اصلی Prooi (Afrikaans Edition)

Prooi (Afrikaans Edition)

,
0 / 0
دا کتاب تاسو ته څنګه خواښه شوه؟
د بار شوي فایل کیفیت څه دئ؟
تر څو چې د کتاب کیفیت آزمایښو وکړئ، بار ئې کړئ
د بار شوو فایلونو کیفیتی څه دئ؟
کال:
2018
خپرندویه اداره:
Human & Rousseau
ژبه:
afrikaans
ISBN:
6d24cf2e-217f-4ba9-972b-7fa337d6e923
فایل:
کاپی کول (pdf, 162 MB)

ممکن تاسی علاقمند شی Powered by Rec2Me

 

مهمي جملي

 
nie1964
het1654
van1551
dit1265
hulle1070
wat1039
vir887
hom609
toe566
gaan512
haar500
daar471
kan442
net434
aan427
maar419
ons403
sal383
dan366
uit353
dis337
kom320
moet306
weet305
nou301
oor295
een294
vra289
kyk270
dat266
maak260
deur260
wil243
weer236
twee228
sien225
jou225
voor219
nog217
hoe204
hier197
baie187
soos177
kry171
dink165
wees164
laat164
waar160
teen158
ook148
0 comments
 

To post a review, please sign in or sign up
تاسی کولی شی د کتاب په اړوند نظر څرګند کړی او خپله تجربه زمونږ سره شریکه کړی، نورو لوستونکو ته به زړه راښکونکی (دلچسپه) وی چې د لوستل شوو کتابونو په اړوند ستاسی په نظر پوه شی. بدون له دی چې کتاب مو خوښ شو اویا خوش نه شو، که تاسی صادقانه په دی اړوند مفصله قصه وکړی، خلک کولی شی د ځان لپاره نوی کتابونه بیدا کړی، چې هغوی ته زړه راښکونکی (دلچسپه) دی.
1

Gates of Power

کال:
2019
ژبه:
english
فایل:
EPUB, 224 KB
0 / 0
2

Stolen Power

کال:
2020
ژبه:
english
فایل:
EPUB, 200 KB
0 / 0
DEON MEYER
PROOI
Human & Rousseau

Vir Marianne
Met liefde

Now it is pleasant to hunt something that you want very much over a long
period of time, being outwitted, out-maneuvered, and failing at the end of each
day, but having the hunt and knowing every time you are out that, sooner or
later, your luck will change and that you will get the chance that you are
seeking. But it is not pleasant to have a time limit by which you must get your
kudu or perhaps never get it, nor even see one. It is not the way hunting should
be.
– Ernest Hemingway, Green Hills of Africa

Deel I

1

Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Daniel Darret se vreemde verhouding met madame Lecompte begin met
geweld. En dit sal só eindig ook.
In die hitte en humiditeit van Augustus is hy weer slapeloos. Sy
kamervenster is wawyd oop, maar die Place Camille Pelletan is soos ’n oond,
windloos en bedompig. Om halfeen in die nag jaag die demone uit sy verlede
hom op. Hy trek ’n kortbroek, T-hemp en sy swart Nikes aan, neem dan die
drie stelle trappe na onder. In die klein plein sit die kat op die dak van sy bure
se ou, vuil Renault. Sy kyk sameswerend na hom; ons twee rustelose nagdiere.
Die verdomde kat. Wackett. Sonder rede so gedoop deur dié bure se
driejarige, destyds.
Hy stap sy gewone roete verby La Flèche Saint-Michel. Die basiliekplein,
bedags ’n mark-miernes, is nou heeltemal verlate. Oor die tremspore en die
dubbelpad, tot teenaan die water, want hy is op soek na die koel bries by die
rivier. Dan noord, flink op die linkeroewer se promenade. Links van hom broei
die ou stad van Bordeaux in die nagstilte soos ’n sluimerende dier.
By die Colbertpark is daar ’n eensame tiener op ’n skaatsplank, heen en weer
en heen en weer, die wieletjies op die betonwalle en houtplatforms ’n paar
minute lank die nag se enigste geluid. Hy wonder wat hou die kind dié tyd van
die nag wakker.
Hy steek die Garonne oor by die nuwe brug, die ingenieurswonderwerk van
Pont Jacques Chaban-Delmas, en op die regterbank draai hy suid. Hy voel ’n
luggie van di; e donker rivier af wat sy gelaat verkoel, net vir ’n rukkie.
Sy gedagtes is by die werksdag wat voorlê, sy klein en onbenullige
verantwoordelikhede terwyl monsieur en madame Lefèvre hul somervakansie
in Arcachon deurbring. Hy is aanvanklik nie eens bewus van die lang vrou in
die skadu’s van Le Parc aux Angéliques, die Park van die Engele, nie.
Eers wanneer sy ’n geluid maak, verskuif sy fokus, want hy hoor die vrees in
haar stem. Hy sien haar én die skimme tussen die bome, en hy swenk
instinktief in daardie rigting.
Daar is vyf van hulle – hulle jaag haar, jag haar. Hulle is rats en lenig en

sterk, een dra ’n bofbalkolf. Hy hoor hul hoonlag, die opgewonde uitroepe soos
die blaf van ’n trop wildehonde. Twee is amper by haar. Hulle is só op haar
ingestel dat hulle nie van Daniel bewus is nie.
Die een roep: “Girafe!” Daniel snap hoekom, want die lang vrou se galop is
onelegant soos ’n kameelperd. Hy hoor hoe die ander skater. Die voorste man
versnel en buig omlaag, klap haar enkel sodat sy ongrasieus en geluidloos in
die gras neerslaan.
Dan gryp die man haar aan die hare.
“Non!” roep Daniel onwillekeurig uit. Dit is ’n refleks en op daardie oomblik
voorsien hy die onmiddellike toekoms, besef hy die kousaliteit van wat nou
gaan gebeur. En hy weet dit hou vir hom groot risiko in. Nou én agterna.
Hulle kyk om, sien hom. Die een haal ’n mes uit; die lem blink ’n oomblik
lank in ’n ligkol van die Quai des Queyries se straatlampe. Die een met die
bofbalkolf het breë skouers en gespierde arms vol swart slang-tatoeëermerke.
Die wapens bewys hulle is nie toevallig hier nie. Hy onthou die sensasie in die
media en frustrasie onder polisie oor die oewer-struikrowers wat lê en wag vir
die laatnag se besope partytjiegangers.
Hulle vorm ’n halfmaan; jong manne, skaars twintig, vol selfvertroue. Hy
weet op dié ouderdom dryf ego en groepsdruk hulle aan, hulle gaan nou almal
gelyk op hom afstorm. Hy voel die las van sy ouderdom, sy lyf se
geheueverlies vir die geweld wat kom.
Een van hulle bulk ’n strydkreet. Dit is ’n primitiewe klank wat hulle tot
aksie aanspoor.
Hy voel die adrenalien. Hy slaan die grootste een, die een met die slangarms,
eerste. Sy tydsberekening is swak en dit tref sonder krag of impak. Die
mesdraer steek na hom, blitsig; Daniel is te laat om weg te ruk en die lem sny
hom oor sy ribbekas. ’n Vuishou tref hom teen die keel, nog een teen sy
wangbeen – harde slae wat hom laat sidder, wankel.
Vannag gaan hy hier vrek.
Slangarms lig die bofbalkolf hoog en ’n oomblik lank maak die ander ruimte
vir die hou. Daniel tree desperaat vorentoe, slaan hom met sy vuis teen die
slaap, hard en solied. Die hou maak ’n siek, hol geluid soos ’n waatlemoen wat
val. Slangarms syg neer. ’n Ander een tel die bofbalkolf op. Daniel tol op die
bal van sy voet, gryp met sy regterhand na die mesdraer, maar hy’s te stadig en
die lem sny diep in sy palm in. Hy gryp weer, kry die man se pols met sy
linkerhand beet, pluk hom met geweld nader, slaan hom met die regterpalm vol
op die neus, sy momentum opwaarts en vorentoe. Die mesdraer steier tot op sy
sitvlak, sanikend van pyn. Daniel voel die warmte van die bloed soos dit uit sy
palm stroom en ook uit die ribwond teen sy sy afsyfer.
Twee van hulle is gelyk op sy rug. Hy storm agteruit sodat hy een met sy

volle gewig teen ’n boom se stam vasstamp. Hy hoor die man se ribbes breek,
voel die arm om sy nek verslap. Maar die ander een slaan Daniel van agter af
met ’n vuis teen sy oor. Nog ’n hou tref hom teen die nek. Die vyfde man, sy
bebaarde gesig vertrek van haat en drif, storm met die bofbalkolf nader.
Daniel draai, om die een wat aan sy nek hang as skild te gebruik. Dit werk
nie. Die kolf tref Daniel op die dik vleis van sy regterskouer voor dit wegskram
en pynlik teen sy oor klap. Nou stroom sy bloed ook teen sy nek af. Dit maak
’n woede in hom los wat die roes en skanse en jare wegstroop. Hy gryp die kolf
stewig vas, draai dit uit die man se hande; hy sien die oë van sy aanvaller, nou
wild en bang vir die krag en die snelheid. Daniel slaan hom met die kolf teen
die kop. Die man syg neer. Hy stamp die kolf se steel agtertoe, tref die laaste
een wat op sy rug is teen die keel, sodat die wurgende arm om sy nek loskom.
Daniel draai om. Die man probeer keer met sy voorarm, maar Daniel swaai die
kolf, breek die radius en ulna. ’n Skerp, hoë gil in die nag.
Voeteval agter hom. Hy sien net betyds die mesdraer, sy gesig vol bloed, die
wit van sy oë wild en groot; die lem kom van onder af op. In een beweging
spring Daniel terug en slaan. Die punt van die kolf tref die meshand, die wapen
vlieg hoog, val in die gras. Hy tree vorentoe, stamp die kolf in die man se maag
in, swaai om. Maar niemand wil meer baklei nie.
Hy moet wegkom, want hier gaan gevolge wees. ’n Paar van hulle is ernstig
beseer.
Hy loop na die vrou toe. Sy sit en staar. Hy besef sy is ouer as wat hy gedink
het. Haar gesig is vreemd van vorm én uitdrukking. Vrees en fassinasie is oor
haar eienaardige gelaatstrekke versteen.
“Kom,” sê hy vir haar, bied sy regterhand aan om haar op te help, besef die
bloed drup vryelik daaruit. Hy verplaas die bofbalkolf, gee haar sy linkerhand.
Hy weet nie of sy dit sal neem nie, want hy is ’n groot swart man met bloed aan
sy hande en kop en klere, in die nag in die donker park.
Sy neem sy hand en hy trek haar op. Sy staan verdwaas.
“Ons moet wegkom,” sê hy met dringendheid.
Sy knik. Hy lei haar aan die arm weg. Hulle loop deur die skadu’s tot by die
Rue de Sem se ligte.
Hy kyk terug. Niemand kom agterna nie.
Hy slinger die bofbalkolf tot in die middelstroom van die breë rivier.
By die Pont de Pierre sê hy vir haar: “Hou net aan met stap.” Hy stoot haar
met sy hand agter haar rug. Sy knik, loop verder. Hy wil oor die tralies spring
en die trappies na benede neem, sodat hy die bloed minstens van sy gesig kan
was voor hy huis toe gaan. Maar hy sien sy steek vas en draai terug.
“Merci,” sê sy sag.

2

Augustus. Bennie Griessel. Bellville.
Die professionele lewe van ’n poliesman of -vrou wentel om ’n drieflaplêer wat
opvou tot net twee sentimeter breër en langer as ’n A4-bladsy.
Die legendariese “docket”.
Dit is esteties nie ’n mooi dokument nie.
Die docket is van dun, goedkoop karton vervaardig, in ’n ligbruin kleur wat
dikwels neerhalend vergelyk word met ’n onwelriekende neweproduk van
babas.
Op die voorkant, heel bo, is die wapen van die SAPD gedruk. En net onder
dit, in die vetste, grootste letters in die ganse dokument, staan CASE
DOCKET/SAAKDOSSIER, die amptelike, volledige titel. Tog verwys
speurders, staatsaanklaers en regters byna altyd bloot na die “docket”, ongeag
watter een van die land se elf amptelike tale hulle by die huis praat.
Dit het drie flappe en ses bladsye, elkeen van hoek tot kant in swart ink
gevul (’n laaste staatsdiens-bastion vir tweetaligheid in Engels en Afrikaans)
met woorde en sinne en afkortings, blokkies en stippellyne wat vir die onervare
of onkundige oog intimiderend en chaoties kan lyk. Maar vir dié wat dit
daagliks gebruik, is die docket ’n meesterwerk van doeltreffendheid. Dit het
oor dekades heen evolusionêr ontwikkel tot die perfekte gids vir en reisgenoot
van ’n saak – van daardie eerste besoek aan die misdaadtoneel tot by die finale
skuldigbevinding. Die ses kartonbladsye bevat op sigself kardinale inligting,
maar dit dien ook as ’n uitstekende, verrassend duursame omhulsel vir die
dikwels tientalle, soms honderde, dokumente wat die saak in sy leeftyd gaan
versamel. Die docket is terselfdertyd ’n pakhuis en ensiklopedie, bronnelys,
Speurbybel en spanningsroman.
Mits jy weet hoe om dit te lees, en dit natuurlik deur ’n nougesette, kundige
poliesman geskep en in stand gehou is.
Wanneer luitenant-kolonel Mbali Kaleni aan die einde van die Dinsdag se
oggendparade, net voor agtuur, vir kaptein Bennie Griessel ’n docket aangee,
weet hy en sy kollega kaptein Vaughn Cupido met die eerste oogopslag twee
belangrike dinge:

1. Dit is nie hul eie docket wat terugkom nadat Kaleni dit met haar pynlike
deeglikheid nagesien het nie. Want die heel eerste blokkie bo links dui
Beaufort-Wes aan as die stasie van oorsprong, en die naam van die eerste
ondersoeker is “Sers. A. Verwey”.
2. Dit is ’n warm patat. Want hulle het dadelik geloer na die middel van die
voorblad, onder Misdaad kode (sic). Op dié spesifieke dossier staan die syfers
wat elke speurder in Suid-Afrika se hart ’n bietjie vinniger laat klop:
31984.
Die ganse regstelsel se administratiewe kode vir moord.
“I want you and captain Cupido to focus on this case exclusively,” sê kolonel
Kaleni, met nadruk op die laaste woord. Sy is bevelvoerder van die Direktoraat
vir Prioriteitsmisdaadondersoeke – beter bekend as die Valke – se Eenheid vir
Ernstige en Geweldsmisdade. Haar voornaam beteken “blom” in Zoeloe, haar
moedertaal.
Griessel en Cupido weet op dié oomblik hul professionele lewens gaan vir
die afsienbare toekoms om hierdie spesifieke docket wentel. En hulle is nie
baie ingenome daarmee nie. Onder meer omdat dit ’n saak is wat hulle geërf
het. Wat beteken dit gaan waarskynlik gepaard met gebreke en verskeie soorte
bagasie, onder meer interdepartementele politiek en professionele afguns.
Boonop is die ondersoek minstens agt dae oud, volgens die saaknommer
(ingevul in die heel boonste, middelste blokkie van die voorblad). En die
Datum en tyd van die misdryf voorval (tweede groot blok op die voorblad,
links) is byna drie weke gelede. Die eerste twee-en-sewentig uur, daardie
kardinale periode waartydens ’n moordsaakondersoek gemaak of gebreek
word, is lank reeds verby.
Daarom kreun Vaughn Cupido en sê: “Why do we always get the cold case
dregs, colonel? The runts of the litter?”
“Because you are the best of the best, captain,” sê Mbali Kaleni. Sy is
tydsaam en frustrerend regulasie-gehoorsaam, en dryf daarom dikwels die meer
vrygeestige Cupido tot raserny. Maar sy weet hoe om die beste uit haar mense
te kry: “And that is what the case needs. Because it involves international
tourism, there seems to be jurisdictional grey areas, and local law enforcement
has not been impressive. So the provincial commissioner asked us to step in,
and he specifically requested you and Bennie. He says if anybody can solve
this, you can.”
“Damn straight, colonel,” sê Cupido ingenome, onbewus van haar vaardige
manipulasie.
“Furthermore, the victim is a former member of the Service,” sê Kaleni. “It’s
the Johnson Johnson docket.”
Sy wag dat die lig vir hulle moet opgaan, maar soos die meeste lede van die

Geweldsmisdaadspan het dié twee speurders die afgelope maand dag en nag
gewerk om die reeks moorde onder nagklubuitsmyters in die stad op te los.
Hulle staar net na haar.
“The guy who disappeared from the fancy train,” sê sy asof hulle darem dít
behoort te weet. “There have been stories in the media.”
“Johnson Johnson? That’s his name? For real?” vra Cupido.
“Yes.”
Griessel skud sy kop. “Sorry, colonel, we haven’t heard about it.”
“Okay. It’s all in the docket,” sê sy.
***
Maar alles is nié in die docket nie.
In Griessel se kantoor pak hulle die inhoud daarvan oor die uitgestrektheid
van sy staatsdienslessenaar uit, begin dit dan bestudeer.
Soos met alle SAPD-dossiere, bestaan die binnegoed uit drie afdelings: A, B
en C.
Deel A bevat die onderhoude, verslae, verklarings en die fotoalbum. In die
Johnson docket is dié inligting maar yl. Daar is ’n bladsy met aantekeninge, in
’n slordige handskrif, oor ’n telefoniese onderhoud met ’n mevrou Robyn
Johnson, ’n voorlopige verslag deur ’n forensiese ondersoeker van die SAPD
op George en ’n paar swak foto’s van ’n man in ’n swart pak en wit hemp wat
langs ’n treinspoor lê. Die foto’s toon ’n lyk wat reeds begin ontbind het. ’n
Ernstige kopwond het sy gelaatstrekke vervorm. Die stewels van SAPD-lede in
uniform wat rondom die liggaam staan, is ook op die foto’s sigbaar.
“Jissis,” sê Bennie Griessel en wys met sy vinger. Want dit beteken swak
bestuur van die misdaadtoneel en eindelose moeilikheid vir die staatsaanklaer,
sou die saak hof toe gaan.
“Ja. Country bumpkins. What do you expect?” vra Vaughn Cupido retories.
In die dossier se deel B word die korrespondensie bewaar wat met ander
SAPD-afdelings of buite-instansies soos banke of werkgewers gevoer is. Dié
afdeling bevat slegs ’n afskrif van ’n artikel 205-subpoena wat die speurder van
Beaufort-Wes gebruik het om inligting oor ’n selfoon by Vodacom te kry.
Deel C is die ondersoek-dagboek op die SAPS5-vorm. Ook dít is
afskeepwerk. Die laaste inskrywing sê die lyk is eers twee dae gelede van
Beaufort-Wes na die staatslykshuis in Soutrivier vervoer. Nog geen post
mortem is gedoen nie. Die liggaam is nog nie amptelik uitgeken as dié van
Johnson Johnson nie.

Griessel sug.
Cupido staan op. “Benna, kom ons try sense maak van dié ding,” sê hy en
vee die witbord teen die muur skoon.
Griessel werk van voor af deur elke docket-inskrywing, terwyl Cupido met
’n blou merker ’n tydlyn met kursoriese besonderhede op die bord skep.
Teen middagete is hulle nog besig. Hulle laat wegneemkos uit
Voortrekkerweg kom. Griessel bestel ’n Jalapeño Mayo-burger met skyfies van
Steers, sy nuwe gunsteling. Hy eet wat hy wil, want hy ry met sy bergfiets
minstens 140 kilometer per week teen die steiltes van Kloofnek uit. Hy is sewe
kilogram ligter as ’n jaar gelede.
Die inhoud van Cupido se keurige klerekas sit deesdae ongemaklik styf.
Want Vaughn wil die hart verower van sy nuwe liefde, die mooie Desiree
Coetzee van Stellenbosch, en sy hou van kosmaak en uiteet. Maar die vetjies
pla hom. Kwaai. Daarom volg hy in die geheim dieselfde dieet wat hy met
soveel geesdrif bespot het toe kolonel Mbali Kaleni destyds daarmee begin het
– die beroemde banting-leefstyl van professor Tim Noakes. Hy het dit net aan
Griessel beken, uit skaamte vir sy uitgesprokenheid daaroor in die verlede.
Cupido bestel twee visfilette van Catch of the Day, geen skyfies nie, en ’n
Coke Zero. Hulle eet en werk, tot hulle teen drie-uur min of meer verstaan hoe
die saak inmekaarsteek:
Johnson Johnson (34) was volgens ’n docket-inskrywing ’n “private
protection consultant”.
Sewentien dae gelede, op Saterdag 5 Augustus, het hy saam met ’n kliënt op
’n luukse trein van Rovos Rail in die Kaap geklim. Die kliënt vir wie hy as
lyfwag opgetree het, was ’n Nederlandse toeris, ene mevrou Thilini
Scherpenzeel. Die trein was op pad Pretoria toe.
“Thilini Scherpenzeel,” het Cupido die naam in sy mond getoets. “Daai’s ’n
naam, pappie, all elegance. Ek wed jou sy’s ’n pop.”
Johnson is die laaste keer gesien toe hy dié Saterdag, nadat hy saam met
mevrou Scherpenzeel aandete op die trein geniet het, haar by haar
kompartement se deur afgesien het. ’n Woordvoerder van Rovos het later
bevestig dat Johnson nie op die trein was toe dit die Maandag in Pretoria
aangekom het nie. Sy kliënt en die trein se personeel het aanvaar dat hy die
trein die Saterdagnag vrywillig verlaat het, want sy reistas was skynbaar ook
weg. Dit is eers die Maandag gevind toe die trein sy Pretoria-bestemming
bereik het – diep onder sy uitvoubed ingestoot.
Daardie Maandagmiddag is Johnson deur sy eksvrou, Robyn, as vermis
aangegee. Sy het die verdwyning laataand gaan aanmeld by die polisiestasie in
Brackenfell, die Kaapse noordelike voorstad waar sy en Johnson apart gewoon
het.

Geen poging om Johnson op te spoor het vrugte afgewerp nie.
’n Week later, op Maandag 14 Augustus, is die lyk van ’n man langs die
hoofspoorlyn naby Drie Susters in die Karoo gevind. Die oorsaak van dood was
klaarblyklik ’n massiewe skedelfraktuur. ’n Forensiese ondersoeker van die
SAPD op George het ’n dag later bloed, weefsel, beensplinters en hare gevind
teen die staalpaal van ’n elektrifiseringspiloon, ’n paar meter van die liggaam
af, op ’n hoogte wat aandui dat die oorledene dit getref het toe hy uit die trein
gespring het of gegooi is.
In sy baadjie se binnesak was ’n stukkende selfoon. Dit is sy liggaam wat op
die foto’s in die dossier verskyn.
Op Woensdag 16 Augustus het die ondersoekende speurder van BeaufortWes, sersant Aubrey Verwey, deur die IMEI-nommer van die stukkende
selfoon na te gaan, vasgestel dat die oorledene bes moontlik die verdwene
Johnson Johnson is.
Dis ongeveer die somtotaal van die inligting tot hul beskikking.
Cupido sit die blou merker neer en staan terug. “Jurisdictional nightmare,” sê
hy. “Brackenfell, Pretoria, Drie Susters, Beaufort-Wes, en niemand weet waar
dié dude dood is nie. We’ll have to start from ground zero.”
Wat ’n plek in die Karooveld langs ’n treinspoor anderkant Drie Susters is.
Daarom bel Cupido Beaufort-Wes toe, praat met sersant Aubrey Verwey en
maak ’n afspraak om die volgende dag deur te ry om na die toneel te gaan kyk
waar Johnson Johnson se liggaam gevind is.
Griessel begin die verspreide foto’s en dokumente bymekaarmaak om terug
te plaas in die geelbruin lêer. “Kom ons gaan praat met die eks,” sê hy.
“En ons moet by Thilini Scherpenzeel ook uitkom,” sê Cupido hoopvol,
“sooner or later.”
“Is jy nie die man wat so vlerksleep by ene Desiree Coetzee van
Stellenbosch nie?” vra Griessel.
“I am him,” sê Cupido. “My interest in missus Scherpenzeel is purely
professional.”
“Natuurlik,” sê Griessel.
Dit is net ná drie in die middag. Hulle loop uit, en in die skemerte van die
gang af, want ’n paar buisligte werk nie.

3

Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Hy is ontsteld, dae lank ná die geveg by die rivier.
En dankbaar dat sy werkgewers met vakansie is, want sy gesig is verkleur en
geswel, sy hand swaar verbind.
Hy is ontsteld oor die risiko. Hy bly in die multikulturele Saint-Michelbuurt; daar is ’n moskee ’n blok van sy woonstel af. Dit is algemene kennis in
dié omgewing dat die Franse DGSI, die Direction Générale de la Sécurité
Intérieure, hier woeker. Sy leefstyl en verbintenisse sou lank reeds verseker het
dat hulle hom as skadeloos beskou, maar sy foto sal iewers in ’n databasis lê.
En die polisie in hierdie stad is doeltreffend, met hul uitgebreide stelsel van
CCTV-kameras. Dit sal nie onmoontlik wees om hom aan die geveg te koppel
en dan op te spoor nie. Selfs al kan hy selfverdediging pleit, al is daar ’n getuie
wat dit kan bevestig, is dit die skerper aandag en fokus wat hy nie wil hê nie.
Wat hy nie kan bekostig nie.
Hy is ontsteld oor hoe baie skade vyf jong amateurs hom kon aandoen, hoe
ouderdom hom verswak en stadiger gemaak het.
Hy is ontsteld omdat hy weer oor sy skouer moet kyk, omdat hy die Camille
Pelletan-plein onder die woonstelvenster nou weer moet dophou, sy ore moet
spits as hy ’n sirene hoor, en na binne verstyf by die aansig van ’n uniform.
Hy wil nie daardie lewe terughê nie.
Die koerante dra die storie, van die vyf wat in die park oorkant die rivier in
’n “bloedige bendeoorlog” betrokke was. Twee van hulle word gesoek vir
ander misdade.
Daar is geen klop aan sy deur nie, geen polisielid wat agterdogtig na hom
kyk nie.
Dit waai oor. Die swelling aan sy gesig sak.
Maar niks is presies soos dit was nie.
En dan sien madame Lecompte hom.

4

Augustus. Bennie Griessel. Brackenfell.
Hulle hou in die parkeerterrein van die Fairbridge Mall in Brackenfell stil, stap
dan oor na die groot troeteldierwinkel wat agter langs die treinspoor staan.
Hulle loop langs mekaar, Bennie Griessel en Vaughn Cupido. Griessel met
sy deurmekaar hare, altyd een sny agter, en sy donker, amandelvormige oë wat
al as “Slawies” beskryf is. Hy is meer as tweehonderd-en-veertig dae op die
waterkar, maar sy stryd met die bottel het diep spore oor sy gesig gelaat, sodat
hy ’n dekade ouer lyk as sy amptelike ses-en-veertig. En die flambojante
Vaughn Cupido, ’n kop langer, nege-en-dertig jaar oud, in sy elegante
winterjas. Hy sê al maande lank: “The big four-oh, pappie, it’s coming for me.
And you know what they say, when forty hits, you have to hit back …”
Hy het nog nie gesê hoe hy beplan om terug te slaan nie.
Die troeteldierwinkel lyk soos ’n miniatuur-plaaswerf en -opstal. Op die
groot naambord by die hek staan Robyn’s Ark. Hulle moet eers by die hekkie
in, en daarna deur die tuin waar hoenders en hase en eende wei, voor hulle by
die winkel se deure kom. Binne ruik dit na voëlmis en hondekos en kat-urine.
’n Kakofonie van papegaaie, kanaries, vinkies en hondjies vul die plek. Een
hele muur is vol vistenks, met daarin die enigste vorm van lewe in dié plek wat
nie hoorbare geluide maak nie.
’n Vrou kom na hulle toe aangestap. Sy is in haar dertigs en vol van figuur.
Haar grimering en haarstyl is ietwat oordadig, die oorbelle groot, haar naels
lank en donker geverf.
“I’m Robyn,” sê sy. “Julle is van die SAPS, right?”
“Die Hawks,” sê Cupido.
“Ek ken polisiemense; ek was lank met een getroud,” sê sy. “It’s about time
they got the Hawks involved.”
Hulle stel hulself voor, vra of hulle met haar oor Johnson Johnson kan
gesels.
“Of course. But it’s J.J.,” sê sy. “Almal het hom J.J. geroep. Kom deur, ons
praat in my kantoor.”
“We’re very sorry for your loss,” sê Cupido. “It must have been really hard.”

Sy staan by die deur, wag dat hulle instap, sê dan: “Yes, it’s hard. Veral vir
die kinders. Ma’ dis al drie weke, ek cope nou beter. Ek het eintlik ma’ geweet,
toe J.J. nie uitkom daai aand nie, toe het ek eintlik ma’ geweet. So I’ve had
time to grieve …”
En sy maak die deur agter hulle toe.
***
Hulle sit by haar lessenaar. Sy steek ’n dun sigaret aan. Die speurders haal
notaboeke en penne uit.
Aan die muur is daar plakkate van diere – honde, katte, eende – met
lagwekkende gesigsuitdrukkings en humoristiese opskrifte daarby. Die
kleurvolle lêers op die rak agter die lessenaar verskaf ’n vrolikheid aan die
vertrek. Op die lessenaar is ’n geraamde foto van twee dogtertjies, parmantige
poniesterte wat hul mooi gesiggies omhul. Dit voel vir Griessel effens
eienaardig om hier oor die dood te praat.
“Verskoon tog, mevrou, maar ons wil heel voor begin,” sê Cupido. “Cast a
fresh eye on the whole investigation.”
“Ons gaan vrae moet vra wat u dalk reeds beantwoord het,” sê Griessel.
“Dis okay, shoot,” sê sy en trek diep aan die sigaret.
“Meneer Johnson was lank in die Polisiediens,” sê Griessel.
Sy knik en tik die as met ’n lang nael af. “Van agttien af, twee jaar voor ons
getrou het. Toe was hy Flying Squad by die stasie op Hermanus, toe word hy
speurder in die Bellville in, toe vyf jaar by die VIP Protection Unit in Pretoria
voor hy freelance gedraai het. Private protection consultant.”
“Wat presies het dié konsultasiewerk behels?” vra Griessel.
“J.J… . Sy vision was om by al die five star hotels bekend te wees, laat hulle
hom contract om vir die tourists te brief how to stay safe in South Africa. En
dan is hy ook available as hulle vir hom wil huur as ’n bodyguard. Maar dis nie
so easy om by die grand hotels in te kom nie. J.J. het gesê they’re a closed
system, they don’t like money flowing to the outside. So, hy’t hier en daar by
van die kleiner tour operators briefing opportunities gekry, en hy’t vir hulle
partykeer shotgun gery, soos hy dit genoem het. Dan ry hy saam in die bussie
met die tourists, just to give them peace of mind. Dit was maar die laaste
maande wat die bodyguard jobs begin kom het. Maar nie officially van die
hotels nie,” sê sy.
“Sy naam was genuine Johnson Johnson? Net só?” vra Cupido, wat ’n ding
oor name het.

“Net só. Deur sy ma só gedoop. Sy het haar lewe lank gesê daai double
feature gee vir hom gravitas en dignity. Bless her soul. Ma’ almal het hom J.J.
geroep.”
“Hoe lank het hy vryskut gewerk?” vra Griessel.
“Amper twee jaar.”
“Alleen?”
“Ja. Hy het nogal ’n offer gehad van Body Armour, die protection agency in
die Kaap, ma’ J.J. het gesê, vir wat wil hy twintig persent van sy income vir
iemand anders gee, hy wil dit eers try maak op sy eis. Daai eerste tien, elf
maande was maar dun vir hom, ma’ hy’t nooit ophou met marketing en
networking nie. Sy business card oral gaan gee. En ek meen óral. And then it
slowly started trickling in, en so hier van Januarie af, toe begin dit beter gaan.
But he never missed a single payment in child support, I’ll let you know. Daai
twee girls,” en sy wys na die foto op die lessenaar, “was vir hom alles.”
“Wanneer is julle geskei?”
“Toe hy in Pretoria was, drie jaar terug. Ek het hier gebly. Met die winkel, jy
verstaan, I had no choice, I’m the sole proprietor … But a long distance
marriage just didn’t work for us. J.J… . Let me just say, soos die meeste mans,
was hy nie goed met alleen wees in die aand nie … But you know, we managed
to conduct the whole divorce thing in an adult and civilised manner. Because of
the kids. J.J. het ’n flat gehuur net in die straat af, so die kinders het baie keer
by hom gaan slaap. And we were the best of friends …”
“Sy huisadres was hier in Springbokpark, Olympusstraat,” sê Griessel.
“That’s right.”
“En u kan vir ons die sleutels gee?”
Sy trek ’n laai oop, haal ’n bossie sleutels uit, plaas dit op die lessenaar.
“Please don’t leave a mess. Ek moet daai plek vacate voor die einde van die
maand.”
“Natuurlik,” sê Griessel.
“Ons wil asseblief hoor, mevrou, hoe die hele ding gebeur het. Van hy hier
weg is op die trein,” sê Cupido.
“U het hom die laaste keer gesien op Saterdag, 5 Augustus?” vra Griessel.
“You can give us as much detail as you can remember.”
“Ek verstaan,” sê sy, knik en trek weer aan die sigaret asof dit haar krag gee.
***
Robyn Johnson sê haar voormalige man het dié Saterdagoggend sy twee

dogters net ná nege hier by die troeteldierwinkel kom aflaai, omdat hulle die
nag saam met hom in sy woonstel deurgebring het, soos die meeste
Vrydagaande. Hulle is onderskeidelik vier en ses jaar oud, en het onmiddellik
begin neul dat hulle saam met hul pa wil gaan, want: “Daddy gaan op ’n grand
trein ry, Mommy, en hoekom kan ons nie saamgaan nie?”
“Toe vra ek vir hom wat is dié besigheid met die trein? Toe sê hy net ’n
Hollandse auntie het vir hom gehire, his business card distribution paid off
again. Die maître d’ by die Cape Grace Hotel het vir hom gerecommend. En
die auntie gaan Pretoria toe op die Rovos Rail, en dis ultra luxury, and he gets
his own cabin, and everything. En sy betaal vir hom nog goeie geld ook vir sy
services.”
“Hy’t niks meer oor die kliënt gesê nie? Hoekom sy beskerm moet word?”
“Niks meer nie. Hy was kwaai oor die confidentiality of the client
relationship. Ek het dit gerespect, so I didn’t push it.”
“Hy was cool? Niks worries nie?” vra Cupido.
“Daai dag?”
“Daai tyd, daai ball park.”
“J.J. was ma’ altyd cool, hy’t gesê worry help nie, it just burns energy you
can use to solve the problems.”
“Okay,” sê Cupido, “en toe?”
“Toe sê hy vir my: ‘Jewel,’ – hy’t my ‘Jewel’ geroep oor my naam Robyn is,
nè – ‘I’m flying back one o’clock Monday, I’ll be in Cape Town at three, I’ll
come pick up the kids at four.’ Nou, daar’s ’n paar dinge van J.J. wat jy moet
verstaan. Number one: Hy’s nooit laat nie. Nie as dit by daai twee girls van
hom kom nie. Never ever. Number two: If something unforeseen happens wat
kan maak dat hy laat is, dan bel hy. Altyd. Number three: Elke aand, dan bel hy
sy twee girls. Depending on his schedule, somewhere between six and eight,
ma’ hy bel élke aand, unless hy vir my sê: ‘Jewel, vanaand is ek vas, send the
girls my love.’ Daai man het sy foute gehad, ma’ hy was ’n wonderlike pa, daai
twee girls was sy lewe.”
“Point taken,” sê Cupido.
Griessel knik en skryf in sy notaboek.
“Right. Toe bel hy daai Saterdagaand, en ek hoor hoe vertel hy vir die girls
hulle is nou op Matjiesfontein, die trein het daar gestop, en hy sê vir hulle hoe
grand daai trein is, hulle het high tea gehad, I ask you, en hy stuur vir hulle
photos op WhatsApp …”
“Hoe laat het hy gebel?” vra Griessel.
“Just after six.”
Griessel maak ’n aantekening.
“Het jy nog die foto’s?” vra Cupido.

“Ja. My foon lê daar binne …”
“Ons kan later kyk, dankie. Daar’s nie foto’s van die Hollandse auntie nie?”
“He would never do that. He was too discreet. Daar was net foto’s van sy
compartment, that lovely wood panelling, en van die koek wat hulle met high
tea gehad het, J.J. had a sweet tooth … En van Matjiesfontein se historic
geboutjies, en van die trein se buitekant …”
“Okay.”
“Gaan gerus voort,” sê Griessel.
“So, daai Sondagaand, toe bel hy nie. Toe begin ek so klein bietjie worry,
wat gaan aan? Because he always calls. Always. Maar jy sê vir jouself hy werk,
maybe it just wasn’t convenient. En jy wonder, you just can’t help it, hoe oud is
die Hollandse auntie, en hoe lyk die Hollandse auntie, because J.J. is J.J., if you
know what I mean … Anyway, so los ek dit toe maar. Tot die Maandag.
Heeldag hoor ek niks, which is fine, ma’ toe kom drie-uur en hy kom nie uit
nie, en toe kom vieruur en hy kom nie uit nie, toe bel ek hom, because, as I
said, he’s never late when it comes to picking up the girls. Ma’ sy foon gaan
net na voicemail toe, en ek dink, okay, maybe is hy nog op die vliegtuig, maybe
it was delayed, en ek los vir hom ’n voice message en ek sê: ‘Bel my, J.J., jy
laat my worry.’ By sesuur, toe weet ek daar’s moeilikheid. Toe bel ek Rovos.
En daai mense was baie nice, you can imagine, hulle kan nie sommer net
details oor die passengers gee nie, ma’ hulle het uit hulle se pad uit gegaan om
te help, ek dink hulle kon die distress in my stem hoor. Toe sê hulle daar is een
passenger wat iewers Saterdagnag of Sondagoggend van die trein afgeklim het,
they can’t give me details, but I should maybe go ahead and report it. Toe gaan
ek hier na die poliesstasie toe, daar’s ’n warrant officer wat saam met J.J. in die
Bellville in gewerk het – Neville Bandjies, hulle braai nou nog saam – en ons
maak die missing person report. Maar toe weet ek al, daai aand, toe weet ek al
something very bad has happened, because Johnson Johnson loved his two girls
too much.”

5

Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Dit is toeval.
Daniel Darret, op daardie oomblik by die voordeur met sy sleutel in sy hand,
en die vrou wat om die hoek kom.
Die Camille Pelletan-plein is klein, eintlik net die Rue Marengo wat
verbreed waar dit die Rue Saint-François kruis – soos die twakbak van ’n pyp
aan die punt van die steel. Dit is nie veel besiger as van die ander strate in dié
deel van die Saint-Michel-woonbuurt nie. Daar is maar altyd mense wat op pad
is na die basilika of die Capucinsmark. Op Saterdae meer.
Sy nuwe waaksaamheid is nutteloos, want dit is net die noodlot se
moedswillige tydsberekening: sy wat om die hoek kom, hy wat daar staan. Hy
kyk, want hy hoor haar hakke oor die keistene. En sy kyk na hom. ’n Oomblik
van herkenning. En dan, net toe dit lyk of sy skaam wil glimlag, kyk Daniel
weg, sluit die deur oop, gaan in, en maak dit haastig toe.
Hy leun teen die deur. Hy swets.
Die kat, Wackett, antwoord hom halfpad teen die trap op.

6

Augustus. Bennie Griessel. Brackenfell.
Robyn Johnson sê toe die oproep van Beaufort-Wes se sersant Aubrey Verwey
’n week-en-’n-half later kom, was die skok nie vir haar so groot nie. “Dit was
’n relief, op ’n manier. Dan wonder jy nie meer ís dit so, of is dit nié so nie.
Maar dan is daar die anger: Who did this? And why? Ek meen, J.J. was net so
’n lieflike … And how? Hoe het J.J. daar langs daai spoor gekom? Lots of
anger and hate for the faceless people who did this. These animals, these
bastards. Hy was ’n goeie mens. Hy’t sy flaws gehad, don’t we all? Ma’ hier
binne, hiér was hy ’n goeie man gewees …”
Sy skud haar kop ergerlik, asof sy dié negatiewe emosies wil afskud. “Julle
moet vir hulle vang,” sê sy sagter. “Asseblief, julle moet vir hulle vang.”
Sy druk die sigaret met ’n bewende hand dood, haar oë vogtig.
“Ons is die Hawks,” sê Cupido. “Daai is wat ons doen.”
Griessel gee haar ’n oomblik, dan vra hy: “Mevrou, hoe was meneer Johnson
se … gesondheid?”
“Sy gesondheid? Hy was in peak health, hoekom vra jy oor sy gesondheid?”
“Sy gemoed. Was hy opgewek?”
“Ek het mos gesê J.J. was nie een vir worry nie …”
“Mevrou, ons verstaan dié soort vrae is nie vir jou lekker nie,” sê Cupido.
“But we have to look at this from every possible angle. So, fact is, daar’s nie
eintlik ’n kans dat mister Johnson per ongeluk van daai trein afgeval het nie.
Two things could have happened. He either jumped or he was pushed. As my
colleague vra oor jou eks se gesondheid, dan wil ons weet of hy maybe van
depressie gesuffer het. It’s another way of asking the awkward question: Did he
jump?”
“Okay. Sorry. Ek verstaan. Nee. Never. Nie J.J. nie. Hy … Daar was tye dat
ek gedink het miskien is hy te happy-go-lucky. As jy hom gesien het met sy
twee girls …”
“Mevrou, die ander moontlikheid …” sê Griessel. “Die groot vraag wat ons
gewoonlik met só ’n ondersoek vra, is of daar enigiemand was wat hom sou
wou leed aandoen.”

Sy dink eers na, skud dan haar kop. “J.J. was nice. Daai was sy probleem. Hy
was net so nice.”
“Maar hy was ’n poliesman. ’n Speurder. Het hy ooit gepraat van iemand
wat hom gedreig het, iemand vir wie hy gearresteer het?”
Sy dink, en dan skud sy haar kop. “Hy was twee jaar lank nie meer ’n
poliesman nie.”
“Ons verstaan, maar steeds, het hy nooit iets gesê nie?”
“Nie wat ek van weet nie.”
“No gang affiliations?” vra Cupido.
“J.J. kom van Ashton af. Daar’s nie gangs nie.”
Daar ís bendes op Ashton, maar hulle kan sien sy wil nou hê die
ondervraging moet klaarkry.
“Okay. Hy het nie in die lean times iewers ’n geldjie gaan leen nie?” vra
Cupido.
“Jy meen by ’n loan shark?”
“That’s right.”
“Nee. Hy’t geweet hy kan vir my kom vra. As a matter of fact, hy’t by my
geld kom leen, nou, begin van die jaar. En by June het hy alles weer
terugbetaal. En hy was besig, die laaste vier maande of so. He was making
good money.”
“Hoe het hy sy administrasie gehanteer? Het hy iemand wat sy rekeninge
uitgestuur het? Sy boeke gedoen het?”
“Nee, hy’t alles self gemanage.”
“Wat was sy system?” vra Cupido.
“Hoe meen jy ‘sy system’?”
“Het hy files gehou op sy clients en sy payments?” Cupido wys na die rak
agter haar met die veelkleurige leggers.
“Nee, hy’t alles so op sy laptoppie gedoen.”
“Waar is die laptop nou?”
“Ek … Dis gewoonlik in sy flat, toegesluit in die sideboard. Of hy vat dit
saam in sy tas. I didn’t think to look …”
“Moenie worry nie, ons sal kyk,” sê Cupido.
Griessel bêre sy pen en notaboek in sy baadjiesak. Hulle staan op.
“Mevrou Johnson, wat dink jy het op daardie trein gebeur?” vra Griessel.
“If you had to speculate,” sê Cupido.
Sy kyk op na die plafon. Sy tik-tik met die lang naels op die lessenaar. Sy
staan stadig op. Van binne die winkel, asof hy weet dis goeie tydsberekening,
sê ’n papegaai hoog en helder: “Fok jou, Fanus.”
Dit breek die vae spanning in die kantoor.
“Daai voël,” sê sy. “How am I ever going to sell it with a mouth like that?”

Hulle glimlag.
“Julle moet verstaan, I loved J.J. with all my heart,” sê Robyn Johnson.
“So noted.”
“Eers het ek gedink dit was ’n robbery, want almal steel mos nou in dié land.
Van die President af all the way down. Ek wou hê dit moet so iets wees.
Random. Bad luck.”
Hulle sê niks.
“Maar toe dink ek, op daai trein vol grand, ryk mense, why would they rob
J.J.? En dan moet jy maar kom by die punt waar jy dit admit, he did have a
roving eye.”
Hulle knik met begrip.
“My best guess is, J.J. het met ’n ander man se vrou gelol op daai trein. ’n
Man wat dit nie gevat het nie.”
***
In die parkeerterrein kyk Cupido na sy horlosie en sê hulle gaan die volgende
dag al sesuur Beaufort-Wes toe. En hy het vanaand ’n ete by Desiree, en dit
moenie te laat wees nie, want dis ’n weeksaand en skoolkwartaal, en sy is
streng met haar laaitie, Donovan.
Daarom ry hulle terug na die Valke se kantore in Markstraat, Bellville, en
kom ooreen vir die volgende oggend se vertrek. “Dis jou beurt om die road
music te bring, Benna,” sê Cupido. Sy jaspante wapper in die gang af, op pad
Stellenbosch toe.
Griessel gaan maak aantekeninge in die docket se C-afdeling en dan groet hy
deur oop kantoordeure in die loop na sy kar toe.
Wanneer hy in sy baadjiesak reik na sy sleutels, kry hy die bossie van
Johnson Johnson se woonstel. Hy besluit om dit nou te gaan deursoek. Alexa
Barnard, die vrou in sy lewe, is in Johannesburg vir vergaderings met van haar
platemaatskappy se musiekmense. Hy is nie lus om alleen by die huis te sit en
kyk na snert op TV nie.
Hy ry Brackenfell toe.
***
Johnson se “woonstel” is ’n meenthuis in ’n kompleks, net ’n blok van die
Sorgvry-polisiewoonstelle waar kolonel Mbali Kaleni tot ’n paar jaar gelede

nog gewoon het.
Griessel parkeer op nommer 5 se plek, neem sy moordtas en loop tot by die
voordeur met dieselfde nommer. Hy maak die tas oop, haal die forensiese
handskoene en die klein Canon Powershot uit, sluit die veiligheidshek en deur
oop, vat weer die tas en stap in.
Maak die deur toe. Staan ’n oomblik.
Hy sal nooit gewoond raak aan die deursoeking van ’n moordslagoffer se
huis nie. Daar is die verskriklike stilte, asof dié ruimte weet die eienaar kom nie
weer terug nie, die ongemaklike gevoel dat jy steeds privaatheid skend, pal die
spanning dat jy iets gaan miskyk, ’n bewysstuk kan bederf omdat jy nie weet
waarvoor jy soek nie.
Hy begin met die sitkamer-eetkamer-kombuis, ’n oopplan-ontwerp met ’n
bank, twee stoele, ’n koffietafel met ’n klompie DVD-houers van kinderflieks
daarop. En ’n TV en Blu-ray-speler op ’n staander.
Geen skilderye nie, geen eetkamertafel nie, net die lang buffet teen die muur,
en die ontbythoekie met drie kroegstoele by die kombuis. Hy neem foto’s van
alles voor hy met die deursoeking begin.
Hy kry die sleutel vir die buffet se twee deure aan die bossie in sy sak.
Aan die linkerkant, borde en glase en koffiebekers en ’n paar kosbakke. En
drank. ’n Kwartbottel Klipdrift, ’n halfbottel Three Ships, ’n paar klein bottels
vonkelwyn en twee bottels rooiwyn, nog verseël.
’n Oomblik van sy demone in die oë kyk. Griessel sluit dit weer toe.
Aan die regterkant, ’n warboel van kabels en herlaaiers, ’n ou ADSLmodem, die boksie vir ’n LG-foon en oopgeskeurde koeverte met munisipale
en selfoonrekeninge, kwitansies en ’n geheuestokkie.
Geen skootrekenaar nie.
Hy plaas die geheuestokkie in ’n plastiek-bewyssakkie, gaan soek dan deur
die kombuiskaste en die yskas, daarna die twee slaapkamers. Die een was die
kinders s’n. Daar is niks van belang in die kaste of bedlaaitjies nie.
In Johnson se kamer is die bed opgemaak, die ingeboude klerekaste redelik
netjies. ’n Ou, mooi laaikas voor die bed. In die boonste laai is persoonlike
dokumente – onder meer ’n ID-dokument, ’n rybewys wat die vorige jaar
verval het, die egskeidingsbevel. Foto’s van die kinders. En ’n foto van die
gesin toe dit nog heel was. Hulle sit op ’n rusbank – nie die een hier voor in die
sitgedeelte nie. Johnson is in die middel, omring deur Robyn en die kinders.
Hy was ’n lenige man. Fiks. Aantreklik. Met ’n glimlag vol selfvertroue, ’n
uitdrukking wat sê: Kyk, dís die lieflike goed wat die lewe vir my gegee het.
Terwyl hy alles stelselmatig deursoek en op die Canon vaslê, dink Griessel
aan foto’s.
Sommiges lieg.

Dié een van die Johnson-gesin is omtrent drie jaar oud. Destyds dalk
uitgestal op Robyn se lessenaar. Of teen J.J. se muur waar hy in Pretoria gebly
het. Dit spreek van geluk en harmonie, dit profeteer ’n sprokiesverhaal.
En kyk waar is hulle nou.
Hy dink nie hy het sulke foto’s nie. Toe hy en Anna, sy eks, só oud was, het
hy dag en nag gewerk by die ou Moord-en-Roof. Gewerk en gesuip. Sy lewe
was ’n waas van geweldsmisdaad en drank. Die enkele foto’s wat bestaan, het
hy geneem met ’n mik-en-druk wanneer hulle in April gaan vakansie hou het.
Tien dae van soberheid by Langebaan of Hermanus se see, sy kop by die werk,
sy hart by die brandewyn. Net Anna en sy dogter, Carla, en sy seun, Fritz, is op
die foto’s. Die kinders uitbundig, gelukkig. En in Anna se oë – dalk verbeel hy
hom dit in retrospek – ’n bietjie bang vir die monster in haar man, die
posttraumatiese stres wat niemand destyds mooi verstaan het nie.
Dit was foto’s wat hul toekoms veel beter voorspel het. Want hy was
afwesig.
Carla is nou twee-en-twintig. Sy het begin werk as ’n skakelbeampte op ’n
wynlandgoed. Sy het drama geswot, maar sy kon nie werk in die
vermaaklikheidsbedryf kry nie. Fritz is negentien en ’n tweedejaar by AFDA,
die Kaapse filmskool wat Griessel nie kan bekostig nie. En Anna is getroud
met ’n prokureur. Wanneer hy en Anna mekaar nou en dan sien, lyk dit altyd
vir hom of sy verlig is dat sy verlos is van hom. En of sy haar ’n bietjie skaam
vir sy styllose klere en sy apologetiese houding.
En hy verstaan dit.
Want hy is steeds net ’n poliesman, ’n rehabiliterende alkoholis, skaars agt
maande droog, en sy grootste begeerte is om die ander rehabiliterende alkoholis
in sy lewe te vra om met hom te trou. Die ring vir Alexa Barnard is gekoop,
toegesluit in sy boonste laai by die werk.
Hy hou aan vir homself sê hy het haar nog nie gevra nie, want hy wil dit
spesiaal maak. ’n Storie wat sy met trots en smaak sal kan oorvertel.
Maar die waarheid is: Hy is bang.
Bennie Griessel sug. Hy maak klaar, sluit en ry.
Hy het niks gekry nie.

7

Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Daniel se lewe was doelbewus eenvoudig, vóór madame Lecompte en die
geweld in die nag.
Hy werk as handlanger vir die meubelrestoureerder Henry Lefèvre. Die ou
man met sy dik, silwerwit hare en snor is ’n geniale houttowenaar wat kosbare
stukke uit die sewentiende en agttiende eeue só perfek kan regmaak dat Europa
se grootste kenners van antieke meubels nie die herstelwerk kan raaksien nie.
Maar Levèfre het Asperger-sindroom. Sy brein lê op die sosiaalproblematiese deel van die outismespektrum. Hy maak geen oogkontak nie en
het geen sin van of empatie met ander se gevoelens en bedoelings nie. Daarom
is dit baie moeilik om saam met hom te werk. Kollegas voel gou dat hy hulle
beledig, verneder of ignoreer, al is dit nie sy bedoeling nie. “Hy het net nie ’n
filter nie, en hy dink dit is hoe almal is,” het sy vrou, madame Sandrine
Lefèvre, vir Daniel gesê toe sy hom aangestel het. “Die handlangers hou net ’n
week of twee, monsieur Darret, al betaal ons meer as die gewone salaris. As jy
fyngevoelig is, moet jy maar vir my sê. Dan moet jy liewer ’n ander betrekking
gaan soek.”
Sy bedryf ’n aangrensende oudhedewinkel in die Chartrons-buurt – Madame
Lefèvre, Antiquités-Brocante – wat onder meer haar man se handewerk
verkoop. Sy is ’n baie slim vrou.
Daniel het destyds vir haar gesê hy dink hy sal die Aspergers kan hanteer. En
toe gee sy hom die betrekking – hoofsaaklik omdat hy groot en sterk is, en die
salaris sonder kibbeling aanvaar het. En omdat sy net so desperaat was soos hy.
Dit het hom maande geneem om vrede te maak met die ou man se vreemde
gedrag. Eindelik het daar ’n band tussen hulle ontwikkel, onuitgesproke, amorf
en vreemd. Dit bestaan net in die stiltes van die werkswinkel, in die ritme
wanneer net hulle twee saamwerk, en in die seldsame, vlietende flitse in
Lefèvre se oë wat ’n sagter, meer akkommoderende taal praat.
En hy raak verlief op die Lefèvre-proses, om stukkende goed heel te maak.

***
Daniel staan elke weeksdag om ses op, drink sterk koffie, eet sy hawermout,
gee die kat kos, maak die eenslaapkamer-woonstel skoon, was en skeer, en stap
dan om sewe-uur na La Boulangerie op die Rue des Faures. Hy groet die
bakkers op die naam, en hulle vir hom. Hy koop twee croissants en twee
chocolatines. Laasgenoemde eet hy so in die loop op pad werk toe, want dit is
nog warm uit die oond. Die croissants sit hy in die klein rugsak, want dit is vir
tienuur saam met sy tee.
Hy is altyd eerste by die werkswinkel. Dan sluit hy oop en adem die reuke in
van meubelpolitoer en vernis, lym en houtskaafsels en -saagsels, die stapels
planke en die vreemde, misterieuse muskus van die ou, afgeleefde stukke. Elke
oggend is die aroma se versnit effens anders, bepaal deur wat le génie laas nag
gebeitel of gesaag of geskaaf of blinkgevryf het.
Sy gewone dagtaak, wanneer die Lefèvres daar is: Hy stof af en vee skoon,
pak en hang gereedskap presies soos Lefèvre daarvan hou, en hy herstapel
planke en meubels, bekyk voorraad, vul aan en maak ’n lys van bestellings. Om
nege-uur kom Madame, dan beraadslaag hulle, hy merk die verkoopte goed en
dra dit na die diensingang waar die afleweringsvragmotor dit net voor tien sal
kom haal. Dan eet hy sy croissants saam met tee, en wanneer le génie aankom,
werk hulle volgens Lefèvre se bevele tot Madame middagete na agter bring.
Wat hulle in afsondering eet, elkeen op sy eie houtkrat aan weerskante van die
werkswinkel.
En hy steel met sy oë, alles wat Henry Lefèvre met die hout en die meubels
doen.
Iewers ná drie kom wink Madame hom stil-stil weg en hy skuif vir haar goed
in die winkel rond, doen kleiner aflewerings of help met die aanry van stukke
met die paneelwa. Hy werk soms aan sy eie projek, wanneer die skedule dit
toelaat. Ná vyf gaan hy huis toe, sonder om vir Monsieur te groet, want teen
daardie tyd is die meubelmaker reeds diep in sy eie wêreld verlore.
Dit is ’n lang dag se werk, fisiek uitdagend, want hy is feitlik heeltyd op sy
voete, en hy moet swaar items optel en aandra, skuif en aflewer, meestal alleen.
Juis daarom dat hy daarvan hou. Dit hou hom fiks en maak hom moeg, sodat hy
soms saans nie die energie het om te verlang of te treur of te onthou nie.
***
Saans ná werk kyk hy televisie. Sokker. Ou flieks. Nuus. Of hy lees op sy

tweedehandse tablet oor die gebeure in sy geboorteland.
Saterdae maak hy die woonstel van hoek tot kant skoon. Dan gaan hy mark
toe vir sy weeklikse aankope van kaas en ham, skywe terrien of patee,
saucisson en vrugte, asook Wackett se vis, en vir ’n glas wyn en gesels met
Mamadou Ali, die man wat vir die bloemiste werk en algemeen bekendstaan as
Ali du Mali. Ali van Mali.
Hy het nie werklik ander vriende nie, mense weet nie veel van hom nie.
Sondae sal hy sy motorfiets gaan was in die klein motorhuis wat hy huur in
die Rue Permentade, en dan gaan ry hy met die BMW, alleen. Saint-Émilion
toe vir middagete. Of Arcachon, of Bayonne, of nou en dan so ver as San
Sebastián oorkant die Spaanse grens, of die kronkelpaaie en landskapsvreugdes
van die Périgord. Hy kom voor sononder terug, bêre die motorfiets, gaan huis
toe. Want Maandagoggend werk hy weer.
Dit was min of meer sy lewe, voor die vrou en die geweld in die nag.
***
Meer as ’n week nadat sy hom by sy voordeur gesien het, op die
Dinsdagmiddag, staan sy vir hom dáár en wag. Die girafe-vrou. Langs die
groot boompot voor die ingang van sy ou drieverdieping-woonstelgebou.

8

Augustus. Bennie Griessel. Drie Susters.
“Net hier,” sê speurder-sersant Aubrey Verwey en wys met sy vinger na ’n
droë donga tussen ’n klos Karoobossies links van die spoor. “Net hier het hulle
hom gekry. Met die breins so buitekant, én toe lê hy al agt dae lank. You can
imagine. Not a pretty sight.”
“Jy bedoel die railway worker?” vra Cupido met ongeduld wat deurslaan.
Want hy is al van vroegoggend af beneuk, toe hulle sesuur uit Bellville weg is.
Griessel het op pad Beaufort-Wes toe – om vir Verwey op te laai – vir
Cupido vertel van sy deursoeking van die Johnson-meenthuis. Maar hy kon
sien sy kollega se kop is elders. Aanvanklik het hy gedink dit was dalk net die
vroeë uur.
Nou staan hulle langs die treinspoor in die wydheid van die Groot Karoo,
nege kilometer anderkant die Drie Susters-vulstasie. Hulle moes van die
gekettingde hek by die N1 af twintig minute lank met die stowwerige dienspad
langs stap, want die man van Transnet het nie opgedaag met die hekslot se
sleutel nie. En ondanks die bloue hemel is die Augustus-windjie bitter koud.
Nie Cupido of Griessel het warm klere saamgebring nie. “Dis ’n semi-desert,
for crying out loud, jy expect a bietjie hitte,” het Cupido verontwaardig vir
Griessel gesê toe hulle uit die kar klim.
“Ja, die Transnet-trajekbestuurder,” sê Verwey nou. Hy is jonk. Sy moderne
haarstyl is ingewikkeld, vol kepe en kerwe en vlakke.
“Dieselfde een wat die sleutel vir ons moes bring?” vra Griessel.
“That’s correct.” Asof hy onder kruisondervraging in ’n hof is.
Cupido skud sy kop stadig, sug hardop en sê: “Okay, let’s take it from the
top.”
“Kaptein?”
“Vertel vir ons die hele storie, sergeant. How did this all unfold for the SAPS
in Beaufort West?”
“Daai is alles in die docket …”
“Ek weet dis in die docket, ma’ die docket is nie exactly ’n masterpiece of
detail and eloquence nie, to put it mildly.”

“My docket is professional,” sê Verwey gekwets. “Strictly by the book.”
Griessel tree tussen hulle in voor Cupido kan reageer. Die dossier is
inderdaad nie ’n toonbeeld van omvattende doeltreffendheid nie, maar hy kan
sien dit is nie nou die regte tyd om dit op te haal nie. “Jy weet hoe dit is,” sê hy
aan Verwey. “’n Docket is ’n opsomming. Ons soek die groter prentjie.”
Verwey vermoed dat hy gepaai word. Hy trek sy skouers effens terug, gee
Cupido ’n verontwaardigde kyk en sê: “My docket is professional.”
Griessel knik. Cupido bly genadiglik stil.
Verwey staar oor die vlaktes: “Die Transnet-ou … Chungu, dis sy naam, hy
het hom hier kom kry.”
Griessel knik weer, ter aanmoediging.
“Chungu inspect die train tracks tussen Beaufort en Hutchinson, dis sy
territory. Toe ry hy hier met die dienspad langs, en toe ruik hy, ma’ iets ruik
vrot, en hy sê, dis nou nie só uncommon nie, want party kere slaan die treine ’n
koedoe of ’n ding, even ’n dronkie from time to time. So, toe kyk hy uit en hy
sien niks, want Johnson lê toe so half in die sloot. Toe stop Chungu waar dit die
meeste stink, en toe klim hy uit sy railway-bakkie en hy gaan tot omtrent
daarso, toe sien hy vir Johnson lê. Hy’t die wit van die hemp gesien, eintlik,
eerste. En toe die vlieë en die maggots en die gebryseling, en die stink is toe
baie kwaai, en hy kan dit nie hou nie. Toe klim hy in en hy ry so ’n entjie aan,
en toe bel hy vir Beaufort-stasie.”
“Gebryseling?” vra Cupido.
“That’s correct. Dit meen kwaai stukkend. Johnson Johnson se kop.
Heeltemal gebrysel.”
“I see,” sê Cupido. “Dié Chungu, het hy ’n routine met sy inspections?”
“Hoe meen jy?”
“Hy’t die body gekry op ’n Maandag, right?”
“Right.”
“Nou, doen hy elke Maandag dié stuk spoor hier?”
“O. Okay, I see what you mean …”
“Well?”
“Ek sal hom moet vra.”
“Toe bel hy die Beaufort-Wes-stasie en toe stuur hulle die twee konstabels,”
moedig Griessel hom aan.
“Daai is standard practice,” sê sersant Verwey.
“Vir twee konstabels om op die crime scene te kom kots?” vra Cupido. “Vir
die hele Karoo se blougatte om alles te kom vertrap?”
“Die crime scene was op die trein. Hulle het net vir Johnson hier uitgegooi,”
sê Verwey. “This is not rocky science.”
“Rocky science?” vra Cupido.

“That’s correct. Rocky science. Daai meen dis nie só complicated nie.”
“I can see clearly now,” sê Cupido en Bennie is nou seker daar is iets groots
wat sy kollega pla. Want in normale omstandighede sou daar nou ’n
geamuseerde toon aan Vaughn se stem gewees het. Hy sou onderlangs na
Griessel gekyk het, hulle sou ’n lag onderdruk het wat hulle later, met die
terugry, sou deel. Maar vandag is nie normale omstandighede nie. Iets het
Cupido kwaad gemaak, dalk gisteraand, dalk baie vroeg vanoggend, ’n
broeiende, groeiende woede, ingehou soos stoom in ’n pot. Bennie ken vir
Vaughn, hy weet dit help nie om te vra voor Cupido nie reg is om te sê nie. En
hy weet dit kan dalk uitbars voor hy vra, daarom wil hy net keer dat dit nou
hiér gebeur.
“En toe?” por Griessel vinnig aan.
Speurder-sersant Aubrey Verwey van Beaufort-Wes se SAPD is heeltemal
onbewus van die onderstrominge. Hy trek homself regop vir dié oomblik in die
kollig, en hy vertel. Van die twee uniforms in die polisiebakkie wat eindelik hul
naarheid genoeg onder beheer gekry het om die lyk langs die treinspoor van
nader te bekyk. En toe, na aanleiding van die gehalte van die swart pak klere en
die wit hemp, die afleiding gemaak het dat dit “nie sommer ’n local joker is
nie”.
“Local joker,” herhaal Cupido stroef.
“That’s correct,” sê Verwey. “En toe radio hulle in vir ’n speurder.”
Die stasiebevelvoerder van Beaufort-Wes het vir sersant Aubrey Verwey
uitgestuur. Toe hy op die toneel kom, was daar ook polisievoertuie van die
klein SAPD-stasie op Hutchinson, en twee van Victoria-Wes, want in die
Karoo werk die lang arm van die gereg se bostelegraaf baie doeltreffend. Maar
niemand het vermoed dat dit Johnson Johnson se lyk is wat daar lê nie, want
nie een van hulle het die beriggies die vorige week in die media raakgesien nie.
Verwey sê met nadruk hy het op die nuuskierige vertrappers van die
misdaadtoneel geskel, hy het vir die manne van Victoria-Wes gesê hy “voel
fokkol” vir hul argumente dat hierdie net anderkant die Noord-Kaapse grens en
dus eintlik hul jurisdiksie is. Detective sergeant Aubrey Verwey is uitgeroep,
en daarom is dit detective sergeant Aubrey Verwey se saak. En soos wat hy dit
vir die twee Valke vertel, sit hy groot klem op die woord “detective”.
En toe bind Verwey ’n sakdoek voor sy neus vas, maar dit help niks. En hy
trek sy plastiekhandskoene aan, span die geel misdaadband en hy sê vir almal
hulle bly nou agter daai band. En hy neem foto’s met sy Samsung-selfoon,
want die polisiefotograaf op Beaufort-Wes se hele kamerasak is vyf maande
gelede gesteel. Uit die polisiekantoor uit. En dis nog nie vervang nie, so die
selfoon was al wat hy kon doen. En toe gaan voel hy in die sakke van die
slagoffer se baadjie, en hy kry die selfoon, heeltemal flenters, daai foon moes

gebreek het toe Johnson Johnson die staalpaal langs die spoor tref, of dit het
dalk ’n klip op die grond getref, so met die uitval uit die trein uit. “Beyond
reasonable doubt. Heeltemal beyond reasonable doubt.”
Dit was al wat in die sakke van Johnson Johnson was. Die selfoon. ’n LG
G5.
“So I tagged it and I bagged it,” sê Verwey.
“En toe kry ek myself die bloed en harsings aan die ’lectric pylon, net da’,
kyk, da’ kan julle dit nog sien. Die CSI-ou van George het eers die volgende
dag hier aangesukkel gekom, toe sê ek hy moet daai analyse. Toe bel ek my
SB, en hy rapporteer dit hoër op, en die police spokesperson in die Kaap gee dit
vir die media, lat daar ’n John Doe langs die railway line ge- … ’n John Doe is
wat jy ’n ou noem wat dood is, ma’ hy’s nog nie ge-ID nie …”
“We live and learn,” sê Vaughn Cupido en slaan sy oë op na die ’lectric
pylon.
Griessel haal net diep asem.
“En toe bel hierdie reporter my van Die Burger af en sy vra, ma’ is dit nie
Johnson Johnson nie? Toe hoor ek die eerste keer van dié ou. Maar toe sê ek,
no comment, want die victim was nog nie ge-ID nie. Eers toe ek die LG-foon
se simkaart process, toe is dit beyond reasonable doubt lat dit Johnson Johnson
is. Heeltemal beyond reasonable doubt.”
***
Hulle ry terug Beaufort-Wes toe. Cupido bestuur, Aubrey Verwey sit agter.
Verwey praat baie, meestal oor die sake wat hy met vernuftige speurwerk
opgelos het: tikhandelaars, huisbrake, veediewe en twee plaaslike
huishoudelike moorde.
Hulle het ’n vermoede hy het ’n agenda. Toe hulle Beaufort-Wes binnery, sê
hy: “Okay, so hoe moet ek maak om ’n Hawk te word?”
Vaughn Cupido maak ’n geluid soos ’n hond wat geskop word, sag genoeg
dat net Bennie dit hoor.
Griessel sê: “Hou net aan doen wat jy doen.”
“Maar julle sal vir my ’n woord insit, nè?”
“Ons gaan probeer.” Dit is die naaste aan die waarheid wat hy kan kom.
Hulle laai hom by die polisiestasie in Birdstraat af. “Hang net ’n minuut aan,
Vodacom se call list het gekom, ek kry dit gou,” sê Verwey en hardloop na die
gebou.
Cupido laat sy voorkop sak, stamp dit ’n paar keer teen die stuurwiel.

Griessel grinnik.
Verwey kom terug met die koevert. “Dis Johnson Johnson se cell phone
records, dit het gekom ná ek al die docket vir julle gestuur het.”
Hulle groet, en toe hulle ry, roep Verwey: “Sit daar ’n woord in!” Hy staan
op die sypaadjie en waai tot hulle om die hoek verdwyn.
Griessel kry hom ’n bietjie jammer. Om op dié plek vasgekeer te wees …
Hulle gooi petrol in by ’n vulstasie. Griessel gaan koop vleispasteie en
koeldrank, dan vat hulle in doodse stilte die N1 terug Kaap toe.
Verby die Groot Karoo Nasionale Park se ingang. Net meer as ’n kilometer
verder, by die stilhouplek met sy opgeskote bome en betontafeltjies en -stoele,
trek Vaughn sonder waarskuwing af. Hy hou stil en klim uit, los die deur net só
oop. Hy loop ’n entjie weg. Daar is geen ander motors of mense nie. Hy gaan
staan, draai om.
“Jissis, Benna,” sê hy. Dit is woede en wanhoop, alles ineen.

9

Hier kom dit nou, weet Griessel, en dis goed so.
“Daai,” sê Vaughn Cupido en wys in die rigting van Beaufort-Wes. “Daai is
die future van die SAPS.”
Dis asof die volle impak van dié stelling vir hom te veel is, want sy lyf
sidder. “Daai is die future van die Hawks, daai is die future van hierdie land.
Daai ‘rocky science’. Daai ‘gebrysel’. I ask you. Ge-fokken-brysel.”
Hy kom weer aangeloop na die Ford toe. “For fuck’s sake, Benna, hulle kan
nie eens ordentlik práát nie; hoe wil hulle skryf? No wonder daai docket lyk
soos die hond se gat. Hoe wil hulle ’n murder investigation doen? ‘Die crime
scene was nie hie’ nie, dit was op die trein’, so al die blougatte kan kom kots
net wa’ hulle wil. Nee, o jirre, Benna, hie’ kom anarchy, ons is in ons moere
in.”
Hy maak ’n gebaar met sy hande wat sê hy is moedeloos.
“Het jy daai hairstyle gesien? Da’s meer tyd in daai hairstyle ingesit as in
hierdie case. En dan wil hy vir my en vir jou kom vertel wat is ’n John Doe.
Jissis …”
Cupido kyk oor die wye vlaktes heen.
“Wat het gebeur, Vaughn?” Want Griessel weet speurder-sersant Aubrey
Verwey was net die sneller. Iets anders het sy kollega se humeur-geweer gelaai.
En dit moes erg gewees het, want vir Vaughn Cupido om vierhonderd-vier-enveertig kilometer lank van Bellville af Beaufort-Wes toe te broei, is feitlik
ongeëwenaard.
Cupido haal diep asem. Nog ’n magtelose swaai van die hande, dan kom
staan hy hier in die deur: “Gisteraand, toe is ek daar by Desiree …” begin hy.
Hy sug lank en diep.
“En haar laaitie is daar. Donovan. En hy’t hierdie nuwe pellie, Brantley.
Watse naam is Brantley, Benna? Brantley. I ask you. What were they thinking?
No wonder the kid turned out to be this facetious little wise-ass. Anyway,
Brantley is so vreeslik kontant met die bekkie, hy vra my: ‘Uncle, is uncle in
die Hawks?’ En ek sê: ‘Yebo, yes, ek is ’n captain in die Hawks, pappie.’ En
hy tune my: ‘My daddy sê julle is captured.’ En ek sê: ‘Wat meen jy,
captured?’ En hy sê: ‘Nee, daai Indian crooks wat die President so gecapture

het … My daddy sê die Hawks is ook gecapture, ammal is nou gecapture, daai
Indians own vir julle, julle word ryk van envelopes under the table, en die
mense word arm van al die capture.’ Jissis, Benna, jy weet hoe ek voel oor die
Hawks. Dis my lewe. Dis my pride. Ma’ daai is niks. Nou staan en karring daai
Brantley met my voor Donovan. Daai laaitie wie se trust ek nou al maande lank
try wen, daai laaitie met wie ek try connect, want ek is serious oor Desiree, en
ek weet the road to a real relationship runs through the kid … Nou gaan staan
en gooi Brantley daai capture-ding rond, en ek sien Donovan kyk my só of hy
gewéét het this guy wasn’t going to turn out well.”
“Ai,” sê Griessel.
“Nou sit ek daar en ek dink; ek kan sê, nee, ons is nie gecapture nie, ons
Kaapse Hawks, ons Serious and Violent Crimes Unit, óns is nog skoon, al het
die shit die fan gehit in die Durban in, and nobody knows what the hell is going
on in Jo’burg, ma’ ons, Benna … Óns werk ons gatte af, ons was honderdtwee-en-veertig brave souls, vyf jaar terug, nou’s ons skaars dertig, ma’ die fok
weet, ons is skoon en ons werk. Dag en nag. En ek sit daar en ek dink, ek kan
nie eens vir Donovan werk toe vat om te gaan wys ons is skoon nie, want die
Department of Public Works is te fokken sleg om ons toilets en ons lifts en ons
ligte en ons tiles te kom fix. So hoe maak ek, Benna? Hoe maak ek? En dan
kom jy hie’ en detective sergeant Aubrey Verwey is hierdie klein windgatdomgat, the future of the SAPS, met sy ‘okay, so hoe moet ek maak om ’n
Hawk te word?’ Al daai ambition, ma’ hulle wil nie werk daarvoor nie. En dan
scheme ek everything is going to hell, en dan wil ek iemand bliksem tot hy
luister, Benna. Please fix the dykes, somebody must fix the dykes, ’cause why
ek voel soos daai outjie met al sy vingers in die gate van die dyke, but it’s
springing another leak, and another, en ek het nie meer vingers oor nie. Ek gaan
vir Donovan verloor, en ek gaan vir Desiree verloor, en ek gaan my pride
verloor. En dan? Wat het ek dán oor, Benna?”
Cupido skud sy kop, loop weer veld se kant toe. Hy gaan staan langs die
draad, hande op die heupe, starend na niks.
Eindelik kom hy terug, klim in.
“Ek kan vir jou sê jy’t vir mý oor. Maar die Department of Personal Works
het my ook maar ’n bietjie afgeskeep. My lift is lankal moer toe,” sê Griessel.
“Ha!” Net ’n skeut humor in die geluid wat Cupido maak, maar dit bring ’n
mate van verligting.
“Die een ding wat ek van hierdie land geleer het, Vaughn …” sê Griessel.
“Dit gaan nooit so sleg as wat jy dink dit sal gaan nie. En dit gaan nooit so goed
soos wat jy wil hê dit moet nie. Daar was ’n tyd toe ek ook amper moed
opgegee het. Toe dit gelyk het of alles … Die wiel draai. Dinge sal regkom,
Vaughn. Die een of ander tyd. Nie só reg dat ons in die strate dans nie. Maar dit

sal beter gaan.”
Dit is die beste wat hy nou kan doen.
Cupido draai die sleutel. Die Everest se enjin vat.
“I hope you’re right.”
Twintig kilometer later sê hy: “Gee my daai meat pie. Waar’s daai music wat
jy gebring het?”
Griessel gee vir hom sy vleispastei en ’n koeldrank aan, haal dan die ou
David Kramer-album Jis Jis Jis uit en druk die skyf in die speler.
Voor Leeu-Gamka sing hulle al twee saam. Naby Laingsburg lag Vaughn vir
die eerste keer dié dag, vir “Tjoepstil” se lirieke.
Net buite die dorp sê hy: “Daai was ’n goeie een, Benna. ‘Department of
Personal Works’,” en hy lag sag.
Anderkant Touwsrivier bel Griessel Rovos Rail se Kaapse kantoor om die
telefoonnommer van mevrou Thilini Scherpenzeel te probeer kry.
***
Hulle skakel hom deur na mevrou Brenda Strydom, die treinmaatskappy se
hoof van kommunikasie. Sy sê hulle het in die media gelees dat die saak nou na
die Valke toe is. As daar enigiets is wat hulle kan doen …
“Ons wil graag môre met julle kom praat …”
“Natuurlik. U moet asseblief verstaan dat ons treinpersoneel nie almal môre
hier sal kan wees nie.”
“Ek verstaan …” sê Griessel.
“Maar ons het ’n lys saamgestel met kontakbesonderhede van almal wat op
die rit van 5 tot 7 Augustus was. U kan hulle enige tyd kontak. Ons sal die
gasvryheidsbestuurder van daardie trein ook dadelik Kaap toe laat vlieg as julle
persoonlik met hom wil praat. Hy is op gereedheidsgrondslag geplaas.”
“Baie dankie. Ons kan nog nie sê of dit nodig gaan wees nie. Maar ons sal
graag so gou moontlik vir mevrou Scherpenzeel wil ondervra.”
“Sy het reeds ingestem dat ons haar kontakbesonderhede aan u beskikbaar
kan stel. Hier is haar nommer …”
“Hou aan,” sê hy terwyl hy die foon in sy nek vasknyp en ’n notaboek en pen
uithaal.
Wanneer sy dit vir hom lees, sê hy: “Dis ’n oorsese nommer.”
“Ja. Sy is lankal terug Nederland toe. Ons het die speurder laat weet …”
“Sersant Verwey?”
“Nee, dit was ’n … net ’n oomblik … Hier is dit, ’n adjudant-offisier

Bandjies.”
“Van Brackenfell.” Die een wat vir Robyn Johnson gehelp het toe sy vir J.J.
as vermis gaan aanmeld het.
“Dis reg. Hy het ons gekontak ná die verdwyning. Ons het hom laat weet dat
mevrou Scherpenzeel weer terug is. Hy’t gesê dit is nie ’n probleem nie.”
Dit was voor Johnson Johnson se lyk gevind is, so Griessel kan nie fout vind
met Bandjies se besluit nie. “Dankie,” sê hy.
“Mevrou Scherpenzeel het net gevra dat u in die oggend tussen nege en
twaalf sal skakel. Sy rus gewoonlik in die middag.”
Dit laat hom wonder hoe oud sy is. Hy vra.
“Een-en-negentig,” sê Strydom.
Cupido sit en luister na die gesprek terwyl hy bestuur. “Hoe oud, Benna?
Twenty-nine, right?” fluister hy.
“Ek sien,” sê Griessel vir Strydom.
“En nog so aktief,” sê sy. “Baie aan die gang en op en wakker. Ongelooflike
vrou. U weet sy is die weduwee van Joop Scherpenzeel?”
“Wie?”
“Die biljoenêr. Die man wat die Sonnenborgh-brouery begin het. In
Utrecht.”
“Nee, ek het nie geweet nie.”
“Sonderlinge vrou,” sê Brenda Strydom. “Werklik ’n sonderlinge vrou.”
***
Toe hy die oproep beëindig, wil Cupido weet hoe oud Scherpenzeel is.
Griessel sê vir hom.
“It’s just not my day, Benna. It’s just not my day.”
“Maar sy is nog so aktief, Vaughn. Baie aan die gang en op en wakker.
Weduwee van ’n biljoenêr.”
“You are just a ray of sunshine.”

10

Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Hy herken haar nie dadelik nie. Hy is aanvanklik net bewus van die
vreemdheid van dié figuur, hier: Sy is elegant en met sorg aangetrek, gegrimeer
onder ’n swierige sonhoed. Maar sy staan ongemaklik, arms gevou, asof sy
weet hoe duidelik dit is dat sy nie hoort in die growwer tekstuur van die SaintMichel-buurt nie.
Dan snap hy wie dit is: die girafe-vrou. Hy kyk instinktief na links en regs,
want dit maak nie sin dat sy alleen is nie – sy is hier en sy het moeilikheid saam
met haar gebring.
Daar is egter niemand anders nie, net Wackett op die drumpel, en sy
onmiddellike gedagte is: Wat wil sy hê?
“Verskoon my,” sê sy. Hy besef sy kan die frons op sy gelaat sien, sy
ontevrede lyftaal.
Sy kom na hom aangestap met daardie vreemde, lang tred, baie selfbewus,
en sy hou iets na hom toe uit. ’n Papierkoevert, opgevou. “Ek is geen
bedreiging vir jou nie,” sê sy, haar stem vol, soos wat jy van ’n lang vrou sou
verwag, een wat amper so lank is soos hy.
Sy wag dat hy die briefie moet neem. Hy wil nie. Hy wil haar nie hier hê nie,
wou nie weer met haar kontak gehad het nie. Sy is ’n risiko, want sy weet iets
van hom wat hy weggesteek hou.
“Asseblief,” sê sy.
As sy ’n mooi vrou was, of sensueel, of uitgeslape en vol selfvertroue, het hy
dalk net omgedraai en geloop. Maar dit is juis omdat sy so maladroit is – lomp
en ongemaklik en ordinaire en lank en hoekig – dat hy die ruimhartigheid vind
om die koevert te neem.
Sy sê net “merci”, draai dan om en begin wegloop, haar hakke klik-klakkend
oor die keistene wat eeue gelede die ballas vir Britse skepe was. En hy staan
daar, hy nou die ongemaklike een, met ’n skuldige gewete omdat hy soos
Lefèvre teenoor haar opgetree het. Om die een of ander rede kyk hy op en sien
hoe Wackett van die deur af wegloop met ’n verwytende uitdrukking op haar
gesig.

***
Hy maak die brief eers oop toe hy in sy klein kombuis staan. Dit is duursame
papier. Haar handskrif is beeldskoon, kunstige krulle en draaie soos iets uit die
Middeleeue. Daar is ’n adres. Rue Montesquieu. Hy ken die straat. Dit is in die
sogenaamde Goue Driehoek, waar die duur winkels en groot appartements van
die rykes is.
Daar is ’n dag en datum en tyd aan die onderkant: Donderdagaand, sewe-uur.
En die vae reuk van parfuum.
Hy vloek, eers in Frans en dan in die taal van sy herkoms. Want hy weet hy
sal moet gaan.
Heel onder staan daar: Élodie Lecompte. Dit is ’n elegante naam.
Hy druk die brief terug in die koevert, en gooi dit vies in die groen
kleibakkie wat op die skoorsteenmantel van sy klein, ongebruikte kaggel staan.
***
Die agttiende-eeuse gebou is van silwerskoon gerestoureerde kalksteen, statig
en mooi. Daar is net drie voordeurklokkies by die groot deur na die straat toe.
Wat beteken haar woonstel beslaan ’n hele verdieping.
Hy lui die boonste een. Dit is sestien minute ná sewe, want hy wil dit
duidelik maak dat hy onder protes hier is, gedwing deur die omstandighede.
Nie lus vir moeilikheid nie, nie geïntimideer deur haar rykdom of klaarblyklike
sosiale stand nie. Sy kleredrag sê dit ook: wit T-hemp, skoon denim, swart
Nikes.
Die deur brom elektronies oop. Hy loop op met die breë kalksteentrappe,
drie verdiepings. Hy lig sy hand om aan die mooi houtdeur te klop, maar dan
gaan dit oop. Sy is kaalvoet, in ’n swart langbroek en wit bloes, weer
selfbewus. Hy groet haar, en sy groet terug. Sy wys hy moet inkom en maak
die deur agter hom toe.
“Dankie dat jy hier is,” sê sy en lei hom deur die ingangsportaal waar ’n
groot skildery van ’n lang, elegante karikatuur van ’n vrou hang, haar kopdoek
rooibruin, haar tabberd vol feë en vlinders, die kuns vol speelsheid.
Hy staar daarna.
“Sniege,” sê sy.
“Pardon?”
“Sniege Navickaite. Die skilder. Sy’s van Bordeaux.”
“O,” sê hy. En hy voel ’n deernis, want die skildery is op ’n manier ’n ander

weergawe van Élodie Lecompte, tong-in-die-kies, ’n mooier, leniger
interpretasie, vol selfvertroue en styl. Hy wonder of sy daarvan bewus was toe
sy dit gekoop het. ’n Soort selfparodie.
Die plafon is hoog, die sitkamer groot, die mure vol kuns. Hy weet min
daarvan, maar kan sien hier is verskillende style uit verskeie eras. Hy ken
antieke, duur, goeie meubels egter baie goed en dié sien hy hier. Diep, ryk
kleure in die sagte laatmiddaglig wat deur die lang, groot venster kom.
Sy nooi hom om te sit, kyk skaars na hom terwyl sy vra of hy iets wil drink.
Dalk wyn? Rooi? Wit?
“Rooiwyn, asseblief.”
Sy knik asof dié keuse haar goedkeuring wegdra. Sy stap na ’n lieflike
drankkabinet waar bottels en glase op die blad gereed staan. Hy kies ’n stoel
oorkant haar, in vergulde okkerneuthout-en-katoen; hy dink dit is die werk van
Jean-Baptiste-Claude Sené uit die laat sewentien-honderds. Hy wonder of
Lefèvre ooit daaraan gewerk het, want dit lyk perfek. Hy wonder wat sy wil hê,
hierdie eienaardige vrou wat ’n Sené kan bekostig. Wil sy vir hom dankie sê,
hom vergoed? Of is dit ’n behoefte aan iets meer sensueel; die ervaring van die
groot swart man? Dit is ál logiese gevolgtrekkings waartoe hy kon kom sedert
sy die briefie kom aflewer het.
Sy trek ’n kurk en skink; hy staan op om die glas te neem.
“Wat is jou naam?” vra sy en gaan sit oorkant hom.
“Daniel.”
“Daniel, ek het Spaanse ham en spanspek. En ’n baguette en kaas. Dis so
warm, ek het nie gedink … Ek is nie ’n kok nie …” Sy is plegtig en formeel.
Skaam. “Net as jy wil eet,” sê sy. “Ek … As jy nie hier wil wees nie, kan jy
opstaan en loop. Jy sal nooit weer van my hoor nie. Jy het niks om te vrees
nie.”
“Waarom sal ek iets hê om te vrees?”
“Die manier … Daardie nag … Jy was baie haastig om … Ek dink jy is …
vergewe my, maar ek dink jy is ’n onwettige immigrant. Of miskien, die polisie
… Ek … Dit maak nie vir my saak nie. Ek wil jou nie afpers nie.”
“Ek het al my dokumente. ’n Paspoort …” ’n Interpretasie van die waarheid.
Sy knik apologeties.
“En ’n skoon rekord.”
“Bien sûr.”
Hy kyk na haar. Sy sit gespanne vooroor op die punt van die stoel, in
afwagting op sy antwoord.
“Is dit wat jy van my wil hê? Om saam met jou te eet?”
“Nee.”
Sy neem ’n slukkie van die glas. Hy proe syne. Dit is goeie wyn.

Hy wag.
Sy staan op. Dit is ’n proses, soos ’n ingewikkelde speelding wat oopvou. Sy
loop na een van die groot deure toe. “Kom kyk …”
Hy huiwer, maar daar is steeds ’n onskuld aan haar, kinderlik.
Hy sit sy glas neer, staan op en volg haar. Sy loop tot in die volgende vertrek
en gaan staan, kyk na hom.
Die laatmiddaglig kom deur die groot vensters. In die middel is ’n esel en ’n
groot skilderdoek, wit en kaal. Teen die mure is skilderye van mense.
Fotorealisties.
“Ek wil jou skilder,” sê sy. Byna onhoorbaar, asof sy vreesbevange is vir sy
antwoord.
Hy kyk weer na die mense teen die mure. Wit en swart en bruin, mans en
vroue, hier en daar ’n kind. In moderne, gewone klere. Mooi mense. Sommige
sit in ’n stoel of staan langs een. Ander staan net.
“Dit is jou werk?” vra hy.
“Ja.”
“Dit is verstommend.” Hy soek na die regte woord. “Magique. Sublime.”
“Dankie.”
Sy wag op ’n antwoord.
“Hoe lank neem dit? Hoe lank moet ek kom … sit?”
“O, nee, as ek net ’n paar foto’s kan neem voor dit donker word. Dan kan jy
net nou en dan kom kyk, as jy wil.”
Verligting.
“D’accord,” sê hy.

11

Augustus. Bennie Griessel. Worcester.
Verby De Doorns bekyk Griessel die inligting wat Vodacom verskaf het oor
Johnson Johnson se selnommer. Dit is die gewone twee registers van oproepe,
gemaak vir die laaste drie maande voor sy dood, die een ingedeel volgens
datum, die ander volgens nommers.
“Anything?” vra Cupido terwyl hulle agter ’n swaar vragmotor teen ’n bult
uit kruip.
Bennie haal sy notaboek uit en maak seker wat Robyn Johnson se
selnommer is voordat hy antwoord: “Sy eks … Die oproepe waarvan sy gepraat
het, toe hy die kinders gebel het daardie Saterdagaand op die trein, 5 Augustus
…”
“Yes?”
“Hulle is almal hier. Maar hy het iemand anders gebel, later daardie aand.
21:07 …”
“Wie se nommer?”
“Ek weet nie …”
Griessel haal sy selfoon uit, tik die nommer in en bel. Dit lui twee keer, dan
antwoord ’n man. “Yes?”
“Hello,” sê Griessel, “who’s speaking?”
“Who do you want to speak to?” Geïrriteerd.
“My name is Bennie Griessel. I am a captain in the South African Police
Service, investigating the death of mister Johnson Johnson …”
Die oproep eindig. Griessel kyk na sy foonskerm. “Die sein is weg,” sê hy en
beduie na die berge wat weerskante van die pad toring.
“Wie was dit?”
“Weet nog nie … ’n Man. Ek sal nou weer bel.” Hy hou die seinstafies op sy
foonskerm dop.
“So, Benna, when are you going to pop the question?”
Cupido weet Griessel wil vir Alexa Barnard vra om te trou. Hulle het al
dikwels gepraat oor sy worsteling met die plek, die tyd en die toespraak.
“Ek het gedink Sondag …”

“Nou Sondag?”
“Ja.” Hy voel ’n hol kol op sy maag, en dis nie van die vulstasie-vleispastei
nie.
“Brave, Benna. Brave. En waar, if I may be so bold?”
“Okay. Ek het gedink, Alexa hou van goeie kos …”
“Check.”
“En sy hou van atmosfeer …”
“Check.”
“En sy hou van mooi plekke …”
“Check.”
“Toe kyk ek na die beste restaurante, die top-tien-lys …”
“Cool.”
“En toe reken ek, Overture-restaurant. Dis nommer ses op die lys, dis daar
naby Stellenbosch. Ek het op die website gekyk. Die uitsig is fantasties, dit lyk
romanties …”
“Ek het gewonder wanneer jy ‘romantic’ gaan mention.”
“En ek sal dit min of meer kan bekostig.”
“Check. Ma’ jy weet dis op ’n wine farm, nè? With both of you being alkies
… Ek sê maar net.”
Griessel sug. “Ja, ek het gesien. Die ding is, dit maak nie saak waarheen ek
haar vat nie, daar gaan altyd alkohol naby wees.”
“Except, sê nou maar, sunset on the beach at Cape Point. Little picnic basket,
blanket on the sand, sea breeze in her hair … Chicks love daai tipe ding. Dis
wat ek gescheme het, wanneer die dag kom dat ek vir Desiree moet vra, as sy
en die laaitie nog daai tyd ’n captured Hawk wil hê.”
“Ek het gedink aan ’n strand. Kampsbaai, Clifton … Maar jy weet hoe die
weer in die Kaap is … Daai sea breeze waai vir jou en die kombersie tot by
Robbeneiland. En ek dink die hele tyd hoe die ring uit my vingers glip en in die
sand val, en die fok weet, ek het nie geld vir nog een nie. Ek moet nog veertien
maande lank aan dié een afbetaal.”
“Good point.”
“Jy dink Overture kan werk?” vra Griessel.
“Sounds great. Wil jy hê ek moet by Desiree check? Sy ken al die larney
gate in die Stellenbosch in.”
“Asseblief.”
Hulle kom uit die pas uit, die Breederivier-vallei maak oop. Griessel kyk
weer na sy foon se skerm. Die sellulêre sein is terug.
Hy bel.
“The subscriber you have dialled is not available at present. Please try again
later.”

Hy probeer nog sewe keer voor hulle terug is in Bellville. Die nommer bly
beset.
***
Hulle is ná sewe-uur terug op kantoor. Hulle bring die dossier op datum.
Cupido bel Stellenbosch toe, en rapporteer dan aan Griessel: “Desiree
scheme die Overture is pure class, jy kan maar laat waai. En sy sê: ‘Good
choice’.”
“Dankie, Vaughn.”
“Gaan jy haar sê? Vanaand? Van Overture.”
Hy huiwer, dan sê hy: “Ja.”
Hy en Cupido hoor die toon in sy stem. Vaughn kom vat aan sy skouer.
“Good luck, Benna.”
Cupido groet en ry; Griessel bly agter.
Hy sluit die laai oop waar hy die ring bêre, heel agter, in die mooi swart
dosie. Hy haal dit uit. Maak dit oop. Dit sit daar, sprankelend en mooi.
Jissis.
Hy bêre dit weer sorgvuldig. Sluit die laai. Hy soek die nommer van die
Overture-restaurant. Kry dit. Staar daarna.
Dis ’n groot stap dié.
Hulle is nou al amper vyf jaar lank “bymekaar”; hy weet nie altyd wat dié
woord beteken nie. Hulle bly al drie jaar saam, in haar huis in Tamboerskloof.
Hy het haar destyds ontmoet toe hy die moord op haar man ondersoek het.
Sy was ’n verdagte, ’n wrak. Sy was ’n verskiete ster, die voormalig beroemde
sangeres Xandra, eens die nasie se liefling. Hulle speel nog dikwels haar
eertydse treffer “Soetwater” oor die radio:
’n Glasie vol sonlig, ’n soet kelkie klein.
Skink Soetwater.
’n Mondjie vol liefde, ’n slukkie vol pyn.
Drink Soetwater.
Met daardie sensuele stem van haar, en daardie smeulende
verhoogpersoonlikheid, en al die wonderlike moontlikhede, alles weggedrink
weens verhoogvrees en selftwyfel en ’n man wat voortdurend met ander vroue
gelol het. Tot daar niks van haar loopbaan of haarself oor was nie. En toe skiet

hulle haar eggenoot en sy erf die platemaatskappy en sy moet ’n nuwe begin
maak. Griessel het op haar verlief geraak omdat sy aards en eerlik en stukkend
en dapper was, oor haar naïwiteit en vrygewigheid, haar deernis, haar humor,
haar vermoë om vir haarself te lag. Hy het vir haar lief geword oor haar
eenvoud en die eenvoudige manier waarop sy vir hom lief is. Net sommer só.
En sy bewonder hom en respekteer hom. Vir hom. Bennie Griessel, die
voormalige dronkgat, wat op ses-en-veertig nog net tot kaptein in die polisie
gevorder het, weens die drank. Sy verhef hom, maak ’n ophef van hom, haar
“baasspeurder”, haar “Koningvalk”, haar held.
Hy speel so ’n bietjie baskitaar, in ’n vierstuk-orkes met die naam Roes wat
nou en dan by danse en troues optree. Soms sal hy saans sit en oefen saam met
’n CD in die hoëtrou. Dan kom staan sy en sing saam en sê: “Jy’s so ’n
talentvolle man, Bennie.” En hy weet baie goed hy is maar bra gemiddeld op
die kitaar.
Hy kan dit nie ontken nie, hy het haar ook lief vir die sensualiteit wat steeds
daar agter die littekens van haar lewe lê.
Maar fok, dis ’n groot stap dié.
Want hy het ’n gemors van sy eerste huwelik gemaak. Want sy borg by
Alkoholiste Anoniem, Dok Barkhuizen, het al vir hom gesê twee alkoholiste
bymekaar is ’n resep vir moeilikheid. Want Alexa is skatryk, en hy het nie eens
die twintigduisend gehad wat die ring hom gekos het nie. Hy moes dit by die
bank gaan leen, want hy is finansieel geknak weens ’n polisiesalaris en ’n seun
op filmskool en die jare van te veel geld op alkohol vermors en te veel
onderhoud aan sy eks betaal.
Hy kyk na die nommer van die Overture-restaurant. Dis ’n groot stap dié.
Hy kan vir haar so min gee. Maar hy kan vir haar ’n vra-om-te-trou-aand gee
wat onthoubaar en oorvertelbaar is. ’n Aand wat haar waardig is.
Hy haal diep asem.
Hy bel.
***
Hulle bly saam in haar huis in Brownlowstraat 47, teen die flank van
Seinheuwel. Dit is ’n mooi ou Victoriaanse dubbelverdieping. Daar is ’n balkon
bo, van waar jy oor die stad kan uitkyk.
Griessel parkeer in die motorhuis, loop by die kombuisdeur in. Alexa staan
voor die stoof met haar voorskoot waarop daar staan: Jy roer my! Hy het dit
self uitgedink en vir haar laat maak. Hy het dit op Valentynsdag vir haar gegee,

verlede jaar. Sy het daarvan gehou.
Kosmaak is nie een van haar talente nie. Sy is ’n uitstekende sakevrou. En
wanneer sy nog nou en dan sing, word sy dikwels staande toegejuig. Haar
klavierspel is steeds goed. Maar sy het geen aanvoeling vir kook nie, al is dit ’n
selfverklaarde “passie”. Haar aandag in die kombuis raak maklik afgelei as ’n
SMS of ’n oproep deurkom, sodat sy nie kan onthou watter van die resep se
bestanddele reeds in die pot is nie. En haar smaaksintuig is onbetroubaar. Sy sal
met toe oë en groot noukeurigheid proe aan ’n gereg, dit dan met
opgewondenheid as “perfek” verklaar. Maar wanneer sy dit opdien en begin
eet, sal sy fronsend sê: “Nou is iets nie reg nie. Proe jý dit ook?”
Dan lieg hy en sê: “Nee, wat, dis lekker.” Want hy glo as dít die grootste
offer is wat hy in hul verhouding moet bring, dan doen hy dit.
Nou moet hy weer lieg. Oor volgende Sondag, want die restaurant was vol
bespreek vir die komende naweek. Hy sal vir haar by Overture moet kry sonder
dat sy weet van sy planne.
Dit is koud buite, maar die kombuis is knus. Haar gesig verhelder wanneer
sy hom sien. “Bennie,” sê sy met opregte vreugde, “jy is seker doodmoeg.”
Hy soen haar, hou haar vas. “Darem nie te erg nie.”
“Hoe was die Karoo?”
“Vaughn sê die fokkol groei nogal mooi, maar ek hou van die … ooptes.”
Sy lag, sê dan: “Ek maak tamatiebredie.”
“Dit ruik lekker.” Darem vaagweg die waarheid.
“En jy moet dit proe! Ons kan eet wanneer jy reg is.”
“Ek gaan was gou my hande.” Hy gaan staan in die deur, draai om. Hy moet
haar vra. Nóú.
Sy kyk na hom, haar oë so sag.
Hy draai om en loop kamer toe om te gaan stort, vir net vier minute, want die
Kaap het ernstige waterbeperkings, dit is die grootste droogte in
menseheugenis. Hulle praat van Dag Zero, wanneer die damme leeg gaan wees.
Water-Armageddon.
Maar dit is nie waaroor hy hom bekommer nie.
Dis oor sy ete-afspraak met Alexa.
Dis ’n groot stap dié.

12

Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Ses dae ná die ete en fotosessie by Élodie Lecompte gaan hy terug, gedryf deur
nuuskierigheid. Oor “sy” skildery, en oor haar. Sewe-uur in die aand lui hy
haar klokkie met ’n gevoel van effense ongemak. Is hy hier omdat hy ydel is?
Of soek hy net na homself?
Hy hoor die venster daar bo op die derde verdieping oopgaan. Hy kyk op. Sy
wou eers sien wie dit is, sy leun uit en lig haar hand. Glimlag. Die venster gaan
toe. Sy gons hom binne.
Bo by die deur sien hy sy is meer informeel aangetrek, ’n denim en ’n
olyfgroen T-hemp. Weer kaalvoet.
“Ek is bly jy het gekom,” sê sy, en bied hom wyn aan.
Hy sê nee, dankie, hy wou net gou na die skildery kom kyk. Daar is
teleurstelling in haar oë, maar sy knik en sê: “Bien sûr.” Natuurlik. En hy
wonder weer oor haar, wie sy is, watter storie agter haar lê. En die aura van
eensaamheid om haar. Daardie eerste aand het sy so min van haarself vertel, sy
was net besig met die kamera en die foto’s.
Hy volg haar na haar ateljee.
Die skildery van hom staan op die esel, groot, twee meter hoog. Die buitelyn
van sy liggaam is getrek, sy gesig is reeds voltooi. Dit is vir hom vreemd om
dit te sien, hoe sy hom vasgevang het. Daar is lewe daarin. Sý lewe. En sy
verlange. Hy verwonder hom aan haar vaardigheid.
“Ça vous plaît?” vra sy. Hou jy daarvan?
“Oui,” sê hy sag.
“Vraiment?” Regtig?
Hoe kan sy twyfel?
“C’est … formidable.”
Sy glimlag op ’n manier wat hy nog nie gesien het nie, met opregte vreugde.
“Dan moet jy ’n glas saam met my drink. Sjampanje.”
Hy kan nie weier nie.
Hulle gaan sit in die salon. “Wanneer het jy begin skilder?” vra hy vir haar.
“Ná my man se dood,” sê sy. “Ek het hom geskilder, oor en oor, tot ek hom

teruggehad het.”
“Wat het jou man gedoen?”
“Hy was ’n professor in paleontologie. Hy was ’n wonderlike man. Ek mis
hom nog elke dag.”
Sy staan meteens op. “Een oomblik, asseblief,” sê sy en loop haastig uit, die
val van haar kaal voete geluidloos. Sy kom oomblikke later terug met die foto
in ’n raam, hou dit na hom toe uit.
Hy was nie ’n mooi man nie, haar oorlede eggenoot. Lank en pynlik skraal,
met dik brillense en ’n snor wat nie ’n gedeeltelik herstelde haaslip heeltemal
kan wegsteek nie. Maar daar is iets sag en deernisvol in sy glimlag.
Hy wonder ’n oomblik lank, vra dan: “Het jý die foto geneem?”
“Ja,” sê sy.
“Hy was baie lief vir jou,” sê Daniel Darret.
Haar gesig is op dié oomblik intens. “En ek vir hom.”
***
Die kuns van meubels maak en restoureer het Daniel bekoor vandat hy die
eerste dag saam met Lefèvre begin werk het. Dit was ’n wêreld wat hy glad nie
geken het nie: Die liefderike aandag, die sorgsame werk, die stelselmatige
proses om iets afgeleef en stukkend te omskep in iets manjifiek en waardevol.
Hy het stadigaan die begeerte ontwikkel om dit ook te kan doen. Hy het
Lefèvre dopgehou, onopvallend en geduldig, deur elke fase.
Byna twee jaar gelede het hy by die Saint-Michel-vlooimark stadigaan sy eie
gereedskap begin aankoop, uitgesoek met die hand, vir merk en meet en saag
en skaaf en beitel en hamer en skuur. Hy het die stukke een vir een aangedra na
sy hoekie van die werkswinkel. Lefèvre het dit gesien. Niks gesê nie.
Twee maande gelede het Lefèvre opgekyk toe hy die eikehoutplanke ook
daar in sy hoek gaan neersit het. Die ou man het opgestaan en sy vingers oor
die grein laat gaan, gebuk en daaraan gesnuif. Elke plank opgetel en met die
oog gemeet. Weer neergesit. Niks gesê nie. Dít was sy manier om dit goed te
keur.
Daniel het die tafel tydsaam begin maak. Hy het daaraan gewerk wanneer
daar ’n ledige halfuur was, soms het hy ná ure gebly, nou en dan oor ’n naweek
ingekom. Tydsaam. Bewus dat hy baie het om te leer, bereid om sy skoolgeld
te betaal.
Lefèvre het nou en dan na hom en die projek gekyk. Uitdrukkingloos.
Dit is ’n table de ferme, ’n plaashuistafel. Hy het dié ontwerp – geskoei op ’n

pragtige voorbeeld wat Madame in die voorwinkel verkoop het – doelbewus
gekies omdat dit eenvoudig is. Net meer as twee meter lank, agt-en-tagtig
sentimeter breed, vyf-en-sewentig sentimeter hoog, ’n blad, vier dunloop-pote,
’n fries aan al vier die kante. En twee basiese laaie voor.
’n Paar dae voor die Augustus-vakansie het hy een oggend by die werk
aangekom, en gesien Lefèvre het sy regterlaai uitmekaar gehaal. Hy het geweet
waarom. Die voeë was nie goeie handewerk nie. Hy het net vir le génie geknik
toe hy inkom, en dit later oorgedoen.
Nou is hy amper klaar. Hy is besig om dit finaal te skuur, met ongemak,
want die verband aan sy hand is lastig. Maar hy hou daarvan, die ritme, die
reuk, die meganiese herhaling.
En hy dink hy wil ses stoele daarby maak, sy volgende projek. Hy het
genoeg hout.
Teen vieruur dryf die Augustus-middag se hitte hom om klaar te maak. Hy
vee die fyn skuursels op, maak die gereedskap skoon en bêre alles noukeurig,
asof Lefèvre oor sy skouer loer. Hy sluit en hy loop.
Die Rue Notre Dame is stil. Eers by die Monument aux Girondins is daar
aktiwiteit, toeriste wat foto’s neem, twee kinders wat in die water van die
fontein lafenis teen die hitte soek. Dit neem hom tussen twintig en dertig
minute om huis toe te stap. Sy roete is nooit presies dieselfde nie, maar sigsag
altyd verby van sy gunstelingplekke. Hy ken die meeste van die geboue en
plazas en strate se geskiedenis. Hy loop feitlik elke dag doelbewus verby die
Grand Théâtre, adem die plein se atmosfeer in.
Vandag stap hy in die wandelhal van Rue Sainte-Catherine af, want
Bordeaux se mense is meestal see toe, dis nie die gewone drukgang nie.
Vyfhonderd meter voor die Cours Victor Hugo sien hy vir Lonnie May.
Hy sal later wonder: Was dit sy verskerpte bewussyn sedert Élodie Lecompte
en die geweld in die nag wat hom Lonnie laat oplet het?
Maar eers dink hy dit is sy verbeelding. Hy het Lonnie meer as ’n dekade
laas gesien, dalk is dit net iemand wat hom aan Lonnie herinner. Die bekende
figuur is twintig meter voor hom, soekend, hy kyk kort-kort na sy foon. Daniel
loop agter hom aan, hou sy afstand. Dit kan nie wees nie. Herinneringe wat
terugvloei, hy skud sy kop, ai, die ou lewe darem. Maar die vermoede dat dit
Lonnie is, neem toe. Die wakker manier van stap, die bonkige figuur, die vorm
van die kop, die blinkende bles.
En iets wat hom pla, nog vaag.
Hy kyk stip na die man, sien dit is sweerlik Lonnie, maar ouer. Here, ons
word almal oud. Hy wil vinniger stap, uitroep na sy ou kameraad.
Hy doen dit nie, ’n ongemak in hom, ongedefinieerd. Iets is nie pluis nie.
Dan weet hy wat dit is.

Daar is iemand, feitlik hier langs Daniel, wie se aandag ook op Lonnie is.
Daniel ken die tekens, byna vergete opleiding wat hy nou onthou.
Die man is besig om Lonnie te agtervolg.

13

Die agtervolger is lank en lenig, geklee in ’n blou denim, blou kraaghemp en
grys baadjie. Donker hare, kort geskeer. En hy is goed.
Daniel loop in by Giovanni Gelateria, sodat die afstand tussen hulle kan
vergroot.
Lonnie May? Hier? Bejaard, alleen, in Augustus in Bordeaux?
Daniel kyk ’n oomblik lank na roomysgeure en macarons, asof hy
besluiteloos is. ’n Tinteling in hom, hy wil afleidings en konneksies maak. Wat
het Lonnie se verskyning met die Élodie Lecompte-voorval te doen? Hoe het
die ratte van die gereg gemaal om sy verlede – en vir Lonnie – te betrek? Wie
is Grys Baadjie? Franse Nasionale Polisie?
Maar hier, nou? Dis nie toeval nie. Nie drie blokke van sy woonstel af nie.
Lonnie was besig met sy foon, soos iemand wat Google Maps gebruik om ’n
plek te kry. Daniel se adres?
Darret mompel “pardon” vir die man agter die toonbank, draai om en loop
uit. Hy kyk na regs. Hy sien Grys Baadjie talm net voor die Burger King.
Lonnie staan seker by die groot oorgang van die Cours Victor Hugo.
Versigtig, want Grys Baadjie is nie ’n amateur nie. Darret ken die
ingesteldheid van agtervolging; jy bespied jou hele omgewing, dit word by jou
ingehamer. Die man sal op alles bedag wees. Dalk nie alleen nie. Daniel sal nie
net hier kan bly staan nie.
Hy neem ’n besluit, loop doelgerig agter Grys Baadjie aan, maar dan draai
hy haastig links in die Rue de Guienne, en dadelik weer regs. Hy sal vir Lonnie
en sy agtervolger uit ’n nuwe, onverwagte hoek in die hoofpad kan benader. Hy
sal op die uitkyk wees vir nog mense wat agter Lonnie aan is.
Hy is net betyds om Grys Baadjie in die Cours op die sypaadjie langs die
nuusagent te sien. Die man se kop draai links, regs, sy oë soekend. Daniel loop
in sy rigting. Hy sal ’n koerant gaan koop.
Lonnie is skoonveld.
Die agtervolger kyk nie na Daniel nie, hy gee vier treë na links, draai om. Hy
mik om oor die Cours te kom, maar die verkeerslig is rooi vir voetgangers en
daar is ’n stroom motors.
Die agtervolger het sy prooi verloor. Dis duidelik.

Lonnie May. Steeds uitgeslape. Hy moes besef het hy word agtervolg.
***
Al wat Daniel kan doen, is om met ’n ompad na sy woonstel te loop, want hy
wil nie Grys Baadjie se aandag op hom vestig deur hóm te agtervolg nie.
Dit neem hom amper twintig minute. Hy kom van die basilika se kant af
sodat hy ’n breër uitsig op die klein plein voor sy gebou kan hê, maar hy sien
niemand nie. Hy sluit oop, gaan in, draf die trappe uit, hy sweet vryelik van die
hitte en die opwinding. Hy stroop sy klere af, trek ’n kortbroek aan, maak die
hortjies voor die venster oop en gaan haal ’n kombuisstoel. Hy sit net diep
genoeg in die slaapkamer dat hy die plein daar onder kan dophou sonder dat hy
maklik gesien kan word.
Meer as ’n uur-en-’n-half later kom Lonnie May in Rue Marengo aangestap.
Haastig, die bleskop draai soos wat die ou man waarneem.
Lonnie, Lonnie, hoe grys is die bietjie hare wat jy oorhet. Maar jou stap is
nog jonk. Daniel se herinneringe word ’n vloed.
Lonnie se oë kry die adres waarna hy soek. Hy huiwer nie, loop na die deur
toe.
Daniel wag vir die klokkie om te lui. Dit gebeur nie.
Daar loop Lonnie weer.

14

Daniel sit ’n halfminuut lank voor hy besef wat gebeur het. Hy spring op, gaan
uit, draf met die trappe af. Die bruin koevert lê daar op die vloer, deur die
voordeur se posgleuf gedruk.
Vir Daniel Darret. In swart ink.
Hy tel dit op, maar hy weet reeds: Lonnie ken sy nuwe naam. Dit beteken ’n
duisend dinge. Lonnie het hom opgespoor en dit moes ’n moeilike, dalk lang,
dalk duur proses gewees het, want Daniel het sy spore baie goed uitgevee. Dit
beteken Lonnie het besef hy kan daardeur Daniel se nuwe identiteit ontbloot.
Immer lojale Lonnie moes dus gedink het die doel heilig die middele. Lonnie is
nie hier om te kom gesels oor die ou dae nie.
Dit beteken Lonnie is in die moeilikheid.
Dit weet hy voor hy die koevert oopmaak.
Hy haas hom terug na sy woonstel, kry ’n mes uit die laai, skeur die koevert
versigtig oop.
Umzingeli
Saint Andrew. Under the organ. 10:15.
Lonnie
Dit is die eerste woord, die aanspreeknaam, wat hom laat sidder, wat al die
sluise van sy geheue oopmaak.

15

Augustus. Bennie Griessel. Kaapstad.
Die oggend ontmoet hy vir Cupido oorkant die Kaapstad-stasie, voor die
ontvangssaal van Rovos Rail.
“En toe, partner?” vra Vaughn dadelik. “All systems go?”
Griessel weet waarna sy kollega verwys.
“Ek het die bespreking gemaak. Vir volgende Sondagaand.”
“En?”
“Ek sal haar vanaand vra.”
“Okay.” Met simpatie, want Cupido worstel self soms met wat hy sy
“confirmed bachelor’s commitment issues” noem. Hulle stap in stilte oor die
straat.
***
Mevrou Brenda Strydom, die treinmaatskappy se hoof van kommunikasie, is in
haar vyftigs, aantreklik en keurig versorg. Sy het ’n lêer in haar hande. Sy nooi
hulle om te sit in ’n hoek van die groot Rovos-vertreksitkamer, ’n mooi lokaal
met ’n ouwêreldse atmosfeer. ’n Enkele kelner staan diskreet in ’n hoek. Sy vra
wat hulle wil drink, plaas die bestelling, kom sit dan oorkant hulle. Sy skuif die
lêer oor die koffietafel.
“Dankie dat julle hier is,” sê sy.
“Dis ons jop,” sê Cupido met net ’n skimp van sarkasme. Hy is van nature
agterdogtig en aggressief wanneer dit by groot geld en luukse kom.
Griessel ken dié reaksie. Dit is deel van hul spandinamiek – hulle het deur
die jare geleer om dit vir hulle te laat werk. Wanneer Vaughn Cupido
hardekwas raak, speel Griessel die meer toeganklike rol.
Strydom is nie van stryk gebring nie. Sy knik. “Ek weet. Maar die dood van
meneer Johnson is vir ons ’n baie ernstige saak, soos julle seker kan verstaan.
Ons bedryf die luuksste trein in die wêreld. Die meeste van ons kliënte kom uit

die buiteland. Ons reputasie as ’n veilige manier van reis is vir ons alles.
Daarom is dit vir ons van kardinale belang om dié saak spoedig en doeltreffend
op te los, en ek is hier om te help op enige manier wat julle nodig ag.”
“Dankie, mevrou,” sê Bennie.
“Noem my Brenda. Ek het vir julle …”
“Is dit genuine the most luxurious train in the world?” val Cupido haar in die
rede.
Strydom knik asof dit nie die eerste keer is dat iemand dit vra nie. “Dit is.”
“Okay?” Steeds skepties.
Sy tel die redes op een hand af: “Om mee te begin, ons het ’n private
treinstasie van drie-en-twintig hektaar in Pretoria. Met ’n museum en ’n
werkswinkel waar ons self die trokke restoureer. Daar is selfs ’n paar
wildsbokke. Dit is absoluut uniek. Ons slaapkompartemente is die grootste van
enige trein op Aarde. Elkeen het sy eie badkamer, wat vyf-en-twintig persent
groter is as die mededingers s’n. Die koninklike suites, byvoorbeeld, het elkeen
’n bad én stort. Daar is elf ton trein per passasier, wat ook vyf-en-twintig
persent meer is as enige ander trein. Al ons gaste eet gelyktydig – daar is nie
eetskofte nie. Ek kan aangaan …”
“Dis okay,” sê Cupido. En dan, met ’n mate van trots. “Cool. Who would
have thunk? In our little corner of the dark continent …”
Sy glimlag en wys na die lêer. “Ek het vir julle al die moontlike inligting
voorberei. Daar is die volledige trajekregister, wat deur die bestuurder bygehou
word. Dit sê hoe laat die trein van 5 Augustus by elke stilhouplek aangekom
het, wanneer en hoe lank dit stilgestaan het, ensovoorts. Daar is die
kontakbesonderhede van al ons personeel wat met die trein gewerk het – hier,
op die trein self en op ons stasie in Pretoria. Hulle weet almal van die
ondersoek en sal hulle volle samewerking gee. Ons gebruik volgens regulasie
drywers van Transnet. Hul besonderhede is ook in die lêer, maar ons het nie
beheer oor hul samewerking nie.”
“Dankie,” sê Griessel.
“Hier is ook ’n lys van al ons passasiers en hul besprekingsvorms. Die vorms
het hul kontak- en paspoortbesonderhede. Die meeste het ook hul reisreëlings
ná die treinrit ingevul. Baie van hulle is oorsese toeriste en het dalk al weer die
land verlaat.”
“Hoeveel passasiers was daar?” vra Griessel.
“Op dié spesifieke trein, vyf-en-sestig. Net sewe was Suid-Afrikaanse
burgers.”
Griessel en Cupido kyk vir mekaar. Hulle weet dit gaan ’n lang en moeilike
proses wees om elkeen te kontak en inligting te kry.
Strydom sien die blik. “Elke treinwa het ’n gasheer of gasvrou, wat na die

mense in daardie wa se kompartemente omsien. Hulle ontmoet hul passasiers
hier in dié sitkamer voor die trein vertrek. Hulle versorg die bagasie en sien om
na ons gaste se behoeftes. Mevrou Scherpenzeel het in ’n koninklike suite
gebly. Haar gasvrou se naam is Cathy Bing. Meneer Johnson het in ’n Pullmansuite gebly. Sy gasvrou was Sam … Samantha Albertyn. Hulle sal die meeste
inligting oor mevrou Scherpenzeel en meneer Johnson hê. Ek het hulle duidelik
gemerk op die lyste.”
“Dit sal baie help,” sê Griessel.
“Dit is ons plesier,” sê sy. “Maar gesels gerus eerste met Sam. Sy het ’n paar
stukkies interessante inligting.”
“O?”
Strydom huiwer. “Ek wil nie namens haar praat nie, want ek kan dalk van
die detail verkeerd hê. Sy weet julle gaan haar skakel … Daar is een ander ding
wat ek dink dalk vir julle interessant sal wees: Mevrou Scherpenzeel het haar
plek op die trein reeds in Januarie bespreek. Op 3 Augustus het sy ons weer
gekontak met die versoek dat ons ’n metgesel ook moet akkommodeer …”
“Johnson?”
“Dis reg. Sy was baie gelukkig, want ons het ’n kansellasie gehad, ’n man en
vrou van Australië wie se dogter geboorte geskenk het, drie weke te vroeg. Ons
kon hulle kompartement vir meneer Johnson beskikbaar stel.”
Hulle maak notas.
“Okay,” sê Cupido. “Let’s start at the very beginning. Van waar die mense
’n booking doen.”
***
Brenda Strydom verduidelik aan hulle dat Rovos se besprekings uit verskeie
oorde kom – van internasionale en plaaslike reisagente tot mense wat dit self
doen oor die internet of telefonies.
Dit is ’n eenvoudige proses: Jy bespreek, jy betaal, jy ry op die trein. Daar is
’n enkele besprekingsvorm wat ingevul moet word, waarop passasiers hul
naam, adres, kontakbesonderhede en paspoortnommers moet invul. Dit is
daardie vorm wat in die lêer voor hulle ingesluit is.
Op die dag wat die trein vertrek, word hulle in dié vertreksitkamer ontvang
en na die trein begelei. Dié spesifieke trein stop amptelik op Matjiesfontein vir
’n kort toer saam met ’n plaaslike gids, en dan weer op Kimberley die
Sondagoggend. Daar onderneem die gaste ’n toer na die Groot Gat. Hulle word
met bussies vanaf die stasie vervoer, en terug.

Gewoonlik hou die trein ook die twee nagte naby of op Beaufort-Wes en
Klerksdorp stil om die passasiers ’n aangename nagrus te bied en die skedule te
laat klop. Die tye en tydsduur waarop dit daar stilhou, word bepaal deur
vertragings op die spoor. En dié is daar altyd.
“The big question,” sê Cupido, “is hoe moeilik is dit om op die trein te kom
as jy nie ’n passenger is nie?”
Strydom het die vraag verwag. “Kaptein, niks is onmoontlik nie. Maar dit sal
baie, baie moeilik wees. Daar is uitstekende sekuriteit hier op die stasie, op
Matjiesfontein en in Kimberley. Maar as jy baie gelukkig is en op die trein kan
kom, is daar nêrens waar jy kan wegkruip nie.”
“Behalwe as jy ’n contact op die trein het.”
“Dit gaan jou ook nie veel help nie, want die kompartemente word
skoongemaak wanneer die passasiers eet. Daar word geskenkies neergesit. Jy
het regtig nêrens om weg te kruip nie …”
“Ma’ hoe gaan daai staff van julle weet as iemand nie op die trein belong
nie?”
“Hulle ontmoet hul gaste hier in die sitkamer. Hulle word met die hand
gegroet.”
“I see.”
“Julle personeel … Hoeveel weet julle van hulle agtergrond?” vra Griessel.
“Voor hulle by ons begin werk het?”
“Ja.”
“Ons het ’n personeelagentskap wat baie goeie werk doen met
agtergrondnavorsing …”
“Kyk hulle of daar kriminele rekords is?”
“Sover ek weet. Hoekom vra jy?”
“Johnson was in die polisie,” sê Griessel. “Ons sal ook moet kyk na
arrestasies wat hy gemaak het. Miskien het hy iemand op die trein herken,
iemand wat nie herken wóú word nie.”
Sy oordink dit vir ’n oomblik. “Dit is baie onwaarskynlik …”
“Hoe maklik is dit om die vensters oop te kry?” vra Cupido.
“Van buite af, onmoontlik. Van binne af, baie maklik. Al die vensters kan
oop. Dit is deel van die ervaring. Deel van die uniekheid.”
“So dis maklik om in te klim ook?”
Sy huiwer, sê dan: “Nee … Die vensters is te hoog. Jy sal ’n leer moet
gebruik. Of iets … Die trein kom weer Saterdagoggend aan uit Pretoria.
Hoekom kom kyk julle nie?”
“Brenda,” sê Cupido, “hy’s uitgegooi aan die linkerkant van die spoor. Is dit
uit ’n cabin uit, of uit ’n gang uit?”
“Die linkerkant sal uit ’n kompartement wees.”

***
Hulle loop na hul motors toe.
“Jy gooi nie ’n ou van ’n trein af as jy nie baie kwaad oor iets is nie,” sê
Cupido. “En jy kan nie baie kwaad vir ’n ou wees as jy hom nie ken nie.”
“Die foto’s van Johnson in sy woonstel … Hy was fiks. Sterk. Jy gaan nie
net baie kwaad moet wees nie, jy gaan baie sterk ook moet wees,” sê Griessel.
“Of jy sal meer as een moet wees.”
“Dit was iemand wat reeds op die trein was, Vaughn.”
“Hoe scheme jy?”
“Sê nou maar dis iemand wat vir hom kwaad was. Daai iemand sal moet
weet hy gaan met die trein ry. Daai iemand sal moet weet hoe die trein werk,
waar dit stilhou, hoe om in te kom. En dan nog vir Johnson kry en hom oorval.
Dit is baie kennis, baie beplanning. Scher