اصلی Feniks

Feniks

,
0 / 0
How much do you like this book?
What’s the quality of the file?
Download the book for quality assessment
What’s the quality of the downloaded files?
کال:
2012
خپرندویه اداره:
NB Uitgewers
ژبه:
afrikaans
فایل:
EPUB, 439 KB
کاپی کول (epub, 439 KB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie2287
het1733
van1558
dit1307
haar1032
wat911
vir720
maar631
hom625
kan502
toe492
gaan474
ons403
aan383
moet371
daar359
weet351
deur349
uit345
net342
nog329
kyk316
een313
sal309
oor309
wil306
sien302
dan299
jou291
weer277
nou273
wit268
voor254
kom245
dat241
maak236
soos226
dink207
hoe201
hier198
teen192
laat190
stap180
tot178
wees171
vra169
twee167
ook166
kry159
1 comment
 
Susan Stevens
Koors please van deonn meyer
28 October 2020 (14:57) 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Hands-On Recommendation Systems With Python

سال:
2018
زبان:
english
فائل:
PDF, 8.09 MB
0 / 0
2

Positioning: The Battle for Your Mind

سال:
2001
زبان:
english
فائل:
PDF, 1.69 MB
0 / 0
Aan kapt. Peter Lister en sers. Jeff Benzien van Moord en Roof in Kaapstad, baie dankie; ook aan maj. Otto, afgetrede SAP-wapendeskundige, en prof. Jan Olivier, voormalige hoogleraar in geregtelike geneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat.





Aan elke lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens





Elke saak, elke dossier is soos om ’n krans uit te klim. Soms is die vashouplek, die trapplek maklik en jy vorder vinnig tot bo by die kruin, waar jy die lasbrief oorhandig, ’n netjiese pakkie van motief en bewysstukke, oorsaak en gevolg. Maar soms, soos dié een, is die krans glibberig en glad, sonder skeure waar jy voete en hande kan inwikkel. Jy klim en jy gly, klim en gly sonder vordering, sonder ’n pad na bo.





“Tutta la vita è morte.”

– GIUSEPPE VERDI





Een




In die middagstilte van 31 Desember dink Mat Joubert aan die dood.

Sy hande maak die dienspistool, die Z88, met meganiese bewegings skoon. Hy sit in sy sitkamer, vooroor in die leunstoel, die onderdele van die pistool op die koffietafel voor hom, tussen laprepe, borsels en ’n oliebuis. ’n Sigaret in die asbak skei ’n lang, dun pluim rook af. Bo hom, by die venster na buite, vlieg ’n heuningby met eentonige reëlmaat teen die glas vas, ’n irriterende poging om uit te gaan na die somermiddag waar die suidoos liggies waai.

Joubert hoor dit nie. Sy bewussyn sleep koersloos tussen herinneringe van die afgelope weke deur, tussen kronieke van die dood, sy brood en botter: Die wit vrou op die kombuisvloer, op haar rug, skepspaan in haar regterhand, omelet verbrand op die stoof, die bloed ’n bykomende spatsel kleur in die aangename vertrek. In die sitkamer, die seun, negentien, in trane. “Dit was ’n ongeluk. Die Here hoor my.” Die R3 240 in sy leerbaadjie se sak, die dik rol note, ’n klagstaat.

Die man tussen die blomme: ’n makliker herinnering. Die Dood Met Waardigheid. Hy sien weer die speurders en uniformmanne op die oop nywerheidserf, tussen die grou fabrieksgeboue. Hulle staan in ’n kring, kniediep tussen die veldblomme wat geel en wit e; n oranje na bo beur. In die middel van die geregtelike sirkel lê die lyk van ’n middeljarige bruin man, klein van gestalte. ’n Leë bottel brandspiritus in een hand vasgeklem, die gesig na onder, die wang teen die grond.

Maar sy oë is toe. En sy ander hand omvou ’n paar blomme, nou verwelk.

Dit is die hande wat Mat Joubert die beste kan onthou.

Op Macassar se strand. Drie mense. Die stank van verbrande rubber en verkoolde vlees wat steeds in die lug hang, die groep van die gereg en die media wat windop laer trek teen die grusaamheid van veelvuldige halssnoermoorde.

Die hande. Kloue. Uitgestrek na die hemel in ’n versteende pleidooi vir verlossing.

Mat Joubert is moeg gelewe. Maar hy weet hy wil nie só doodgaan nie.

Sy hande plaas vyftien kort, vet 9 mm-patrone een vir een met duim en middelvinger in die magasyn. Die laaste een blink ’n oomblik lank in die middagson. Hy hou die patroon ooghoogte, duim onder, wysvinger bo, en kyk na die roesbruin loodpunt.

Hoe sou dit wees? As jy die donker bek van die Z88 teen jou lippe druk, liggies, sonder om teen die tande te stamp, en jy druk die sneller versigtig, stadig, eerbiedig. Sal jy die loodkoeël voel? Pyn? Gaan gedagtes nog deur die onbeskadigde dele van die brein flits? Jou aankla van lafhartigheid net voor die nag om jou sluit? Of gaan dit so vinnig verby wees dat die klank van die skoot nie eens sal vorder van vuurwapen na oor na brein nie?

Hy wonder: Was dit met Lara só?

Haar lig net afgeskakel sonder dat sy geweet het van die hand by die skakelaar? Of het sy geweet en in die vlietende oomblik tussen lewe en dood alles gesien? Miskien berou gekry, of dalk ’n laaste spotlag laat opklink?

Hy wil nie daaraan dink nie.

Môre begin ’n nuwe jaar. Daar buite is mense met voornemens en drome en planne en geesdrif en hoop vir dié nuwe era. En hier sit hy.

Môre sal dit anders wees, by die werk. Die nuwe man, die politieke aanstelling. Die ander kon oor niks anders praat nie. Joubert gee nie regtig om nie. Hy wil nie meer weet nie. Van die dood en van die lewe nie. Dit is net nog iets om te probeer oorleef, nog iets om mee rekening te hou, nog iets om die fut uit die lewe te pers en die Groot Roofdier nader te lok.

Hy stamp die magasyn hard met die palm van sy linkerhand in die kolf in, asof hy sy gedagtes met geweld wil verplaas. Hy skuif die vuurwapen in die leerskede. Die olie en lappe gaan terug in die ou skoendoos. Hy suig aan die sigaret, blaas die rook in die rigting van die venster. Dan sien hy die by, hoor hy hoe die toonhoogte van die vlerke vanweë uitputting afneem.

Joubert staan op, trek die kantgordyn weg en maak die venster oop. Die by voel die warm wind van buite, maar probeer steeds by die verkeerde paneel ’n pad uit vind. Joubert draai om, tel ’n olielap op en vee versigtig voor die venster verby. Die insek kom tot voor die opening en swiep dan uit na buite. Joubert maak die venster toe en trek die gordyn reg.

Hy kan ook ontsnap, dink hy. As hy wil.

Hy laat dié gewaarwording ook doelbewus wegsyfer. Maar dit is genoeg om hom impulsief te laat besluit. Hy sal vanaand oorstap na die buurtbraai. Net vir ’n rukkie. Vir die oujaar.





Twee




Die eerste stap in die herontwaking van Mat Joubert is fisiek van aard.

Hy stap teen sewe-uur oor die boomryke straat van middelklas Monte Vista na die Stoffbergs se huis. Jerry Stoffberg van Stoffberg en Mordt, begrafnisondernemers in Bellville. “Ons is in dieselfde bedryf, Mat. Net verskillende takke,” sê hy dikwels.

Die deur staan oop. Stoffberg sien Joubert inkom. Hulle groet, vra uit.

“Met die besigheid gaan dit goed, Mat. Goeie tyd, nou. Dit is asof baie van hulle net vasbyt tot ná die feestyd,” sê hy terwyl hy die bier wat Joubert gebring het in die yskas sit. Die ondernemer het ’n voorskoot aan waarop staan WORLD’S WORST CHEF.

Joubert knik net, want hy het dit al gehoor, en draai die prop van die aand se eerste Castle oop.

Die kombuis is warm en gesellig, ’n middelpunt van geesdrif en vermaak. Vrouestemme vul die vertrek. Verkeerspatrone van kinders en mans vorm natuurlikerwys te midde van die vroue se gesprekke en rituele voorbereidings. Mat Joubert navigeer verby na buite.

Sy bewussyn is na binne gekeer, sy waarneming ingetrek soos die voelers van ’n insek. Die warmte en huislikheid gaan by hom verby.

Buite beweeg kinders soos skimme deur poele lig en donker, in eskaders verdeel volgens ouderdom, hoewel verenig deur hul sorgelose uitbundigheid.

Op die donker stoep sit tieners in ’n ongemaklike, selfbewuste niemandsland tussen kindwees en volwassenheid. Joubert sien hulle vir ’n oomblik raak omdat hul lompe pogings om gemaklik voor te kom, hulle verraai. Hulle het oortree. Hy konsentreer tot hy besef waarvoor hulle skerm: die glase op die stoeptafel is gevul met verbode inhoud. Twee, drie jaar gelede sou hy daaroor geglimlag het, sy eie jare van storm en drang onthou het. Maar nou trek hy net weer die voelers in.

Hy gaan staan by die kring van mans om die vuur. Elkeen se paspoort tot die groep is ’n glas in die hand. Elkeen staar na die skaap wat kaal en sonder waardigheid oor Stoffberg se spit draai.

“Jissis, Mat, maar jy is groot,” sê Wessels, persfotograaf, toe Joubert langs hom kom staan.

“Het jy nie geweet hy’s Moord en Roof se geheime wapen nie?” vra Myburgh, Bellville se verkeershoof, van anderkant die vuur. Sy oordadige snor wip met elke woord.

Joubert se gesigspiere trek saam en ontbloot tande, ’n meganiese glimlag.

“Ja, hy’s hulle mobiele padblokkade,” meen Sturridge, die kleinsakeman. Hulle lag met respek.

Kwinkslae en opmerkings word heen en weer oor die sissende skaapvleis gegooi, alles intiem-versigtig vir Joubert se twee jaar oue verlies – broederlike, vrugtelose pogings om sy sluimerende gees te laat herleef.

Die gesprek neem ’n rustige wending, Stoffberg draai die spit en spuit die rooibruin vleis met ’n geheime sous in, soos ’n geneesheer ’n pasiënt. Sport, kwasiseksuele grappe, gemeenskaplike werksprobleme. Joubert skud ’n Winston uit die pakkie in sy hemp se bosak. Hy bied aan vir die mans om hom. ’n Aansteker flikker.

Lede van die vuurkring kom en gaan. Stoffberg draai die spit en ondersoek die vordering. Joubert ontvang nog ’n bier, gaan haal later self nog een. Die vroue se kombuisaktiwiteite het afgeneem. Hulle het oorgespoel na die aangrensende televisiekamer.

Buite konsentreer die gesprek op Stoffberg se skaap.

“Help nie jy spuit hom in nie, Stoffies. Hy’s klaar dood.”

“Ek moet voor sonop eet, Stoffies. My winkel moet môre oop.”

“Vergeet dit. Dié skapie gaan eers in Februarie reg wees.”

“Teen daardie tyd is dit die swart skaap van die familie.”

Joubert se oë volg die gesprek van gesig na gesig, maar neem nie deel nie. Hulle ken hom só, stil. Want selfs voor Lara se dood was hy nie ’n groot prater nie.

Die kinders se stemme raak sagter en die mans s’n harder. Stoffberg stuur ’n gesant na binne om die teken te gee. Die tempo van die byeenkoms verander. Die vroue roep na die kinders en stap met borde, volgelaai met bykosse, na waar Stoffberg die skaap begin opkerf.

Joubert teug aan nog ’n Castle terwyl hy wag vir sy beurt. Die alkohol het ’n mistigheid oor sy sintuie geplaas. Hy is nie honger nie, maar eet uit gewoonte en uit hoflikheid, by ’n tuintafel saam met van die ander mans.

Musiek klink op van binne, die tieners se rock. Joubert bied weer sigarette aan. Vroue kom haal mans om te dans. Die musiek binne verouder stelselmatig, maar die desibels nie. Joubert staan op om nie alleen agter te bly buite nie, en kry nog ’n bier op pad na die sitkamer.

Stoffberg het die vertrek se gloeilampe deur gekleurdes vervang. Ritmiese lywe word gebaai in ’n skemerte van rooi en blou en geel. Joubert sit in die eetkamer, só dat hy ’n uitsig op die dansers het. Wessels se kort liggaam ruk spasmodies in nabootsing van Elvis. Die tieners se bewegings is meer subtiel. Die rok van Sturridge se mooi, slanke vrou skyn vir ’n oomblik deur toe sy voor ’n rooi lamp verbydans. Joubert kyk weg. Yvonne Stoffberg, dogter van die huis, se borste wip jeugdig in ’n stywe T-hemp. Joubert steek nog ’n sigaret aan.

Myburgh se gesette vrou vra Joubert vir ’n tradisionele wals. Hy stem in. Sy stuur hom met behendigheid tussen ander paartjies deur. Wanneer die musiek verander, glimlag sy simpatiek en laat hom gaan. Hy gaan haal nog ’n Castle. Die musiek se tempo vertraag. Dansers beweeg nader aan mekaar, lui die nuwe fase van die aand in.

Joubert stap na buite om sy blaas leeg te maak. Die ligte van die agtertuin is afgeskakel. Die vuur onder die skaap se oorblyfsels gloei nog rooi. Hy stap na ’n hoek van die tuin, gee uiting aan sy nood en stap dan terug. ’n Ster verskiet bo die donker dak van Stoffberg se huis. Joubert steek vas en kyk op na die hemel, maar sien net die donkerte.

“Hallo, Mat.”

Sy verskyn skielik hier langs hom, ’n nimfagtige skaduwee van die nag.

“Ek kan mos maar Mat sê? Ek is mos klaar met skool.” Sy staan afgeëts teen die lig van die agterdeur, haar vol, jong kurwes gegiet in ’n T-hemp en langbroek.

Ja,” sê hy huiwerig, verbaas. Sy beweeg nader, in die beskermde ruimte van sy alleenheid in.

“Jy het nie eens met my gedans nie, Mat.”

Hy staan geanker aan die aarde, onseker, verdoof deur sewe Castles en baie maande van sieldodende introspeksie. Hy vou sy arms beskermend voor hom.

Sy sit haar hand op sy arm. Die punt van haar linkerbors raak liggies aan sy elmboog.

“Jy was die enigste man hier vanaand, Mat.”

Here, dit is my buurman se dogter, dink hy. Hy onthou die inhoud van die tieners se glase op die stoep.

“Yvonne …”

“Almal noem my Bonnie.”

Hy kyk vir die eerste keer na haar gesig. Haar oë is op hom gevestig, blink en driftig en doelgerig. Haar mond is ’n vrug, ryp, effens oop. Sy is nie meer ’n kind nie. Mooi.

Joubert voel hoe die vrees vir vernedering in hom roer.

Dan roep sy liggaam saggies, ’n verroeste oomblik wat kom en gaan, wat vir ’n oomblik sy buik aan die bultende vreugdes van die verlede herinner. Maar sy vrees is te groot. Hy weet nie of daardie soort lewe al dood is in hom nie. Dit is al meer as twee jaar … Hy wil keer. Hy ontknoop sy arms voor sy bors, wil haar wegstoot.

Sy interpreteer die beweging anders, beweeg tussen sy hande in, trek hom nader, druk haar warm, nat mond teen syne. Haar tong dwing sy lippe oop, fladder. Haar lyf is teen syne, haar borste brandpunte van lewenslustigheid.

In die kombuis roep iemand na ’n kind en die alarms breek deur Mat Joubert se ontwakende gees. Hy druk haar weg en begin dadelik aanstap agterdeur toe.

“Ek is jammer,” sê hy sag oor sy skouer vir haar sonder dat hy weet wat hy bedoel.

“Ek is klaar met skool, Mat.” Daar is geen verwyt in haar stem nie.

Hy stap soos ’n vlugteling na sy huis toe, met sy gedagtes gefokus op sy bestemming, nie op dít wat agter hom lê nie. Die gejuig van die nuwe jaar klink op. Klappers, selfs ’n trompet.

Sy huis. Hy stap tussen die bome en struike en beddings deur wat Lara gemaak het, sukkel met die sleutel, gaan dan in die gang af tot in die slaapkamer. Daar staan die bed waarop hy en Lara geslaap het. Daar is haar klerekas, nou leeg. Daar hang die skildery wat sy by die vlooimark in Groenpunt gekoop het. Die bewaarders van sy gevangenskap, die wagte voor sy sel.

Hy trek uit, trek die swart kortbroek aan, gooi die komberse af en gaan lê.

Hy wil nie daaraan dink nie.

Maar sy elmboog voel nog die onmeetlike sagtheid, haar tong kom weer sy mond binne.

Twee jaar en drie maande ná Lara se dood. Twee jaar en drie maande.

Hy het nou die dag, laatmiddag, vroegaand, in Voortrekkerweg gestaan en straatop gekyk. En die parkeermeters gesien wat ’n kilometer of meer strek, so ver as wat hy die reguit pylende pad kan sien. Die parkeerplekke wat hulle so met die kop sinloos trots en regop bewaak, was almal leeg na die werksdag. Toe weet hy Lara het van hom ’n parkeermeter gemaak.

Twee jaar en drie maande van parkeermeter wees – ’n irritasie in die dag, nutteloos in die nag.

Sy liggaam wil hom nie glo nie.

Soos ’n verwaarloosde masjien wat kraak en kug en stram sukkel om ratte te laat beweeg. Sy onderbewussyn onthou nog die olies wat in die brein lê en wag, chemiese boodskappe van die liefde wat bloed en vog na die front verskeep. Die masjien sug, ’n vonkprop vuur flou, ’n rat draai.

Hy maak sy oë oop, staar na die dak.

’n Virus is in sy bloed. Hy kan die eerste, vae simptome voel. Nog nie ’n orgaan wat gedy en teen materiaal beur met ’n lewe van sy eie nie. Eers net ’n stadige koors wat deur sy liggaam versprei, wat stadig, soos ’n gety, die alkohol uit sy bloedstroom verdring, die slaap verdryf.

Hy rol rond, staan op om ’n venster oop te maak. ’n Straatlig laat die sweet op sy bolyf dof blink. Hy gaan lê weer, op sy rug, soek na verdowing teen verlange en vernedering.

Die verlange in sy buik en in sy kop is ewe pynlik.

Sy gedagtes word aangewaai deur ’n warrelwind, spoel stuk-stuk oor die keerwalle.

Emosie en lus en herinneringe vermeng. Lara. Hy mis haar en hy haat haar. Oor die pyn. God, sy was so mooi. Lenig, ’n sweepslag, ’n orkaan van passie, ’n terggees. ’n Verraaier.

Die sagtheid van die bors teen sy elmboog. Sy buurman se dogter. Lara wat van hom ’n parkeermeter gemaak het. Lara wat dood is. Sodat die toestand onomkeerbaar is.

Lara is dood.

Sy verstand soek na ontvlugting voor die gedagte, rangeer sy denke na die mistroostige veiligheid van grys depressie, soos dit in die afgelope maande geleer het om te oorleef.

Maar vir die eerste keer in twee jaar en drie maande wil Mat Joubert dit nie as uitkoms hê nie. Die masjien het beweeg, die groot dryfas het tussen skurwe koeëllaers gedraai, die suiers het in hul silinders geskuif. Die masjien het ’n alliansie met Yvonne Stoffberg gesmee. Saam veg hulle teen die naderende grysheid.

Yvonne Stoffberg fladder weer in sy mond.

Lara is dood.

Só sak hy af na die slaap. ’n Tweestryd sonder wenner, ’n nuwe ervaring.

Iewers op die grens van slaap besef hy dat die lewe wil terugkom. Maar hy steek die grens oor voor die vrees hom kan oorval.





Drie




Speurder-sersant Bennie Griessel noem die Moord-en-Roof-gebou in Kasselsvleiweg, Bellville-Suid, “Die Kremlin”.

Bennie Griessel is die een met die ironiese humor, gesmee op die smidsvuur van nege jaar se misdaadoplossing. Bennie Griessel noem die gereelde oggendparade in Die Kremlin se paradekamer “’n sirkus”.

Maar dit was ’n siniese opmerking in die tyd van die asketiese kolonel Willie Theal, die een van wie vet sersant Tony O’Grady gesê het: “There, but for the grace of God, goes God.” O’Grady het hard gelag en vir niemand gesê hy het die kwinkslag by Churchill gesteel nie. Nie een van die speurders het dit in elk geval geweet nie.

Vanoggend is anders. Theal, bevelvoerende offisier van Moord en Roof, het op 31 Desember met vervroegde pensioen afgetree en gaan nou groente kweek op ’n hoewe by Philippi.

In sy plek kom kolonel Bart de Wit. Aangestel deur die Minister van Wet en Orde. Die nuwe swart Minister van Wet en Orde. Moord en Roof is nou, vanaf 1 Januarie, ook amptelik deel van die nuwe Suid-Afrika. Want Bart de Wit is ’n voormalige lid van die ANC. Wat sy partylidmaatskap neergelê het voor hy dié bevel aanvaar het. Want ’n poliesman moet onpartydig staan.

Toe Joubert om sewe minute ná sewe op die tweede Januarie by die paradekamer instap, sit veertig speurders al op die blougrys staatsdiensstoele wat teen die vier mure in ’n groot reghoek gepak is. Die gedempte gegons bespiegel oor die nuwe man, dié Bart de Wit.

Bennie Griessel groet Mat Joubert. Kaptein Gerbrand Vos groet Mat Joubert. Die res gaan voort met hul bespiegelinge. Joubert gaan sit in die hoek.

Om presies kwart oor sewe kom die brigadier in volle uniform die paradekamer binne. Agter hom stap kolonel Bart de Wit.

Een en veertig pare oë volg hom. Die brigadier gaan staan voor, langs die televisiestel. De Wit gaan sit op een van die twee leë stoele. Die brigadier groet en wens almal ’n voorspoedige nuwe jaar toe. Dan begin hy met ’n toespraak, maar die speurders luister nie met aandag nie. Hul mensekennis, hul vernuf om ander op te som, is op die bevelvoerder toegespits. Want in hom is hul professionele toekoms opgesluit.

Bart de Wit is kort en skraal. Sy swart hare is yl voor en agter, op die kroon. Sy neus is ’n snawel, met ’n vet moesie op die grens tussen orgaan en wang. Hy is nie ’n indrukwekkende figuur nie.

Die brigadier se toespraak oor ’n veranderende omgewing en ’n veranderende polisiemag staan einde se kant toe. Hy stel De Wit bekend. Die bevelvoerder staan op, maak keel skoon en vryf met ’n wysvinger oor die moesie.

“Kollegas, dit is vir my ’n groot voorreg,” sê hy en sy stem is nasaal en hoog soos ’n elektriese bandsaag. Sy hande is agter hom gevou, sy kort gestalte uitgestrek en regop, die skouers agtertoe getrek.

“Die brigadier is ’n besige man en het gevra dat ons hom asseblief moet verskoon.” Hy glimlag vir die brigadier, wat groetend na die deur stap.

Dan is hulle alleen, die nuwe bevelvoerder en sy troepe. Hulle kyk na mekaar, takserend.

“Goed, kollegas, dit is tyd dat ons kennis maak. Ek ken u al, want ek het die voorreg gehad om u dienslêers onder oë te neem, maar u ken my nie. En ek weet hoe maklik gerugte oor ’n bevelvoerder kan ontstaan. Daarom neem ek graag die vrymoedigheid om aan u ’n kort lewenskets voor te hou. Dit is waar dat ek geen plaaslike ervaring in polisiëring opgedoen het nie. Maar daarvoor moet u die apartheidsregime bedank. Ek was besig met polisiekunde deur Unisa toe my politieke oortuigings dit vir my onmoontlik gemaak het om in my moederland te bly …”

De Wit het ’n tengerige glimlag op sy lippe. Sy tande is effens geel, maar eweredig. Sy woorde is elkeen afgerond, perfek.

“In die vreemde, tussen ’n Gideonsbende van patriotte, het ek die voorreg gehad om my studie voort te sit. En sedert 1992 was ek deel van die ANC se kontingent wat die Britse aanbod van opleiding aanvaar het. Ek was meer as ’n jaar lank by Scotland Yard, menere.”

De Wit kyk oor die paradekamer heen, asof hy verwag dat iemand gaan hande klap. Die vinger vryf weer oor die moesie.

“En ek het verlede jaar by Scotland Yard navorsing vir my doktorale verhandeling gedoen. Ek is dus op die hoogte van die modernste misdaadbekampingsmetodes wat nou in die wêreld aan die ontwikkel is. En u …”

Die moesie-vinger maak ’n vierkant in die lug om al een en veertig in te sluit.

“… gaan die voordeel van daardie ervaring kan benut.”

Weer ’n geleentheid vir applous. Die stilte in die vertrek is dawerend. Gerbrand Vos kyk na Joubert. Vos se mond vorm geluidloos die woord “patriotte” en slaan sy oë op na die hemel. Joubert kyk af grond toe.

“Goed, dit dan wat my geloofwaardigheid betref. Kollegas, ons is almal bang vir verandering. U weet, Toffler sê jy kan nooit die impak van verandering op die mens se psige onderskat nie. Maar aan die einde van die dag moet ons verandering bestuur. Die eerste manifestasie daarvan is vir my om vir u te sê wat ek van u verwag. As ek u voorberei op die verandering, kan u dit makliker fasiliteer …”

Bennie Griessel stamp met die palm van sy hand teen sy kop, net bokant die slaap, asof hy die ratte binne weer aan die tik wil kry. De Wit mis die gebaar.

“Ek verwag net een ding van u, kollegas. Sukses. Die minister het my hier aangestel omdat hy sekere verwagtinge koester. En ek wil die soort insette lewer wat aan daardie verwagtinge sal voldoen.”

Hy steek sy wysvinger in die lug. “Ek sal probeer om ’n klimaat te skep waarbinne u sukses kan behaal – deur gesonder, moderne bestuursbeginsels en opleiding in die jongste misdaadbekampingstegnieke. Maar wat verwag ek van u? Wat is u deel van die kontrak? Drie sake …”

Die wysvinger kry twee vriende wat dramaties voor De Wit gehou word.

“Die eerste is lojaliteit. Teenoor die Mag en sy doelstellings, teenoor die eenheid en u kollegas en teenoor my. Die tweede is toewyding. Ek verwag werk van gehalte. Nie negentig persent nie, maar honderd persent. Ja, kollegas, ons moet ook streef na zero defek.”

Die speurders begin ontspan. Die nuwe man praat ’n nuwe taal, maar die betekenis bly dieselfde. Hy verwag niks anders van hulle as enige van sy voorgangers nie. Meer werk teen dieselfde, onvoldoende salaris. Resultate, sodat sy agterhoede gedek is hoër op. En sy kanse op bevordering verseker is. Hulle is gewoond daaraan. Hulle kan daarmee saamleef. Al was hy lid van die ANC.

Joubert haal die rooi pakkie Winstons uit sy sak en steek een aan. ’n Paar ander volg sy voorbeeld.

“Die derde is fisieke en geestelike welstand. Kollegas, ek glo onwrikbaar daarin dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Ek weet dat ek my ongewild by u gaan maak op die kort termyn, maar ek is bereid om dié kans te waag.”

De Wit se vingers knoop agter sy rug en hy trek sy skouers weer agtertoe, asof hy ’n aanslag verwag. “Elkeen van u sal voortaan twee keer per jaar ’n mediese ondersoek moet ondergaan. Die uitslae daarvan bly vertroulik, tussen u en my. Maar as die geneesheer sekere … tekortkominge in u fisieke mondering vind, verwag ek van u om dit reg te stel.”

Die hande kom los agter die rug. Die palms draai na vore, asof hy ’n aankomende aanvaller wil afweer.

“Ek weet, ek weet. By die Yard was dit dieselfde. Ek weet hoe moeilik dit is om voortdurend fiks te wees. Ek ken u stresvlakke, u lang ure. Maar, kollegas, hoe fikser u is, hoe makliker sal u die struikelblokke kan oorkom. Ek wil nie persoonlik raak nie, maar daar is van u wat oorgewig is. Daar is van u wat rook en drink …”

Joubert staar na die sigaret in sy hand.

“Maar ons gaan dit saam aanpak. Saam u lewenstyl verander, saam u help om ontslae te raak van u swak gewoontes. Onthou, kollegas, u is die room van die Mag, u dra die beeld na binne en na buite uit, u is ambassadeurs, skakelbeamptes. Maar die heel belangrikste: u het ’n verantwoordelikheid teenoor uself om u liggaam en gees in stand te hou.”

Weer die huiwering, om geleentheid vir applous in te ruim. Joubert druk die sigaret dood. Hy sien hoe Vos sy kop na sy hande laat sak. Vossie rook nie, maar hy het ’n bierpens.

“Goed,” sê kolonel Bart de Wit, “kom ons hanteer die sake van die dag.” Hy haal ’n notaboek uit sy baadjie se sak en maak dit oop. “Kaptein Marcus Joubert … Waar is kaptein Joubert?”

Joubert steek sy hand halfmas op.

“Aaaa, ons sal netnou formeel kennis maak, kaptein. Is dit Marcus? Noem hulle jou …”

“Mat,” sê Joubert.

“Hoe?”

“Ozite,” sê iemand aan die oorkant van die vertrek en ’n paar speurders lag gedemp.

“Mense noem my Mat,” sê Joubert harder. De Wit hoor verkeerd. “Dankie, kaptein. Goed, kaptein Max Joubert is dan leier van die bystandspan vir die week wat kom. Saam met hom is luitenant Leon Petersen, adjudante Louw en Griessel. Sersant O’Grady, konstabels Turner, Maponya en Snyman. Ek sal u nog almal leer ken, kollegas. Dan het kaptein Gerbrand Vos die bystandspan oor die feestyd gelei. Kaptein Vos, is daar sake wat u wil bespreek?”

Die professionele lewe van ’n Moord-en-Roof-speurder laat nie veel ruimte vir langdurige simpatie wanneer ’n kollega die kluts kwytraak nie. Daar is begrip, want dit kan met enigiemand gebeur. Daar is dankbaarheid dat dit nie met jou gebeur het nie. En daar is simpatie wat ’n maand, dalk twee, hou – tot die gevalle kollega ’n meulsteen word in die uitvoering van jou plig.

Twee medelede van Moord en Roof het hul simpatie teenoor Mat Joubert twee jaar lank behou – elkeen om sy eie rede.

Vir Gerbrand Vos is dit nostalgie. Hy en Joubert het saam begin as speurder-sersante by Moord en Roof. Die twee blink nuwe sterre. Willie Theal het hulle laat meeding, laat wedywer om hoër en hoër louere, maar hulle is saam bevorder tot adjudant, tot luitenant. In die Mag was hulle ’n nasionale legende. Die Burger het ’n lekkerleesartikel op die middelblad oor hulle gedra met hul bevordering tot kaptein. Saam-saam. Die verslaggeefster was duidelik beïndruk deur elkeen. Kaptein Vos is die ekstrovert, die groot man met die engelgesig, die kuiltjies in die wange en die babablou oë. Kaptein Joubert is die stil een, nog groter, met skouers wat ’n deur kan vol staan en die gesig van ’n valk – bruin oë wat deur jou kan kyk, het sy melodramaties geskryf.

En toe kom Lara se dood en Vos aanvaar dat sy kollega nie meer kan wedywer nie. En hy wag dat Joubert die proses van rou moet afhandel. Gerbrand Vos wag nog steeds.

Joubert is besig met die eerste saakdossier van die oggend. Nog sewentien staan in drie hopies op sy lessenaar, geelgrys SAP3-lêers wat sy lewe reguleer. Hy hoor Vos se doelgerigte tred op die kaal grys vloerteëls, hoor dat dit nie by die kantoor langsaan ophou nie. Dan is Vos in die deur, sy stem gedemp, asof De Wit in die omtrek is.

“Hier kom groot kak,” sê hy, want Gerbrand Vos gebruik die taal soos ’n stomp voorwerp.

Joubert knik. Vos gaan sit op een van die blougrys staatsdiensstoele. “Patriotte. Patriotte. Jissis, dit laat my bloed kook. En Scotland Yard. Wat weet Scotland Yard van Afrika, Mat? En die kak van mediese ondersoeke. En die ‘u’ – waar het jy al gehoor van ’n BO wat sy mense ‘u’?”

“Hy is nuut, Vossie. Dit sal seker oorwaai.”

“Hy wil ons sien. Hy het my nou by tee voorgekeer en gesê hy wil ons elkeen alleen sien. Ek moet nou …” Vos kyk na sy horlosie. “… daar wees. En jy is volgende. Ons moet saamstaan, Mat. Ons is die twee senior offisiere. Ons moet dié fokker van meet af aan uitsorteer. Het jy gehoor wat sê hy van fiksheid? Ek sien al hoe doen ons elke oggend PT op die parkeerterrein.”

Joubert glimlag effens. Vos staan op. “Ek sal jou kom roep as ek klaar is. Onthou net: dis saamstaan, Boere. Al is ons nie fokken patriotte nie.”

“Toe maar, dis net stroop, Mat,” sê Vos vyf en dertig minute later toe hy weer instap. “Hy wag vir jou. Heel vriendelik en vol komplimente.”

Joubert sug, staan op, trek sy baadjie aan en stap in die gang af.

Kolonel Bart de Wit het Willie Theal se kantoor oorgeneem en sy eie gemaak, sien Joubert wanneer hy aanklop en ingenooi word.

Die spanfoto’s teen die muur is weg. Die vuil groen mat op die vloer is weg, die sieklike potplant in die hoek het verdwyn. Drie graadsertifikate hang nou teen die nuutgeverfde wit muur. Die vloer is met ’n polisieblou mat bedek en in die hoek is ’n koffietafel waarop ’n staandertjie aangebring is. Dit lui: EK VERKIES OM NIE TE ROOK NIE. Op die lessenaar is ’n houer met vier foto’s daarin – ’n vrou met ’n dikraambril glimlag, ’n tienerseun met sy pa se neus, ’n tienerdogter met ’n dikraambril. Die ander foto is van De Wit en die Minister van Wet en Orde.

“Sit, sit, kaptein,” sê De Wit en wys na die grysblou stoel. Hy gaan sit self. Die sweem van ’n glimlag is dadelik daar.

Dan skuif hy ’n dik bruin personeellêer voor hom reg en slaan dit oop. “Hoe het jy gesê? Hulle noem jou Max?”

“Mat.”

“Mat?”

“Dit is my voorletters, kolonel. Ek is Marcus Andreas Tobias. M. A. T. My pa het my só genoem.” Joubert se stem is sag, geduldig.

“Aaaa. Jou pa. Ek sien hy was ook ’n Lid.”

“Ja, kolonel.”

“Nooit ’n offisier nie?”

“Nee, kolonel.”

“Aaaa.”

’n Oomblik van ongemaklike stilte. Dan tel De Wit die personeellêer op. “Ek draai nie doekies om nie, kaptein. Nie destyds oor my politiek nie, en nie nou oor my werk nie. Daarom gaan ek reguit en eerlik wees. Dit gaan nie goed met jou nie. Sedert jou vrou se dood.”

Die glimlag op De Wit se gesig pas nie by die erns van sy stem nie. Dit verwar Mat Joubert.

“Sy was ook ’n Lid, nè?”

Joubert knik. En wonder wat die man oorkant hom weet. Sy maagspiere trek saam en deure slaan toe in sy kop as voorsorgmaatreëls.

“Sy is dood tydens die uitvoering van haar pligte?”

Weer knik Joubert, sy hartslag versnel.

“Tragies. Maar, kaptein, met alle respek, dit gaan sedertdien sleg met jou …” Hy kyk weer in die lêer. “Een ernstige dissiplinêre waarskuwing en twee petisies deur onderoffisiere. ’n Afname in misdaadoplossings …”

Joubert kyk na die foto van De Wit en die minister. Die minister is ’n halfmeter langer. Albei glimlag breed. Dit is ’n duidelike foto. ’n Mens kan die moesie sien.

“Wil jy iets daaroor sê, kaptein?”

Die eienaardige glimlag op De Wit se gesig ontsenu Joubert. “Dit is alles in die lêer, kolonel.”

“Die dissiplinêre optrede.” De Wit lees in die dokument voor hom. “Die Wasserman-saak. Jy het destyds geweier om ’n verklaring af te lê…” Hy wag dat Joubert moet reageer. Die stilte rek.

“Dit is alles in die lêer, kolonel. Ek het nie ’n verklaring afgelê nie, want adjudant Potgieter se verklaring was korrek.”

“Jy was dus skuldig aan onbetaamlike gedrag?”

“Volgens die definisie was ek, kolonel.”

“En die twee petisies van die sewe onderoffisiere dat hulle nie meer saam met jou op bystand wil wees nie?”

“Ek kan hulle nie kwalik neem nie, kolonel.”

De Wit leun terug in sy stoel, ’n magnaat. “Ek hou van jou eerlikheid, kaptein.”

Joubert verwonder hom aan die manier waarop die man tegelykertyd kan praat en glimlag.

“Maar ek weet nie of dit genoeg gaan wees om jou te red nie. Jy sien, kaptein, dit is die nuwe Suid-Afrika dié. Ons moet almal ons kant bring. Reg of weg. Daar is mense van die agtergeblewe gemeenskappe wat opgehef moet word. Ook in die Polisie. Ons kan nie om sentimentele redes dooie hout in offisiersposte hê nie. Verstaan jy?”

Joubert knik.

“Dan is daar die kwessie van my aanstelling. Die druk is groot. Nie net op my nie – op die nuwe regering. Almal sit en wag vir die foute. Die blankes wil tog so graag hê die swart regering moet foute maak dat hulle kan sê: Ons het mos gesê.”

De Wit leun vorentoe. Die glimlag verbreed.

“Hier by my gaan daar geen foute wees nie, kaptein. Verstaan ons mekaar?”

“Ja, kolonel.”

“Jy’s reg of jy’s weg.”

“Ja, kolonel.”

“Vra jou af, kaptein: Is jy ’n wenner? Dan sal jy altyd welkom wees hier. Vra jou af.”

“Ja, kolonel.”

De Wit sug diep, glimlag en al.

“Jou eerste mediese ondersoek is môremiddag om 14:00. En dan ’n laaste dingetjie: die Mag gebruik van vanjaar af twee kliniese sielkundiges vir lede wat dit nodig het. Ek het jou lêer verwys. Hulle sal laat weet. Dalk môre al. Sterkte vir die dag, kaptein.”





Vier




Premier Bank het vyf en sewentig jaar gelede as ’n bougenootskap ontstaan, maar dié soort finansiële instelling het uit die mode geraak.

Vandag bied dit steeds hoofsaaklik huislenings, maar sy kliënte kan nou ook wurg aan oortrokke geriewe en huurkope aangaan. En Premier is uiteraard lid van die ABSA-groep.

Vir die gewone kliënt is daar Robynplan, die ligpers-en-grys tjekboek met die afbeelding van ’n rooi edelgesteente daarop. Dié met ’n hoër inkomste en meer skuld kwalifiseer vir Smaragplan – en ’n groen steen. Maar dit waarna Premier wil hê al sy kliënte moet streef, is Diamantplan.

Susan Ploos van Amstel sien die aantreklike man met die goueraambril, die blonde hare, die diep sonbrand en die staalgrys snyerspak na haar tellerpunt aangestap kom en weet dit is ’n Diamantplan-kliënt.

Susan is mollig, vier en dertig jaar oud, met drie .kinders smiddae by die bewaarskool en ’n man wat saans in die motorhuis aan sy 1962-Anglia werskaf. Wanneer die blonde man glimlag, voel sy jonk. Sy tande is spierwit en perfek gevorm. Sy gesig is fyn, maar sterk. Hy lyk soos ’n filmster. ’n Veertigjarige filmster.

“Middag, meneer, waarmee help ons?” glimlag Susan op haar beste terug.

“Haai,” sê hy en sy stem is diep en ryk. “Ek het gehoor dié tak se tellers is die mooiste in die Kaap. En nou sien ek dit ís so.”

Susan bloos en slaan haar oë af. Sy geniet elke oomblik.

“Hartlam, wil jy my nie ’n groot guns doen nie?”

Susan kyk weer op. Wil hy nie maar ’n onwelvoeglike voorstel doen nie? “Sekerlik, meneer. Enigiets.”

“O, dit is gevaarlike woorde daardie, hartlam,” sê hy en sy stem is swaar gelaai met betekenis. Susan giggel en bloos dieper.

“Maar ek sal dit laat tot ’n volgende keer. Wil jy nie een van daardie lekker groot banksakke vir ons kry en dit vol groot note – vyftigs en hoër – maak nie? Ek het ’n groot ou rewolwer hier onder my baadjie …”

Hy trek die lapel van sy grys baadjie effens weg. Susan sien die kolf van ’n vuurwapen.

“… en ek wil dit nie gebruik nie. Maar jy lyk na ’n meisie wat mooi en slim is. As jy my vinnig help, is ek weg voor enigiets leliks kan gebeur.” Sy stem bly rustig, ’n geselstrant.

Susan soek na die glimlag wat gaan sê hy maak ’n grap. Dit kom nie. “Jy is ernstig.”

“Inderdaad, my hartlam.”

“Hygend hert.”

“Nee, hartlam, groot note.”

Susan se hande begin bewe. Sy onthou haar opleiding. Die noodknoppie is op die vloer. Trap dit. Haar bene is lam. Haar hande werk meganies om die seilsakkie uit te haal. Sy trek haar geldlaai oop en begin die note inpak. Trap dit.

“Jou parfuum ruik heerlik. Wat is dit?” vra hy met sy mooi stem.

“Royal Secret,” sê sy en bloos, ondanks die omstandighede. Haar vyftigs is op. Sy gee die sakkie vir hom aan. Trap dit.

“Jy is ’n ster. Baie dankie. Sê vir jou man hy moet jou mooi oppas. lemand kan jou dalk nog steel.” Hy glimlag breed, neem die sakkie en stap uit. Toe hy deur die glasdeur gaan, druk Susan Ploos van Amstel die alarmknoppie met haar toon raak.

“Dit kan ’n pruik wees, maar ons sal ’n identikit laat saamstel,” sê Mat Joubert aan die drie verslaggewers. Hy ondersoek die Premier-roof, want sy mannekrag is versprei tussen die Bo-Kaap, waar ’n bergie in ’n brandspiritus-waas ’n vriend aan die brand gesteek het, Brackenfell, die toneel van ’n haelgeweerroof op ’n viswinkel, en Mitchells Plain, waar ’n dertienjarige meisie deur veertien bendelede verkrag is.

“Net R7 000. Dit moet ’n amateur wees,” sê die verslaggeefster van The Argus en suig aan haar balpuntpen. Joubert sê niks. Met die media is dit beter so. Hy kyk deur die glasdeur van die bestuurder se kantoor, na waar Susan Ploos van Amstel haar storie opgewonde aan nog kliënte vertel.

“Die Hartlam-rower. Kan ’n lekker storie word. Dink jy hy sal weer roof, kaptein?” vra Die Burger se man. Joubert haal sy skouers op.

Dan het hulle nie meer vrae nie. Die koerantmense verskoon hulle. Joubert groet en gaan sit weer. Die identikit-mense is op pad.

Hy ry met die diensvoertuig, ’n blou Sierra, omdat hy op bystand is. Op pad huis toe stop hy by die tweedehandse boekwinkel in Koebergweg. Billy Wolfaardt wag hom by die deur in.

“Hi, captain. How’s the murder business?”

“Nog dieselfde, Billy.”

“Daar het twee Ben Bova’s ingekom. Maar ek dink jy het hulle al.” Joubert stap na die rak met wetenskapsfiksie.

“En ’n nuwe William Gibson.”

Joubert se vinger loop teen die rugkante van die boeke af. Billy Wolfaardt draai om en stap na die kasregister by die deur. Hy weet die kaptein is nie ’n groot geselser nie.

Joubert kyk na die Bova’s, plaas hulle terug op die rak, neem die Gibson en betaal daarvoor. Hy groet en ry. Op pad huis toe koop hy Kentucky-hoender.

Daar is ’n koevert onder sy voordeur ingestoot. Hy dra dit saam met die hoender en die slapbandboek kombuis toe.

Die koevert het ’n blomskets in ligte pastelkleure daarop. Hy sit die ander bagasie neer, haal ’n mes uit die laai en skeur die koevert oop. Die inhoud is ’n gevoude enkelvel met dieselfde blompatroon. Dit ruik soet, bekend. ’n Parfuum. Hy vou dit oop. Die handskrif is vroulik en indrukwekkend, met groot krulle op en af. Hy lees:

Die warm kombers

van my donker genot

is die knus karos vir jou hotnotsgot.

Lipvlam

en tongvuur

en sweet van jou lyf

jy moet hom diep in my nesoond indryf.

Soos ’n kers vir ’n mot

trek my lawavulkaan

die smeulende lus van jou brandyster aan.

Dit is nie onderteken nie. Die parfuum is die handtekening. Hy herken dit nou.

Joubert gaan sit by die kombuistafel. Vir wat neuk sy met hom? Hy is nie lus vir nog só ’n nag nie.

Hy lees dit weer. Die onsubtiele strofes skep beelde in sy kop –Yvonne Stoffberg, haar jong lyf sonder klere aan, onder hom, met sweet wat blink op die volronde borste …

Hy smyt die gedig en die koevert in die asblik en stap mompelend kamer toe. Nie nog só ’n nag nie. Hy sien nie kans nie. Hy gooi sy das op die bed neer, gaan haal die slapbandboek en loop daarmee na die sitkamer.

Hy konsentreer met moeite. Ná sewe hortende bladsye gaan haal hy die gediggie uit die asblik en lees dit weer, vies vir sy gebrek aan dissipline.

Moet hy haar bel? Net om dankie te sê.

Nee.

Haar pa kan antwoord. Hy wil niks begin nie.

Net om dankie te sê.

Hy het gedink sy lus is dood. Gister dié tyd het hy nog gedink sy lus is dood.

Die telefoon lui. Mat Joubert skrik, staan op en stap slaapkamer toe. “Joubert.”

“Radiobeheer, kaptein. Skietvoorval by die Holiday Inn in Nuweland. Oorledene is ’n blanke man.”

“Ek is op pad.”





Vyf




Die ander kollega wat nie moed opgegee het met Mat Joubert nie, is speurder-adjudant Bennie Griessel.

Want ondanks al sy sinisme drink Griessel soos ’n vis. Daarom verstaan hy Joubert se onttrekking. Hy glo iéts moet meegee in die lewe van ’n Moord-en-Roof-speurder, waar die dood jou konstante kameraad is, die oorsprong van jou brood en botter.

Griessel het die afgelope jaar of wat gesien dat Joubert net dieper en dieper in die dryfsand van depressie en selfbejammering wegsink – en nie noodwendig daar gaan uitkom nie. En vir homself gesê: Liewer dít as die bottel. Want hy wat Bennie Griessel is, ken die bottel. Dit laat jou vergeet van die skadu van die dood. Maar dit laat jou vrou en jou twee kinders op die vlug slaan, weg van die swetsende, slanende, dronk man wat hul lewe op ’n Saterdagaand hel maak. En die ander aande van die week ook, later.

Nee, Mat Joubert is beter daaraan toe.

Griessel is eerste op die toneel. Hy is ’n man van gemiddelde lengte, met ’n Slawiese gesig, ’n gebreekte neus en pikswart, langerige hare. Hy dra ’n gekreukelde blou pak klere.

Joubert wurm tussen die nuuskierige omstanders deur, buk onder die geel plastiekband waarmee die uniformmanne die toneel afgesper het en stap na Griessel, wat eenkant met ’n jong, blonde man gesels. Die uniforms het ’n kombers oor die lyk gegooi. Dit lê vormloos in die skaduwee langs ’n staalblou BMW.

“Kaptein,” groet Griessel. “Meneer Merryck hier het op die lyk afgekom en die stasie gebel. Van die hotel se ontvangs af.” Joubert ruik die drank op Griessel se asem. Hy kyk na Merryck, sien die goueraambril, die yl snorretjie. ’n Vlokkie braaksel kleef nog aan die man se ken. Die lyk kan nie ’n te mooi gesig wees nie.

“Meneer Merryck is ’n inwoner van die hotel. Hy het daar geparkeer en was op pad na die ingang toe hy die man sien lê.”

“It was quite awful. Sickening,” sê Merryck. “But one has to do one’s duty.”

Griessel klop Merryck op die skouer. “You may go now. If we need you, we know where to find you,” sê hy in aksentlose Engels. Hulle stap saam na die lyk. “Fotograaf is op pad. Ek het die patoloog, forensies en die vingerafdruk-ouens laat kom. En die meeste van die ander op bystand. Hy’s wit,” sê Griessel en trek die kombers weg.

Tussen twee starende oë sit die bloedkuil van ’n koeëlwond, gapend, spottend, in perfekte simmetrie.

“Maar kyk hier,” sê Bennie Griessel en trek die kombers verder weg. Joubert sien nog ’n wond, ’n swartrooi bloedgat in die borskas, in die middel van ’n smaakvolle pak, hemp en das.

“Jissis,” sê Mat Joubert en hy weet waarom Merryck siek geword het. “Groot kaliber.”

“Jip,” sê Griessel. “’n Kanon.”

“Voel sy sakke,” sê Joubert.

“Was nie roof nie,” sê hulle byna gelyk toe hulle die goue Rolex aan die arm sien. En albei weet dit laat die saak eindeloos verdiep.

Joubert se hand beweeg vinnig oor die lewelose oë, vee die ooglede toe. Hy sien die weerloosheid van die dooie, die manier waarop alle lyke uitgestrek lê, onmiskenbaar, sonder verweer, die hande en arms finaal weggevou om nooit weer beskerming aan die toonvenster van die lewe, die gesig, te gee nie. Hy dwing homself om sy gedagtes by sy werk te hou.

Stemme groet agter hom. Nog speurders van die bystandspan kom aan. Joubert staan op. Hulle kom kyk na die lyk. Griessel verjaag hulle toe hulle die flou lig van die straatlampe versper.

“Begin daar. Stap dié plek deur. Elke sentimeter.”

Die gewone geweeklaag gaan op, maar hulle gee gehoor, weet hoe belangrik die eerste soektog is. Griessel soek versigtig deur die oorledene se baadjiesakke. Dan staan hy op met ’n tjekboekhouer en motorsleutels in sy hand. Hy gooi die sleutels vir adjudant Basie Louw.

“Dis vir ’n BMW. Probeer dit op dié een.”

Griessel maak die grys tjekboekhouer van egte leer oop. “Ons het ’n naam,” sê hy. “J. J. Wallace. En ’n adres. Oxfordstraat 96, Constantia.”

“Die sleutel pas,” sê Louw en haal dit versigtig uit sodat hy nie vingerafdrukke op die motor laat nie.

“’n Rykgat,” sê Griessel. “Ons haal al weer die voorblad.”

Dit is jong speurder-konstabel Gerrit Snyman wat die doppie kry, half onder ’n motor wat naby staan. “Kaptein,” roep hy, nog onervare genoeg om onmiddellik opgewonde te raak. Joubert en Griessel stap nader. Snyman verlig die doppie met sy flits. Joubert tel dit op, hou dit teen die flou lig. Griessel leun sy kop ook nader, lees die syfers op die agterkant.

“Sewe komma ses drie.”

“Onmoontlik. Dis kort. Pistooldoppie.”

“Daar staan dit. Sewe komma ses … drie. Lyk dit na. Kan dalk net sleg gedruk wees.”

“Seker ses twee.”

Bennie Griessel kyk na Joubert. “Moet wees. En dit beteken net een ding.”

“Tokaref,” sug Joubert.

“Apla,” sug Bennie Griessel. “Fokken politiek.”

Joubert begin aanstap na sy diensvoertuig. “Ek gaan die kolonel radio.”

“Vir De Wit? Hy gaan tog net ’n kat op die kombers skiet,” sê Griessel en sy grynslag blink silwer in die straatlig.

Joubert het vir ’n oomblik vergeet dat Willie Theal nooit weer ’n moordtoneel sal besoek nie. Sy moed sak.

Die huis by Oxfordstraat 96 is ’n groot siersteen-enkelverdieping op ’n reuse-erf. Die tuin is gedissiplineerd welig en indrukwekkend, selfs in die halfdonker.

Die deurklokkie lui iewers diep in die huis, oorheers momenteel die klank van ’n televisieprogram. Die sekondes tik verby. Daar binne word hul tyd van sorgloosheid al hoe minder, dink Joubert. Die engele van die dood staan by die voordeur. Met nuus wat soos ’n parasiet die lewe, die vreugde, die rus uit jul lewe gaan suig.

’n Vrou maak die deur oop, geïrriteerd, ’n frons van fyn plooitjies. Lang, dik rooibruin hare hang oor haar skouer, oor die voorpant van die geel blokpatroon-voorskoot en lei eers hul aandag van haar oë af weg.

Haar stem is sag en melodieus en geïrriteerd: “Can I help you?”

“Mrs Wallace?” vra hy. Dan sien hy die oë raak. Griessel ook. ’n Onpaar, die een ligblou en helder, die ander ’n skakering van bruin iewers tussen lig en donker. Joubert probeer om nie te staar nie.

“Yes,” sê sy en weet dit is nie iemand wat iets verkoop nie. Vrees beweeg soos ’n skaduwee oor haar gelaat. Sy vee haar hande aan die voorskoot af.

“It’s James, isn’t it?”

’n Seun van tien of elf verskyn agter haar. “Who is it, Mom?”

Sy kyk om, bekommerd. “Jeremy, please go to your room.” Haar stem is sag maar dringend. Die seun draai om. Sy kyk terug na die speurders.

“We’re from the police,” sê Joubert.

“You’d better come in,” sê sy, maak die deur heeltemal oop en begin haar voorskoot afhaal.

Mevrou Margaret Wallace huil met die oorgawe van hulpelose smart – hande op die skoot, skouers effens vooroor. Trane haak op die geel wolstof van haar somertrui vas en glinster in die helder lig van haar sitkamer se kandelaar.

Joubert en Griessel staar na die mat.

Joubert fokus op die bal en klou van die koffietafel se poot. Hy wil in sy stoel by die huis wees, met die slapbandboek op sy skoot en ’n bier in die hand.

Die seun kom in die gang af. Agter hom is ’n dogter, iewers tussen agt en tien.

“Mom?” Sy stem is bang en klein.

Margaret Wallace trek haar skouers terug en vee met haar palm oor haar gesig. Sy staan waardig op. “Excuse me.” Sy neem die kinders aan hul hande en lei hulle in die gang af. ’n Deur gaan toe. Die stilte is oorverdowend. ’n Kreet klink op. Dan is dit weer stil.

Hulle kyk nie na mekaar nie, want dit sou ’n erkenning wees. Eindelik kom sy terug. Haar skouers is steeds fier, asof sy haar emosies fisiek kan beteuel. Maar hulle weet.

“I’ll have to call my mother. She lives in Tokai. She can help with the kids. I’m sure you have many questions.” Haar stem is neutraal, soos dié van ’n slaapwandelaar.

Joubert wil vir haar sê hulle sal loop en later terugkom, hulle sal haar laat met haar pyn. Maar hy kan nie.

Sy kom minute later terug. “My mother is coming over. She’s strong. My dad … I’ve asked the maid to make us some tea. I take it you drink tea?”

“Thank you, but …” Joubert se stem is effens hees. Hy maak keel skoon.

“If you’ll excuse me, I want to stay with the kids until she arrives.” Sy wag nie op ’n antwoord nie en stap in die skemerte van die gang af.

Joubert se sakradio maak ’n biepgeluid. Hy kyk na die vloeikristalboodskap op die skermpie: SKAKEL ADJ. LOUW. Daar is ’n telefoonnommer by.

Hy het Louw en drie ander speurders na die hotel gestuur, omdat die kamers op die parkeerterrein uitkyk. Dit was nadat die patoloog oor die lyk gekloek het. En voor Bart de Wit opgedaag het en ’n mediakonferensie aangebied het oor ’n moordsaak waaroor hulle geen inligting het nie. Hy en Bennie het gevlug, na Oxfordstraat, net nadat dit begin het.

“Die man is ’n nar,” het Griessel op pad gesê. “Hy sal nie hou nie.” Joubert het gewonder of die bevelvoerder die onderoffisiere ook een-een gaan inroep. En of De Wit weet van Griessel se drankprobleem.

“Basie soek my,” verbreek hy die neerdrukkende stilte van die sitkamer en staan op. Hy stap na die vertrek waar Margaret Wallace netnou gebel het. Hy hoor die huishulp in die kombuis met die breekgoed.

Dit lyk na ’n studeerkamer. ’n Lessenaar, met ’n rekenaar en telefoon daarop, staan in die middel. Teen die agterste muur is ’n boekrak met hardebandlêers, ’n paar boeke oor sakebeginsels en ’n tiental bande Reader’s Digest Condensed Books in hul oordadige nagemaakte leeromslae. Die muur langs die deur is behang met foto’s en sertifikate. Daar is ook ’n groot spotprent in die styl van Fred Mouton. Dit beeld James Wallace uit – dik swart hare, welige snor, effense bolwange. Die karikatuur het ’n netjiese pak klere aan. In een hand is ’n aktetas waarop WALLACE QUICK-MAIL geskryf is. Die ander arm knyp ’n krieketkolf onder die blad vas, die hand hou ’n vlaggie vas met die woorde WP CRICKET daarop.

Joubert skakel die nommer. Dit is die hotel s’n. Hy vra om met Basie te praat en wag ’n paar oomblikke.

“Kaptein?”

“Ja, Basie.”

“Ons het iemand gekry, kaptein. Vroumens, blondine. Sy sê Wallace was by haar in die kamer. Maar ons het niks meer gevra nie. Ons wag tot jy kom.”

“Sal julle by haar bly? Ek en Bennie gaan nog ’n rukkie hier wees.”

“Geen probleem nie, kaptein.” Louw klink gretig. “O, en daar was nog ’n doppie. Onder die lyk.”

Wanneer Joubert by die studeerkamer uitstap, kyk hy weer na die spotprent teen die muur. En hy weet die nietigheid van die lewe is net so hartseer soos die finaliteit van die dood.

“He started the business on his own,” sê Margaret Wallace. Sy sit op die punt van die groot, gemaklike stoel, haar hande voor haar op haar skoot, haar stem egalig en sonder infleksie, beheers.

“He was awarded the contract to mail the municipality’s accounts. It was tough at first. He had to import an addressograph and a computer from the USA, but in those days every letter had to be inserted in the envelopes by hand, then sealed. I helped him. We worked through the night. Often. He sold seventy percent of the shares to Promail International two years ago, but they stuck to the original name. He is still on the board, and acts as a consultant.”

Joubert hoor sy praat nog van haar man in die teenwoordige tyd. Maar hy weet dit sal verander, môre, ná die nag.

“Was your husband involved in politics?”

“Politics?”

“Mrs Wallace, the gun that fired the fatal shot …” Joubert hoor die amptelikheid van sy taal, die eufemismes. ’n Kuns, dink hy. Die kuns van weduwees toespreek. “Certain radical groups are known to use this model.”

“Politics?” sê Margaret Wallace weer, totaal onbegrypend.

“Was Mr Wallace a member of a political party?” vra Griessel.

“No, he …” Haar stem raak weg. Hulle wag.

“He was … apolitical. He didn’t even vote. He says all politicians are the same. They only want power. They don’t really care about people.” Die frons is nog diep op haar voorkop.

“Was he involved in the townships? Welfare work?”

“No.”

“His company?”

“No.”

Joubert probeer ’n ander koers. “Were you aware of any tension at work recently?”

Sy skud haar kop effens en die rooibruin hare beweeg. “No.”

Die onpaar oë knip. Sy veg om beheer, weet Joubert. Hy help haar: “We’re sure there must be a logical explanation for this terrible thing, Mrs Wallace.”

“Who could have done such a thing? Haven’t we had enough death and destruction in this country already? James wasn’t perfect, but …”

“It could have been an accident, Mrs Wallace. Or a robbery. The motive for this sort of thing is usually money,” sê Griessel.

Of seks, dink Joubert. Maar dit moet maar wag tot later.

“Do you know if anybody owed your husband money? Any other business ventures, transactions …”

Sy skud weer haar kop. “James was so responsible with money. He didn’t even gamble. We went to Sun City last year, with the people from Promail. He took along R5 000 and said when that was gone, he would stop. And he did. We have no debts. The house doesn’t have a mortgage, thank the Good Lord …”

Griessel maak keel skoon. “You were happily married.” ’n Stelling.

Margaret Wallace kyk na Griessel en frons. “Yes. I would like to think so. We had the usual little squabbles. James loves cricket. And sometimes he comes home a bit tipsy after a night out with the boys. And sometimes I’m too sensitive about it. I can be moody, I suppose. But our marriage works, in its own strange way. The kids … Our existence revolves around the kids these days.” Sy kyk in die rigting van die slaapkamer, waar haar ma nou die trooswerk moet doen.

’n Stilte groei. Dan praat Joubert. Sy eie stem klink vir hom vals en oordrewe simpatiek. “Mrs Wallace, according to law you have to identify your husband at the morgue …”

“I can’t do it.” Haar beheer vervaag en die trane wil vloei.

“Is there someone else who could?”

“Someone at work would have to. Walter Schutte. The managing director.” Sy gee ’n telefoonnommer en Joubert skryf neer.

“I’ll give him a call.”

Hulle staan op. Sy ook, traag, want sy weet die nag lê voor.

“If there’s anything we can do …” sê Griessel, en hy klink opreg.

“We’ll be okay,” sê Margaret Wallace en sy begin weer bitterlik te huil.

Die blondine sit op een van die hotelkamer se stoele. Haar naam is Elizabeth Daphne van der Merwe.

Joubert sit in die ander stoel. Griessel, Louw en O’Grady sit in ’n ry op die punt van die groot dubbelbed, arms gevou, soos regters.

Haar hare is effekleurig geelwit uit ’n bottel. Haar gesig is lank en skraal, die oë groot en bruin, met lang wimpers, die neusie klein en fyn. Trane het swart maskarastrepe teen haar wange of getrek. Maar Lizzie van der Merwe het ware skoonheid misgeloop met ’n mond wat nie pas nie. Haar voortande staan effens uit, die onderlip is te klein, te naby aan die swakheid van haar kakebeen. Haar lyf is lank en slank, met klein, hoë borsies onder die wit bloese. Sy het skerp heupe, dra ’n swart romp wat te veel van haar bene in romerige sykouse wys en loop op elegante swart hoë hakke.

“Van waar ken jy die oorledene?” Joubert se stem is nou sonder simpatie, sy woordkeuse doelbewus.

“Ek het hom vanmiddag ontmoet.” Sy huiwer, kyk op. Die speurders kyk almal na haar, hul gesigte streng. Die lang wimpers voer ’n dans uit. Maar niemand reageer nie.

“Ek werk vir Zeus Computers. In Johannesburg. Ek het verlede week gebel. Ons het nuwe produkte … James … e … meneer Wallace … Hulle het my na hom verwys. Hy is hulle konsultant vir rekenaars. Toe vlieg ek vanoggend af. Ek het om elfuur ’n afspraak gehad. Toe vat hy my vir ete …” Haar oë beweeg tussen hulle, op soek na ’n gesig wat meegevoel sal wys.

Hulle wag in stilte. Haar wimpers dans weer. Die onderlip bewe en plaas nuwe klem op die twee voortande wat sy probeer wegsteek. Joubert kry haar jammer.

“En toe?” vra hy sag. Sy omhels sy stemtoon en fokus die groot oë op hom.

“Hy … Ons het wyn gedrink. Baie wyn. En gesels. Hy het gesê hy is baie ongelukkig in sy huwelik. Sy vrou verstaan hom nie. Daar was iets tussen ons. Hy het my so goed verstaan. Hy is ’n Ram. Ek is ’n Maagd.”

Joubert frons.

“Sterretekens …”

Die frons verdwyn.

“Toe kom ons hiernatoe. Ek het ’n kamer hier, want ek moes oorslaap, vanaand. Ek sien nog iemand môre. Van ’n ander maatskappy. Hy is ná ses hier uit. Ek weet nie hoe laat nie. En dit is die laaste dat ek hom gesien het.”

Die wimpers fladder en die maskarastrepe begin weer rek.

Basie Louw maak keel skoon. “Wat het hier gebeur? In die kamer?”

Sy huil harder.

Hulle wag.

Sy staan op en stap na die badkamer langs die hotelkamer se deur. Hulle hoor hoe sy haar neus blaas. ’n Kraan loop. Stilte. Dan weer die neus. Sy stap terug en gaan sit. Die maskarastrepe is nou weg.

“Julle weet wat gebeur het. Hier …”

Hulle kyk na haar, afwagtend.

“Ons het liefde gemaak.” Sy huil weer. “Hy was so sag met my…

“Juffrou, ken jy enigiemand in die Kaap?” vra Mat Joubert.

Sy haal ’n sneesdoekie uit die wit bloes se mou en blaas weer haar neus. “Ek het vriende hier. Maar ek het hulle lanklaas gesien.”

“Is daar iemand wat sou … ongelukkig wees as jy by ander mans slaap?”

Sy ruk haar kop op. “Ek slaap nie by ander mans nie …”

Die drie speurders op die bed se wenkbroue lig met militêre presisie.

“Verstaan julle nie? Daar was ’n vibe. Ons … ons was … Dit was mooi.”

Joubert vra weer: “Juffrou, ons wil weet of jy by iemand anders betrokke is wat sal omgee dat jy en die oorledene saamslaap.”

“O. Jy bedoel … Nee. Nee, nooit. Ek gaan nie eers vas uit nie.”

“Behoort jy aan ’n politieke party of groepering, juffrou Van der Merwe?”

“Ja.”

“Watter een?”

“Ek is lid van die Demokratiese Party. Maar wat het dit …”

Griessel gee haar nie kans nie. “Het jy ooit enige bande met die PAC gehad?”

Sy skud haar kop.

“Apla?”

“Nee, ek …”

“Ken jy enigiemand wat aan dié groeperings behoort?”

“Nee …”

“Wat het die oorledene gesê voor hy hier uit is. Het hy ’n ander afspraak gehad?” vra Griessel.

“Hy het gesê hy moet huis toe, na sy kinders toe. Hy is … Hy was ’n goeie mens …” Haar kop sak. “Daar was ’n vibe. So mooi,” sê sy.

Mat Joubert sug en staan op.





Ses




Hy droom van Yvonne Stoffberg.

Hulle is iewers in die berge. Sy hardloop voor hom uit, haar boude wip wit in die maanlig, haar bruin hare wapper. Sy lag, trippel oor rivierklippe, verby ’n kabbelende stroom. Hy lag ook, sy orgaan ’n punt in die nagwind. Dan skree sy skielik, ’n gil van vrees en verbasing. Haar hande skiet na haar borste, probeer hulle verberg. Voor in die bergpaadjie staan Bart de Wit. Tussen sy oë is daar ’n derde, ’n rooi, starende krater. Maar hy kan nog praat: “Vra jou af, kaptein. Is jy ’n wenner?”

Oor en oor soos ’n grammofoonplaat wat vasgehaak het, in daardie hoë, nasale stem. Hy kyk om, op soek na Yvonne Stoffberg, maar sy het verdwyn. De Wit ook, skielik. Die donker dring hom binne. Hy voel hoe hy sterf. Hy maak sy oë toe. Lang rooibruin hare vee oor sy gesig. Hy lê in die arms van Margaret Wallace. “You’ll be okay,” sê sy. Hy begin huil.

By die robot staar Joubert soos elke ander oggend na Die Burger se plakkaat sonder om dit te sien. Dan skrik hy wanneer die letters betekenis aanneem: CHINESE MAFIA AGTER KRIEKETMAN SE GRUDOOD?

Die lig verander na groen en hy kan nie by die verkopertjie stilhou nie. Hy ry na ’n kafee in Plattekloof, koop ’n koerant en soek die berig op die voorblad terwyl hy terugstap motor toe. Hy kry dit.

KAAPSTAD – ’n Moordbende van die Chinese mafia sit moontlik agter die grusame dood van ’n skatryk Kaapse sakeman wat gisteraand met ’n Tokaref-pistool by ’n Nuwelandse hotel vermoor is.

Volgens kol. Bart de Wit …

Joubert leun teen die motor en slaan sy oë op na Tafelberg. Hy sug, sien nie hoe helder die berg vanoggend sigbaar is, hoe die oggendson ’n blink plas in die baai maak nie. Dan vou hy die koerant toe, klim in en ry.

“Wat ek nie kan verstaan nie, is dat hy ’n skelm knippie vat by ’n blond met ’n gesig soos ’n perd, terwyl hy ’n filmster by die huis het,” sê Griessel.

Joubert luister nie. “Het jy die koerant gesien?”

“Nee?”

Dan kom De Wit in, trots en regop. Die speurders raak stil.

“Goeiemôre, kollegas. Pragtige oggend, nè. Laat ’n mens dankbaar voel jy het die voorreg om te leef. Maar nou ja, ons moet voortgaan met die werk. Voor ons gister se sake bespreek … Ek het nou al die offisiere persoonlik ontmoet en lekker gesels. Vandag begin ek by die onderoffisiere. Ek wil julle so gou moontlik leer ken. Daar is ’n lysie by Mavis. Al die adjudante moet gaan kyk hoe laat ons afsprake is. Goed, kom ons gesels oor gister se sake. Kaptein Mat Joubert het gisteraand my hulp ingeroep met ’n moord in Nuweland …”

Hy kyk na Mat en glimlag vriendelik. “Dankie vir die vertroue, kaptein. Kan jy vir ons sê hoe verloop sake?”

Joubert is ietwat oorbluf. Hy het De Wit na die toneel laat kom omdat dit prosedure is by moorde met groot publisiteitswaarde. Nou interpreteer die man dit anders.

“E … Dié ding is maar yl, kolonel. Die oorledene het ongetwyfeld buite-egtelike verhoudings gehad. Ons wil vandag kyk of daar nie iewers ’n baie jaloerse man in die prentjie is nie. Dalk iemand by die werk …”

“Jy kan maar los,” val De Wit hom in die rede. “Soos ek gisteraand aan die media gesê het, dit is ’n Chinese dwelmnet wat só maak … Oulike stuk vanoggend in Die Burger. As jy diep genoeg in die oorledene se agtergrond rondkrap, sal jy wel die konneksie opspoor. Ek dink die ondersoek sal net baat vind daarby as jy die Narkotikaburo ook betrek, kaptein. Los maar daardie jaloerse-vriend-teorie van jou. Interessant, verlede jaar by die Yard het ons twee sulke moorde gehad …”

De Wit verbreek oogkontak met Joubert. Joubert hou op om te luister. In sy buik is daar ’n ongemaklikheid, soos ’n insek wat deur sy ingewande skarrel.

Teen sy sin bel hy die bevelvoerder van Sanab ná oggendparade.

“Wat het julle nou daar aangestel, Joubert?” vra die stem aan die ander kant. “’n Nar? Cloete van Openbare Betrekkinge bel my nou, vra of De Wit met my gepraat het. Cloete is de moer in omdat jou nuwe baas sommer self met die koerante gesels. Cloete wil weet of hy nou maar kan aftree en heeltyds visvang. En watter twak is dit van die Chinese mafia?”

“Dit is gebaseer op vorige ervaring van my bevelvoerder, kolonel. In dié stadium moet ons alle moontlikhede ondersoek.”

“Moenie my daai amptelike smokescreen gee nie, Joubert. Jy skerm net vir De Wit.”

“Kolonel, ek sal dit hoog op prys stel as u en u personeel inligting wat dié moontlikheid verder kan ophelder, aan Moord en Roof sal verskaf.”

“Aaaa, nou verstaan ek. Jy is onder opdrag. Orraait, jy’t my simpatie, Joubert. As ons in die volgende tweehonderd jaar ’n Chinese dwelmnet oopvlek, sal jy die eerste wees om daarvan te hoor.”

Die ondersoekbeampte moet by wees tydens die lykskouing. Dit is die reël, die tradisie – ongeag die toestand van die oorskot.

Joubert het dit nog nooit geniet nie, selfs nie eens in die goeie ou dae nie. Maar hy kon skanse oprig tussen hom en die ontstellende proses wat hom keer op keer op ’n marmerblad in ’n witgeteëlde vertrek in Soutrivier afspeel, waar die dooies hul laaste waardigheid verloor.

Nie dat professor Pagel sy skalpel en klampe en sagie en tangetjies sonder respek deur vel en weefsel en been dwing nie. Inteendeel, die staatspatoloog en sy personeel benader hul werk met die erns en professionaliteit wat dit verdien.

Dit was Lara se dood wat sy skanse afgebreek het. Want hy weet sy het ook hier gelê. Beelde, uit sy ervaring opgediep, het gehelp om die toneel te rekonstrueer. Kaal, op haar rug, skoon en steriel, haar lenigheid aan die wêreld ontbloot, maar sonder effek. Die bloed van haar voorkop afgewas, net die klein, stervormige koeëlwond sigbaar tussen die haarlyn en die wenkbroue. En ’n patoloog wat aan ’n speurder verduidelik dat dit eie is aan die kontakskoot, die trompopskoot. Want die saamgeperste gasse van die vuurwapenloop beland onder die vel en sit skielik uit, soos ’n ballon wat bars, en ken die Ster van die Dood toe, só dikwels die geval by selfmoordslagoffers … Maar nie Lara nie. Sy het die ster by iemand anders gekry.

Elke keer dat hy in die koue, geteëlde gange van die lykshuis in Soutrivier stap, wys sy verstand aan hom dié toneel, ’n makabere kykweer wat hy nie kan afskakel nie.

Pagel wag in die kantoortjie, saam met Walter Schutte, besturende direkteur van Wallace Quickmail. Joubert stel homself voor. Schutte is van gemiddelde lengte, met ’n diep stem en hare wat by elke moontlike opening uitpeul – by sy boordjie, sy hempsmoue, sy ore. Hulle stap na die teater waar James J. Wallace onder ’n groen kleed lê.

Pagel stroop die kleed af.

“Jeez,” sê Walter Schutte en draai sy gesig weg.

“Is dit James J. Wallace?” vra Joubert.

“Ja,” sê Schutte. Hy is bleek en sy geskeerde baardlyn staan duidelik uit op sy gesig. Joubert verwonder hom aan die behaardheid van die man. Hy vat hom aan die skouer en lei hom terug na Pagel se kantoor, waar Schutte ’n vorm onderteken.

“Ons sal graag later ’n paar vrae by u kantoor wil kom vra.”

“Watter vrae?” Schutte se selfvertroue keer geleidelik terug.

“Roetine. ’n Mens wil nie die weduwee te veel pla nie. U kan verstaan.”

“Natuurlik,” sê Schutte. “Enige tyd.”

Wanneer Joubert terugstap, skakel Pagel die skerp ligte aan, steek sy kort, sterk vingers in die deursigte plastiekhandskoene, trek die kleed van wyle James J. af, buig die groot vergrootglas se arm nader en neem ’n klein skalpel in sy hand.

Die patoloog begin met sy stelselmatige taak. Joubert ken al die mmm-geluide van die man, die onverstaanbare geprewel wanneer hy iets vind wat van belang is. Maar Pagel deel eers sy ontdekkings wanneer hy seker is. Daarom wag Joubert. Daarom staar hy na die steriele wasbak teen die muur, waar ’n waterdruppel elke veertien tellings teen die metaalbalie dloep!

“Kopskoot sou die dood kon veroorsaak. Deur die linker-nasiofrontale sinus. Agter, twee sentimeter bo die lambda uit. Uitskietwond is baie groot. Sagte loodpunt? Kan wees … kan wees. Sal moet kyk na die traktus.”

Hy kyk na Joubert. “Moeilik om kaliber te skat. Inskietwond op die verkeerde plek.” Joubert knik asof hy verstaan.

“Relatief nabyskoot, die kopskoot. Twee, drie meter. Toraksskoot dalk ook. Kon ook die dood veroorsaak het. Wond is tipies. Bykomstige eienskappe minder uitgesproke. Die klere, natuurlik. Hitte geabsorbeer. Kruitdeeltjies. Rook. Deur die sternum. Bloeding afwesig.”

Hy kyk weer op. “Jou man wás al dood, kaptein. Met die eerste skoot. Maak nie saak watter een dit was nie. Dood voor hy die grond getref het. Die tweede een onnodig.”

Water op De Wit se mafia-meul, dink Joubert. Maar hy sê niks. “Kom ons gaan in,” sê Pagel en neem ’n groter skalpel.

Walter Schutte staan nie op toe Joubert en Griessel deur die sekretaresse ingelei word nie.

“Sit, menere, sit.” Hy swaai sy arm joviaal na die moderne stoele van leer en chroom voor die groot lessenaar met die glasblad. “Tee of koffie? Ék gaan iets drink. Moet dus nie huiwer nie.” Die bleek onsekerheid van die lykshuis bestaan nie meer nie.

Hulle kies albei tee en gaan sit. Die sekretaresse maak die deur agter haar toe.

Dit is nog voormiddag, maar Schutte se baard is reeds ’n skaduwee oor sy wange. Sy tande flits wit en blink wanneer hy vinnig glimlag. “Nou ja, waarmee kan ek help?” Dan is die glimlag weer weg, soos ’n lig wat afgeskakel is.

“Ons sou graag meer wou weet oor James Wallace, meneer Schutte. U het hom seker goed geken?” vra Joubert.

“Ek het James twee jaar gelede vir die eerste keer ontmoet toe ek hier aangestel is deur Promail. Hy was ’n wonderlike mens.” Schutte se diep stem is gelaai met piëteit.

“Is dit wat julle hom genoem het? James?”

“Die meeste van ons het hom Jimmy genoem. Maar dit klink nou so …” Schutte flits ’n handgebaar en wit tande.

“Hoe was sy verhouding met die ander mense by die werk?”

“Ons was almal erg oor hom. O, wag so bietjie, ek weet wat jy bedoel. Nee, kaptein, jy gaan nie sy moordenaar hier kry nie.” Schutte waai albei sy hande voor hom, asof hy ’n bose gees wil afweer. “Ons is soos een groot gesin, sê ek altyd. En James was deel van dié gesin. ’n Baie geliefde deel. Nee, kaptein, gaan soek jou moordenaar op ’n ander plek.”

“Weet u of die oorledene enige ander sakebelange gehad het?”

“Nee … Ek glo nie. Jim … James het my ’n paar keer vertel dat al sy geld in effektetrusts belê is, want hy wil hom nie daaroor bekommer nie. So ver ek weet, het hy net Quickmail, sy krieket en sy gesin gehad.”

“Het u as maatskappy enige werk vir Chinese firmas gedoen?”

Schutte frons. “Nee. Wat het dit …”

Griessel val hom in die rede. “Het u al vanoggend se Burger gelees?”

“Nee.” Schutte is van stryk.

“Die manier waarop Wallace vermoor is, meneer Schutte – dit stem ooreen met die modus operandi van Chinese dwelmsmokkelaars. Is daar enige kontak wat hy gehad het met mense uit Taiwan?”

“Nee.”

“Die plaaslike Chinese gemeenskap?”

“Nie waarvan ek weet nie.”

“Farmaseutiese maatskappye?”

“Daar is een vir wie ons bemarkingstukke aan medici pos, maar Jimmy het nooit met hulle gewerk nie.”

“Het hy self dwelms gebruik?”

“Nooit. Dit is belaglik, Jimmy was nie dié soort nie.”

“Meneer Wallace se politiek. Het hy ’n sterk politieke standpunt gehad?”

“Jimmy? Nee …”

“Het u sake gedoen met enige politieke groepering?”

“Nog nooit.”

“Weet u hoe dit met hom en sy vrou gegaan het?” vra Joubert.

Schutte sit nog meer regop in sy hoë stoel. “Daar gaan jy ook niks kry nie, kaptein.” Sy stem is verwytend. “James en Margaret was die perfekte paartjie. Verlief, suksesvol, pragtige kinders … Klein Jeremy speel fantasties krieket. Nee, kaptein, daar gaan jy niks kry nie.”

Joubert weet dit is tyd om Schutte te bevry van dié oordadige respek vir en beskerming van die dooies.

Die sekretaresse bring ’n skinkbord met drie koppies in en plaas dit op die lessenaar. Sy skink en hulle bedank haar. As almal klaar geroer het, vra Joubert: “Weet u wat die oorledene gister by die Holiday Inn in Nuweland gaan doen het?”

Schutte rol sy skouers asof die antwoord voor die hand liggend is. “James het dikwels daar ’n bier saam met sy krieketvriende gaan drink.”

“Meneer Schutte, hoe het die oorledene oor die weg gekom met die vroue hier by die werk?”

“Baie goed. Hy het met almal baie goed oor die weg gekom.”

In die goeie ou dae, toe Mat Joubert nog sy dagtaak met die oorgawe van ’n nuutbekeerde verrig het, was daar ’n tegniek wat hy ontwikkel het vir onwillige getuies soos Walter Schutte – die sogenaamde Bul, soos sy kollegas dit gedoop het. Hy sou sy groot lyf vooroor leun, sy skouers vierkantig en breed trek, sy kop in ’n stormramposisie laat sak, sy stem ’n oktaaf of wat laat daal en sy arendsoë op die spesifieke persoon vestig. Dan sou hy reguit praat. Met ’n ietwat meerderwaardige, dreigende stemtoon. Dit was melodramaties, oordadig en aangeplak. En dit het gewerk.

Maar, soos Tony O’ Grady op ’n dag sou sê, Joubert het ’n jaar of twee gelede die “huppel in sy knuppel” verloor. En daarmee saam die motivering om Die Bul te gebruik. Tot vandag toe.

Of dit die brose vlammetjie van vleeslike luste is wat Yvonne Stoffberg aangesteek het, of dalk kolonel Bart de Wit se uitdaging aan die flarde van sy ego, sal Joubert nie weet nie. Wanneer hy oorskakel na Die Bul, is dit waarskynlik nie ’n beredeneerde optrede nie, maar eerder ’n refleks.

Die fisieke deel van die skouers en die kop en die oë kry hy reg, maar met die stem en die woordkeuse sukkel hy aanvanklik: “Jimmy Wallace het gistermiddag die laaste ure van sy lewe … bo-op ’n dom blondine deurgebring. Ek is seker dit was nie sy eerste … eskapade nie. En … ek weet iemand by die kantoor moet van sy eskapades weet, want iemand moet hom beskerm as mevrou Wallace na hom soek. Meneer Schutte, jy het nou ’n keuse. Jy kan aanhou met feëverhale oor hoe voorbeeldig en wonderlik Jimmy Wallace was. Dan moet ek ’n span speurders hier inbring wat elkeen van die werknemers ure lank gaan besig hou. Of jy kan ons help, en ons loop so gou moontlik.”

Joubert bly net so vooroor sit, aggressief. Schutte maak sy mond oop en toe, asof hy dit nie om ’n woord kan laat pas nie.

“Jimmy … Jimmy … het sy dingetjies gehad.” Die hande is nou stil. Joubert leun terug in sy stoel – Die Bul is nie meer nodig nie.

“Meneer Schutte, jy het vanoggend gesien hoe James Wallace lyk. Ons probeer uitvind wie rede sou hê om dit aan hom te doen. Help ons.”

“Hy … was lief vir die vroumense.” Schutte kyk vlugtig na die deur, asof hy verwag dat James Wallace hulle afluister.

“Maar hy het twee reëls gehad. Niks nonsens by die werk nie. En niks van lang verhoudings nie. Net een keer, met elkeen. Bed toe.”

Schutte se hande begin weer beweeg, asof hy momentum kry.

“Julle moes vir Jimmy geken het. Hy was …” Handgebare dui op ’n soektog na die regte woord. “Hy het mense aangetrek soos ’n magneet. Enigiemand. Hy was mal oor mense. Hy kon met almal gesels. Hy kon enigiemand oorreed. Ons het in Johannesburg in ’n restaurant gesit. Toe wed hy ons hy sal die swartkop in die hoek binne twintig minute kan ompraat om saam met hom na die vrouetoilet te gaan. Ons het hom gewed. Ons mag nie vir hulle gekyk het nie en hy moes ’n bewysstuk saambring. Agtien minute later toe soengroet die swartkop hom buite die restaurant. En toe hy kom sit, haal hy haar panty uit sy sak uit. So ’n rooie met ’n swart …” Dan bloos Schutte.

“Ons wil hê u moet mooi dink, meneer Schutte. Weet u van enige van sy verhoudings wat aanleiding sou kon gee tot konflik of ongelukkigheid?”

“Nee, ek sê mos hy het nie verhoudings gehad nie. Op sy manier was hy baie lief vir Margaret. Goed, hy het nou en dan sy eie reëls oortree. Hier was ’n sekretaressetjie, so ’n jong, mooi enetjie met groot … Maar dit het net ’n week gehou. Sy het nog maande hier gewerk, toe getrou … Ek moet eerlikwaar sê ek weet nie van iets wat kon maak dat iemand hom wou vermoor nie.”

Joubert kyk na Griessel. Griessel skud net sy kop effens. Hulle staan op. “Ons is seker daar is iewers ’n jaloerse man wat nie van Wallace se reëls gehou het nie, meneer Schutte. Skakel ons asseblief as u aan iets kan dink wat sal help.”

“Absoluut, absoluut,” sê Schutte in sy diep stem en staan ook op. Hulle groet met die hand, plegtig.

“Ek het lanklaas Die Bul gesien, kaptein,” sê Griessel wanneer hulle met die hysbak afry na die straatvlak.

Joubert kyk vraend na hom.

“Daardie een waar jy so vooroor leun.”

Joubert glimlag skeef, selfbewus.

“Ons het dit destyds almal probeer na-aap,” sê Bennie Griessel opreg nostalgies. “Dit was goeie ou dae.” En dan besef hy dat Mat Joubert dalk nie daaraan herinner wil word nie en hy bly stil.





Sewe




Die dokter se leesbril hang laag op sy neus. Hy kyk daaroor na Joubert, streng en gewigtig.

“As ek ’n werktuigkundige was, het ek nou gefluit en my kop geskud, kaptein.”

Joubert sê niks.

“Dit lyk nie goed nie. Jy rook. Jou longe klink nie goed nie. Jy is vyftien kilogram oorgewig. Jy sê self jy drink te veel. Jy het ’n familiegeskiedenis van hartvatsiektes. Jy werk onder druk.” Die geneesheer verstrengel sy vingers voor hom op die lessenaar.

Die man moet ’n staatsaanklaer geword het, dink Joubert en kyk na die plastiekmodel van ’n hart en longe wat op die lessenaar staan. Dit adverteer ’n geneesmiddel.

“Ek gaan die bloed stuur vir toetse. Ons moet kyk na die cholesterol. Maar intussen sal ons moet kyk na die rook.”

Joubert sug.

“Het jy al daaraan gedink om op te hou?”

“Nee.”

“Weet jy hoe nadelig dit is?”

“Dokter …”

“Dit is nie net dat jy jou blootstel aan siektes nie. Dit is die manier waarop jy doodgaan, kaptein. Het jy al iemand met emfiseem gesien? Jy moet saam met my kom, kaptein, na die hospitaal toe. Hulle lê daar, in suurstoftente, besig om te versmoor in hul eie slym, soos visse op droë grond wat nie asem kan kry nie.”

Op die lessenaar is ’n penhouer in die vorm van ’n pil. Dit adverteer ’n ander soort medisyne. Joubert vou sy arms voor hom en staar daarna. “En dié met longkanker?” gaan die dokter voort. “Het jy al gesien wat chemoterapie aan ’n mens doen, kaptein? Die kanker maak jou maer en moeg, die chemoterapie laat jou hare uitval. Lewende lyke. Hulle wil nie in die spieël kyk nie. Hulle is emosioneel, groot manne wat huil as hul kindertjies langs die hospitaalbed sit.”

“Ek het nie kinders nie,” sê Joubert sag.

Die dokter haal sy leesbril af. Hy klink verslae. “Nee, kaptein, jy het nie kinders nie. Maar gesond leef doen ’n mens in die eerste plek vir jouself. Vir jou gees, vir jou genoegdoening. En vir jou werkgewer. Jy is dit aan jou werkgewer verskuldig om fiks en gesond te wees. Want dan is jy helder en produktief …”

Die leesbril word weer op die neus geplaas.

“Ek gaan nie iets voorskryf voor ons die bloedtoets terug het nie. Maar ek wil tog vra dat jy sal kyk na die rook. En jy sal moet oefening kry. En jou eet- en drinkgewoontes …”

Joubert sug.

“Kaptein, ek weet dit is moeilik. Maar gewig is ’n ding wat neuk. Hoe later jy begin om daarna te kyk, hoe moeiliker word dit.”

Joubert knik, maar hy kyk die dokter nie in die oë nie.

“Ek is onder kontrak om ’n verslag oor dié ondersoek aan jou werkgewer te stuur.” En dan voeg die geneesheer onverklaarbaar by: “Ek is jammer.”

Die Polisiekollege in Pretoria neem elke groep studentekonstabels na die Mag se museum in Pretoriusstraat, in die ou Kompol-gebou. Dié besoek is gewoonlik nie ’n groot sukses nie. Die studente bederf dit deur, kenmerkend van hul ouderdom, mekaar te probeer oortref in baldadigheid en ongekunstelde humor.

Daarom het Mat Joubert eers op die plek verlief geraak toe hy jare ná sy kollegedae in Pretoria in ’n moordsaak moes gaan getuig – en in die vyf dae dat hy moes wag om as getuie geroep te word, uit verveeldheid na die museum gedryf is.

Hy het van uitstalling na uitstalling beweeg, sy verbeelding aangegryp. Want toe het hy reeds die ervaring en insig gehad om te weet dat elke verroeste moordwapen, elke vergeelde bewysstuk vir ’n lank vergete speurder ure se swoeg en sweet beteken het. En uiteindelike sukses.

Die volgende dag was hy weer daar. En adjudant Blackie Swart het hom raakgesien. Blackie Swart, diep beplooid, ’n kettingroker met ’n stem wat klink soos stewels op gruis, was die faktotum van die museum – ’n pos wat hy blykbaar bekom het omdat die generaal moeg geraak het vir sy eindelose pleidooie.

Hy was vyftien toe hy hom by die Mag aangesluit het, het hy aan Joubert vertel in sy besemkas-kantoortjie in die kelderverdieping. “Perdepatrollie tussen Parys en Potchefstroom gedoen.” Joubert is ure lank vergas op staaltjies en polisiekoffie, die brousel wat met ’n proppie brandewyn getemper word.

Blackie Swart se lewe is in die museum uitgestal, veral in die glaskaste onder die opskrif DIE GESKIEDENIS VAN MISDAADONDERSOEK.

“Ek het dit alles meegemaak, Mattie, gesien gebeur. Ek het die museum eers gesien toe ek my vyf-en-twintig-jaar by die generaal kom haal het hier by hoofkwartier. En ek het geweet ek wil terugkom, eendag. Toe vat ek pensioen op sestig, met vyf en veertig jaar diens, en gaan sit by Margate en kyk drie maande lank hoe my kar oproes. Toe bel ek die generaal. En nou is ek elke dag hier.”

Joubert en die ou man het die dae omgepraat en omgerook. Dit was nie ’n paternalistiese verhouding nie, eerder vriendskap, moontlik juis omdat Blackie Swart so anders as Joubert se pa was.

Ná die week in Pretoria het hulle mekaar sporadies gesien. Albei was swak telefoonkommunikeerders, maar Joubert het nou en dan gebel, veral wanneer hy raad nodig gehad het met ’n saak. Soos nou.

“Dokter sê ek moet die rook los, oom Blackie,” sê hy in die gehoorbuis.

Hy hoor die aamborstige kekkellaggie aan die ander kant. “Hulle sê my dit al vyftig jaar lank, Mattie. En ek hou nog. Word nou agt en sestig in Desember.”

“Ek het ’n snaakse moord hier, oom Blackie. My BO sê dis Chinese mafia.”

“Is dit jou saak? Beeld haal vanoggend vir De Wit aan. Ek kon dit nie verstaan nie, maar nou ja …” Dan word sy stem sameswerend: “Ek hoor sy swart kollegas in die ANC het hom Mpumlombini genoem. Vir De Wit. In die ou dae, in Londen.”

“Wat beteken dit, oom Blackie?”

“Xhosa vir Tweeneus. Die man het glo ’n moesie … Swart mense het ’n goeie sin vir humor, Mattie …”

Joubert hoor hoe ’n sigaret aan die ander punt aangesteek word. Dan hoes Blackie Swart lank en aanhoudend.

“Miskien moet ék ook maar die goed los, Mattie.”

Joubert vertel hom van James Wallace.

“De Wit is reg oor die modus operandi, Mattie. Chinese het só gemaak in Londen verlede jaar. Maar hulle het ander maniere ook. Lief vir die kruisboog. Dramatiese goed. Baie meer finesse as die Amerikaanse Mafia. Maar die Chinese is nie net by dwelms nie, Mattie. Kyk na kredietkaartbedrog. Hulle is sterk daar. Vervalsing van en handel in dokumente. Paspoorte, rybewyse. Wallace het ’n posbesigheid. Het hulle banke se kredietkaarte weggestuur? Hy kon maklik aan die Chinese die nommers verskaf.”

“Sy werksmense sê hy het met geen Oosterse groepe sake gedoen nie.”

“Vra sy vrou. Miskien het hulle hom by die huis kom sien.”

“Hy het rondgeslaap, oom Blackie.”

“Kan wees, Mattie. Jy weet wat ek sê. Daar is twee soorte moorde. Die soort waar iemand hom skielik vererg en met die eerste die beste ding skiet of slaan of gooi. En die ander is waar hy eers planne maak. Kopskoot in ’n parkeerterrein klink vir my na ’n plan. En ’n man wat rondslaap … Kan wees …”

Joubert sug.

“Voetwerk, Mattie. Dis al wat help. Voetwerk.”

Hy ry na Margaret Wallace. Hy wonder hoe ver sy op die pad van rou gevorder het. Dan, op die N1 tussen Bellville en die Suidelike Voorstede, onthou hy vir die eerste keer sy droom van die vorige nag.

Hy weet skielik hy was ’n drenkeling die afgelope twee jaar. Hy het gedobber op die oppervlak van sy bewussyn, te bang om te duik in die donker water. Hy kan onthou van drome wat na hom teruggekom het in die veiligheid van die dag. Maar hy het hulle diep gehou, terwyl hy bo gedryf het. En nou kan hy sy kop onder die waterlyn dompel en sy oë oophou, kyk na die droom, want Lara was nie deel daarvan nie. Yvonne Stoffberg was daar. Hoe duidelik het hy nie haar liggaam gesien nie.

Sal hy kan?

As drome werklikheid word en sy staan daar voor hom, ’n ope uitnodiging. Sal hy kan? Sal die gereedskap van die liefde só ongeslyp hul werk kan verrig? Of is sy lemme te stomp om die verlede af te snoei, sodat iets nuuts kan uitloop?

Die onsekerheid gaan lê hier laag in sy buik, ’n vrees. Sy buurman se agttienjarige dogter. Of is dit sewentien? Hy dwing sy gedagtes na die ander karakters van sy droom. Wat het Bart de Wit daar gedoen? Gat in die kop. En Margaret Wallace? Hy verwonder hom aan die misterie van sy onderbewussyn. Wonder waarom hy nie van Lara gedroom het nie. Wonder of sy vannag sal terugkeer. Die ou monsters dring sy denkpoel binne. Hy sug. En skiet op na die veilige oppervlak.

Die vrou wat die deur oopmaak, moet Margaret Wallace se suster wees. Haar hare is kort en rooier, haar vel liggies besprinkel met sproete, haar oë effekleurig ligblou, maar die ooreenkoms is onmiskenbaar.

Joubert vra om haar suster te sien.

“This isn’t a good time.”

“I know,” sê hy en wag ongemaklik, ’n indringer. Die vrou sug ergerlik en nooi hom in.

Daar is mense in die sitkamer wat gedemp gesels en dan stilbly wanneer hy in die voorportaal gaan staan. Hulle kyk na hom, herken die Gereg aan sy klere en sy grootte en sy styl. Margaret Wallace sit met haar rug na hom toe, maar volg die ander se oë. Sy staan op. Hy sien sy het ver gevorder op haar pad. Die kasse van die oë is donker en diep. Daar is nou lyne om haar mond.

“I’m sorry to trouble you,” sê hy, ongemaklik oor die stilte in die groot vertrek en die verwytende blik van elkeen teenwoordig.

“Let’s go out into the garden,” sê sy sag en maak die voordeur oop.

Die suidoos stoei met die toppe van die groot bome, maar hier onder is dit feitlik stil. Margaret Wallace loop met haar arms styf om haar borste gevou, die skouers rond. Hy ken dié lyftaal so goed, die kenteken van die weduwee, universeel erken.

“Don’t feel bad. I know you have a job to do,” sê sy en probeer glimlag.

“Did you see the newspaper?”

Sy skud haar kop. “They hide it from me.”

“My superior … There is a theory …” Sy denke jaag weer agter eufemismes aan, soek na sagte sinonieme vir die dood. Hy wens Bennie Griessel was hier.

“In Taiwan, organised crime uses the same methods … in their … work. I have to pursue the possibility.”

Sy kyk na hom, die wind waai haar hare oor haar gesig. Sy vee dit met die een hand weg, vou dan weer die arms. Sy wag.

“Your husband might have done business with them, perhaps indirectly … With the Chinese. Would you know?”

“No.”

“Mrs Wallace, I know this is difficult. But if there could be some explanation …”

“Haven’t you found anything?” vra sy sonder verwyt, asof sy reeds die antwoord ken. Die hare is weer oor haar gesig. Sy laat dit nou begaan.

“Nothing,” sê hy en wonder of sy ooit van Lizzie van der Merwe sal uitvind, en van die ander vroue met wie sy James J. vir ’n nag of twee gedeel het.

“It was a mistake,” sê sy. “An accident.” Haar hand ontvou voor haar bors, troos hom op sy boarm. “You’ll see. It has to be.” Dan vou sy die hand weer weg.

Hy neem haar terug na die huis en groet. Hy ry huis toe en wonder waarom die aantal bome in ’n woonbuurt eweredig is aan die per capita inkomste van die broodwinners wat daar bly.

Dit is al ná sewe, maar die son sit nog bo die horison. Drawwers sweet oral in die brandstofdampe langs die pad. Hy steek ’n sigaret aan en wonder wat hy gaan doen omtrent sy gesondheid. Miskien moet hy oefening kry. Hy kan nie draf nie. Hy haat draf. Hy is te groot vir draf. Miskien swem. Dit sal lekker wees om weer te swem. Nie mededingend nie. Net vir die plesier. Vergete herinneringe roep om aandag. Die reuk van die swembad se kleedkamer, die voetbad met Dettol in, die tamheid ná ure se oefen, die smaak van chloor in sy mond, die adrenalien wanneer die skoot klap.

By sy huis is daar weer ’n briefie onder sy deur ingeskuif. Hoekom skryf jy nie terug nie?

Die ongemaklikheid is terug op die krop van sy maag. Hy herken dit nou. Daar was ’n steeg in Goodwood, agter die fliek in Voortrekkerweg. Hulle het gesê dit is waar die ducktails dinge doen. Hy was agt of nege. En elke Saterdagaand het hy na die donkerte van die steeg gestaar met ’n nuuskierigheid wat hom wou verteer. Hardloop, het sy kop gesê. Hardloop net een keer soos die wind daardeur. Maar die vrees, die onsekerheid of hy dapper genoeg was, het soos ’n gewig op sy krop gelê. Hy het nooit die steeg aangedurf nie.

Hy ry Blouberg toe, koop hoender by Kentucky en eet dit in die motor terwyl hy na die platgewaaide see kyk. Dan ry hy huis toe om sy boek te gaan lees.

Die telefoon lui laataand. Hy sit William Gibson op die tafeltjie langs die leunstoel neer en gaan antwoord. Dit is Cloete van Openbare Betrekkinge.

“Is julle nog op die Geel Gevaar, of kan ek die koerante môre met iets anders voer?”





Agt




KAAPSTAD – Die Polisie kon tot dusver geen verbintenis vind tussen die Tokarefmoord en Chinese dwelmsindikate nie.

De Wit lees die berig in ’n sagte stem, met ’n klein glimlag op sy mond. Hy sit die koerant neer en kyk na Joubert.

“Moet ons in die openbaar verskil oor dié saak, kaptein?”

“Nee, kolonel,” sê Joubert en sien die nie-rook-bordjie het verskuif van die koffietafel in die hoek na De Wit se lessenaar, langs die gesinsfoto’s.

“Jy het die inligting verskaf?” De Wit se stem het ’n geselstrant, byna plesierig.

“Kolonel,” sê Joubert moeg, “ek het as ondersoekbeampte gereageer op die navraag van ’n kollega by OB. Dit is in ooreenstemming met die prosedures en regulasies van die Mag. Ek het die inligting oorgedra soos ek die moordondersoek in dié stadium sien. Dit is my plig.”

“Ek sien,” sê De Wit en glimlag weer effentjies. Hy tel die koerant op en laat sy oë oor die berig gaan. “Jy het dus nie opsetlik ’n gek van jou bevelvoerende offisier gemaak nie?”

“Nee, kolonel.”

“Ons sal nooit regtig weet nie, kaptein Joubert. Maar op die lange duur sal dit seker nie saak maak nie. Baie dankie dat jy kom inloer het.”

Joubert besef hy word verskoon. Hy staan op, ongemaklik, onseker oor die ander man se kalmte, reeds bewus dat dit iets beteken, iets voorspel.

“Sterkte, kaptein,” groet De Wit.

“Dankie, kolonel,” mompel Joubert by die deur.

Hy is agter met sy papierwerk. Hy trek die onderoffisiere se lêers nader, maar sukkel om te konsentreer. Hy steek ’n Winston aan en trek dit diep in sy longe in. Hy wonder of hy opsetlik ’n gek van sy bevelvoerende offisier gemaak het.

En hy dink aan die slinksheid van sy eie onderbewussyn en weet hy is nie heeltemal onskuldig nie, edelagbare.

Slepende voetstappe beweeg af in die gang. Griessel stap verby, met geboë hoof. Daar is iets in sy liggaamshouding wat Joubert ontstel.

“Bennie?”

Die voetstappe kom terug. Griessel se gesig verskyn om die deur. Hy is bleek.

“Bennie, is alles reg?”

“Ek is OK, kaptein.” Die stem is ver.

“Wat is dit, Bennie?”

“Ek is OK, kaptein.” Effens meer uitdrukking. “Seker iets wat ek geëet het.”

Of gedrink het, dink Joubert, maar sê niks.

Griessel se gesig verdwyn. Joubert steek nog ’n sigaret aan. Hy dwing sy konsentrasie terug na die werk voor hom. Dossiere oor die dood. ’n Bejaarde egpaar in Durbanville. ’n Ongeïdentifiseerde swart lyk langs die treinspoor by Kuilsrivier. ’n Bruin vrou van Belhar, deur haar dronk man met ’n skroewedraaier om die lewe gebring.

Dan hoor hy iemand keel skoonmaak. Bart de Wit staan hier voor sy lessenaar. Joubert wonder hoe hy dit regkry om soos ’n kat oor die teëlvloer te beweeg. Hy sien De Wit glimlag nie. Sy gesig is ernstig.

“Ek het nuus, kaptein. Goeie nuus.”

Joubert krap die Sierra se ratte en bestuur hortend deur die middagverkeer. Hy wens hy kan uiting gee aan die verstomming en verontwaardiging wat soos ’n knap kledingstuk aan hom klou.

De Wit het gesê hy moet die sielkundige gaan sien.

“Jou lêer is verwys.”

Die passiewe vorm. Te bang om te sê: Ek het jou lêer verwys, kaptein, want jy is ’n verloorder. En ek wat Bart de Wit is, soek nie verloorders nie. Ek wil van jou ontslae raak. En as ek dit nie met die mediese verslag kan doen nie, sal ek dit met dié ding doen. Kom ons krap in jou kop rond, kaptein. Ons druk ’n lepel in die hutspot van jou verstand en ons roer so ’n bietjie. Staan terug, mense, want dit kan gevaarlik wees. Die man hier voor julle is effens … af. Wes. Van lotjie getik. Geestelik ongebalanseerd. Van buite lyk hy normaal. Ietwat vet, ietwat onversorg, maar normaal. Binne is dit ’n ander storie, dames en here. Binne daardie skedel is ’n paar kortsluitings.

“Jou lêer is verwys. Daar is openinge …” Hy het die groen lêer geraadpleeg. “Vanmiddag om 16:30, môre om 09:00, 14:00 …”

“Vanmiddag,” het Mat Joubert oorhaastig gesê.

De Wit het van die lêer opgekyk, ietwat verras, takserend. “Ons reël so.”

En nou is hy op pad. Want iewers in ’n vaal kantoor, met ’n rusbank vir sy pasiënte, het ’n bebrilde sielkundige sy lêer onder oë geneem. Die telkaart van Freud of Jung of wie ook al begin opstel. Wat het ons hier? Die dood van sy vrou? Minus twintig. Dissiplinêre verhoor? Minus twintig. En die insinking van sy werk. Minus veertig. Hy kon dit verhelp het. Groottotaal: minus tagtig. Bring hom in.

“Ons sal die situasie dophou, kaptein. Kyk of die terapie help.” ’n Dreigement, bedek, weggesteek. Maar duidelik De Wit se troefkaart.

Miskien is dit ’n goeie ding. Die Here weet, sy kop was deurmekaar. Was? Kan ’n mens regtig oor jou eie geestesgesondheid oordeel? Hoe normaal was hy toe hy by Macassar na die drie verbrande oorskotte gekyk het en hul stemme in sy ore kon hoor? Die hoë, skril oergil wat die gees uiter wanneer hy die liggaam teësinnig moet verlaat, in volume versterk deur die skreeu van die vlees teen die pyn van ’n vuurdood, elke pynreseptor wat in die intense hitte verswelg word.

Is dit normaal?

Is dit normaal om dan weer vir die hoeveelste keer te wonder of jy nie moet moeite doen om jou ook by die dooies aan te sluit nie? Is dit nie beter om beheer te hê oor die wanneer en die hoe nie? Is dit verkeerd om bang te wees vir daardie onverwagse oomblik wanneer die verstand besef hy het ’n nanosekonde oor in dié wêreld? Bang. Vreesbevange.

En nou hou De Wit die swaard bo sy deurmekaar kop. Laat die sielkundige die bedrading herstel, of …

Hy hou stil voor die toringblok in die strandgebied. Sestiende verdieping. Dokter H. Nortier. Dit is wat hy weet. Hy neem die hysbak.

Joubert is bly daar is nie ander mense in die wagkamer nie.

Dit is anders as wat hy verwag het. Daar is ’n bank en twee stoele, gemaklik en vrolik met pienk-en-blou blommetjiesmateriaal. In die middel is ’n koffietafel met ses tydskrifte op, die jongste uitgawes van De Kat, Time, Car, Cosmopolitan, Sarie en ADA Magazine. Teen ’n witgeverfde deur wat vermoedelik na die spreekkamer lei, is ’n netjiese bordjie waarop staan DR. NORTIER SAL U BINNEKORT VERWELKOM. MAAK U ASSEBLIEF TUIS EN GENIET VAN DIE KOFFIE. DANKIE. Dieselfde boodskap is ook in Engels. Teen die ander mure is waterverfskilderye – die een van kosmosse, die ander van Paternoster se visserhuisies. In een hoek is ’n koffiemasjien op ’n tafel. Langsaan is wit porseleinkoppies, pierings, teelepels, ’n potjie poeiermelk en ’n potjie suiker.

Hy skink vir hom en die filterkoffie ruik lekker. Is die man dan ’n psigiater? Sielkundiges is mos “meneer”, nie “dokter” nie. Is hy só mal dat hy ’n psigiater nodig het?

Hy gaan sit op die rusbank, plaas die koppie op die koffietafel neer en haal sy Winstons uit. Hy soek ’n asbak. Daar is geen asbak in die vertrek nie. Hy vervies hom. Hoe kan ’n sielkundige nie ’n asbak in sy wagkamer hê nie? Hy sit die pakkie sigarette terug in sy sak.

Hy kyk na De Kat se voorblad. ’n Man met grimering verskyn daarop. Die voorbladprikkel sê: NATANIËL – DIE MAN AGTER DIE MASKER.

Hy wil rook. Hy blaai deur die tydskrif. Daar is niks wat hom interesseer nie. Die vrou op die buiteblad van die Cosmopolitan het groot borste en ’n groot mond. Hy tel dit op en riffel die blaaie onder sy duim. Hy sien ’n opskrif. WHAT HE THINKS ABOUT AT WORK. Hy vee die tydskrif oop by dié artikel en besef die dokter kan enige oomblik die deur oopmaak. Hy maak die tydskrif toe.

Hy is lus vir ’n sigaret. Sigarette kan mos nie die siel skade aandoen nie.

Hy haal die pakkie uit en sit ’n sigaret tussen sy lippe. Hy haal die aansteker uit en staan op. lewers moet daar seker ’n asblik wees wat hy kan gebruik.

Die wit deur gaan oop. Joubert kyk op. ’n Vrou kom in. Sy is klein. Sy glimlag en steek haar hand uit.

“Kaptein Joubert?”

Hy steek sy hand uit. Die aansteker is nog daarin. Hy trek sy hand terug en verplaas die aansteker na sy linkerhand. “Dis reg,” wil hy sê, maar die sigaret is nog in sy mond. Hy bloos en trek sy hand terug en haal die sigaret uit sy mond en plaas dit oor na sy linkerhand. Hy steek weer sy hand uit en neem hare.

“Hier is nie ’n asbak nie,” mompel hy blosend en voel haar hand, klein en warm en droog.

Sy glimlag steeds. “Dit is seker die skoonmaakdiens. Kom rook hier binne,” sê sy en los sy hand. Sy hou die wit deur vir hom oop.

“Nee, asseblief,” sê hy en wys sy moet eerste stap, selfbewus oor sy ongemak en sy sinlose stelling oor die asbak.

“Dankie.” Sy gaan in en hy trek die deur agter hulle toe, bewus van haar lang bruin romp, haar wit bloes wat tot by die keel toegeknoop is en haar bruin borsspeld, ’n houtolifant, bo een van die klein borsies vasgesteek. Hy bemerk ’n skimp van vroulike geur, parfuum of hare, haar grasie, haar tengerigheid en ’n eienaardige skoonheid wat hy nog nie kan definieer nie.

“Sit gerus,” sê sy en stap om die wit lessenaar. ’n Lang, slanke blompot met drie pienk angeliere staan daarop. En ’n wit telefoon, ’n A4-notaboek, ’n klein penhouer met ’n paar rooi en swart potlode daarin, ’n groot glasasbak en ’n groen lêer. Hy wonder of dit sý lêer is. Agter haar is ’n wit boekrak wat die muur byna vol maak. Dit is vol boeke – slapbande en hardebande, ’n netjiese, veelkleurige, vrolike paneel van kennis en vermaak.

Daar is nog ’n deur in die hoek, langs die boekrak. Is dit waar die vorige pasiënt uit is?

Hy gaan sit op een van die twee stoele voor die lessenaar. Dit is televisieleunstoele, van die platstelbare soort, met swart leer oorgetrek. Sy gaan sit. Hy wonder of hy nie moes wag tot ná sy gaan sit het nie. Sy glimlag, haar hande gemaklik op die lessenaar voor haar.

“Ek het nog nooit iemand in konsultasie as ‘kaptein’ aangespreek nie.”

Haar stem is baie sag, asof sy in die strengste vertroue gesels, maar melodieus. Hy wonder of psigiaters geleer word om só te praat.

“Hulle noem my Mat.”

“Is dit na aanleiding van jou voorletters?”

“Ja,” sê hy, verlig.

“My naam is Hanna. Ek sal bly wees as jy my só sal noem.”

“Is jy ’n psigiater?” vra hy senuagtig, impulsief.

Sy skud haar kop. Haar hare is ’n byna kleurlose bruin, agter haar kop vasgemaak in ’n vlegsel. Die vlegsel is sigbaar met elke swaai van die kop.

“’n Doodgewone sielkundige.”

“Maar jy is ’n dokter?”

Sy draai haar kop skeef, asof sy effens ongemaklik is. “Ek het ’n doktorsgraad in sielkunde verwerf.”

Hy verteer dié inligting.

“Kan ek maar rook?”

“Natuurlik.”

Hy steek die sigaret aan. Dit het gebuig toe hy dit netnou in sy hand vasgeklem het en vorm nou ’n futlose sekel tussen sy vingers. Hy trek die rook in en tik die as onnodig in die asbak af. Hy hou sy oë op die sigaret, op die asbak.

“Dit is nou maar die tweede week dat ek saam met die Polisie werk,” sê sy. “Ek het al ’n paar mense gesien. Sommige was ongelukkig omdat hulle moes kom. Ek verstaan dit goed, dit is nie lekker om in so iets gedwing te word nie.”

Sy wag vir reaksie, maar kry niks.

“Sielkundige konsultasie beteken nie dat ’n mens iets makeer nie. Net dat ’n mens iemand nodig het om mee te gesels. Iemand tussen die werk en die huis.”

Sy wag weer. Joubert hou sy oë weg van haar. Hoekom klink dit vir hom soos verskonings? Hoekom moet sy ’n vrou wees? Dit het hom onkant betrap.

“Julle werk skep baie stres. Elke polisieman behoort gereeld met ’n sielkundige te gesels.”

Joubert kyk op. “Is ek verwys omdat ek niks makeer nie?”

“Nee.”

“Wie het besluit ek moet kom?”

“Ek.”

Hy kyk na haar. Haar arms is ontspanne, haar hande maak net nou en dan klein beweginkies om haar woorde te punktueer. En haar stem. Hy kyk vinnig na haar gesig. Hy sien die lyn van haar kakebeen, reguit en fyn, asof dit breekbaar is. Hy kyk weer weg. Sy lyk nie skuldig nie. Net kalm en geduldig.

“En my BO?”

“BO?”

“My bevelvoerende offisier.”

“Ek kry elke dag ’n hele klomp lêers van offisiere wat dink hul mense moet met my gesels. Ek kyk daarna. En net ék beveel aan wie moet kom.”

Maar De Wit het steeds die aanvoorwerk gedoen. Die vorms ingevul. Die motivering geskryf.

Hy raak bewus van die intensiteit van haar blik. Hy druk die sigaret dood. Hy vou sy arms en kyk na haar. Haar gesig is ernstig.

Nog sagter as voorheen sê sy: “Dit is nie onnatuurlik om ongelukkig daaroor te wees nie.”

“Hoekom het jy mý gekies?”

“Hoekom dink jy?”

Sy is slim, dink hy. Te slim vir hom.

Hy weet hy is nie mal nie. Of is dit juis wat die malles sê? Hy is hier omdat hy ’n bietjie mal is. Die Groot Roofdier het sy spoor gevat. En dit maak hom soms …

“Oor my rekord,” sê hy gelate.

Sy kyk na hom, ’n simpatieke halfglimlag op haar mond. Haar mond is klein. Hy sien sy dra nie grimering nie. Die onderlip is ’n sappige brokkie, ’n natuurlike ligpers.

Wanneer sy niks sê nie, voeg hy by: “Dit is seker nodig.”

“Hoekom dink jy is dit nodig?” Amper ’n fluistering. Net die musikaliteit van haar stem maak dit hoorbaar.

Is dít hoe dit werk? Jy kom in en jy sit en jy steek jou eie sweer oop en laat die etter voor die slim doktor uitloop en sy ontsmet die wond en draai ’n verband daarom. Waar moet hy begin? Wil sy weet van sy kinderdae? Dink sy hy het nog nie van Freud gehoor nie? Of moet hy by Lara begin? Of by Lara eindig? Of by die dood? Wat van Yvonne Stoffberg? Wil jy die een hoor van die speurder en die buurman se dogter, doktor? Skreeusnaakse storie … Want die speurder wil, maar hy weet nie of hy kan nie.

“Want my werk ly daaronder.” ’n Lafhartige antwoord. Hy weet dit. Hy weet sy weet dit ook.

Sy bly lank stil. “Jou aksent. Ek kom van Transvaal af. Dit klink nog vreemd. Het jy hier grootgeword?”

Hy kyk af na sy bruin skoene wat politoer nodig het. Hy skud sy kop op en af. “Goodwood.”

“Broers en susters?”

Staan dit nie in sy lêer nie? “’n Suster, ouer as ek.”

“Is sy ook nog in die Kaap?”

“Nee. In Secunda.”

Hy kyk nou vir haar wanneer hy praat. Hy sien die breë voorkop, die groot bruin oë, wyd uitmekaar, die wenkbroue ruig.

“Lyk julle na mekaar?”

“Nee …” Hy weet hy moet nog iets sê. Hy weet sy antwoorde is te kort. “Sy … lyk na my pa.”

“En jý?”

“Na my ma.” Hy is skaam, ongemaklik. Wat hy wil sê, klink so alledaags. Maar hy sê dit: “Eintlik my ma se mense. Haar pa, my oupa, was blykbaar ook groot.”

Hy haal diep asem: “En lomp.” Hy is vies omdat hy die laaste woorde bygevoeg het. Soos ’n misdadiger wat opsetlik leidrade laat.

“Beskou jy jouself as lomp?” Sy sê dit outomaties, ’n refleks, en dit laat hom op ’n eienaardige manier beter voel. Sy is minstens nie volkome in beheer nie.

“Ek is.”

“Hoekom sê jy so?” Stadiger, nou deurdag.

“Ek was nog altyd.” Sy oë dwaal oor die boekrak, maar hy sien niks. “Vandat ek kan onthou.” Die herinneringe dam op teen die dyk. Hy haal ’n vinger uit om ’n paar druppels deur te laat. “Op laer skool ... Ek het altyd laaste gekom in die atletiek …” Hy is onbewus van sy skewe glimlag. “Dit het my gepla. Op hoër skool het dit nie meer nie.”

“Hoekom het dit jou gepla?”

“My pa … Ek wou soos hy wees.” Hy druk die vinger terug. Die lekplek is weer verseël.

Sy huiwer vir ’n oomblik. “Leef jou ouers nog?”

“Nee.”

Sy wag.

“My pa is drie jaar gelede oorlede. Aan ’n hartaanval. My ma ’n jaar daarna. Hy was een en sestig. Sy, nege en vyftig.” Hy wil nie onthou nie.

“Watter werk het hy gedoen?”

“Polisieman. Hy was vir sewentien jaar bevelvoerder van die Goodwood-stasie.” Joubert kan die ratte in haar kop hoor draai. Sy pa was ’n polisieman. Hý is ’n polisieman. Dit beteken wat dit ook al beteken. Maar sy sal ’n fout maak.

“Ek het nie ’n polisieman geword omdat my pa een was nie.”

“O?”

Sy is so slim. Sy het hom uitgevang. Maar sy gaan nie weer nie. Hy bly stil. Hy druk sy hand in sy baadjiesak en soek sy sigarette. Nee, dit is te gou. Hy haal sy hand uit en vou weer sy arms voor sy bors.

“Was hy ’n goeie polisieman?”

Hoekom karring sy so met sy pa?

“Ek weet nie. Ja. Hy was van ’n ander era. Sy mense – die uniforms, wit en bruin – was lief vir hom.”

Hy het nie eens met Lara oor sy pa gepraat nie.

“Maar ek dink hulle was bang vir hom.”

Hy het nooit met Blackie Swart oor sy pa gepraat nie. Of met sy ma of sy suster nie. Wil hy met iemand oor sy pa praat?

“Die bruines beslis. Hy het hulle hotnots genoem. Voor hulle. ‘Kom, my hotnot.’ En kaffers. Nooit ‘my kaffers’ nie – ‘verdomde kaffers’. Daar was nie in sý tyd swart konstabels by die stasie nie. Net swart misdadigers. Al hoe meer, soos wat hulle uit die Oos-Kaap hier kom werk soek het. Hy het hulle gehaat.”

Hy sien homself in die swart leunstoel, die groot man met die gevoude arms, geboë kop en effens deurmekaar hare, die bruin baadjie en broek, die ongepoetste bruin skoene, die das. Hy hoor homself praat. Asof hy buite homself tree. Praat, Mat Joubert, praat. Dit is wat sy wil hê. Gee vir haar die geraamtes. Laat sy met haar geleerdheid die oorskot van jou lewe ontleed. Bloei die vullis uit.

“Ék ook, eers, omdat hý het. Voor ek begin lees het en maats gehad het wie se ouers anders gedink het. En toe het ek net … neergesien op my pa, op sy eng en eenvoudige standpunt, op sy nuttelose haat. Dit was deel van … ’n proses.”

In die kelders van sy kop is dit ’n oomblik lank stil.

Die pyn kom druk op sy skouers. Hy by sy pa se graf, en hy weet hy het die man gehaat. En niemand het geweet nie. Maar sy pa het dit vermoed.

“Ek het hom gehaat … doktor.” Hy las haar titel met opset aan, ’n afstand tussen hulle. Sy wil weet. Sy wil hoor watter skimme sy kop bewandel. Hy sal sê. Hy sal haar fokken sê. Voor sy met haar tegnieke en haar stem en haar grote kennis dit uit hom