اصلی Wie met vuur speel

Wie met vuur speel

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟

Weens populere aanvraag, die heruitgawe van Deon Meyer se heel eerste spanningsroman! By ’n boekeveiling sien Ragel Bergh vir Dirk Buchner raak. Oornag verander haar bestaan, en ná ’n naweek op Houwhoek weet sy sy is nog nooit so volledig bemin nie. Dan gebeur daar iets so ingrypend dat haar en Dirk se pad móét kruis met dié van Ivan Malan, die man met die sagte stem en emosielose oë, opgelei deur die agente van die semi-militêre Firma om mense te manipuleer of te elimineer. Sy opleiding as misdadiger kom handig te pas – hy het geslaag in vakke soos toneelspel, vermomming, vervalsing, seksuele uitbuiting, omkopery, afpersing, inbraak en swendelary. As dié kennis nie help nie, bly die wapens onder sy huis langs die Weskus nog oor. Daar sal hy die “liasseerkabinet van die dood” ooptrek.

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
ISBN 13:
9780624056324
ISBN:
B00CHKF04M
فایل:
کاپی کول (pdf, 161 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie2533
het1710
van1576
dit1414
haar1302
wat1101
vir829
maar782
kan618
hom602
gaan597
jou542
ivan528
net481
uit455
deur436
aan435
sal425
moet421
oor409
toe402
dan395
daar385
dat369
weet360
wil356
ons355
kom345
weer345
nog341
een302
maak291
hoe290
voor284
nou277
sien276
teen272
kyk269
laat240
stap229
wees226
soos209
ook197
tot192
twee188
werk181
dirk181
doen180
hou175
waar171
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Onsigbaar

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
فایل:
0 / 0
2

Spoor

کال:
2012
ژبه:
afrikaans
فایل:
0 / 0
Deon Meyer

Wie met vuur speel

TAFELBERG

Vir die man met die rooi mus,
Cornelius Petrus (Neil) Meyer (1924-1991),
my pa en gunsteling-storieverteller

Skrywersnota
In die dertien jaar sedert hierdie roman die eerste keer gepubliseer is, het baie
gebeur (die internet, selfone, 9/11) en so baie verander (die ontwerp van
boekvoorblaaie, leessmaak, ons politieke bestel, die wêreldorde) . . .
Wat ’n mens uiteraard met interessante keuses konfronteer wanneer jy die
manuskrip vir ’n nuwe weergawe moet hersien: Dateer jy alles volledig op,
van taalgebruik tot by intrige en karakters, om 2007 te weerspiëel? Bly jy
absoluut getrou aan die oorspronklike? Of doen jy net ligte restourasie om die
ergste krake weg te steek?
Ek moet beken dat dit nie ’n maklike besluit was nie. Wie met vuur speel
was my eerste roman. Ek het net meer as ’n dosyn kortverhale gepubliseer
gehad toe ek dit aangepak het – en die sprong na die langer formaat het
gevoel soos ’n om-die-blok-drawwer wat skielik ’n marathon aanpak: Dit het
soms ’n geworstel afgegee. Voeg hierby die feit dat ek in vyf daaropvolgende
boeke noodgedwonge heelwat nuwe romanperspektiewe gekry het, en die
versoeking was groot om alles van voor af oor te skryf.
Vier faktore het eindelik gesorg dat net die voorplat noemenswaardig
verander het: Ten eerste sou dit onmoontlik gewees het om modernisering te
beperk – dit is óf alles óf niks, en alles sou in praktiese terme feitlik ’n nuwe
boek beteken het. Ten tweede het ek ’n sekere ongemak gehad met die idee
van grootskaalse herskryf, so asof ek skaam is vir die oorspronklike. En ek is
nie. Dit was die beste wat ek destyds kon doen. Ten derde was daar die wyse
raad, arendsoog en ondersteuning van my redakteur, dr. Etienne Bloemhof.
En ten laaste – daardie oorspronklike omslag sou vandag om al die verkeerde
redes aandag getrek het.
Hier is dus die herdruk, feitlik presies soos dit in 1994 uitgegee is, sonder
selfone, die internet of apologie.

Deon Meyer
Melkbosstrand
Julie 2007

Proloog
Die landgoed is ’n vesting.
Twee we; ke van dophou, navorsing en berekende afleidings – en hy is nog
steeds nie heeltemal seker hoe hy gaan inkom nie.
Die son het agter Constantiaberg ingeskuif. Hy weet die rots waarop hy lê,
gaan binnekort begin afkoel en die koue deur sy dik bruin woltrui en
langbroek laat syfer.
Hy moet vanaand klaarmaak. Want hy sien nie kans vir nog ’n dag of nog
’n nag teen dié berg nie. Hy lig die verkyker tot voor sy oë – die klein Falcon
wat die Israeli’s vir hul tenkbevelvoerders ontwikkel het.
Sy gedagtes gaan weer oor die logiese sterk punte van die landgoed – soos
Spano onbeskeie daarna verwys. Omring deur ’n twee meter hoë muur, met
’n halfversteekte hoogspanningskabel bo-op. By die hoofhek is twee
sekuriteitsmanne wat nou en dan die terrein patrolleer. Maar hulle maak staat
op die twee dobermann-pinschers. En seker ’n trapdraad hier en daar.
Dan is daar die huis se alarmstelsel. Dit is die groot probleem, waaroor hy
net kan raai, want hy kon nog nie naby genoeg kom om te sien nie.
Swak plekke is daar ook. Die landgoed se ligging aan die voet van die berg
maak verkenning maklik. Die dobermanns is albei reuns. En die handelaar
wat die alarmstelsel geïnstalleer het, se advertensiebordjie hang by die
hoofhek.
Hoekom handelaars dit doen, sal hy nooit heeltemal verstaan nie. Hy het
hulle bloot geskakel en gevra wat hul beste alarmstelsels is. “Geld is nie ’n
probleem nie, meneer,” het hy oor die telefoon gesê. Die verkoopsman het
geesdriftig gekwetter. En nou weet hy dat die groot Kaaps-Hollandse huis
daar onder, agter die muur, tien teen een ’n ultrasoniese stelsel het. Die vraag
is: Is dit al?
Hy volg weer die pad wat hy vanaand gaan aandurf. Dit behoort maklik te
gaan tot by die huis, as daar nie trapdrade is nie. Hy het feitlik elke dag
werkers in die uitgestrekte tuine gesien. Het hulle ook die trapdrade versorg?
En dan die verdomde alarm. As hy dit nie kan uitskakel nie en die ergste
gebeur: Is dit ’n stil alarm wat net by die polisiestasie lui? Of by die
sekuriteitsmanne se kantoortjie langs die hek? Of ’n sirene in die dak wat
skielik gaan skree?

Hy twyfel of iemand soos Spano ’n alarm sal hê wat by die polisie lui.
Miskien by die sekuriteitswagte. Hy het hulle dopgehou. Twee spanne van
twee wat mekaar aflos. Groot kêrels. Dalk oud-magslede.
Bekommer gaan nie die werk gedoen kry nie. Die Vermeer sal nog
tweehonderd jaar lank daar hang as hy nie aan die gang kom nie. Hy bêre die
verkyker in die kakieseilsakkie en sit dit in sy rugsak. Dan staan hy op en rek
uit – deels om sy litte los te kry, deels vir die spanning wat hom soos ’n
roofdier bekruip.
Terwyl hy afstap na die gehuurde Nissan dink hy aan Carla. Gaan sy so
hard soos hy probeer om dié sending suksesvol te laat verloop? Hy glimlag.
Tydsberekening is altyd ’n moeilike besluit. Laatnag is goed, want die wagte
sal vaak en moeg wees. Maar dan is dit so vrek stil. Vroegaand is daar nog
die geluide van die verkeer, die wagte se televisiestel, maar hulle sal vinniger
reageer as dinge verkeerd gaan. Hy het ’n week gelede besluit dit moet
vroegaand wees, want hy het die klankkamoeflering nodig vir die
dobermanns. Hulle sal definitief blaf.
Die Nissan staan in die fynbos langs die pad wat na die landgoed se
diensingang lei – ’n enkeldeurstaalhek wat met ’n reuseslot toegesluit is.
Hy haal die groen infanteriemerker uit die leerdrasak en begin dit oor sy
gesig smeer. In die nag sal dit swart vertoon.
Carla beweeg op die agterste sitplek. “Jy is mooi genoeg,” sê hy vir haar.
“Hulle het nie ’n kans nie.” Carla grinnik.
Hy kyk in die motor se spieëltjie. Toe hy tevrede is met die verdonkering,
klim hy uit en kry die swart leersak uit die bagasieruim. Dit smelt in die nag
perfek saam met sy ander klere.
Hy maak dit vas. Dit was eers ’n rugsak, maar pas nou voor sy bors sodat
hy maklik by die apparaat daarin kan kom. As hy op en af spring, maak die
inhoud of gespes nie ’n geluid nie. Smittie se handewerk.
Die leiband kom uit die motor se paneelkissie. Hy klim uit, maak die
agterdeur oop en klik dit aan Carla se halsband. Haar stert swaai asof sy weet
haar oomblik is naby. Hy gooi die drinkbak vol water en sit dit langs die
motor neer.
Terwyl sy drink, onthou hy hul eerste ontmoeting by die
Dierebeskermingsvereniging, waar hy vir die opsigter ’n lang storie moes
vertel waarom hy spesifiek ’n teef op hitte soek.
En nou is hulle groot vriende.
Hy lei haar deur die ruigte na die diensingang, wat duidelik nie dikwels

gebruik word nie. Die staalhek se tralies is net reg vir sy doel. Hy kan Carla
stewig daaraan vasmaak. Die dobermanns kan haar sien, haar begeer, maar
kan nie by haar kom nie.
“So ja, ounooi. Betower hulle.” Carla tjank saggies wanneer hy begin
wegbeweeg. Dit behoort die dobermanns te lok. Hy kyk terug na haar. Iewers
het dié groot swart hond ook dalk dobermann-bloed.
Hy begin draf, al langs die muur af.
Binne die mure is die landgoed pynlik goed versorg. Maar buite is bome en
struike toegelaat om onbeheers te groei. Die fynbos teen die mure sal hom
geen hulp bied nie, maar ’n rooikransboom so tweehonderd meter van Carla
af gee net genoeg vastrapplek om bo-oor die muur te kyk.
Hy is net betyds om te sien hoe die twee dobermanns soos swewende swart
skimme deur die tuin se skaduwees skiet – op pad na Carla toe. Hy glimlag.
Die hoogspanningskabel is op ’n ongemaklike hoogte. Boonop is die muur
glad. ’n Indringer wat die kabel as klimhulpmiddel wil gebruik, sal gou tot
die skokkende besef kom dat dit gevaarlik kan wees. Hy steek sy hand in die
sak voor sy bors en haal ’n gewone motorbattery-springkabel uit. Die klampe
kom ’n armlengte links en regs aan die kabel vas.
Nou kan hy die kabel sny. Selfs al is daar ’n gebreektestroombaan-alarm –
die batterykabel sal sorg dat die stroom nog kan vloei. En hy het ’n
geïsoleerde oorklimplek.
Die vlymskerp snytang byt stukkie vir stukkie deur die kabel se staal. Dan
is dit middeldeur en hy buig die punte weg.
’n Nylontou word aan die rooikrans vasgemaak en oor die muur gegooi.
Hy spring agterna en land liggies op sy voete in die skaduwee van die
versorgde struike. Wanneer hy omkyk, sien hy die tou steek nie af teen die
muur nie. Niemand behoort dit raak te sien voor hy dit weer nodig het nie.
Sy volgende besluit is hoe om by die huis te kom. Die grasperke sal sonder
trapdrade wees, maar daar kan hy gesien word. Tussen die tuin se ruigtes kan
hy wegsmelt, maar net so maklik ’n gestelde draad aftrap.
Die dobermanns is die sleutel. Geen trapdraad sal laer as ’n meter bo die
grond wees nie, anders sal die honde dit gereeld ontwrig. Hy sak af op sy
knieë en begin hande-viervoet deur die plante beweeg.
Stemme ruk hom tot stilstand. Hy gaan lê op sy maag en luister.
“Ek weet nie. Hulle is daardie kant toe. Haastig. Hulle sal wel blaf as daar
moeilikheid is.”
Die sekuriteitsmanne is nog ’n entjie van hom af, op die grasperk. Het

hulle besluit om nou te patrolleer? Kan nie wees nie. Dit is gewoonlik hul
televisiekyktyd.
“Wil jy gaan kyk?” vra die ander stem.
“Die fokken honde. Jaag seker weer ’n haas of ’n uil. Mal diere.” Die wag
steek ’n sigaret op. Dan draai hy om. Hulle stap in die rigting van die
wagkamer.
Hy wag tot hy nie meer die kooltjie van die sigaret kan sien nie. Dan begin
hy weer sy ongemaklike tog.
Die eerste trapdraad is net tien meter van die huis af. Slim, dink hy. Dit is
waar jy ’n trapdraad nodig het. Waar ’n indringer al gerus genoeg is om
regop te loop.
Hy liasseer dié inligting. Iewers in sy agterkop is ’n ongemaklikheid besig
om te vorm. Spano het die geld om die beste sekuriteitskonsultante te huur.
Hoekom was dit tot nou toe so maklik?
Die tweede trapdraad is só slim versteek dat hy skielik ’n dosis adrenalien
in sy bloed kry. Dit is net sentimeters van die grond af, reg teen die huis se
muur. Waar honde nie sal loop nie. Maar net mooi waar mense sal wil staan
om by die venster in te kyk.
Hy begin nou baie versigtig langs die huis af beweeg na die groot stoep
toe. Hy weet Spano is nie daar nie. Die werkers is al weg en die wagte kom
nooit in die huis nie.
As hy eers in is, is hy veilig. Of is hy? Die brein wat die trapdrade beplan
het, ken sy storie. Iewers wag daar nog ’n verrassing.
Tussen die ruim stoep en die tuin is ’n heuphoogte muurtjie. Hy ondersoek
dit deeglik voor hy versigtig oorklim. Dan is hy op die koue leiklipvloer.
Voor hom is die groot vensters en glasdeure wat na die sitkamer lei – sy
ingang tot die huis.
Hy gaan sit by die groot venster en skep asem. Dan steek hy sy hand in die
sak en vind die plekkie van die infrarooi-stel. Die kopstuk is Amerikaans. Hy
het dit in Denver oor die toonbank gekoop, by ’n oorskotwinkel.
Hy sit dit oor sy oë en stel die helderheid en fokus. Deur die lense sien hy
die spookagtige rooi skynsel van die infrastrale wat oor die meubels in die
sitkamer speel. Toe die fokus reg is, druk hy sy kop tot byna teen die venster
en begin na die alarmstelsels teen die vertrek se mure soek.
Die ultrasoniese sensor sit lewensgroot in een hoek, sy enkele oog aan die
gloei. Reg geraai. Een–nul.
Dié sensors kan nie weggesteek word nie. Dit moet juis só geplaas word

dat die klankgolwe ’n patroon kan vorm van die vertrek. Maar dit is te
maklik.
Net ’n ultrasoniese stelsel? Nie die brein wat die trapdrade geplaas het nie.
Hy haal diep asem en voel hoe ’n straaltjie sweet by sy ruggraat afrol.
Wat sou hý gedoen het? Trapplaat teen die venster? Nie in ’n vertrek wat
dikwels gebruik word nie. Temperatuursensors? Dan sou hy getuienis
daarvan kon sien. Kontakalarm. Dit is wat hy sou gedoen het. Doodgewone
breekstroom-kontakalarm. Gaan ’n deur of venster oop, breek die stroom en
die alarm loei. Of lui geruisloos by die sekuriteitswagte.
Daar is net een manier om uit te vind. Maar eers moet hy ontslae raak van
die ultrasoniese sensor.
Hy het na Smittie toe gery toe hy hoor van die ultrasoniese stelsel.
“Net een ding wat jy kan doen,” het Smittie met sy gewone lesing begin.
“Die sensor is die bron van die klankgolwe. Die golwe word deur alles in die
vertrek weerkaats, terug na die sensor, wat die patroon registreer. Versteur jy
dié patroon, sit jou turf.”
Toe die toets, asof hy Smittie se student is: “Wat is jou oplossing?”
“Ontwrig die elektrisiteitstoevoer van die landgoed – en die sensor werk
nie meer nie.”
Smittie het gefrons. “Te maklik. Hulle sal ’n noodstelsel hê. Opwekker
iewers.”
Hy het na die dak gestaar, asof hy dink. En deur die ritueel met Smittie
gegaan.
“Die oplossing is eenvoudig. Dink.”
Hy was nie lus vir dink nie. Hy wou net die werk klaarkry en teruggaan
huis toe. “Ek weet nie, Smittie. Sê my.”
Smittie het gesug en sy kop geskud. “Jy is lui. Dit is so maklik. Al wat jy
moet doen, is om die sensor uit te skakel.”
Hy steek sy hand in die sak en haal die glassnyer uit. Die diamantpunt kerf
met ’n dun geluid deur die glas. Hy sny ’n gat so groot soos ’n tweerandstuk
– net mooi ooghoogte as hy op sy knieë sit.
Dan druk hy die stukkie uitgesnyde glas na binne, waar dit geruisloos op
die sitkamermat val. Volgens Smittie kan só ’n klein glasstukkie nie die
ultrasoniese patroon versteur nie.
Terwyl hy die pistool uithaal, glimlag hy. Smittie het soos gewoonlik sy
neus opgetrek toe hy die .22-Hammerli aan hom wou wys. “Jy weet hoe ek
oor instrumente van geweld voel,” het hy met ’n frons gesê. Maar Smittie se

wetenskaplike nuuskierigheid kon nie die Switserse vakmanskap of die
laservisier weerstaan nie. En hy het die knaldemper met sy gewone
presiesheid vervaardig.
“Dit sal nie meer geraas maak as iemand wat saggies hoes nie. Die groot
voordeel is dat die ammunisie se lading te klein is om die koeël deur die
klankgrens te stoot. Jy het dus min lawaai om mee te begin,” was Smittie se
lesing voor hy bereid was om die werking van die laservisier te bespreek.
Hy haal die infrarooi-kopstuk af en sit dit in die borssak. Dan skakel hy die
laser aan wat soos ’n parasiet bo-op die lenige lyne van die Hammerli klou.
Dit werp ’n dun rooi straal deur die venster en maak ’n klein rooi kolletjie
teen die sitkamermuur.
Hy rig die pistool deur die gaatjie in die glas, sodat die laser se kol op die
ultrasoniese sensor tot stilstand kom.
Dit is ’n maklike skoot, ’n raps oor die tien meter. En Smittie se
knaldemper werk. Die skoot is ’n sagte, dowwe plof. Die sensor se pienk oog
knip finaal. Die outomatiese meganisme spoeg die klein doppie tot op die
vloer. Hy tel dit versigtig op en bêre dit saam met die pistool.
Hy wonder hoe dit met Carla gaan. Maak sy die manne mal?
Alles is stil. As iemand die skoot gehoor het, is daar geen teken dat hulle
reageer nie.
Hy sit weer die infrarooi-kopstuk op en skroef dan Smittie se loerspieël
aanmekaar. Dit bestaan uit twee dun metaalstange wat oopvou om ’n hoek
van 90 grade te vorm. Aan die een punt is ’n klein spieëltjie, so groot soos ’n
muntstuk. Die spieël is van eenrigtingglas, want ’n infrarooi lampie is
daaragter aangebring. “Om onder rokke en om hoeke te loer,” was die opdrag
vir Smittie. En Smittie se antwoord: “As hulle jou in ’n dameskoshuis vang
met hierdie ding, sluit hulle jou toe.”
Die spieëltjie pas net mooi deur die gat van die glas. Dan draai hy die stang
sodat dit terugkaats wat hy nie kan sien nie – die boonste lys van die venster
aan die binnekant van die vertrek. Hy blaas sy asem met ’n plofslag uit as hy
die fyn draadjies van die kontakalarm teen die venster sien. Twee–nul vir die
goeie ouens.
’n Oningeligte inbreker sou die venster oopgedwing het, die diefwering
afgehaal het, en voor hy kon inklim, sou die sekuriteitsmanne twee alarms
gehad het om op te reageer. Die beweging sou die ultrasoniese alarm
aangeskakel het, terwyl die oopmaak van die venster die stroombaan in die
kontakalarm sou verbreek.

Maar hy gaan nie ’n venster oopmaak nie. Hy gaan sy eie venster maak.
Hy bêre die spieël in die sak en laat die glassnyer weer sy fyn geluid teen die
ruit maak. Dié keer sny hy ’n groot ronde gat waardeur hy sal kan klim. Weer
druk hy die glas na binne, waar dit stil op die mat kan val. Hy klim in.
Hy het ’n foto van die Vermeer gememoriseer. Diensmeisie in die kombuis,
noem hulle dit. Meer as driehonderd jaar oud en, met die huidige wisselkoers,
’n hele paar miljoen rand werd.
Dit hang nie teen die sitkamermuur nie.
Opstandig besef hy: Hoe langer hy in die huis deurbring, hoe groter is die
kans dat hy betrap gaan word.
Boonop sal hy nou die ultrasoniese sensor van elke vertrek buite werking
moet probeer stel – sonder die hulp van ’n venster wat as skans tussen hom
en die klankgolwe dien.
Dit neem kosbare minute met die loerspieëltjie om agter te kom dat geen
sensor die gang bewaak nie. Natuurlik. Te veel deure wat in ’n ligte briesie
kan beweeg en ’n vals alarm kan maak. Hy beweeg versigtig in die gang af.
Die volgende moontlike hangplek van die Vermeer is in Spano se
studeerkamer. “Hy het dit laat steel om dit te kan geniet. Dit sal iewers hang
– kyk eers in die sitkamer. Spano sal dit nie kan weerstaan om daarmee te
spog nie,” het Smittie geredeneer.
Nie die sitkamer nie, Smittie. Spano kon die verdomde skildery opgerol in
sy brandkluis toegesluit het.
Die studeerkamer se deur is toe. Dit beteken nog moeite, nog tyd. Hy sal
moet uitgaan, die sensor deur die glas soek, dan die pistool van buite gebruik
voor hy kan terugkom om die deur oop te maak.
Onder die swart rolnektrui en denimbroek sweet hy. Maar dit is nie net die
hitte nie. Die tyd stap aan. Hoe lank kan Carla die dobermanns besig hou?
Hoe lank voor ’n sekuriteitswag die gat in die sitkamervenster ontdek? Of hy
’n versteekte alarm aktiveer?
Hy glip soos ’n groot swart nagdier in die gang af, deur die sitkamer en by
die venster uit. Nou begin die moeisame, stadige tog weer langs die huis se
muur af na die studeerkamervenster.
Hy moet kruip om die borshoogte trapdrade te vermy, maar daar kan ander
ook wees, laer af. Die aand is besig om stil te word en elke geluid wat hy
maak, klink vir hom oorverdowend.
Dit neem hom sewe versigtige minute tot by die studeerkamervenster, waar
nog ’n terugslag wag – die swaar gordyne. Versteur hulle en jy gaan die

sensor laat praat. Maar as hy hulle nie uit die pad kry nie, kan hy nie sien wat
binne aangaan nie – infrarooi of nie. En dan is daar die moontlikheid dat
Spano die skildery op ’n ander plek kon gehang het, soos in sy slaapkamer.
Dink! beveel hy homself terwyl hy met sy mou die sweet van sy gesig
afvee.
Hy oorweeg die opsies – net een kan regtig werk. Die enigste manier om ’n
gat in die gordyne te bewerkstellig sonder om die golfpatroon te versteur, is
om ’n vlam te gebruik. Maar hy sal dit vinnig moet blus.
Die risiko word te groot, dink hy. Hy sny die gat in die glas, dié keer effens
groter, aangesien die gordyne nog as skans tussen hom en die sensor hang.
Hy haal ’n weggooi-aansteker uit die sak en stel die vlam op sy hoogste.
Hy sal dit in klein dosisse moet aanwend as hy nie die hele huis wil afbrand
nie.
Dit raak amper buite beheer. Die swaar gordyne is kurkdroog en brand
maklik. Hy wend die vlam net een keer aan en moet dadelik begin blaas. Die
vlammetjie wil opskiet teen die gordyne. Die asem plof uit sy longe en blus
die vlam dadelik, maar die gordyn hou aan met smeul.
Die dringendheid van die situasie laat sy maag op ’n knop trek. Sutherland
se stem vir die eerste keer vanaand in sy kop. “Diep asem.” Naand, kaptein
Sutherland. “Konsentreer op wat jy moet doen, nie op wat verkeerd kan gaan
nie.” Goed, kaptein. Hoe gaan ek ooit van jou presiese bevele ontslae raak,
kaptein?
Prioriteit nommer een is om die sensor onskadelik te stel. Dan bekommer
oor die gordyn wat smeul. Die pistool gly uit die borssak en hy rig weer die
laser op die sensor.
’n Oomblik wonder hy hoeveel skote Smittie se knaldemper kan deurstaan,
maar dan kug die Hammerli en die koeël klap teen die metaalkissie van die
sensor. Hy sak af teen die venster en kyk om, in die rigting van die
wagkamer. Dit lyk stil. Drie–nul.
As hy opkyk, sien hy die smeulende gordyn wil-wil weer ontvlam.
Sy vingers brand as hy die rooiwarm hitte uit die materiaal pers, maar dit is
al wat hy deur die gat in die ruit kan kry. Die reuk van geskroeide vel en
gordyn vul sy neusgate. Hy moes handskoene gedra het. Maar hy haat die
verlies aan sensitiwiteit wat dit meebring. Vingerafdrukke pla hom nie. Syne
bestaan nie.
Die pad terug na die stoep en sitkamer is sonder trapdrade en dit gaan dié
keer vinniger. Weer glip hy in die gang af tot by die studeerkamer se deur.

Hy maak dit geruisloos oop en gaan in. Die vertrek is amper so groot soos die
sitkamer. Deur die infrarooi-kopstuk sien hy duur meubels van donker hout,
boekrakke tot teen die dak en ’n handjievol skilderye teen een muur.
Hy stap met groot, haastige treë nader. Hy herken die gesig van die
diensmeisie onmiddellik. En selfs deur die kleurlose lense van die kopstuk
slaan haar skoonheid sy asem weg. Spano het glo amper ’n miljoen bestee om
die skildery uit die private versameling in Zürich te laat steel. Nou weet hy
waarom.
Die Vermeer is nie baie groot nie. Hy sou dit met raam en al gemaklik kon
saamdra. Dit sou egter sinloos wees om die risiko te loop dat die skildery
beskadig word. Hy haal die metaalsilinder uit die sak en skroef die dop af.
Hy beloer die skildery van alle kante, beweeg die onderste deel van die
raam versigtig van die muur af weg. In die infrarooi lig kan hy geen
kontaksensor sien nie.
Wanneer hy die skildery versigtig van sy hakie aflig, gaan die alarm skril
en skielik af.
Een deel van sy brein registreer verligting. Hy weet dié is die laaste
troefkaart in Spano se sekuriteit – dié garedun koperdraadsensor teen die
hakie van die skildery, dalk al die skilderye in die huis.
Paniek skiet in hom op. “Asemhaling,” het Sutherland oor en oor in sy
presiese stem gesê, “is jou enigste wapen teen paniek. Haal eers diep asem.
Moenie reageer nie. Beveg jou instink, die adrenalien, jou brein se opdrag
aan elke spier om te ontplof, te hardloop. Doen niks behalwe asemhaal nie.”
Terwyl hy die lug met een stadige teug in sy longe indwing, tik die
rekenaar in sy kop ’n prioriteitslys uit. Geprogrammeer deur die firma
Sutherland en Vennote: 1. Haal die kopstuk af, want die alarm het die huis se
ligte aangeskakel. 2. Haal die Vermeer uit die raam en bêre dit in die silinder
– dit is nog steeds die belangrikste rede waarom jy moet uitkom. 3. Kom sou
gou moontlik buite. Die huis is nou een groot hinderlaag met slegs ’n enkele
uitgang.
Hy blaas sy asem stadig uit. Hy begin met vinnige, doelgerigte bewegings
werk. Die kopstuk in die sak, die tangetjie uit, die agterkant van die skildery
oop, skildery versigtig uit, rol op, sit in die silinder, skroef silinder toe, sit in
sak. Hy hardloop na die sitkamer en hoor sleutels in die voordeur van die
huis. Natuurlik. Die sekuriteitswagte moet by die deur inkom en eers die huis
deursoek. Dit kan die sekondes koop wat hy nodig het.
Hy seil by die gat in die ruit uit, gee drie hale tot by die stoepmuurtjie en

glip in die skaduwees van die tuin. Ook hier is nou meer lig. Kolligte teen die
huis en die sekuriteitsmuur gooi lang, smal skaduwees heen en weer oor die
grasperk.
Wegkruipplek is daar nie. Hy begin na die grasperk hardloop – die stukkie
niemandsland wat geen skuiling bied nie. Hy moet dit oorsteek voor die
wagte uit die huis kom.
Hy bars tussen twee struike deur en is op die grasperk se soom. Vyftien
meter se goed versorgde groen tapyt, dan sewentig van struike en bome tot by
sy tou teen die muur.
Hy hardloop gebukkend, sy rugspiere onwillekeurig gespan teen die
verwagte koeël, sy stewels wat die grasperk reëlmatig tref, sy brein wat elke
tree aftel. Vyftien, veertien, dertien . . .
Die skoot klap en hy hoor hoe die koeëls oor sy kop fluit.
“Staan of ek skiet!” Die stem kom van die linkerkant af. Hy besef dat net
een van die wagte die huis gaan deursoek het. Die ander een het buite gebly,
gewag vir die rot wat die sinkende skip gaan verlaat. Maar sy brein registreer
ook dat dit ’n kleinkaliberrewolwer is wat die skoot afgevuur het. En die wag
is ver van hom af. Minstens veertig meter.
Die kanse dat die wag ’n bewegende teiken op dié afstand kan raak skiet, is
vyftig-vyftig. Hy hou aan met hardloop. Sewe, ses, vyf . . .
Nog ’n skoot klap, by sy oor verby, ’n woedende supersoniese insek.
“Stuart, kom help, hy’s hier buite!” hoor hy die wag skree, maar dan is hy
tussen die struike. Hy verander van rigting, want hy wil hulle nie reguit na
die tou toe lei nie.
Hy moet stadiger hardloop. Die kolligte laat digte skaduwees tussen die
plante. Hy kan die muur sien. Dan tref sy bors ’n trapdraad en ’n rooi fakkel
klief die lug.
“Daar’s hy! In die bosse.”
Koeëls staccato deur die plantegroei. Hy verander weer van rigting, maar
behou sy ritme met die hardloop en sy asemhaling. Nog dertig meter na die
muur, veertig na die tou. Nog ’n trapdraad, nog ’n fakkel verhelder die nag.
Weer skote en lood. Hulle mik te hoog, dink hy. Mik vir die bene as jy ’n
man wil stop.
Twintig meter na die tou. Vyftien. Tien. Die swart skaduwee aan sy
regterkant begin skielik leef.
Dobermann.
Die hond haal hom met lang, inspanninglose hale in. Dan verskyn die

ander hond ook uit die donker.
Hy kan die tou sien. Maar die rekenaar sê die honde gaan hom vang voor
hy teen die tou kan opskarrel.
Sy brein stort ’n vergete lesing oor hondeaanvalle in sy bewussyn en
selekteer oorlewingsinligting.
Opgeleide honde sal die uitgestrekte arm aanval. Bied jou voorarm aan.
Daar kan die minste weefsel en senu’s beskadig word. Die mens se natuurlike
vrees vir groot honde is die diere se grootste voordeel. Die mens is groter en
sterker as die meeste honde. Gebruik jou meerdere intelligensie en spierkrag.
Hy hang sy regterarm uit omdat dit die een naaste aan die dobermanns is.
Die voorste een spring. Hy voel hoe die tande deur die trui tot in die vleis van
sy voorarm byt.
Die hond ruk hom van balans, maar hy hou aan met hardloop. Die
dobermann rem. Die tweede hond is verward. Dinge verloop nie soos die
diere geleer is nie.
Dan is hy by die tou. Hy spring so hoog moontlik teen die muur op, maar
die hond se gewig aan sy arm is te veel. Sy linkerhand gryp ’n knoop in die
tou. Sy voorarm bloei vryelik en die pyn begin skree vir aandag in sy brein.
Hy stoot die regterarm teen die tou op en begin klim. Die hond klou – hul
gesigte byna teen mekaar as sy arm teen die tou opstrek.
Hy hoor die wagte deur die struike hardloop. Te naby.
Die hond se remkrag is te groot.
Dan spring die ander hond van die grond af. Hy sien die beweging uit die
hoek van sy oog en skop instinktief.
Dis ’n voltreffer teen die dobermann se keel, maar die hond maak geen
geluid wanneer hy terugval op die grond nie.
Hy beur verder teen die tou op – halfpad tussen vryheid en gevaar, met ’n
hond wat besig is om die spiere en senings en bloedtoevoer uit sy arm te
skeur. Hy swaai sy arm en die hond se kop tref die muur dofweg. Hy staar in
die vurige swart oë wat nie eens knip nie.
Sy bloed straal langs die silwerswart kake af.
“Daar’s hy! Skiet die bliksem!” Hulle is naby.
Hy beur op. Sy linkerhand is bo. Die kabel. Die hoogspanningskabel.
Sy regterhand is ook bo. Skote klap teen die muur. Hy wil die hond
opswaai, tot teen die kabel. Maar dan verslap die hond se greep skielik.
Hulle het die hond raak geskiet, besef hy. Die hond val. Hy swaai tot op
die muur. ’n Koeël brand sy nek. Nog skote. Hy spring en ruk sy batterykabel

terselfdertyd af.
Dis donker anderkant die muur, maar hy ken die pad. Hy hardloop. Sy
asemhaling is hortend. Hy dwing die ritme reg. Die pyn in sy arm skree selfs
Sutherland se stem stil. Te veel bloed. Maar hy moet eers wegkom. Hy hoor
swetse agter hom waar die wagte teen die muur uitklim, dalk teen die kabel
stry.
Carla blaf wanneer sy hom hoor aankom. Sy hande werk koorsagtig om die
leiband van die hek los te maak. Dan hardloop hy met haar aan sy sy na die
motor toe. Die sleutel wag in die aansitter. Die enjin spring aan die lewe. Hy
werk instinktief met die ratte en koppelaar.
Die eerste blou ligte en sirenes kry hy eers in die veiligheid van ’n
woonbuurt. Maar hy hou die getuienis van die arm laag, sodat die
aankomende verkeer dit nie kan sien nie.
’n Poel bloed vorm op die motor se grys mat.

Deel 1

1
Van haar huis teen Tafelberg se hang ry Ragel Bergh in haar 1968-MG met
die afslaankap na die gimnasium in Strandstraat. Sy is effens laat, haastig,
vasberade om tyd in te haal.
Haar roetine tussen die gewigte, die lêplanke en die oefenmasjiene wat in
onvriendelike groepies saamhurk, is dieselfde: maag, skouers, arms, bene, tot
die sweet haar groen T-hemp vlek bo die bult van haar borste en blink strepe
oor haar gesig en nek vorm, af tot agter by die lang bruin hare in ’n vlegsel.
Soos altyd is sy bewus van die oë op haar, ongemaklik oor die vae
sensualiteit van dié plek, waar kleding ’n oorlas is, waar die liggaamsbouers
van vroegoggend voor die spieëls die dans van Narsissus uitvoer, steunend
met elke optrek van ’n massa staal, ritmies kreunend soos die voorspel tot
orgasme. Waar die jappies met ontwerpersdrag hul lywe kom belyn vir
Clifton of die vlugbal op Kampsbaai, alles daarop gemik om die oog van die
ander geslag te streel.
Ragel Bergh konsentreer op haar eie program, tot sy met ’n stil uitblaas
van asem die laaste stang laat sak en kleedkamer toe stap, ’n lang, aantreklike
vrou in ’n los hemp en sweetpakbroek, wange verkleur deur die inspanning,
bors wat dein, haar fokus nou by die dag wat voorlê, die boekeveiling, die
afsprake met kliënte, ’n beplande telefoongesprek met ’n vriendin, sonder
intuïsie van vreugde of onheil.
Wanneer sy by haar koninkryk aankom, in ’n geblomde rok wat skimp van
soepel arm en been, is die deur van die winkel ’n ope uitnodiging, Vivaldi se
“Lente” ’n leidraad tot die gemoed van haar werknemer.
Bergh Boeke, lui die uithangbord oor die sypaadjie van Langstraat.
Frikkie Cornelissen wag haar in. Hy is haar kontrapunt, haar kameraad.
Frikkie, wat een wintermiddag by haar boekwinkel ingestap gekom het, sy
tengerige liggaam gebuk teen die noordwester wat die koue front ingewaai
het. Met oë wat deur die dik brillense nog groter lyk, het hy na die rye en rye
boeke op die rakke gestaar en nou en dan tentatief sy hand uitgesteek om aan
een te vat.
Ragel Bergh het nie dadelik kom vra of sy kan help nie. Sommige weet
wat hulle wil hê en soek dadelik hulp om dit op te spoor. Vir ander is die
soektog deel van die liefdestaak – hulle wil self delf. Frikkie het gelyk of hy

op sy eie wil wees.
Tog het sy hom uit die hoek van haar oog dopgehou. Hy was maklik ’n
kwartier lank in die winkel voor hy ’n boek van die rak afgehaal en
oopgemaak het. Sy lang, dun vingers het dit met die grootste respek en liefde
gedoen. Hy het weer die boek gebêre en ’n volgende een geneem. Maar
Frikkie Cornelissen het nie dié dag iets gekoop nie. Ook nie die volgende of
die een daarna nie. Op die vierde dag het hy doelgerig by die deur ingekom,
reguit op haar afgestap waar sy agter haar lessenaar gesit en lees het, en in sy
sagte stem gesê: “Ek moet hier werk.”
Sy het nie regtig iemand nodig gehad nie. Dit was ’n instinktiewe
aanstelling, uiteindelik ’n slim een.
Frikkie Cornelissen het ná matriek homself uitgemergel agter die
stowwerige lessenaar waar hy bouplanne vir die streeksdiensteraad moes
sorteer. Hy wou met boeke werk. Vandat hy kon onthou. Hulle was sy
ontvlugting, sy enigste ware vriende, sy toevlugsoord in boekrakke en
biblioteke. Net ’n droom – tot hy voor Ragel gaan staan en sy groot begeerte
in een, taktlose sin uitgeblaker het.
Hy het gou geleer. Binne enkele maande het hy elke boek op die rak
geken, geweet wat elkeen se geskiedenis is.
Wanneer iemand inkom met ’n boek wat hulle wil verkoop, kon hy gou net
so vinnig soos sy die waarde bepaal op grond van die toestand, uitgawe of die
gesogtheid daarvan. En ná ’n jaar het hy meer geweet as sy. Vandag is hy ’n
kenner, buite die akademie een van die mees ingeligtes oor klassieke boeke
en Africana. Sy is nie jaloers nie – eerder trots, soos op ’n kind.
Sy is steeds die een wat private versamelaars se huise soms moet besoek
of, soos vandag, ’n veiling moet bywoon. En haar persoonlikheid bly steeds
een van die redes waarom sommige gereelde kliënte terugkom na Bergh
Boeke in Langstraat.
“Jy is in ’n opgewekte bui vanoggend,” groet sy hom met verwysing na die
musiek. Hy is by die werkbank besig om ’n boek te restoureer.
“Dis veilingsdag,” sê hy fronsend. “Skeba-dag. Ek kan nie wag om daaraan
te vat nie.” Sy hoor sy geesdrif. Wanneer laas het sý so opgewonde oor ’n
boek geraak? So opgewonde oor énigiets geraak?
Sy gaan weer met Frikkie deur die veiling se katalogus en bespreek die
pryse wat sy moontlik vir van die werke kan betaal. Dan is dit tyd om te
vertrek.
Die afslaers het die groot saal van die Kasteel vir die veiling bekom. Toe

Ragel instap, is daar al heelwat mense wat die goedere inspekteer.
Sy kyk net vlugtig na die skilderye en beeldhouwerk wat ook opgeveil
word. Die boeke staan eenkant op ’n swierige tafel.
Haar oog soek die Du Toit. Dan sien sy dit. Die bruin leeromslag is nog
blink en sterk. Die oorspronklike buiteband is goed beskerm. Sy maak die
boek oop en herken die swaar skreeflettertipe uit die vorige eeu. En die
vreemd bekende skryf-soos-jy-praat-Afrikaans. Skielik wil sy dit hê, met
dieselfde bruisende begeerte van Frikkie Cornelissen.
Haar oë soek die publikasiedatum op die titelbladsy – 1898. “Maar dit is
nie die ouderdom nie. Di Koningin fan Skeba was ons eerste roman, ons
eerste prosa. Dit was Du Toit se soenoffer. Dis . . . dis . . . manjifiek,” het
Frikkie Cornelissen gesê, sy oë groot agter die dik lense.
Sy maak die boek versigtig toe en sit dit neer. Sy hoop niemand anders by
die veiling gaan haar gevoel deel nie.
Die afslaer het ’n snyerspak aan. Hy verhef nie sy stem nie, maar dit dra
gemaklik deur die vertrek. Die skilderye is eerste aan die beurt en hoewel
Ragel ’n vinnige flirtasie met ’n Maggie Laubser aanknoop, verloor sy
belangstelling toe twee kunshandelaars die prys verby R3 000 druk.
Maar dit is asof die veiling nie regtig aan die gang kan kom nie. Sy weet
sommige het van meet af aan ’n tasbare spanning, ’n atmosfeer van afwagting
en strawwe mededinging. Maar nie dié een nie.
Die beeldhouwerke sorg vir ’n bietjie opwinding wanneer ’n nuwe swart
kunstenaar se twee dierebeelde meer as R10 000 elk behaal. Dit is asof die
veiling wil vlam vat en Ragel begin onrustig raak. Bie-koors. Wanneer byna
elke mens wat dit bywoon skielik in die euforie van die oomblik ’n hand in
die lug steek en die prys laat klim en klim. En dié boeke moet sy weer
herverkoop teen realistiese pryse, anders gaan die winkel sy
geloofwaardigheid by versamelaars verloor.
Sy bie nie vir ’n vroeë stel van Langenhoven se versamelde werke nie, hou
uit om R750 vir ’n getekende eerste uitgawe van ’n Jan Smuts-biografie te
betaal en kry ’n winskoop met ’n oorspronklike Story of an African Farm.
Dan kom S.J. du Toit se Skeba aan die beurt. Die afslaer lees die
geskiedenis van dié boek af en gee agtergrond oor die skrywer. Die vertrek
begin saggies gons terwyl mense die uitsonderlikheid van die werk bespreek.
’n Paar kyk in haar rigting, asof hulle weet sy gaan een van die hooffigure
wees in die stryd wat voorlê. Dan vra die afslaer vir ’n openingsbod. Die
Joodse boekwinkeleienaar net ’n straatblok van Bergh Boeke af laat haar hart

onmiddellik vinniger klop wanneer hy met R500 oopmaak.
Dis te hoog, dink sy. ’n Gryskop man steek sy vinger in die lug vir R50
ekstra. Ragel ken hom nie en vermoed dit is ’n akademikus of private
versamelaar. ’n Lang, skraal boekwinkeleienaar van Houtbaai knik sy kop
onseker. So suinig soos altyd, dink Ragel, maar sy bie nie. Laat die koring
eers van die kaf geskei word. Dan sal sy optree en ’n vinnige einde aan alles
maak.
Skeba se prys klim stelselmatig, maar nie dramaties nie, tot op R1 000.
Dan val Suinig uit.
Ragel besef skielik iemand het in Suinig se plek begin bie, want daar is
steeds drie mense vir wie die afslaer om die beurt ’n geleentheid gee. Sy kan
nie sien wie dit is nie. Terwyl die prys verby R1 300 skuif, hou sy die afslaer
se oë dop om te sien wie die nuwe deelnemer is. Dan besef sy dié persoon
staan agter ’n pilaar.
By R1 500 gee die akademikus ook die stryd gewonne, en R200 later ook
die Jood. Die afslaer kyk half teleurgesteld na die bieër agter die pilaar om
die bod op hom toe te slaan, maar dan lig Ragel haar hand.
Die afslaer se gesig verhelder en die vertrek bruis.
Pilaar bie voort en hulle neem die prys verby R2 000. Mense fluister
harder.
“Wys jouself, jou lafaard,” prewel sy as Pilaar steeds vir haar gesigloos
bly.
Sy en Frikkie het die prys van elke boek op die inkopielys deeglik
bespreek. Hulle het ooreengekom dat sy nie met meer as R100 verby hul
ooreengekome perk sal gaan nie. Frikkie het gedink dit sou nie sinvol wees
om meer as R3 000 vir die Du Toit te betaal nie.
“Tweeduisend vyfhonderd,” sê die afslaer met groot lekkerkry. Die
toeskouers se koppe draai van Ragel na die onbekende koper, asof hulle ’n
tenniswedstryd volg. Dis of hulle bang is een van die twee gaan bes gee.
Teen R2 900 vererg Ragel haar vir Pilaar. Weet hy wat die waarde van die
boek is? Of is dit ’n amateur wat skielik koopkoors gekry het? Niks is so
skrikwekkend op ’n veiling as wanneer ’n ryk amateur met professionele
kopers begin meeding nie.
Die omstanders voel haar spanning aan. As die prys deur die grens van R3
000 bars, begin ’n klompie spontaan hande klap.
Dan beweeg Pilaar effens. ’n Oomblik lank sien sy die man se profiel en
grys pak.

“R3 150.”
“R3 200.”
“R3 250.”
“R3 300.”
Die afslaer het nou sy oordrewe kalmte verloor en sy stem styg effens met
elke bod.
Ragel kook van binne. Die man weet nie wat hy doen nie. Hy gaan die hele
koop verongeluk. Sy weet Frikkie gaan bitter ongelukkig wees. Maar hy sal
nog meer teleurgesteld wees as sy ophou bie.
“R3 500.”
Dit is asof Pilaar nie meer die spanning kan verduur nie. Hy tree agter die
pilaar uit om Ragel beter te kan sien, maar sy is nou te woedend om eens in
sy rigting te kyk. Jy het beweeg, lafaard, dink sy. Die einde is nou naby. Sy
maak haar gereed vir die nekslag.
Maar dit wil nie kom nie.
“R3 600.”
“R3 650.”
“R3 700.”
“R3 750.” Ragel staar reguit voor haar uit. As sy die mal man ignoreer, sal
hy dalk net verdwyn. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe hy elke keer net
sy kop effens knik om die prys nog ’n kerf op te stoot.
Verbete dink sy: Ek kan aanhou, my vriend. Kan jý?
Dan skiet die prys deur R4 000.
“R4 100,” sê die afslaer, weer met ’n tikkie teleurstelling in sy stem.
Pilaar kyk af grond toe om te wys dat hy klaar is. Die skare mor. Die
afslaer se skouers val. Hy slaan die bod op Ragel toe.

2
Ragel is besig om die tjek vir haar aankope uit te skryf wanneer die man
skuins agter haar kom staan.
Sy kyk nie om nie, want sy weet dit is hy. Sy gee die tjek aan die afslaer se
assistent agter die lessenaar en kry haar dokumente vir die boeke. “Baie
geluk,” sê die middeljarige vrou. “Die Du Toit is ’n wonderlike werk.”
“Dankie,” sê Ragel. Wanneer sy omdraai, is die man nog daar. Hy is langer
as sy, groot en fors in sy grys pak. Sy kyk op in sy gesig en besef sy ken hom
van iewers.
Hy glimlag. “Mag ek vra wie dit is wat my onder die tafel ingebie het?”
vra hy en sy blou oë is bakens. Ragel is nie voorbereid op sy hartlikheid nie.
“Het jy geweet wat die boek werd is voor jy soos ’n besetene te kere
gegaan het?”
Onder die welige snor verbreed sy glimlag. “Is jy kwaad vir my? Ek was
nie daarvan bewus dat ek oortree het nie.”
Sy vriendelikheid maak dit vir haar moeilik om kwaad te bly, maar dit
irriteer haar dat sy nie weet van waar sy hom ken nie. Boonop het hy soos ’n
regte amateur gebie.
“Ek dink dit is ’n oortreding as ’n mens nie deeglike navorsing doen voor
jy jou op ’n professionele terrein waag nie. ’n Veiling soos dié is nie ’n plek
vir amateurs met geld om te mors nie.”
Hy lag hardop. “Goed, goed, ek is skuldig. Mag ek pleit om versagting van
vonnis, edelagbare?”
Een van die afslaers se mense het haar aankope netjies verpak en staan nou
reg om dit motor toe te dra.
“Nee,” sê sy vir die grynslaggende man voor haar en stap deur toe. Sy weet
sy het pas redelik kinderagtig opgetree, maar nou wil sy net daar wegkom.
“Vierduisend eenhonderd rand?” sê Frikkie verstom.
“Ek weet, Frikkie. Wat sou jý gedoen het? Wees bly jy kan die boek in jou
hande vashou.”
Hy skud sy kop ongelowig en prewel weer die bedrag. Dan kyk hy van die
boek af op. “Weet jy glad nie wie hy is nie?”
“Ek weet ek het hom al gesien. Onlangs. Iewers.” Sy sien weer die gesig
voor haar. Dit is nie net sy bekendheid wat haar pla nie. Daar is ook iets

anders . . .
Hoekom reageer sy só? Die man is aantreklik met sy dik blonde hare, oë
van asuur en vierkantige kakebeen. Maar wat is dit wat haar terselfdertyd so
afstoot? Sy grinnik? Die vel wat so intens bruingebrand is?
“Dis sy houding,” sê sy hardop aan Frikkie, wat besig is om elkeen van die
nuwe aankope soos minnaresse te leer ken; hy hoor haar skaars.
Ragel weet dit is sy seksualiteit. Blatant, openlik. Selfversekerd.
“Ons sal net ’n bietjie langer moet wag voor ons ’n wins kan maak,” sê
Frikkie.
“Ons sal hom tog nooit weer sien nie,” sê sy.
“Hoe nou?”
Sy skrik uit haar gedagtegang. “Jy is reg. Dit bly ’n goeie belegging.”
Ragel se kantoor is met ’n groot glasvenster van die res van die winkel
geskei – nadat Frikkie by haar aangesluit het en hy haar ou lessenaar in die
winkel gekry het. Terwyl sy alles kan sien wat aangaan, gee dit haar
terselfdertyd privaatheid met telefoonoproepe. Sy maak die glasdeur oop en
sê oor haar skouer: “Mevrou Kemp kom vanmiddag in en ek het nog nie eens
gekyk wat ek vir haar wil aanbied nie.”
Dan maak sy die deur agter haar toe en gaan sit by die lessenaar. Sy trek
die aankopeboek nader en vul die jongste besonderhede in. Haar gedagtes
dwaal weer na haar optrede by die veiling.
Sy wil haar reaksie teenoor die man rasionaliseer. Sy het lanklaas ’n
sinvolle verhouding met ’n man gehad. Is sy só uit oefening? Of is dit die
ander ding? Die sekerheid waarmee sy liggaamstaal gesê het hy gaan haar
kry, sy lyf se stempel op haar afdruk?
Die vulpen maak ’n klad en sy klik haar tong. Waaraan dink sy?
Ragel is besig met maagspieroefeninge toe die stem langs haar opklink. “Dan
hét ek jou al voorheen gesien.”
Sy herken die stem voor sy omkyk. En haar humeur vat vlam. Want sy
tydsberekening is weer verkeerd. Sy lê op haar rug, met ’n rooi gesig,
sweetkolle in haar hare en op haar klere en maagspiere wat smeek vir rus. En
hy staan vars en netjies in ’n ligblou sweetpak en glimlag met spierwit tande
onder die snor.
Maar nou weet sy ook waar sy hom al gesien het. Soms, eenkant, in die
hoek van die gimnasium, op sy eie aan ’t oefen, sonder spieëls.
“Is ek nog steeds persona non grata?”
Ragel staan op en trek haar handdoek nader. Sy neem ’n vaste besluit om

nie dié keer kinderagtig op te tree nie. “Nee, die aanklag teen jou is laat
vaar,” sê sy hoflik, sonder hartlikheid.
“Luister, ek weet ek was skuldig. Maar ek wou die boek só graag hê. En ek
moet bieg: Ek het nie regtig geweet wat dit werd was nie.”
Sy wil nie in sy gesig kyk nie, maar om weg te kyk, sal aan hom ’n soort
oorwinning besorg. “Ek verseker jou jy is vergewe.”
Hy glimlag nog steeds. “Dit is nogal jammer. Ek sou graag ’n geleentheid
vir boetedoening wou hê.”
Sy lig haar wenkbroue.
“Wat van aandete?” vra hy “Dan kan jy sommer die geleentheid gebruik
om my op te voed oor die waarde van Africana.”
“Ek ken jou nie eens nie.”
Hy steek sy hand uit – ’n sterk hand, met fyn blonde haartjies op sy vingers
wat duidelik uitstaan teen die bruingebrande vel. Hy laat haar dink aan ’n
soort dier. ’n Roofdier.
“Dirk Buchner. Seaviewstraat 22, Clifton.”
Hy is so verdomp selfversekerd. Sy haat hom daarvoor. En vir die vlinders
in haar maag en die bruising van haar bloed. “Ragel Bergh.” Sy neem die
hand en wil dit dadelik los, maar sy greep is ferm.
“Ek weet,” sê hy steeds glimlaggend.
Hy speel met my, besef sy.
“Ek het ná die veiling met die afslaers gesels. Ek wou al vroeër kontak
maak, maar ek moes Johannesburg toe vir sake.”
Sy kry haar hand los uit sy greep. “Ek moet gaan stort.”
“Wat van aandete?”
“Ek weet nie. Ek . . . Die boekwinkel. Ek het ’n boekwinkel. Ek is baie
besig.” Sy stap aan kleedkamer toe, maar voel sy oë oor haar liggaam. Haar
hart klop in haar keel. Dit is nie van oefening nie.
Frikkie speel die Brandenburg-konserte op die CD-speler en Ragel neurie
saggies terwyl sy die boeke op die boonste rak een vir een afhaal en met die
sagte lap afstof. Sy staan op die trapleertjie. Haar gedagtes is nie by die boeke
of die werk nie, maar by Dirk Buchner. Hoekom het die noodlot bepaal dat
hulle só ontmoet? En by dieselfde plek oefen. Sy het juis gesorg dat sy met
niemand by die gimnasium groot vriende word nie, want dit is haar
privaattyd.
Boonop is dit nie die vleiendste plek vir ’n vrou nie, met die sweetreuk wat
oor die plek hang, die klere, die gekreun . . .

“Ek het jou amper nie geglo nie. Maar nou kan ek sien jy is besig.”
Sy stem klink hier reg langs haar op. Ragel se hele liggaam ruk soos sy
skrik en ’n oomblik lank wonder sy of sy dalk hardop met haarself gepraat
het. Sy gryp die leer vas om haar balans te herwin.
Buchner steek ’n arm uit en steun haar. “Ek is jammer. Ek het nie besef jy
is ingedagte nie. Dit lyk my ons kan net nie op die regte voet kom nie.”
Sy kyk hom in die oë en is onmiddellik spyt daaroor, maar sy sien hy is
werklik jammer. Die amper smalende glimlag is afwesig. “Jy sal die een of
ander tyd iets anders as vergifnis moet vra, meneer Buchner,” sê sy terwyl sy
afklim en langs die leer gaan staan. Buchner se lengte tref haar weer eens.
“O, ek het al.”
“Hoe bedoel jy?”
“Die boetedoening. Aandete?”
Sy weet sy bloos.
“Ja,” sê sy.
“Ja?”
“Ek onthou.”
“Weet jy hoe laf gaan dit lyk as ’n man in jou winkel op sy knieë gaan
staan en smeek?” Die glimlag is weer terug, en sy kan nie help om ook te
glimlag nie.
“Meneer Buchner, jy skuld . . .”
“Dirk.”
“Jy skuld my niks. Jy hoef my regtig nie uit te neem om ’n skuldige
gewete te sus nie.”
“Nee, jy verstaan nie, juffrou Bergh. Die boetedoening is ’n vals front,
suiwer kamoeflering. Die eintlike rede is dat ek dink jy is ’n intelligente,
sensuele vrou vir wie ek baie graag beter wil leer ken.”
Sy bloos weer, maar sien dat die glimlag afwesig is.
“Ek . . . e . . .”
“Wat van vanaand?”
“Vanaand?” sê sy skaapagtig agterna.
“Ja. Ek weet dit is skielik. Maar dit is tot jou voordeel.”
“O?”
“Ja, want as jy nie van my hou nie, is dit môre alles verby.”
“Ek weet nie . . .”
“Sewe-uur? Ek sal jou by die huis kom oplaai en weer daar gaan aflaai op
die tydstip van jou keuse.”

Hy terg haar. Sy kan ook dié speletjie speel. “Goed, Dirk Buchner. Seweuur op die kop. En as jy laat is, kan jy maar omdraai.”
“Ragel, jy het ’n . . .”
“Juffrou Bergh.”
Hy gooi sy kop agteroor en lag diep en hartlik. Sy dik blonde hare skud in
die son wat deur die winkel se venster skyn. Ragel weet haar brein gaan dié
toneel iewers liasseer. Sodat sy dit enige tyd weer met genoegdoening kan
opdiep.
“Juffrou Bergh, jy het ’n ooreenkoms. Jou adres, asseblief.”
Hy haal ’n klein dagboekie en pen uit sy sak. Sy gee hom die adres. Hy
glimlag breed terwyl hy weer die skryfgoed bêre.
“Sien jou om sewe.”
“Stiptelik,” sê sy. Hy draai om en stap haastig uit. Sy kyk hom ingedagte
agterna.
Frikkie kom loer om die hoek van die boekrak. “Van waar, Gehasie?”
Sy skrik weer en vererg haar vir haar eie senuagtigheid. “Dit is die man
wat Du Toit se prys opgejaag het,” sê sy.
“Klink asof jy trots is op hom.”
“Hy het om verskoning gevra. Vanoggend in die gimnasium.”
Frikkie frons agter die brillense. “Oefen julle al saam? Ek het nie geweet . .
.”
“Dit was bloot toevallig dat ons mekaar daar raakgeloop het.”
“Dit is nie toevallig dat hy jou hiér raakgeloop het nie.”
“Is jy jaloers, Frikkie Cornelissen?”
Hy bloos. “Nee, maar jy het niemand wat na jou kan omsien nie. Iémand
moet jou belange beskerm.”
Sy sit haar hand om sy skraal skouers as hulle na die betaalpunt stap. “Ek
waardeer dit, Frikkie. Maar ek is veronderstel om dit sélf te kan doen.”

3
Sy het doelbewus getalm met die aantrek sodat hy moet wag. Maar die
onsekerheid oor wat sy moet aantrek, het langer geduur as wat sy voorsien
het. Wanneer hy aanklop, is sy nog glad nie gereed nie.
Sy kyk op haar horlosie. Presies sewe-uur. Sy glimlag.
“Dit is oop. Sit solank!” skree sy by die trappe af en hoor hoe die deur
oopgaan. Sy dwing haarself om nie haastig te wees nie. Sy gooi die
helderkleurige geblomde rok oor haar kop en trek dit reg.
Sy kyk in die spieël. Die vel op haar onbedekte arms en nek gloei in die
lig. Die rok wys genoeg rondinge op die regte plekke, maar is dit nie ’n tikkie
outyds nie?
Sy begin om die borsel deur haar dik bos hare te trek. En sy is weer bly dat
sy geen grimering buiten ’n bietjie lipstiffie dra nie.
Toe sy by die trap afkom, sit hy gemaklik in ’n leunstoel deur ’n boek en
blaai. Hy hoor haar en staan tydsaam op. Ragel sien sy word getoets wanneer
sy oë haar vinnig van kop tot tone inspekteer. Maar sy weet sy slaag.
Hy beduie met die boek in sy hand. “Ek sien jy kan net nie van die boeke
wegkom nie.”
“Ja. Ek is al van kleintyd so.”
Hy hou die voordeur vir haar oop. Die herfsaand is soel en warm. In die
straat staan ’n silwer sportmotor. “ ’n Porsche. Ek is beïndruk.”
Hy maak die deur vir haar oop en sy buk laag om in te klim. As hy langs
haar inklim, het sy al reggeskuif in die diep, gemaklike sitplek.
“Jy ken sportmotors?”
“Eintlik net boekkennis,” sê sy en hulle lag saam.
Die Porsche se neus kies koers Paarl toe, maar sy besef skaars waarheen
hulle ry. Die gesprek vlot gemaklik wanneer hulle praat oor die koste van
motors en die plesier wat goeie vakmanskap daaraan kan gee. Hy hou
eindelik stil voor ’n restaurant op ’n klein wynlandgoed, ’n plek waar sy nog
nooit was nie. Die eetplek is met ryk materiale en egte antieke meubels uit
die sewentiende eeu versier, en die kelners dra kniebroeke.
Hy is ’n goeie gasheer. Sy sin vir humor, sy intelligente opmerkings . . . en
die feit dat hy meer in haar as in homself belangstel.
“Vertel my die lewensverhaal van Ragel Bergh.”

“Het jy genoeg sakdoeke?”
“Ek sal die tafeldoek inspan as dit te erg raak.”
“Daar is nie veel om te vertel nie. Ek het in die Kaap grootgeword, op
Stellenbosch biblioteekkunde geswot en nie met my universiteitsliefde getrou
nie.”
“Daar moet meer wees,” sê hy terwyl hy haar wynglas vol maak. Voor sy
kan antwoord, kom verneem die kelner wat hulle wil eet. Sy kies avokado
gevul met garnale en ’n seekossous as voorgereg, terwyl hy ’n klein porsie
smoorsnoek op rys bestel.
“Ek kan die eend in druiwesous aanbeveel,” sê Dirk terwyl sy kopkrap oor
die hoofgereg. Hulle besluit albei daarop.
“Die boekwinkel. Hoe het dit gebeur?”
“Dit was my pa se skuld. Hy moes gaan werk toe hy veertien was, want
daar was te veel monde om te voer en te min hande om te help met die
inkomste. Hy het werk gekry as handlanger op ’n vistreiler toe Tafelbaai se
hawe nog die vismekka van die Kaap was. Iewers op die boot het hy een
stormnag ’n boek opgespoor – Hardy se Far from the Madding Crowd. En hy
het nooit weer opgehou lees nie. Hy het geen formele kwalifikasie gehad nie,
maar boeke het hom gehelp om sy eie treiler te koop. En later nog een, en
nog een . . .”
“Klink na ’n indrukwekkende man. Ek sal hom graag wil ontmoet.”
“Hy is twee jaar gelede oorlede.”
“Ek is jammer . . .”
“Ek mis hom nog. Baie. Hy het gesorg dat ons van kleins af omring was
deur boeke . . .”
“Ons?”
“Ek het ’n broer. Hy is ’n dosent in Semitiese tale op Stellenbosch.”
“Aaa, nóg ’n boekmens.”
Die kelner bring die voorgeregte en hulle proe oor en weer om te sien wie
die beste keuse gemaak het. Dan hervat hulle die gesprek.
“Die boekwinkel?” vra hy.
“Jy is meedoënloos.”
“Nooit. Net nuuskierig.”
“Jou beurt kom nog.”
“Ek kan nie wag nie.”
Sy lag. “Ons kon elke verjaardag en Kersfees kies wat ons wou hê. Ek wou
altyd ’n boek hê. Pa het my van vroeg af na Langstraat se boekwinkels

geneem sodat ek self kon gaan uitsoek. Ek was onmiddellik mal oor die reuk
van die boeke, die warm atmosfeer van die winkeltjies en die snaakse,
interessante omies wat hulle besit het. Pa het my later begin leer dat ’n mens
nie net die eerste beste eksemplaar koop van ’n boek wat jy wil hê nie. Hy het
my vertel dat sommige boeke meer werd is as ander, dat boeke ’n belegging
kan wees as jy weet hoe om te koop.”
Hy luister met aandag, knik nou en dan. Sy blou oë verlaat haar gesig nie
vir ’n oomblik nie. Ragel neem nog ’n slukkie wyn. Sy kan nie onthou
wanneer laas sy so gemaklik in ’n man se geselskap gevoel het nie.
“Ek het nooit bewustelik daaraan gedink dat ek eendag my eie winkel sal
hê nie. Ons voorligtingonderwyser het eenkeer op die ry af gegaan. My
vriendinne wou almal die een of ander tradisionele, aanvaarbare beroep volg
ná skool. Tot in daardie stadium was ek so besig om met puberteit te worstel
dat ek nie geweet het wat ek wil doen nie. Maar toe dit my beurt is, verras ek
almal – myself ook. Ek het gesê ek wil my eie boekwinkel hê.”
Die kelner bedien die hoofgeregte. Dirk se nuuskierigheid is steeds nie
bevredig nie. “Hoe het jy joune in die hande gekry?”
“Ek en my broer het goed geërf. Ek het alles belê. Maar toe ’n kafee in
Langstraat se deure sluit, het ek van die geld losgemaak, die huurkontrak
oorgeneem en my winkel oopgemaak. Niemand het gedink ek sou dit maak
nie. Bibliotekaresses weet van boeke bêre, nie van sake doen nie. Maar ek het
geleer, ook op die harde manier. En dit gaan nie sleg nie.”
“Die manier waarop jy my by die veiling verwoes het, dui daarop dat dit
meer as net goed gaan.”
“ ’n Man wat ’n Porsche ry, koop sulke boeke uit sy agtersak.”
“Daar was iets in jou houding daardie dag. Ek het besef ek moes kies
tussen die Du Toit en my lewe.”
Ragel lag. “Jy is heeltemal reg. En ek het nou definitief genoeg oor myself
gepraat. Ek weet nie eens watse werk jy doen nie.”
“Ek gaan jou net verveel. Dit is hoegenaamd nie so opwindend soos joune
nie.”
“Dirk Buchner, ek sal daaroor besluit.”
“Transaksiemakelaar.”
“As jy nie uit jou eie gaan verduidelik nie, verbied ek die kelner om vir jou
nagereg te bring.”
Dirk se glimlag is warm en gemaklik, soos die atmosfeer tussen hulle. Sy
wil haarself keer om dit te veel te geniet, om te veel van hom te hou. As hy

net nie so aantreklik, so selfversekerd was nie. As hy net nie so rég was nie . .
. Maar hy begin praat, en sy vergeet van haar vrese.
“Ek gee oor. Enigiets vir malvatert en room. My werk is baie soos joune.
Jy is in ’n sekere sin die middelman tussen iemand wat ’n boek wil koop en
iemand wat dit wil verkoop. Ek doen dieselfde, maar nie met boeke nie. Ek
hoor byvoorbeeld van iemand wat ’n groot klomp geld in aandele wil belê.
En ek ken die beste aandelemakelaars. Ek bring hulle bymekaar en kry geld
daarvoor. Maar dit is nie altyd aandele nie – soms wil ’n maatskappy
skuldbriewe vir buitelandse valuta verkoop, of ’n groot maatskappy wil ’n
kleiner een oorneem om sy belange uit te brei . . .”
“Dit klink heerlik.”
“Dit is ’n lewe. Ek geniet die risiko, van nie weet wat môre gaan gebeur
nie. En die bevrediging wanneer ek twee partye gehelp het om ’n
winsgewende transaksie te beklink.”
“Kan enigiemand dit doen?”
“As ék kan, kan enigiemand.”
“Jy is te beskeie.”
“Inteendeel. Ek het nie eens my graad klaargemaak nie. Wou eers
prokureur word. Ek was besig met my klerkskap by ’n firma in
Johannesburg. En toe ek eendag ’n kliënt moes besig hou terwyl die baas met
middagete was, het hy toevallig gesê hy wil ’n paar honderdduisend belê. ’n
Klerk se salaris laat ’n mens kreatief dink oor jou geldsake.”
“Hoe lank is jy al in die Kaap?”
“Net meer as ’n maand. Ek kon dit nie vroeër bekostig nie. Die groot geld
is ongelukkig nog steeds in die noorde. Maar my kontakte is nou goed
genoeg. Ek hoef nie meer te gaan soek na sake nie.”
“En jou belangstelling in waardevolle boeke?”
“Ek is nuuskierig oor enigiets wat ’n belegging kan wees. Dit was my
eerste boekeveiling, soos jy seker agtergekom het. Miskien moet jy maar die
geheim met my deel. Wanneer hou ’n mens op met bie?”
Dirk se vraag is só onskuldig dat sy nie eens besef hy het opgehou om oor
homself te praat nie. Oor nagereg, koffie en likeurs is sý die een wat vertel
van boeke, van haar jeugjare, haar drome vir die toekoms.
Terwyl die Porsche ná middernag weer terugdreun Kaap toe, is sy werklik
spyt dat die aand amper verby is. By haar huis spring hy uit om vir haar die
deur oop te maak. En dan die potensieel ongemaklike oomblik by die
voordeur. Maar voor sy kan besluit hoe die afskeid behoort te verloop, leun

hy nader en plant ’n soen op haar voorkop.
“Dit was heerlik. Baie dankie. Lekker slaap,” sê Dirk, en die Porsche is om
die hoek voor sy tot verhaal kan kom.

4
“Ek dink ek is verlief,” sê Ragel.
Mignon van der Merwe skud haar kort blonde hare uit haar oë om Ragel
beter te kan sien. “Net omdat hy jou nie by die deur vuriglik omhels het nie?”
vra sy en val haar kabeljou met mening aan.
Ragel sug. “Ek het jou vir middagete genooi omdat ek raad nodig het . . .”
“Jy sal jou raad kry. Kry eers al die feite op die tafel.” Hulle sit in die
buiteluggedeelte van ’n hawerestaurant, omring deur sakemanne in grys
snyerspakke.
“Jy het al die feite. Luister, ek is oud genoeg om te weet na watter swak
plekke in ’n man se mondering ek moet soek. En Dirk Buchner hét nie een
nie.”
“Bog. Hy het net nie een waarvan jy al wéét nie. Hoe kan jy deur ’n waas
van hormone en verliefdheid oordeel?”
“Jy is seker reg . . .”
“Moenie so afgehaal lyk nie. Dit beteken net dat jy versigtig moet wees.”
“En van só versigtig wees sal hy sy Porsche vat en ander weivelde gaan
soek.”
Mignon lag dat haar wit tande blink in die son. ’n Paar sakemanne kan nie
hul oë van haar afhou nie. “Luister, ek kan verstaan hoe jy voel. Dit is die
soort man wat dalk net een keer in ’n leeftyd in mens belangstel. Jy kan
amper nie waag om hom te verloor nie. Maar dit beteken nie dat jy alle
versigtigheid oorboord moet gooi nie.”
“Hoe versigtig moet ’n mens wees met ’n man wat jou op jou voorkop
soen? Gewoonlik moet ’n meisie baklei om alleen by haar voordeur in te
gaan.”
“Nou wat wou jy gehad het moet hy doen?”
“E . . .”
“Jy is verlief, Ragel Bergh.”
“Jy is heeltemal reg, Mignon van der Merwe.”
“Eet jou kos, Ragel Bergh.”
“Ek is nie honger nie. Ek kan op liefde leef.”
“Die hemel behoede ons.”
“Sê nou net hy bel my nooit weer nie?”

Mignon slaan haar oë op na Tafelberg. “Jy is 28, Ragel Bergh. Die oudste
bakvissie in menseheugenis.”
Sewe dae lank hoor sy niks van Dirk Buchner nie. Sy sien hom nie by die
gimnasium nie en hy bel haar nie.
In die proses dryf sy feitlik vir Frikkie en Mignon van hul sinne af. In die
winkel kan sy nie stilsit nie, en sy dring daarop aan dat Mignon elke aand by
haar moet kom kuier, want “die eensaamheid is te veel”. Mignon kyk dikwels
op na die berg.
Dan bel hy haar by die winkel. “Ek is vreeslik jammer. Ek was in
Johannesburg. Nie eens tyd gehad vir slaap nie.”
Die verligting en verwyte spoel saam-saam deur haar gemoed, maar sy kan
nie waag om dit te wys nie. Het hulle nie telefone in Johannesburg nie? “O,
haai. Hoe gaan dit?” sê sy.
“Nou weer beter. Wat doen jy vanaand?”
Ragel oorweeg dit vir ’n oomblik om hardekwas te wees, maar dan is die
begeerte om hom te sien net te sterk. “Niks besonders nie.”
“Hoe klink La Traviata?”
“Wonderlik.”
Toe Ragel die telefoon neersit en ’n danspassie tussen twee rye boekrakke
uitvoer terwyl sy haar weergawe van een van die arias gee, val Frikkie se
mond oop. En die frons agter sy bril is swaar en afkeurend.
In die volgende twee weke sien sy hom elke aand. Die dae vlieg verby in
’n waas van afwagting, terwyl sy skaars agterkom dat hulle restaurante,
teaters en simfoniekonserte saam besoek. Net om by hom te wees, is vir haar
genoeg.
Mignon bel elke dag vir wat sy “die amptelike vryverslag” noem. En elke
dag moet sy teleurgesteld hoor dat Dirk nog niks meer as ’n soen teen die
voorkop geproduseer het nie.
“Miskien is hy gay,” sê sy gemaak ernstig. Ragel stik in haar koffie. “Net
’n grappie, net ’n grappie,” paai Mignon.
“Dit wys ten minste dat hy nie net om een rede in my belangstel nie.”
“Is daar enige ander rede wat die moeite werd is?”
“Gaan bars, Mignon van der Merwe.”
Op die dertiende dag van sy terugkeer uit Johannesburg nooi hy haar na sy
woonstel, ’n luukse tweeslaapkamer in Clifton wat uitkyk oor die see. Hy dis
Mozart, Roodeberg en sy eie, heerlike chilli con carne op. En dan soen hy
haar vir die eerste keer.

“Nee, niks meer nie,” lui die vryverslag aan Mignon die volgende dag.
“Wel, ons weet darem nou hy is nie gay nie.”
“As jy só gesoen word, sal jy weet.”
“Het jy hom so bietjie aanmoediging gegee?”
“Is jy laf?”
“Ragel, jy is deesdae so fyngevoelig. ’n Mens kan niks meer vir jou sê nie.
Dit is tyd dat hy jou hormone stabiliseer.”
“Dit is nie net my hormone nie. Ek is so bang hy dink nie ek is mooi en
begeerlik nie.”
“Aaa, eindelik ’n bietjie perspektief.”
“Maar daar is hoop. Ons ry vanaand Houwhoek toe vir die naweek.
Oorslaap.”
“In een kamer? So ’n vark!”
“Ek weet nie hoeveel kamers hy bespreek het nie.”
“Maar ek weet jy hoop dis nie baie nie.”
Wanneer Dirk haar die Vrydagmiddag kom haal, is hy stil en gespanne.
Ragel is heeltemal uit die veld geslaan. Die afgelope veertien dae was van
die wonderlikste in haar lewe. En deel daarvan was Dirk se warmte, sy totale
gebrek aan nukke en buie.
“Is daar iets verkeerd?”
Hy glimlag vir haar, maar die gewone vonkel in sy oë is nie daar nie. “Nee
. . .”
Die gesprek tussen hulle wil nie vlot nie. Ragel gee later moed op terwyl
die vrees aan haar begin knaag. Het sý iets verkeerd gedoen?
Sy tuur by die Porsche se venster uit na die slierte grys reënvlae, terwyl sy
steeds wonder hoe sy Dirk te na kon gekom het. Sy dink aan gisteraand by sy
woonstel: die ete wat sy nie genoeg kon komplimenteer nie, die rustige gesels
oor ’n glasie jerepigo en later, net voor hy haar huis toe neem, die Groot
Soen. Sy bloos effens as sy onthou hoe sy gewens het hy wil haar met meer
passie en oorgawe soen.
Dan tref dit haar dat Dirk dalk op sy senuwees kan wees vir die naweek.
Kan dit wees? Dirk Buchner? Meneer Selfvertroue?
Ragel se gedagtes word onderbreek wanneer hulle van die snelweg afdraai
na die hotel. Die skoonheid van die plek slaan elke keer haar asem weg – die
berge wat die hotel omring, die lowergroen fynbos en die gebou, een van die
oudstes in die Kaap. Dié naweek gaan ’n sukses wees, kom wat wil, besluit
sy.

Hy het aangrensende kamers bespreek. Sy beskou dit as ’n goeie teken.
Tydens aandete is hy steeds stil. Ragel probeer om so opgewek moontlik te
wees, om vir Dirk op sy gemak te stel. Dié strategie wil ook nie werk nie,
want hy praat al hoe minder. Ná ete sit hulle by een van die hotel se groot
kaggels en luister na die stortreën op die sinkdak. Die atmosfeer van die
geskiedkundige ou gebou en die ander mense wat gesellig om hulle kuier, is
net een te veel vir Ragel. Sy skraap al haar moed bymekaar.
“Dirk, as jy stil wil wees, gun ek jou dit. Maar as dit is omdat ek iets
gedoen of gesê het, wil ek daarvan weet.”
Hy lyk skielik skuldig, leun vorentoe en vat haar hand. “Nee, dis nie jy
nie.” Hy leun vooroor en rig sy blou oë op haar. Sy sidder nog elke keer dat
dit gebeur.
Hy skud sy kop asof hy só van die gevoel wil ontslae raak. “Ek is jammer.
Ek is selfsugtig. En ek bring my werk saam huis toe. Dit is onverskoonbaar.”
Die verligting daal oor Ragel neer. Dit is sy werk wat hom so mismoedig
maak.
“Wil jy daaroor praat?”
“En jou verveel?”
“Jou wêreld is vir my opwindend en interessant. Dit sal my nooit verveel
nie.”
“Dit voel net nie reg om jou met mý probleme te belas nie.”
“Belas? En ek vertel jou elke dag van my duisende probleempies met die
winkel, met vitterige versamelaars . . .”
Hy druk haar hand. “Jy is reg. Dit is net dat ek so lank gewoond was om
dit vir myself te hou.”
“Jy hoef nie meer nie.”
“Ek weet nie hoekom dié ding my so pla nie. Dit is eintlik glad nie ’n
probleem nie. Ek het toevallig so drie weke gelede gehoor van ’n kaal sakeerf wat in Kampsbaai te koop is – see-uitsig, 4 000 vierkante meter. Behoort
aan ’n bejaarde Engelsman wat wil teruggaan Brittanje toe. Hy wil ’n
realistiese R750 000 daarvoor hê. Maar kopers is nie nou te volop vir sakeerwe in daardie gebied nie.”
Sy sien hoe sy oë weer begin lewe kry terwyl hy praat.
“Ek het so drie jaar gelede vir ’n Duitse hotelgroep ’n wildplaas agter die
Magaliesberge gekry wat hulle in ’n luukse kuierplek omskep het. Hulle was
baie tevrede met die transaksie. Hul ontwikkelingsdirekteur, Muller, het
eergister uit Bonn geskakel. Hy soek ’n perseel in die Kaap waarop hulle ’n

superluukse hotel kan ontwikkel. In die omgewing van Kampsbaai.”
Ragel se voorkop trek op ’n plooi. “Ek verstaan nie waaroor jy kla nie. Is
die Engelsman se erf dan nie nommerpas nie?”
Hy draai die glas om en om in sy hande. “Dit is juis die probleem. Die erf
is perfek. Die regte grootte, die regte ligging. Maar dit is te goedkoop.”
“Te goedkoop?”
“Dit breek my entrepreneurshart om te sien dat die Duitsers bereid is om
miljoene vir die regte plek te betaal, maar Cartwright wil net R750 000 hê.”
“Hoekom sê jy nie vir hom hy moet die prys opskuif nie?”
“Die oubaas is al 75 jaar oud. Sy hele familie is in Engeland. Hy sê hy wil
nie nog neuk met hoër pryse nie, hy wil net die erf verkoop. Ek moet
Maandag vir die Duitsers laat weet. Hulle gaan die grootste winskoop in die
geskiedenis van die hotelbedryf bekom. Ek is seker hulle sou tot twintig
miljoen betaal het.”
Ragel se oë rek wyk. “Twintig miljoen?”
“Dit is een van die grootste hotelgroepe in die wêreld. Sestien luukse
hotels net in Afrika. Die koste om één so ’n hotel vir ’n dag aan die gang te
hou, is al meer as R750 000.”
“Sou jy meer uit die transaksie gekry het as die verkoopprys hoër was?”
Dirk lag en skielik is die lewe in sy oë terug. Ragel sien hoe hy ’n sterk
hand deur sy dik bos hare stoot, een van sy gewoontes wat sy al so goed ken.
Hy praat met al hoe meer geesdrif. “Ek sou. En dit maak my ook hartseer.
Maar nie so hartseer soos die feit dat ek die erf self kon gekoop het en aan die
Duitsers verkoop het nie. Dit is nie heeltemal hoe ek sake doen nie, maar daar
is altyd ’n eerste keer.”
“Nou hoekom doen jy dit nie?”
“Byna elke sent wat ek het, is vas belê vir minstens nog sewe maande.
Daar is nie ’n kat se kans dat ek dit betyds kan loskry om die erf te koop nie.”
“Kan jy nie die geld leen nie? Jou vaste belegging kan mos as sekuriteit
dien by die bank.”
Dirk sak terug in sy stoel. Sy stem verloor drif. “Ek het so vier jaar gelede
’n bietjie teenspoed gehad. Nee, kom ek wees eerlik, héélwat teenspoed
gehad. ’n Makelaarsvriend het my vertel dat twee Taiwannese sakemanne ’n
klein genoteerde elektroniese maatskappytjie in Pretoria wil oorneem. Hulle
sou dit glo omskep in ’n onderneming van multimiljoene rande wat
elektroniese onderdele vir uitvoer vervaardig. Ek was toe nog honger op pad
boontoe. En naïef. Ek het elke sent wat ek gehad het, gebruik om aandele in

die plek te koop. En ek het nog honderdduisend geleen by die bank, wat in
daardie stadium gedink het ek is hulle volgende miljoenêrskliënt.”
Hy maak ’n gelate gebaar, teug aan sy drankie.
“Ek was nie die enigste een nie. Die plek se aandeleprys het oornag gestyg
van negentig sent per aandeel na net oor die drie rand. Dit het my
onmiddellik ’n miljoenêr gemaak. As ek daardie oggend verkoop het . . .” Hy
sug en ’n gesigspier trek asof hy fisieke pyn ervaar.
“Ek was gierig. Dit was nie genoeg om my geld te laat verdriedubbel nie.
Ek wou meer hê.” Hy glimlag wrang. “Die ander ook. Ek het hulle nooit
geken nie, maar die koerante was vol. Amper tweehonderd beleggers . . .
Gierigheid is ’n universele eienskap. Dit behoort nie eksklusief aan die
dommes nie. In elk geval, die Taiwannese het dieselfde dag besluit om kop
uit te trek. Toe ek die volgende oggend wakker word, was die prys tagtig sent
per aandeel. ’n Maand later was die maatskappy bankrot. Ék ook.”
Haar gesig wys haar simpatie.
Hy lig haar hand tot by sy mond en soen dit saggies. “Ek het dit as
skoolgeld beskou. Waaraan ek vandag nog afbetaal. Want die bankbestuurder
sal my aansoek om ’n lening ewe vriendelik ontvang, my lêer gaan uithaal,
dit oopmaak en daardie fronsie tussen sy oë kry wat net
motorwerktuigkundiges of bankbestuurders kry wanneer jou motor of
geldsake neuk.”
Sy lag. “Jy is baie filosofies daaroor.”
“Ek het lank gelede ’n transaksie vir ’n motormagnaat van Durban gedoen.
En toe ons dit met ’n glasie brandewyn en ’n sigaar beklink, het hy vir my
gesê die sakeman wat nie bereid is om ’n tweede of derde keer van voor af te
begin nie, sal nooit regtig suksesvol wees nie.”
Hy merk dat haar glas leeg is. “Ek sien hulle het KWV Port op die rak.
Kan ek vir jou ook kry?”
“Asseblief.” Sy hou hom dop terwyl hy wegstap. Hy beweeg glad. ’n
Roofdier. ’n Paar vroue in die vertrek se koppe draai.
Hy’s myne, dink sy en glimlag.
Ragel weet sy is té gou té verlief. Sy weet sy loop die risiko van seerkry.
Maar sy gee nie om nie. Om by hom te wees, sy aandag te hê, maak dit alles
die moeite werd. Sy leun terug in die diep gemakstoel en staar na die vlamme
in die kaggel. Sý sal Dirk se depressie genees, kom wat wil.
Hy kom teruggestap met die twee glasies in sy hande. “Die gode het port
uitgevind vir reënerige aande voor die kaggel.”

Sy knik instemmend en neem haar glas. Dirk gaan sit. “Nou ja, waar was
ons?”
“ ’n Sakeman moet bereid wees om weer van voor af te begin . . .”
“Dis reg. En ek hét.” Hy neem ’n slukkie. “Nektar. Ja, ek het weer voor
begin. Nou aanvaar ek dat net ander mense vinnig ryk word. Ouens soos ek
moet werk daarvoor.”
Hy lig sy glas. “Kom ons drink op die ongelooflike winskoop waarmee ek
die Duitsers Maandag gaan verras.”
’n Idee skiet deur Ragel se gedagtes, en sy wil lag van pure opwinding.
“Ek kan vir jou geld leen,” sê sy triomfantlik.
Hy deursoek haar gesig vir ’n teken dat sy ’n grap maak en lag humorloos.
“Ja, en die tandmuis sal seker ook iets bydra.”
“Ek is ernstig,” sê sy half ergerlik.
Hy frons. “Dit lyk my so. Ragel, waar op aarde gaan jy R750 000 vandaan
kry? En buitendien, al het jy dit nou uit jou tas gepluk, sal ek dit nooit as te
nimmer by jou leen nie. Dit is ’n vaste beginsel . . .”
Sy val hom in die rede. “Jy kan onmiddellik ’n wins van negentien miljoen
rand maak. Wat maak dit saak by wie jy die geld leen?”
Skielik glimlag Dirk breed. Hy leun vooroor en praat sag en geduldig,
amper soos met ’n kind wat nie ’n eenvoudige stelling wil snap nie: “Ragel,
daar is drie dinge hier ter sprake. Die een is die gesondste beginsel in die
sakewêreld – leen geld by finansiële instellings. As sake nie uitwerk nie, kan
hulle dit bekostig om die verlies te ly. Die tweede is dat ek niks sal doen wat
ons verhouding in gevaar kan stel nie. Ek weet ons is albei volwasse mense
wat dit soos ’n saketransaksie kan benader, met kontrakte en waarborge, maar
jy is vir my meer werd as negentien miljoen rand. En derdens dink ek nie jy
besef hoe moeilik dit vir jou gaan wees om R750 000 in die hande te kry
nie.”
Ragel ervaar teenstrydige emosies. Haar hart juig dat hy hul verhouding as
so kosbaar beskou, maar sy stemtoon en aanname dat sy nie die geld het nie,
laat haar bloeddruk styg.
“Ek hét die geld.”
“Hoe bedoel jy?”
“Ek en my broer het elkeen net meer as ’n miljoen geërf ná my pa se dood.
Ek het amper R300 000 gebruik vir die winkel en my huis. Die res is alles
beleggings.” Ragel probeer hard om nie trots te klink nie.
Dirk fluit saggies. “Ek kuier by ’n skatryk vrou en ek weet dit nie eens

nie.”
Ragel glimlag. “Maar ek verstaan jou beginsel. My pa was ook so. Hy wou
nie eens geld geleen het by die bank nie, wat nog te sê van vriende.”
Hy leun agteroor. “Daar sal ander transaksies wees. Eendag. Kom ons gaan
slaap.”
Ragel kan sien die lig in sy oë het weer verdof. Maar haar hart klop tog
vinniger as hulle kamer toe stap. Dirk gaan staan voor haar deur, neem haar
gesig in sy hande en soen haar. “Lekker slaap.” Hy sluit haar deur vir haar
oop.
“Jy ook.”
Sy maak die deur saggies toe en val dan in frustrasie op haar bed neer. Hoe
anders kon dit nie gewees het as Dirk nie met die transaksie geworstel het
nie.
Sy hang later haar klere op, sit die lig af en skuif diep onder die komberse
in. Haar gedagtes dwaal. Sy weet Dirk se fisieke aantrekkingskrag het baie
met haar frustrasie te doen. Maar dit is net een deel daarvan. Hy behoort die
soort man te wees wat sake in eie hande neem, optree, die leiding neem. Die
omstandighede rondom die transaksie het sy vegtersinstink net te vinnig
geblus.
Hoe sal jy weet? Het jy al negentien miljoen rand op een slag verloor? trek
sy haar eie oordeel in twyfel. Nee, sy kan hom nie regtig kwalik neem nie.
Dit is sy werk, sy lewe wat ter sprake is. En sy moet terugstaan.
Maar Ragel het nog nooit vir enigiets teruggedeins nie. Daar moet ’n
oplossing hiervoor wees. Sy moet net dink.
Sy weet nie wanneer sy aan die slaap geraak het nie, maar in die nanag
skrik sy wakker met die oplossing. So eenvoudig. So briljant. Haar hand strek
na die telefoon om vir Dirk te bel. Sy trek dit terug. “Môre, Dirk Buchner,
môre is nog ’n dag,” prewel sy. Dan draai sy om en raak weer aan die slaap.

5
Die oggend is skoon gewas, maar die wind waai koud en wolke skuif kortkort voor die son verby. Hulle besluit om teen die berg te gaan stap. “Anders
gaan ek nie vir middagete kans sien nie,” sê Ragel.
Dirk is meer opgewek, maar nog nie die spitsvondige, vurige man wat sy
leer ken het nie. Hulle gesels oor die natuurskoon, oor die mooi hotel wat
onder hulle in die klein vallei lê, oor soortgelyke tonele in Switserland, oor
hul wedervaringe oorsee.
Maar hulle vermy Die Transaksie.
Ragel kan nie besluit wanneer sy hom moet vertel nie.
Ná die stap drink hulle tee in die sitkamer en trek dan een van die
skaakborde nader. Dirk dink deeglik oor elke skuif, terwyl Ragel op instink
speel. Hy wen maklik. “Jou gedagtes is nie by die skaak nie.”
Sy kyk op. Daardie oë. “Mmmm.”
“Skaakmat. Nog tee?”
Ragel skud haar kop. Dan besluit sy om te praat. “Dirk, ek wil daardie erf
koop.”
Hy is besig om die skaakstukke reg te pak en kyk op, koningin in die hand.
“Jý wil die erf koop,” sê hy meganies agterna.
“Ja. As ek en meneer . . . die eienaar . . .”
“Cartwright.”
“As ek en meneer Cartwright Maandagoggend ’n koopkontrak vir R750
000 teken, is die erf mos wetlik myne, al is die geld nog nie oorbetaal nie.”
“Ja, vir die doeleindes van ’n volgende koopkontrak. Maar . . .”
“Nee, luister eers klaar. Jy kan nog steeds die Duitsers laat weet dat jy ’n
erf gekry het, maar die prys is tien miljoen. Of vyftien. Jy sal moet help met
die bepaling van die verkoopprys.”
Dirk sit nog steeds met die skaakstuk in sy hand, half oorbluf. “Ek het nie
geweet jy is so ingelig oor kontrakte nie.”
“Ek is ’n sakevrou.”
“Hoekom doen jy dit?”
“Vir die geld. En sodat jy kan terugkom aarde toe.”
“Ek? Ek makeer . . .”
Sy maak hom met ’n swaaiende vinger stil. “Ek het gisteraand alles

uitgewerk. Dit gaan nie vir jou om die geld nie, maar om die beginsel.
Miskien is jy bang hulle praat van jou as die man wat die kans deur sy
vingers laat glip het. Ek dink ek verstaan ’n man se trots. Dus: Ek kan
miljoene verdien, jou persentasie op die transaksie is baie hoër en jy hou op
om soos ’n gekweste leeumannetjie hier rond te loop.”
Ragel glimlag selfvoldaan.
Dirk staar na haar, sy mond effens oop in verbasing. Dan gooi hy sy kop
agteroor en lag. ’n Kelner by die deur kyk verbaas op. Ragel se hart spring.
Sy wag al die hele naweek lank vir daardie lag. Maar lag hy vir haar plan?
Dirk se lagbui bedaar. “Ek neem aan jy is vasbeslote.”
“Definitief.”
“Ragel Bergh, ek het jou onderskat. Heeltemal. Jy is nie die eienares van
’n boekwinkeltjie nie, jy is ’n sakereus, ’n vrou met visie, ambisie.”
Sy sien hoe Dirk se blou oë skielik skitter, hoe sy lewenslus in elke nuanse
van sy gesig en lyf terugkeer. Sy wens hy wil haar vat . . .
Dan is hy ernstig. “Weet jy wat jy doen?”
“Natuurlik. Daar is mos nie risiko nie.”
“Nee, daar is nie. Die Duitsers sal koop. Maar jou geld. Is dit nie vas belê
nie?”
“Die meeste daarvan is in aandele. Ek sal Maandag met my rekenmeester
gaan praat. Dit behoort alles binne twee weke los te wees. Daar is ’n vaste
belegging op drie maande kennisgewing by die bank, maar ek het oortrokke
geriewe vir dieselfde bedrag.”
Dirk skud weer sy kop in ongeloof. “Uitgeslape. En ek het gedink ek ken
jou.”
Ragel geniet elke oomblik.
Skielik frons hy. “Ek waardeer wat jy wil doen meer as wat jy ooit kan
dink. Maar jy moet my posisie verstaan. Ons sakegemeenskap is maar klein.
Die oomblik dat dit bekend word dat ek my geliefde bevoordeel het ten koste
van ’n vorige sakevennoot, sal niemand my weer vertrou nie.”
Sy hoor die woord, maar bepaal haar by die punt. “Daar is geen rede
hoekom die hele Kaap moet weet ek was die vorige eienaar nie.”
Dirk is ernstig. “Jy sal jou rekenmeester moet vertel waarom jy skielik ’n
driekwartmiljoen kontant wil hê. En dan is daar nog jou prokureur, jou
bankbestuurder . . .”
Ragel vererg haar effens. “Dirk, hou op met dink ek is net ’n
grootoogmeisie in die man se sakewêreld. Ek het ook al ’n paar dinge geleer.

Ek hoef niemand hiervan te vertel nie. Nie eens my rekenmeester nie. Ek kan
direk met die makelaars praat. Die prokureur is ’n probleem. Iemand moet
seker die koopkontrak opstel, die aktes behartig?”
“En ek ken ’n betroubare een wat sy mond sal toehou.”
Dirk glimlag breed. Hy kyk haar diep in die oë en skud sy kop van kant tot
kant. Dan sit hy sy hande om haar nek en trek haar bo-oor die skaakbord
saggies nader. “Jy is ongelooflik,” sê hy. En hy soen haar met drif. Ragel
hoop die kelner kyk anderpad, want dié geleentheid gaan sy nie misloop nie.
Dirk staan op en vat haar hand. Sy oë lewe. “Kom,” sê hy, sy stem skielik
grof. Hy stap in die gang af en met die trap op, groot, doelgerigte treë. Ragel
se hart klop in haar keel. Sy moet drafstap om by te bly, om haar hand in sy
sterk greep te hou.
Dirk bewe effens as hy sy kamerdeur wil oopsluit. Wanneer hulle binne is,
trek hy haar byna hardhandig nader. Haar asem jaag van die hardloop en die
afwagting. Hy kreun terwyl hy haar soen, sy hande besig met haar bloes se
knope. Ragel wil sy hemp oopvlek, haar lippe teen sy bors druk, haar bors
teen sy bors druk. Hy tel haar op en lê haar op die bed neer.
Haar vingers raak verstrengel in die dik blonde hare as sy sy kop nader
trek.
Ragel is eers weer die Sondagoggend alleen wanneer sy na haar kamer moet
gaan om reg te maak vir ontbyt. Sy betrap haarself dat sy met ’n groot
glimlag in die vuurwarm bad lê en die gebeure van die afgelope dag herleef.
Sy het nog nooit ’n minnaar soos Dirk Buchner beleef nie. Hy het dinge met
haar gedoen wat haar laat skree het, en laat lag het. Hy was sag – en soms
nié. Hy was hoflik, dringend, skeppend, ervare, spitsvondig, liefdevol,
wonderlik. Sy is nog nooit só geheel en al bemin nie.
Dan besef sy hulle het die vorige oggend laas geëet en sy is rasend honger.
Sy bad vinnig klaar en trek aan. Dirk kom haal haar en hulle loop hand in
hand die trap af. “Dis aansienlik stadiger as toe ons opgekom het, nè?” Ragel
lag uitbundig.
Sy kan nie haar oë van hom afhou nie. Tussen elke gereg hou sy Dirk se
hand vas. Sy kan nie ophou met glimlag nie. Sy wil aan hom behoort.
Laatmiddag, met die rit huis toe, tref hulle finale reëlings vir die transaksie.
By haar huis, met vol bekers koffie wat koud word en die reën wat teen die
ruite sif, maak sy weer haar lyf sag en oop vir hom.
Hy kom haal haar net ná tien by die winkel. Frikkie probeer om die innige
soen waarmee sy Dirk groet, mis te kyk, maar sy frons verdiep. Hy het

onmiddellik besef dat Ragel blind verlief is toe sy ’n uur later as gewoonlik
by die winkel opdaag en oor niks en niemand anders as Dirk Buchner en hul
wonderlike naweek saam kan praat nie.
Dirk ry eers Kampsbaai toe. “Jy moet sien wat jy koop. Jy moet die erf se
sand tussen jou tone voel en besluit of dit regtig is wat jy wil doen.”
Ragel hou sy hand so styf vas dat hy amper nie die Porsche se ratte kan
verwissel nie.
Die sake-erf is groter as wat sy gedink het en die uitsig oor die Atlantiese
oseaan is oneindig. Ragel is gek na die plek.
“Verstaan jy nou waarom ek dit nie vir R750 000 kan laat gaan nie?”
Ragel soen hom.
Sy prokureur se kantoor is hoog in een van die Strandgebied se nuwe
toringblokke. Jankowitz en Van Sitterd staan op die deur. Die ontvangslokaal
is ruim en modern gemeubileer. Die rooikopontvangsdame sou beeldskoon
gewees het as dit nie vir haar oormaat grimering was nie.
Sy kom met ’n groot glimlag om die toonbank gestap. “Môre, meneer
Buchner. U moet juffrou Bergh wees. Meneer Van Sitterd wag al vir u. Kom,
stap gerus deur.”
Dirk groet hoflik. Die ontvangsdame hou die deur oop en hulle stap in ’n
reusekantoor in, waar ’n ewe groot man met ’n welige pikswart baard agter ’n
tamaai lessenaar sit.
“Dirkie,” sê hy joviaal en staan op, ’n groot hand uitgestrek.
“John, ek wil hê jy moet my aanstaande ontmoet. Ragel Bergh, dit is my
vriend, John van Sitterd.”
Ragel hou dadelik van die groot man met die baard.
“Now I know why you waited so long, Dirkie. It was worth it.”
Ragel bloos. Van Sitterd fluister vir haar agter ’n teatrale hand. “Hy was
maar sku vir vroumense. Te blêddie bangbroek.”
Ragel lag en Van Sitterd bulder. “Kom sit, kom sit. Mister Cartwright sal
nou enige oomblik hier wees.”
Dirk en Van Sitterd raak dadelik aan die gesels oor die kontrak. Ragel
luister met een oor. Sy besef Van Sitterd het ’n grap gemaak oor Dirk se
skuheid vir vroue, maar sy weet daar is ook waarheid in. En sy hou daarvan.
’n Rukkie later bring die ontvangsdame vir Cartwright in. Hy is ’n bejaarde
man met staalgrys hare en ’n militaristiese, potlooddun snorretjie. Hy praat in
kort sinsnedes en ’n swaar aksent.
Hulle drink eers tee. Dirk en Van Sitterd doen die meeste geselswerk,

terwyl Cartwright met sy hande op sy kierie leun en met ’n skewe kop sit en
luister. Ragel vermoed dat hy effens doof is.
Die ontvangsdame bring die kontrak in en Van Sitterd behandel dit stukkie
vir stukkie met hulle. “Ragel, jy het onmiddellik vervreemdingsreg op die
grond, maar enige kontrakte wat jy ná vandag aangaan, sal net regsgeldig
wees as die voorwaardes van die kontrak tussen jou en mister Cartwright
nagekom word. You understand that, mister Cartwright?”
Cartwright leun vorentoe. “How’s that?”
Van Sitterd verduidelik die bepalings weer geduldig aan die gryskop man.
Dan begin hulle met die langsame proses van ondertekening. Wanneer
Cartwright die pen eindelik ná ’n laaste stylvolle handtekening neersit, kyk
hy vir die eerste keer in Ragel se oë. “Congratulations, my dear. May that
little piece of earth bring you much joy.”
Ragel reageer outomaties met ’n dankie, maar sy voel skielik vreeslik
skuldig. As dié waardige man moet weet waarom sy dit regtig gekoop het . . .
“Just one small favour,” vra Cartwright.
“Anything.”
“Please try to conclude the transaction as soon as possible. I want to go
home.”
Nou het Ragel ’n knop in haar keel. Hy wil só graag terug Engeland toe
gaan, na sy mense toe, dat hy bereid is om die erf byna verniet weg te gee. En
sy gaan miljoene daaruit maak. Maar vir haar gaan dit darem ook oor ’n mens
...
“I promise you I’ll do my best,” sê sy met oorgawe.
Toe hulle ná ’n plegtige afskeid van Cartwright in die sonlig uitstap, wil
Dirk met alle geweld die transaksie met middagete gaan vier.
“Ek het nog nie eens begin reël aan die geldsake nie. En jy het gehoor hoe
mooi Cartwright gevra het vir gou maak,” pleit sy.
Dirk glimlag vir haar. “Dat só ’n beeldskone vrou só ’n klein hartjie moet
hê. Wat van aandete? By my plek. Dirk Buchner se beroemde spaghetti met
swartmossels in ’n rooiwynsous.”
“Die beeldskone vrou met die klein hartjie en die groot maag,” lag Ragel.
“Jy weet waar my swak plekke lê. Ek kan nie wag nie.”
“Sien jou teen sewe-uur.”

6
“Mignon het gebel, jou broer soek jou al van Saterdag af, twee kliënte is
kwaad omdat hulle so sukkel om jou in die hande te kry en . . . en dit is al,”
sê Frikkie sodra sy weer by die winkel ingewaai kom.
Sy vererg haar so effens vir sy stemtoon. “Hulle kan almal maar so ’n klein
bietjie wag. Ek is met iets groots besig, maar dit is al amper verby.”
“Sal dit ooit verby wees?”
Ragel is op haar perdjie. “Wat bedoel jy?”
Frikkie gee die stryd gewonne. “Niks nie,” mompel hy en draai weg.
Maar Ragel se bloed kook. “Nee, kom praat dit uit. Ek sien jy loop die
afgelope tyd met jou ken op jou bors. En ek is nou moeg daarvoor. As daar
iets is wat jou pla, moet jy mans genoeg wees om daaroor te praat. En nie net
skimpe te gooi nie.”
Frikkie se oë rek vir haar uitbarsting. “Ek is jammer,” sê hy sag. Sy gebrek
aan aggressie haal die wind uit haar seile.
“Asseblief, Frikkie. Ek is regtig besig met ’n groot ding, maar ek mag niks
sê nie.”
Frikkie knik sy kop instemmend, maar sy oë is soos dié van ’n getroue ou
hond wat onnodig pak gekry het. Ragel sug en stap na haar kantoor.
Haar eerste oproep is na die aandelemakelaar wat haar sake hanteer.
Daarna gesels sy amper ’n driekwartier met haar bankbestuurder. Sodra sy
die telefoon neersit, lui dit onmiddellik.
“Ek neem aan jy sou my al vroeg vanoggend gebel het as die naweek die
moeite werd was,” sê Mignon.
“Haai. Ek moet bieg – dit gaan dol.”
“Wel?”
“Wel wat?”
“Ragel Bergh, jy is besig om my te tart. Het hy of het hy nie?”
“Ek is jammer, juffrou Van der Merwe, maar dit is geklassifiseerde
inligting.”
Mignon gil aan die ander kant. “Hy het! Ek weet hy het. Ek kan dit aan jou
stemtoon hoor. Jy klink so onderdanig. Maak jy al sy skoene skoon?”
“Dit was nie nodig nie.”
Mignon bly vir ’n oomblik oorbluf stil. “Dis ’n grap, Ragel. Onthou jy?

Wanneer iets snaaks is?”
“Ek is nou moeg daarvoor dat jy alewig besig is om Dirk af te kraak. Ek
kan dit nie verstaan nie. Frikkie is net so negatief.”
Dié keer neem dit Mignon nog langer om oor haar verbasing te kom. Ná ’n
rukkie stilte sê sy: “Luister, dit is Maandag. Kom ons probeer môre weer om
dié gesprek voort te sit. Dalk voel jy beter.”
“Ek voel baie goed. Daar is niks met my verkeerd nie,” sê Ragel vies.
Mignon sug en groet. Ragel sit die telefoon neer met ’n groot frons.
Hoekom is almal skielik so vyandig? Kan hulle nie besef dat sy onder druk is
nie? Dit is ’n groot transaksie – die grootste waarby sy nog betrokke was. En
sy kan nie eens daaroor praat nie. Behalwe met Dirk. Hy sal verstaan. En sy
moet nog tot vanaand wag om hom te sien.
Die res van haar dag is vol frustrasie. Sy is in die winkel vasgekeer saam
met Frikkie wat sy oë gedurig verwytend op haar rig soos ’n gekweste dier.
Boonop sukkel sy om te konsentreer wanneer kliënte kom gesels.
Teen vieruur kan sy dit nie meer hou nie.
“Frikkie, dit is regtig ’n blou Maandag. Ek gaan in ’n warm bad klim,”
maak sy verskoning.
Sy slaan die MG se dak terug en kies koers Houtbaai toe, al langs die see
af.
Ragel se gedagtes maal. Daar het in die laaste 24 uur só baie gebeur. Doen
sy die regte ding? Het sy nie met die voorstel dat sy die erf sal koop, te gou
haar gevoelens vir Dirk gewys nie? Sy gee nie ’n duiwel om vir die geld nie.
Sy wil net nie vir Dirk verloor nie. Nee, dit is nie heeltemal eerlik nie. Die
geld sal heerlik wees. Net die idee om so baie geld te kan besit . . .
Die wind deur haar hare wil nie help om die spinnerakke weg te waai nie.
Sy besluit om vanaand met Dirk te praat. Hy sal verstaan. Sy draai die MG
om en ry huis toe.
Die eerste groot verrassing is toe hy haar kom haal en sy hom skaars kan
sien agter die reuse bos blomme in sy arms.
“Sit dit net eers in die water. Ons gaan dadelik ry. Ek het iets wat ek met
jou wil bespreek,” sê Dirk ernstig.
Ragel skrik. Maar sy doen meganies wat hy sê.
Wanneer hulle by Dirk se woonstel kom, laat hy haar op die rusbank sit en
maak dadelik ’n bottel sjampanje oop. Hy kom sit langs haar en skink twee
glase.
“Op jou nuutgevonde rykdom.”

Sy klink haar glasie. “Jy wou iets met my bespreek het.”
Toe kom die tweede verrassing.
“Ja.” Dirk skuif nader. “Jy het nie ’n goeie dag gehad nie, nè?”
“Kan ’n mens dit só maklik sien?”
Dirk glimlag. “Jy was onseker of jy die regte besluit geneem het,
deurmekaar oor die hele spul, bekommerd dat jy al jou geld in een neseier
belê.”
Nou glimlag sy vir die eerste keer. “Hoe op aarde weet jy dit?”
“Luister, dit is my werk om te weet. Elke transaksie wat ek beklink, het
dieselfde uitwerking op mense wat nie elke dag by sake van dié grootte
betrokke is nie. Jou gevoelens is doodnormaal. Die rede daarvoor is dat die
opwinding vir eers verby is. Maar moenie jou bekommer nie. Die groot
euforie kom wanneer jy die Duitsers se tjek in jou hand vashou. Dit sal dit
alles die moeite werd maak.”
Ragel se hande gly om Dirk se nek. “Ek verdien jou nie. Ek voel al klaar
beter.”
Hy soen haar vinnig. “Daar is nog nuus.”
“Kan dit nie wag nie?”
Dirk lag. “Dit kan.”
Laataand eet hulle Dirk se pasta voor die kaggel.
“Jy moes nooit ’n transaksiemakelaar geword het nie. Die voedselbedryf
het een van sy grootste seuns verloor,” sê Ragel.
“Met sulke vleitaal kan jy ’n tweede porsie kry.”
“Jy het vroeër gesê daar is nog nuus.”
“Vroeër?” terg hy.
“Ja, Dirk, net voor ek jou skaamteloos in die sitkamer verlei het.”
“Mmmmm . . . Ek onthou vaagweg so iets.”
Sy dreig hom met die pastavurk. “Praat.”
Hy leun vorentoe om haar te soen, maar sy laat haar nie van stryk bring
nie. “Vergeet dit. Ek laat my nie soen deur ’n man met mosselsous in sy snor
nie.”
Dirk gooi sy kop agteroor en lag daardie uitbundige lag wat Ragel soveel
intense genot gee om dop te hou.
Wanneer sy lagbui bedaar, vertel hy haar. “Ek het vanoggend ’n lang
telefoongesprek gehad met Otto Muller, die ontwikkelingsdirekteur van die
hotelgroep. Hulle is bereid om ’n onmiddellike opsie op die erf te neem, met
’n kanselleringsklousule van twee miljoen.”

“Stadig nou. ’n Kanselleringsklousule. . .?”
“Ja. Hulle is so gretig om die erf te bekom, en natuurlik jou te verhoed om
aan iemand anders te verkoop, dat hulle die klousule in die opsiekontrak wil
insit. Dit sal beteken dat jy in elk geval twee miljoen sal kry, al besluit hulle
uiteindelik om nie die erf te vat nie.”
Sy soen hom op sy snor. “Dirk, dit is ongelooflik.”
“Alles deel van die diens, juffrou Bergh.”
“Ek het ook darem goeie nuus. Ek het vanoggend met my makelaar en
bankbestuurder gepraat.”
“En . . .?”
“En ek kan die tjek teen Vrydag hê.”
“Cartwright gaan jou vir ewig dankbaar bly.”
“My makelaar was ’n groot hulp. Hy het aangebied om met ondertekening
van die nota en oorhandiging van die sertifikate dadelik te betaal, al is die
verkoop van die aandele nog nie deur nie. By die bankbestuurder was dit
ietwat moeiliker.”
“Hoe so?” sê Dirk besorg.
“Die aandelemark is blykbaar op die oomblik glad nie te stewig nie. Ek
sou saam met die opbrengs uit die aandele en die toegelate oortrokke geriewe
by die bank nog ’n honderdduisend kort wees van R750 000.”
Dirk stort rooiwyn op die mat.
“Moenie bekommerd raak nie. Ek het lank met my bankbestuurder gepraat.
Hy sal die oortrokke limiet opskuif – met my huis as sekuriteit. Ek skuld niks
op die huis nie.”
“Jy het my vir ’n oomblik groot laat skrik. Weet jy hoe kan Cartwright jou
ry as jy nie die koopprys kan betaal nie?”
“Ek kan net dink. Maar alles het mooi uitgewerk. My makelaar en
bankbestuurder vrek natuurlik van nuuskierigheid oor wat ek met die geld wil
doen.” Sy maak haar stem dik. “Juffrou Bergh, jy moet maar versigtig wees.
Ek hoop jy weet wat jy doen.”
“Ek weet wat ek gaan doen,” glimlag Dirk. “Ek gaan nog spaghetti kry.
Wat van jou?”
Die kanonskote van die 1812-ouverture versteur die winkel se vrede wanneer
Ragel eers ná elf inkom. Frikkie is besig met kliënte.
’n Vlaag van skuldgevoelens spoel oor haar. Sy het die nag by Dirk
deurgebring en nog boonop saam laat opgestaan en by ’n spoghotel in
Kampsbaai gaan ontbyt eet. Geen wonder die arme Frikkie is vanoggend op

die oorlogspad nie. Sy sal ongetwyfeld meer tyd in die winkel moet begin
deurbring.
As Ragel by haar kantoor instap, onthou sy ook die onsmaaklike gesprek
wat sy met Mignon gehad het. Wat gaan deesdae aan met my? vra sy
haarself. Sy skakel dadelik.
“Ek is jammer oor gister.”
“En met reg ook,” sê Mignon verontwaardig. “As dit is wat seks aan jou
doen, moet jy ’n oujongnooi word.”
Ragel lag lank. “Nee, dit was iets anders. Maar dit gaan nou beter.”
“Is hy goed vir jou? Is dit iets wat hy gedoen het?”
“Nee, man, Dirk Buchner is die wonderlikste mens wat ek nog ontmoet
het.”
“Sluit dit my ook in?”
“Sonder enige twyfel.”
“Nou wanneer kry ek die geleentheid om Meneer Wonderlik te ontmoet?
Eers op die onthaal ná die troue?”
“Haai wraggies, jy het nog nie eens vir Dirk ontmoet nie.”
“Kom drink vanaand iets. E . . . wyn . . . koffie . . . Wat drink Meneer
Perfek? Mineraalwater?”
“Jy is mal. Hy drink rooiwyn, verkieslik Roodeberg of Kanonkop Cabernet
Sauvignon, maar sal ook sy perfekte lippe aan ’n glasie whisky slaan – as dit
suiwer Skots is. Vroegoggend drink hy vars gemaakte filterkoffie, verkieslik
Jamaican Blue Mountain. Deur die dag verkies hy . . .”
“Asseblief, asseblief! Die uitnodiging is net vir vanaand, nie vir ’n week
nie.”
Ragel lag weer. “Ek sal net met Dirk moet praat. Ek weet nie of hy al
planne gemaak het nie.”
“Nou bel hom gou, dan bel jy my terug.”
Ragel besef met ’n skok dat sy nog nie Dirk se telefoonnommer by die
werk of die huis gevra het nie. Hy het háár nog net gebel.
“Hy . . . e . . . is nie nou beskikbaar nie. Maar ek sien hom vir middagete.
Ek bel jou ná twee.”
Wanneer sy die telefoon neersit, sien sy die kliënte by die deur uitgaan.
Ragel besluit om die vrede met Frikkie ook te herstel. Sy stap by die kantoor
uit. Frikkie se lessenaar is in ’n ander hoek van die winkel. Dit is pynlik
netjies reggepak. Hy is besig om die verkope aan te teken.
“Frikkie, ek weet ek was nie die afgelope tyd ’n baie betroubare kollega

nie . . .”
Hy kyk nie op van sy werk af nie. Sy stemtoon is neutraal. “Jy is die baas.”
“En nie ’n baie goeie een nie. Luister, ek is jammer. Dit is net . . . Ek het
vir baie maande niks anders as die winkel, vir jou en vir Mignon gehad nie.
Jy weet daar was ander vriende, maar . . .”
“Dit het niks met my te doen nie,” sê Frikkie ongemaklik. “Jy hoef nie te
verduidelik nie.”
“Ek weet, maar ek wíl graag. Want ek gaan Dirk nog lank sien – miskien
nog báie lank. En hy het my lewe verander.” Ragel sien Frikkie kyk weer af
sodra sy van Dirk praat. “Jy hou nie van hom nie, nè?”
Frikkie bloos bloedrooi. “Dit maak niks saak nie.”
“Jy sal van hom hou as jy hom beter leer ken. Hy is regtig . . . Niemand het
nog ooit soveel vir my omgegee nie, soveel vir my gedoen nie. Hy . . .”
Frikkie konsentreer sterk op die pen in sy hand wat hy om en om draai. Hy
kyk steeds nie op nie. “Ek is bly as jy gelukkig is.”
Ragel gee moed op. Sy weet Frikkie is ’n introvert wat moeilik sy emosies
wys. “Ek sal regtig probeer om ’n beter kollega te wees. Wat is daar wat ons
moet doen?”
Nou is Frikkie weer op bekende terrein. Hy kyk verlig op. “Daar is ’n
klomp tjeks wat jy moet teken, ons het nege navraagbriewe om te beantwoord
. . .”
Hy rits ’n hele lys take af. Ragel sleep ’n stoel nader en hulle begin werk.
Toe sy later na haar kantoor terugstap, hoor sy Frikkie sit ’n nuwe CD op –
Vivaldi se Vier Seisoene. Sy glimlag.

7
“Moet ons regtig gaan?” vra Dirk. Hulle sit op ’n bankie in die Tuine. Dirk
het ’n mandjie by ’n restaurant laat pak – toebroodjies met ’n verskeidenheid
vulsels: gerookte salm, dun skyfies Italiaanse salami, gekerfde koedoebiltong.
Daar is ook baba-agurkie-en-tamatieslaai, vier soorte kaasblokkies en ’n
bottel yskoue Grand Cru.
“Mignon is my beste vriendin. En ek wil graag spog met jou.”
Hy staar voor hom uit. Ragel het nie dié reaksie verwag nie. ’n Eekhoring
kom nader geskarrel en snuif die lug nuuskierig. Ragel haal ’n agurkie uit die
plastiekbakkie en bied dit vir die eekhoring aan.
“Moenie die goed voer nie. Hulle is ’n plaag,” sê Dirk. Ragel skrik vir sy
onverwagte uitbarsting.
“Ek . . . ek is jammer.” Sy sit die agurkie terug in die bakkie. Die
eekhoring kom nader.
Dirk draai skielik na haar en neem haar hand. “Nee, ek is jammer. Dit was
heeltemal onnodig.” Sy stem is sag.
Ragel sê niks. Sy is nog verward. Dit is ’n deel van sy persoonlikheid
waarvan sy nog min gesien het.
Hy lê sy hand liggies teen haar wang, draai haar kop na hom. “Jammer. My
probleem is dat ek bang is om aan jou vriende voorgestel te word.”
“Jy? Bang?”
“Ek is bang ek stel jou teleur. Sê nou maar hulle hou nie van my nie. As
Mignon nie van my hou nie, sal jy my weer wil sien? Julle is al só lank
vriende. Ek kan nie daarteen baklei nie. Verstaan jy?”
Ragel kry hom skielik baie jammer. “Ek verstaan. Ek het net nooit besef
nie. Jy is gewoonlik so selfversekerd.”
“Daar skort niks met my selfvertroue nie. Maar jy weet hoe mense is. Jy en
Mignon was gedurig bymekaar. En nou hou ek jou van haar af weg. Dit sal
haar uit die staanspoor negatief maak.”
Die eekhoring staan regop voor hulle. “Toe, gee hom die agurkie. Ek was
net nukkerig.”
Ragel glimlag en druk sy hand styf in hare. Sy gee ’n agurkie vir die
diertjie. “Jy sal van Mignon hou en sy sal van jou hou. Jy sal sien.”
Sy teken dié middag die makelaarsnota met ’n bewende hand.

“Jy weet wat jy doen?” sê-vra Andy Cappriccio, by almal op die
effektebeurs bekend as Andy Capp. Hy is ’n middeljarige Italianer, kort en
bonkig, met ’n groot, ronde gesig onder ’n bleskop.
“Ek weet wat ek doen, Andy. Die beurs is nou te dood.” Ragel begin die
klompie sertifikate een vir een oorhandig, asof sy van elkeen afskeid wil
neem.
Andy gooi sy hande in die lug. “Mamma mia, jy behoort beter te weet. As
hy afkom, moet hy opgaan.”
“Ek weet. Maar ek het iets wat baie vinniger opgaan.”
Cappriccio gee haar ’n afskrif van sy berekeninge. Hy beduie na die syfers.
“Dit is wat jou aandele werd is, dit is wat ek kry en dit is wat jy kry. Reg so?”
“Reg so.”
Cappriccio kyk haar bekommerd aan. “Ragel, dit is baie geld dié. Meer as
’n halfmiljoen rand.”
Sy glimlag trots. “Dit is, nè.”
“En dit pla jou nie?”
“Hoekom moet dit my pla, Andy? Oor ’n week of twee . . . nee, ek mag
niks sê nie.”
Hy vou sy hande saam op die lessenaar. “Daar is net twee maniere om geld
te maak, Ragel. Werk daarvoor, of erf dit. Vinnig ryk word bestaan nie, ook
nie op die aandelebeurs nie. As iemand jou iets anders vertel, lieg hulle.”
Ragel frons. “Andy, ek weet wat ek doen.”
“Okay, okay. Ek en jou pa het jare lank besigheid gedoen. Ek moet na jou
kyk.”
“Ek waardeer dit, Andy. Maar ek is al mooi groot.”
Cappriccio haal die tjek uit die lêer en sit dit in ’n koevert. “Mooi en groot,
ja. My seun, Gio, hy werk op ’n wynplaas. Ek kan hom aan jou voorstel?”
Dirk skakel wanneer sy al amper reg is om gehaal te word. “Ek is vreeslik
jammer. ’n Transaksie het opgeduik in Durban. Ryk Indiër wat vier skaars
sportmotors wil verkoop. Ek kan vanaand eerste opsie kry. Ek vlieg oor ’n
uur.”
Ragel aanvaar dit gelate. Sy besef sy sal aan Dirk se onvoorspelbare
werkslewe gewoond moet raak. Dan onthou sy. “Ek het nie jou
telefoonnommer nie. Ek wou jou al ’n duisend keer bel die afgelope paar
dae.”
Dirk lag aan die ander kant. “Ek bel jou ook só baie, jy sal skaars kan
deurkom.”

Hy gee haar sy huisnommer. “Daar is niemand by die kantoor om
boodskappe te neem nie, net ’n masjien. En ek bel jou lank voor ek die ding
terugspeel.”
“Gee dit ook maar. Net vir die wis en die onwis.”
“Ragel, dit is onnodig. Sien jou môreaand.”
Hy sit die telefoon neer. Ragel is teleurgesteld. Sy wou hom nog vertel sy
kan die tjek ter waarde van R750 000 al die volgende dag uitskryf, sodra sy
vorms by die bank geteken het. Maar sy begin al hoe meer besef dat Dirk se
werk ’n baie sterk invloed op sy buie en nukke het.
Ragel besluit om alleen vir Mignon te gaan kuier. As sy net met iemand
anders oor die transaksie kon praat. Maar as Dirk dit moet uitvind . . .
Die bankbestuurder staan agter sy lessenaar op wanneer Ragel instap. Dit is
al weer ’n nuwe een, dink sy. Hulle wissel so baie.
Die man steek sy hand uit. “Ian Snyman. Dit is ’n voorreg om een van ons
topkliënte te ontmoet, juffrou Bergh.”
Snyman is ’n man van gemiddelde lengte, in sy laat dertigerjare, met ’n
goueraambril en yl swart hare. Terwyl Ragel sy hand skud, wonder sy of
almal wat met geld werk, hul hare vroeg verloor. Miskien die
bekommernisse. Sy kan daarmee identifiseer.
“Sit gerus. Al die vorms is voorberei. Dit sal net ’n oomblik neem.”
Snyman verduidelik aan haar wat die vorms beteken.
“Omdat u so haastig is vir die geld, gaan ons nie ’n verband registreer op u
huis nie. Maar hiermee verkry ons sekuriteit. Net vir ingeval. U het gesê die
oortrokke gerief is net vir drie maande, nè?”
“As dit só lank gaan wees.”
Hy wys haar waar om te teken. “Juffrou Bergh, met oortrokke geriewe
weet ons nie waarvoor u die geld gaan aanwend nie. Verskoon dat ek vra,
maar het u kundige raad ingewin oor die hele saak?”
Sy glimlag. Almal is so bekommerd oor haar. As sy ’n man was, sou dit
bes moontlik anders gewees het. Maar as sakevrou is sy al daaraan gewoond.
Seksuele diskriminasie van ’n ander aard. Sy teken oral waar Snyman se pen
vir haar wys.
“Ek het kundige raad. Baie kundig. Ek kan u verseker – my rekening gaan
binnekort aansienlik anders lyk.”
Ragel haal Cappriccio se tjek uit haar aktetas. “Ek sal bly wees as u dié
tjek onmiddellik in my rekening sal inbetaal.”
Snyman se oë rek as hy die bedrag sien. “Natuurlik, juffrou Bergh,

natuurlik.”
Hy maak ’n aantekening op ’n skryfblok. Dan kyk hy op. “As daar enigiets
is wat ons vir u kan doen, moet u net praat.”
“Daar is. Ek gaan vandag of môre ’n tjek vir ’n transaksie uitskryf. Ek sal
bly wees as u dit so spoedig moontlik sal uitbetaal.”
“Natuurlik.” Snyman hou sy pen gereed. “Gee my net die besonderhede
van die transaksie.”
Sy besef dit kan nie kwaad doen om Cartwright se naam te noem nie. “Ek
koop eiendom van ’n meneer Cartwright. Die prokureurs sal seker die
betaling finaliseer.”
Snyman skryf vinnig en netjies op die skryfblok. “Laat die prokureurs net
met my persoonlik skakel wanneer hulle die tjek vir betaling aanbied. Ek sal
sorg dat die geld onmiddellik uitbetaal word.”
Ragel staan op. “Meneer Snyman, u diens is onberispelik. Baie dankie.”
Snyman glimlag van oor tot oor. “Net die beste vir ons topkliënte, juffrou
Bergh, net die beste.”
Ragel kan die prokureursfirma Jankowitz en Van Sitterd glad nie in die
telefoonboek opspoor nie. Sy wil graag die tjek gaan aflewer en die
transaksie afhandel. Sodra sy haar hand na die telefoon uitsteek om navrae te
skakel, lui dit.
“Bergh Boeke.”
“Haai, dit is ’n berg verlange hier.”
“Dirk! Is jy terug?”
“Nou net gekom. Ek stort net gou, d