اصلی Orion

Orion

,
0 / 0
How much do you like this book?
What’s the quality of the file?
Download the book for quality assessment
What’s the quality of the downloaded files?

’n Middelklas-meubelhandelaar is in sy voorstedelike huis met ’n blaasvlam gemartel en toe met ’n M16 doodgeskiet. Een skoot; agterkant van die kop. Laksmanstyl. Oudpolisieman Zatopek van Heerden het sewe dae om dié moord op te los en ’n testament te vind. En die moord het boonop al tien maande tevore plaasgevind, die spore is vaag, die enigste leidraad ’n stukkie papier waarmee hulle te lank gelede dollars toegedraai het. Miskien báie dollars . . . En wanneer alles skielik ontvlam, is daar snaakse gediertes wat uit die vuurlig probeer skarrel: Militêre Intelligensie, die CIA, Moord en Roof, georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte. Hoe dieper hy delf, hoe meer lae hy van dié ding afkrap, hoe meer smeer hulle toe.

Language Notes

Text: Afrikaans 

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780798161770
ISBN:
btA1ngEACAAJ
فایل:
کاپی کول (pdf, 188 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie2850
het2846
van2297
dit1488
wat1244
vir979
haar913
ons856
hom620
toe596
gaan565
maar557
jou488
daar487
kan441
net425
deur390
oor380
aan377
moet368
sal368
weet359
uit340
wil324
een319
kom300
kyk281
dan277
maak275
dat273
hoop267
hoe252
nog234
soos234
weer230
sien229
tot229
laat227
nou226
dink203
voor202
twee199
teen196
huis177
wees173
kry165
niks161
stap152
ook151
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Spoor

Năm:
2012
Ngôn ngữ:
afrikaans
File:
PDF, 1,72 MB
0 / 0
2

Onsigbaar

Năm:
2012
Ngôn ngữ:
afrikaans
File:
PDF, 1,82 MB
0 / 0
Deon Meyer

Orion
Human & Rousseau

Vir Francis Meyer. My ma.

Dag 7
Donderdag, 6 Julie

1

Hy kom skielik uit die drankslaap en die pyn van sy ribbes is eerste in sy
bewussyn, dan die seer van geswolle oog en bolip, die antiseptiese, dowwe
reuk van die sel, die suur reuk van sy lyf, die sout smaak van bloed en ou bier
in sy mond.
En die verligting.
Die aand se brokstukke in sy kop: Die uittarting, die beswaarde gesigte, die
woede. Sulke normale, voorspelbare fokkers. Sulke ordentlike, konvensionele
pilare van die gemeenskap.
Hy lê só, op die kant van sy torso – sonder pyn, stil, die babelas wat deur
hom versprei.
Voetstappe in die gang buite, ’n sleutel wat in die grys staaldeur se slot
draai, die geluid van metaal op metaal wat deur sy kop sny. Dan staan die
uniform daar.
“Jou prokureur is hier,” sê die polisieman.
Hy draai stadig om. Hy maak sy een oog oop.
“Kom” ’n Stem sonder respek.
Hy beur sy liggaam orent, swaai sy voete van die katel af. “Ek het nie ’n
prokureur nie.” Sy stem klink ver.
Die polisieman tree nader, vat hom agter aan die kraag, trek hom orent.
“Kom.”
Die pyn in sy ribbes. Hy strompel deur die seldeur, in die geplaveide gang
af, na die aanklagkantoor.
Die uniform stap vooruit, wys met die sleutel die pad na die klein
paradekamer. Hy stap moeisaam in. Kemp sit daar, met sy aktetas langs hom
en ’n frons op sy gesig. Hy gaan sit op ’n diepblou stoel, sy kop in sy hande.
Hy hoor hoe die polisieman die deur agter hom toetrek en wegstap.
“Jy is gemors, Van Heerden,” sê Kemp.

Hy sê niks.
“Wat word van jou?”
“Wat maak dit saak?” Sy dik lip vervorm die “s”.
Kemp se frons verdiep. Hy skud sy kop. “Hulle het nie eens die moeite
gedoen om ’n saak te maak nie.”
Hy wil die verligting herleef, die vermindering van die druk, maar dit
ontwyk hom nou. Kemp. Waar de fok kom Kemp vandaan?
“Selfs tandartse ken drek as hulle dit sien. Here, Van Heerden, wat word
van jou? Jy pis jou lewe weg. Tandartse? Hoe dronk moet ’n mens wees om
vyf tandartse te probeer aanvat?”
“Twee was algemene praktisyns.; ”
Kemp kyk hom op en af, dan staan die prokureur op. Hy is ’n groot man,
skoon en netjies in die sportbaadjie en grys broek, die dis se neutrale kleure
net reg. “Waar’s jou kar?”
Van Heerden kom stadig orent. Die aarde is nie heeltemal stil nie. “By die
kroeg.”
Kemp maak die deur oop en stap uit. “Kom.”
Hy stap stadig agterna, tot in die aanklagkantoor. ’n Sersant stoot sy
besittings oor die toonbank, ’n plastieksak met sy dun beursie en sy sleutels.
Hy neem dit sonder om oogkontak te maak.
“Ek vat hom weg,” sê Kemp.
“Hy sal terug wees.”
Die dag is koud buite, die wind sny deur sy dun baadjie. Hy onderdruk die
drang om dit stywer om hom vas te trek.
Kemp klim in sy groot bakkie, leun oor en sluit die passasiersdeur oop.
Van Heerden stap stadig om en klim in, trek die deur toe en leun daarteen aan
met sy kop. Kemp trek weg.
“Watter kroeg?”
“Die Sports Pub oorkant Panarotti’s.”
“Wat het gebeur?”
“Hoekom het jy my kom haal?”
“Omdat jy gisteraand vir die hele Table View-polisiestasie vertel het dat ek
vir hulle en die tandartse sal dagvaar vir enigiets van aanranding tot
brutaliteit.”
Hy onthou, vaagweg, sy aanklagkantoor-tirade. “My prokureur.” Spottend.
“Ek is nie jou prokureur nie, Van Heerden.”
Die geswolle oog knip sy lag kort. “Hoekom het jy my kom haal?” Kemp

verwissel die ratte aggressief. “Die fok weet.”
Hy draai sy kop, kyk na man agter die stuur. “Jy wil iets hê.”
“Jy skuld my.”
“Ek skuld jou niks.”
Kemp ry, soekend na die kroeg. “Watter kar is joune?”
Hy wys na die Corolla.
“Ek ry agter jou aan. Ek moet jou skoon en respektabel kry.”
“Vir wat?”
“Later.”
Hy klim uit en stap oor die straat, klim in die Toyota. Hy sukkel om die
deur oop te sluit, sy hand bewerig. Die enjin stotter en kerm, vat eindelik. Hy
trek weg, ry na Koebergweg, links verby Killarney, uit op die N7. Die reën
kom skielik in windvlae oor die pad. Links na Morningstar en weer links deur
die kleinhoewe se ingang. Kemp se ingevoerde Amerikaanse Ford agter hom.
Hy kyk na die groot huis tussen die bome, maar draai weg na die witgekalkte
geboutjie, hou stil.
Kemp stop langs hom, draai sy venter net effens oop teen die reën. “Ek
wag vir jou.”
Hy stort eers, laat die warm water oor sy lyf spoel, sonder genoegdoening,
sy hande wat onnadenkend die skraal lyne van skouer na borskas na maag
met die seep smeer, net die seep, sonder waslap, versigtig oor die beseerde
deel van die ribbes, dan metodies die res. Hy leun met sy kop teen die muur
om te balanseer as hy eers die een, dan die ander voet was, eindelik die krane
toedraai en die handdoek van die reling aftrek. Die dun, uitgewasde wit
handdoek – hy sal die een of ander tyd ’n nuwe een moet koop. Hy laat die
wasbak se warm kraan eers loop, hou sy hande bak onder die temerige straal
en gooi dan die water oor die spieël om die stoom weg te was. Hy druk die
buisie skeerseep in sy linkerhand uit, doop die kwas daarin, laat dit skuim.
Hy smeer die seep oor sy gesig.
Die oog lyk sleg. Nou rooi en opgehewe. Later bloupers. Die rofie op sy
lip het afgewas. Net ’n fyn bloedstreep oor.
Hy trek die skeermes eers van langs die linkeroor na onder, al die pad met
sy vel langs, oor die hoek van die kakebeen tot in die nek, begin dan weer bo.
Sonder om homself te sien. Trek sy kakebeen en lippe om die vel te laat span
vir die skeermes om die mond, doen dan die regterkant, spoel die skeermes
af, was die wasbak uit met warm water, droog weer af. Borsel sy hare. Moet
die borsel skoonmaak, die swart hare koek daarin.

Moet nuwe onderbroeke koop. Moet nuwe hemde koop. Moet nuwe kouse
koop. Die een of ander tyd. Broek en baadjie nog redelik. Fok die das. Sit die
lig af. Die vertrek is donker en koud, die reën teen die vensters, tien oor elf in
die oggend.
Hy stap uit. Kemp hou vir hom die bakkie se deur oop.
Daar is ’n lang stilte, tot in Milnerton.
“Waarheen?”
“Stad toe?”
“Jy wil iets hê.”
“Een van ons P.A.’s het haar eie praktyk begin. Sy het hulp nodig.”
“Jy skuld haar.”
Kemp snork net. “Wat het gisteraand gebeur?”
“Ek was dronk.”
“Wat het gisteraand gebeur wat anders was?”
Daar is pelikane op die gholfbaan se vlei. Hulle wei ongestoord in die reën.
“Hulle was so vol van hulle fokken vier by viers.”
“Toe rand jy hulle aan?”
“Die vette het eerste geslaan.”
“Hoekom?”
Hy draai sy kop weg.
“Ek verstaan jou nie.”
Hy maak ’n geluid in sy keel.
“Jy kan ’n lewe maak. Maar jy het so ’n vet kak in jouself …”
Paardeneiland se nywerhede beweeg verby.
“Wat het gebeur?”
Van Heerden kyk na die reën, fyn, skarrelende druppels teen die voorruit.
Hy haal diep asem, ’n sug vir die nutteloosheid daarvan. “Jy kan vir ’n man
sê sy vier by vier gaan nie sy voël langer maak nie en hy hou hom doof. Maar
praat oor sy vrou …”
“Jissis.”
Vir ’n vlietende oomblik voel hy weer die haat, die verligting, die oomblik
van verlossing van gisteraand, die ses middeljarige mans se gesigte deur
woede verwring. Houe, skoppe wat op hom reën, tot die drie kroegmanne
hulle uitmekaar kry.
Hulle praat nie weer tot Kemp voor ’n gebou in die Strandgebied stilhou
nie.

“Derde verdieping. Beneke, Olivier en Vennote. Sê vir Beneke ek het jou
gestuur.”
Hy knik en maak die deur oop, klim uit. Kemp kyk vir hom, nadenkend.
Dan maak hy die deur toe en stap die gebou binne.
Hy sit-lê sonder respek in die stoel. “Kemp het my gestuur,” is al wat hy gesê
het. Sy het geknik en die beseerde oog en lip ingeneem, voorgegee dat dit nie
bestaan nie.
“Ek glo ek en jy kan mekaar help, meneer Van Heerden.” Sy vou haar
romp in as sy gaan sit.
Meneer. En die poging tot gemeenskaplike grond. Hy ken dié aanslag.
Maar hy sê niks. Hy kyk vir haar, wonder waar sy die neus en mond geërf
het. Die groot oë en die klein oortjies. Die genetiese dobbelstene het vir haar
op vreemde plekke geval, op die rand van skoonheid.
Haar hande is op die lessenaar, die vingers netjies verstrengel. “Meneer
Kemp sê vir my jy het ervaring met ondersoekwerk, maar is nie op die
oomblik in ’n betrekking nie. Ek het die hulp van ’n goeie ondersoeker
nodig.” Norman Vincent Peale. Sy praat glad en behendig. Hy vermoed sy is
slim. Hy vermoed sy sal langer neem om te ontsenu as die gewone vrou.
Sy trek ’n laai oop en haal ’n lêer uit.
“Het Kemp vir jou gesê ek is gemors?”
Haar hande weifel net ’n klein oomblik. Sy glimlag styf. “Meneer Van
Heerden, jou persoonlikheid gaan my nie aan nie. Jou persoonlike lewe gaan
my nie aan nie. Hierdie is ’n sakeproposisie. Ek bied aan jou ’n tydelike
werksgeleentheid teen ’n professionele fooi.”
So fokken beheersd. Asof sy alles weet. Asof haar selfoon en graad al
skanse is wat sy nodig het …
“Hoe oud is jy?”
“Dertig,” sê sy. Sonder skroom.
Hy kyk na haar ringvinger. Dit is kaal.
“Is jy beskikbaar, meneer Van Heerden?”
“Dit hang af van wat jy wil hê.”

2

My ma is ’n kunstenaar. My pa was ’n myner.
Sy het hom die eerste keer gesien op ’n koue winterdag op Olënpark se
witgerypte rugbyveld – sy gestreepte Vaal Reefstrui byna van sy lyf
afgeskeur, hy wat stadig kantlyn toe stap vir ’n nuwe een, sy natgeswete
lenigheid, die definisie van skouers en maag en ribbes wat dofweg blink in
die flou laatmiddagson.
Sy het die storie noukeurig vertel, elke keer, die ylblou van die lug, die
vaalwit van die stadion se gras, die kleinerige studenteskare wat luid hul span
teen die myners ondersteun, die pers van hul serpe helder spatsels teen die
dowwe grein van die houtbanke.
Ek het met elke aanhoor daarvan die beelde verder uitgebou, haar skraal
gestalte uit ’n swart-wit foto van daardie tyd ingevoeg – sigaret in die hand,
donker hare en oë, ’n sekere broeiende skoonheid – waar sy hom sien en die
lyne van sy gesig en sy liggaam vir haar onweerstaanbaar reg is. Asof sy deur
alles kon sien. “Tot in sy hart,” het sy gesê.
Sy het op daardie oomblik twee dinge met sekerheid geweet. Die een was
dat sy hom sou skilder.
Ná die wedstryd het sy buite vir hom gewag, tussen die beamptes en
tweedespanspelers, tot hy uitgekom het met das en baadjie en nat hare. Hy
het haar in die skemerte gesien, haar intensiteit op hom gevoel. Hy het
gebloos en na haar toe gestap asof hy geweet het sy wil hom hê.
Sy het die papiertjie in haar hand gereed gehou.
“Jy moet my bel,” het sy gesê toe hy voor haar staan. Sy maats was om
hom en daarom het sy net die toegevoude voornaam en nommer vir hom
gegee, omgedraai en geloop, terug na die huis in Thomstraat waar sy loseer
het. Hy het laataand gebel.
“My naam is Emile.”

“Ek is ’n kunstenaar,” het sy gesê. “Ek wil jou skilder.”
“O.” Teleurstelling in sy stem. “Watse skildery wil jy maak?”
“Een van jou.”
“Hoekom?”
“Want jy is ’n mooi man.”
Hy het gelag, ongelowig en ongemaklik. (Hy het later vir haar gesê dit was
vir hom nuus, omdat hy maar altyd gesukkel het om ’n meisie te kry. Sy het
geantwoord dat dit was omdat hy dom is met vroue.)
“Ek weet nie,” het hy eindelik uitgekry.
“As betaling kan jy my uitneem vir ete.”
My pa het weer gelag. En net meer as ’n week later het hy op ’n koue
winteroggend, ’n Sondag, met sy Morris Minor van die enkelkwartiere op
Stilfontein Potchefstroom toe gery. Sy het met haar esel en skildertas
ingeklim en vir hom beduie – op die Carltonvillepad uit, tot naby
Boskopdam.
“Waarheen gaan ons?”
“Veld toe.”
“Veld toe?
Hy het geknik.
“Doen ’n mens dit nie in ’n … kunskamer nie?” “’n Ateijee.”
“Ja.”
“Soms.”
“O?”
Hulle het op ’n plaaspad afgedraai en teen ’n randjie stilgehou. Hy het haar
help dra, haar dopgehou terwyl sy die doek op die esel span, die tas oopmaak
en die kwaste regpak.
“Jy kan maar uittrek.”
“Ek gaan nie alles uittrek nie.”
Sy het net stil na hom gekyk.
“Ek weet nie eens wat jou van is nie.”
“Joan Killian. Trek uit.”
Hy het sy hemp uitgetrek, daarna sy skoene.
“Dit is genoeg,” het hy geskerm.
Sy het geknik.
“Wat moet ek nou doen?”
“Staan op die klip.”
Hy het op die groterige rots geklim.

“Moenie so regop staan nie. Ontspan. Laat jou hande sak. Kyk daar, na die
dam toe.”
En toe het sy begin skilder. Hy het vir haar vrae gevra, maar sy het nie
geantwoord nie, net nou en dan gemaan dat hy stil moet staan, afwisselend na
hom en die doek gekyk, verf gemeng en aangewend – tot hy moed opgegee
het met die gesprek. Na ’n uur of wat het sy hom laat rus. Hy het weer sy
vrae gevra, uitgevind sy is die enigste dogter van ’n aktrise en ’n
dramadosent in Pretoria. Hy het hul name vaagweg onthou uit Afrikaanse
flieks van die jare veertig.
Eindelik het sy ’n sigaret aangesteek en begin om haar kunsgoed op te pak.
Hy het begin aantrek. “Kan ek sien wat jy geteken het?” “Geskilder het.
Nee.”
“Waarom nie?”
“Jy kan dit sien wanner dit klaar is.”
Hulle het teruggery Potch toe en warm sjokolade by ’n kafee op die Bult
gedrink.
Hy het haar oor haar kuns uitgevra, sy vir hom oor sy werk. En iewers in
die laatmiddag van die Wes-Transvaalse winter het hy lank en stil na haar
gekyk en gesê: “Ek gaan met jou trou.” Sy het net geknik, want dit was die
tweede ding wat sy met sekerheid geweet het toe sy hom daardie eerste keer
gesien het.

3

Sy kyk af na die lêer en trek haar asem stadig in. “Johannes Jacobus Smit is
op 30 September verlede jaar, tydens ’n inbraak by sy huis in Morelettastraat,
Durbanville, noodlottig gewond met ’n grootkalibergeweer. Die volledige
inhoud van ’n instapkluis word sedert die voorval vermis, onder meer ’n
testament, waarin hy na bewering sy besittings aan sy vriendin, Wilhelmina
Johanna van As, bemaak het. Sou die testament nie opgespoor word nie, sal
wyle meneer Smit as intestaat gesterf beskou word en die boedel sal
uiteindelik na die staat gaan.”
“Hoe groot is die boedel?”
“In dié stadium lyk dit na net onder die twee miljoen.”
Hy het dit vermoed. “Van As is jou kliënt.”
“Sy het elf jaar lank saam met meneer Smit gewoon. Sy het hom in sy
sakebelange ondersteun, sy etes voorberei en sy huis skoongemaak, sy klere
versorg ... en op sy aandrang hul baba laat aborteer.”
“Hy het nooit aangebied om met haar te trou nie?”
“Hy was nie … ’n voorstander van die huwelik nie.”
“Waar was sy op die aand van die …”
“Dertigste? In Windhoek. Hy het haar gestuur. Vir sake. Sy het op 1
Oktober teruggekeer en hom dood aangetref, vasgebind op ’n kombuisstoel.”
Hy skuif verder af in die stoel. “Jy wil hê ek moet die testament opspoor?”
Sy knik. “Ek het elke moontlike uitweg wat die reg ons toelaat, reeds
gevolg. Oor sewe dae is die finale sitting by die Meester van die
Hooggeregshof. As ons nie teen daardie tyd ’n geldige dokument kan verskaf
nie, kry Wilna van As nie ’n sent nie.”
“Sewe dae?”
Sy knik.
“Dit is … amper tien maande. Sedert die moord.”

Die prokureur knik.
“Ek neem aan die polisie het nie vir ’n deurbraak gesorg nie.” “Hulle het
hul bes gedoen.”
Hy kyk na haar, dan na twee sertifikate teen die muur. Hy voel weer die
pyn in sy ribbes. Hy maak ’n geluid, kort en obseen, deels vir die pyn, deels
vir die surrealisme van die oomblik. “Sewe dae.”
“Ek ...”
“Het Kemp jou nie gesê nie? Ek doen nie meer wonderwerke nie.”
“Meneer Van …”
“Dit is tien maande ná die man se dood. Dit is ’n mors van jou kliënt se
geld. Nie dat dit ’n prokureur seker veel sal bekommer nie.”
Hy sien haar oë vernou. ’n Klein rosige vlek, soos ’n sekelmaan, vorm
stadig teen haar wang. “My etiek, meneer Van Heerden, is bo verdenking.”
“Nie as jy vir mevrou Van As laat verstaan daar is nog ’n kans nie,” sê hy
en wonder hoeveel selfbeheersing sy sal hê.
“Mejuffrou Van As is ten volle ingelig oor die sinvolheid van die stap. Ek
het haar geadviseer oor die potensiële nutteloosheid van die oefening. Maar
sy is bereid om jou te betaal, omdat dit haar laaste kans is. Die enigste
oorblywende uitweg. Tensy jy nie daarvoor kans sien nie, meneer Van
Heerden. Daar is klaarblyklik ander mense met dieselfde talente …”
Die sekelmaan gloei rooi, maar haar stem bly afgemete en onder beheer.
“Wat maar te bly sal wees om saam met jou mejuffrou Van As se geldjies
te neem,” sê hy en wonder of die vlek nog rooier kan skyn. Tot sy verbasing
glimlag sy stadig.
“Ek stel nie regtig belang waar jy jou wonde opgedoen het nie …” Sy
beduie met haar gemanikuurde hande na sy gesig en leun vorentoe. “Maar ek
begin nou verstaan wáárom.”
Hy sien die sekelmaan verdwyn stadig. Hy dink ’n oomblik na,
teleurgesteld. “Wat was nog in die kluis?”
“Sy weet nie.”
“Sy weet nie? Sy slaap elf jaar saam met hom en sy weet nie wat in sy
kluis aangaan nie?”
“Weet jy wat in jou vrou se klerekas aangaan, meneer Van Heerden?”
“Wat is jou naam?”
Sy huiwer eers. “Hoop.”
“Hoop?”
“My ouers was ietwat … romanties.”

Hy rol die naam in sy mond rond. Hoop. Beneke. Hy kyk na haar, wonder
hoe ’n mens, ’n vrou, dertig jaar lank met die naam Hoop saamleef. Hy kyk
na haar kort hare. Soos ’n man s’n. Hy wonder met watter lyn van haar gesig
die gode van gelaatstrekke die pot mis gesit het. ’n Ou spel, vaag onthou.
“Ek het nie ’n vrou nie, Hoop.”
“Ek is nie verbaas nie … Wat is jóú naam?”
“Ek hou van die ‘meneer’.”
“Sien jy kans vir die uitdaging, meneer Van Heerden?”
Wilna van As is iewers in haar onpeilbare middeljare, ’n vrou sonder skerp
hoeke, kort en rond. Haar stem is sag terwyl sy in die voorkamer van die huis
in Durbanville vir hom en die prokureur vertel van Jan Smit.
Sy het hom aan Van As voorgestel as “meneer Van Heerden, wat vir ons
die ondersoek gaan doen”. Ons. Die term wat medici en prokureurs gebruik
wanneer daar trauma is. Hy haat dit. Hy het vir koffie gevra toe drinkgoed
aangebied is. Hulle het in die voorkamer gaan sit, vreemd vir mekaar,
formeel en styf.
“Ek weet dit is omtrent onmoontlik om die testament betyds op te spoor,”
het Van As verskonend gesê en hy het vir die vroueprokureur gekyk. Sy het
die blik sonder uitdrukking beantwoord.
Hy het geknik. “Jy is seker van die testament se bestaan?”
Hoop het haar asem ingetrek asof sy iets wil sê, beswaar wil aanteken.
“Ja. Jan het een aand daarmee by die huis aangekom.” Sy wys met haar
hand in die rigting van die kombuis. “Ons het by die tafel gesit en hy het my
stap vir stap daardeur geneem. Dit was nie ’n lang dokument nie.”
“En die strekking daarvan was dat jy alles sou erf?”
“Ja…”
“Wie het die testament opgestel?”
“Hy het dit self geskryf. Dit was in sy handskrif.”
“Het getuies geteken?”
“Hy het dit by die Polisiekantoor hier in Durbanville laat beëdig. Twee van
die mense daar het geteken.”
“Daar was net een afskrif.”
“Ja,” sê Wilna van As, gelate.
“Jy het dit nie eienaardig gevind dat hy nie ’n prokureur die testament laat
opstel het nie?”
“Jan was só.”

“Hoe?”
“Privaat.”
Die woord hang in die lug. Van Heerden sê niks, wag dat sy meer moet sê.
“Ek dink nie hy het mense baie vertrou nie.”
“O?”
“Hy … ons … het eenvoudig gelewe. Ons het gewerk en huis toe gekom.
Hy het soms van sy huis as sy wegkruipplek gepraat. Daar was nie juis
vriende nie …”
“Watse werk het hy gedoen?”
“Klassieke meubels. Wat ander mense as antieke meubels beskryf. Hy het
gesê in Suid-Afrika is daar nie regtig antieke meubels nie, die land is te jonk.
Ons was groothandelaars. Ons het die meubels opgespoor en aan handelaars
verskaf, soms direk aan versamelaars.”
“Wat was jou rol?”
“Ek het so twaalf jaar gelede by hom begin werk. As ’n soort …
sekretaresse. Hy het toe gery om na meubels te gaan soek, op die platteland,
op plase. Ek het die kantoor beman. Ná ses maande …”
“Waar is die kantoor?”
“Hier,” beduie sy. “In Wellingtonstraat. Agter Pick ’n Pay. Dit is ’n ou
huisie …”
“Daar was geen kluis by die kantoor nie.”
“Nee.”
“Ná ses maande …” herinner hy haar.
“Ek het die besigheid gou leer ken. Hy was in die Noord-Kaap toe iemand
van Swellendam gebel het. Dit was ’n klerekas, as ek reg onthou, ’n
jonkmanskas, negentiende-eeus, ’n mooi stuk, met inlegsels … In elk geval,
ek het hom gebel. Hy het gesê ek moet gaan kyk. Ek het gery en dit vir ’n
appel en ’n ei gekoop. Hy was beïndruk toe hy terugkom. Toe het ek dit al
hoe meer gedoen …”
“Wie het toe die kantoor beman?”
“Eers het ons om die beurt gegaan. Later het hy by die kantoor gebly.”
“Jy het nie omgegee nie?”
“Ek het daarvan gehou.”
“Wanneer het julle begin saambly?”
Van As huiwer.
“Mejuffrou Van As …” Hoop leun vooroor, soek vir ’n oomblik na
woorde. “Meneer Van Heerden moet ongelukkig vrae vra wat moontlik .…

ongemaklikheid kan veroorsaak. Maar dit is noodsaaklik dat hy soveel
inligting as moontlik bekom.”
Van As knik. “Ek verstaan. Ek gee nie om nie. Dit is net dat … Ek is nie
gewoond daaraan om oor die verhouding te praat nie. Jan was altyd … Hy het
gesê mense hoef nie te weet nie. Omdat hulle altyd stories het.”
Sy besef hy wag vir ’n antwoord. “Dit was ’n jaar nadat ons saam begin
werk het.”
“Elf jaar lank.” ’n Stelling.
“Ja.”
“In dié huis.”
Ja…”
“En jy was nooit in die kluis nie.”
“Nee.”
Hy kyk net na haar.
Die vrou maak ’n beweging met haar hand. “Dit wás net so.”
“As Jan Smit onder ander omstandighede te sterwe gekom het, hoe sou jy
die testament uit die kluis kry?”
“Ek het die kombinasie geken.”
Hy wag.
“Jan het dit verander. Na my geboortedatum. Net nadat hy die testament
vir my gewys het.”
“Hy het al sy belangrike dokumente in die kluis gebêre?” “Ek weet nie wat
alles daarin was nie. Want dit is nou weg.” “Kan ek dit sien? Die kluis?”
Sy knik en staan op. Hy volg haar in die gang af, woordeloos. Hoop stap
agterna. Tussen die badkamer en die hoofslaapkamer, op regterhand, is die
groot staaldeur met die draaiknop van die kombinasieslot daarop. Dit staan
oop. Sy klik ’n skakelaar teen die muur en ’n fluoorlamp flits en skyn dan
helder. Sy stap in en gaan staan in die kluis.
“Ek dink hy het dit self aangebou. Nadat hy die huis gekoop het.”
“Jy dink so?”
“Hy het nooit gesê nie.”
“En jy het nie gevra nie?”
Sy skud haar kop. Hy kyk na die kluis se binnekant. Daar is drie houtrakke,
tussen die vloer en die dak, links, regs en agter teen die muur, nou leeg.
“Jy het geen idee wat alles hierbinne was nie?”
Sy skud weer haar kop, klein langs hom in die engte van die kluis. “Jy het
nooit verbygestap terwyl hy binne besig was nie?”

“Hy het die deur toegemaak.”
“En dié geheimsinnigheid het jou nooit gepla nie?”
Sy kyk na hom, byna kinderlik. “Jy het hom nie geken nie, meneer Van
Rensburg …”
“Van Heerden.”
“Ekskuus.” Hy sien die vrou bloos. “Ek is gewoonlik goed met name.”
Hy knik.
“Jan was … Hy was net baie privaat.”
“Het jy hier skoongemaak ná die …”
“Ja. Ná die Polisie klaar was.”
Hy draai om en stap uit, verby Hoop wat in die deur staan, terug na die
voorkamer. Die vroue kom agterna. Hulle gaan sit weer. “Jy was die een wat
op die toneel afgekom het.”
Die prokureur lig haar palm. “Kan ons ’n oomblik asemskep?”
Van As knik. Van Heerden sê niks.
“Ek sal baie graag nog tee wil hê,” sê Hoop. “As u nie omgee nie.” Sy
glimlag fyn en simpatiek vir die ander vrou.
“Met graagte,” sê Wilna van As en stap kombuis toe.
“’n Titseltjie deernis met haar sal nie onvanpas wees nie, meneer Van
Heerden.”
“Noem my dan liewer net Van Heerden.”
Sy kyk net vir hom.
Hy leun terug in die stoel. Die seer van sy oog is besig om die pyn in sy
ribbes te oorheers. Die babelas klop dof in sy slape. “Sewe dae laat my nie
veel tyd vir deernis nie, Hoop.” Hy kan sien die gebruik van haar voornaam
irriteer haar. Dit gee hom genoegdoening.
“Ek dink nie dit sal tyd of moeite kos nie.”
Hy haal sy skouers op.
“Jy laat dit klink asof sy ’n verdagte is.”
Hy bly ’n oomblik stil. Dan sê hy stadig, moeg: “Hoe lank is jy al ’n
prokureur?”
“Amper vier jaar.”
“Hoeveel moordsake het jy in dié tyd hanteer?”
“Ek kan nie sien dat dit enigsins iets te doen het met jou gebrek aan basiese
ordentlikheid nie.”
“Waarom dink jy Kemp het my aanbeveel? Omdat hy vir die Blou Bulle
skree en Moaner my kleinneef is?”

“Wie?”
Hy ignoreer die vraag. “Ek weet wat ek doen, Beneke. Ek weet wat ek
doen.”

4

Die skildery van my pa het jare lank teen die muur voor hul bed gehang – die
lenige myner met sy rooiblonde hare en gespierde bolyf teen die wintervaal
Wes-Transvaalse koppie. Die skildery was ’n simbool van hul unieke
ontmoeting, hul eiesoortige romanse, die liefde-met-die-eerste-oogopslag wat
skynbaar meer dikwels in daardie jare gebeur het as nou.
Ek bied Emile en Joan se ontmoeting nie aan as ’n amusante voorspel nie,
maar as een van die groot faktore wat my gemaak het wie ek is.
Ek sou, vir die grootste deel van my lewe, in die skaduwee van hul
romantiek op soek wees na ’n oomblik waarin ek dieselfde plotselinge en
dramatiese sekerheid van liefde ontdek.
Dit sou, eindelik, bydra tot my ondergang.
My pa was ’n man van integriteit. (Hoe teleurgesteld sou hy nie gewees het
as hy sy seun in volwassenheid geken het nie.) Dit – en sy lyf – was moontlik
die fondament waarop hul huwelik gebou was. Want hulle het niks gemeen
gehad nie. Selfs ná hul huwelik, drie jaar later, in die mynhuis op Stilfontein,
het hulle in twee wêrelde geleef.
Ek moet beken dat ek nie veel van die eerste vier of vyf jaar van my lewe
kan onthou nie, maar dit weet ek: sy, die kunstenaar, het voortdurend van
haar skilder-, beeldhou-, drama- en musiekvriende om haar gehad,
eienaardige mense wat kom kuier het – van Johannesburg en Pretoria en
Potchefstroom – en die derde slaapkamer soms tot barstens toe beset het,
selfs sommige naweke in die sitkamer bed gemaak het. Sy was die
gesprekleier, altyd met ’n sigaret in haar hand, ’n boek wat nie te ver weg nie
oop lê, musiek wat van krapperige langspeelplate opklink, Schubert veral,
maar ook Beethoven en Haydn. (Mozart, het sy gesê, het nie genoeg passie
gehad, nie.) Sy was nie lief vir huishou en kosmaak nie, maar daar was altyd
’n ete vir hom, dikwels eksoties voorberei deur haar vriende. En hy was ’n

randfiguur, die man wat met sy hardehoed en bliktrommel van skof af gekom
en dan gaan rugby oefen het. Of gaan draf het in die somer. Hy was, jare voor
dit mode was, ’n fiksheidsfanatikus. Hy het die Comrades gedoen, jaar na
jaar, ander vergete marathonne ook. Hy was ’n stil man, en sy lewe het om sy
liefde vir haar en sy liefde vir sport gedraai – en later sy liefde vir my.
In hierdie huishouding het die noodlot my gewerp, op 27 Januarie 1961, ’n
seun met sy ma se donker gelaat en, klaarblyklik, sy pa se stiltes.
Dit was hy wat voorgestel het dat hulle my Zatopek noem.
Hy was ’n groot bewonderaar van die Tsjeggiese atleet Emil Zatopek en
die feit dat hy ’n voornaam met hom gedeel het, al was die spelling effens
anders, het seker ook ’n rol gespeel. Vir my ma was Zatopek anders,
uitheems, boheems genoeg. Nie een van hulle, met hul meer alledaagse
voorname, kon seker voorsien wat dit sou doen aan ’n seun wat op ’n
myndorp grootword nie. Nie dat kinders se tipies onsensitiewe gespot ’n
letsel gelaat het nie. Maar die irritasie van jou voornaam vir vorminvullers
spel vir die res van jou lewe, daardie lig van die wenkbroue wanneer jy dit
uiter, daardie “ekskuus” elke keer dat jy jouself voorstel …daarvoor het hulle
in hul naamgewing nooit voorsiening gemaak nie.
Daar was net twee gebeurtenisse van my eerste ses jaar wat my lewenslank
sou bybly.
Die eerste was die ontdekking van vroulike skoonheid.
Die toepaslikheid hiervan is meervoudig en jy sal geduld moet hê – my
vergewe as ek hier van die narratiewe en chronologiese afwyk, maar die
onderwerp sou my boei en betower en eindelik bydra tot die legkaart van wie
ek is.
Die spesifieke van die gebeurtenis is vergete. Ek was vyf, dink ek, in die
sitkamer van die mynhuis, sekerlik besig met speelgoed tussen die
grootmense, toe ek opkyk na een van haar vriendinne, ’n aktrise (?), en in
daardie oomblik die vrou se skoonheid besef, ongedefinieerd, net ’n
alomteenwoordige iets dat sy mooi is, dat die somtotaal van haar
gelaatstrekke aangryp en meevoer. Ek moet beken dat ek nie meer haar gesig
kan oproep nie, bloot die feit dat sy tengerig, skraal was, moontlik bruin hare
gehad het. Maar dit was die eerste van vele soortgelyke gewaarwordinge,
elkeen ’n mylpaal op die pad na groeiende bewondering van en filosofering
oor die skoonheid van vroue.
Die gevaar is natuurlik om objektiwiteit te verloor, want alle mans word
immers deur ’n mooi vrou bekoor. Maar ek glo dat my aanvoeling daarvoor,

my vermoë om daardeur beïndruk te word, bo die peil van die normale is.
Moontlik, het ek destyds gewonder toe ek nog die energie en honger vir dink
gehad het, is dit die enigste erfenis van my ma se kunstenaarsgene – om deur
die vorm, die lyne, die brokstukke en somtotaal van ’n vrou betower te word,
soos my pa se lyf haar aangegryp het. Die verskil is dat sy dit – en soveel
ander mense se gesigte en posture – wou skilder. Ek was altyd bloot tevrede
om te kyk en te dink. Om te wonder oor die onregverdigheid van die gode,
wat skoonheid uitdeel op ’n lukrake grondslag. Oor die duiwels van die
ouderdom wat skoonheid kom terugneem, sodat net die persoonlikheid wat
dit geslyp het, oorbly. Oor die invloed van ware, verstommende skoonheid op
’n mooi vrou se karakter. Oor die eienaardigheid van skoonheid, oor sy vele,
wonderbaarlike gestaltes van neus en mond en ken en wangbeen en oog. Oor
die gode se sin vir humor, onnutsigheid en gemeenheid. Om vir sommige
vroue die volmaakte lyf te gee en dit te weerhou by die setel van die mooie –
die gesig. Of om ’n goddelike gesig aan ’n lyf te koppel wat afstoot. Of die
geringste imperfeksie in die hutspot van skoonheid te gooi sodat dit daar in
die ruimte tussen mooi en lelik hang. Dalk ’n profiel wat aangryp, maar ’n
vooraansig wat nie aan die verwagtinge voldoen nie.
O, en die vermoë van vroue om met klere en kleursel, lipstiffie en kwas en
kleine bewegings van hande en vingers die natuur se suinigheid aan te vul tot
’n mooier eindproduk.
Van daardie oomblik in die sitkamer op Stilfontein was ek die slaaf van
skoonheid.
Die tweede onuitwisbare indruk uit my eerste ses jaar het begin met ’n
aardbewing.

5

“Ek het van Windhoek af gekom en Jan sou my op die lughawe kom haal het.
Maar hy was nie daar nie. Ek het huis toe gebel. Hier was nie antwoord nie.
Toe neem ek ’n taxi, nadat ek amper twee uur gewag het. Dit was al laat,
seker tienuur die aand. Die huis was donker. Ek was toe al bekommerd, want
hy was altyd, elke aand, vroeg by die huis. En die kombuislig het altyd
gebrand. En toe maak ek die voordeur oop en stap in en toe sien ek hom, daar
in die kombuis, dadelik, dit was die eerste ding wat ek gesien het. En ek het
geweet hy was dood. Daar was so baie bloed. Sy kop het laag op sy bors
gehang. Hulle het hom op die stoel vasgemaak, een van die kombuisstoele, ek
het die stelletjie verkoop, ek kon dit nie hier hou nie. Sy arms was agter hom
vasgemaak met draad, het die Polisie vir my gesê. Ek kon nie nader gaan nie,
ek het net daar in die deur bly staan en toe het ek na die bure toe gehardloop.
Hulle het die Polisie gebel, ek het skok gehad. Hulle het die dokter ook laat
kom.”
Hy hoor in haar stemtoon dat sy die storie al dikwels moes vertel, die
gebrek aan intonasie wat herhaling en onderdrukte, trauma bring. “Die
Polisie het jou later gevra om na die huis te kyk.”
“Ja. Hulle wou baie dinge weet. Hoe die rowers ingekom het, wat alles
gesteel is …”
“Kon jy hulle help?”
“Ons weet nie hoe hulle ingekom het nie. Die Polisie dink hulle het hom
voorgelê toe hy by die huis kom. Maar die bure het niks gesien nie.”
“Wat was alles weg?”
“Net die kluis se inhoud.”
“Sy beursie? Televisie? Hoëtrou?”
“Niks behalwe die kluis se inhoud nie.”
“Hoe lank was jy in Windhoek?”

“Ek was vir die hele week in Namibië. Meestal op die platteland. Ek het
net van Windhoek af gevlieg.”
“Hoe lank was hy reeds dood by jou terugkeer?”
“Hulle sê dit het die vorige aand gebeur. Voor ek teruggekom het.”
“Jy het nie daardie dag hiernatoe gebel nie?”
“Nee. Ek het twee dae tevore van Gobabis af gebel. Net om te sê wat ek
gekry het.”
“Hoe het hy geklink?”
“Soos altyd. Hy het nie gehou van telefone nie. Ek het maar altyd die
praatwerk gedoen. Ek het seker gemaak die pryse wat ek aangebied het, was
reg, die adresse gegee vir die trok.”
“Hy het niks gesê wat anders as gewoonlik was nie?”
“Nee.”
“Die trok. Watter trok?”
“Dit is nie ons trok nie. Manie Meiring Vervoer van Kuilsrivier het vir ons
die goed gaan haal, een keer per maand. Ons het vir hulle die adresse laat kry
en die tjeks wat hy vir die verkopers moes gee. Dan het hy iemand gestuur
met ’n vragmotor.”
“Hoeveel mense het geweet jy was daardie week uitstedig?”
“Ek weet nie … Dit was eintlik net Jan.”
“Is hier ’n huishulp? Tuinier?”
“Nee. Ek … ons het alles gedoen.”
“Skoonmaker by die kantoor?”
“Die Polisie het my ook gevra. Miskien was daar iemand wat geweet het
ek is weg, maar ons het nie ander werknemers gehad nie. Hulle wou ook weet
of ek elke maand dieselfde tyd weggaan. Dit was nooit presies dieselfde tyd
nie. Soms was ek net weg vir ’n nag of twee, soms vir twee weke.”
“En Jan Smit het dan self wasgoed gewas en huis skoongemaak.”
“Daar was nie baie om skoon te maak nie. En hier is ’n wasgoedplek wat
strykwerk ook doen in Wellingtonstraat.”
“Wie het almal van die kluis geweet?”
“Ek en Jan.”
“Geen vriende nie? Geen familie nie?”
“Nee.”
“Mejuffrou Van As, het jy enige idee wie hom sou voorlê en vermoor,
enigiemand wat moontlik van die kluis se bestaan kon geweet het?”
Sy skud haar kop en dan, sonder waarskuwing, geluidloos, begin die trane

teen haar wange afloop.
“Maar ek ken mos vir jou,” sê Mavis Petersen as Van Heerden by Moord en
Roof se onaantreklike baksteengebou in Kasselsvleiweg, Bellville, instap.
Hy het nie uitgesien na dié terugkeer nie. Hy wou nie tel hoeveel jaar
sedert sy uitstap by die deure verloop het nie. Feitlik niks het verander nie.
Dieselfde dowwe reuk van die winter, dieselfde teëlvloere, dieselfde
staatsdiensmeubels. Dieselfde Mavis. Ouer. Steeds hartlik.
“Hallo, Mavis.”
“Dis dan die kaptein,” sê die bruin vrou en slaan haar hande saam.
“Nie meer nie, Mavis.”
“En kyk hoe lyk die oog. Wat het jy gemaak? Hoeveel jare is dit? Wat
doen die kaptein deesdae?”
“So min as moontlik,” sê hy ongemaklik, onvoorbereid op die ontvangs,
onwillig om hierdie vrou met die suurheid van sy lewe te slaan.
“Is Tony O’Grady in?”
“Ek kan dit nie glo nie, kaptein. Jy’t maer geword, weet jy. Ja, die
inspekteur is hier, hy sit nou op die tweede verdieping. Moet ek hom buzz?”
“Nee dankie, Mavis, ek stap sommer op.”
“Ek kan dit nie glo nie.”
Hy stap verby haar toonbank, in die buik van die gebou in, die
herinneringe wat aan die deur van sy geheue hamer. Hy moes nie gekom het
nie, dink hy. Hy moes vir O’Grady iewers ontmoet het. Speurders sit in
kantore, stap verby hom, vreemde gesigte wat hy nooit geken het nie. Hy
neem die trappe tot bo, loop verby die teekamer, sien daar is lewe en vra vir
aanwysings. Dan kom hy by O’Grady se kantoor.
Die vet man agter die lessenaar kyk op as hy die klop teen die kosyn hoor.
“Hi, Nougat.”
O’Grady se oë vernou. “Jesus.”
“Nee. Maar dankie.”
Hy stap tot by die lessenaar en steek sy hand uit. O’Grady staan halforent,
neem dit, gaan sit dan weer, sy mond steeds effens oqp. Van Heerden haal ’n
staaf ingevoerde lekkergoed uit sy baadjiesak. “You still eat this?”
O’Grady kyk nie eens daarna nie. “Where the fuck have you been?” Hy
plaas die nougat op die lessenaar.
“Here and there.”
“Jesus, Van Heerden, it’s been years. It’s like seeing a ghost.”

Hy gaan sit op een van die grys staalstoele.
“But I suppose ghosts don’t get black eyes,” sê O’Grady en neem die
nougat. “What is this? A bribe?”
“Jy kan seker so sê.”
Die vet man begin pluk aan die plastiekomhulsel van die staaf. “Where
have you been? You know, we’ve even stopped talking about you.”
“Ek was in Gauteng vir ’n ruk,” fabriseer hy.
“Not on the Force again?”
“No.”
“Jeez, wait till I tell the others. So what happened to the eye?”
Hy maak ’n handgebaar. “Ongelukkie. Ek het jou hulp nodig, Tony.”
Hy wil die gesprek beperk.
O’Grady hap aan die nougat. “You sure know how to get it.”
“Jy het die Smit-saak gedoen. Verlede September. Johannes Jacobus Smit.
In sy huis vermoor. Instapkluis …”
“So you’re a private eye now?”
“So iets.”
“Jeez, Van Heerden, that’s not a fucking living. Why don’t you come
back?”
Hy haal diep asem. Hy moet al die vrees en woede onderdruk.
“Do you remember the case?”
O’Grady kyk lank na hom, die kake wat aan die nougat werk, die oë klein
getrek. Hy lyk nog dieselfde, dink Van Heerden. Nie vetter nie, nie maerder
nie. Dieselfde plompe polisieman wat sy skerp brein agter die rojale
persoonlikheid en dik lyf wegsteek.
“So what’s your interest?”
“Sy houvrou is op soek na ’n testament wat in die kluis was.”
“And you must find it?”
“Ja.”
Hy skud sy kop. “Private dick. Shit. You used to be good.” Van Heerden
haal diep asem. “Die testament,” sê hy.
O’Grady loer oor die nougat vir hom. “Ah. The will.” Hy skuif die
lekkergoed eenkant toe. “You know, that was the one thing that never really
figured.” Hy leun terug, vou sy arms oor sy maag. “That fucking will.
Because, at first, I was sure she did him. Or hired somebody. It fitted the
whole damn case. Smit had no friends, no business associates, no other staff,
but they got in, tortured him until he gave them the combination, cleaned out

the safe and killed him. Took nothing else. It was an inside job. And she was
the only one on the inside. Or so she says.”
“Tortured him?”
“Burned him with a fucking blowtorch. Arms, shoulders, chest, balls. It
must have been murder, if you’ll pardon the expression.”
“Did she know that?”
“We didn’t tell her or the press. I played it close to the chest, tried to see if
I could trick her.”
“Sy sê sy het die kombinasie geken, Nougat.”
“The blowtorch could have been for effect. To take suspicion away from
her.”
“Wat van die moordwapen?”
“Now there’s another strange one. Ballistics say it was an M16. The
Yankee army model. Not too many of those around here, are there?”
Van Heerden skud sy kop, stadig. “Net een skoot?”
“Yep. Execution style, back of the head.”
“Omdat hy hulle gesien het? Of geken het?”
“Who knows, these days? Maybe they shot him just for the fun of it.”
“Hoeveel dink jy was daar?”
“We don’t know. No fingerprints, no footprints outside, no neighbourhood
witnesses. But Smit was a big man, in reasonable shape. It must have been
more than one perp.”
“Forensies?”
O’Grady leun vooroor, trek weer die nougat nader. “Sweet Fanny Adams.
No prints, no hair, no fibres. Just a fucking piece of paper. In the safe. Found
a piece of paper, about the size of two match boxes. Clever guys in Pretoria
say it was part of a wrapper. For wrapping little stacks of money. You know,
ten thousand in fifties, that sort of thing …”
Van Heerden lig sy wenkbroue.
“But the funny thing is, they say, according to the type and all that shit,
they are pretty sure it was dollars. US dollars.”
“Fok,” sê Van Heerden.
“My sentiments exactly. But the plot thickens. It was the only thing I had
to go on, so I put a lot of pressure on Pretoria through the Colonel. Forensics
has a money expert, Claassen or something. He went back to his books and
his microscope and came back and said the paper indicates that it is old
money. The Americans don’t wrap their money like that any more. But they

used to. In the seventies and early eigthies.”
Van Heerden verteer die inligting vir ’n oomblik. “En jy het vir Wilna van
As daaroor uitgevra?”
“Yep. And got the usual answer. She doesn’t know anything. She never
took dollars as payment for that old fart furniture, never paid with it. Doesn’t
even know what a fucking dollar looks like. I mean, shit, this woman lived
with the deceased for a fucking decade or more, but she’s like the three little
monkeys – hear, see and speak no evil. And that little sexpot lawyer of hers is
all over me like a Sumo wrestler every time I want to ask some straight
questions.” O’Grady byt gefrustreerd ’n stuk nougat en sak weer terug in sy
stoel.
“Geen Amerikaanse kliënte of vriende of vyande waarvan sy weet nie.” Dit
is ’n stelling, hy ken reeds die antwoord.
Die vet speurder praat met ’n vol mond, maar slaag daarin om elke woord
duidelik uit te kry. “Not a one. I mean, with the rifle and the dollars, it just
makes sense that there is some kind of a Yank involvement.”
“Haar prokureur sê sy is onskuldig.”
“Is that your new employer?”
“Tydelik.”
“At least get her into bed. Because that is all you’re going to get from this
one. It’s a dead end. I mean, where’s the fucking motive for her? Without the
will, she apparently gets nothing.”
“Behalwe as die ooreenkoms was dat sy haar deel van die buit later kry. ’n
Jaar of twee. As die ding afgekoel het.”
“Maybe …”
“En sonder haar was daar geen ander verdagtes nie.”
“Zilch. Nothing.”
“Ek sal baie graag die dossier wil sien, Nougat.” Hoe haat hy dit nie om
verleë te wees nie.
O’Grady kyk stip na hom.
“Ek weet jy is ’n goeie poliesman, Nougat. I have to go through the
motions.”
“You can’t take it with you. You’ll have to read it here.”

6

Die aardbewing het my wakker gemaak, laat in die nag. Die diep, rollende
donder uit die dieptes het die vensters laat bewe en die sinkdak van die
mynhuis laat kraak. Ek het gehuil en my pa het kom troos, my in die donker
in sy arms geneem en gesê dit is maar net die grond daar onder wat homself
regskuif om gemakliker te lê.
Ek het reeds weer geslaap toe die telefoon ’n uur of wat later gelui het. Om
hom weg te roep.
Die res van die gebeure is soos deur my ma aan my oorvertel,
saamgeflanste brokkies uit die amptelike verklarings, die vertellinge van sy
kollegas en haar eie verbeelding.
Hy was leier van een van die reddingspanne wat die veertien mans ’n
kilometer onder die grond moes gaan uithaal nadat ’n tonnel in die laatnag
ineengestort het.
Dit was warm en deurmekaar daar onder. Ander reddingspanne was al
besig toe hulle daar aankom, diep in die skag afgesak in die ratelende,
sidderende hysbak met hul grawe en pikke en noodhulptassies en bottels
water. Niemand het die regulasie-hardehoed gedra nie, dit was net in die pad.
Almal, swart en wit, het die oorpakke afgevou om kaalbolyf in die hitte te
werk. Hul torso’s het geblink in die skerp elektriese kolligte wat hier helder
skyn en daar sterk skadu gooi. Die swart mans se ritmiese gesing het die
universele tempo verskaf waarteen almal gewerk het – die grawers, die
grondverwyderaars, sy aan sy, die skerp skeidslyn wat gewoonlik daar onder
tussen rasse en pligte getrek word skielik vergete. Want vier van die
vasgekeerdes was wit en tien was swart.
Uur na uur in die ewige donker om ’n berg te verskuif.
Bo het die gesinslede van die wittes al begin vergader, wagtend op nuus,
met die gewone steun van die gemeenskap, ook vriende en kollegas en

familie van die reddingspanne, want ook hulle was nie veilig nie.
My ma het geskilder, in daardie ure, met Schubert se Lieder wat blikkerig
op die radiogram draai, kalm.
Ek het niks geweet van die spanning van ’n hele dorp nie.
Net voor sy span sou opkom vir die einde van hul skof het hulle die dowwe
noodkrete gehoor, moeë uitroepe van pyn en vrees en hy het hulle
aangespoor, die dun punt van die wig wat stukkie vir stukkie die rots en klip
en grond verskuif om ’n nou tonnel na die oorlewendes te dolwe, die ruskans
skielik vergete in die adrenalien van ’n einde wat in sig is. Emile van
Heerden heel voor, sy lenige lyf wat nou die fiksheid van ’n leeftyd tap om
daar te kom.
Sy span het deurgebreek na die klein opening wat die vier oorlewendes
met hul kaal hande, hul bloeiende vingers, gegrawe het,
Die nuus dat daar stemme was daar onder het vinnig die oppervlak bereik
en die mense in die klein sportklubsaaltjie het hande geklap en gehuil.
Hy het die eerste drie self uitgetrek en hulle op die hout-en-seil-draagbare
gelaai. Die vierde een was vasgeval tot by sy bors, ’n swart man met twee
gebreekte bene wat die pyn met bomenslike inspanning onderdruk het, net
die sweet wat uit hom pers en die bewing van sy liggaam. Emile van Heerden
het krampagtig gegrawe, die grond om die man se bene nou met sy eie
vingers beweeg, want ’n graaf was te groot en onhandig.
Toe skuif die aarde homself weer reg om gemakliker te lê. Hy was een van
24 wat hulle drie dae later uit die skag gebring het, in komberse toegedraai.
My ma het eers gehuil toe sy in die lykshuis die kombers oopgetrek en
gesien het wat die drukking van ’n duisend ton grond aan haar man se lyf
gedoen het.

7

Van Heerden is nie die man wat sy verwag het nie.
Kemp het gesê hy is ’n oudpolisieman. Hoe sal ek sê? So ’n bietjie …
anders? Maar hy’s blerrie goed met ondersoeke. Jy moet net ferm wees met
hom.
Die Vader weet, sy het goed met ondersoeke nodig.
Sy het nie geweet wat om te verwag nie. Anders. Dalk ’n oorring en ’n
poniestert. Nie die …spanning nie. Die manier waarop hy met Wilna van As
gepraat het. “Spanning” is nie die regte woord nie. Hy is ’n moeilik
hanteerbare man. Soos plofstof.
Hulle het op tweeduisend rand per week ooreengekom. Vooruit. Sy sal dit
eers uit haar sak moet betaal as Van Heerden niks kry nie. Te veel geld. Al
betaal Wilna van As dit later af. Geld wat die firma nie kan bekostig nie. Sy
sal vir Kemp moet bel. Sy steek haar hand na die telefoon uit.
Van Heerden staan in haar deur.
“Ek sal weer met Van As moet praat,” sê hy, sy skraal lyf en sy blou-oog
en sy fok-jou-houding. Met ’n bruin koevert in sy hand leun hy teen haar
kosyn en sy besef sy het geskrik en hy het dit gesien. Haar weersin in die man
is klein en ontkiemend soos ’n saad.
“Ons sal daaroor moet praat,” sê sy. “En jy moet dit dalk oorweeg om te
klop voor jy inkom.”
“Hoekom moet ons daaroor praat?” Hy gaan sit weer in die stoel oorkant
haar, dié keer vooroor, sy liggaamstaal antagonisties.
Sy haal diep asem, dwing geduld, fermheid in haar stem terug. “Wilna van
As is bloot as mens geregtig op ons simpatie en respek. Daarby was sy die
afgelope nege maande blootgestel aan meer trauma as wat die meeste van ons
in ’n leeftyd ervaar. Ongeag die min tyd tot ons beskikking, het ek vanoggend
jou houding teenoor haar ontstellend en onvanpas gevind.”

Hy sit in die stoel, sy oë op die bruin koevert wat ritmies teen sy duimnael
tik.
“Ek sien julle is net twee vrouens.”
“Wat?”
“Die firma. Vroueprokureurs.” Hy kyk op, beduie vaagweg na die kantore
om hulle.
“Ja.” Sy kan nie die strekking, die verband verstaan nie.
“Hoekom?” vra hy.
“Ek kan nie sien wat dit met jou onsensitiwiteit te doene het nie.”
“Ek kom daarby, Hoop. Is dit doelbewus dat julle net vroue is?”
“Ja.”
“Hoekom?”
“Want die reg is ’n manswêreld. En daar buite is duisende vroue wat die
reg het om met deernis en insig behandel te word wanneer hulle wil skei, of
vervolg word. Of na testamente soek.”
“Jy is ’n idealis,” sê hy.
“Jy is nié.”
“En dit is die verskil tussen ons, Hoop. Jy dink Jong Dames Dinamiek en
jou vrouepraktyk en ’n gereelde skenking aan die Straatkinderfonds en die
Sending was jou hartjie wit soos sneeu. Jy dink jy en ander mense is inherent
goed as jy saans in jou duur BMW klim op pad na die Health and Racquet
Club. Jy is so fokken tevrede met jouself en met jou wêreld. Want almal is
eintlik dierbaar. Maar laat ek vir jou sê ons is sleg. Ek, jy, die hele lot van
ons.”
Hy het die koevert oopgemaak terwyl hy praat en haal twee
poskaartgrootte foto’s uit. Hy skiet dit oor die lessenaar.
“Het jy dit al gesien? Wyle Johannes Jacobus Smit. Vasgebind in sy eie
kombuisstoel. Vul dit jou met deernis en simpatie en begrip en insig? Of
watter ander aangeplakte, politiek korrekte woord jy ook al wil opdis. Iemand
het dít aan hom gedoen – hom vasgebind met draad en hom gebrand met ’n
blaasvlam tot hy gewens het hulle wil hom skiet. Iemand. Mense. En jou
onaantasbare engel Wilma van As is in die middel van hierdie ding. Tony
O’Grady van Moord en Roof sê hy dink sy was deel daarvan, want ’n klomp
klein dingetjies wil nie pas nie. En as dit by moord kom, is die statistieke aan
sy kant. Dis gewoonlik die man of die vrou of die houvrou of die skelmpie.
Miskien is hy reg, en miskien is hy verkeerd. Maar as hy reg is, waar is jou
idealisme dan?”

Sy het opgekyk van die foto’s af. Bleek. “En jy gaan my borrel bars …”
“Het jy al ’n moordenaar ontmoet, Hoop?”
“Jy het jou punt gemaak.”
“Of ’n kinderverkragter. Ek en …” Hy stamel, ’n enkele hartklop, maar hy
praat daaroor, daardeur, ietwat verstom oor homself. “Ek het ’n
kinderverkragter gevang. ’n Sagte, ronde oubaas van nege-en-vyftig wat lyk
of hy enige Desember vir Vader Krismis kan instaan. Wat sewentien
dogtertjies tussen die ouderdomme van vier en nege met Wilson’s toffies na
sy kar gelok het en teen Constantia se berg …”
“Jy het jou punt gemaak,” sê sy sag.
Hy sak terug in sy stoel.
“Laat ek dan my fokken werk doen.”
Die noordwester waai die donker buite teen die venster aan. En binne praat
Wilna van As, soek sy na Jan Smit met haar woorde, haar hande op haar
skoot inmekaar gevleg, nooit heeltemal stil nie. “Ek weet nie. Ek weet nie of
ek hom geken het nie. Ek weet nie of dit móóntlik was om hom te ken nie.
Maar dit het nie vir my saak gemaak nie. Ek het hom liefgehad, want hy was
… Dit is asof hy ’n wond gehad het, asof hy soos ’n … ’n . Ek het soms in
die nag langs hom gelê en gedink hy is soos ’n hond wat geslaan was – te
veel, te hard. Ek het baie dinge gedink. Ek het gedink miskien is daar ’n vrou
en ’n kind iewers. Want toe ek swanger was, het hy so bang gelyk. Ek het
gedink hy het ’n vrou en ’n kind gehad wat weggeloop het. Of miskien was
hy ’n weeskind. Miskien is dit iets anders, maar iewers het iemand hom so
vreeslik seergemaak dat hy nooit vir iemand anders daarvan kon vertel nie.
Dit het ek geweet en daarom het ek nooit gevra nie. Ek weet niks van hom
nie. Ek weet nie waar hy grootgeword het nie en ek weet nie wat van sy pa en
sy ma geword het nie en ek weet nie hoe hy met die besigheid begin het nie.
Maar ek weet hy was op sý manier lief vir my. Hy was sag en hy was goed
vir my en soms het ons saam gelag – nie baie nie, nou en dan – vir mense. Ek
weet hy kon pretensieuse mense nie verdra nie. En dié wat hul geld
rondgegooi het. Ek dink hy het dalk swaargekry. Hy het so mooi, so versigtig
met sy geld gewerk. Ek dink hy was bang vir mense. Of miskien skaam …
Daar was nie vriende nie. Daar was net ek en hy. Dit is al wat ons nodig
gehad het.”
Net die wind en die reën teen die ruit. Sy kyk op van haar hande, na Hoop.
“Daar was so baie kere dat ek wou vra. Dat ek vir hom wou sê hy kan maar

vir my vertel, ek sal steeds vir hom lief wees, maak nie saak hoe groot die
seer is nie. Daar was tye dat ek net wou vra omdat ek so verskriklik
nuuskierig was, omdat ek hom wou ken. Ek dink dit is omdat ek hom wou
plaas, omdat ons maar met almal só maak, hulle op ’n plek in ons koppe plaas
sodat ons volgende keer kan weet wat om vir hulle te sê of wat om vir hulle
te gee, dit maak die lewe so bietjie makliker. Maar ek het nie gevra nie. Want
ek dink as ek gevra het, sou ek hom dalk verloor het.”
Sy kyk na Van Heerden. “Ek het niks gehad nie. Ek het soms gedink
miskien het sy pa ook gedrink en sy ma ook geskel en miskien het hy ook van
Rugby af gekom. Soos ek. Maar ons het mekaar gehad en verder was niks
nodig nie. Daarom het ek nie gevra nie. Nie eens toe ek swanger geraak het
en hy gesê het ons sal moet plan maak nie, want kinders verdien nie die sleg
van hierdie lewe nie en ons kan hulle nie beskerm nie. Ek het nie gevra nie,
want ek het toe geweet hy was geslaan. Soos ’n hond. Te veel. Ek het net
gegaan dat hulle die kind kan uitsny. En toe het ek gegaan sodat hulle my kan
regmaak dat ek nie weer ’n kind kan kry nie. Want ek het geweet ons het net
vir mekaar nodig.”
En dan vee sy ’n druppel van die punt van haar neus af en kyk weer vir
haar hande en hy weet nie wat om te sê nie. Hy weet hy kan nie sy ander vrae
vra nie.
Die huis is ’n grafkelder.
“Ek dink ons moet ry,” sê die prokureur eindelik en staan geluidloos op. Sy
stap na Wilna van As en sit haar hand op die vrou se skouer.
Van Heerden en die prokureur hardloop saam deur die reën oor die straat.
As sy die sleutels in die BMW se deur druk, staan hy langs haar.
“As ons nie die testament kry nie, kry sy niks?”
“Niks,” sê sy.
Hy knik net. En dan stap hy stadig na die Toyota terwyl die water op hom
neersif.
Hoop steek dertien van die kerse in haar badkamer aan, maar sy tel hulle nie.
Die kerse is veelkleurig, groen en blou en wit en geel – een is welriekend,
almal is kort en dik. Sy hou van kerslig en dit maak die klein, witgeteëlde
badkamer van die meenthuis in Milnerton Rif meer draaglik.
Haar tydelike huis, met sy twee slaapkamers en sy oopplankombuis en wit
melamienkaste. Haar tydelike belegging – tot die firma goeie geld begin
maak. Tot sy iets kan koop wat op die see uitkyk, ’n wit huis met ’n groen

dak en ’n houtdek en ’n uitsig oor die Atlantiese Oseaan en sy
sonsondergange, ’n huis met ’n groot kuierkombuis en eikehoutkaste en ’n
boekrak wat die hele voorkamermuur bedek.
Sy gooi die badolie in en roer die water met haar hande terwyl sy buk oor
die bad, haar klein borste wat saam met die spiere van haar skouers beweeg.
Haar seehuis sal ’n groot bad hê.
Sy draai die krane toe en klim stadig in die warm water, luister vir ’n
oomblik of sy die reën buite kan hoor, sodat die stoom en die warmte en die
gemak van bad daardeur benadruk kan word. Sy droog haar hande aan die wit
handdoek af, strek, tel die boek op wat op die toe toiletdeksel lê. London.
Edward Rutherfurd. Dik en wonderlik. Sy maak dit oop by haar
Biblioteekweek-boekmerk.
Jong Dames Dinamiek. Hy kan nie veel van ’n speurder wees as hy haar so
maklik en verkeerd kategoriseer nie.
Buitendien, sy is nie ’n gimnasiummens nie – sy is ’n drawwer.
As ons nie die testament kry nie, kry sy niks? Asof hy nie die eerste keer, in
haar kantoor, gehoor het nie. Asof Wilna van As eindelik vanaand tot hom
deurgedring het.
Ons is almal sleg …
Eienaardige man.
Sy fokus op die boek.
Terwyl die uie, peperkorrels en naeltjies in die water kook, bel hy. “Ek maak
kos,” sê hy as sy antwoord.
“Hoe laat?” vra sy en hy wil nie die verbasing in haar stem hoor nie. Hy
kyk na sy horlosie.
“Tienuur.”
“Goed,” sê sy.
Hy sit die telefoon neer. Sy sal bly wees, weet hy. Sy sal aannames maak,
maar sy sal niks vra nie.
Hy stap terug na die kombuis – die enigste vertrek in die huisie waar daar
nie verval en gebrek is nie. Hy sien die water is weggekook. Hy gooi stukkies
pypkaneel in sy palm en voeg dit by die bestanddele van die silwer pot. Hy
voeg die olyfolie by, meet met die oog, draai die gasplaat se vlam af. Die uie
moet stadig verbruin. Hy trek die snyblok nader en kerf die lamskenkel in
stukke, verplaas dit eindelik na die pot. Hy sny die gemmerwortel fyn, voeg
dit by, dan die twee kardemompeule, en roer. Hy draai die vlam nog verder

af, kyk na sy horlosie, sit die deksel op.
Hy dek die tafel met die wit tafeldoek, die messegoed, glase, sout,
swartpeper, die kandelaar met die wit kerse – dit is oud, hy kan nie onthou
wanneer laas hy dit aangesteek het nie.
Terug na die werkoppervlakte. Hy maak die twee blikke Italiaanse tamaties
oop. Hy het dit nog altyd bo vars, gekookte tamaties verkies. As jy die regte
Italiaanse blikke kan kry. Hy kap die tamaties fyn, kry die klein groen
brandrissie uit die yskas, spoel dit onder die kraan af, sny dit saam met die
tamaties. Hy skil die aartappels, tap warm water in die wasbak, gooi
skottelgoedseep daarin, was die mes, die snybord. Dan trek hy die bottel
rooiwyn se prop uit.
Daar was iets in daardie kluis. Waarvan iemand geweet het.
Worteltjies en die eetlepel lemoensap, ’n titsel bruinsuiker. Rasper bietjie
lemoenskil. Later bietjie botter.
Dit is al wat sin maak. Want niks anders is weg uit die huis nie, geen kaste
is oopgeruk, geen beddens omgegooi, geen televisie weggedra nie.
Jan Smit. Die alleenloper met die houvrou. Die man sonder geskiedenis,
sonder vriende.
Wilna van As. Sy was oortuigend vanaand. Maar hy sal sy oë oophou.
Jan Smit.
Hy kyk na sy horlosie. Die vleis is al ’n halfuur in. Hy haal die deksel af,
skraap die tamatie-en-rissie-pulp in die vleiskastrol, plaas die deksel terug.
Hy sit die ketel aan, gooi die basmatirys in ’n ander kastrol, wag tot die water
kook, voeg dit by die rys, steek die vlam aan, sit die rys op, kyk weer na sy
horlosie.
Hy gaan maak seker die voordeur is oopgesluit, steek die kerse aan. Sy sal
netnou hier wees.
Jan Smit.
Waar de fok begin jy?
Lemoensap het weggekook. Eetlepel regte botter by.
Hy stap kamer toe, haal die notaboek uit sy baadjiesak, gaan sit op die
verslete leunstoel in die té klein sitkamer, kyk na die aantekeninge wat hy
gemaak het terwyl hy vanmiddag die dossier by O’Grady gelees het.
Niks. Fokkol.
Hy staar na die identiteitsnommer. 561123 5127 001. Op 23 November
1956 het Jan Smit se lewe begin. Waar?
Die deur gaan oop. Sy kom in saam met ’n windvlaag en ’n druppende

sambreel. Sy sien hom sit, glimlag vir hom, vou dan die sambreel toe en laat
dit teen die muur by die deur aanleun. Sy het ’n doek om haar hare. Sy trek
haar reënjas uit. Hy staan op en neem dit by haar, gooi dit oor ’n stoel se
leuning.
“Dit ruik lekker,” sê sy. “Die stoel gaan nat wees.” Sy skuif die jas na die
klein houtkoffietafel.
Hy knik.
“Tamatiebredie,” sê hy en stap kombuis toe, gaan haal die rooiwyn, gooi
daarvan in elke glas, gee vir haar. Sy trek ’n stoel by die tafel uit, gaan sit.
“Jy het weer werk,” sê sy.
Hy knik.
Sy teug aan die wyn, sit die glas neer, knoop die doek agter haar kop los en
trek dit af, skud haar hare reg.
Hy stap kombuis toe, maak die brediepot oop, sit die aartappels by, draai
die swartpeper daaroor uit, ’n teelepel suiker, bietjie sout, proe, gooi nog
suiker by, net ’n skeut, proe weer, sit die deksel op, haal die rys van die vlam
af. Draai die vlam onder die wortels dood. Hy stap terug na die tafel, gaan sit
oorkant haar.
“Dit is ’n onmoontlike ding,” sê hy. “Ek soek ’n testament.” “Sam Spade,”
sê sy en haar oë lag.
Hy snork sonder venyn.
“Ek is so bly,” sê sy. “Dit is so lank …”
“Moenie,” sê hy sag.
Sy kyk na hom met oorweldigende deernis. “Vertel my,” sê sy en leun
terug in die stoel. “Van die testament.” Die kerse se lig glinster dieprooi in
die wynglas wanner sy dit optel.
“Dit was wonderlik,” sê sy en plaas haar mes en vurk netjies langs mekaar op
die bord.
Hy knik net. Die vleis was nie sag genoeg na sy smaak nie. Hy is uit
oefening.
“Het jy weer baklei?” Dit is die eerste keer dat sy melding maak van sy
oog.
“Ja.”
“Ai,” sê sy. “Waarom?”
Hy haal sy skouers op, deel die laaste rooiwyn tussen die glase.
“Hoe groot is die voorskot wat sy jou gegee het?”

“Tweeduisend.”
“Jy moet vir jou klere koop.”
Hy knik en sluk aan die wyn.
“Nuwe skoene ook.”
Hy sien die sagtheid van haar oë, die sorg, die kommer. “Ja,” sê hy. “En jy
moet uitkom.”
“Waarheen?”
“Saam met iemand. Neem iemand uit. Daar is so baie oulike jong …”
“Nee,” sê hy.
“Wat is haar naam?”
“Wie?”
“Die prokureur?”
“Hoop Beneke.”
“Is sy mooi?”
“Wat maak dít saak?”
“Ek het maar net gewonder.” Sy sit haar leë glas neer en staan stadig
op. “Ek sal moet gaan slaap.”
Hy stoot sy stoel terug, strek vir haar reënjas, hou dit sodat sy haar
arms in die moue kan steek, tel haar sambreel op.
“Dankie, Zet.”
“Plesier.”
“Nag.”
Hy hou die deur vir haar oop.
“Nag, Ma.”

Dag 6
Vrydag, 7 Julie

8

Toe ek nege was, of agt of tien, iewers in daardie jare van nóg vis nóg vlees,
het ek aan ’n wedstryd deelgeneem op die harde veld van die Laerskool
Stilfontein. Ek het ’n stamp gekry in die getjommel van onaanskoulike,
elkeen-is-’n-ster-rugby en my neus het gebloei. Die skeidsregter, ’n
onderwyser, dink ek, was by.
“Ag nee, boetie, ’n man huil nie,” het hy troostend gesê.
“Nee,” het my ma se stem langs my opgeklink. Sy was kwaad. “Huil, my
seun. Huil net soveel as wat jy wil. Mans kán huil. Regte mans kán huil.”
As ek terugdink, was dit tekenend van wie sy was en hoe sy my probeer
grootmaak het.
Anders. Anders as Stilfontein en sy mense en hul sienings en doen en late.
Om die psige van ’n myndorp te beskryf, is moeilik, omdat ’n mens sal
moet veralgemeen. Jong Afrikaners met die minimum opleiding en die
maksimum inkomste is ’n gevaarlike kombinasie. Die lewe was vir hulle
vinnig – hul verdienvermoë, hul spandeervermoë, hul motors, hul motorfietse
en hul vroue. Vinnig. Hul drankinname, hul humeure, alles het gepas by die
potensieel snelle dood in die diep donkertes van die aarde.
En tussen dit alles was daar die kulturele oasis van Joan van Heerden se
huis.
Die myn het vir haar, vir ons, ’n kleiner huis gegee op Stilfontein. Ek weet
nie waarom sy nie weggetrek het Pretoria toe nie, want haar ouers en haar
vriende was daar. Ek vermoed dit was omdat sy naby my pa wou wees, naby
die graf in die vaal begraafplaas op die windverwaaide vlakte langs die
agterpad na Klerksdorp.
Daar was nie ’n tekort aan geld nie. Lewensversekering (by Sanlam) was
in daardie jare mode onder Afrikaners. En my pa was sorgsaam, tot in die
dood. Maar dit was ook my ma se skilderye wat stadig maar seker begin

verkoop het – elke jaar het die pryse so bietjie opgegaan, elke jaar was daar
’n uitstalling by ’n groter, belangriker galery.
Miskien was ’n deel van haar besluit om op Stilfontein te bly juis dat sy
wou wegbly uit die hoofstroom van die kunswêreld – sy kon veral die
aangeplaktheid van die sogenaamde kunskenners en kritici nie verduur nie.
En dan was daar die “kunstige tipes”, eienaardige mense wat geglo het
eksotiese kleredrag en vreemde haarstyle is hul toegangskaartjie tot die
dampkring van die kunste – al wat hulle nodig het om boheems en
gekuitiveerd te wees. Sy kon hulle hoegenaamd nie verdra nie.
Dit was dus ek en sy en Stilfontein. Daar was enkele vriende op die dorp –
dokter De Korte, ons huisdokter, en sy vrou; die Van der Walts van die
raamwinkel – en mense van Johannesburg en Pretoria en Potchefstroom wat
naweke kom kuier het.
My ma het nie ander mans in haar lewe gehad nie, behalwe die eggenote
van haar vriendinne en die gay mans van die kunswêreld, soos Tony
Masarakis, die Griekse beeldhouer van Krugersdorp wat soms kom inloer
het. Toe ek nege of tien was, het hy terloops opgemerk dat sy ’n mooi seun
het. “Vergeet dit, Tony,” het sy met beslistheid gesê. Hy moet dit ter harte
geneem het, want hulle was vir baie jare lank vriende.
Sy was ’n jong weduwee, in haar laat twintigerjare. En mooi. ’n Vrou met
passie. Sou sy selibaat bly vir die res van haar lewe? Ek het nooit daaroor
gewonder nie, tot in my eie twintigerjare – en selfs toe nog met
gewetenswroeging, want sy was my ma en ek was Afrikaans.
Ek weet nie. As sy soms uitkoms gaan soek het, of dalk toevallig gevind
het, was dit met die uiterste diskresie en moontlik met die strengste
voorwaarde dat geen voortslepende verhouding daaruit moet spruit nie,
asseblief. Dalk daardie naweke toe sy uitstallings in die Kaap of in Durban of
aan die Rand gaan open het en ek nie saam was nie …
Die vraag is natuurlik of grootword sonder ’n pa, sonder ’n manlike
rolmodel, ’n letsel op my sou laat. Ek sou dit so graag as ’n verskoning wou
omhels. Dit deel maak van die groot verskoning, van die meesleurende golf
wat my eindelik oor die afgrond gespoel het, dit opdis as ’n populêr
sielkundige agterdeur vir die fokop van my lewe. Maar ek dink nie ek kan
nie. My ma het my met gemak en geduld grootgemaak. My met respek en
deernis en dissipline behandel, my gekoester en getug en versorg – al was ons
stapelvoedsel, wanneer daar nie vriende gekuier het nie, vrugte en brood. Sy
het Beethoven, Schubert, Haydn en Bach (J.S. en, in mindere mate, C.P.E.)

gespeel sonder om dit op te dring en selfs later, toe ek na Bachman Turner
Overdrive en Black Sabbath wou luister, haar musiek op die agtergrond
gehou. Ek vermoed sy het geweet watter musiek op die lange duur die stryd
sou wen.
Dit was veilige jare. Tot ek sestien was. Tot ek Mozart en boeke en kos en
seks en die lang arm van die Gereg ontdek het.

9

Lank voor die wekker om vyfuur afgaan, is hy wakker. Hy lê net in die
donker, staar na die dak en wag vir die instrument om sy elektroniese geluide
te maak, swaai dan sy voete van die bed af, druk die wekker dood. Hy doen
bestekopname van die pyne in sy lyf – die ribbes is minder seer, die oog klop
steeds. Dit sal vanoggend ’n pers skakering begin aanneem, weet hy teen
hierdie tyd. Dit is nie die eerste keer nie.
Hy stap kombuis toe. Die skottelgoed is netjies in die afdroograk gepak.
Hy sit die ketel aan. Die koue dring deur die verslete ou polisiesweetpak. Hy
gooi die kitskoffie in die beker, wag vir die water om te kook, dan die melk,
stap na die eet-sitvertrek, sit die koffie op die tafeltjie neer. Soek die regte
CD. Klarinetkonsert. Druk die knoppie van die “draagbare speler, sit die
oorfone op, gaan sit op die stoel, teug aan die koffie. Hy stel die volume
sagter.
Hy weet al sedert gister hy sal aan Nagel moet dink. Sedert daardie
oomblik in die prokureur se kantoor … Ek en Nagel het ’n kinderverkragter
gevang, wou hy sê.
Dit is omdat hierdie ding so baie is soos sy werk was. Die eerste keer
sedert … sedert hy weg is. Die eerste keer dat hy weer ’n moordenaar soek.
Daarom sal hy aan Nagel dink. Dit is normaal. Hy moet net versigtig wees.
Hy kan aan Nagel dink, aan alles wat Nagel hom geleer het. Hy moet dit net
daarby hou. Dan sal hy veilig wees. Die grense nou bepaal. Dan kan hy
aangaan.
Jan Smit.
Speel al die angles. Nagel, in sy adamsappel-hoppende diep bas. Ênghils.
Nagel wat nie Engels kon praat om sy lewe te red nie. Moordsaak is soos my
fokken Portapool, Van Heerden. Al lyk alles blou en verfrissend, al skyn die
sonnetjie blink op die water, iewers is daar ’n fokken lek. Ons gaan dit net

kry as ons oral kyk.
Hy skryf in die notaboek.
1. Bure
Hy sit terug en dink weer. Skryf.
2. Manie Meiring Vervoer
3. Watter soort onderneming?
4. Registrateur van maatskappye (verwysings) (??)
5. Binnelandse sake (??)
Hy leun terug, sluk aan die koffie. Is daar ander angles?
6. Gereelde/groot kliënte?
7. Bank?
Dit is al wat hy het. Hy kou aan die pen se agterkant, teug weer aan die
koffie, sit die pen neer, leun terug, maak sy oë toe.
Dit was nie so erg nie. Hy kon Nagel uitsluit.
Hy luister na die musiek.
Hy sien die groot vragmotors van die pad af, net voor die Polkadraaikruising.
MMV in groot, oordadige donkerpers letters, met ’n pyl daardeur om spoed
aan te dui. Hy draai af en ry deur die poele reënwater en modder na die
geboutjie waarop staan Kantoor/Ontvangs. Die wolkbank hang donker en
laag. Dit gaan netnou weer reën. Hy klim uit. Die wind is vandag nog kouer.
Seker gesneeu op die berge.
Daar is ’n vrou agter ’n rekenaar, besig om oor die foon te praat.
“Die trok moes al daar gewees het, Dennis. Hulle is op tyd hier weg, maar
jy weet hoe dit is by die tonnel. Of ’n blerrie spiedkop het hom weer …”
Sy glimlag vir Van Heerden. Sy is blond en oorgewig en op haar voortande
is ’n strepie van die bloedrooi lipstiffie. Sy luister ’n oomblik, praat dan weer.
“Okay, Dennis, bel my as hy teen twaalfuur nog nie daar is nie. Okay, bye.”
Sy wend haar na Van Heerden. “Het jy in ’n deur vasgeloop of het haar
man vroeg by die huis gekom?”
“Is Manie hier?”
“As hy is, sal ek vreeslik bekommerd wees.” Sy maak haar oë groot en rol
dit na die dak.
Hy wag.
“Manie was my skoonpa, skattebol. Al drie jaar in die graf, bless his soul.
Jy soek my man – Danie. Of is dit iets waarmee ék kan help?” Die suggestie
dun, soos ’n ou gewoonte.

“Ek ondersoek die moord op Jan Smit. Ek wil met iemand praat wat hom
geken het.”
Sy kyk hom op en af. “Jy lyk te maer vir ’n polisieman.” Dan draai sy om
en skree deur die oop deur na agter. “Danieeeee …” Dan weer na Van
Heerden. “Het julle al iets gekry?”
“Nee, ek is nie …”
“Wat?” sê Danie Meiring as hy ingestap kom, ietwat ergerlik, sien dan vir
Van Heerden.
“Polisie,” sê die vrou en wys met ’n rooinael-vinger na hom. “Dis oor Jan
Smit.”
Die man is kort en fris, die dik nek wat by ’n skoon oorpak se kraag
uitbeur. Hy steek sy hand uit. “Meiring.”
“Van Heerden. Ek sou graag ’n paar vrae wou vra.”
“Het daai vet Soutpiel aangejaag?” Die klein ogies sit naby aan mekaar,
onder ’n aggressiewe frons.
Van Heerden kry nie die kloutjie by die oor nie.
“Die Engelse poot. O’Hagan, of iets. Kon hy niks uitrig nie?”
Die lig gaan op. “O’Grady?”
“Dis hy.”
“Ek is nie van die Polisie nie. Dit is ’n private ondersoek namens sy
vriendin, juffrou Van As.”
“O„
“Hoe goed het jy hom geken?”
“Vrotterig.”
“Watter soort kontak het julle gehad?”
“Eintlik niks. Hulle het die orders deurgefaks na Valerie toe en ek het elke
Krismis ’n bottel whisky by sy winkel gaan aflewer. Nie eers tee gekry nie.
Hy was nie eintlik ’n babbelbek nie.”
“Hoe lank het julle besigheid gedoen?”
“Ek weet nie. Valerie?”
Die vrou het die gesprek aandagtig gevolg. “O, al jare. Baie jare. Hy was
lank ’n kliënt van Pa Manie.”
“Vyf jaar? Tien?”
“Ja, tien, maklik. Miskien meer.”
“Jy hou nie rekords nie?”
“Nie van só lank terug nie.”
“Was daar enigiets aan sy besigheid wat soms eienaardig was?”

“Die Soutpiel het ook gevra,” sê Danie Meiring. “Wou weet of Smit nie
dalk dagga in sy ou kaste gesmokkel het nie. Of klippies. Maar hoe sal ons
weet? Ons laai en laat waai – dis ons besigheid.”
“Enige gereelde kliënte of bestemmings?”
“Nee, dit was rond en bont met die gaan haal. En die aflewering ook,
behalwe vir die groot antiekwinkels in Durban en die Transvaal.”
“Hoe het hy betaal?”
“Hoe bedoel jy?”
“Per tjek? Kontant?”
“Maandelikse rekening per tjek,” sê Valerie Meiring.
“Wat de fok het dit met die prys van eiers uit te waai?” vra haar man. Hy
hou sy stem kalm. “Daar was dalk Amerikaanse dollars in sy kluis.”
“Fok,” sê Meiring.
“Was sy betalings op datum? Gereeld?”
“Altyd,” sê Valerie. “As almal maar só betaal het.”
Van Heerden sug. “Dankie,” sê hy en stap deur toe.
Hy staan lank in die navrae-ry by Binnelandse Sake se kantoor in Bellville,
tot dit sy beurt is en die bruin vrou moeg opkyk om sy versoek aan te hoor.
Hy sê hy is van die prokureursfirma Beneke, Olivier en Vennote. Hy het
dringend ’n volledige geboorteregister nodig van Johannes Jacobus Smit,
identiteitsnommer …
“Jy moet R30 betaal by toonbank C en die vorm invul, meneer. Dit neem
ses tot agt weke voor dit van Pretoria af kom.”
“Ek het nie ses weke nie. Die Meester van die Hooggeregshof sit oor ses
dae oor Smit se testament.”
“Spesiale gevalle is op die tweede verdieping, meneer. Hulle moet vertoë
rig as jy dit vinniger wil hê. Kamer 209.”
“Maar dit kan gedoen word?”
“As dit ’n spesiale geval is.”
“Dankie.”
Hy vul die vorm in, staan vir 45 minute in die tou by toonbank C, betaal
die R30 en stap met die kwitansie en die vorm die trappe op na die tweede
verdieping. Daar is ’n swart man agter die lessenaar van kamer 209. Sy
lessenaar is vol leggers, in netjiese stapels.
“Kan ek help?” Hoopvol dat die antwoord “nee” sal wees. Hy vertel die
storie.

“Mmm,” sê die man.
Van Heerden wag.
“Pretoria is baie besig,” sê die man.
“Dit is ’n noodgeval.”
“Daar is baie noodgevalle,” sê die man.
“Is daar iets wat ek kan doen? Iemand wat ek kan bel?”
“Nee. Net ek.”
“Hoe lank sal dit neem?”
“’n Week. Tien dae.”
“Ek het nie so lank nie.”
“Meneer, dit neem gewoonlik ses tot agt weke …”
“Ek het gehoor. Daar onder.”
Dan sug die man diep. “Dit sal help as julle ’n hofbevel kan kry. Of ’n
geregtelike versoek.”
“Hoe lank neem dit dan?”
“’n Dag. Selfs minder. Pretoria neem hofbevele baie ernstig op.”
“O.”
Die man sug diep. “Gee my solank die besonderhede. Ek sal kyk wat ek
kan doen.”
Hoop is nie op kantoor nie.
“Sy het ’n sake-ete,” sê die vrou by ontvangs.
“Waar?” vra hy.
“Ek dink nie sy wil gesteur wees nie, meneer.”
Hy kyk na die keurig versorgde middeljarige vrou. “Ek is Van Heerden.”
Geen reaksie nie.
“As sy terugkom, sê vir haar ek was hier. Sê vir haar ek het haar dringend
gesoek in verband met die Smit-saak, waarvoor ons nog net ses dae oor het,
maar jy wou nie sê waar sy is nie. Sê vir haar ek is met middagete en ek weet
nie wanneer ek sal terug wees nie, maar as haar personeel nie die Smit-saak
as belangrik beskou nie, dan aanvaar ek ook dit is nie belangrik nie.”
Die vrou trek stadig, afgemete ’n dagboek nader. “Sy is in die Long Street
Café.”
Hy stap uit. Dit reën. Hy vloek sag. Daar gaan nie parkering wees in
Langstraat nie. Hy sal die een of ander tyd ’n sambreel moet koop.
“Table for one?” vra die vrou as hy instap.
“Nee,” sê hy en soek met sy oë na Hoop. Praat niemand meer Afrikaans

nie? Hy sien haar sit, agter teen die muur. Hy stap in, die water op sy skoene
wat ’n spoor op die vloer laat. Sy sit saam met ’n ander vrou, albei vooroor
geleun, koppe bymekaar, in druk gesprek. Hy gaan staan langs die tafel.
“Hoop.”
Sy kyk op, gesteurd, haar oë wat effens rek. “Van Heerden?”
“Ons moet ’n hofbevel kry.”
“Ek …” sê sy. ”Jy …” Sy kyk na die vrou oorkant haar. Van Heerden kyk
ook na haar. Sy is beeldskoon. “Dit is Kara-An Rousseau. Sy is ’n kliënt.”
“Hallo,” sê die vrou en steek ’n slanke hand na hom toe uit.
“Van Heerden,” sê hy en neem haar hand, maar wend hom tot Hoop.
“Jy sal moet kom. Ek het inligting van Binnelandse Sake nodig en dit
neem ses tot agt weke …”
Sy kyk vir hom en hy sien die sekelmaan herrys, dof en stadig.
“Net ’n oomblik, Kara-An,” sê Hoop en staan op. Sy stap na die deur, uit,
tot op die sypaadjie. Hy stap agterna, die humeur wat in hom opstyg soos ’n
lighoofdigheid.
“Wie het vir jou gesê ek is hier?”
“Wat maak dit saak?”
“Weet jy wie Kara-An Rousseau is?”
“Ek gee nie om wie sy is nie. Ek het ses dae oor om jou kliënt se gat te
red.”
“Sy is hoof van Nasionale Pers se Korporatiewe Maatskaplike
Betrokkenheid. En ek gaan nie toelaat dat jy so met my praat nie.”
“Jy sien al hoe Nasionale Pers se rande instroom, Hoop. Onthou jy iemand
met die naam Wilna van As?”
“Jy gaan nie insinueer dat ek die een belangriker as die ander ag nie. Wilna
van As is nie my enigste kliënt nie.” Die sekelmaan is nou in volle glorie.
“Sy is mý enigste kliënt.”
“Nee, Van Heerden. Ék is jou enigste kliënt. En ek is nie nou ’n vreeslik
gelukkige kliënt nie.”
Hy kan nie meer keer nie. “Jy is niks van my nie.” Hy draai om en stap in
die reën van Langstraat in. Hy steek in die middel van die straat vas en draai
om. “Kry iemand anders om rond te fok.”
Dan ’n nagedagte: “En watse fokken naam is Kara-An?”
Hy loop die twee blokke na sy motor toe, onbewus van die reën.
Hy smyt die nat klere in die hoek van die badkamer en stap kaal slaapkamer

toe. Hy maak die klerekas oop en soek ergerlik na ’n denim, hemp en trui. Hy
het dit nie nodig nie, dink hy weer. Hy vrek liewer van die honger. Hy gaan
nie rondgefok word nie. Nie deur haar nie, nie deur Kemp nie, nie deur vyf
vet tandartse nie. Hy het dit nie nodig nie.
Wie gee om as daar vir niks geld is nie?
Wie gee om vir enigiets? Niemand. Ook nie hý nie. Hy is vry. Vry. Los
van dit wat ander mense bind – die gejaag na niks, die versameling van
statussimbole, die leë, nuttelose, voorstedelike bestaan. Bowenal is hy vry
van die verraad, klein en groot. Die gelieg en bedrieg, die rugstekery, die
wantroue, die speletjies.
Fok haar.
Hy sal netnou na haar kantoor toe ry en die restant van die voorskot op
haar fokken netjiese ontvangsdame se fokken netjiese lessenaar gaan
neergooi en sê sy moet vir Hoop sê hy het dit nie nodig nie. Want hy is vry.
Hy ryg die seilskoene vas en staan op. Sy huis is donker, somber in die
vroeë middag. Koud. Sy huis is koud in die winter. Eendag ’n verwarmer
koop. Kaggel laat inbou. Stap deur die te klein sitkamer.
Hy maak die voordeur oop. Hy gaan ’n dop in Table View kry.
Fok haar.
Net soos hulle is. Die een dag is Wilna van As die belangrikste ding in die
wêreld, want daar is net sewe dae oor en, o, ons moet die arme vrou help,
want sy het haar afgesloof vir ’n man (asof sy nie ’n keuse gehad het nie) en
die volgende dag is dit Karin Setzkorn-Barnard of wie de fok ook al, hoof
van Nasionale Pers se Korporatiewe Kakpraat of wat de fok ook al, en Hoop
Beneke sien net rande rol. Net soos hulle is. Almal van hulle. 24-uurlojaliteit.
Hy maak die deur toe.
Maar nie hy nie. Hy is vry.
Binne lui die telefoon.
Fok dit.
Prokureurs. Bloedsuiers. Parasiete.
Die telefoon lui.
Hy steek vas.
Seker Hoop. Ek is jammer, Van Heerden, kom terug, Van Heerden, ek is ’n
armsalige sot, Van Heerden.
Fok haar. Fok almal.
Die telefoon lui.

Hy sis deur sy tande en sit die sleutel terug in die deur, trek dit oop, stap
telefoon toe.
“Ja.” Reg om haar aan te vat.
“Meneer Van Heerden?”
“Ja.” ’n Onbekend-bekende stem.
“Ngwema. Binnelandse Sake.”
“O,”
“Pretoria sê jou I.D.-nommer is verkeerd.”
“Pretoria?”
“Ek het mooi gepraat met hulle, gesê dit is ’n noodgeval. Maar jou I.D. is
verkeerd. Behoort aan iemand anders. ’n Mevrou Dörthe Ziegler.”
Hy trek die notaboek nader, slaan dit oop, lees weer die nommer vir
Ngwema.
“Dit is die een wat ek gestuur het. Dis verkeerd.”
“Fok.”
“Ekskuus.”
“Dis onmoontlik,” sê Van Heerden.
“Dit is wat die rekenaar sê.”
“O.” Hy dink. Hy het die nommer in O’Grady se lêer gekry. Hy sal die
identiteitsdokument nou moet gaan soek.
“Nie sleg nie, nè?” sê Ngwema.
“Ekskuus?”
“Ek sê dit is nie sleg nie. Twee uur sewe-en-dertig minute na ons jou
versoek gekry het. Nie sleg vir vir ’n klomp swartes op Afrika-tyd nie.”
En dan lag Ngwema met oorgawe.
Hoop hoor hoe Kemp oor die telefoon sug. “Wil jy hê ek moet met hom gaan
praat?”
“Nee dankie. Ek is klaar met hom. Die man is nie reg in sy kop nie.”
“Nee wat, net ’n bietjie ... Was jy ferm met hom?”
“Ja, ek was ferm met hom. Hy het skynbaar ’n probleem met ’n vrou as
gesagsfiguur.”
“Hy het ’n probleem met énigiemand as gesagsfiguur.”
“Is daar iemand anders?”
Kemp lag. “Daar is ’n hele eskader private speurders in die boek, Hoop. En
hulle is almal vuurwarm as dit kom by skelm foto’s neem vir huisvroutjies
wat manlief in die arms van sy sekretaresse wil vang. Maar van dié soort ding

weet hulle heeltemal niks.”
“Daar moet iémand wees.”
“Van Heerden is wat jy nodig het.”
“Presies wat het hy al vir jou gedoen?”
“Dit en dat.”
“Dit en dat?”
“Hy is goed, Hoop. Mis nie veel nie. Jy het hom nodig.”
“Nee,” sê sy.
“Ek sal rondvra,” sê Kemp.
“Ek sal dit waardeer.”
Sy groet en sit die telefoon neer. Dit lui dadelik weer.
“Hier is ’n mevrou Joan van Heerden om jou te sien,” sê die
ontvangsdame. “Sy het nie ’n afspraak nie.”
“Die kunstenaar?”
“Ek weet nie.”
“Vra haar om asseblief in te kom.”
Haar dag is soos ’n Dali-skildery, dink sy. Surrealistiese verrassings net
waar jy kyk.
Die deur gaan oop. Die vrou kom in, klein en skraal en mooi, iewers in
haar vyftiger- of sestigerjare – jare wat met grasie gedra word. Hoop herken
haar en staan op.
“Dit is ’n baie groot voorreg, mevrou Van Heerden,” sê sy. “My naam is
Hoop Beneke.”
“Aangename kennis.”
“Sit, asseblief. Kan ek u iets aanbied om te drink?”
“Nee dankie.”
“Ek is ’n baie groot bewondereraar van u werk. Ek kan natuurlik nog nie
een bekostig nie, maar eendag …”
“Dit is ruimhartig van u om so te sê, juffrou Beneke.”
“Noem my Hoop, asseblief.”
“Ek is Joan.”
Die formaliteite is skielik verby.
“Waarmee kan ek help?”
“Ek is hier oor Zatopek. Maar jy moet asseblief nie vir hom sê ek was hier
nie.”
Hoop knik, wagtend vir nog inligting sodat sy kan verstaan.
“Dit gaan nie maklik wees om saam met hom te werk nie. Maar ek het

kom vra dat jy geduldig moet wees.”
“Ken ek hom?”
Joan van Heerden frons. “Hy het gisteraand gesê hy werk vir jou. Hy moet
’n testament soek.”
“Van Heerden?”
“Ja.”
“U ken hom?”
“Hy is my seun,” sê Joan van Heerden.
Hoop sak terug in haar stoel. “Van Heerden is jou seun.” Sy knik net.
“Genade,” sê Hoop. En dan sien sy die ooreenkoms in die oë – diep,
donkerbruin, intens. “Zatopek.”
Joan glimlag. “Ek en my oorlede man het gedink dit is ’n wonderlike
naam.”
“Ek het nooit besef … Sy ma …”
“Hy loop nie te koop daarmee nie. Ek dink dit is vir hom ’n saak van eer.
Hy wil dit nie gebruik nie. Misbruik nie.”
“Ek het nooit besef nie.” Sy sukkel steeds om die twee mense aan mekaar
te koppel, ma en seun, geëerde kunstenaar, waardige, mooi vrou en …
wanaangepaste seun.
“Hy het swaar gehad, Hoop.”
“Ek … Hy … Ek dink nie hy werk meer vir my nie.”
“Hy het vanmiddag … Hy is …” Sy soek eufemismes, haar empatie met
die vrou voor haar groot. “Ek vind dit moeilik om met hom te kommunikeer.”
“Ek weet.”
“Hy het … bedank, dink ek.”
“Ek het nie geweet nie. Ek wou jou kom voorberei.”
Hoop maak ’n hulpelose gebaar met haar hande.
“Ek kom maak nie verskoning vir hom nie. Ek het gedink as ek probeer
verduidelik …”
“Jy hoef nie.”
Sy leun vorentoe, haar stem sag. “Hy is my enigste. Ek moet doen wat ek
kan. Hy moes sonder ’n pa grootword. Hy was ’n wonderlike kind. Ek het
gedink ek het geslaag, selfs as enkelouer.”
“Joan, jy hoef nie …”
“Ek moet, Hoop.” Daar is vasberadenheid in haar stem. “Dit was my …
ons keuse om hom in die wêreld in te bring. Ek moet my
verantwoordelikheid nakom. Ek moet die foute wat ek gemaak het, probeer

regstel. Ek het hom grootgemaak en gedink ek kan pa en ma wees, as ek hard
genoeg probeer. Ek was verkeerd. Ek wil jou vertel hoe hy was. ’n Mooi
kind, hy het gelag en die wêreld was vir hom ’n wonderlike plek, ’n
ontdekkingsreis. Hy het nie geweet van die ander kant van die lewe nie. Ek
het hom nie vertel nie. Ek moes. Want toe hy dit ontdek, was ek nie daar om
hom te help nie. En dit het alles verander.”
Daar is nie bejammering in haar stem nie, net kalm beredenering.
“Hy was sag hierbinne, nog altyd. By die Polisie het hulle hom gespot dat
hy te sag was vir die werk, en hy het daarvan gehou, soos ons almal seker so
bietjie anders wil wees. En toe … ek was so bly toe hy universiteit toe is, hy
was so gelukkig, so vol geesdrif en ek was trots op hom en ek het geweet sy
pa sou ook trots op hom gewees het. Maar die lewe is vol draaie en toe gaan
hy terug Polisie toe en sy mentor word geskiet, reg voor sy oë, en hy glo dit
was sy skuld en toe het hy verander, want ek het hom nie voorberei op dinge
soos dood en menslike feilbaarheid nie. Dit is wat ek dink. As hy weer in
homself kan glo, as hy net weer ’n kans kan kry …”
Hoop weet nie wat om te sê nie. Sy wil uitreik na die vrou. “Joan …”
“Daardie prokureur, Kemp. Hy lyk so kwaai, maar ek dink hy het ’n sagte
hart – hy weet my kind is nie sleg nie. Daar was ander, maar hulle het hom
nie veel van ’n kans gegee nie. En ek weet nie hoeveel kanse hy nog oor het
nie. Hierdie ding met die testament … Zet sal dit kan doen. Hy het dit nodig.
Hy het dit só nodig.”
“Ek …”
“Ek maak nie verskoning vir hom nie.”
“Ek weet.”
“Hy mag nie weet ek was hier nie.”
“Hy sal nie.”
Die telefoon lui. Hoop frons.
“Antwoord gerus,” sê Joan.
“Dit moet dringend wees. Hulle lui nie gewoonlik nie.” Sy tel die
gehoorbuis op. “Ek is in konsultasie, Marietjie.”
“Meneer Van Heerden is weer hier, Hoop. Hy soek ’n
identiteitsdokument.”
Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe. Die dag kan nie erger raak nie.
“Sê vir hom hy moet net daar wag. Jy laat hom onder geen omstandighede
toe om deur te kom nie.”
“Goed, Hoop.”

“Ek is op pad.” Sy sit die instrument saggies neer.
“Hy het nou net by ontvangs aangekom.”
“Heigent hert,” sê Joan van Heerden.
“Moenie bekommerd wees nie, ek sal dit hanteer.” Sy stap deur toe, maak
dit versigtig oop. Die gang is leeg. Sy maak die deur agter haar toe en loop na
die ontvangsportaal. Hy staan daar, ongeduldig. Sy sien hy het droë klere aan,
denim en seilskoene.
“Ek soek Smit se I.D.-boek.”
“Dit is by Wilna van As. Sal ek haar bel?”
“Ek sal soontoe ry. Ek wil die winkel sien.” Hy kyk nie na haar nie. Hy
staar na die Piet Grobler-skildery teen die muur. Man with writer’s block
eating an apricot jam sandwich.
“Mag ek vra waarom jy die identiteitsdokument wil hê?”
“Moord en Roof se lêer het die verkeerde I.D.-nommer. Ek moet die regte
een kry vir die geboorteregister.”
“Sal dit ons help?”
Hy kyk bo-oor haar. “Ek wil weet waar hy gebore is. Wie sy ouers was. Sy
lewe voor Van As.”
“Dit is ’n begin.”
“Ek ry nou.”
“Goed.” En dan, wanneer hy omgedraai het, voeg sy sag, impulsief by:
“Zatopek.”
Hy steek net voor die glasdeure vas. “Fokken Kemp,” hoor sy en dan is hy
uit en sy glimlag vir die eerste keer sedert middagete. Dié dag kan nie ...
Die ontvangsdame hou die telefoon na haar uit. “Dit is Kara-An Rousseau,
Hoop.”
Sy neem die oproep by die toonbank. “Hallo.”
“Haai, Hoop. Moenie vir my lag nie. Ek soek daardie speurder van jou se
telefoonnommer.”
“Van Heerden?”
“Ja, die een in die restaurant vandag.”
“Hy is … effens volgeboek op die oomblik.”
“Nee, nie vir werk nie.”
“O.”

10

My ma het gedink dit was Nagel se dood wat die kentering gebring het.
Almal het gedink dit was Nagel se dood.
Waarom, wanneer mense aan ander se lewe dink, tel hulle net ’n paar groot
getalle bymekaar om die oordeel te vel? Maar met die somme wat hul eie
lewe bepaal, is hulle bereid om ’n duisend syfers te maal, te deel, op te tel en
af te trek, tot die boeke só gekook is dat die eindtotaal hulle pas.
Is ek ook daaraan skuldig? Ek weet nie. Ek probeer om die niksseggende
syfers hier uit te laat. En die negatiewes net soveel te laat tel. Maar kan ons
ooit betroubare boekhouers van ons eie lewe wees?
Ek sal steeds probeer:
Ek was sestien jaar oud toe sy een aand vir my in die sitkamer laat sit en sê
sy wil ernstig met my praat. Sy het ’n whiskybottel en twee glase op die
koffietafel gesit en ’n vinger of wat in elkeen gegooi.
“Ek drink nie daai goed nie, Ma.”
“Al twee is vir my, Zet. Ek wil met jou praat oor seks, my kind.”
“Ma …”
“ Jy is nie die enigste een vir wie dit ongemaklik is nie. Dit is net iets wat
ons sal moet doen.”
“Maar Ma …”
“Ek weet jy weet al van seks. Ek het ook by my skoolmaats alles gehoor
lank voor my ma met my gepraat het…”
“Ma …”
“Ek wil net seker maak jy hoor die ander kant ook, die regte kant.”
En toe sluk sy die eerste whisky weg.
“Die mensdom is oud, Zet. Miijoene jare. En dit wat ons is, is nie gister
gemaak nie. Ons is gevorm en geskaaf en gebeitel toe ons nog wild was, toe
ons nog in klein groepies oor die vlaktes van Afrika en Europa getrek het

agter kos aan, met klipmesse en velklere. Toe dit nog glad nie seker was dat
ons die spesie gaan wees wat gaan oorheers nie. Ons moes net oorleef. En om
dit te kon doen, moes elkeen sy deel bydra. Man en vrou. Die man het gejag
en baklei en beskerm. En soveel vroue as moontlik bevrug, want die genepoel
mag nie stagneer nie en môre is hy dalk leeukos. En vroue moes hul groepie
bymekaar hou en seker maak sy verlei die sterkste, vinnigste, slimste man,
sodat haar kinders ’n beter kans het om te oorleef. Die drange is nog in ons,
Zet. Dit lê daar en ons weet dit nie, want ons ken onsself nie meer nie en dit
is niemand se skuld nie, want die probleem is ons het dit nie meer nodig nie.
Ons is aan die bopunt van die voedselketting en ons het te veel geword en as
die helfte van ons nooit weer voortplant nie, sal dit nie skade wees nie.”
Sy sluk die tweede whisky.
“Die probleem is dat die situasie nog nie mooi na ons natuur deurgedring
het nie. Iemand het vergeet om ons instinkte te vertel ons het gewen. En een
van die dae gaan jou hormone heeltemal oorneem en dan wil jy jou saad
begin uitdeel …”
“Ma …”
“Nee, Zet, ek weet jy masturbeer al, maar laat ek sommer nou vir jou sê dit
is nie verkeerd nie …”
“Ma, ek wil nie …”
“Dit is vir my net so ongemaklik, Zatopek van Heerden, maar jy gaan
stilbly en jy gaan luister. Jou oupa Van Heerden het vir jou pa gesê
masturbasie maak ’n mens blind en jou pa het vir my gesê toe hy op koshuis
was, het hy elke oggend sy oë stadig oopgemaak, omdat hy so bekommerd
was. Ek wil nie hê jy moet ook sulke twak hoor nie. Masturbasie is normaal
en gesond en doen nie kwaad nie, dit maak niemand swanger nie en dit is
teen niemand se wil nie. As dit jou help, dan gaan jy aan. Dit is oor regte seks
wat ek vanaand moet praat, my kind, want jou instinkte weet nog nie ons het
gewen nie. Jy het twee- of drie- of tienmiljoen jaar se oorlewingsdrang wat jy
in jou saamdra, wat elke dag aan jou deur gaan kom klop en as jy daardie
deur oopmaak, moet dit nie ’n vreemdeling wees wat voor jou staan nie.”
Sy het nog van die drank geskink.
“Ma moet stadig met daardie goed.”
Sy het geknik. “Jy weet ek gebruik dit nooit, Zet, maar vanaand is anders.
Ek het net een geleentheid om dié ding reg te doen en as my senuwees in die
pad kom, gaan dit lol. Ek moet vir jou sê seks is lekker. Die natuur het dit so
verskriklik lekker gemaak sodat ons kan aanhou voortplant, nog so ’n ekstra

geelwortel voor ons neuse, net om seker te maak. Dit is lekker vanaf die
oomblik dat ons daaraan begin dink tot die laaste oomblik van orgasme, met
die voorspel en die opbou en alles tussenin. Lekker en wonderlik en intens.
Dit is soos ’n goddelike koors, ’n heerlike beswyming wat ons kan oorrompel
en elke ander gedagte uit ons koppe dryf. En as jy nou ons stokou natuur en
die lekker en die koors bymekaar tel, dan is seks sterker as enige ander drang
wat ons het, Zet. Dit moet jy weet.”
Nog ’n sluk.
“En dan het die natuur nog ’n ander troefkaart ook. Hy maak ons vir
mekaar mooi. Hier van vyftien, sestien, sewentien gee hy vir mans en vroue
lywe wat vir mekaar onweerstaanbaar is, wat mekaar trek soos die sterkste
magnete. Al die dinge saam.…
“Die probleem met seks, my kind, is die produk. Dit is nie net vir die
lekker nie. Dit maak babatjies. En babatjies maak moeilikheid, as jy nog nie
heeltemal reg is daarvoor nie. Ek wil jou vanaand net drie goed vra, Zet.
Voor jy met ’n meisie of ’n vrou seks het – dink. Dink of jy saam met haar ’n
baba wil hê. Want om ’n baba te hê beteken jy is die res van jou lewe aan
haar gebind. Dink. Sien prentljies in jou kop van in die middel van die nag
opstaan om bottels te gee, om wakker te lê en bekommerd te wees oor waar
die geld vandaan gaan kom vir kos en klere en ’n ordentlike huis. Dink of jy
elke oggend vir die res van jou lewe wil wakker word met die
verantwoordelikheid, of jy elke oggend saam met die vrou wil wakker word,
wanneer jy haar sonder grimering en gedoende hare en ’n vars asem sien,
wanneer haar lyf nie meer so jonk en so mooi is nie. Dink, my kind, of jy lief
is vir haar. Die natuur vra nie of jy lief is vir haar wanneer jy die eerste keer
vir haar wil vat nie. Hy gee vir jou ’n kitsliefde soos ’n weerligstraal, maar as
jou saad gesaai is, is daardie kitsliefde weg. Vra vir jouself of jy regtig lief is
vir haar. Want een ding kan ek vir jou sê: seks met iemand vir wie jy regtig
lief is, is ’n duisend maal lekkerder as seks daarsonder.”
Op daardie oomblik was daar ’n heimweë in haar stem wat ek nie wou
hoor nie, maar nooit sou vergeet nie – die eerste glimp wat ek as semivolwassene gekry het van haar liefde vir en verhouding met my pa.
“Die tweede ding wat ek vir jou wil vra, is om nooit ’n vrou te dwing nie.”
Daar is mans daar buite wat vir jou sal sê elke vrou het ’n heimlike wens dat
’n man haar sommer net moet vat, maar laat ek vir jou sê dit is absolute twak.
Vroue is nie so nie. Dit maak nie saak hoe hoog jou koors is nie, dit is die een
ding wat jy nie mag doen nie.

“En die derde ding is om ’n ander man se vrou uit te los.”
Ek het vir drie weke ná dié gesprek nie hand aan eie liggaam geslaan nie,
uit skaamte omdat my ma geweet het. En daarna het die natuur sy loop
geneem. En soos ’n jong seun seker is, het ek een deel van haar boodskap die
maklikste onthou: Ek moet vir jou sê, seks is lekker.
Die res het ek van voor af geleer, op die harde manier.
In die winter van 1978 het ek op Marna Espag verlief goraak – my eerste
liefde, in standerd nege, met al die wonderlike intensiteit van die puberteit.
Dit was asof ek haar een oggend vir die eerste keer gesien het, met haar swart
hare en groen oë en mooi, laggende mond. Sy het my denke en my drome
gevul, my fantasieë van heldhaftige dade – waarin ek haar telkens uit
doodsgevaar red – aangevuur.
Dit het my drie maande geneem om haar vir die eerste keer uit te vra, ná
die gewone tienerproses van uitvind of sy van my hou en verskuilde
boodskappe stuur dat ek belang stel. Ons het gaan fliek by die Leba op
Klerksdorp. My ma het ons gedienstig gaan aflaai en weer gaan haal nadat
ons melkskommels by die steakhouse langs die teater gedrink het. My ma het
van haar gehou. Álmal het van haar gehou.
Ek het haar die eerste keer gesoen tydens ’n motorhuispartytijie op
Stilfontein, op die close dance-maat van Gene Rockwell se “Heart” – die lig
wiegende voorspel wat my skoolvriend Gunther Krause so onromanties
“knopskuur” genoem het. Ek onthou haar oordadige parfuum en die sagtheid
van haar mond. En ook my eie lighoofdigheid toe ek die eerste keer ’n vrou
se tong in my geproe het, as ’n voorsmaak van die geheimenisse en goddelike
potensiaal van wat daarop kon volg.
Ons het gevry met die verbete geesdrif en toewyding van baanbrekers –
buite haar voordeur, by die tuinhekkie, by partytjies en, soms, in my ma of
haar ouers se sitkamer wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. Daar
was ’n natuurlike, versigtige vordering wat deur weke en maande plaasgevind
het. In November het ek my hand vir die eerste keer versigtig na die deining
van haar bors laat sak, my kloppende hart smagtend dat sy dit nie moet afkeur
nie. In die roekelose tyd tussen Kersfees en Nuwejaar, terwyl die res van haar
gesin by Potch-dam gaan braai het, het ek die eerste keer in hul voorhuis haar
bloes oopgeknoop, haar klein borste gestreel en ’n tepel in my mond voel
groei. En in Februarie het my vinger die eerste keer die heilige graal
onkundig en onbehendig bereik en het ons saam gesidder oor die
waaghalsigheid en die oorweldigende genot.

Twee weke later het ek gesê my ma gaan die Vrydagaand Pretoria toe vir
die openingsaand van Die Huwelik van Figaro. En ek gaan alleen by die huis
wees.
Marna het lank na my gekyk. “Dink jy ons moet dit doen?” “Ja,” het ek
gesê, die koors reeds besig om te styg.
“Ek ook.”
Ek het in die daaropvolgende paar dae ’n wêreldrekord in masturbasie
opgestel. Dit was skrikwekkend soos die afwagting my hele bestaan oorheers
het. Ek het die Groot Oomblik oor en oor in my kop sien afspeel en in my
fantasieë was dit perfek. Ek kon aan niks anders dink nie. Ek het die dae – en
eindelik die ure – afgetel, my ma by die hek gaan afsien met groot ongeduld
en ’n reusagtige leuen dat ek “verantwoordelik” sal wees.
Marna was laat en ek was byna van my sinne af. Sy was effens bleek.
“Ons hoef dit nie te doen nie,” het ek weer gelieg.
“Dis okay. Ek is ’n bietjie bang.”
“Ek ook,” was my finale leuen van die aand.
Ons het koffie gedrink en sonder geesdrif oor skoolwerk en skoolmaats
gesels en ek het haar eindelik saggies omhels en vasgehou en stadig begin
soen. Dit het ’n uur, selfs meer geneem vir haar om te ontdooi, om van ietwat
verstok en verskrik te vorder tot die sagte, verwelkomende Marna wat ek
geken het, vir haar asem om in tempo toe te neem tot die wonderbaarlike
galop van totale gereedheid en vir haar hartklop om sigbaar en byna hoorbaar
teen haar borsies te hamer.
Ek het haar kledingstukke een vir een versigtig uitgetrek. Tot sy eindelik
mooi en bleekwit en reg op my ma se reusagtige sitkamerbank gelê het.
En skielik was dit tyd. Ek het opgestaan en koorsagtig uitgetrek en
teruggedraai na haar en haar daar sien lê en die hele veertien dae se afwagting
en fantasieë was soos ’n meesleurende golf en my lyf was aan die brand en ek
het skouspelagtig oor my ma se sitkamermat gekom.

11

Durbanville Klassieke Meubels staan op die klein houtbordjie teen die muur,
effens verweer. En onder die knoppie langs die staalveiligheidshek: Lui
asseblief vir diens. Please ring for service. Hy druk dit en hoor die sagte,
musikale klank, byna vrolik, dieng-dong. Voetstappe op die houtvloer binne,
dan maak sy die deur oop.
“Meneer Van Rensburg,” sê Wilna van As sonder verbasing. “Van
Heerden,” sê hy.
“Ag,” sê sy en sluit die veiligheidsdeur oop. “Ek is gewoonlik so goed met
name. Kom in.”
Sy stap voor hom in die gang af. Links en regs is vertrekke met meubels,
almal van hout, almal swierig, tafels en kaste en lessenaars. Haar kantoor is
die kleinste kamer van die huis. Haar lessenaar is nie ’n klassieke stuk nie,
maar die stoele is van ’n hout wat gloei. Alles is pynlik netjies.
“Sit, asseblief.”
“Ek het eintlik net kom vra of jy Smit … meneer Smit se
identiteitsdokument het.”
“Ek het,” sê sy en maak ’n melamienkas teen die muur oop.
Hy haal sy notaboek uit en blaai na die plek waar hy die identiteitsnommer
neergeskryf het.
Sy neem ’n kartonkassie en plaas dit op die lessenaar. Sy lig die deksel en
sit dit met netjiese, spaarsamige bewegings langs die kassie neer. Sy kyk nie
na hom nie, vermy oogkontak. Omdat hy weet, dink hy. Omdat sy haar
geheime met hom moes deel. Daarom kan sy nie sy van onthou nie.
Sy gee die boekie vir hom aan. Dit is van die ou soort met ’n blou omslag.
Hy maak dit oop. Jan Smit se foto, jonger as die verwronge gesig wat hy in
die polisiefotograaf se kunswerke gesien het. Hy hou sy vinger by die
identiteitsnommer, gaan dit syfer vir syfer na. Die een wat hy neergeskryf

het, is korrek.
Hy sug.
“Binnelandse Sake sê hierdie nommer behoort aan iemand anders. ’n
Mevrou Ziegler.”
“Mevrou Ziegler?” sê Wilna van As meganies.
“Ja.”
“Wat kan dit beteken?” vra sy.
“Net twee dinge. Óf hulle maak ’n fout, wat baie moontlik is. Óf die I.D. is
vervals.”
“Vervals?” Daar is vrees in haar stem. “Dit kan tog nie wees nie.”
“Die ander dokumente in daardie boks – wat is dit?”
Sy kyk traag terug na die kartonkassie, asof dit nou ’n nuwe dimensie
aangeneem het. “Die maatskappyregistrasie en die huise se kontrakte.
“Mag ek dit sien?”
Sy stoot die kassie oor die lessenaar na hom, teësinnig. Hy haal die inhoud
uit. Durbanville Klassieke Meubels. Geregistreer as eenmansaak. 1983.
Durbanville Klassieke Meubels. Geregistreer as Beslote Korporasie. 1984. ’n
Herregistrasie? Akte van oordrag vir dié huis. 1983. Akte van oordrag van
die woonhuis. 1983.
“Hier is nie verbanddokumente op die huise nie,” sê hy.
“O,” sê sy.
“Is hulle afbetaal?”
“Ek dink so.”
“Al twee?”
“Ek … Ja, ek dink so.”
“Die maatskappy se boeke. Die geldsake. Wie het dit hanteer?”
“Jan het dit gehanteer. En die ouditeur.”
“Het jy insae daarin gehad?”
“Ja. Ek het hom elke maand gehelp om die boeke te laat balanseer.”
“Is daar rekords beskikbaar?”
“Ja. Dit is alles hier.” Haar oë draai na die wit kas agter haar.
“Mag ek dit sien?”
Sy knik en staan op. Daar is ’n sekere afwesigheid by haar, dink hy.
Sy maak weer die kasdeur oop, dié keer wyer. “Hier is hulle,” sê sy. Hy
kyk. Grootboeke en hardebandlêers staan in ’n netjiese ry oor twee rakke
heen, elkeen duidelik in swart kokipen gemerk volgens hul jaartal, sedert
1983.

“Kan ek die eerste klompie sien. Sê tot ‘86?”
Sy haal die lêers versigtig uit en gee hulle aan. Hy maak die eerste een oop.
Handgeskrewe syfers in rye en kolomme, tussen die fyn blou en rooi lyne van
boekhouding. Hy konsentreer, probeer sin maak, begrip kry. Inskrywings van
datums en bedrae, die syfers nie groot nie, tientalle, ’n klompie honderde,
maar in klaarblyklike wanorde. Hy gee moed op.
“Kan jy vir my verduidelik hoe dit werk?”
Sy knik. Sy neem ’n lang, heldergeel potlood en wys daarmee. “Hierdie is
die debiteure en hier is die krediteure. Daar …”
“Wag,” sê hy. “Is dit die inkomste, die geld wat hy ontvang het?”
“En daar is die geld wat hy uitgegee het.”
“Ja.”
“Waar is die bankbalans?”
Sy blaai om en wys met die potlood. “Vir Augustus van 1983 was die
balans van die boeke – R1 122,35.”
“Is dit hoeveel hy in die bank gehad het?”
“Ek weet nie.”
“Hoe kan jy nie weet nie?”
“Die bedrag wys dat die besigheid R1 122,35 meer uitgegee het as wat dit
ingekry het. Die bankbalans kan minder of meer wees, afhangende van die
oorspronklike saldo.” Geduldig, soos vir ’n kind.
“Wag,” sê hy. Hy was nog nooit sleg met syfers nie. Net onbelangstellend.
“Hierdie is nie die bankbalans nie – net die verskil tussen inkomste en
uitgawes.”
“Ja.”
“Waar wys die bankbalans?”
“Dit wys nie hier nie. Dit sal in die bankstate wys.” Sy staan op, haal nog
leggers uit die kas.
“Het jy boekhou-agtergrond?” vra hy.
“Nee. Ek moes leer. Jan het my gewys. En die ouditeur. Dit is nie moeilik
as ’n mens dit eers snap nie.” Sy blaai en soek. “Hier. Die bankbalans van
Augustus 1983.”
Hy kyk na waar die potlood beduie. R13 877,65. “Hoe werk dit dat hy geld
in die bank gehad het, maar die besigheid het ’n verlies gely?”
Sy blaai terug in die bankstate. “Kyk. Die openingsaldo van die
bankrekening was R15 000. Die syfers met die minusteken voor was bedrae
wat hy betaal het. As jy dit vergelyk met die syfers in die grootboek, sal jy

sien dit is dieselfde as die debiteure. En die ander syfers is die inkomste, wat
in die grootboek as krediteure aangedui is. Die verskil tussen die twee is R1
122,35. Trek dit af van R15 000 en jy kry R13 877,65.”
“Aaaaa …”
Hy trek weer die grootboek nader, blaai na September 1983. Die balans is R817,44. Oktober: -R674,87. November: -R404,65. Desember: R312,05.
“Hy het in Desember 1983 begin wins maak.”
“Desember is altyd goeie maande.”
Hy trek die volgende jaar se grootboek en bankstate nader, bestudeer dit
met sy nuutgevonde kennis. Hy maak aantekeninge. Die duiwel is in die
detail. Sy leuse; Nagel se spotonderwerp. Wilna van As sit oorkant hom, haar
hande op die tafel gevou. Hy wonder vlietend wat in die vrou se kop aangaan.
Sy bied later tee aan. Hy aanvaar met dank. Sy staan op. Hy blaai verder.
’n Sakeonderneming wat konserwatief groei, pryse van kaste en lessenaars,
tafels en stoele, hemelbeddens en kopstukke wat stelselmatig styg, ’n mikroekonomiese prentjie van ’n era. In 1991 verander die grootboekstelsel na
rekenaardrukstukke wat hy van voor af moet ontsyfer, eindelik met die hulp
van Wilna van As.
“Die huise. Is daar nêrens ’n rekord van die kooptransaksies nie?”
“Ek weet nie.”
“Sal jy kan uitvind?”
“Ek sal by die bank hoor”
“Ek sal baie dankbaar wees.”
“Wat sê dit alles vir jou?” Sy wys na die syfers wat voor hulle oopgesprei
is.
“Ek weet nog nie. ’n Voorgevoel. Maar laat ek eers seker maak.” “’n
Voorgevoel van wat?” Weer die angs in haar stem, in haar oë.
Mitchells Plain toe. Hy is in die voetheuwels van daardie eienaardige
deurbraak-euforie, die Everest van insig nog agter mis en wolke versluier,
data in sy kop gestoor, in sy notas. Die kolomme van die ondersoekgrootboek klop nog nie. ’n Teorie. Iewers tussen die syfers en die jaartalle en
Wilna van As se vertellinge lê die waarheid en sluimer. Sy hart wat nou lig
klop, sy kop wat hier en daar vat-vat aan dit alles. Hy voel lig. Fok, fok, fok.
Dit is soos die ou dae, wat word van hom? Is dit só maklik? Verlossing,
bevryding, vrymaking. Jy stap weer die ou paaie met die kompas van kennis
en prosedures en voorskrifte en sintuie met Nagel se gekoggel oor jou skouer

en jy skud dit alles af – jy skud Nagel af, jy skud háár af?
Ha! Sal nie só werk nie … Moenie daaroor dink nie. Soos ’n man wat
opklim – moenie afkyk nie.
Wíl hy opklim? Wíl hy uit die veilige, stinkende drek van sy huidige
bestaan opstaan?
Orlando Arendse se huis was vyf, ses jaar gelede hier. Dinge het verander.
Veiligheidsmuur met lemmetjiedraad bo-op. Fort Mitchells Plain. Hy stop by
die hek en klim uit. Agter die hek kom ’n man aangestap, groot pistool aan
die gordel.
“Wat?”
“Ek soek vir Orlando.”
“Wie’