelplek met ’n hand-gekerfde
houtvoorde; ur en ’n metaalklopper in die vorm van ’n leeu se kop.
Om kwart voor sewe op Kersaand maak ’n jong man met lang krulhare en
’n staalraambril vir my die deur oop. Hy sê hy is Henk en dat hulle my
verwag. Hy is duidelik nuuskierig, maar hy onderdruk dit goed. Hy nooi my
in en vra my om in die sitkamer te wag terwyl hy vir “juffrou le Roux” gaan
roep. Formele man. Daar is geluide dieper in die huis – klassieke musiek,
mense wat gesels. Kosreuke.
Hy verdwyn. Ek sit nie. Ná ses ure deur die Karoo in die Isuzu wil ek
staan. Daar is ’n Kersboom in die vertrek, ’n groot nagemaakte een van
plastiekdennenaalde en fopsneeu. Veelkleurige liggies flits aan en af. Op die
hoogste punt is ’n engel met lang blonde hare, haar vlerke wydgesprei soos
dié van ’n roofvoël. Agter haar is die gordyne voor die groot vensters oop.
Buite is die baai mooi in die laatmiddag, die see kalm en stil.
“Mnr. Lemmer?”
Ek draai om.
Sy is klein en skraal. Haar swart hare is baie kort geknip, byna soos ’n man
s’n. Haar oë is groot en donker, haar oorskulpe effens gespits na bo. Sy lyk
soos ’n nimf uit ’n kinderboek. Daar is ’n oomblik waar sy my inneem, die
onwillekeurige op en af kyk om my teen haar verwagting te meet.
Sy steek haar teleurstelling goed weg. Gewoonlik verwag hulle iemand
groter, indrukwekkender – nie dié gemiddeldheid van lengte en voorkoms
nie.
Sy kom tot by my en steek haar hand uit. “Ek is Emma le Roux.” Haar
hand is warm.
“Hallo.”
“Kom sit gerus,” beduie sy na die meubels in die sitkamer. “Kan ek u iets

aanbied om te drink?” Haar stem het ’n eienaardige diepte, asof dit aan ’n
groter vrou behoort.
“Nee dankie.”
Ek gaan sit. Die vloei van haar klein liggaam is glad, asof sy volkome
gemaklik is daarin. Sy gaan sit oorkant my, trek haar bene op, tuis hier. Ek
wonder of dit haar plek is, waar die geld vandaan kom.
“Ek …” Sy maak ’n handgebaar. “Dit is ’n eerste vir my, om ’n lyfwag te
hê …”
Ek is nie seker hoe ek daarop moet antwoord nie. Die liggies van die
Kersboom flikker hul kleure oor haar met eentonige reëlmaat.
“As u dalk kan verduidelik hoe dit werk,” sê Emma le Roux sonder
verleentheid. “In die praktyk, bedoel ek.”
Ek wil vir haar sê as jy dié diens bestel, behoort jy te weet hoe dit werk.
Daar is nie ’n handleiding nie.
“Dit is redelik eenvoudig. Om u te kan beskerm, sal dit help as ek weet wat
u bewegings elke dag gaan wees …”
“Natuurlik.”
“En die aard van die risiko …”
Sy knik. “Dit … ek is nie seker wat die risiko is nie. Daar het ’n paar
vreemde goed gebeur … En Carel het my oortuig … Jy sal hom netnou
ontmoet, hy het julle dienste al gebruik. Ek … daar was ’n aanval,
gisteroggend …”
“Op u?”
“Ja. Wel, soort van … Hulle het my huis se deur oopgebreek en ingekom.”
“Hulle?”
“Drie mans.”
“Was hulle gewapen?”
“Nee. Ja. Hulle … dit het baie vinnig gebeur … Ek … ek het hulle skaars
gesien.”
Ek onderdruk ’n impuls om my wenkbroue te lig.
“Dit klink seker … snaaks,” sê sy.
Ek sê niks.
“Dit was … eienaardig, meneer Lemmer. Half … onwerklik.” Ek knik, ’n
aanmoediging.
Sy kyk vir ’n oomblik stip na my en leun dan oor om ’n tafellamp langs
haar aan te klik.
“Ek het ’n huis in Oranjezicht …”

“U bly dus nie permanent hier nie?”
“Nee … dis Carel se plek. Ek kuier net. Vir Kersfees.”
“Ek verstaan.”
“Gisteroggend … Ek wou eers my werk klaarmaak voor ek begin inpak vir
die naweek … My kantoor … ek werk van die huis af. En toe het ek so
halftien gaan stort …”
Haar storie vloei nie van die begin af nie, asof sy ’n sekere teësin het aan
die herleef daarvan. Haar sinne is onvoltooid, haar hande stil, haar stem ’n
hoflike, onbetrokke monotoon wat meer detail verskaf as waarvoor die
situasie vra. Miskien dink sy dit sal meer geloofwaardigheid daaraan verleen.
Sy sê sy het pas klaar gestort en was in haar slaapkamer, besig om aan te
trek, een been by die denim ingesteek, so effens van balans. Sy hoor die
tuinhekkie oopgaan en sien deur die kantgordyn hoe drie mans haastig,
doelgerig in die klein voortuin beweeg. Voor hulle buite haar gesigsveld deur
toe storm, registreer sy dat hul gesigte met balaklawas bedek is. Dat hulle
stomp voorwerpe in hul hande het.
Sy is ’n stedelike vrou. Alleen. Sy het die moontlikheid van
misdaadslagoffer wees al dikwels deurdink tot noodmaatreëls van optrede,
sou die ergste gebeur. Daarom druk sy die ander been deur sy broekspyp en
trek dit met groot haas oor haar heupe. Sy is nou halfgeklee, net ’n bra en ’n
broekie en die denim, maar die belangrikste is om by die alarm se noodknop
uit te kom, om gereed te staan, maar dit nog nie te druk nie, want daar is ’n
veiligheidshek en diefwering en die verleentheid van “wolf-wolf” roep.
Sy beweeg op haar kaal voete oor die mat na die alarmskakelaar teen haar
kamermuur en staan, vinger gereed. Haar hart klop in haar keel, maar sy is op
hierdie oomblik nog beheersd. Sy hoor die geluid van metaal wat teësinnig
buig en breek. Die veiligheidsdeur is nie meer veilig nie. Druk die alarm. Dit
loei hier bo in die plafon en die klank bring paniek daarmee saam.
Asof haar eie vertelling haar intrek, begin haar oë en hande saampraat.
Haar stem se toonhoogte styg, kry ’n musikaliteit.
Emma le Roux hardloop in die kort gang of na haar kombuis. Sy is
vlietend daarvan bewus dat inbrekers en diewe nie dié taktiek gebruik nie. Dit
vuur haar vrees aan. In haar haas hardloop sy met ’n dowwe slag teen die
hout van die agterdeur vas. Haar hande bewe as sy die twee grendels
terugdruk en die sleutel in die slot draai. Op die oomblik dat sy die deur
oopruk, hoor sy die versplintering in die voorportaal, glas wat breek. Sy weet
die voordeur is oop. Hulle is nou in haar huis.

Sy gee een tree na buite en steek dan vas. Sy draai om, terug kombuis toe,
om ’n skottelgoed-afdroogdoek van bo die wasbak te gryp. Sy wil haarself
daarmee bedek, minder blootgestel wees. Agterna sal sy haarself so effens
verwyt vir die sinneloosheid hiervan, maar op daardie oomblik is dit instink.
Sy talm nog ’n breukdeel van ’n sekonde – moet sy ’n wapen gryp, ’n groot
kombuismes? Onderdruk die impuls.
Nou hardloop sy uit, in die helder sonlig, met die afdroogdoek teen haar
bors gedruk. Die agterplaas, netjies geplavei, is klein.
Sy sien die hoë betonmuur wat haar moet beskerm, wat die wêreld moet
uithou. Dit hou haar nou in. Sy skree vir die eerste keer. “Help my!” ’n
Noodkreet aan bure wat sy nie ken nie, want dit is stedelike Kaapstad waar jy
jou afstand hou, jou valbrug elke aand optrek, jou met jou eie dinge besig
hou. Sy hoor hulle in die huis agter haar. Een van hulle skree iets. Sy sien die
swart asdrom wat naby die betonmuur staan – ’n trap na ontsnapping.
“Help my!” Haar kreet tussen die kermende ritme van die alarm.
Emma sê sy weet nie hoe sy oor die muur gekom het nie. Maar sy het, in
een of twee adrenaliengedrewe bewegings. Die afdroogdoek het in die proses
agtergebly, sodat sy in haar bure se erf daarsonder geland het. Haar
linkerknie het teen iets geskuur. Sy voel dit nie, sal eers later bewus word van
die skeurtjie in die broek se materiaal.
“Help my!” Haar stem hoog en desperaat. Arms voor die bors om haar
fatsoenlikheid te beskerm, hardloop sy na die bure se agterdeur. “Help my!”
Agter haar hoor sy hoe die asdrom omval en sy weet hulle is naby. Voor
haar gaan die bure se agterdeur oop en ’n gryskopman in ’n rooi kamerjas
met wit kolletjies daarop kom uit. Hy het ’n geweer in sy hande. Bo sy oë is
die silwer wenkbroue dik en lank, dit maak klein vlerkies oor sy voorkop.
“Help my,” sê sy en daar is nou verligting in haar stem.
Die buurman se oë is vir ’n oomblik op haar, die volwasse vrou met die
seunsagtige lyf. En dan lig sy wenkbroue en sy blik na die muur agter haar.
Hy druk die geweer teen sy skouer en rig dit op die muur. Sy is byna by hom
en kyk ook om. ’n Balaklawa-kop verskyn vir ’n oomblik bokant die beton.
Die buurman vuur ’n skoot af. Dit donder en eggo van die vele mure af
terug en die koeël slaan met ’n skerp klapgeluid teen haar huis vas. Haar ore
wat tuit. Sy staan by die buurman, bewend. Hy kyk nie vir haar nie, bewerk
die slot van die geweer. ’n Doppie tuimel op die sement van die
agterdeurtrappie neer.
Die buurman kyk vir die muur. “Bastards,” sê hy terwyl hy teen die loop

afkyk. Hy beweeg die loop van die geweer horisontaal, om die hele front te
dek.
Die aanvallers het verdwyn. Haar gehoor begin herstel; soos die suising
verminder, hoor sy weer die kermende alarm. Tot hy stadig die geweer laat
sak en vir haar in ’n stem vol deernis en Oos-Europa vra: “Are you all right,
my dear?”
Dan begin sy huil.

2

Die buurman met die geweer se naam is Jerzy Pajak. Hy lei haar in hul huis
in. Hy vra sy vrou, Aleksa, om die polisie te bel en dan kloek hulle om haar
in hul Poolse aksente. Hulle gee vir haar ’n ligte kombers vir haar skaamte,
en soet tee. Hulle stap later saam met haar en die twee polisiemanne om na
haar huis.
Die staalveiligheidshek staan skeef. Die houtvoordeur is onherstelbaar
beskadig. Die bruin polisieman is die meer senior van die twee, met strepe op
sy netjiese uniform se skouers. Sy dink hy is ’n sersant, maar omdat sy nie
seker is nie, noem sy hulle al twee “meneer”. Hy vra vir haar om te kyk of
iets weg is uit haar huis. Sy sê sy sal terselfdertyd iets aantrek, want sy loop
nog met die veelkleurige kombers om haar gedrapeer in die stygende
temperatuur van die stadskom. Sy loop na haar kamer en gaan sit vir ’n
oomblik op die wit duvet van die dubbelbed wat sy meer as ’n uur gelede
opgemaak het. Sy dink nie dit was inbrekers nie. Sy het genoeg tyd gehad om
afleidings te maak, om vermoedens te ontwikkel.
Sy trek aan – ’n groen T-hemp en sportskoene. Sy loop ’n draai deur die
huis om die sersant tevrede te stel en gaan rapporteer aan hom dat niks
gesteel is nie. Terwyl hulle in ’n kring in die sitkamer stelling inneem, die
Pajaks op die rusbank, sy en die polisiemanne op stoele, ondervra hy haar
sorgsaam en simpatiek in amptelike, suiwer Afrikaans:
Was sy daarvan bewus dat enigiemand haar of haar huis onlangs dopgehou
het?
“Nee.”
“Geen verdagte motor of ander soort voertuig in die omgewing opgemerk
nie?”
“Nee.”
“Geen mense wat hier in die straat draal of verdag optree nie?”
“Nee.”

“U was in u slaapkamer toe hulle ingekom het?”
Sy knik. “Ek was besig om aan te trek toe ek die hekkie gehoor het. Hy
maak ’n geluid. Toe sien ek hulle voordeur toe hardloop. Nee, nie hardloop
nie. Vinnig loop. En toe ek die balaklawas sien, toe …”
“Ek neem aan u kon geen gelaatstrekke sien nie.”
“Nee.”
Die Pajaks kan geen woord van die gesprek verstaan nie, maar hul koppe
volg die ondervraging van kant tot kant, soos toeskouers by ’n
tenniswedstryd.
“Velkleur?”
“Nee …”
“U klink onseker.”
Sy dink hulle was swart, maar sy wil nie vir die ander poliesman aanstoot
gee nie. “Ek kan nie met sekerheid sê nie. Dit het baie vinnig gebeur.”
“Ek verstaan, juffrou le Roux. En ’n mens skrik so groot. Maar enigiets sal
help.”
“Dit kan wees dat … een swart was.”
“En die ander twee?”
“Ek weet nie … “
“Het u onlangs enige werk in of om die huis laat doen?”
“Nee.”
“Is daar enige artikels in die huis wat van besondere waarde is?”
“Net die gewone. ’n Paar stukkies juweliersware. ’n Laptop. Die TV…”
“’n Laptop?”
“Ja.”
“En dit is nie gesteel nie?”
“Nee.”
“Nou moet u verskoon, juffrou le Roux, maar dit is ongewoon. As ek so
luister na wat gebeur het, dit is nie die modus operandi van jou gewone
huisbreker nie. Die deure oopgebreek en die agtervolging tot in die agterplaas
…”
“Ja?”
“Dit klink of hulle u in die persoon wou aangeval het.”
Sy knik.
“’n Mens begin maar altyd soek na redes, u verstaan.”
“Ek verstaan.”
“En dit is gewoonlik persoonlik van aard. In die meeste gevalle.”

“O?”
“Vergewe die vraag, maar is daar dalk ’n liefde wat onlangs skeefgeloop
het?”
“Nee,” sê sy met ’n glimlag om haar verligting te masker. “Nee … nie só
skeef nie, hoop ek.”
“’n Mens weet nooit, juffrou. So daar was ’n man in die onlangse
verlede?”
“Ek kan u verseker, meneer, ek was meer as ’n jaar gelede in ’n ernstige
verhouding en hy was ’n Brit wat terug is Engeland toe.”
“Die afskeid was gemoedelik?”
“Heeltemal.”
“En daar was sedertdien nie iemand wat dalk ongelukkig kon wees oor ’n
verbrokkeling nie?”
“Nee. Hoegenaamd nie.”
“Watse werk doen u, juffrou le Roux?
“Ek is ’n handelsmerk-konsultant.”
Sy sien onbegrip en probeer verduidelik. “’n Brand consultant. Ek help
maatskappye om hul produkhandelsmerke te posisioneer. Of te
herposisioneer.”
“Vir watter maatskappy werk u?”
“Nee, ek werk vir myself. My kliënte is maatskappye.”
“So u het geen werknemers nie?”
“Nee.”
“En u werk met groot maatskappye?”
“Meestal. Soms is daar kleineres …”
“Daar het nie onlangs by die werk iets gebeur wat mense kon kwaad maak
nie?”
“Nee. Dit is nie … ek werk met die produkte, of die maatskappye se
handelsmerk-beeld. Dit kan niemand kwaad maak nie.”
“’n Alterkasie? Met u motor? Met iemand wat ’n diens aan u gelewer het?
Tuinwerker, huishulp?”
“Nee.”
“Is daar enigiets waaraan u kan dink? Enigiets wat kon aanleiding gee?”
Dit was die vraag wat sy nog nie gereed was om te beantwoord nie.
***
“Toe sê ek ’nee’, maar ek dink nie dit was die waarheid nie,” sê Emma vir

my. Die staanlamp langs haar werp ’n sagte, simpatieke lig oor haar
eufemisme.
Ek reageer nie.
“Ek … ek wou nie … Ek was nie seker of die goed verbind was nie. Nee,
ek wou nie gehad het dit moet verbind wees nie. In elk geval, dit was iets wat
’n duisend kilometer van die Kaap af gebeur het en dit kon Jacobus gewees
het, of dit kon nie, en ek wou nie die polisie belas met iets wat dalk net my
verbeelding is nie.” Sy hou skielik op met praat, kyk na my en glimlag stadig,
asof sy moeg is vir haarself. “Ek maak nou hoegenaamd nie sin nie, nè?”
“Neem u tyd.”
“Dis net … dit máák nie sin nie. Jy sien, my broer …” Sy hou op met
praat, skep ’n oomblik asem. Sy kyk na haar hande, dan, stadig, op na my.
Emosie blink in haar oë, haar hande beweeg klein en hulpeloos. “Meneer
Lemmer, hy’s oorlede …”
Dit is die som van haar liggaamstaal, haar woordkeuse en skielike
ratverwisseling wat die alarm in my kop laat afgaan. Asof sy hierdie frase,
dié aanbod geoefen het. Daar is die fyn flikkering van manipulasie, asof sy
my aandag van die feite op die tafel wil weglei. Wat my op daardie oomblik
laat wonder: Hoekom is dit nodig?
Emma le Roux sal nie die eerste kliënt wees wat met die klein frons van
absolute eerlikheid op die voorhoof blatant lieg oor ’n bedreiging nie. Of met
mistige oë ten dele fantaseer of vergroot om die egostrelende
teenwoordigheid van Die Lyfwag te regverdig nie. Mense lieg. Vir ’n
duisternis van redes. Soms net omdat hulle kán. Dit is een van die
bevestigende verskynsels van Lemmer se Eerste Wet: Moenie betrokke raak
nie. Dit is een van die primêre bronne van Lemmer se Tweede Wet: Moet
niemand vertrou nie.

3

Sy herstel gou, dit moet ek haar toegee. Wanneer sy sien dat ek nie reageer
nie, skud sy die emosie met ’n beweging van haar kop af en sê: “My broer se
naam was Jacobus Daniël le Roux …”
Haar sinne is nou weer minder vloeiend, haar storie kursories, asof die
detail ’n fontein is waar sy nie wil gaan drink nie. Sy sê haar broer het in
1986 verdwyn. Sy was toe 14, Jacobus 20. Hy was ’n soort tydelike
wildbewaarder, een van ’n paar dienspligsoldate wat as vrywilligers gewerf is
om te gaan help, want die Parkeraad was nie opgewasse teen die
olifantslagting in die Krugerwildtuin nie. En toe raak hy net weg. Hulle het
agterna die tekens van ’n skermutseling met ivoorstropers gekry,
koeëldoppies en bloed en die haastig agtergelate oorblyfsels van die
wilddiewe se kampplek. Hulle het twee weke lank gesoek en gejag, tot hulle
die enigste sinvolle afleiding gemaak het: dat Jacobus en sy swart assistent
dood is tydens die konfrontasie, dat die stropers hul lyke saamgeneem het uit
vrees vir die reaksie wat dit sou ontlok.
“Dis meer as twintig jaar gelede, meneer Lemmer … Dis ’n lang tyd, dit
moet jy verstaan. Dis wat alles so moeilik maak … In elk geval, verlede
week, die 22ste, het die ding gebeur wat ek die polisie nie vertel het nie …”
Daardie Saterdagaand, net ná sewe, sit sy in haar huis se tweede
slaapkamer. Sy het dit as kantoor ingerig, met ’n ingeboude lessenaar,
liasseerkabinette en boekrakke. Emma is besig op haar skootrekenaar,
sigbladwerk met statistieke wat groot konsentrasie verg. Sy is vaagweg
bewus van die TV-nuus se hooftrekke wat in elk geval vir die kyker met ’n
gevoel van déjà-vu laat: President Mbeki en die vennote van sy alliansie is
haaks, ’n selfmoordbom in Bagdad, Afrikaleiers wat kla oor die G8 se
voorwaardes vir skuldafskrywing.
Sy kan later nie onthou wat dit is wat haar laat opkyk nie. Dalk omdat sy ’n
grafiek voltooi het en vir ’n oomblik haar fokus kon skuif, dalk net toeval.

Maar as sy haar aandag op die televisieskerm vestig, is dit net sekondes voor
die foto verskyn. Sy hoor die nuusleser sê: “… by Khokhovela naby die
Krugerwildtuin in ’n skietvoorval betrokke was waarin ’n tradisionele
geneser en drie plaaslike mans dood is. Veertien karkasse van beskermde en
bedreigde aasvoëls is op die toneel gevind.”
Die foto, in swart-wit, verskyn. ’n Wit man, laat dertigs, vroeë veertigs,
staar emosieloos vir die kamera, soos wat mense vir die neem van
identiteitsfoto’s doen.
Dit lyk soos Jacobus sou gelyk het. Dit is wat sy dink, op daardie oomblik,
’n blote kalm observasie, ’n sweem van … heimwee, amper.
“Die Limpopo-polisie is op soek na ’n mnr. Jacobus de Villiers, ook
bekend as Cobus, ’n werknemer by ’n dierehospitaal by Klaserie, om hulle
met die ondersoek te help. Enigiemand met inligting kan die polisiekantoor
op Hoedspruit …”
Sy skud haar kop. Sy grynslag. Toeval.
Die nuusleser behandel die kommoditeitspryse van die dag en sy skuif haar
aandag na die rekenaar voor haar en die groot stuk werk wat nog moet
klaarkom. Sy trek die loper oor ’n blok data. Sy kies die grafiekikoon.
Hoe sou Jacobus gelyk het op … veertig, hy sou vanjaar veertig gewees
het? Haar herinnering van sy gelaatstrekke is nou dalk meer gebaseer op
foto’s in haar ouers se huis, haar eie geheue daarvan onbetroubaar. Maar sy
kan die verstommende intensiteit van haar broer onthou, sy gees, sy
oorweldigende persoonlikheid.
Sy manipuleer die grafiek tot veelkleurige stawe van data wat insig moet
bring van verkoopspatrone teenoor mededingers.
Toeval. Dat die man in die foto op televisie se naam ook Jacobus moet
wees.
Sy selekteer nog selle syfers. Sy het nodig om ’n sirkelgrafiek hiervan te
maak, skywe van markaandeel wat daarop sal dui dat haar kliënt se slaaisous
die agteros is wat net-net in die kraal kom: die probleem wat sy moet oplos.
Veertien karkasse van beskermde en bedreigde aasvoëls is opdie toneel
gevind.
Dit sou Jacobus ontstel het.
Sy maak ’n fout met die opstel van die grafiek en klik haar tong vir
haarself. Dit is toeval, blote toeval, dit sal gebeur as jy elke dag vir twintig
jaar ’n duisend stukke inligting inneem. Die syfers sal sekerlik saamsweer om
een of dalk twee keer in ’n leeftyd die draak met jou te steek.

Sy onderdruk die gedagtes vir byna twee uur, tot sy al die syfers verwerk
het. Sy kyk of daar nuwe e-pos is en skakel die rekenaar af. Sy gaan haal ’n
skoon handdoek uit die linnekas en kom klim op die oefenfiets, selfoon in
haar hand. Sy lees SMS’e, luister na boodskappe. Sy trap stelselmatig harder,
kyk sonder konsentrasie na die televisie, verander die kanaal met die
afstandbeheer.
Sy wonder hoeveel die foto regtig na Jacobus gelyk het. Sy wonder oor
haar vermoë om hom te eien. Sê nou maar hy was nie dood nie en hy moet
nou hier instap? Wat sou haar pa gesê het oor die nuusinsetsel? Watse werk
sou Jacobus gedoen het as hy geleef het? Wat sou hy gedoen het by veertien
karkasse van bedreigde aasvoëls?
Meer as een keer dwing sy haarself om aan ander dinge te dink, om die
volgende dag te beplan, om reg te maak vir die paar dae op Hermanus oor die
Kerstyd, maar Jacobus kom spook oor en oor by haar tot sy eindelik, enkele
minute ná tien, in ’n kas gaan grawe en die twee albums uithaal. Sy blaai
vinnig daardeur – sy wil nie talm by die foto’s van haar ouers, of hulle as
gesin nie. Sy soek net die een van Jacobus met sy boshoedjie op.
Sy haal dit uit, sit dit eenkant, kyk daarna.
Herinneringe. Dit neem aansienlike wilskrag om dit te onderdruk. Lyk hy
na die man wat netnou op TV was?
Skielik is sy heeltemal seker. Sy loop met die foto na haar studeerkamer en
skakel Navrae om die nommer van die polisie-kantoor op Hoedspruit te kry.
Sy kyk weer na die foto. Nou twyfel sy weer. Sy bel die Laeveldse nommer
om te vra of hulle seker is dit is Jacobus de Villiers en nie Jacobus le Roux
nie. Dit is al. Net sodat sy die ding uit haar kop uit kan kry en gaan Kersfees
hou sonder frustrerende verlange na haar oorlede familie, almal van hulle, Pa
en Ma en Jacobus.
Sy praat eindelik met ’n inspekteur. Sy vra om verskoning. Sy het nie
inligting nie, sy wil nie tyd mors nie. Die man op die TV het gelyk soos
iemand wat sy ken, wat ook Jacobus genoem was. Jacobus le Roux. Sy bly
dan stil, sodat hy kan reageer.
“No,” sê die inspekteur met die oordadige geduld van iemand wat sy
soveelste eienaardige oproep moes hanteer. “He is De Villiers.”
“I know he is De Villiers now, but he might have been Le Roux, that is
what I’m saying.”
Die geduld raak minder. “How can that be? He has been here all his life.
Everybody knows him.”

Sy sê weer jammer en dankie en beëindig die oproep. Nou weet sy
minstens.
Sy gaan slaap met ’n verlange in haar, asof haar verliese ná al die jare weer
op ’n manier nuutgemaak is.
***
“En toe, gistermiddag, het ek by die ou gestaan wat my deur kom vervang
het. Die sersant, die polisie-ou, hy’t iemand uit Hanoverpark gekry, ’n
houtwerker … skrynwerker, toe hoor ek my telefoon in die studeerkamer lui.
Toe ek optel, is daar ’n geraas op die lyn, ek kon nie veel hoor nie, ek dink
hy’t gesê ‘Miss Emma?’. Dit het geklink soos ’n swart man. Toe sê ek ‘ja’.
Toe sê hy iets wat klink soos ‘Jacobus’ en ek sê ek kan nie hoor nie. Toe sê
hy ‘Jacobus sê jy moet …’ en toe sê ek weer ek kan nie hoor nie, maar hy bly
stil. Toe vra ek ‘Wie praat?’ maar toe is die lyn net weg …”
Vir ’n oomblik is sy op ’n ander plek in haar kop, haar oë ver, en dan kom
sy terug na my, draai haar kop, kyk na my en sê: “Ek is nie eens seker dit is
wat hy gesê het nie. Dit was … die oproep was kort.” Sy praat skielik
vinniger, asof sy die hele ding wil klaarkry. “Ek het gisteraand deurgery
hiernatoe. En toe Carel die storie hoor …”
Sy laat dit daar. Sy wil nou ’n reaksie hê, ’n aanduiding dat ek glo en
verstaan, ’n versekering dat ek haar teen dit alles sal beskerm. Dit is die
oomblik van kopersberou, soos iemand wat ’n nuwe ryding aanskaf en weer
die advertensie gaan lees. Ek ken dit, dié moment waarin jy jou verbind aan
die ongeskrewe deel van die kontrak wat sê “ek aanvaar sonder voorbehoud”.
Ek knik my kop ernstig en sê: “Ek verstaan. Ek is jammer …” en ek beduie
met my hande, ’n halwe sirkel om te wys ek wil alles daarby insluit, haar
verlies, haar pyn, haar dilemma.
Daar is ’n klein stilte tussen ons, die ooreenkoms gesluit. Sy sal nou aksie
verwag, ’n sekere leiding.
“Die eerste ding wat ek moet doen, is om die huis te bestudeer, buite en
binne.”
“Natuurlik,” sê sy en ons staan op.
“Maar mnr. Lemmer, ons gaan net een nag hier wees.”
“O.”
“Ek wil weet wat aangaan, mnr. Lemmer. Dit … ek vind dit alles
ontstellend. En ek kan nie net hier sit en wonder nie. Ek wil weet of ons mag
reis. Of jy mag saamreis. Want ek gaan Laeveld toe, môre.”

4

Dit is donker buite, maar die straatligte is helder. Ek loop om die huis. Dit is
nie ’n vesting nie. Diefwering net op grondvlak, subtiel, sodat dit nie inmeng
met die estetika nie. Die kwesbaarste punt is die glasskuifdeure wat oopmaak
op die groot stoep met die see-uitsig. Toskaanse pilare, hoeke en uitsteeksels
wat vier, vyf moontlikhede bied om vinnig en stil by vensters op die eerste en
tweede verdiepings te kom.
Binne, weet ek, is die gewone alarmstelsel met sy bewegingsensors en
koppeling met ’n plaaslike private sekuriteitsfirma wie se blou-en-wit
naambord langs die motorhuis pryk. Dit is vakansiehuissekuriteit, ontwerp as
hoopvolle afskrikmiddel, versekeringspremieverlager.
Die huis is dalk drie jaar oud. Ek wonder wat eers hier gestaan het. Ek
wonder wat die eiendom en die bouwerk gekos het. Ek verstom my aan die
oordaad.
Lemmer se Wet oor Ryk Afrikaners: As ’n Ryk Afrikaner kan vertoon, dan
sál hy.
Die eerste ding wat ’n Ryk Afrikaner koop, is groter borste vir sy vrou. Die
tweede ding wat ’n Ryk Afrikaner koop, is ’n duur donkerbril (met die
handelsmerk prominent sigbaar) wat net afgehaal word as dit heeltemal
donker is. Sodat hy daarmee die eerste skans tussen hom en die armes bou.
“Ek kan jóú sien, maar jy kan mý nie meer sien nie.” Die derde ding wat die
Ryk Afrikaner koop, is ’n dubbelverdiepinghuis in die Toskaanse styl. (En
die vierde is ’n nommerplaat met sy naam of sy rugbytrui se nommer
daarop.) Hoe lank nog voor ons ons inherente minderwaardigheid gaan
oorkom? Waarom kan ons nie, wanneer die geldgode lag, subtiel wees nie?
Soos ons ryk Engelssprekende landgenote, wie se teen-die-neus-afkyk my
net so afstoot, maar hul welvaart minstens stylvol dra. Ek staan in die donker
en wonder oor Carel-die-eienaar. Hy is skynbaar reeds ’n kliënt van Jeanette.
Die Ryk Afrikaner is nie ’n lyfwaggebruiker nie. Sy bedreiging is te

onsubtiel. Waar het Carel se behoefte aan beskerming ontstaan?
Ek kry die antwoord in die eetkamer, later.
Wanneer ek by die vertrek inloop, sit die meeste van hulle by die groot
tafel. Emma stel my voor. Sy is die enigste een wat klaarblyklik nie familie is
nie.
“Carel van Zyl,” sê die patriarg aan die kop van die tafel. Sy handdruk is
oordrewe ferm, asof hy iets wil bewys. Hy is ’n groot man in sy vyftigs, met
vlesige lippe en breë skouers, maar die goeie lewe het reeds sy rondings op
Carel se wange en middel begin vestig. Daar is drie jonger egpare – Carel se
kinders en hul gades. Een van hulle is Henk, wat die deur vir my oopgemaak
het. Hy sit langs sy vrou, ’n mooi blondine met ’n baba op haar skoot. Vier
ander kleinkinders, die oudste ’n seun van agt of nege. My plek is langs hom.
Carel se vrou is lank en aantreklik en onmoontlik goed gepreserveer. “Trek
gerus jou baadjie uit, meneer Lemmer,” sê sy met oordrewe hartlikheid
terwyl sy ’n stomende bak kalkoen op die tafel neersit.
“Mamma …” sê Carel teregwysend.
“Wat?” vra sy.
Hy maak ’n vuurwapen met sy hand en druk die vingerloop in sy hemp.
“O. Ekskuus,” sê sy, asof sy ’n sosiale blaps gemaak het.
“Kom, ons vra die Here se seën,” sê Carel gewigtig. Die aansittendes vat
hande en buig hul hoofde. Die seuntjie se hand is klein en sweterig in myne,
sy pa s’n koel en sag aan my ander kant. Carel bid, puntsgewys, gemaklik en
welsprekend, asof sy god ’n medelid van die direksie is.
“Amen,” eggo dit om die tafel. Kosbakke word aangebied, kinders
aangemoedig om groente in te skep. Daar is kort stiltes: ’n koverte bewussyn
van die vreemdeling en ’n subtiele onsekerheid oor die gepaste vorm van
interaksie. Ek is ’n gas, maar ook ’n gehuurde, ’n indringer met ’n beroep wat
prikkel. Die seuntjie kyk onbeskroomd nuuskierig na my. “Het jy regtig ’n
gun?” vra hy. Sy ma maak hom stil en sê: “Ag, verskoon tog.”
Ek skep kalkoen in. Die gasvrou sê: “Dit is maar net oorskiet.” Carel sê:
“Dit is heerlik, ma.”
Iemand bied die weervooruitsigte aan as ’n gespreksonderwerp en hulle
kom op dreef – planne vir die volgende dag, hoe die kinders besig gehou kan
word, wie se beurt dit is om te braai. Emma praat nie. Haar aandag is by haar
kos, maar sy eet nie veel nie.
Ek raak bewus van ’n onnatuurlike gemoedelikheid tussen hulle, ondanks
my teenwoordigheid. Daar is geen konflik hier nie, geen broederlike

mededinging, geen korswil tussen gades nie, soos die perfekte familie in ’n
Amerikaanse televisieprogram. Dit het te doen met die manier waarop Carel
die laaste sê het, die finale mening. Hul onderdanigheid is byna
onwaarneembaar, vervleg in ’n goedige, geoefende patroon van interaksie,
maar dit is daar, die neerbuig voor die goedhartige despoot – die een met die
beursie, die erfgeld.
Hoe pas Emma by dit alles in?
Wanneer die borde leeg is en ’n gesprek oor die volgende dag se gholf ten
einde loop, besluit Carel dit is tyd om my te betrek. Hy wag vir ’n oomblik
van stilte en kyk na my met ’n intieme glimlag.
“Nou weet ek hoe die spoke lyk, meneer Lemmer.”
Vir ’n oomblik het ek geen idee waarvan hy praat nie. En dan snap ek: Hy
het Body Armour se klok hoor lui, maar het die bel aan die stert beet.
***
Jeanette Louw is op die oog af iewers-in-die-vyftig met groot, blonde hare uit
’n bottel, ’n skrikwekkende Gauloises-rookgewoonte en ’n uitgesproke
voorliefde vir die verleiding van pas geskeide, gekweste, heteroseksuele
vroue. Maar agter dié front skuil ’n skerp intellek en flink sakebrein.
Sy was die legendariese regiment-sersantmajoor van die Vroueleërkollege
op George, voor sy sewe jaar gelede ’n pakket gevat het. Ná maande se
navorsing het sy haar maatskappy op die sestiende verdieping van ’n luukse
kantoorgebou in die Kaapse Strandgebied gevestig. Op die dubbelglasdeure,
waardeur jy vir Jolene Freylinck, die gemanikuurde ontvangsdame, kan sien,
staan daar in sterk, manlike letters BODY ARMOUR en die
bemarkingsverduideliking Personal Executive Security daaronder in slanke
sans serif.
Haar kliënte was aanvanklik buitelandse sakemense, die senior bestuur van
internasionale maatskappye wat wil kom kyk hoe ’n vinnige dollar uit Afrika
gewurg kan word. Hul ambassades het in bulletins vertroulik gefluister dat
die land stabiel genoeg is vir investering, maar die veiligheid op straat is nog
nie heeltemal op Westerse standaard nie. Daarom het Jeanette haar
bemarking by die diplomate gaan doen, die ekonomiese attachés en konsuls,
die klerke en skakelbordoperateurs. Wil hul belangrike besoekers die lang lys
moontlike persoonlike gevare vryspring, die straatroof, motorkapings,
aanrandings, verkragtings, ontvoerings, inbrake? Body Armour is die
oplossing. Die eerste paar kliënte is tevrede terug huis toe en haar reputasie

het begin groei. Stelselmatig het die hele spektrum van Oos na Wes haar
mense kom huur: Japannese, Koreane, Chinese, Duitsers, Franse, Britte,
Amerikaners .…
En toe begin die uitlanders rolprente maak in die Kaap, en die musieksterre
van die wêreld kom hou konsert vir die Boere, en haar kliëntelys het ’n nuwe
dimensie gekry sodat foto’s van haar saam met Colin Farrell, Oprah, Robbie
Williams, Nicole Kidman en Samuel L. Jackson teen haar kantoormuur pryk.
Sy sal agter haar lessenaar sit en jou ook vertel van die groot visse wat
weggekom het: Will Smith, met sy aansienlike entourage van eie,
Amerikaanse lyfwagte wat soos pryssangers saam met hom beweeg, Sean
Connery wat haar ewige bewondering afgedwing het deur haar produk van
die hand te wys met ’n “Do you think I’m a fucking wimp?”.
Soos met soortgelyke dienste oral in die wêreld het Jeanette se portefeulje
van met-die-hand-uitgesoekte vryskut-lyfwagte ’n spesifieke, tweeledige
karakter gekry: Daar is die afskrikmiddels – die hoogs sigbare, spierbultende
diknek-steroïedkolosse wat saam met die beroemdes beweeg en visueel
intimiderend die gepeupel op ’n afstand moet hou – hul enigste kwalifikasie
is omtrek van borskas en ledemate en die vermoë om dreigend te frons.
Die ander vertakking van Jeanette se diens is dié wat meer subtiele, maar
steeds hoofsaaklik denkbeeldige bedreigings moet bestuur. Hulle moet die
kliënt se ego streel met ’n curriculum vitae wat amptelike opleiding en
hooggeplaaste ervaring weerspieël. Hulle moet die skyn van gevaar bewaar
deur aan die periferie te beweeg, onophoudelik waar te neem en te evalueer.
Soms in spanne van twee, vier of ses met klein, versteekte oor- en mikrofone,
soms alleen, afhangende van die omvang van die kliëntegroep, die beskermde
se finansiële vermoë of die aard van die risiko. Hulle moet saamsmelt met die
omgewing waardeur die kliënt beweeg, net verskyn wanneer hoflike
voorstelle op geleë oomblikke in ore gefluister moet word. Die kliënt verwag
dit alles, want film en televisie het ’n standaard van optrede geskep waaraan
voldoen moet word. (Ek het ’n Skandinawiese sakevrou gehad wat daarop
aangedring het dat ek ’n oorfoon dra, met die kartelende draad onder die
kraag in, al het ek alleen gewerk en met niemand kon kommunikeer nie.)
Daarom sal Jeanette Louw vir elke voornemende klant of hul
verteenwoordigers vra: “Do you need a gorilla or an invisible?” In die wêreld
van die rykes en beroemdes is dit erkende en bekende terminologie.
Maar Carel die Alwetende kry dit nie heeltemal reg nie. Sy fout sê iets –
dat hy net ten dele ken.

“As ’n mens ’n lyfwag wil huur, dan vra Jeanette vir jou of jy ’n spook of
’n gorilla wil hê,” verduidelik hy vir die res van die tafel. “Ons het nog net
die gorillas gebruik, vir die celebrities wat kom advertensies doen.”
Ek kan nie aan ’n gepaste reaksie dink nie. Dié situasie is vir my vreemd:
Die gehuurde sit nie gewoonlik aan dieselfde tafel as die huurder nie – dit is
sosiaal onaanvaarbaar. En dan is daar my eie gebrek aan geesdrif vir
sinnelose gesprekke. Maar Carel het nie ’n reaksie nodig nie.
“Die gorillas is die ou grotes,” sê hy, “wat lyk soos bouncers by ’n
nagklub. Maar die spoke is blykbaar die ouens wat ken van. Wat al
staatspresidente en ministers opgepas het.”
Hulle kyk vir my, die hele tafel.
“Is dit ook jóú agtergrond, meneer Lemmer?” vra Carel. Dit is ’n
uitnodiging, maar ek wys dit van die hand deur net ongeesdriftig te knik.
Carel is teleurgesteld, maar hy steek dit goed weg. “Nou sien jy, Emma. Jy
is in goeie hande.”
Goeie hande. Ek vermoed Carel het nie eerstehandse ervaring van die
huurproses by Body Armour nie. Dit is iets wat hy aan onderdane sal oorlaat.
As hy dit self hanteer het, sou hy geweet het Jeanette het ’n pryslys en my
plek in dié hiërargie is nie hoog nie. Ek is aan die winskoopkant van die
markkragte, die een wat nie in ’n span wil werk nie, die een met ’n
toegesmeerde verlede en gebrekkige openbare betrekkinge.
Weet Emma? Seker nie. Jeanette is te professioneel. Sy sou gevra het:
“Hoeveel wil jy spandeer?” en Emma sou gesê het sy het geen idee wat dit
kos nie. “Enigiets tussen tienduisend rand per dag vir ’n span van vier en
sewe-honderd-en-vyftig per dag vir ’n solo-operateur,” sou Jeanette die
moontlikhede uitgestippel het, sonder om by te voeg dat sy twintig persent
daarvan aftrek, plus ’n administratiewe fooi, werkloosheidsbelasting,
inkomstebelasting en bankoordragfooie.
Wat verdien ’n handelsmerk-konsultant? Hoe ’n groot hap is R750 per dag
vir haar? R5 250 per week? R21 000 per maand? Nie kleingeld nie, veral as
dit kom by fiktiewe bedreigings. Wat beteken sy lieg dalk nie oor alles nie.
“Ek is seker,” sê Emma met ’n afwesigheid en ’n dun glimlag, asof haar
gedagtes elders is.
“Daar’s nog roomys,” sê Carel se vrou hoopvol.
***
Hy nooi my in sy speelkamer in, sy “den” noem hy dit.

“Nooi” in die breedste sin. “Wil jy nie kom gesels nie?” is die woorde wat
Carel gebruik, iewers tussen ’n opdrag en ’n uitnodiging. Hy loop voor. ’n
Opgestopte koedoekop staar uit oor die vertrek. Daar is ’n biljarttafel en ’n
rottangkroeg, bottels op ’n rak en ’n klein sigaar-humidor. Foto’s teen die
muur met Carel-en-geweer by dooie diere.
“Dop?” vra hy en loop agter die kroegtoonbank in.
“Nee dankie,” sê ek en leun teen die biljarttafel.
Hy skink vir homself twee vingers bruin vloeistof sonder verdunning. Hy
sluk daaraan en maak die humidor oop. “Kubaans?” Ek skud my kop.
“Seker? Dis klas,” sê hy ingenome. “Hulle verouder dié goed 24 maande,
soos wyn.”
“Dankie, ek rook nie.”
Hy trek vir homself ’n sigaar uit, streel met sy vingers oor die dik silinder
daarvan. Hy knip die agterkant oop met ’n groot instrument en sit dit in sy
mond. “Jou amateur sal dit knip of sny met hierdie goedkoop gemors wat die
ding kneus hier agter.” Hy hou sy knipper vir my om te sien. “Dis wat hulle
’n .44 Magnum noem. Maak ’n perfekte, ronde gat.”
Hy reik na ’n dosie vuurhoutjies. “En dan kry jy fools wat die goed natlek
voor hulle aansteek. Dit kom uit die dae toe jy plaaslike sigaartjies in die
kêffie gekoop het. As jy die voggehalte bewaar, lek jy niks.”
Hy trek ’n vuurhoutjie en laat dit eers hoog brand. Dan hou hy dit voor die
sigaar. Hy trek daaraan in kort, vinnige teue terwyl hy die sigaar in sy vingers
draai. Wit bolle rook wolk om hom, die diep aroma vul die vertrek. Hy skud
die vuurhoutjie tot die vlam verdwyn. “Hulle sê die beste manier om ’n sigaar
aan te steek, is die Spaanse sederspil. Stukkie sederhout, jy steek eers die
hout aan en dan gebruik jy dit vir die sigaar. Suiwer, skoon vlam wat nie jou
sigaar se smaak beïnvloed nie. Maar waar kry ons Spaanse seder, vra ek
jou?” Hy glimlag vir my, sameswerend, asof ons dieselfde probleem deel.
Hy trek diep aan die sigaar. “Kubaans. Daar’s niks wat daarby kom nie.
Jou Jamaikaans is ook nie sleg nie, lekker lig, jou Dominikaans so tussenin,
jou Honduras is te wild. Niks kom by die room van ou Fidel se goed nie.”
Ek wonder vlugtig hoe lank hy ’n monoloog aan ’n onbelang-stellende
gehoor van een kan volhou, maar dan onthou ek hy is ’n Ryk Afrikaner. Die
antwoord is: Onbepaald.
Hy trek ’n asbak nader. “Het jy geweet die storie dat jy nie ’n sigaar se as
afskud nie, is ’n totale mite? Twak.” Hy hê-hê vir sy woordspeling. “Dis
omdat ouens swak sigare rook en dan sê hulle die bitter smaak is van die as

se afskud.”
Carel gaan sit op ’n kroegstoel, sigaar in een hand, dop in die ander.
“Daar’s baie bullshit in die wêreld, my vriend, baie bullshit.”
Wat wil hy hê?
Nog ’n trek aan die sigaar. “Maar kom ek vertel jou een ding, daar’s niks
bullshit aan Emmatjie nie. Niks. As sy sê daar’s mense wat haar wil kwaad
doen, dan glo ek haar, verstaan jy?”
Ek het nie lus vir dié gesprek nie. Ek reageer nie, en weet hy hou nie
daarvan nie.
“Wil jy nie sit nie?”
“Ek het te lank gesit al, vandag.”
“Sy’s soos ’n dogter in hierdie huis, my vriend. Sy’s soos een van my eie.
Dis hoekom sy na my toe gekom het met hierdie ding. Dis hoekom jy hier is.
Jy moet verstaan, sy’s deur baie dinge in haar lewe. Diep waters …”
Ek probeer my irritasie temper deur te dink hoe fassinerend ’n man soos
Carel van Zyl is.
Selfgemaakte Rykes deel almal ’n persoonlikheidstipe – gedrewe, slim,
hardwerkend, dominerend. En wanneer die welvaart kom en mense voor die
mag en invloed daarvan neerbuig, maak Die Ryke elke keer die fout deur te
dink die respek is vir hulle, in die persoon. Dit salf die selfbeeld, temper die
persoonlikheid tot goediglikheid. Maar dit is ’n dun lagie, want die
oorspronklike dinamo sit nog daar, agter die selfbedrog.
Hy is gewoond daaraan om die middelpunt van belang te wees. Hy wil nie
buite dié ding staan nie. Hy wil hê ek moet weet hy is verantwoordelik vir my
teenwoordigheid, hy is die vaderfiguur wat Emma se belange dien, dus eintlik
in beheer, die beoordelaar van my dienste. Hy het die reg om in te meng, om
deel te wees. En boonop het hy Kennis. En hy gaan dit nou met my deel.
“Sy’t by my kom werk, ná universiteit. Die meeste ouens sal net hierdie
mooi, klein dingetjie sien, maar ek het geweet daar’s iets, my vriend.” Hy
punktueer sy sin met die sigaar.
“Ek het hoeveel van hulle aangestel, account managers, en hulle sien net
die glamour en die lang lunches met kliënte en die vet salaristjeks. Maar nie
Emmatjie nie. Sy wou leer, sou wou wéét, sy wou wérk. Jy sou nooit sê
daar’s geld agter haar nie, sy’t die soort ambisie gehad van iemand wat uit ’n
arm huis uit kom. Vra my, ek weet, my vriend. In elk geval, sy’t so drie jaar
vir my gewerk toe gebeur die ding met haar pa-hulle. Motorongeluk, op slag,
al twee van hulle. Sy’t in my kantoor gesit, my vriend, daardie klein

dingetjie, gebreek, ek sê jou. Gebreek, want toe het sy niemand oor nie. Toe
vertel sy my van die broer ook. Kan jy dink? So baie verlies. Diep waters.
Hoe troos jy?”
Hy trek weer die bottel nader, skroef dit oop.
“Maar sy’s sterk, daardie een. Sterk.”
Skuif sy glas nader.
“Ek het eers later gehoor hoe groot die boedel is. En laat ek nou vir jou sê
…” Hy skink twee vingers. “Hierdie ding wat nou gebeur, is oor die geld.”
Dramatiese stilte, prop terug op die bottel, kort teug aan die glas, kort teug
aan die sigaar. “Daar’s baie aasvoëls daar buite, my vriend. Baie. En hoe
groter die rykdom, hoe vinniger ruik hulle dit uit. Vra my, ek weet.”
Hy beduie met sy glashand: “Daar buite iewers is iemand met ’n scheme.
Iemand wat sy huiswerk gedoen het, iemand wat haar geskiedenis ken en nou
wil hy dit gebruik om by haar geld uit te kom. Ek weet nie hoe nie. Maar dit
gaan oor die geld.”
Hy bring weer die glas tot by sy lippe en sit dit dan met ’n finaliteit op die
kroegtoonbank neer. “So al wat jy moet doen, is om die scheme uit te werk.
Dan het jy jou man.”
Op daardie oomblik kan ek hom vertel van Lemmer se Eerste Wet. Ek
doen dit nie.
“Nee,” sê ek.
Dit is nie ’n woord wat hy gereeld hoor nie. Sy reaksie wys dit.
“Ek is ’n lyfwag. Nie ’n speurder nie,” sê ek voor ek uitloop.
***
My kamer is langs Emma s’n. Haar deur is toe.
Ek stort en sit die klere vir môre uit. Ek gaan sit op die bed se rand en stuur
vir Jeanette Louw ’n SMS: IS DAAR DOSSIER BY SAPS TUINE OOR
AANVAL/INBRAAK OP E. LE ROUX GISTER?
Dan maak ek die kamerdeur oop, sodat ek kan hoor, en sit die lig af.

5

Niemand agtervolg ons lughawe toe nie.
Ons ry met Emma se Renault Mégane, ’n groen Cabriolet. My bakkie staan
in Carel se motorhuis. “Hier is meer as genoeg plek vir hom, Emma,” was die
boodskap. Hy het my vanoggend geïgnoreer.
“Bestuur jy, meneer Lemmer?” het sy gevra.
“As dit vir u aanvaarbaar is, juffrou le Roux.” Dit is ons laaste formele
interaksie, want terwyl ek tussen Fisherhaven en die N2 vrede maak met die
outomatiese ratkas en die verrassing van die tweeliterenjin se krag, sê sy: “Jy
moet my asseblief Emma noem.”
Daar is altyd ongemaklikheid aan dié oomblik, want mense verwag ’n
voornaam, wat ek nie gee nie. “Ek is Lemmer.”
Ek hou aanvanklik die truspieël met groter aandag dop, want dit is waar
die amateurs sal wees – sigbaar, gretig. Maar daar is niks. Ek wissel die
spoed, tussen 90 en 120. Teen die Houwhoekpas op begin ek wonder oor ’n
wit Japannese sedan voor ons wat ondanks my maatreëls op dieselfde afstand
van ons bly, ’n vermoede wat anderkant af sterker word as ek die Renault 140
toe stoot.
’n Paar kilometer voor Grabouw word dit tyd om finaal vas te stel. Kort
voor die afdraai sit ek die flikker aan, ry stadiger asof ek gaan afdraai en hou
die wit motor dop. Geen reaksie nie, hy hou net aan met ry. Ek sit die flikker
af en versnel.
“Jy ken die pad?” vra Emma hoflik.
“Ja dankie,” sê ek.
Sy knik tevrede en krap in haar handsak tot sy haar donkerbril kry.
***
Kaapstad Internasionaal is chaos – te min parkering weens die aanbouings, te
veel mense, ’n miernes van angstige Kersreisigers wat iewers heen op pad is
en die vlug so gou moontlik agter die rug wil kry. Onmoontlik om skaduwees

raak te sien.
Ons boek Emma se aansienlike tas en my swart sportsak in. “En jou
wapen?” vra sy op pad na die vertreksaal.
“Ek het nie een nie.”
Sy frons.
“Carel het gisteraand ’n aanname gemaak,” sê ek.
“O,” sê sy. Maar sy is nie gelukkig nie. Sy wil die gemoedsrus hê dat haar
beskermer toegerus is. Ek bly stil tot anderkant die bagasieskandeerder, waar
ons by die Nescafé-koffiewinkel wag vir twee mense om ’n tafeltjie te
ontruim.
“Ek het gedink jy is gewapen,” sê sy met ’n vae kommer.
“Wapens maak dinge moeilik. Veral as jy reis.” Dit sal nie help om nou vir
haar te sê my paroolvoorwaardes verbied die besit van ’n wapen nie.
Die tafel raak beskikbaar en ons gaan sit. “Koffie?” vra ek. “Asseblief.
Cappuccino, as hulle het. Sonder suiker.”
Ek gaan staan in die ry, maar só dat ek haar kan sien. Sy sit met die
instapkaart in haar hande, staar daarna. Waaraan dink sy? Aan wapens en die
vlak van beskerming wat sy verwag? Aan dit wat voorlê?
Dan sien ek die man. Sy oë, sy fokus is op Emma. Hy vleg tussen die
tafeltjies deur, groot, wit, netjiese baard, vaalgeel T-hemp, gestrykte denim,
sportbaadjie. Vroeë veertigs. Ek beweeg, maar hy is te naby om te onderskep.
Hy loop tot langs haar, steek sy hand na haar skouer uit en ek onderskep hom,
vat sy pols en swaai sy arm terug, kry my gewig teen sy rug, druk hom teen
die pilaar langs Emma vas, maar sonder geweld. Ek wil nie aandag trek nie.
Hy maak ’n geluid van verbasing, kyk na my. “Hei,” sê hy.
Emma kyk op. Sy is verward, haar lyf verstyf van die skrik. Maar sy
herken vir baardbek. “Stoffel?” sê sy.
Die man kyk na haar, dan weer na my. Hy beur terug, probeer sy arm
loskry. Daar is krag in sy lyf, maar ongekoördineerd. ’n Amateur. Ek bly
vloeibaar, gee effe skiet.
“Ken jy hom?” vra ek vir Emma.
“Ja, ja, dis Stoffel.”
Ek verslap my greep en hy ruk sy arm los.
“Wie’s jy?” vra hy.
Ek bly intimiderend naby aan hom, kyk hom in die oë. Hy hou nie daarvan
nie.
Emma staan op, hou haar hand verskonend in die lug. “Dis ’n misverstand,

Stoffel, dis goed om jou raak te loop. Kom sit.” Stoffel is nou verontwaardig.
“Wie’s dié ou?”
Emma vat sy hand. “Kom, groet my, dis niks.” Sy trek hom weg van my
af. Hy laat dit toe. Hy sien sy bied haar wang aan. Stoffel soen dit vlugtig,
asof hy steeds dink ek gaan iets onverwags doen.
“Koffie?” vra ek, vriendelik.
Hy antwoord nie dadelik nie. Hy gaan sit eers stadig, statig, sodat hy sy
waardigheid kan terugeis. “Asseblief,” sê hy. “Met melk en suiker.”
Daar is ’n effense glimlag op Emma se gesig, die kommer van netnou
vergete. Sy kyk vlugtig na my, asof ons ’n geheim deel.
***
Die vlug na Nelspruit is op SA Express se 50-sitplek Canadair Jet. Ek sit
langs Emma, aan die paadjiekant, sy by die venster. Die vliegtuig is amper
vol. Daar is minstens tien passasiers wat volgens ouderdom, geslag en
belangstellingsvlak kan kwalifiseer as lede van Emma se moontlik
denkbeeldige opposisie. Maar ek twyfel. Om iemand op ’n vliegtuig as
agtervolger te plaas, is oorbodig, want die vertrekpunt en bestemming is
bekend.
Voor ons opstyg, sê sy: “Stoffel is ’n advokaat.” Ek het nie by hulle gesit
met die koffiedrink nie. Daar was net twee stoele by die tafel en ek wou
staan, vir die beter uitsig en die laaste bene rek. Hulle het gesels. Ek vermoed
Stoffel wou weet wie ek is en sy het aangehou om die vraag te ontwyk.
“Hy’s ’n goeie ou,” sê sy nou. En dan: “Hy’t by my gekuier, ’n paar jaar
gelede …” Met ’n nostalgie wat ’n geskiedenis aandui. Dan trek sy die
vlugtydskrif uit sy vakkie en slaan dit oop.
Stoffel, die vlerksleper.
My afleiding was anders – ek het vermoed hy is ’n sakekennis, dalk ’n
vriendin se eggenoot. Hy het my nie opgeval as die soort man tot wie sy
aangetrokke sal voel nie. En hul interaksie was so … vriendskaplik. Maar ek
kan my dit voorstel: Hulle ontmoet by een van die sosiale of kulturele
watergate waar die rykes ná sononder versamel. Hy’s welsprekend en
intelligent, met ’n bytende, selfironiserende humorsin en baie juridiese
binnekennis-stories wat hy met kleur vertel. Sy aandag aan Emma sal subtiel
wees, hy sal ’n Metode met vroue hê, ’n resep wat hy oor twintig jaar as
vrygesel vervolmaak het. Sy sal haar dit laat welgeval. Wanneer hy vier of
vyf dae later haar nommer by ’n gemeenskaplike kennis kry, sal sy onthou

wie hy is. Sy sal “ja” sê vir die uitnodiging na die toptien-restaurant. Of die
kunsuitstalling, of die simfoniekonsert. Sy sal van die begin af weet hy is nie
regtig haar tipe nie, maar sy sal dit ’n kans gee, want in haar middeldertigs
het sy al genoeg geleer van mense in die breë en mans in die besonder om te
weet haar tipe het implikasies. ’n Vrou soos Emma se voorkeur is die Men’s
Health-voorblad – ’n fynbesnede Griekse god net ’n halwe meter langer as sy
sodat hulle saam ’n pragtige prentjie maak.
Haar soort is ’n metroman met ’n donker kuif, ligte oë en ’n perfekte
glimlag, die sportiewe, fikse buitelugsoort wat met sy Staffie op die strand
draf en ’n ou, tweedehandse Land Rover Defender voor Kampsbaai se
uithangplekke parkeer, die graaf opsigtelik in die rak saam met die
petrolkanne. Ná vier of vyf verhoudings met klone van Mnr. Men’s Health
sal sy al weet die sielvolle stiltes en die lakoniese, traak-my-nieagtige
gesprekke is meestal kamoeflering vir selfbeheptheid en gemiddelde intellek.
Daarom sal sy die Stoffels van die lewe ’n kans gee en na ’n maand of wat
van vermaaklike, dog onopwindende afsprake sagkens vir hom sê dit is beter
as hulle net vriende is (“jy is ’n goeie ou”) terwyl sy heimlik wonder waarom
dié soort man nie die vonk in haar kruitvat kan wees nie.
Ons styg op teen die suidooster in. Emma bêre die tydskrif en staar vir ’n
rukkie by die venster uit na Valsbaai, waar die witperdjies nou al op galop is.
Dan draai sy na my toe.
“Waar kom jy vandaan, Lemmer?” vra sy met opregte belangstelling.
Die lyfwag sit nie by die kliënt op vliegtuie nie. Die lyfwag, selfs wanneer
dit ’n solo-opdrag is, vorm deel van die groter entourage wat meestal in
aparte voertuie, altyd in aparte sitplekke, anoniem en onpersoonlik sy taak
kan verrig. Sonder intieme kontak en gesprekke, Sonder vrae oor herkoms en
geskiedenis. Dit is ’n noodsaaklike afstand, ’n professionele buffer, dit word
georden deur Lemmer se Eerste Wet.
“Die Kaap.”
Dit stel haar nie tevrede nie. “Watter deel?”
“Ek het in Seepunt grootgeword.”
“Dit moes wonderlik gewees het.” ’n Interessante aanname. “Jy het nie
meer die aksent nie.”
“Dis wat twintig jaar in die staatsdiens aan jou doen.”
“Broers en susters?”
“Nee.”
’n Deel van my hou daarvan, hierdie aandag, hierdie belangstelling. Asof

ek haar gelyke is.
“En jou ouers?”
Ek skud net my kop, hoop dit sal ’n voldoende antwoord wees. Dis tyd om
die fokus te verskuif. “En jy? Waar het jy grootgeword?”
“Johannesburg. Linden, eintlik. En toe is ek Maties toe. Stellenbosch was
so ’n … romantiese moontlikheid toe ek dit met Tukkies en die RAU
vergelyk het.” Sy bly vir ’n oomblik stil, haar gedagtes wat iewers gaan draai.
“En toe bly ek in die Kaap. Dit is so anders as die Hoëveld. Soveel …
lekkerder, ek weet nie, ek het net tuis gevoel. Asof dit is waar ek hoort. My
pa het my gespot … hy’t altyd gesê ek bly in Kanaan terwyl hulle daar bo in
Egipte in ballingskap moet leef.”
Ek kan nie aan nog ’n vraag dink nie. Sy spring my voor. “Soos ek van
Jeanette Louw verstaan het, bly jy nou op die platteland?”
My werkgewer sou moes verduidelik waarom dit ses uur gaan neem voor
ek kan aanmeld. Ek knik. “Loxton.”
Sy reageer voorspelbaar. “Loxton …” asof sy behoort te weet waar dit is.
“In die Noord-Kaap. In die Bo-Karoo, tussen Beaufort-Wes en
Carnarvon.”
Sy het ’n manier van kyk, ’n opregte, oop nuuskierigheid. Ek weet wat die
vraag op haar tong is. “Waarom gaan bly ’n mens dáár?” Maar sy vra dit nie.
Sy is te polities korrek, te bewus van konvensie.
“Ek sal nie omgee om eendag ’n plekkie op die platteland te hê nie,” sê sy,
asof sy my beny. En dan wag sy dat ek reageer, dat ek vertel, die redes en die
voor- en nadele uitstippel. Dit is ’n ander manier om die “Hoekom bly ’n
mens dáár?”-vraag te vra.
Ek word gered deur die vlugkelner, wat blou kartonboksies met eetgoed
aflewer – toebroodjie, pakkie southappies, ’n vrugtesap. Ek vermy die brood.
Emma drink net die sap. As sy die strooitjie met haar fyn, amper kinderlike
vingers behendig deur die klein foelieteiken gedwing het, sê sy: “Jy het ’n
baie interessante werk.”
“Net as ek kans kry om die Stoffels van die lewe teen ’n pilaar vas te
druk.”
Sy lag. Maar daar is ook iets anders, effense verbasing, asof sy nou iets
raaksien wat teenstrydig is met die persepsie wat sy van my opgebou het:
Hierdie vaal man wat van meet of aan so teleurstellend as gespreksgenoot
was, het ’n sin vir humor.
“Het jy al bekendes opgepas?”

Dit is wat almal wil weet wanneer hulle jou beroepskeuse verneem. Van
my kollegas, vir wie ’n interaksie met beroemdes kosbare aandag-valuta is,
antwoord dikwels “ja” – en sal dan ’n paar filmsterre en musiekmense se
name soos speelkaarte oor die tafel uitdeel. Die vraer sal op een van hulle
toesak en gretig vra: “Is sy/hy nice?” Nie “is sy ’n goeie mens” of “is hy ’n
man van integriteit” nie. Maar “nice” – daardie allesomvattende,
niksseggende, lui woord waarvoor Afrikaners so lief is.
Wat hulle eintlik wil weet, is of die roem en rykdom die onderwerp van
bespreking in ’n selfgesentreerde monster verander het, nuus wat hulle weer
vir ander wil gaan oordra as deel van die nimmereindigende markkragte van
kennis wat sosiale status bepaal.
Of so iets. B.J. Fikter, die enkele ander Body Armour-werknemer met wie
ek sonder te veel weersin kan saamwerk, se standaard-antwoord is: “Ek kan
vir jou sê, maar dan sal ek jou moet skiet.” Dit is ’n ja-antwoord wat steeds
status bied, maar vir hom ’n cliché-grap as verskoning gee om nie detail te
verskaf nie.
“Ons teken ’n swygklousule,” sê ek vir Emma le Roux.
“O.”
Dit neem haar ’n rukkie om te besef sy het al die moontlike onderwerpe
nou sonder sukses probeer. Daar daal ’n genadige stilte neer. Ná ’n rukkie
haal sy weer die tydskrif uit.

6

Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe is ’n verrassing, ondanks die
effens pretensieuse naam. Die lughawegebou, tussen groen heuwels en
bonkige rotsformasies, is modern en nuut. En aanskoulik. ’n Afrika-motief
van reusegrasdak en oker mure, maar nie kitsch nie. Die hitte langs die
aanloopbaan is dik, die humiditeit hoog. Ek sit my selfoon aan terwyl ons na
die aankomssaal stap. Daar is ’n SMS van Jeanette. DOSSIER BESTAAN.
Binne in die terminaal is dit koeler, draaglik. Ons wag vir bagasie. Ek
staan half agter Emma. Daar is sensualiteit in die ronding van haar denim en
die vorm van die fraai nek en skouers wat die poeierblou kamisool ten toon
stel. Maar trek jy jou fokus terug, sodat jy haar teenoor die groter, growwer
mense om haar sien, en daar is ’n kwesbaarheid aan haar, ’n tengerige
weerloosheid wat om beskerming roep, of dan minstens ontferming, ondanks
die subtiele selfversekering van ’n mooi, ryk vrou.
Op die vliegtuig was sy sjarmant, opreg, nederig, ’n altruïs: Ek stel belang
in jou as mens, Lemmer, al is jy net die gehuurde handlanger.
Vele fasette. Waar lê haar ware kleure?
Lemmer se Wet oor Klein Vroue: Moet hulle nie vertrou nie. Nie
professioneel nie en nie persoonlik nie. Hulle leer van kleins af twee
Pavloviaanse truuks aan: Die eerste is ’n produk van mense se reaksie: “Ag,
maar is jy nie ’n oulike ou dingetjie nie,” veral as die gesiggie rond en die oë
groot is. Mense behandel hulle soos skattige klein diere, sodat hulle dit leer
ontgin, met maniertjies en gebaartjies wat die oulikheid onderstreep en die
gebruiksaanwending slyp soos ’n sosiale lem. Die tweede is die gevoel van
fisieke magteloosheid. Die wêreld is groot en sterk; hulle is tenger en relatief
swak. Groter, voller vroue se ronde lyne van borste en heupe is vuurtorings
vir manlike belangstelling, klein vroue se silhoeëtte trek nie aandag nie. Om
te oorleef, ter selfbeskerming en selfhandhawing, moet hulle noodgedwonge
uit ander bronne put. Daarom leer hulle om die krag van die kop te gebruik,

hulle leer om te manipuleer, ’n voortdurende slim spel te speel met die wêreld
om hulle.
Jeanette sê die dossier bestaan. Daar is dus waarheid aan Emma se storie.
Maar hoeveel? Beantwoord dit genoeg van die vrae? As haar lewe dan regtig
in gevaar is, waarom het sy Body Armour se goedkoopste beskermingsopsie
gekies? Want volgens Carel die Grote het sy in die oortreffende trap geërf.
Gee ek haar die voordeel van die twyfel en sê Carel het oordryf? Of wil
Emma nie glo sy is in werklike gevaar nie – al is sy ’n klein vroutjie met ’n
predisposisie? Dalk is sy finansieel konserwatief. Of net suinig. Of te beskeie
of skaam om die teenwoordigheid van twee of vier mans met vuurwapens en
oorfone om haar te hê.
Of dalk speel sy ’n spel.
Ons bagasie kom aan. Ons loop na Budget-motorhuur. Terwyl Emma
vorms invul, lui my selfoon. Ek herken die nommer, loop ’n entjie weg en
antwoord.
“Hallo, Antjie,” sê ek.
“Waar’s jy?” vra Antjie Barnard in haar diep, onmoontlik sensuele stem.
“Ek werk. Dit gaan ’n week of wat vat.”
“So gedink. Wie gaan jou leibeurt doen? Dis warm hier.”
“Ek sal vir jou moet vra.”
“Dan doen ek dit. En as ek jou nie betyds sien nie, voorspoedige
Nuwejaar.”
“Dankie, Antjie, vir jou ook. Pas jouself op.”
“Hoekom?” Sy lag en beëindig die oproep.
As ek omdraai, staan Emma reg agter my, met die lig van nuwe kennis in
haar oë. Ek sê niks, neem net die sleutel van ’n wit BMW 318i wat sy na my
uithou. Dit staan buite in die son. Ek laai die tasse in die kattebak en doen ’n
opname van 360 grade. Niemand stel in ons belang nie. Ek klim in en kry die
enjin aan die gang sodat die lugversorging kan inskop. Emma vou ’n kaart op
haar skoot oop.
“Ek het gedink ons moet eers Hoedspruit toe gaan,” sê sy. Haar wysvinger
soek die pad. Sy dra nie naellak nie. “Hier, oor Hazyview en Klaserie, dit lyk
na die kortste pad. Of ken jy dié wêreld, Lemmer?”
“Nie goed nie.”
“Ek sal navigeer.”
Ons ry. Daar is meer verkeer as wat ek verwag het, bakkies, 4x4’s,
vragmotors, minibustaxi’s. Geen teken van agtervolging nie. Deur Witrivier,

die kontras met die Kaap is skril – hier is die natuur se kleure helder en
oordadig in die lower van die eindelose bome, die bloedrooi van bykans elke
blom, die diep, donker mahonie van mense wat stalletjies langs die paaie
bedryf. Lelike, amateuragtige bemarkingsborde skree name, tariewe en
aanwysings uit na kampeerplekke, gastehuise en private wildtuine.
Emma gee aanwysings, ons kry die R538 en ry, aanvanklik in stilte.
Wanneer die vraag eindelik kom, verras dit my nie. Want daar is sekere
dinge waaroor geen vrou haar nuuskierigheid kan bedwing nie.
“Was dit jou …” ’n Oomblik se huiwering om aan te dui dat die term wyd
inklusief sal wees. “… vriendin?”
Ek weet waarna sy verwys, maar ek hou my dom.
“Wat netnou gebel het?” Emma se stemtoon is in ditjies-en-datjies-modus,
daardie neutraal-vriendelike trant wat sê sy is sommer net nuuskierig, sy wil
net vir die interessantheid weet. Wat nie noodwendig onwaar is nie. Dit is
hoe vroue se koppe werk. Hulle gebruik die inligting om prentjies mee in te
kleur. As hy ’n vriendin het, kan hy nie ’n totale psigopaat wees nie. Die kuns
is om op só ’n manier te antwoord dat jy die irriterende opvolgvrae vermy:
Wat doen sy? (Om jou en jou “vriendin” se status te bepaal.) Is julle al lank
bymekaar? (Om die erns van die verhouding te bepaal.) Hoe het julle
ontmoet? (Om hul hunkering na die romantiese te bevredig.)
My antwoord is net ’n grinnik en ’n “Hû”. Dit werk elke keer, want dit sê
vir hulle dit is nie die soort “vriendin” wat hulle in gedagte het nie en dat dit
eintlik niks met hulle te doene het nie. Emma aanvaar dit moedig.
Ons ry deur Nsikazi, Legogoto, Manzini, gehuggies, uitgestrekte
eentonigheid van armoedige huisies en rustelose mense wat in die
onmoontlike, broeiende hitte drentel, kinders wat langs die pad op hul hurke
sit, onder ’n brug in ’n rivier swem.
Emma kyk links na die horison. “Weet jy watse berg daardie is?” Sy is
vasbeslote om ’n gesprek te voer.
“Mariepskop,” sê ek.
“Ek dog jy ken nie dié omgewing nie.”
“Ek ken nie die paaie nie.”
Sy kyk na my, sonder verwagting.
“Wanneer die ministers Wildtuin toe gekom het vir ’n naweek, het hulle
ingevlieg Hoedspruit toe. Daar is ’n militêre lughawe.”
Sy kyk weer terug na die berg. “Vir hoeveel ministers was jy lyfwag,
Lemmer?” En dan, met groot versigtigheid: “As jy daaroor mag praat …”

“Twee.”
“O?”
“Vervoer en Landbou. Meestal Landbou.”
Sy kyk terug van die berg af na my. Sy sê nie ’n woord nie, maar ek weet
wat sy dink. Nie noodwendig wat ’n mens hoërisikowerk sou noem nie. Haar
lyfwag – ’n wapenlose voormalige oppasser van die Minister van Landbou.
Ek weet sy voel veilig.
***
“I’m looking for Inspector Jack Phatudi,” sê Emma vir die konstabel in die
Hoedspruit-aanklagkantoor.
Die stewige polisievrou het ’n ondeurdringbare uitdrukking. “I do not
know that man.”
“I think he works here.”
“No.”
“He is investigating the Khokhovela murders.” Emma se stemtoon bly lig
en vriendelik, asof sy met ’n geliefde praat.
Die konstabel kyk sonder begrip na Emma.
“The traditional healer and three other men.”
“Oh. That one.”
“Yes.”
Die vrou beweeg traag, asof die versengende hitte van die vertrek haar
terughou. Sy trek ’n telefoon nader. Die instrument was moontlik
oorspronklik wit. Dit is nou vuilbruin en gehawend. Sy druk ’n nommer in en
wag. Dan praat sy in staccato sePedi-sinsedes, soos sarsies uit ’n
masjiengeweer. Sy sit die telefoon neer.
“He is not here.”
“Do you know where he is?”
“No.”
“Will he be coming back?”
“I do not know.”
“Is there somewhere I can find out?”
“You will have to wait.”
“Here?”
“Yes.” Steeds sonder infleksie.
“I … uh …” Emma kyk na die harde houtbank teen die muur, dan terug na
die konstabel. “I’m not sure …”

“They will phone,” sê die konstabel.
“Oh?”
“To say where he is.”
“O.K.,” sê Emma met verligting. “Thank you.” Sy stap na die houtbank.
Haar sonbruin vel het ’n glans van sweet. Sy gaan sit en kyk na die konstabel
met ’n glimlag van geduldige welwillendheid. Ek gaan staan langs die bank
en leun teen die muur. Dit is nie koel soos ek verwag het nie. Ek kyk na die
konstabel. Sy is besig om in ’n dossier te skryf. Sy sweet nie. Twee swart
mans kom in en loop na die toonbank. Hulle praat met haar. Sy frons en skiet
op hulle in verwytende woordgrepe. Hulle antwoord haar apologeties. Die
telefoon lui. Sy hou haar hand in die lug. Die mans bly stil en kyk vir hul
skoene. Sy antwoord die telefoon en luister. Sy sit dit neer.
“He has gone back to Tzaneen,” sê sy in Emma se rigting. Maar Emma
kyk by die deur uit.
“Lady!”
Emma skrik en staan op.
“He has gone back to Tzaneen.”
“Inspector Phatudi?”
“Yes. That is where his office is. Violent Crimes.”
“Oh …”
“But he will come tomorrow. Early. Eight o’clock.”
“Thank you,” sê Emma, maar die konstabel is al weer besig om met die
twee mans te praat, asof hulle seuns is wat kwaadgedoen het.
***
Met ’n uitgedrukte webwerfbladsy in haar hand navigeer sy die pad na die
Mohlolobe Private Game Reserve. “Hier is so baie plekke,” sê sy as ons
verby die dramatiese ingangshekke van die Kapama Game Reserve, die
Mtuma Sands Wildlife Lodge en Cheetah Inn ry, elkeen ’n variasie op die
postmoderne Laeveldse tema van ruwe klip, grasdak, dieremotiewe en
sierletters. Ek vermoed die oornagtariewe is direk eweredig aan die subtiliteit
van dié poorte tot Eden.
Mohlolobe se unieke verkoopsproposisie is twee slanke, smaakvolle
olifanttande van beton wat die ingang bewaak. Daar is ’n hekwag in ’n
uniform van kakie en olyfgroen. Hy dra ’n wyerandhoed wat effens te groot
is vir hom en ’n houtbord wat ’n paar velle papier vasknyp. Op sy bors is ’n
metaalnaamteken. Daarop staan Edwin. Security Official. “Welcome to

Mohlolobe,” sê hy met ’n breë, skitterwit glimlag aan my kant van die BMW.
“Do you have a reservation?”
“Good afternoon,” antwoord Emma hom. “It is in the name of Le Roux.”
“Le Roux?” Hy raadpleeg sy lys, wenkbroue hoopvol gelig. Sy gesig
verhelder. “Indeed, indeed, Mr and Mrs Le Roux, you are most welcome. It is
seven kilometres to the main camp, just follow the signs, and please do not
leave the vehicle under any circumstances.” Hy maak die groot hek oop en
wink ons deur met ’n swierige swaai van die arm.
Die grondpad slinger deur digte mopaniebos, hier en daar ’n stukkie oop
grasveld. ’n Troppie rooibokke draf vies die ruigtes in. “Kyk,” sê Emma. En
dan sit sy haar hand onverklaarbaar oor haar mond. Neushoringvoëls swiep
tussen die bome deur. ’n Trop buffels staar ons herkouend en verveeld aan.
Emma sê niks. Ook nie wanneer ek na die hopies verteerde gras wys en sê
“Olifantmis” nie.
Mohlolobe Main Camp ruik na groot geld: Die grasdakke van gasteeenhede weggesteek teen walle van die Mohlolobe-rivier, geplaveide
paadjies, versteekte beligting, geforseerde hartlikheid van personeel in die
kakie-en-olyf-uniforms. Dit is Afrika vir die ryk Amerikaanse toeris,
ekovriendelike vyfsterluuksheid, ’n oase van beskawing in die wilde, wrede
bos. Ek volg die aanwysings na Reception en ons klim uit. Die hitte is ’n
muur, maar binne is dit skielik koel. Ons stap in die gang af na die
ontvangstoonbank. Daar is ’n internetkamer links. Hulle noem dit The Bush
Telegraph. ’n Duur curiowinkel regs vertoon die naambord The Trading
Post.
By ontvangs wag ’n mooi blondine. Op die olyf van haar hemp is ’n
naamplaatjie. Susan. Hospitality Official. “Hi. I’m Susan. Welcome to
Mohlolobe,” sê sy met ’n groot glimlag en ’n goed verskuilde Afrikaanse
aksent. Sue-zin, nie Soe-san nie.
“Hi. I’m Emma le Roux and this is Mr Lemmer,” sê sy ewe vriendelik vir
Sue-zin.
“You wanted a two-bedroom suite?” vra die blondine diskreet.
“That’s right.”
“We’re going to give you the Bateleur,” sê sy asof sy ons ’n groot guns
doen. “It’s right in front of the water hole.”
“That would be wonderful,” sê Emma en ek wonder hoekom sy nie
Afrikaans met die vrou praat nie.
“Now, I just need a credit card to capture, please,” sê sy en kyk na my.

Wanneer Emma haar beursie uithaal, is daar ’n klein oomblik waar Sue-zin
my met nuwe oë sien.
***
Die Bateleur-suite is onderbeklemtoonde weelde, en al wat Emma doen, is
om effens te knik, asof dit min of meer voldoen aan haar standaarde. Die
swart portier (Benjamin. Hospitality Assistant) dra ons reissakke in. Emma
stop hom ’n groen noot in die hand en sê: “That’s fine, just leave them here.”
Hy wys vir my waar die lugversorging en die minikroeg se geheimenisse
lê. As hy uitstap, sê Emma: “Sal ek hierdie een vat?” Sy wys na die
slaapkamer wat links van die sitvertrek lê. Daar is ’n dubbelbed in.
“Dis goed.”
Ek dra myne na die ander een, wat regs uitgaan, twee enkelbeddens met
dieselfde roomwit linne as Emma s’n. Dan neem ek inventaris. Die
houtraamvensters kan oop, maar word toegehou vir die fluisterende
lugversorging. Elke slaapkamer en die sit-en-kroegruimte in die middel het ’n
skuifdeur na die stoep aan die voorkant. Die slotmeganisme is
ongesofistikeerd, nie goeie sekuriteit nie. Ek maak dit oop en loop uit op die
stoep. Buite is ’n gepoleerde klipvloer, twee banke en stoele in volstruisleer,
twee gemonteerde verkykers en ’n uitsig oor die nou verlate watergat,
behalwe ’n swerm duiwe wat rusteloos drink.
Ek loop om die eenheid. Drie meter se grasperk, dan begin die ruigte.
Ontwerp en geplaas vir privaatheid. Nie een van die ander eenhede, elkeen
genoem na ’n arendspesie, is sigbaar nie. Slegte nuus uit ’n lyfwag se
oogpunt.
Maar as iemand teoreties gesproke vir Emma wil hê, sal hulle die hoofhek
moet vermy, oor twee meter wilddraad moet klim en sewe kilometer deur die
veld moet stap in leeu- en olifantwêreld. Daar is nie veel om my oor te
bekommer nie.
Ek gaan in, die koel binnekant ’n lafenis. Emma se deur is toe, ek hoor die
fluistering van ’n stort. Vir ’n oomblik, heeltemal ongevraagd, visualiseer my
kop haar lyf onder die waterdruppels. Ek stap kamer toe om die koue water in
my eie badkamer te gaan oopdraai.

7

Ons stap in die skemer na Mohlolobe se Honey Buzzard Restaurant. Daar is
’n neerslagtigheid aan Emma. Gisteraand in Hermanus was sy ook met
etenstyd stil. Miskien is sy nie ’n aandmens nie. Miskien is dit die hitte.
Wanneer ons by die kerslig van ’n tafel sit, sê sy: “Jy is seker baie honger,
Lemmer.”
“Ek sal kan eet.”
’n Kelner bring spyskaarte en ’n wynlys. “Ek vergeet soms van kos,” sê sy.
Sy skuif die wynlys na my toe. “Jy is welkom om wyn te drink.”
“Nee dankie.”
Sy bestudeer die spyskaart lank en sonder geesdrif. “Net ’n slaai, ’n
Griekse slaai,” sê sy vir die kelner. Ek bestel ’n bottel vonkelwater teen die
prys van ’n klein motortjie – en die beesfilet met groen-pepersous en
kapokaartappels. Ons kyk vir die ander mense in die vertrek, middeljarige
buitelanders in groepe van twee en vier. Emma torring die wit linneservet uit
’n ring van nagebootste ivoor. Sy draai die ring met haar delikate vingers om
en om, kyk na die fyn blaarpatroon daarop.
“Jy moet my verskoon …” sê sy en kyk op. “Toe ek vandag die bokke sien
…”
Ek onthou die oomblik toe sy haar hand oor haar mond gesit het. Sy bepaal
weer haar aandag by die wit ring in haar hand. “Ons het ’n wildplaas in die
Waterberge gehad. My pa …”
Sy trek haar asem diep in en laat dit stadig uit, asof sy beheer wil kry oor
die emosie agter die woorde.
“Nie ’n groot plaas nie, net drieduisend hektaar, net ’n stuk grond met ’n
paar bokke op sodat ons naweke … My pa het gesê dit is vir ons, sy kinders,
sodat ons nie hééltemal dorpsjapies is nie. Sodat ons kan weet wat klitsgras
is. Vir Jacobus was dit … Op die plaas was hy nooit in die huis nie – hy het
buite geslaap en geloop en gebly en … Hy het altyd twee of drie van sy maats

daar gehad, maar hy het net vir my in die middag gevat as die son begin sak.
Aan my hand. Ek was nege of tien, hy was amper klaar met skool. Dan gaan
stap hy en sy sus … Hy’t geweet waar die bokke was, al die troppies, dan het
hy gesê wat wil jy sien, sus, watter bokke wil jy sien? Dan het hy my vertel
van hulle, hoe hulle maak, wat hulle doen. En die voëls, ek moes hulle name
leer … Dit was vir my lekker … maar ek het ook partykeer so ’n bietjie
skuldig gevoel omdat ek nie heeltemal soos hy kon wees nie … so heeltemal
… Dit was asof hy nie geleef het as hy nie op die plaas was nie. Elke
vakansie … Ek wou nie áltyd plaas toe gegaan het nie, nie elke naweek en
elke vakansie nie …”
En dan is sy weer stil, tot die kos kom. Ek val my biefstuk met geesdrif
aan. Sy krap rusteloos met haar vurk tussen die slaaiblare, sit dit eindelik
neer.
“My pa … Vir hom was die ergste dat hulle nie vir Jacobus gekry het nie.
Miskien sou dit vir hom beter gewees het as daar ’n … ’n liggaam was. Iets
…”
Sy tel die servet van haar skoot af op, druk daarmee op haar mond. “Hy’t
die plaas verkoop. Toe daar niks hoop meer was nie. Hy het nie met ons
daaroor gepraat nie, hy het net een aand by die huis gekom en gesê die plaas
is … Dit was die eerste keer … vanmiddag toe ek die bokke sien. Dit was die
eerste keer van die plaas se tyd af … Van Jacobus se dood af.”
Ek bly stil. My geluide van simpatie was nog nooit betroubaar nie. En ek
sit daar en ek is daarvan bewus dat ek nie ’n uitverkorene is nie. Ek is bloot
die enigste beskikbare oor.
Emma neem weer die servetring tussen haar vingers. “Ek … Gisteraand
het ek gelê en dink miskien maak ek ’n groot fout, miskien wil ek so graag hê
daar moet nog iets van Jacobus iewers wees dat ek … Hoe sien ’n mens al dié
goed objektief? Hoe kan jy seker wees dis nie jou emosie en jou verlange …
Ek mis hulle, Lemmer. Ek mis hulle as mense en ek mis hulle as idees. As
broer en pa en ma. ’n Mens moet familie hê ... Maar dan wonder ek ... is ek
hier omdat ek dáárna soek? Het die ou op televisie regtig soos Jacobus gelyk?
Ek ... hoe ... ek kan nie seker wees nie. Maar ek kan dit ook nie net ... Daardie
telefoonoproep ... as jy nou vir my moet vra wat die man gesê het, wat het ek
definitief gehoor? Dit is waarvoor jy ’n pa nodig het, sodat jy kan sê: Pa, is
ek . . . is dit die regte ding?”
My bord is leeg. Ek sit die mes en vurk met verligting neer. Nou hoef ek
nie meer skuldig te voel dat die kos lekker is, en ek eet terwyl sy met haarself

worstel nie. Maar ek kan haar vraag nie antwoord nie. Daarom sê ek: ‘Jou pa
...” Net ’n klein aansporing.
Sy antwoord nie dadelik nie. Sy vou eers die ring in haar hand toe en dan
kyk sy op na my en sy sê: “Hy was ’n stoker se kind.”
’n Kelner kom neem my bord weg en sy skuif haar slaai ook oor na hom
toe en sê: “I’m sorry ... the salad is great ... it’s just my appetite …”
“Not a problem, madam. Would you like to see the dessert menu?”
“Jy moet poeding eet, Lemmer.”
“Nee dankie. Ek is versadig.”
“Coffee? Liqueur?”
Ons wys dit van die hand. Ek hoop Emma sal opstaan. Maar sy sit die
servetring neer waar haar bord gestaan het en plaas haar elmboë op die tafel.
“Dit voel vir my of almal vergeet het hoe arm baie Afrikaners was. My ouma
... sy het ’n groentetuin in die agterplaas gemaak en my oupa het ’n
hoenderhok tussen die treinspore ... dit was teen die reëls, maar daar was nie
’n ander plek nie, daardie spoorweghuisies in Bloemfontein ...”
En dan vertel sy my die familielegende, die vodde-na-rykdom-sage van
Johannes Petrus le Roux. Ek vermoed dit is ’n hervertelling van ’n bekende
verhaal, een waarna sy seker dikwels as kind grootoog gesit en luister het. Dit
is ook vir haar op hierdie oomblik ’n manier om die hoeksteen van haar
verlore gesin weer aan te raak, om haarself en haar speurtog te herdefinieer.
Haar pa was die tweede oudste van vyf kinders, ’n groot gesin wat te hoë
eise aan die salaris van ’n stoker gestel het. Op vyftien was daar nie ander
genade nie, hy moes gaan werk. Vir ’n jaar het hy as handlanger by die
Spoorweë se reuse loodse in Bloemfontein se Oos-Einde gewerk, binne
stapafstand van sy nederige ouerhuis tussen die sidings. Sy koevertjie met
karige ponde het hy elke maand in sy ma se hand gedruk. Hy het saans self sy
enkele werkshemp uitgespoel en voor die koolstoof gaan hang om uit te
droog. Op sestien het hy as vakleerling begin met opleiding as passer en
draaier, waar sy belangstelling gelê het.
En toe, langsamerhand, gebeur die klein wonderwerk. Johan le Roux en sy
leermeesters het gaandeweg besef hy het ’n aanvoeling vir ratte, ’n “brein”
vir die vele verhoudings en variasies wat dit met mekaar het, en die masjiene
wat dit aandryf. Teen die tyd dat hy as fitter gekwalifiseer het, was sy
reputasie al wyd bekend en sy oplossings in ’n dosyn of meer Spoorwegwerktuie besig om duisende te bespaar.
Op ’n someroggend in 1956 het twee Afrikaner-sakemanne uit Bothaville

in die groot werkswinkel ingestap en oor die lawaai van hamerslag en slyp en
sny geskree dat hulle na die Le Roux-kêrel soek wat so goed is met ratte.
Want hulle bou plaasimplemente vir die mielieboere in die Noord-Vrystaat en
hulle soek sy talente om te kan kers vashou by die duur masjiene wat van
Amerika en Engeland ingevoer word.
Sy stoker-pa was teen die ding. Die staat was ’n konstante werkgewer, ’n
versekeringspolis teen Depressie en oorlog en ellende. Die private sektor was
vir Engelse en Jode en uitlanders, almal volgens hom Boereverneukers, ’n
onsekere bestaan. “Pa, ek kan my eie goed ontwerp. Ek kan self die planne
optrek en die vorms sny en die masjiene stuk vir stuk aanmekaar sit. By die
Spoorweë gaan ek dit nooit kan doen nie,” was sy argument. Aan die einde
van die maand is hy met die trein weg na die dorpie langs die Valsrivier,
waar die gode hom met ’n glimlag ingewag het.
Vir sy nuwe werkgewers was hy alles wat hulle gehoop het – hardwerkend,
toegewyd en vernuftig. Sy planne was vernuwend, sy produkte suksesvol, sy
reputasie het nog wyer uitgekring. En skaars ’n jaar later het hy vir Sara
ontmoet.
Dié oomblik is ’n belangrike een in die Le Roux-verhaal, soos met so baie
familievertellinge wat ek oor die jare gehoor het. Wanneer Emma dit aanbied,
is daar ’n ou verwondering in haar vir die noodlot, die toeval wat haar ouers
se paaie op ’n spesifieke plek en tyd laat kruis en haar genetiese beskikking
bepaal het.
Die klein industriële gebied van Bothaville is noord van die dorp, aan die
ander kant van die treinspoor. Om by sy losieshuis in die middedorp te kom,
moes Johan le Roux die voetoorgang by die stasie gebruik en met die perron
afstap. Vuil en gesweet, trommel in die hand, het hy laatmiddag sy gewone
pad gevolg. In die verbystap het hy nuuskierig by die vensters van die
stampvol, verligte stasiekafee ingekyk. En die mooi jong vrou daar sien sit.
Hy het vasgesteek, want dit was vir hom ’n magiese toneel: die kleine, fyne
meisie met die vrolike hoed, die spierwit bloes en die rooi mond, wat ’n
koppie tee met haar delikate hande vashou.
Hy het lank vir haar staan en kyk uit die skemerte van die perron, geskeur
tussen die wete dat sy vir hom bedoel is, maar dat hy in sy oliekol-oorpak nie
die regte indruk gaan maak nie. Hy kon dit ook nie waag om eers te gaan
skoonmaak nie, want as hy terugkom, was sy dalk vort met die trein.
Eindelik het hy die deur oopgemaak en tussen die tafels deur na haar toe
gestap. “Ek is Johan le Roux,” het hy vir haar gesê, “en as ek gebad het, lyk

ek beter.”
Sy het opgekyk en tot haar ewige krediet die man ágter die werkersgelaat
raakgesien, die sagte glimlag, die intelligente oë en die lus vir die lewe. “Ek
is Sara de Wet,” het sy haar hand uitgesteek en syne sonder skroom geskud,
“en my trein is vertraag.”
Hy het gevra of hy vir haar nog ’n tee kon koop. Sy het, sou sy veel later
vir haar kinders vertel, vir ’n onmeetlike oomblik gehuiwer, soos iemand
voor ’n afgrond. Want sy het met ’n absolute sekerheid geweet haar “ja” of
haar “nee” was soos ’n vurk op haar lewenspad. “Ja dankie, dit sal lekker
wees,” het sy hom geantwoord. In die uur voor die trein haar met ’n lang fluit
weggeroep het, het hulle lewensverhale gedeel en die eerste tree op die weg
na liefde gegee. Sy was die oudste van twee dogters van Brandfort se enigste
prokureur, op pad Johannesburg toe om vir ’n mynmaatskappy as tikster te
gaan werk. Sy het ’n sekretariële sertifikaat van ’n kollege in Bloemfontein
gehad – en ’n angstige opgewondenheid oor die groot avontuur van die stad
wat wag. Hy het vir haar sy adres agterop die teerekening neergeskryf (nou ’n
vergeelde, byna onleesbare flentertjie geskiedenis wat Emma in ’n verslete
Familiebybel bewaar) en gesê as sy wil, kan sy vir hom skryf.
En sy het. Eers het hulle vir ’n maand of drie gekorrespondeer en toe het
die langafstandromanse gestalte gekry: Hy het een keer per maand vir ’n
naweek gaan kuier, elke week ’n lang brief ontvang en weer een weggestuur
en nou en dan oor die raserige plaaslyne van Bothaville gebel om haar stem
te hoor.
Tot die mense van Sasol ’n jaar later, in 1958, by sy werkswinkeldeur kom
staan het. Hul aanleg was al drie jaar aan die gang en van die ratte op die
steenkoolbane wou maar net nie vlot nie. Hulle het kom soek na ’n
kontrakteur vir instandhouding en verbetering, want gerugte wil dit hê dat
Johan le Roux ’n rat se baas is.
Die kontrak wat hy losgelaan het, was groot genoeg om sy eie besigheid op
Vanderbijlpark te begin, maar nie so ruim dat hy haar om haar hand kon vra
nie. Daarvoor moes hy wag tot 1962, toe sy skuld afbetaal was. Maar in die
vier jaar was hulle minstens elke naweek bymekaar, kon hulle daagliks oor
die foon gesels.
In 1963 is hulle op Brandfort getroud en het toe saam Le Roux
Ingenieurswerke bedryf – hy die werkwinkel, sy die administrasie en
rekeninge. Drie jaar later is Jacobus Daniël le Roux gebore en Sara het
voltyds ma en huisvrou geword. Teen 1968 was hulle reg vir nog ’n kind,

maar Johan le Roux se steeds groeiende ratreputasie het weer gesorg vir ’n
omwenteling in hul lewe. Dié keer was dit ’n lang swart motor voor die
werkswinkel se deur – en drie wit mans in swart pakke en hoede wat kom
praat het. Hulle was van die nuutgestigte Krygstuig Ontwikkeling en
Produksie Korporasie, die voorloper van wat in 1977 Krygkor sou word. Hy
moes ’n eed van stilswye onderteken voor hulle hom vertel het van die
kanonne en pantservoertuie wat ontwerp en gebou moes word. En omdat
hulle met versigtige navrae reeds vasgestel het dat hy ook ’n goeie Afrikaner
is, het hulle vir hom die ratkontrak kom aanbied.
Dié nuwe inkomstestroom het twee gevolge gehad. Die eerste was dat
Johan en Sara le Roux ryk geword het. Nie oornag nie en ook nie sonder
verdienste nie, want die staat is ’n ongenaakbare kliënt en dit het lang ure van
bloedsweet geverg. Maar oor die volgende byna drie dekades het Le Roux
Ingenieurswerke gegroei tot ’n industrie met drie reusewerkwinkels en ’n
afsonderlike gebou in Johannesburg vir navorsing, bestuur en administrasie.
Die tweede gevolg was dat hulle tot 1972 moes wag voor hulle aan nog ’n
kind kon dink. Dit was die jaar waarin Emma de Wet le Roux gebore is. Op 6
April, ’n verjaardag wat sy in daardie dae met ’n hele land gedeel het.
“En toe trek hulle Johannesburg toe sodat my pa nie meer so baie hoef te
ry nie …”
My eie vermoede is dat Groot Geld ook nie heeltemal tuis gevoel het in die
middelklas-grouheid van Vanderbijlpark nie. Linden was die buurt van die
opkomende ryk Afrikaner van daardie jare.
***
“En dit is waar ek grootgeword het,” sê sy met ’n verontskuldigende
handgebaar wat aandui: Dit was my lotsbepaling. Ek kan sien die demper van
vroeër het gelig, asof die vertelling haar op ’n manier verlos het. Sy glimlag,
byna selfbewus, en kyk na haar horlosie. “Ons moet vroeg roer môre.”
Ons stap uit na buite. Die nag is ’n broeikas van hitte en humiditeit. Ver
weg na die weste is daar weerlig. As ons langs die helder verligte paadjies
terugstap na die Bateleur-suite, wonder ek oor haar verhaal. Ek wonder of sy
ooit nadink oor die oorsprong van haar rykdom, gebou op die fondament van
apartheid en internasionale sanksies en nou so heeltemal polities inkorrek. Is
dit ’n skuldige gewete wat haar soveel klem laat lê op die armoede waaruit
haar ouers gekom het?
Sou die oorsprong van haar welvaart een van die redes wees waarom sy

haar eie loopbaan het, waarom sy nie bloot op haar rente leef nie?
By ons suite vra ek haar om haar kamerdeur van binne te sluit.
My selfoon biep in my sak. Ek weet dit is Jeanette Louw se daaglikse ALS
REG?-SMS. Ek haal dit uit, stuur die gewone ALS REG vir haar terug. Dan
loop ek nog ’n keer buite om die struktuur, voor ek in die bed klim. My eie
binnedeur bly oop. Ek lê in die donker en wag vir die slaap en tob, nie vir die
eerste keer nie, oor die voordele van ’n vertelbare familiegeskiedenis.

8

Emma se kreet dring deur die dik sand van die slaap: “Lemmer!”
Ek is op my voete en in die sitkamer voor ek heeltemal wakker is, nog nie
doodseker haar roep is werklikheid nie.
“Lemmer!” Suiwer, hoë angs.
Ek storm na haar deur, loop my vas daarteen. Gesluit. “Ek is hier,” sê ek,
my stem hees van slaap en frustrasie.
“Daar’s iets in die kamer!” skree sy.
“Maak oop die deur.”
“Nee!”
Ek stamp die deur met my skouer, ’n dowwe slag, maar dit bly toe. Ek
hoor ’n vreemde, vae geluid daar binne.
“Ek dink dis ’n … Lemmer!” My naam is ’n benoude gil.
Ek tree terug en skop die deur, dit splinter oop, haar kamer is stikdonker.
Sy skree weer, ek stamp met my palm waar die ligskakelaar moet wees en dit
is meteens helder en die slang pik na my, ’n groot, grys, sissende
oopmondverskrikking, die bek se binnekant swart soos die dood. Ek ruk weg,
agtertoe, sitkamer toe, Emma skree my naam weer, ek sien haar vir ’n
flitsende oomblik in die dubbelbed, kussing en duvet, alles voor haar
bymekaar gemaak in beskerming en vrees. Die slang kom vir my, pik keer op
keer, die hol sisgeluid suiwer woede. Ek val oor ’n stoel, die slang se tande
slaan millimeters van my been af vas in die materiaal. As dit loskom, spat die
gif in ’n blink sproeireën, ek rol van die stoel af, oor die vloer. Ek moet ’n
wapen kry, ’n slaanding. Ek gryp die staanlamp van die hoektafeltjie af,
swaai dit, mis.
Die slang is onmoontlik lank, drie meter, dalk meer, vaartbelyn soos ’n
spies, so verskriklik doeltreffend. Ek spring agter die ander sitkamerstoel in,
probeer dit tussen ons hou, die slang kom bo-oor, die voorlyf hoog opgetel.
Die staanlamp is te swaar, te lomp, ek slaan dit teen die muur om van die

skerm ontslae te raak, tref ’n skildery, glas en hout wat breek, Emma skree.
Die slang pik en ek slaan, tref dit skrams teen die nek. Ek spring na regs om
verder weg te kom. Vinnig kom dit weer, onhanteerbaar, skrikwekkend
doelgerig, asof my hou ’n groter woede daarin losgelaat het, ’n lang, dik,
veerkragtige projektiel, die swart oë onverbiddelik, die bek aggressief oop.
Adrenalien laat my bewe. Hy pik, skerp pyn in my voet, ek slaan met die
lampstaander, die metaal waar die gloeilamp was, tref die reptiel se nek, kap
die kop teen die muur, vir ’n oomblik, net ’n breukdeel, is hy van balans, ek
slaan weer, die staander te lank en swaar. Tref sy lyf waar dit op die teëlvloer
seil, maar hard, breek iets onder die metaalgrys skubbe. Die slang krioel,
draai om homself. Ek slaan en slaan en slaan, sy kop ontwyk my, ek sien ’n
bloedstreep op die vloer. Dit is my voet. Die gif gaan my bedwelm, nou, ek
moet klaarmaak. Hier kom hy weer.
Ek lig die lamp hoog bo my skouers, bring dit met geweld op die dier af.
Mis. Vat dit soos ’n bofbalkolf vas, swaai, slaan, swaai, slaan, tref die kop
skrams. Swaai, slaan. Mis, hy is nou aan die terugval. Hou die lampsteel soos
’n swaard, wil sy kop teen die vloer vasdruk. Een, twee keer onsuksesvol, die
derde steek van die punt is agter sy nek, ek boor dit teen die teëls. Sy lang lyf
krul teen die staander op, om my arm. Ek trap met my bloeiende regtervoet
die nek vas, lig die lampsteel, steek die kop met al die vrees en weersin in
my. Die slang se kartels is om my been, laaste sametrekkings van kragtige,
soepel spiere. As dit verslap, ruk ek my voet weg en slaan een laaste keer met
mag en mening om die doodskiskop heeltemal te verbrysel.
***
Sy sit op die badrand. Ek sit op die vloer, nog steeds net in die kortbroek
waarin ek slaap, my voet op haar skoot.
“Ek gaan op jou bloei.”
“Hou net stil,” antwoord sy streng, soos die skooljuffrou wat netnou gesê
het: “Kom sit, Lemmer.” Ek sien daar is nog ’n sterk bewing in haar hande.
Sy trek die skerp skerf uit met haar vingers en sy sit dit versigtig op die
vensterbank neer. Dit was toe nie die slang se giftande nie. Sy rol toiletpapier
af en hou die bondel styf teen die sny. Die bloed dam uit daarin.
“Hou vas hier,” sê sy en druk my voet na my toe. Sy staan op en loop uit.
Ek kan nie help om die afdruk van haar tepels te sien teen die te groot Themp wat haar slaapklere is nie. Dit hang tot bo haar knieë. Haar kuite is
mooi. Ek hou die toiletpapier teen die sny. My hande is stil. Sy is vir ’n

rukkie weg en dan hoor ek haar kaal voete aankom deur die deurmekaar
sitkamer met die omgekeerde stoel, die gebreekte kunswerk en die stukke van
die staanlamp. Die slang lê buite op die stoep. Die lang lyf was nog warm toe
ek dit daarheen gesleep het, die geskubde vel soepel en glad. Ondanks die
omstandighede was daar ’n skuldgevoel in my – oor die onwaardigheid, die
skrille teenstelling tussen die doodsgevaarlike veer en hierdie lewelose lint.
Emma het ’n klein leersakkie in haar hande. Sy gaan sit weer op die
badrand en rits dit oop. Sy haal ’n skêrtjie uit, vat een van die wit waslappe
en begin sny.
“Iemand het die slang in my kamer gesit, Lemmer,” sê sy, in ’n
beredeneerde dit-is-hoe-dit-is-stemtoon.
Ek kyk na die skêr en die waslap.
“Dit is wat my wakker gemaak het. Die venster … toe hy dit toegestamp
het. Of iets. Ek het nou gaan kyk. Die venster is toe, maar dit is nie op knip
nie.”
Sy sny ’n lang spiraal uit die waslap, sekuur en behendig. “Gee my jou
voet.” Ek sit die ledemaat weer op haar skoot. Sy vat die bebloede
toiletpapier weg en inspekteer die sny. “Dit lyk darem of dit ophou bloei het.”
Sy neem die waslapverband en begin dit om die bal van my voet draai.
“Hulle moes gisteraand die venster se knip van binne af kom draai het. Toe
ons geëet het. Dit is die enigste manier, want jy kan nie die venster van buite
af oopmaak nie.”
Ek sê niks. Sy sal nie wil hoor hoe onwaarskynlik haar teorie is nie. Hoe
hanteer jy só ’n reptiel, hoe glip jy dit deur die skreef van ’n halfoop venster?
Hoe het “hulle” geweet ons gaan hier oornag?
Hoe het hulle van die grootpad tot hier in die nag gekom met ’n sissende,
giftige slang van drie meter lank en presies geweet waar Emma se
kamervenster is?
Emma het ’n klein silwer haakspeld uit die leersakkie gehaal en steek die
verband vas. Sy tik met haar palm op my tone. “Daar’s hy,” sê sy, tevrede
met haar handewerk. Ek haal my voet van haar skoot af. Ons staan op. By die
badkamerdeur gaan staan sy en draai na my toe, kyk op na my met ’n ernstige
gesig.
“Dankie, Lemmer. Ek weet nie wat ek sonder jou sou gedoen het nie.”
Ek antwoord nie, wag dat sy moet uitgaan.
“Hoe doen jy dit, Lemmer? Draf jy?”
“Hoe bedoel jy?”

“Jy het nie ’n ons vet aan jou nie.”
“O.” Ek is onkant betrap “Ja, … ek draf. En so …”
“Jy moet my eendag van die ‘en so’ vertel,” sê sy en loop met ’n effense
glimlag om die mond uit.
***
Wanneer ek weer in die donker in my bed lê en wag vir ontwykende slaap,
verwonder ek my aan die sekerheid en kalmte waarmee sy die sogenaamde
sameswering beskou. Dit is volkome werklik vir haar, ’n voldonge feit, ’n
ongelukkige realiteit waarmee sy moet saamleef. Dit maak haar nie histeries
nie, maar bloot pragmaties.
Mense wil my doodmaak – ek huur ’n lyfwag. Probleem opgelos.
Dit is vleiend, op ’n manier, haar kinderlike vertroue, haar geloof in my
vermoëns. Maar ek kry nie veel genoegdoening daaruit nie, want dit kom van
dieselfde vrou wat verstrengel is in verbeelde komplotte. Waar ek aanvanklik
vermoed het sy lieg, begin ek haar nou verdink van fantasie, verlangegedrewe illusies.
Ek lê lank in die donker, luister na die geluide van die bos, die nagvoëls, ’n
hiëna. Een keer verbeel ek my ek hoor ’n leeu brul. En net wanneer ek begin
afdaal na die slaap is daar ’n ander geluid: Die sagte tred van Emma se kaal
voete deur die sitkamer, verby my, tot by die ander enkelbed hier langs my.
Daar is die geritsel van beddegoed en dan is dit stil.
Ek hoor hoe sy haar asem stadig uitblaas, ’n sug van behaaglikheid. Of
verligting.

9

Greg. Hospitality Manager. Hy het yl blonde hare, sy rooi vel hou nie baie
van die son nie en sy kakie-en-olyf-uniform sit effens styf om die middel.
“My most sincere apologies, this is totally unacceptable, we will move you,
of course, and there will be no charge for your accommodation.” Hy kyk nie
na die slang wat leweloos lê nie.
Douvoordag en ons voorstoep is vol. By die dooie reptiel staan Dick.
Senior Game Ranger.
“It’s a black mamba. Awesome animal,” sê Dick vir Emma, asof die slang
aan hóm behoort. Hy is haar tipe en hy weet dit – ’n wit Orlando Bloomkloon in sy dertigs, bruingebrand, welsprekend. Sedert hy gesnap het dat
Emma alleen agter slot en grendel in die dubbelbedkamer was toe die ding
met die slang gebeur het, gee hy al sy aandag aan haar.
Ek en die swart wildwagter, Rick. Game Ranger, kyk na die dooie dier. Die
oggend is al klaar warm. Ek het nie veel geslaap nie. Ek hou nie van Dick
nie.
“You don’t have to move us,” sê Emma vir Greg.
“Most feared snake in Africa, neurotoxic venom, lung failure within eight
hours if you don’t get the anti-venom. Very active, especially this time of
year, before the rains. Very aggressive when confronted, the best thing is to
step back …” sê Dick vir Emma.
Wat dink hy het ek gedoen – die ding probeer omhels?
“Then we’ll have it fixed. As good as new by lunchtime. I’m so sorry,” sê
Greg.
Dick kyk vir die eerste keer na my. “You should have called us.” Ek kyk
net vir hom.
“I don’t think that was an option,” sê Emma.
Greg gee vir Dick ’n streng kyk. “Of course it wasn’t.”
Dick probeer verlore aansien terugwen. “Just a pity it had to be killed, such

an awesome animal. They are very territorial, you know, and they usually
avoid contact with humans, unless they are cornered. Hunts by day, mostly.
Unusual, very unusual … never happened before. How the hell did it get in?
They’re so damn agile, can get through the smallest of holes or gaps or pipes,
who knows. Rick, do you remember that one we found in the ant hill last
month? Huge female, maybe four metres, the one minute she was there, the
next she was gone, just slipped away somewhere.”
“We have to go to breakfast,” sê Emma.
“And that will be on the house too,” sê Greg. “Please, if there is anything
…”
“Mamba in the bedroom,” sê Dick kopskuddend. “It’s a first for us, but
hey, it’s the bush, right? Africa isn’t a place for sissies … I suppose it had to
happen some time or other. Just such a pity …”
***
Inspekteur Jack Phatudi is ’n blok agter die lessenaar, ’n liggaamsbouer wat
die versoeking weerstaan om te spog, want die spierwit hemp sit los. Hy het
’n permanente frons op sy breë voorkop, onvriendelike kerwe wat die
blinkheid van sy kaalgeskeerde kop onderbreek, sy vel ’n laaste diepbruin
skakering net duskant swart, soos ’n gepoleerde, eksotiese Afrika-houtsoort.
Hy is die enigste een wat nie sweet in die drukkoker-kantoor nie.
Hy hou die 20 jaar oue foto van Jacobus le Roux in dik, sterk vingers en
sê: “This is not him.” Hy skuif die foto nukkerig terug oor die blad van ’n
staatsdienstafel.
“Are you absolutely sure?” vra Emma. Ek en sy sit oorkant Phatudi. Sy
laat die foto op die tafel lê.
“You cannot ask me that. Who can say they are absolutely sure? I do not
know what he looked like twenty years ago.”
“Of course, Inspector, I …”
“How will this help me?”
“I beg your pardon?”
“The suspect has killed four people last week. Now he is gone. Nobody
knows where he is. You bring me this photograph from twenty years ago.
How will it help me find this man? I don’t understand that.”
“Oh …” Sy is vir ’n oomblik afgehaal, asof sy swig voor die aanslag.
“Well, Inspector, I don’t know,” sê sy gemoedelik. “Perhaps it won’t help
you. And I don’t want to waste your time, I have too much respect for the

role of the police … but I was hoping that you might be able to help me.”
“How?”
“I saw the picture of the man on television, just for a few seconds. Would
it be at all possible to see it again, to put it next to this one …”
“No. I cannot do that. It is a murder docket.”
“I understand.”
“That is good.”
“May I ask you one or two questions?”
“You can ask.”
“The television news said the man, Jacobus de Villiers, worked at an
animal hospital …”
“The TV people, they don’t listen. It is not a hospital, it is a rehabilitation
centre.”
“May I ask what its name is?”
Hy is nie lus om te sê nie. Hy skuif aan sy heldergeel das, die groot
skouers wat rol onder die wit materiaal. “Mogale. Now you will go show
your photograph there?”
“If it is O.K. with you.”
“You will make trouble.”
“Inspector, I assure you …”
“You do not understand. You think I do not want to help you. You think
this policeman is difficult …”
“No, Inspector …”
Hy hou ’n hand in die lug. “I know you think that. But you do not know
the problems. There are big problems here. Between your people and the
black people.”
“My people?”
“Whites.”
“But I don’t know anybody here.”
“It does not matter. There are big problems. The people, they fight all the
time. There is much tension. The black people, they say the whites are hiding
this Cobie de Villiers. They say the whites, they care only for the animals.
These men who died, they have families. These families are very angry. The
animals are wild animals. They belong to the people. It is not the animals of
the whites.”
“I understand …”
“So when you go and ask questions, you will just make trouble.”

“Inspector, I give you my word that I will not make trouble. I am not here
about the killings. I feel truly sorry for the families of those men. I have lost
my whole family too. I just need to talk to the people who worked with this
man. I will show them the photograph, and if they say it isn’t the person I am
looking for, I will go home, and I will never bother you again.”
Hy kyk stip en fronsend na haar, intens, asof hy haar met wilskrag wil
ontmoedig. Emma kyk terug na hom met ’n ontwapenende, byna kinderlike
erns.
Phatudi is die een was bes gee. Hy sug diep, trek ’n dossier nader, slaan dit
oop en haal ’n foto uit wat hy vies oor die tafel skuif tot langs die een wat
Emma gebring het, die twee netjies langs mekaar.
Emma leun vorentoe en bestudeer die foto’s. Die inspekteur kyk na haar.
Ek sweet en kyk vir die plakkaat teen die muur wat mense afraai om misdaad
te pleeg.
Hulle sit só vir ’n minuut of twee, die klein Emma en die rots van ’n
speurder, in doodse stilte.
“Dis Jacobus,” sê Emma, maar vir haarself.
Phatudi sug.
Emma tel al twee die foto’s op en hou dit na my uit. “Wat dink jy,
Lemmer?”
Die foto van Jacobus le Roux is swart-wit, ’n jong soldaat in ’n boshoed
wat vir die kamera glimlag. Dieselfde hoë wangbene as Emma, dieselfde
effens prominente oogtande. Daar is ’n intensiteit, ’n dringendheid, hy wil die
fotosessie afgehandel hê, want daar is ’n wêreld wat wag. ’n Gemaklikheid,
’n selfvertroue, hy hou van die kamera en wat dit sal vasvang. My pa is ryk
en my lewe lê oop voor my soos ’n ryp granaat.
Op Phatudi se foto is Cobie de Villiers, in kleur maar kleurloos, ’n
vergroting van wat net ’n identiteitsboekfoto kan wees. De Villiers lyk
lewensmoeg. Geen glimlag nie, net ’n uitdrukkinglose gesig en dowwe oë, ’n
man sonder vooruitsigte. Die enigste moontlike ooreenkoms is in die
wangbene, maar dit is vaag, dit verg ’n geloofsprong, of hoop.
“Ek kan nie sê nie.”
“Dis reg,” sê inspekteur Jack Phatudi in Afrikaans. “’n Mens kan nie sê.”
Emma kyk verbaas na hom. “En hier sit ons en Engels praat, inspekteur,”
sê sy.
Hy rol net sy skouers. “Ek praat ook sePedi, Tshivenda en isiZulu. Júlle
het kom Engels praat.”

Emma plaas die foto’s op die tafel, sodat Phatudi daarna kan kyk.
“Kyk na die oë, inspekteur. En die vorm van die gesig. Vat hierdie foto en
las twintig jaar by. Dis Jacobus … dis moontlik dat dit Jacobus is.”
Hy skud sy kop. “Watse woord is ‘moontlik’? Weet jy wat is my werk,
mevrou? Ek moet ’n saak maak teen hierdie man.” Hy tik op die foto van die
futlose Cobie de Villiers. “Ek moet hom kry en ek moet hom hof toe vat en
my saak moet sê hy is skuldig bo redelike twyfel. Reasonable doubt. Daardie
regters, hulle skree op jou. Hy sal skree as ek praat van ‘moontlik’. Verstaan
jy dit?”
“Ek verstaan dit. Maar ek wil niemand hof toe vat nie.”
Hy raap sy foto op en plaas dit terug in die dossier.
“Is daar nog iets, mevrou?”
“Inspekteur, wat het gebeur met die mense wat dood is?”
Die frons verdiep. “Nee, mevrou, dit is sub judice. Ek kan nie vir jou sê
nie.”
***
In die BMW bestudeer Emma haar kaart met groot konsentrasie. Ek rig die
lugversorging se koue stroom op my voorkop. Die verligting is groot. Emma
kyk op. “Kan ons by ’n vulstasie stilhou? Ek wil uitvind waar Mogale se
rehabilitasiesentrum is.”
Ek trek weg. “Goed, mevrou,” eggo ek Phatudi se aanspreekvorm voor ek
dit kan verhelp, en sy lag, verrassende, helder musieknote.
“Die inspekteur is ’n interessante man,” sê sy, en wanneer haar lag bedaar,
voeg sy as ’n nagedagte by: “En jý ook.”
Ek en die speurder saam gekategoriseer ... Ek is nie seker of dit regverdig
is nie, maar ek gaan nie daarop reageer nie.
“Daar – daar’s ’n Engen, kom ons vra daar …”
Ek sit die flikker aan en draai af.

10

Die sentrum lê onder teen die flank van Mariepskop, die berg met sy
onheilspellende massa van rooibruin kranse is ’n streng gesagsfiguur wat oor
die vlakte waak.
Mogale Rehabilitation Centre staan daar in groen sierletters, ’n kenteken
met ’n roofvoël se kop daarop, ’n uitnodiging om in te kom. En ’n
tydskedule:
Times of our rehab tours
Mondays to Saturdays:
* 1st Tour starts at 09h30
* 2nd Tour starts at 15h00
“Ons is net betyds,” sê Emma en klim uit om die hek oop te maak.
Ek ry deur. Anderkant die hek is nog ’n intruksie teen ’n paal. Wild
Animals. Please remain in your vehicle. Emma klim weer in. Ná ’n kilometer
sê sy: “Kyk,” en wys na ’n swerm aasvoëls wat by ’n karkas vergader. “Ek
wonder of hulle die voëls hier voer?”
Die sentrum is uitgestrek – hokke en tuine en grasperke en ’n afdak vir
motors. Visitors: Please park here. ’n Jong man in kakie en groen,
klaarblyklik die uniform van die ganse Laeveld, wag ongeduldig by die hek.
Ons klim uit.
“We’re about to start the tour,” sê hy, maar nie onvriendelik nie. Hy’s ’n
kop langer as ek, breë skouers, atletiese selfvertroue. Emma se tipe.
Ons loop deur. Nog ’n grasdakstruktuur, ’n lesingsaal met houtbankies wat
afdaal na ’n verhoog. Daar sit al mense, groot en klein, kameras om die nek,
koeldrankblikkies in die hand. Teen die muur agter die verhoog is ’n
veldtoneel geskilder: roofvoëls en aasvoëls in die lug, ’n luiperd, hiënas en
wildsbokke in die lang gras tussen doringbome. Die jong man gaan staan in
die middel van die verhoog. “Good morning, ladies and gentlemen, and
welcome to the Mogale Rehabilitation Centre. My name is Donnie Branca,

and I’ll be your guide this morning.”
Hy kyk na ons en hy sê: “Vultures.” Vir ’n ongemaklike oomblik dink ek
hy praat van sy gehoor.
“They’re not cuddly, they’re not cute. As a matter of fact, we think of them
as disgusting beasts – squabbling and squawking at a stinking carcass,
fighting over decomposing meat. Carrion eaters with beady little eyes,
scrawny necks and hooked beaks, often covered in blood and gore and guts
up to their eyeballs. Pretty revolting. So most people don’t care much for
vultures. Well, let me tell you, here at Mogale, we not only care for them –
we love them. With a passion.”
Daar is iets aan die trant en toonhoogte van Donnie Br